Book Review
Debuut van ’n ervare skrywer
Book Title: Die goeie vrou en ander mites
Author: Corlia Fourie
ISBN: 978-1-4853-0956-7
Publisher: Protea Boekhuis, 2018, Prys R175* *Book price at time of review
Review Title: Debuut van ’n ervare skrywer
Reviewer: Martina Vitackova1
Affiliations: 1Department of Afrikaans, University of Pretoria, South Africa
Corresponding author: Martina Vitackova, m.vitackova@gmail.com
How to cite this book review: Vitackova, M., 2019, ‘Debuut van ’n ervare skrywer’, Literator 40(1), a1584. https://doi.org/10.4102/lit.v40i1.1584
Copyright Notice:
© 2019. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die goeie vrou en ander mites is die eerste digbundel van ervare joernalis, fiksie- en dramaskrywer Corlia Fourie. Sy staan bekend vir haar vertolking van die vroulike perspektief en leefwêreld. Al vyf onderdele van die bundel werk op ’n ander manier met hierdie tematiek. Terwyl die eerste deel, ‘Die goeie vrou’, portrette van ’n hele versameling vroue in al hul verskeidenheid bied, is die res van die bundel meer subjektief. ‘Tuis en uit’ is ’n studie van die digter se huis, die huislike ruimte en die omliggende omgewing. ‘Die wye wêreld in’ is ’n versameling reisverse. ‘Bloeityd’ praat oor die digter se grootwordjare, haar familie en ook haar siekte. ‘Kierang en ander hebbelikhede’ bevat sketse en die digter se kommentaar op die samelewing en die Afrikanergemeenskap. Die hele digbundel deur hoor ’n mens ’n duidelike vroulike poëtiese stem wat beskou, voel, analiseer, treur en lag.
In die eerste deel vind ’n mens Helen Martins naas Medusa, Miriam Makeba naas James Barry. Fourie skryf kragtig oor Frida Kahlo en is sarkasties oor Cleopatra:
As jou lewe nie so ’n fokken cliché was nie kon ek ’n lang gedig oor jou gepleeg het. (bl. 17)
Daar is egter ook ruimte vir onbekende, onsigbare en ‘onbelangrike’ vroue soos die naamlose vrou wat verkrag word en in die sloot gegooi is (bl. 22), of die slagoffer van huislike geweld (bl. 21). Ook die kleinburgerlike vrou wat jare lank die goeie huisvrou gespeel het (bl. 7) en die oujongnooi-tante (bl. 23) kry hulle plek en stem in hierdie gedeelte.
Veral in ‘Bloeityd’, waar Fourie analiseer hoe en waarom sy is wat en wie sy is, kom die figuur van haar vader, die skrywer Mikro, prominent na vore. Fourie skilder die verhouding met haar pa in al sy kompleksiteit. Sy klink soms amper pateties soos in ‘Dankie’ (bl. 58), maar tog ook trots, liefdevol en krities.
Ek is trots op my pa. Trots omdat hy mense vir so lank soveel plesier kon skenk. (‘Spoelklip’, bl. 49)
My pa bly nie in ons huis nie. Hy bly by die stories in sy kop, al sit hy lang bene oorkruis, lyf toegevou in sy stoel. (‘Huis, paleis 1’, bl. 55)
In hierdie deel praat ook die ouer vrou wat so bly is dat sy nie meer jonk is nie (bl. 61), en die siek vrou wat oor die see droom tydens haar bestraling (bl. 64) en aan die Klein-Karoo van haar kinderdae dink tydens chemoterapie (bl. 66). Hier word die outeur se stem die duidelikste gehoor.
Die bundel is ’n studie van die proses en die verskillende aspekte wat Fourie as digter gevorm het. Die verdeling is duidelik, maar aan die ander kant staan dit in die weg van die ‘vloei’ van die gedigte, wat die bundel partykeer geforseerd laat voel. In Die goeie vrou en ander mites staan die ervare joernalis, wat duidelike kennis het van die literêre veld en haar plek hierin gevind het, teenoor die debuterende digter wat nog haar digterlike stem soek. Hierdie kombinasie bring interessante perspektiewe wat die bundel die moeite werd maak.
|