Die dorpie Leeuwfontein sou seker nooit verander nie. Tussen die rantjies het hy gelê. Teen die hellings het sulke dofgroenerige bolletjies kol-kol gesit: kareebome. Verder het die omgewing bestaan uit grasveld: hoofsaaklik rooigras. In die winter was die veld dus strooikleurig en goud en pienk, en die sonlig het vlieserig blink in die halms gelê. In die somer was dinge soms bloosgroen, maar heelwat somers was die gras nog meer poeierig en strooikleuring, omdat dit selfs in dié seisoen droog gebly het. Die mense was ook so onveranderlik. Dit het nuwe aankomelinge dekades geneem om ’n vriend of twee te maak. Soms was die mense so bot dat hulle jou laat dink het aan die gesegde ‘so toe soos ’n klei-os.’ Hulle het die skoon onskuld van klei besit, maar ook die digte onbereikbaarheid. Daar was net twee kerke, elk met ’n lang protestantse naald die eindelose grasveld-hemel in. Die tweede kerk het ontstaan toe die oergemeente politieke stry in haar geledere gekry het. ’n Paar lede uit die ouer gemeente het selfs op die nuwe kerk se bouers gaan skiet eendag, so ’n entjie boontoe teen die dorp se helling uit. Gelukkig was dit lank tevore, en het die konflik in ’n groot mate onder dik lae eendersheid vergete gelê. Maar in sommige gevalle het die gesinne of families nooit weer ’n woord met mekaar gepraat nie: die eendersheid het uiteraard ook dié vorm aangeneem. Daar was een of twee openhartige, lewendige en dus eienaardige gesinne: die Swarts, die Hanssens, die Janse Van Rensburgs, en die Le Rouxs. Ek, Hans le Roux, het elke Sondag na ds. Swart se kerk toe gegaan. Hy het my later aangeneem en voorgestel. Omdat ek ’n laat bekeerling was, was ek meer entoesiasties as die ander gemeentelede. Ma en Pa was geskei, en sy was nie ’n Christengelowige nie – dit was my eie soektogte wat my na ds. Swart toe gebring het. Sy het in die koshuis bo teen die helling gewerk. In ’n kakie-staalkabinet in ’n ou stoor het sy pakke en pakke geel papier ontdek. Op dié bladsye het ek al ds. Swart se preke neergeskryf: die oggendpreke én die aandpreke. Ek is nou nog spyt dat ek die swart plastieksak vol van hulle verloor het, toe ek een keer onder moeilike omstandighede moes verhuis. Soms het ek op die galery gaan sit; iets in my binneste was maar nog altyd vinnig verveeld, selfs al het ek toegewyd gebly aan waardes waaraan ek kon glo. Ek het met my eie oë gesien hoe ’n taai, lang ma in die bank net onder my haar klein seuntjie in die ribbes stamp, toe hy hoes en hard snuif aan ’n bol slym; die arme kind het kwaai verkoue gehad. Om die een of ander rede het die valsheid hiervan my ontstel. Mag ’n kind in die aangesig van die Here nie verkoue kry nie? Indien dit die geval was, was ons almal as vlees-en-bloed-en-pure-snot kreature eindeloos diep in die moeilikheid. Ek bedoel, as mense huil word hulle soos paddas, of vlesige visse, of perlemoen wat uitgehaal is (ek sou later in my lewe een keer ’n perlemoen uitduik, en skoon borsel). Dis net die ene helder drade en vog en sout: ’n mens word mos die ene see wanneer jy huil. Hoe sou God dit sien? Ek was baie seker dat hy daarmee groot vrede gehad het, dat hy vir die see baie lief was. Die deel in die Bybel waarin die see verdwyn, het my juis ook gepla. En die ma het my ontstel: toe ons ’n gesang sing kon ek nie help om te sien dat haar agterkop ’n bietjie platterig was, en hoe styf haar dun hare daarteen gespan het nie. En ek het gedink: as jy die vensters toegemaak het voor julle gaan slaap het, het die kind dalk nie verkoue gehad nie. Of as jy vir hom meer voedsame kos gegee het. Of as jy meer respek gehad het vir sy kinderlike geestelikheid, sy ongelooflike manier van sien. En dit was ’n fris, lewendige seuntjie wat die lewe baie lekker direk aangegryp het. Buite die kerk het hy soms uitgebars in ’n lied toe hy nog heelwat jonger was. ‘Daas ’n liggie! Daas ’n liggie! Na na naaaaa! Na na naaaa!’ het hy een keer gesing. Die laaste ‘naaaa’ was so ’n vol, lae noot, in ’n kleuterstem. Of, met ’n emfatiese ritme en klem op elke lettergreep: ‘Die tan-nie leeees! Die tan-nie leeees!’ Eendag het ’n vriendelike ou tannie juis oor hom gekoer: ‘Maar jy is die dapperste kind!’ Sy het klem geplaas op die ‘dap’ in ‘dapper’ deur daarvan so ’n vinnige, hoë noot te maak. ‘Is NIE DAPpe nie!’ het die seuntjie aansienlik kwaai uit sy klein bollerige lyfie gereageer. Maar bowenal onthou ek hoe hy toe nog (ek dink hy was so twee jaar oud) deurmekaar was oor binne en buite. Sy ouer boetie het klaar op die gruis buite gestaan, en hom terug gedruk in die kerk in toe hy wou uitkom. ‘Ek wil INkom! Ek wil INkom!’ het hy geskree. Ek dink ‘binne’ was vir hom daar waar die meeste mense was. Dit was hierdie einste seuntjie wat toe later deur sy ma in die ribbes gestamp is. Ek moet sê, ek was bekommerd dat hy die kerk sou haat. Eers baie jare later sou ek besef dat dit my nie beskore was om my oor sulke dinge te bekommer nie. Ek het ook gesien hoe omies uit die kerksaal stap. Die gebou se binnekleur was so ’n wasige, bleek suurlemoengeel. Enkele vensters was gevul met die allerligste blou loodglas. Maar die gebou was oor die algemeen so gewoon moontlik: Calvinisties. Dit was maar hier ’n lyn, daar ’n blok, en miskien een of twee erg gestroopte boë. Uit hierdie strakkerige lyne het die weelderige-volbaard omies gestap sodra ds. Swart gepreek het dat Apartheid nie Bybels was nie – en dit was lank, lank voor dit mode geword het. Baie lank voor die susterkerke hulleself uit die siamese posisie waarin hulle saam met die Nasionale bewind in gegroei het, probeer losworstel het. (Hulle moes liefs geluister het na die vroeë Doppers wat heel aan die begin gesê het dat Apartheid verkeerd is. Of na die digters tydens republiekfeesvierings. Of iets.) ’n Mens het dus algaande meer besef dat ds. Swart merkwaardig was. Hy het ook nogal hard getrek aan ’n sigaret, die eerste een sommer direk na die diens, op die kaal gruis langs ’n groeibelemmerde sipresboom. Leeuwfontein het nie juis tuine gehad nie: daar was min bome. Eintlik was dit maar net die grasvlaktes en kareebolle, en die dorpie se besondere breë gruisstrate en groot ou woonhuise uit die 1920’s en 1930’s wat teen die rant se helling op so ’n dorpgrootte gruisvlak gedryf het – dit kon ook maar net sowel ’n verlore skip in die eindelose grasoseaan gewees het. En dus het ds. Swart sy sigaretjie hard getrek op die gruis langs ’n belemmerde boompie of twee met sy klein, harde liggaam, sy gesig die ene konsentrasie, en sy diepdonkerturkoois oë ongelooflik reguit, asof hy nie gekyk het (soos ek) in ’n akwariumagtige waas rondom nie, maar eerder gesien het langs twee reguit silwerskoon staallyne. Tog was hy baie sag en sensitief, het hy mense goed gelees, en grootvadersklokke met die hand geskaaf en gebou in sy huis. Elkeen was ’n afgeronde meesterstuk waarin die perfekte balans gevind is tussen eenvoud en asemrowende besonderhede; en boonop het hulle soomloos gewerk. As ’n mens geneig was om diep te dink (soos ek), en soms spontaan iets eienaardigs te sê gehad het, het die einste gekonsentreerde gesig oop gegaan in ’n vol glimlag waarin miljoene plooitjies gewemel het. Hy het vyf lewendige, lewensblye kinders gehad, en sy vrou Olga was ’n kunstenaar. Haar massiewe kleurvolle sonneblomme op doek het Leeuwfontein opgetower. Dit was nie groot kuns nie, maar in Leeuwfontein was dit sprankelend. Sy seun Jaco was ’n pianis van konsertgehalte; selfs op skool was dit al duidelik. Hy was so twee jaar jonger as ek: sagter as sy pa, met bokkierige bruin oë wat effens uitgepeul het, en ’n meer geredelike lag. Maar net so reguit en dapper: hy het in die weermag sy bevelvoerder aangevat oor ’n beginselsaak, en al die swaarkry deurgemaak, maar heel anderkant uit gekom na sy twee jaar diensplig. Baie jare later – dit was een van die groot skokke in my lewe – sou ek moes hoor hoedat ds. Swart sy lyk moes gaan soek in Johannesburg, vir dae en dae. Toe moes hulle uitvind dat Jaco op ’n Sondag langs die Floridameer deur ’n Mokoena en ’n Ndlomo van agter af met ’n haelgeweer deur die kop geskiet is. Net sy selfoon is geneem, en sy kar se deur het nog half oop gestaan: die sleutel was in die aansitslot. Waarom is dit die verbeelde beeld van die doodstil sleutel in die aansitslot wat weer en weer by my spook? Ek weet nie hoe sy pa dit kon of moes hanteer nie: hoe om jou gedagtes rondom so iets te buig, en voort te leef? En tog is dit ’n storie waarvan talle en talle mense in hierdie wye en droewe en gewelddadige land gehoor het oor ’n vriend se tannie, of ’n vriend – of nog nader. Die ding is net, ’n mens is eers ’n mens: dan is jy manlik of vroulik, Wit of Swart, Engels of Afrikaans of Sesotho. Maar eers is jy ’n mens: en as hulle onder al die lae in skiet, en jy val, en jy lê daar, dan sien ’n mens dat jy so mens is as wat ’n dier ’n dier is. Amper is jy ook ’n soort dier as jy daar lê: ’n pragtige, menslike dier. Jou bloed ruik ook. Ek kan my gedagtes nie uitdruk nie. Ingrid Jonker het dit gelukkig reeds gedoen, want wanneer jy ’n kind skiet, en hy lê daar, is hy net ’n kind. En as jy ’n grootmens skiet, en hy val, is dit net ’n grootmens wat daar lê. * * * Omdat hy gerook het, het sommige bekeerlinge in die dorp gesê ds. Swart is onder sekere demone se beheer. Natuurlik het niemand dit ooit pront en reguit vir hom self gaan sê nie. Dit was maar een van die gerugte agter sy rug. Hy was immers in die openbare oog, en Leeuwfontein se openbare oog kon ’n front of ’n gedagte onverbiddellik handhaaf. Dit was asof elke siel in die dorp net hulle heel beste op hom geprojekteer het. Sy taai klein liggaam en sterk oë en sensitiewe gemoed moes die ganse dorp se kollektiewe geestelike projeksie hanteer; en dikwels was die projeksie in die hantering se pad, soos ek sal verduidelik. Meer nog: hy moes ook die onderdrukte projeksies hanteer: al die ontkenning van die lief, leed, bloed, spoeg, en emosionele geskukkel wat so ’n dorpie aan mekaar vas geplak hou, het soos ’n swaar swart skadu oor en oor op hom geval en gelê. Soos ek nou terug kyk, glo ek nie hy was onder demone se beheer nie–nie meer of minder as enige ander mens wie se onuitgesorteerde sake tog maar by hom of haar moet spook nie. Ek kan wel sê dat sy pulminêre demoon sy gal later jare deeglik gekook het: hy was onder sy sterk gesin se duidelike instruksie om op te hou na die eerste hartomleiding. Kan ’n mens hom dus kwalik neem, gegewe al sy belewenisse, dat hy ten spyte van sy gesin se dringende instruksies maar liewer in die gangtoilet met die matkleurige venstertjie oop agter en bo hom in die nag se onderste ure gesit en rook het? Terwyl die sekelmaan langsaam deur die venstertjie seil. En so het dit gebeur dat ek eendag moes hoor hy is dood aan ’n hartaanval – sonder dat ek hom vir ’n baie, baie lang tyd te siene kon kry. In elk geval, vir my het hy eerder herinner aan ’n klein-geboude maar formidabele leeu. Hy het leeukwaliteite gehad: ’n kragtige gloed, die rojale, reguit kyk, sterk meegevoel, tonne moed, ’n groot hart (in die geestelike sin), en ’n onverwagse, sonnige vriendelikheid en humor. En ’n mens sien mos nie sommer ’n leeu hartseer nie: ’n mens soos ds. Swart huil ook nie sommer nie. Nou moet ek byvoeg dat toe ek gaan studeer het, my eie demone ordentlik los gekom het. Hoe sal ’n mens presies weet wat al die beweegredes was? Ek kan een of twee noem. Toe Ma uiteindelik van Pa geskei is, en ons in die Vrystaat kom woon het (’n mooi en ironiese provinsienaam!), was sy broos. Haar weerloosheid en magteloosheid moes ek elke dag beleef, en ek kon dit nie oor my hart kry om nog al my tienermoeilikheid ook op haar te laai nie. Sy was ook ’n baie slim mens, en om haarself desnoods te beveilig, het sy sake soms ’n bietjie in haar eie rigting gestuur, soos toe sy vir my gesê het dat sy my ‘Etlap’ – kaart gesien het, en ook haar eie toe sy klein was: en dat haar IK hoër was as myne; verniet het ek gedink dat ek haar op enige manier sou kon flous. . Dalk was daar ook ander redes vir my oorvloedige ‘laat adolessensie:’ wie kan sy eie dieptes, daardie lekkende donker vlammetjies of seegolfies kloekend in die maan, so hier net onder ’n mens se eie bewuste oppervlakte, heeltemal peil? Die groter dieptes onder daardie persoonlike dieptes is meer toeganklik: elkeen word gebore, leef lustig (of minder lustig), en gaan dood. Dit weet ’n mens minstens helder. In elk geval, heel eerste het ek vir my ’n wilde meisie in die hande gekry: en ek bedoel dit in elke sin van dié spreekwoord. Sy het my net so behoorlik in die hande gekry, en dit was ’n wonderlike ontdekkingstyd, ’n lewenshoogtepunt vir ons altwee. Was sy slim? Ek weet nie: intelligensie het so baie vorms, nes skoonheid. Sy was egter beslis onbehoorlik sexy. En haar oë het ’n unieke vorm gehad, werklik amandelvormig, heel letterlik, en groter as die res van haar gesig. Haar ooglede was dikker as die gewone, en haar irisse was ’n besondere blekerige en deurskynende blou, sodat hulle sag gelyk het selfs wanneer hulle geskitter het van blydskap. My skone jean-godin, my brandende Brenda! En ons was dikwels bly. Een aand het ek by die Duitsdepartement se prestige-geleentheid ’n vierde prys gekry vir my goeie werk. Dit was ’n koffietafelboek: Das schöne Südafrika. Groot kleurprente het dit versier. Die Okavango het skoon eienaardig bleekgroen gelyk uit die lug, asof dit ’n landstreek uit ’n ander planeet was. Iets het in my psige los gewoel, ek het heerlik gevoel. Brenda en ek, ook maar arm omdat ek ’n student was en sy by die bank gewerk het, het ons ook goed ingegrawe in die heerlike peuselhappies en kanne rooiwyn. Suid-Afrika se rooiwyn is so wilderig en fluwelerig heerlik. Toe ek vir Ina Jacobs, ons departementshoof en ook ’n merkwaardige mens, gaan dankie sê vir die prys, was daar derhalwe in my so ’n gloed teenwoordig. Ek het afgekyk na die boek en gesê: ‘Mooie Suid-Afrika… wat ’n wonderlike prys, baie dankie.’ Sy het sonder ’n woord om gedraai, haar rug heel letterlik op my gekeer, asof ek ’n afgryslike drogbeeld was wat iewers vandaan verskyn het! Dié ernstige misverstand, sou ek later hoor, was daaraan te wyte dat sy gevoel het dat hulle daardie week eenvoudig te min tyd en geld gehad het om vir ons ordentlike akademiese boeke te koop, en dat sy effens verleë was oor die pryse. Ai jai jai! Sy het seker gedink ek wou lelik wees daaroor. Hoe kan dinge in so ’n ommesentjie net so verander van warm na koud, en van samehorigheid na afstand? Of was die afstand maar altyd daar, omdat ek te ‘wild’ en eienaardig was? Boonop het sy blykbaar vroeër dié aand vlugtig genoem dat hulle graag beter boeke sou wou koop. Dalk het ek op daardie oomblik weer in Brenda se eindelose oë geswem, en nie gehoor nie. Nou dat ek daaraan terug dink, besef ek dat ek ook maar goed naïef was: nog lank nie ’n wyse kind nie, en dus soms net té kinderlik – eintlik maar kinderagtig sonder om daarvan bewus te wees. ’n Pynlike besef: maar liewer laat as nooit. Toe ek en Brenda so teen elf uur die aand na haar woonstel toe ry in haar blou Kewer, was daar so ’n atmosferiese gevoel tussen ons, soos statiese elektrisiteit in ’n milder, vloeibaarder vorm. Die volmaan het sag in die kajuit gebaai, en hier en daar iets raak gesoen: geglim op die stuurwiel, spelerige ronde vorms gemaak op die neus se kurwe, en so aan. Ek en Brenda het skoenlappers versamel, my stokperdjie sedert my kinderdae – sy het daarby aanklank gevind. Die vorige jaar het ons my ou Honda Gold Wing verkoop, olielek en al, en met die geld die Kewer geneem en Kwazulu toe gery, en die seewoude en die ryk savanne net ’n ent verder weg in die binneland in verken. Daar het ons magiese-mooi en skaars soorte skoenlappers gejaag en gevang, en in ons versameling gesit. ‘Ek wil KwaZulu toe gaan,’ sê ek uit die sagte bloute, ‘ek wil môre langs die golwe staan, en my tone in die sand in krul – ek wil sien hoe jy vir die golwe kyk.’ Sy het haar sigaretjie in haar hand delikaat op haar knie gesit. ‘Kom ons gaan,’ sê sy. ‘Ek sal Pieter môre-oggend uit KwaZulu bel vir ’n klein leninkie; ek sal minstens ’n duisend kan kry.’ Pieter was haar bankbestuurder, en Brenda was sy gunsteling werker, omdat sy uitstekend was. Haar pa was ’n rekenmeester in Klerksdorp, en sy het iets daarvan geërf. En destyds kon ’n bankbestuurder nog self besluite neem oor die geld in sy tak. Ons het gou na mekaar gekyk, die elektrisiteit gevoel, en sonder ’n verdere woord besluit om daar en dan die sewehonderd kilometer KwaZulu toe te vat. Ons het ons sommetjies gemaak, na die woonstel gery, ’n klomp goed in die Kewer gegooi, en so aan. Toe besef ons die Kewer was nog stukkend na die vorige jaar se reis: die vooras het af gekom daar naby St. Lucia, en ’n wonderbaarlike polisieman het dit in Gingindluvu met ’n enorme stuk plaatyster onder aan die romp vas gesweis – sedertdien het ons maar so aanhou ry. Maar ons het die greintjie verantwoordelikheid gehad – of was dit maar net die nodige selfsug? – om te besef dat ons nie weer so ver daarmee sou kon ry nie. ‘Kom ek bel vir Debbie gou,’ het my Brenda gesê, ‘en hoor of sy nie haar Jetta vir ons sal leen nie.’ (Destyds was die Jetta so ’n bokserige klein affêretjie.) Die vrolikheid in haar kykers en die klein sagte en bly glimlag – waarin iets hartseer tog ook op die een of ander manier gehuiwer het – het nie vir ’n oomblik geweifel terwyl ons ons reëlings tref nie. Debbie het by die Black Ox Steakhouse gewerk. Dit was juis haar skof, en ons het die Jetta’tjie daar en dan by haar geneem (haar kêrel, nog ’n Pieter, het haar kom haal), en die pad gevat na die kus naby Hluhluwe. So onverantwoordelik was ek destyds, dat ek al hoe wakkerder geword het soos ons al hoe verder ry. Dit was ’n fantastiese nag. Dit het nie gevoel asof die kar die teer met swarigheid moet stamp en sluk nie, maar eerder asof die blink pad sonder te veel wrywing onder die lekker stil skippie deur gly. Dit het in my binneste presies dieselfde lekker los en eienaardig-gestruktureerde gevoel verskaf as jazz. Net na sonsopkoms was ons op die sand. Die harde, onstuimige Noordkussee het sproei in ons gesigte gegooi. Later het ons in die woud ’n baie klein, donker, volwasse verkleurmannetjie in ’n boom gekry: dit was die natuurkundige hoogtepunt. Enkele skoenlappersoorte se wintervorms het ook rond gevlieg. Daar was meer sulke geleenthede. En ons verhouding het later nog losser geword. Daar was ’n tyd toe Brenda die geselskap van minstens twee ander vriende ook geniet het. Een keer het ek ook besluit om die groen gras aan die ander kant van die draad te besoek: my studenteteorie was dat elke mens minstens een one night stand moes beleef vir hulle eie gesondheid se onthalwe, veral nadat ek ’n paar Beatboeke gelees het. (Soos ek gesê het, het ek behoorlik uitgerafel op universiteit.) Op een van ons reise het ’n onoortreflike mooi Engelse meisie, Beth, vir my ogies gemaak in die truspieëltjie. Haar lang blas bene en ligte laggie was onweerstaanbaar: sy was ’n godin. Soms het sy spierwit gedra, en soms pikswart – onmoontlik gewees om te sê watter kleur haar heuningvel nog mooier laat gloei het. En toe, op ’n dag, ry ek weer terug Leeuwfontein toe vir ’n naweek in my ma se koshuiswoonstel op die gruis. My hare was lank, my baard was lank, ek het alleenlik na die rofste musiek geluister, ek het keurig leer vloek, bier gedrink, my eie horoskoop met ligte lyne en mooi kleure opgetrek (Merkurius was in konjunksie met Jupiter), laat gaan slaap, laat geslaap, en On the road en The catcher in the rye weer ’n slag gelees. Oor die algemeen het ek my rug vierkantig gedraai op my vorige geestelike identiteit; my wange het soms hol gevoel, my gesig was bleek, my oë effens anemies; en ander kere weer vol lewe en bloed. In elk geval, waar ek pas twee jaar vantevore deur die hopeloos-onskuldige Clara de Wet aan nuwe mense in ons koor voorgestel is as ‘die groot Christen – julle sal nog sien!’ was dit nou hoe ek daar uitgesien het. Sondagaand het ds. Swart kom huisbesoek doen. Ek het nog net soveel van hom gehou, en kon sy sterk en egte omgee na my kant toe aanvoel. Hy het nie veel verander nie: sy klein lyf was nog ewe taai, sy diepturkoois oë nog ewe solied. Eers het ons oor dit en dat gesels. Hoe my graad vorder, watter vakke en boeke my interesseer, en dies meer. Reguit het hy my aangekyk toe hy vra: ‘En jou geestelike lewe, Hans, hoe gaan dit daarmee?’ My antwoord het sommer so van binne af uit gebreek: ‘Dominee Swart, dit is aan flarde! My geestelike lewe… dit bestaan nie meer nie!’ En toe kom daar helder en amper vierkantige trane in sy oë. ‘Besef jy,’ het hy gesê, terwyl sy oë vernou het om lang strepies te word wat aan die kante af buig, sodat een of twee van die trane geval het, ‘besef jy dat ek al vyf en dertig jaar in die bediening van hierdie gemeente staan, en dat jy die eerste mens in hierdie dorp is wat so ’n geestelike probleem uiteindelik aan my beken?’ Dit het hy gesê terwyl hy taai en effens stroef opgestaan het om uit te loop. Hy het nog ’n oomblik na my gekyk, en toe was hy vinnig by die glasdeur uit, oor die gruis, en in sy motor. En toe was hy weg. Net nadat ek hom so spontaan geantwoord het, was ek bekommerd dat ek besonderhede sou moes verduidelik, en moeilike vrae sou moes antwoord. Maar hy het nooit weer ’n woord verder met my hieroor gepraat nie, selfs nie toe ek hom een of twee keer later weer in die dorp raak geloop het nie. Daardie een of twee keer het hy my gegroet met sy groot glimlag en sterk en skerp blik: bly om my te sien. Hy het gehoor hoe dit gaan, my geluk gewens met my studies, gesê ek was nog altyd lief daarvoor om eers lekker diep te dink oor iets voordat ek my daaraan verbind. Nou dat ek terug kyk, dink ek dat die oomblik van sy vraag en my antwoord hom oorrompel het. Of dat dit ’n soort doodskoot was. Maar ek voel seker dat iets los gespring het toe ek dit vir hom gesê het: dit was ’n deurbraak net soos daardie klein seuntjie wat wou uitgaan om in te kom: vir ’n oomblik het die gebruiklike afstande en teenoorgesteldes nie saak gemaak nie. ’n Mens moet egter nie te veel nadink oor hierdie soort dinge nie: laat dit wees wat dit was. Ds. Swart van Leeuwfontein het ongetwyfeld vir ’n gemeentelid ’n paar trane op die sitkamerbank en Ma se stowwerige ou mat en moontlik in die knarsgruis op pad na sy motor gestort. Dalk het sy trane ’n verandering se begin gemerk: dalk het hulle, om dit so te stel, die gruisklippies begin smelt of iets – dalk het eindelose óú sade se doppe begin versag. En wie weet werklik wat alles diep binne-in trane of dorpe aangaan? Ek dink sekere trane bevat bitterhede en sure wat gruis kan laat begin verbrokkel. Of dalk mikroskopiese spore of sade wat onmoontlike nuwe vrugte en blomvorms in ’n dorpie soos Leeuwfontein kan laat grondvat. Oor hierdie dinge moet ’n mens nie te veel nadink nie; laat hulle wees wat hulle is. Maar ds. Swart se trane gee ’n mens nie sommer net so aan die vergetelheid terug nie.
|