Article Information

Author:
Heilna du Plooy1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article:
Du Plooy, H., 2013, ‘Drie gedigte’, Literator 34(2), Art. #436, 1 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.436

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Drie gedigte
In This Litera...
Open Access
Ou geboue

Vandag se weemoed gaan oor ou geboue
wat van geweld getuig en kon weerstaan.
Oor die luglyn van ‘n stad soos Budapest
wat van ’n té lang herkoms bly vertel.
Oor skilderye en klein beeldjies
in galerye en kasteeltjies
wat wonderbaarlik! - wonderbaarlik
ongeskonde deur die eeue kom.

Ontroer oor klip en stene
wat kon uithou onder menslike gewig,
hang ek vandag – een dag
’n duisend jaar, ’n duisend jaar een dag –
in die breukdeel van die oomblik
vóór die steengelaat van tyd
óópkraak en breek
in weer ‘n gilgesig.

Bestemming

As daar ’n plek soos ’n bestemming was,
sou onnabootsbaar hierdie plek se stem
haar mense op die naam kon noem
omdat dié aarde hulle voetval ken;
sou die plek haar mense roep
so onbevange soos die hoep-hoep
se gemoedelike merke in die gras inpas.

As ’n mens vir ’n plek bestem was
sou ’n mens se stem die plek
onvervreembaar in haar woorde merk
omdat haar lyf gladweg in die plek inpas;
so ’n plek sou in haar woorde boer
so onbevange soos die duiwe
wat oral op die dakke sit en koer.

Hoe oordadig, hoe stemhebbend is ons tyd.
Hoe ontstemmend swig die setels van die reg
voor die skreeue van die mag, hoe ontluister
is die plek en hoe volmondig oorverdoof.
Waar is ’n stilte diep genoeg dat mens en plek mekaar
kan hoor, ’n stilte vér genoeg om die volkome luisteraar
ín te sluit in ‘n onbestemde geluid.

Belydenis na die maal

Sy kom toe in die hemel aan:
‘Vanwaar, Gehasi?’
vra die hekwag en hy lyk vernaam.
Hy hou sy kop so hoog, deurlugtig.
Maar ek, wat hier bloot die verteller is,
is glad nie seker of dit Paulus,
Petrus, of dalk Thomas is nie.

Sy weet dat sy behoort te sê
- dis immers ’n verhewe plek
en die vraag is sekerlik gewigtig -
dat sy afkomstig is van Afrika,
maar voel sy moet verduidelik,
meer spesifiek Suid-Afrika.

Dan voeg sy by, versigtig,
dat sy desnieteenstaande nogtans
nie betoog het of gestruggle het nie.
Ook dat sy desnieteenstaande nogtans
niemand ooit geslaan het nie, nie ’n witte
of ’n swarte nie. Sy sou wel graag wou byvoeg
dat sy dié kontinent nie self kon kies nie.
Sy was immers al vir drie eeue en ‘n half
nie meer ’n Geus of Hugenoot nie.
Sy erken ook ruiterlik dat sy self
nooit regtig agter die kap
van die byl kon kom
oor hoe ’n mens betrokke raak
by die geskiedenis
of die politiek nie.

Sy was maar ’n gewone mens
en ek, verteller, dra ek haar woorde net
so oor, ek glo dit is haar wens.

Sy was nie seker of die kontinent
van haar gehou het nie. Sy het
vermoed van nie. Sy self was op die son
én op die grond versot.
Al was sy self nooit seker waarvoor alles
sy verantwoordelik was of dalk
gehou sou word nie. Desnieteenstaande,
nogtans, omdat sy indirek aandadig
was soos almal, is sy nou bereid om te bely,
as sy net geweet het hoe en waar juis sy
die verloop van sake kon verander het.

Sy was mos ’n gewone mens,
en ek wat die verteller is, stem saam:
ek wéét mos elke Suid-Afrikaan
twyfel oor die aard en waarde
van sy ontwyfelbare bestaan.

Sy trek haar asem in om nog te praat:
daar is soveel om te verskoon,
soveel om te verklaar,

maar daar’s ’n stem, en sy kan sweer
die stem is goedig en die prater lag:
‘Ons hekwag is vandag
weer alte vrolik -
hy hou so van ‘n grap.’

‘As jy tot hier gekom het,
is jy welkom, ongeag.’



Crossref Citations

No related citations found.