Article Information

Authors:
Anneretha Combrink1
Annamarie Kruger2

Affiliations:
1Research Unit for Languages and Literature in the South African context, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

2Africa Unit for Transdisciplinary Health Research, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Anneretha Combrink

Postal address:
PO Box 68934, Highveld 0169, Pretoria, South Africa

Dates:
Received: 07 Feb. 2013
Accepted: 30 July 2013
Published: 19 Nov. 2013

How to cite this article: Combrink, A. & Kruger, A., 2013, ‘Multidissiplinêre vennootskappe in gemeenskapseie woordkunsprojekte – ’n Gevallestudie’, Literator 34(2), Art. #426, 12 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.426

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Multidissiplinêre vennootskappe in gemeenskapseie woordkunsprojekte – ’n Gevallestudie
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Die Suid-Afrikaanse woordkunsproblematiek
Multidissiplinêre vennootskappe
Gevallestudie: Ons eie stories (Rysmierbult)
   • Kontekstualisering van die projek
   • Teikengemeenskap
      • Die De Beerskraalgemeenskap
   • Missiestelling, doelwitte en projekbenadering
   • Leer ken van gemeenskap en vestiging van vennootskappe
      • Kontak met en leer ken die gemeenskap
      • Vestiging van vennootskappe
   • Uitvoering van die projek
   • Terugvoer en evaluering
Vennootskappe bring meer na die tafel
Slot
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outeursbydraes
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstrak

Vennootskappe word in verskeie sektore van die samelewing as strategie gebruik, veral om doelwitte na te streef wat buite bereik is van individue, instansies of akademiese dissiplines wat onafhanklik werk. Die kompleksiteit van gemeenskapseie woordkunsprojekte (onder andere die verskeidenheid tale, geletterdheidsvlakke, en sosiaal-maatskaplike problematiek in die land, asook praktiese aspekte soos befondsing, toegang tot gemeenskappe, ensovoorts) bring mee dat sodanige projekte gewoonlik nie deur ’n enkelpersoon of -instansie uitgevoer kan word nie, maar dat daar samewerking van verskillende partye nodig is. Die doel van dié oorsigartikel is om ondersoek in te stel na multidissiplinêre vennootskappe binne gemeenskapsprojekte ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns, met bespreking van een sodanige spesifieke projek. Ter agtergrond word die woordkunssituasie in Suid-Afrika belig, waarná die fokus na multidissiplinêre vennootskappe verskuif. ’n Gevallestudie word bespreek om die kompleksiteit van sodanige vennootskappe te belig. Die artikel roer die gebrek aan navorsing oor vennootskappe binne die verband van gemeenskapseie woordkuns aan, asook die voordele en uitdagings daaraan verbonde. Hoewel multidissiplinêre vennootskappe hul kwota vraagstukke meebring, word daar in die artikel tot die gevolgtrekking gekom dat dit ook ’n balans en rykdom na gemeenskapsontwikkeling bring wat voorheen nie ondersoek is nie.

Abstract

Multidisciplinary partnerships in community-specific writing or storytelling projects – A case study. Partnerships are used as strategy in various sectors of society, especially in order to reach goals which are unattainable for independent individuals, institutions or academic disciplines. The complexity of community-specific creative writing and storytelling projects (including the variety of languages, literacy levels and socio-economic issues in the country, as well as practical aspects such as funding, access to communities et cetera) means that such projects cannot easily be run by individual persons or organisations but that collaboration is needed. The aim of this overview article is to investigate multidisciplinary partnerships in community projects which promote community-specific writing and storytelling, focusing on one such project in particular. As background the situation in South Africa with regard to writing and storytelling in communities is sketched. The focus then shifts to multidisciplinary partnerships. A case study is discussed to highlight the complexity of such partnerships. This article addresses the dearth of research on partnerships in the context of creative writing or storytelling projects in communities. Although multidisciplinary partnerships do have their challenges, the article concludes that they can bring balance and wealth to community development previously unexplored.

Inleiding

Gert Hendriks was ’n plaaswerker, ’n man wat lief was vir verhale. Hy het na stories oor die Afrikaanse radiostasie Radio Sonder Grense (RSG) geluister, hy het gelees en was ook ’n bobaas-storieverteller.

Gert het aan my (Anneretha Combrink)1 die verhaal van Orf Ore, Roelf Raakskiet, Boet Baie-eet, Sors Soldaat en Gert Goumaak vertel. Oorspronklik ’n Europese sprokie2, het dié verhaal in Gert se mond die kleur van die land waarvoor hy so lief was, aangeneem. Die windmeul het ’n windpomp geword, en die volksvreemde kos het vir die afgeskeepte kind in die storie verbrande brood en pap en suurmelk geword.

Ek het met Gert Hendriks kennis gemaak tydens die verloop van ’n gemeenskapseie woordkunsprojek wat deur die Vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit, in vennootskap met die Farm Labour And General Health-program (FLAGH), op die plaas De Beerskraal op Rysmierbult in die Carletonville-omgewing aangepak is. Tydens die projek is verhale van plaaseienaars, plaaswerkers en hul gesinne opgeteken. Gert was een van die plaaswerkers wie se verhale in die projekbundel Die pad deur Rysmierbult opgeneem is (kyk Combrink 2006).

Vennootskappe oor grense heen word in verskeie sektore van die samelewing as strategie gebruik (Vangen & Huxham 2003; Woodland & Hutton 2012). Dit voed innovasie, bewaar ekonomiese hulpbronne, bou verhoudings, roer komplekse probleme aan en bereik belangrike uitkomste. Deur middel van vennootskappe word kritiese samelewingskwessies opgelos, take uitgevoer en doelwitte nagestreef wat buite bereik is van individue en instansies wat onafhanklik werk (Woodland & Hutton 2012). Vennootskappe kan ook samewerking en ’n gevoel van samehorigheid in die gemeenskap bevorder en ’n sleutel-element wees in die behoud van maatskaplike kapitaal (Broom & Avanzino 2010). Sodoende kan ’n nuwe dimensie by die deelnemende benadering tot gemeenskapsontwikkeling gevoeg word (kyk Roberts 1979; Sillitoe 2002), ’n aspek wat verder in die artikel aandag sal geniet. Skaars hulpbronne word effektief deur die sluit van vennootskappe geallokeer terwyl bande tussen organisasies versterk word (Thomson, Perry & Miller 2007).

Die doel van dié oorsigartikel is om ondersoek in te stel na multidissiplinêre vennootskappe binne gemeenskapsprojekte ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns. Hiermee word bedoel woordkuns, mondeling en geskrewe, wat spesifiek tydens die uitvoering van gemeenskapsprojekte gegenereer word, en wat eie aan die ruimte en identiteit van die gemeenskap is. Ter agtergrond word die kompleksiteit van die woordkunssituasie in Suid-Afrika belig, waarná die fokus na multidissiplinêre vennootskappe verskuif. Die toepassingsdeel van die artikel bespreek ’n spesifieke gemeenskapseie woordkunsprojek as gevallestudie om die kompleksiteit van vennootskappe te belig. Die artikel is die uitvloeisel van ’n gemeenskapseie woordkunsprojek onder plaasbewoners op Rysmierbult (Noordwes) in 2005, waarvan die data ook in my doktorale studie gebruik is.

Die Suid-Afrikaanse woordkunsproblematiek

Geleenthede om mondelinge en geskrewe verhale in gemeenskapsverband te deel is wêreldwyd aan die kwyn (Greyling & Combrink 2006; Rossouw 2001). Stemme vanuit ontwikkelende gemeenskappe in Suid-Afrika, soos dié van Gert Hendriks, word derhalwe dikwels nie gehoor nie (Combrink 2011; Fransman 2005; Greyling 2005) wat ’n tekort aan ‘inheemse’ skrywers en vertellers binne dié gemeenskappe meebring. Afgesien hiervan, is daar ’n gebrekkige leeskultuur (met ander woorde daar is ’n leemte in die ontvangs van tekste) in die land.

Verskeie redes en oorsake kan vir dié situasie aangevoer word. Een van die grootste bydraende faktore tot die woordkunskompleksiteit in Suid-Afrika is die wisselende geletterdheidsvlakke en komplekse samestelling (met betrekking tot taal en kultuur) van gemeenskappe. In die meeste gemeenskappe maak die vlakke van geletterdheid ’n onderskeid tussen die inwoners, en plaas dit hulle in wat Regís Debray noem die logo-, grafo-, of videosfeer (Stassen 2003). Die logosfeer verwys na die mondelinge tradisie, die grafosfeer na die skriftelike en die videosfeer na die elektroniese era. Die mondelinge tradisie verander van vorm tussen die verskillende sfere. Die videosfeer is ook die era van die sogenaamde sekondêre oraliteit – die aanpassing van oraliteit by nuwe mediums van oordrag (Ong 1982) soos die selfoon en internet. Soms beweeg mense tussen twee sfere. ’n Persoon soos Gert Hendriks wat semigeletterd was, steun grootliks op die mondelinge tradisie (logosfeer) vir inligting, vermaak en opvoeding, hoewel die skriftelike tradisie (grafosfeer) ook ’n rol in sy lewe speel. So ’n persoon beweeg dan as ’t ware in ’n ‘tussensone’, op die intervlak tussen die logo- en grafosfeer .

Om die ingewikkelde samestelling van gemeenskappe in Suid-Afrika te illustreer kan die De Beerskraal-plaasgemeenskap waarvan Gert deel was, beskou word. Die gemeenskap bestaan uit die Afrikaanssprekende, geletterde en geskoolde plaaseienaars en hul gesinne. Verder is daar ook die plaaswerkers en hul gesinne, wat uit verskillende taal- en kultuurgroepe bestaan. Hoewel die meeste van die werkers Setswanasprekend is, is daar ook dié wat van ander streke afkomstig is (soos Gert wat van die Oos-Kaap gekom en Afrikaans gepraat het). Heelwat van die plaaswerkers en -gesinne is ongeletterd of semigeletterd. Daar word later in die artikel in meer diepte na die De Beerskraalgemeenskap gekyk.

Gemeenskapseie woordkunsprojekte bied vele moontlikhede en uitdagings. Elke gemeenskap is uniek. In die bevordering van gemeenskapseie woordkuns speel verskeie veranderlikes ’n rol en kan dit met mekaar oorvleuel. Die ontginning van die geletterde individu se skryftalent bied ander moontlikhede as dié van die ongeletterde individu se talent om ’n storie te vertel.

Die feit dat daar soveel veranderlikes is, bring ’n behoefte aan kennis oor die verskeidenheid projekmoontlikhede mee. Daar bestaan egter ’n gebrek aan geboekstaafde inligting en navorsing oor gemeenskapseie woordkunsprojekte waarop gebou kan word of waaraan navorsingsresultate gemeet kan word (Combrink 2012). As bydrae tot navorsing op dié gebied, is daar deur Combrink (2012) ’n model voorgestel ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns, met die deelnemende benadering tot gemeenskapsontwikkeling as ’n onderliggende beginsel.3 Die deelnemende benadering, met sy fokus op gemeenskapsbetrokkenheid, gesamentlike besluitneming, dialoog en kommunikasie, kan as ’n uitstekende onderbou vir vennootskappe dien.

Genoemde model ondersoek die moontlikhede vir die ontwikkeling van woordkunstalent in Suid-Afrika. Sekere belangrike elemente en beginsels wat by die uitvoer van ’n woordkunsprojek in gedagte gehou behoort te word is in die model geïdentifiseer, naamlik dat:

• Elke woordkunsprojek uitgevoer word in ’n gemeenskap bestaande uit individue wat in verhouding tot hulself en ander staan (vgl. Johnstone 1991).

• Daar verskillende subgroepe in ’n gemeenskap is (bv. mans, vroue en bejaardes).

• Verskillende geletterdheidsvlakke ’n rol speel in die aanbied en verpakking van projekte. Geletterdheidsvlakke kan soms oorvleuel (Brown 1999; Ong 1982; Stassen 2003) soos in die geval van ’n ongeletterde persoon wat binne beide die mondelinge tradisie en die videosfeer funksioneer, aangesien moderne tegnologie soos die televisie ook sy lewe beïnvloed.

• Die spesifieke identiteit, ruimte en kreatiwiteit in die gemeenskap voor oë gehou moet word, wat, onder andere, in kunsvorme soos woordkuns, uitgedruk word (Bruner 1990; Jackson 2007). Dit bied potensiaal wat in woordkunsprojekte gekanaliseer kan word.

• Die inisieerder van ’n gemeenskapseie woordkunsprojek deel van die gemeenskap of ’n buitestander of ‑instansie kan wees.

Samewerking/vennootskappe ’n belangrike rol kan speel in ’n projek (tussen buite-instansies; die gemeenskap en ’n instansie of persoon; of tussen gemeenskapslede of -forums).

• Daar noodsaaklike agtergrondkennis is waaroor die inisieerder behoort te beskik (bv. oor die spesifieke ruimte en identiteit van die gemeenskap) (Cavallaro 2001; Hall 1990; Hofstede 1991).

• Die woordkunssituasie met betrekking tot oraliteit en sekondêre oraliteit (vgl. Ong 1982), asook konsepte van kreatiwiteit in elke gemeenskap anders lyk (kyk Sawyer 2006).

• Daar sekere keuses is wat voor en tydens die aanpak van die projek deur die projekinisieerder gemaak moet word (betreffende die teikengroep; doel, aard, aanslag en invloed van die projek; die verwagte produk en uitkomste).

• Die uitvoering van die projek telkens anders sal lyk (vrae wat in gedagte gehou behoort te word, is bv.: Wat is die filosofie, benadering en beginsels waarvolgens die projek uitgevoer word? Hoe word die projek bestuur?).

• Daar in elke projek sekere filters is (aspekte wat die rigting van die projek kan beïnvloed soos verwagtinge van die projekinisieerders; taal en taalverskeidenheid; wyse waarop verhale gestimuleer word; keuring en redigering van tekste).

• Daar etiese aspekte is wat voor oë gehou moet word (soos respek, misbruik van en indringing in die gemeenskap; verspreiding van produkte; terugvoer aan gemeenskap).

• Elke projek moontlike uitdagings het (interpersoonlike, interkulturele en logistieke uitdagings; tydsbestuur; befondsing).

Die beginsels in die model bevestig die kompleksiteit van gemeenskapseie woordkunsprojekte (onder andere, soos genoem, die verskeidenheid tale, geletterdheidsvlakke, en sosiaal-maatskaplike problematiek in die land, asook praktiese aspekte soos befondsing, toegang tot gemeenskappe, ensovoorts), wat meebring dat sodanige projekte gewoonlik nie deur ’n enkelpersoon of -instansie deurgevoer kan word nie, maar dat daar samewerking van verskillende partye nodig is. Hoewel multidissiplinêre vennootskappe hul kwota vraagstukke meebring, kan dit ook ’n balans en rykdom na gemeenskapsontwikkeling meebring wat nie voorheen bestaan het nie.

Multidissiplinêre vennootskappe

Vennootskappe kan vanuit verskeie hoeke gesien word: uit die oogpunt van niewinsgewende organisasies wat saamwerk, of vanuit die hoek van interorganisatoriese, tussenstedelike of multidissiplinêre samewerking (Babiak & Thibault 2009; Broom & Avanzino 2010; Murvosh 2012). Nieteenstaande die aard en identiteit van die rolspelers in ’n vennootskap is daar egter sekere algemene beginsels waarvolgens ’n vennootskap as sulks gedefinieer kan word. Die fokus van dié artikel is spesifiek multidissiplinêre vennootskappe.

Vennootskap kan gesien word as die proses waarin verskillende rolspelers betrokke raak wanneer hulle interafhanklik te werk gaan om te fokus op probleme of kwessies wat buite die sfeer lê van individuele rolspelers wat in isolasie werk (Keyton, Ford & Smith 2008). Rolspelers soek dus deur formele of informele onderhandeling sáám na oplossings wat groter is as hul eie siening (Thomson et al. 2007). Die uitkomstes van dié prosesse het die potensiaal om die rolspelers, sowel as ander, te bevoordeel óf skade te berokken.

In vennootskappe word reëls en strukture gesamentlik neergelê. Sodanige strukture is veral dié waardeur verhoudings bestuur word, asook strukture wat bepaal hoe opgetree en besluite geneem word oor die kwessies wat die vennote byeengebring het (Thomson et al. 2007). Samewerking dui op ’n duidelike integrasie van doelwitte, idees en hulpbronne. Een van die belangrikste eienskappe van vennootskappe is dat dit ’n proses is wat gedeelde doelwitte en wedersyds voordelige interaksies behels (Broom & Avanzino 2010; Thomson et al. 2007; Woodland & Hutton 2012).

Vennootskappe het dus: (1) meer as een rolspeler, (2) kommunikasie speel ’n belangrike rol, en daar is ook (3) ’n risiko-element aan verbonde (veral die risiko’s dat vertroue geskaad kan word, een party bevoordeel kan word ten koste van die ander, of een party nie doen wat ooreengekom is nie).

Die aard van vennootskappe kan grootliks van mekaar verskil, afhangende van wie die rolspelers is en wat elkeen na die tafel bring, hetsy befondsing, kennis, vaardigheid of dienste, navorsing, tyd, en so meer.

Keyton et al. (2008) noem drie faktore wat deel is van die aard van vennootskappe (ook multidissiplinêre vennootskappe):

• Verteenwoordigers van die deelnemende instansies of dissiplines is verantwoordelik teenoor hul dissiplines om hul doelstellings te bereik. Die verteenwoordigers beskik oor hulpbronne vanuit die instansies of dissiplines waarvan hulle kan gebruik maak (of nie). Beide dié elemente beïnvloed hoe die samewerking en kommunikasieprosesse daar uitsien.

• Rolspelers ken mekaar dikwels nie, komende van verskillende instansies of dissiplines. Dit lei daartoe dat prosesse en strukture ontwikkel moet word vir die bou van verhoudinge, identifisering van doelwitte, deel van inligting, en besluitneming.

• Die omvang van die vennootskap vereis dikwels rolspelers vanuit verskeie sektore, aangesien ’n enkele deelnemer die probleem nie alleen kan oplos nie. Dié tipe samewerking is die ideale uitkoms om te bereik in navorsing of gemeenskapswerk (Geen bladsynommer beskikbaar).

Doelstellings, prosesse en strukture, asook die omvang van die vennootskap het ’n bepalende uitwerking op die aard van die vennootskap. Die vennootskap kan tussen rolspelers vanuit verskillende akademiese dissiplines, sektore (bv. die sake-sektor en ’n niewinsgewende maatskappy of universiteit), of belangegroepe (soos ’n gemeenskapskoalisie) gesluit word. Dit alles speel ’n rol in die aard van die vennootskap. In dié artikel word spesifiek gekyk na vennootskappe tussen twee akademiese dissiplines aan ’n tersiêre instansie (Noordwes-Universiteit) – naamlik Skryfkuns (as deel van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks) en Gesondheidswetenskappe (Afrika-Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing) met die gemeenskap van De Beerskraal (Rysmierbult) as ’n derde belangrike rolspeler. In die proses is daar ook bykomende vennootskappe en samewerkingsverhoudings gesluit. Vergelyk die afdeling: ‘Leer ken van gemeenskap en vestiging van vennootskappe’.

Vennootskappe, van watter aard ook al, kan die kompleksiteit van gemeenskapsprojekte verhoog. Baie individue of instansies sien die voordele daarvan in om oor organisatoriese, dissiplinêre, sektoriese en selfs nasionale grense saam te werk. Soos in die inleiding genoem, kan vennootskappe help om belangrike samelewingskwessies op te los en dit bied die moontlikheid om doelwitte te bereik wat ’n enkelpersoon of -instansie nie kan doen nie (Woodland & Hutton 2012). Vennootskappe is egter moeilik om te bestuur, en daar is altyd die moontlikheid van teleurstellende resultate vir een of al die partye. Vennootskappe slaag wanneer die vennootskapsprosesse voortdurend beskerm en gevoed word (Vangen & Huxham 2003).

Hoewel daar wye erkenning is vir die feit dat vennootskappe help om gefragmenteerde stelsels te benut en hoewel dit tot groter effektiwiteit en innovasie lei, gebeur die sluit van effektiewe vennootskappe nie spontaan nie en kan dit nie sonder weldeurdagte ontwikkeling in stand gehou word nie (Gray, in Woodland & Hutton 2012). Wanneer verskillende partye na die onderhandelingstafel kom, elk met sy eie agenda en doelwitte, moet sake taktvol hanteer word. So nie kan die vennootskap skipbreuk ly nog voor dit begin het. Vennote behoort te verstaan hoe om gesamentlike besluite te neem oor die reëls waardeur hul aksies en verhoudings gelei sal word (Thomson et al. 2007).

Deel van die kompleksiteit van vennootskappe is dat rolspelers gewoonlik hul eie identiteit en organisasiekultuur behou of wíl behou. Spanning kan maklik ontstaan tussen die eiebelang van die spesifieke rolspelers en die groter belang van die vennootskap (Thomson et al. 2007). Dié spanning kan tot uiting kom in besluite ten opsigte van doelwitte, verwagtinge of uitkomste, en die aanslag of filosofie waarmee die vennootskap aangepak word. Vertroue tussen vennote is van kardinale belang; dit kan samewerking vereenvoudig en selfs ’n impak hê op die onkoste van die vennootskap (Thomson et al. 2007). Wanneer daar vertroue is, is dit ook moontlik dat elke rolspeler sy eie identiteit en doelstellings behou, terwyl die gesamentlike doelwitte van die groter projek aandag kry. Vertroue word egter nie so maklik gevestig nie; tydsverloop is dikwels nodig vir die ontwikkeling van ’n vertrouensverhouding.

Vennootskappe word verder gekompliseer deur aspekte soos die blokkasie van kommunikasie, uitdagings in die ontwikkeling van gesamentlike strukture, die bestuur van magswanbalans en die logistieke uitdaging van vennote wat geografies verspreid is (Babiak & Thibault 2009). Die bou van konstruktiewe verhoudings tussen vennote en die bestuur van multikulturele spanne kan hierby gevoeg word.

Ondanks dié donker prentjie, word vennootskappe daagliks aangepak en op groot of kleiner skaal baie suksesvol bestuur.

Gevallestudie: Ons eie stories (Rysmierbult)

Kontekstualisering van die projek
Die Ons eie stories: Boeke uit die gemeenskap II-projek het voortgevloei uit ’n soortgelyke projek wat in 2004 deur die Vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Promosa, Potchefstroom, uitgevoer is (vgl. Greyling 2005). Die sukses van hierdie projek het aanleiding gegee tot ’n multidissiplinêre vennootskap tussen die Vakgroep Skryfkuns en die FLAGH-program van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe (NWU).

Die FLAGH-program is ’n multidissiplinêre navorsings- en intervensieprogram van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit. Die program het as resultaat van navorsingsbevindinge van, onder andere, die Transition and Health of Urban South Africans (THUSA)-studie, ontwikkel. Die studie is in 2000 deur die Afrika-Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) aan die NWU onder plaasbewoners in die Noordwes-Provinsie gedoen. Op grond van die resultate van die THUSA-studie, het verskeie inisiatiewe tot stand gekom wat gemik was op die verbetering van lewenskwaliteit van plaasbewoners in die Noordwes-Provinsie en spesifiek in die Rysmierbult-omgewing (50 km vanaf Potchefstroom). Die inisiatiewe was transdissiplinêr van aard en het ’n verskeidenheid vakrigtings en dissiplines betrek, onder andere Verbruikerswetenskappe, Sielkunde, Teologie, Maatskaplike Werk, Verpleegkunde, Voeding, Beroepsgesondheid en Ekonomiese Wetenskappe (NWU). Die projekte het in daardie stadium vaardigheidsontwikkeling vir vroue (Holding Hands), ’n ekonomiese bemagtigingsprojek, en ’n voedselsekuriteitsprojek by skole ingesluit.

Ná verkennende gesprekke tussen professor Annamarie Kruger (hoof van FLAGH), professor Franci Greyling (Vakhoof: Skryfkuns) en ekself, is besluit om as deel van genoemde inisiatiewe ’n nuwe woordkunsprojek in een van die plaasgemeenskappe, waar die FLAGH-program werksaam was, aan te pak. Die projek sou ’n vennootskap tussen FLAGH en Skryfkuns wees. Sodanige projek het die potensiaal gehad om aansluiting te vind by die FLAGH-program se maatskaplike doelstellings om mense te bemagtig, begrip te kweek tussen die plaasbewoners, en sou moontlik ook terapeutiese waarde vir die deelnemers hê. FLAGH sou die befondsing verskaf4 terwyl die Vakgroep Skryfkuns die nodige kundigheid vir die uitvoer van die projek bygedra het.

Teikengemeenskap
Op Rysmierbult is daar sedert die vroeë twintigste eeu vir diamante gedelf (vgl. Combrink 2011). Die delwerye het ander ekonomiese aktiwiteite gelok sodat daar uiteindelik winkels, ’n hotel, gevangenis, kerkgebou, biblioteek, poskantoor en laerskool in die gebied was. Min van dié infrastruktuur bestaan vandag nog, aangesien die prospekteeraktiwiteite teen die 1960’s heelwat begin afneem het. Die area was vroeër in kleinhoewes verdeel; vandag bestaan die gebied uit groot kommersiële boerderye (Batswaloang 2006a, 2006b, 2006c; Oosthuizen 2006a, 2006b, 2006c).

Die plase De Beerskraal en die aangrensende Roodewal vorm ’n gesamentlike kommersiële beesboerdery. Dié plaasgemeenskap is as teikengemeenskap vir die projek Ons eie stories: Boeke uit die gemeenskap geïdentifiseer.

Die De Beerskraalgemeenskap het in 2005 bestaan uit die plaaseienaars en hul gesinne, asook ongeveer 70 mense (plaaswerkers met hul gesinne en afhanklikes) wat op De Beerskraal (of die aangrensende Roodewal) gewoon en/of gewerk het. Die plaaswerkers se gesinslede is nie noodwendig self op die plase werksaam nie (sommige van die werkers se lewensmaats is bv. werkloos). Die werkers se kinders, asook van die omliggende plase se kinders, gaan skool in De Beerskraal Laerskool, ’n tweemanskool wat op die plaas geleë is.

In ’n studie deur Kruger et al. (2006) wat ondersoek ingestel het na die gesondheidstoestande van plaaswerkers in die Noordwes-Provinsie, is agtergrondinligting oor die teikengroep gevind wat vir die gevallestudie relevant is. Die bevindinge word kortliks hier weergegee. Vir meer inligting oor die plaasproblematiek in Noordwes, asook die geskiedkundige agtergrond van die Rysmierbult-omgewing, kyk Kruger et al. (2006) en Combrink (2011).

Die studie deur Kruger et al. (2006) het die volgende bevind: In sommige streke het plaaswerkers en hul gesinne baie beperkte toegang tot opvoeding en ander geleenthede vir ontwikkeling en beskik hulle nie oor die vaardighede om in die groter ekonomie mee te ding nie. Hoë vlakke van alkoholmisbruik, huishoudelike geweld en chroniese wanvoeding kom onder plaaswerkers voor, ’n groepering wat ook die laagste vlak van geletterdheid in Suid-Afrika het. Kwaliteitonderwys op plase word verhinder deur die lang afstande wat leerders moet aflê (meestal te voet) om by die skool te kom. Dié kinders ontvang dikwels nie voldoende basiese middele en ondersteuning tuis nie. Dit lei tot swak prestasie op skool, of soms selfs tot ’n algehele gebrek aan skoolbywoning. Saam met die swak infrastruktuur (betreffende onderwys) wat op plase aangetref word, is daar ook meestal beperkte werksgeleenthede, spesifiek vir vroue. Dit lei daartoe dat vroue hoofsaaklik van die inkomstes van hul manlike lewensmaats afhanklik is, wat ’n invloed op die verdeling van hulpbronne binne die huishouding het en wat waarskynlik tot die beperkte besluitnemingsmag van vroue in dié situasies lei (Lemke et al., aangehaal deur Kruger et al. 2006). Een van die grootste probleme op plase is die gebrek aan infrastruktuur en openbare dienste, wat plaasbewoners uitsluit van gewone ekonomiese aktiwiteite, toegang tot winkels en gesondheidsdienste en geleenthede ten opsigte van verdere onderwys. Dit was ook die geval op De Beerskraal ten tye van die studie.

Dié bevindinge beklemtoon dat mense wat op plase woon en werk (bedoelende plaaswerkers) meestal in ’n destruktiewe spiraal van armoede vasgevang is, waar strukturele probleme isolasie veroorsaak en ontwikkeling verhinder. Dit lei tot grootskaalse maatskaplike, gesondheids-, opvoedkundige en ekonomiese nood.

Die De Beerskraalgemeenskap
Voordat die projek aangepak kon word, is moontlikhede vir die uitvoering daarvan ondersoek. Gesamentlike besoeke aan die gemeenskap deur Skryfkuns en FLAGH het gehelp om die teikengroep en hulle situasie vooraf goed te begryp (kyk ‘Kontak met en leer ken die gemeenskap’ vir die konteks binne die projek). Die plaaswerkersgemeenskap op De Beerskraal kan as ’n ontwikkelende gemeenskap geklassifiseer word. In 2005 het die gemeenskap soos volg daar uitgesien: Soos (in ‘Die Suid-Afrikaanse woordkunsproblematiek’) genoem, is die plaasgemeenskap op De Beerskraal en Roodewal heterogeen wat taal en kultuur betref. Binne die twee groepe word groot verskille met betrekking tot taal, geletterdheid en sosiaal-maatskaplike agtergrond aangetref. Die plaaseienaars is Afrikaanssprekend. Die plaaswerkers, wat hoofsaaklik Setswanasprekers is, het ’n goeie begrip van Afrikaans of Engels. Baie van hulle se gesinne het egter slegs ’n baie beperkte begrip van een of beide. In die plaasskool op De Beerskraal word die senior grade in Engels onderrig en leerders kan Engelse opdragte in ’n mate volg. Tog is daar gevind dat selfs die ouer leerders hulle nie baie koherent in Afrikaans óf Engels kan uitdruk nie. Die grootste gedeelte van die plaaswerkersgemeenskap is ongeletterd of minimaal geletterd. Faktore soos hierdie dra by tot die kompleksiteit van ’n gemeenskapseie woordkunsprojek.

Die eienaars van die twee plase woon al vir vier generasies daar. Hulle het die omgewing sien groei en verander. Sommige van die plaaswerkergesinne is al net so lank deel van die opset, terwyl ander eers later gekom het. Die werk op die plaas is die bindende faktor vir die inwonende gesinne, wat meestal nie tradisioneel afkomstig is van Rysmierbult of die omliggende omgewing nie, maar hulle vanweë werksgeleenthede daar gevestig het. Daar is dus ook betreklik min familiebande tussen die werkersgesinne.

Kennis van ’n gemeenskap is belangrik tydens die projekbeplanning. Daar het geen organisasies of klubs op De Beerskraal bestaan waarby aangeklop kon word nie en ook die leierskapstruktuur in so ’n plaasgemeenskap is ongestruktureerd. Op De Beerskraal is die plaaseienaars die ‘gemeenskapsleiers’. Bestaande strukture wat deur die FLAGH-sambreelprojek geskep is in hul werk met die gemeenskap, asook die laerskool op die plaas, is gesien as opsies om subprojekte uit te voer. Verder is die plaaswerkers ook as ’n tipe eenheid op die plaas beskou, wat vir ’n subprojek benut kon word.

Na die voorafgaande situasie-analise en ontmoetings tussen FLAGH en Skryfkuns, is besluit om voort te gaan met die projek. Daar is besef dat die De Beerskraalprojek ’n komplekse onderneming sou wees met verskeie veranderlikes wat in gedagte gehou sou moes word. Een van die grootste bepalende faktore was die vennootskappe wat die projek moontlik gemaak het. Dié samewerking het moontlikhede vir die uitvoering van die projek gebied, en die projek het op grond van hierdie moontlikhede ontwikkel (kyk ‘Vestiging van vennootskappe’).

Missiestelling, doelwitte en projekbenadering
Die oorkoepelende doel van die woordkunsprojek was om as deel van ’n multidissiplinêre projek, vanuit Skryfkuns as dissipline, by te dra tot die bevordering van skryf, lees en boeke in die plaasgemeenskap van De Beerskraal. In die proses sou die behoefte aan teoretiese raamwerke binne die dissipline Skryfkuns ook aangespreek word. Die vennootskap met FLAGH het ’n raamwerk gebied waarbinne die projek uitgevoer kon word. Die projek sou verskeie groepe in die gemeenskap by die deel van hul stories, asook by skryf en boekmaak, betrek (vgl. Woodland & Hutton 2012). Deur verskillende dele van die plaasgemeenskap gelyktydig te betrek, sou die gemeenskap geleentheid kon kry om gehoor te word, bemagtig te word, hul skryf- en storievertelvaardighede uit te brei en in staat gestel kon word om self ’n produk te lewer in die vorm van ’n gemeenskapsbundel.

Die filosofie van die projek was deelnemend van aard. Dié benadering hou in dat die gemeenskap op een of meer van dié wyses betrek word, naamlik by die implementering van die projek, evaluering, voordeel en/of besluitneming (Yoon 1997)5.

Tydens die uitvoering van die projek en in die samewerking met die gemeenskap, is die volgende deelnemende riglyne deur die projekspan voor oë gehou:

• Samewerking en kohesie (van die projekspan, maar ook die gemeenskap).
• Respek vir die gemeenskap en hul verhale.
• Kultuursensitiwiteit.
• Buigbaarheid en aanpasbaarheid.
• Geleentheid vir die gemeenskapslede om verhale in hul moedertaal te vertel.
• Om so deelnemend as moontlik te wees.
• Om op kreatiewe wyse van beskikbare hulpbronne en vaardighede gebruik te maak (vgl. Brokensha & Hodge 1969; Jacobson & Kolluri 1999; Nair & White 1993).

In die uitvoering van die projek is dit belangrik geag om goed en deurdag na die storievertellers te luister en om respek vir die individu en gemeenskap te hê. Daar is van die gemeenskapslede se inheemse kennis gebruik gemaak, terwyl gepoog is om sensitief te wees vir kulturele taboes. Individue het ook insae in die gebruik van hul verhale of anekdotes gehad (toestemmingsvorms is uitgereik6). Verder is die praktiese voordeel wat die gemeenskap uiteindelik uit ’n produk soos ’n bundel met verhale sou trek, ook as belangrik gesien (Stoecker 2005).

Drie hoofstadiums kan in die verloop van die projek onderskei word, naamlik: (1) vestiging van vennootskappe en leer ken van die gemeenskap, (2) praktiese uitvoering van projek en (3) terugvoer en evaluasie.

Leer ken van gemeenskap en vestiging van vennootskappe
Skryfkuns, FLAGH en verteenwoordigers van die De Beerskraalgemeenskap was almal van mening dat ’n gemeenskapseie woordkunsprojek soos dié sinvol sou wees. Die uitvoer van ’n kreatiewe skryfkuns- of storieprojek as deel van FLAGH se inisiatiewe sou inskakel by dié program se holistiese bevordering van lewenskwaliteit onder plaaswerkers (vgl. ‘Vestiging van vennootskappe’).

In ’n deelnemende woordkunsprojek is die gemeenskap ’n hoofvennoot (Roberts 1979). Dit was derhalwe baie belangrik om ’n relevante intreestrategie in die gemeenskap te hê. Aangesien dié ’n nuwe projek in ’n onbekende teikengemeenskap (vir die Vakgroep Skryfkuns) was, was dit ook baie belangrik om vooraf deeglik navorsing te doen en die gemeenskap te leer ken voordat die projek uitgevoer is.

Kontak met en leer ken die gemeenskap
’n Situasie-analise het insig in die plaasgemeenskap en die problematiek daaraan verbonde gebied, asook in die gemeenskap van De Beerskraal spesifiek (vgl. ‘Teikengemeenskap’). Dit was egter ook nodig om die gemeenskap self te leer ken en vertroue te bou voordat die projek ’n aanvang sou neem. Dit is immers ’n waarde wat binne die deelnemende benadering tot gemeenskapsontwikkeling geld en sluit aan by respek vir die gemeenskap, asook by die skepping van oop kommunikasiekanale (Jacobson & Kolluri 1999; Nair & White 1993).

Die leer ken van die gemeenskap en gepaardgaande situasie-analise het ’n paar maande geduur en het behels dat agtergrondinligting ingewin is (wat reeds in ‘Teikengemeenskap’ weergegee is) waarna die gemeenskap in meer diepte leer ken is. Die volgende stap was die ontmoeting van die gemeenskapsleiers en bekendstelling van die projek. Dit het ingesluit dat bepaal is wat die spesifieke behoeftes van die gemeenskap as vennoot was ten opsigte van die projek, die identifisering van moontlike uitdagings en die verkryging van gemeenskapsleiers se samewerking. Tydens dié fase van die projek is die gemeenskap en gemeenskapsleiers ook aangemoedig om eienaarskap van die projek te neem.

Een van die inisiatiewe wat deur FLAGH na afhandeling van die THUSA-studie (Vorster et al. 2000) geloods is, was ’n voedselsekuriteitsprogram. Dit het behels dat groentetuine by vyf plaasskole in die Noordwes-Provinsie gevestig is, waaruit die skole dan etes vir die leerders kon kook. Die beweegrede hieragter het saamgehang met die bevindings van die THUSA-studie, naamlik dat plaasbewoners dikwels wan- of ondervoed is, wat ’n negatiewe invloed op hul skool- en werksprestasie het (Vorster et al. 2000; Kruger et al. 2006). Twee sodanige groentetuinprojekte was ten tye van die Ons eie stories-projek reeds in die Rysmierbultarea gevestig, waarvan een by De Beerskraal Laerskool was.

Ek is deur FLAGH aangestel om die groentetuinprojekte vir ’n jaar te koördineer. My verpligtinge het skakelwerk behels met die twee skole op Rysmierbult wat deel van die projek was, asook skakelwerk met die Potchefstroom-munisipaliteit (wat plantjies en werkers voorsien het om die tuine te versorg). Na gelang van die skole se behoefte, is plantjies by die munisipaliteit verkry en dan aan die skole gelewer. ’n Verdere verantwoordelikheid was deurlopende monitering van die groentetuine (drieweekliks), waartydens die groei, versorging en vordering by die tuine geëvalueer is. Tydens die besoeke is daar ook behoeftebepaling ten opsigte van gereedskap, kunsmis of meer plantjies gedoen. Vordering is dan aan FLAGH gerapporteer.

Die groentetuinprojek het ’n goeie intreestrategie in die gemeenskap van De Beerskraal gebied en my as projekleier van die Ons eie stories-projek die geleentheid gegee om op ’n natuurlike manier met die bewoners van De Beerskraal kontak te maak. Dit het ook ’n nuwe dimensie na die vennootskap gebring. Verhoudinge is in dié tyd by die laerskool op De Beerskraal gebou en moontlike uitdagings vir die projek kon ook vroegtydig geïdentifiseer word. Soos genoem, het dit byvoorbeeld vroeg reeds duidelik geword dat die skoolkinders se geletterdheidsvlak en taalvaardigheid nie baie hoog was nie. Dit sou heel moontlik ’n struikelblok kon wees in die neerskryf en selfs mondelinge oordrag van verhale.

Nie net was die groentetuinprojek ’n goeie intreestrategie nie, maar as buitestander in die gemeenskap was dit belangrik om ook ’n bydrae te lewer wat deur die gemeenskap as prakties bruikbaar of nuttig gesien sou word (Stoecker 2005). Omdat die groentetuinprojek nou saamgehang het met die woordkunsprojek, kan aangeneem word dat die woordkunsprojek (en die bydrae wat FLAGH as geheel in die gemeenskap maak) ook praktiese waarde in die gemeenskap se oë gehad het.

Vestiging van vennootskappe
Hoewel die vennootskap tussen Skryfkuns, FLAGH en die De Beerskraalgemeenskap teen dié tyd reeds gevestig was, is dié fase van die projek gebruik vir die vestiging van ander vennootskappe en samewerkingsooreenkomste. Bogenoemde vennootskap word egter ook hier bespreek om die proses duidelik te maak.

Murvosh (2012) gebruik ’n Partnership Logic Model om die vestiging van vennootskappe uiteen te sit. Die stappe in dié model is soos volg: (1) Identifiseer vennote (2) Bou verhoudings met vennote (3) Betrek vennote (4) Kommunikeer duidelik met vennote (5) Hou vennootskappe in stand en verbeter prosesse.

In die Ons eie stories-projek was daar heelwat sleutelrolspelers wat op gelyke voet as vennote met Skryfkuns opgetree het. Die elemente van bogenoemde model het duidelik na vore gekom in die vestiging van vennootskappe. Die vennote het doelstellings en uitkomstes help bepaal en het die reg gehad om te onderhandel oor wat hulle uit die projek wou hê. Die drie hoofvennote in die projek is reeds benoem as die Vakgroep Skryfkuns (Skool vir Tale, NWU), die FLAGH-program (Fakulteit Gesondheidswetenskappe, NWU) en die De Beerskraalgemeenskap.

Hoewel daar reeds voorlopige gesprekke tussen FLAGH en Skryfkuns was, moes ál die rolspelers en/of vennote eers in dialoog betrek word voordat die projek prakties geïmplementeer kon word. Daar moes onderhandel word oor doelstellings, uitkomstes, begrotings en grense vir die projek, asook na al die moontlikhede van samewerking gekyk word. Hier was ’n proses ter sprake, waar verhoudings gevestig is en daar oor elkeen se onderskeie belange by die projek onderhandel is. Die rol wat vennootskappe in die projek gespeel het, het beslis ’n invloed op die unieke karakter daarvan gehad. Dit het ook die tydsduur van die projek beïnvloed. Indien net een rolspeler se belange en doelstellings ter sprake was, was dit waarskynlik ’n eenvoudiger proses wat gouer afgehandel kon word.

In die meeste gevalle het elkeen van die persone of instansies iets na die onderhandelingstafel gebring. Doelstellings en motiverings het dikwels verskil, hoewel daar ook oorvleuelende belange was. Almal wou noodwendig iets uit die projek hê, maar was ook bereid om iets in ruil te gee. Deur die loop van ’n reeks vergaderings en projekbesoeke aan die gemeenskap het sekere kwessies na vore gekom waaruit waardevolle lesse geleer is. Vrae soos die volgende moes byvoorbeeld aandag geniet: Wat was die doelstellings van die projek?; Watter tipe verhale sou gegenereer word en waarvoor sou dit aangewend word?; Aan wie sou die data behoort?; Sou daar nie te veel navorsingsaansprake op dieselfde korpus verhale wees nie?; Wat sou gebeur as verskillende navorsers dieselfde verhale vir byvoorbeeld ’n navorsingsartikel wou gebruik?

Dié tipe praktiese vrae het meegehelp om die projekdoelwitte te verfyn en om medewerkers te behou wat oorvleuelende, eerder as botsende, doelstellings vir die projek gehad het. Tydens dié fase van die projek is daar sterk gefokus op die kwessie van belange, verskillende benaderings en verlangde uitkomste.

Aanvanklik is oorweeg om ook navorsers van ander taalvakgroepe in die Skool vir Tale by die projek te betrek. Alhoewel dit ’n goeie gedagte was, het dit egter geblyk dat dit die projek en die uitvoering daarvan onnodig sou kompliseer. Indien navorsers van ’n verskeidenheid terreine en vakgebiede betrokke sou raak, kon dit uiteindelik lei tot ’n ‘toutrekkery’ en konflik oor wyses waarop die projek uitgevoer behoort te word, die gemeenskap betrek behoort te word en die tipes verhale wat vertel of aangemoedig behoort te word. Verskillende doelstellings kon byvoorbeeld tot ’n uitkomste van tradisionele verhale teenoor meer algemene vertellings vanuit die gemeenskap lei. Daar kon ook verskillende sienings wees van waarvoor die data eintlik bedoel was en waarvoor dit aangewend moes word. As gevolg van persoonlike omstandighede, ander navorsingsbelange en verwagtinge met betrekking tot vergoeding, het sekere samewerkingsmoontlikhede uiteindelik nie gerealiseer nie.

Die uiteindelike bydraes van die onderskeie vennootskappe kan soos volg opgesom word:

• Finansieel: FLAGH en Skool vir Tale van die NWU.

• Infrastruktuur: FLAGH en plaaseienaars.

• Projekbestuur: Vakgroep Skryfkuns.

• Navorsing: FLAGH (Afrika-Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing) en Vakgroep Skryfkuns (Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks).

• Vaardighede/dienste: Daar is gebruik gemaak van die vakspesialisbydraes van die Vakgroep Skryfkuns; Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT, NWU), tolkassistente, vertalers, taalversorgers, grafiese ontwerp, bladuitleg en drukkers.

• Kennis: Hier word veral verwys na inheemse kennis en verhale wat vertel is: Gemeenskap – plaaswerkers, vroue, De Beerskraal Laerskool en die Holding Hands-projek.

Daar word vervolgens in detail gekyk na die proses om vennootskappe in die projek te identifiseer, te betrek en in stand te hou (Murvosh 2012).

Die FLAGH-vennootskap: Voor die aanvang van die projek het die Vakgroep Skryfkuns ’n byeenkoms met die sleutelpersone van die FLAGH-projek gehou. By die vooraf ontmoeting in 2005 (genoem in die inleiding tot ‘Uitvoering van die projek’), is die projek op grond van die volgende aspekte bespreek: die beplanning van die projek, die begroting en die doelwitte van die onderskeie groepe.

In dié stadium moes die verlangde uitkomste van die projek bepaal word. Waar FLAGH se belang baie sterk by gemeenskapsontwikkeling, veral op maatskaplike, ekonomiese en sosiale vlak gelê het, was Skryfkuns se fokus eerder op stories, die bevordering van lees en skryf, en kreatiwiteit. Indien die projek as verdere uitkoms sou hê dat die gemeenskap ‘bemagtig’ word, of wedersydse begrip tussen eienaars en werkers bevorder word, sou dit deur Skryfkuns as ’n bonus gesien word. Indien Gesondheidswetenskappe of Skryfkuns die data vir verdere navorsing (maatskaplik, sielkundig, ekonomies, of van watter aard ook al) kon gebruik, sou dit ook ’n sekondêre uitvloeisel van die projek wees. Die sekondêre doelwitte was egter die doelwitte waar FLAGH waarskynlik die meeste belang by gehad het.

Die oorkoepelende belange en doelwitte van beide Skryfkuns en FLAGH is vervolgens uiteengesit. Van Skryfkuns se kant af is duidelik gemaak dat die woordkunsprojek geen politieke oogmerke gehad het nie. Dit was nie die doel van die projek om te luister na die griewe van die werkers en dit onder die regte persone se aandag te bring, of om die lewenstoestande op die plaas te ondersoek en daaroor verslag te lewer nie. Daar is ooreengekom dat Skryfkuns die Ons eie stories-projek sou onderneem en dat die FLAGH-program dan die data (verhale) verder kon gebruik vir artikels of navorsing soos hulle verkies.

Die volgende konkrete uitkomstes is vir die projek gestel:

• Insameling van mondelinge en geskrewe verhale van die volgende subgroepe op die plaas De Beerskraal: plaaseienaars, manlike en vroulike plaaswerkers, die Holding Hands vaardig-heidsontwikkelingsprojek, De Beerskraal se laerskoolleerders, bejaardes (tuis), en werklose vroue (tuis).

• Die druk van ’n bundel waarin gekeurde stories en anekdotes vervat is.

Hieruit sou moontlik die druk van aparte bundeltjies met byvoorbeeld net die Holding Hands-groep of skoolkinders se verhale kon voortvloei; die gebruik van bogenoemde bundels vir bemarking van die ekonomiese bemagtigingsprojek en vir ekstra inkomste vir plaasvroue; die gebruik van plaaswerkers se stories as data vir navorsing.

Vennootskappe met betrekking tot vaardighede en dienste: Vanweë die taal- en kulturele kompleksiteit van die projek, is sekere unieke vaardighede benodig. Kennis van die Setswanataal en -kultuur was byvoorbeeld ’n voorvereiste vir die projek. Aangesien daar nie binne die Vakgroep Skryfkuns oor dié kennis beskik is nie, moes samewerkingsooreenkomste met kenners van buite gesluit word. Daar moes veral gekyk word na twee velde van kennis, naamlik: (1) veldwerk en tolking en (2) transkripsie van die klankopnames.

Aangesien die plaaswerkers, wat die grootste deel van die teikengroep uitgemaak het, Setswanasprekers was, wou die projek aan hulle die geleentheid gee om hul verhale in hul moedertaal te deel. Ten einde kultureel sensitief te wees, wou die projek graag van Setswana-assistente gebruik maak vir veldwerk en tolking. Sekere oorwegings was van belang by die besluitneming ten opsigte van dié medewerkers. ’n Kulturele oorweging wat na vore gekom het, was byvoorbeeld: Indien daar slegs vroulike of manlike veldwerkers beskikbaar was, sou daar sekere kulturele taboes in die gemeenskap oortree word? Daar was ook die vraag of daar vir elke fase van die projek ’n nuwe veldwerker aangestel moes word (bv. ’n vrou vir die vroue en kinders, ’n man om met die mans te werk). Wat konsekwentheid aanbetref, was dit belangrik dat die gemeenskap ook die persoon moes leer ken en vertrou. As daar telkens ’n nuwe persoon by projekbesoeke was, kon dit die ritme van die projek versteur. Verder moes dit ’n bekwame persoon, iemand met ervaring wees, wat oor kennis beskik het van kulturele sensitiwiteit en wat tussen Afrikaans en Setswana kon tolk.

Daar is kontak gemaak met die vakgroepe Afrikatale en Sosiologie, asook met Gesondheidswetenskappe (NWU), wat moontlik kon help met voorstelle. Vanweë beskikbaarheid en vaardigheid is daar uiteindelik slegs drie vrouetolke aangestel en afwisselend vir elk van die subprojekte gebruik. Die deelnemende riglyne van die projek (vgl. ‘Missiestelling, doelwitte en projekbenadering’) is met die drie veldwerkers wat die tolking behartig het, bespreek en is deurentyd voor oë gehou.

Daar moes ook vennootskappe aangegaan word wat betref die transkripsie van klankopnames. Die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) by die NWU het op die volgende wyses hulp beloof: die gratis voorsiening van opnametoerusting; die opleiding van ’n bekwame Setswanapersoon om transkribering van tekste te doen; die vergoeding van die transkribeerder in die vorm van ’n beurs.

Vennootskap met gemeenskapsleiers: Soos bo genoem, was die gemeenskap ’n belangrike vennoot; in die vestiging van dié vennootskap is daar egter met die leiers in die gemeenskap as segspersone gewerk. Deel van die situasie-analise in die maande voor die aanvang van die projek, was ook om die gemeenskapsleiers te leer ken en hulle te laat inkoop in die projek. Soos (in ‘Die De Beerskraalgemeenskap’) genoem, is daar geen formele strukture in die gemeenskap nie en is daar nie ’n inheemse gemeenskapsleier nie. Daarom is daar van bestaande ‘eksterne’ leiersfigure gebruik gemaak. Twee ontmoetings kan in dié verband genoem word, naamlik die ontmoeting met die plaaseienaars en die skoolhoof van De Beerskraal Laerskool. Tydens die formele voorlegging van die projek aan die plaaseienaars, het hulle toestemming verleen met die voorwaarde dat die projek uitgevoer word met die doel om kreatiwiteit, stories en verryking in die gemeenskap te bevorder. Dit was vir hulle van belang dat daar geen politieke bymotief moes wees nie.

Die samewerking met die skoolhoof van De Beerskraal Laerskool het soos volg verloop: In die maande voor die aanvang van die projek het ek baie te doen gehad met die skoolhoof, aangesien sy aan die groentetuinprojek meegewerk het. Dit was moontlik om heelwat gesprekke met haar te voer en ook die situasie by die skool goed te leer ken. Sy het haar goedkeuring en samewerking vir die projek gegee.

Nadat die situasie-analise oor die projek en die gemeenskap afgehandel is, en verhoudings en vennootskappe binne en buite die gemeenskap gevestig is, is die projek verfyn en uitgevoer.

Uitvoering van die projek
Na afloop van die situasie-analise en die verfynde beplanning en toespitsing van die projek is dit in September 2005 geïmplementeer.

Die uitvoering van die projek het uiteindelik in drie fases plaasgevind, naamlik generering van tekste, keuring en teksversorging, asook publikasie. Die generering van tekste (fase een) het ’n getal subprojekte behels. Aangesien dit nie vir die fokus van die artikel van belang is nie, word dié aspekte nie in detail bespreek nie. ’n Oorsig oor die projek word hier gegee, met die vennote wat by elke fase van die projek betrokke was.

Soos dit uit Tabel 1 blyk, was die vennote in verskillende hoedanighede en fases, direk en indirek by die projek betrokke. FLAGH, Skryfkuns en die gemeenskap was deurgaans betrokke, terwyl die ander vennote betrek is wanneer en waar nodig.

Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult is in Februarie 2006 gedruk. Nege-en-veertig bydraes verskyn in die bundel; dit is 32 persone se vertellings. Illustrasies deur die gemeenskap self is by die verhale gebruik. Foto’s van die gemeenskap en individue is voor en agter in die boek geplaas. Verskillende generasies se verhale word hier byeengebring. In die bundel word daar egter oor meer grense beweeg deurdat verskillende kulture se perspektiewe opgeteken is en die verhale almal in drie tale (Afrikaans, Engels en Setswana) vertaal is. Die vertellings is in ses temas gerangskik: Rysmierbult (herinneringe aan en anekdotes oor die omgewing en hoe dit met verloop van tyd verander het); Die storie van my lewe (eie ervaringe en lewensverhale); Toe ek klein was (kleintydse herinneringe); My familie (die gesinsopset); Rondom die vuur (staaltjies, sprokies, spookstories en legendes); en Eendag (toekomsdrome).

TABLE 1: Oorsig oor projek.

Terugvoer en evaluering
In ’n gemeenskapsprojek soos hierdie is terugvoer van groot belang (vgl. Combrink 2011). Vanweë die geletterdheidskwessie was skriftelike terugvoer van die volwasse gemeenskap nie moontlik nie (kyk ‘Die De Beerskraalgemeenskap’). Die mondelinge terugvoer van die gemeenskap by ontvangs van die boek was egter baie positief.

Daar is in verskillende fases aan die hoofvennote (FLAGH en die gemeenskap) terugvoer gegee. Wat die gemeenskap betref: Terugvoer is aan die eienaars gegee en die bundel is aan hulle oorhandig. Hulle het hul tevredenheid met die resultaat van die projek uitgespreek. Die reaksie van die De Beerskraal Laerskoolleerders op die boek was positief. Hulle het na hul eie illustrasies en foto’s in die boek gesoek en was deurgaans opgewonde.

Tydens ’n formele funksie in die gemeenskap, het elke deelnemer ’n bundel ontvang. Die persone wie se bydraes in die bundel gepubliseer is, is almal uitgenooi en die funksie is ook bygewoon deur die verskillende vennote in die projek. Gedurende ’n kort program is die inwoners vir hul deelname aan die projek bedank en aangemoedig om steeds hul stories met mekaar te deel. ’n Plakkaatuitstalling met foto’s van die projek het groot belangstelling van die gehoor uitgelok. Daar is ook twee verhale uit die bundel voorgelees.

Die bewoners van De Beerskraal en Roodewal se reaksie op die boek het getoon dat boeke as waardevol in die gemeenskap beskou is en dat die deelnemers met trots eienaarskap van hul verhale in die boek geneem het. Hulle was baie beïndruk met die boek en die gehalte daarvan.

FLAGH en ander vennote, soos die Skool vir Tale en Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, asook die medewerkers van die projek, is deurlopend op hoogte gehou van die vordering van die projek (vgl. Murvosh 2012). Na afloop van die projek is terugvoer by ’n formele geleentheid aan FLAGH-medewerkers gegee.

FLAGH was tevrede met die projek en die uitkomstes daarvan. Dit was vir hulle ’n positiewe uitkoms dat deelnemers aan verskillende programme soos Holding Hands (die ekonomiese bemagtigingsprojek vir vroue) nou ook iets sou terugkry in die vorm van ’n eie bundel. Die bundel was verder ook iets tasbaars wat aan die FLAGH-program gekoppel kon word, vir belangstellendes gewys kon word en ook verkoop kon word (met die doel om fondse te genereer en bemarking te doen vir FLAGH-projekte op die plaas). In dié sin het die Ons eie stories-projek beslis waarde tot die FLAGH-program toegevoeg. Die Skool vir Tale is reeds weer deur Gesondheidswetenskappe gekontak vir soortgelyke deelname aan ’n volgende projek, wat bewys lewer van die waarde wat geheg word aan die bydrae wat hierdie projek kan maak.

Daar was ook blootstelling in die media, waaronder etlike koerant-artikels en ’n radio-onderhoud op RSG. Nasionale kongresse het verder ’n platform gebied vir die projek om aan die breër gemeenskap bekendgestel te word.

Vennootskappe bring meer na die tafel

’n Multidissiplinêre projek soos dié beskik oor die potensiaal om ’n ryke verskeidenheid kennis en vaardighede te kombineer sodat almal daaruit voordeel trek. Samewerking tussen die FLAGH-program en die Vakgroep Skryfkuns het ’n unieke dinamika aan die Ons eie stories-projek verleen. Die FLAGH-program se bestaande strukture en die verhoudinge wat reeds deur hulle in die gemeenskap gevestig is, het ook ’n belangrike ondersteunende rol in die uitvoer van die projek gespeel, terwyl Skryfkuns ’n spesialisbydrae binne FLAGH se holistiese gemeenskapsfokus kon lewer. Die fokus en aard van die projek is ook geslyp deur die samewerking met die FLAGH-program.

Vennootskappe en samewerkingsooreenkomste het grootliks tot die unieke aard van die projek bygedra. Dié aspek van die projek het nuwe betekenis aan die deelnemende benadering en die toepassingsmoontlikhede daarvan in gemeenskapseie woordkunsprojekte gegee. Elke vennoot het iets na die tafel gebring, hetsy kennis, vaardighede, idees, infrastruktuur of hulpbronne. In ‘Vestiging van vennootskappe is genoem dat die vennootskappe in die projek oor ’n verskeidenheid velde gestrek het; dit was, onder andere, finansieel van aard, maar het ook kennis, vaardighede, infrastruktuur en ander hulpbronne ingesluit.

Die kompleksiteit van die projek het meegebring dat die Vakgroep Skryfkuns van kennis buite die departement gebruik moes maak om die projek uit te voer en af te handel, veral met betrekking tot die taalkomponent van die projek. Tolke, vertalers en taalversorgers, onder andere, het aangesluit by die projek toe die besluit geneem is om die projek nie slegs in Afrikaans aan te pak nie. Die Setswana-medewerkers wat deel was van die projek was ook betrokke by besluitneming, byvoorbeeld waar dit die keuring en redigering van tekste geraak het. Daar moes ook op die veldwerkers se kennis gesteun word rakende kulturele kwessies. Hul hulp en inheemse kennis was onontbeerlik in die projek.

Hoe meer rolspelers daar by ’n onderneming soos dié betrokke is, hoe meer verskillende beoogde uitkomste en oogpunte kan daar wees (Woodland & Hutton 2012). Dit kan moontlik tot botsende belange, misverstande en konfliksituasies lei (Babiak & Thibault 2009; Thomson et al. 2007). Verskillende kulture (van medewerkers en die gemeenskap) het bygedra tot die uitdaging. Probleme en moontlike konfliksituasies tussen die partye is grootliks geminimaliseer deur oop gesprekvoering. In die projek is die belangrikheid van tweerigtingkommunikasie en dialoog, wat ʼn deelnemende beginsel is, deeglik besef (Nair & White 1993). In elke vennootskap moes daar deurentyd gesprek gevoer word en medewerkers moes duidelik bewus wees van die deelnemende filosofie en ander doelstellings van die projek. In ’n projek soos dié, waar daar aanvanklik soveel onderhandeling ter sprake is, is dit dalk raadsaam om van ’n buitefasiliteerder gebruik te maak wat op ’n onbetrokke manier na al die deelnemers se belange kan luister en kan help om besluitneming te fasiliteer. Dit kan ook help om ’n fokus op die sterk punte van die vennote te bly behou.

Waar vennootskappe ter sprake is, kom die kwessie van beheer en eienaarskap dikwels ook na vore. ’n Deelnemende filosofie stel dat besluitneming gedeel word en dat almal gelyke rolspelers is (Yoon 1997). Die proses moet egter met groot omsigtigheid gefasiliteer word en doelwitte moet voor die aanvang van die projek deeglik deurgepraat word.

Ten spyte van die uitdagings verbonde aan dié multidissiplinêre vennootskap, was vertroue die basis waarop die projek geskoei is. Oop kommunikasie en samewerking het bygedra tot die sukses van die projek.

Slot

Ure lank het ons geluister na die verhale wat Gert Hendriks uit sy skatkis van baie jare gehaal het. Die ou man en die ganse, die goue skip wat kon vlieg, Jakkals en Wolf ... Gert het die waarde van stories goed besef. Meer nog, hy het stories geniét. Vir hom sou dit ’n baie waardevolle geskenk wees om sy eie verhale op skrif, in ’n gedrukte publikasie, te sien. Hy sou dit egter nooit self sien nie. Kort voordat Die pad deur Rysmierbult gedruk is, is Gert Hendriks oorlede.

Sy verhale en staaltjies is vasgevang in boekvorm, wat waarskynlik nooit sou gebeur het sonder die FLAGH-vennootskap nie. Dit het die waarde van vennootskapsprojekte soos hierdie bevestig. Gert se verhaal illustreer die problematiek waarmee ons elke dag te make het: van ’n generasie wat steeds hoofsaaklik of gedeeltelik in die mondelinge tradisie funksioneer en waarvan die verhale besig is om uit te sterf. Dit illustreer ook die dringende behoefte aan woordkunsinisiatiewe in gemeenskappe.

In Suid-Afrika is kwessies soos kultuur, taal, geletterdheid en sosiaal-maatskaplike problematiek nie eenvoudig nie en dit kan verskeie uitdagings tot gevolg hê. Dié kwessies is egter ook deel van die rykdom van ’n land wat soveel onvertelde gemeenskapseie verhale het. Die mondelinge tradisie speel steeds ’n rol in gemeenskappe in Suid-Afrika, hoewel die vorm daarvan vandag dikwels anders as in die verlede lyk. Ondanks die uitdagings wat gemeenskapseie woordkunsprojekte kenmerk, sal dit altyd waardevol wees om ’n Gert Hendriks se verhale te bewaar.

Daar is reeds vele inisiatiewe op die gebied van gemeenskapseie woordkunsprojekte. Desnieteenstaande is daar nog baie potensiaal vir die ontginning van die woordkuns in veral opkomende gemeenskappe (soos plaaswerkergemeenskappe) in Suid-Afrika. Soveel mondelinge verhale (met die identiteite en ruimtes wat hulle impliseer).) is onopgeteken en soveel nuut geskepte skryfkuns7 kom nie tot bewaarde vorm nie. Gemeenskapseie woordkunsprojekte wat op deelnemende wyse in hierdie gemeenskappe aangepak word, kan die woordkuns in Suid-Afrika beskerm en bevorder. Multidissiplinêre vennootskappe, veral, het ’n belangrike rol te speel op die gebied van gemeenskapseie woordkuns- en ander projekte. Sodanige vennootskappe kan bydra tot die bewaring van ’n Gert Hendriks se woordkuns, wat moontlik andersins (weens gebrek aan geld of vaardigheid) verlore sou gaan.

Erkenning

Die finansiële ondersteuning van Nutrition Third World, die Skool vir Tale en die NWU word met dank erken. Vir meer inligting oor die FLAGH-program besoek http://www.flagh.co.za

Mededingende belange
Die outeurs verklaar hiermee dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydraes
Soos volledig in die artikel uiteengesit: A.C. (Noordwes-Universiteit) was projekleier van die Ons eie stories-projek en A.K. (Noordwes-Universiteit) was hoof van FLAGH.

Literatuurverwysings

Babiak, K. & Thibault, L., 2009, ‘Challenges in multiple cross-sector partnerships’ [Uitdagings in verskeie kruissektorvennootskappe], Nonprofit and Voluntary Sector Quarterly 38(1), 117–143. http://dx.doi.org/10.1177/0899764008316054

Batswaloang, S., 2006a, ‘Van daai tyd tot nou’, in A. Combrink, (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 10, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Batswaloang, S., 2006b, ‘Die delwerye’, in A. Combrink, (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 22, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Batswaloang, S., 2006c, ‘Rysmierbult se tronk’, in A. Combrink, (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 31, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Brokensha, D. & Hodge, P., 1969, Community development: An interpretation, Chandler, San Fransisco.

Broom, C. & Avanzino, S., 2010, ‘The communication of community collaboration: When rhetorical visions collide’, Communication Quarterly 58(4), 480–501. http://dx.doi.org/10.1080/01463373.2010.525701

Brown, D., 1999, Oral literature and performances in Southern Africa, James Currey, Oxford.

Bruner, J., 1990, Acts of meaning, Harvard University Press, Cambridge, Massachusetts.

Cavallaro, D., 2001, Critical and cultural theory: Thematic variations, Athlone Press, London.

Combrink, A. (red.), 2006, Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Combrink, A., 2011, ‘Die rol van oraliteit en identiteit in die bevordering van gemeenskapseie woordkuns in Suid-Afrika’, PhD-proefskrif, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit.

Combrink, A., 2012, ‘Die woordrivier: ’n Model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns’, LitNet Akademies 9(3), Desember, 514–147.

Fransman, W., 2005, ‘Verwyder net eers die struikelblokke vir swart Afrikaanse skrywers’, in LitNet, besigtig 10 Augustus 2006, by http://www.oulitnet.co.za/indaba/willem_fransman.asp

Greyling, F., 2005, ‘Oor grense heen: ’n Deelnemende projek ter bevordering van skryf in ontwikkelende gemeenskappe’, Stilet 17(2), Junie, 155–177.

Greyling, F. n.d., ‘Stories in transition, observations at grassroots-level’, Never-ending stories conference proceedings (book), Department of Scandinavian Studies and Classics, University of Ghent.

Greyling, F. & Combrink, A., 2006, ‘Community participation and small-scale publication: Platform for sharing stories’, in C. Higgs, & M. Fisher (reds.), A South African small publishers’ catalogue, pp. 128–129, CTP Printers, Cape Town.

Hall, S., 1990, ‘Cultural identity and diaspora’, in J. Rutherford, (red.), Identity: community, culture, difference, pp. 223–237, Lawrence & Wishart, London.

Hofstede, G.H., 1991, Cultures and organizations: software of the mind: Intercultural cooperation and its importance for survival, HarperCollins Publishers LLC, London.

Jackson, B., 2007, The story is true: The art and meaning of telling stories, Temple University Press, Philadelphia.

Jacobson, T.L. & Kolluri, S., 1999, ‘Participatory communication as communication action’, in T.L. Jacobson, & J. Servaes, (eds.), Theoretical approaches to participatory communication, pp. 266–279, Hampton, Cresskill.

Johnstone, B., 1991, Stories, community, and place, Indiana University Press, Bloomington, Indiana.

Keyton, J., Ford, D.J., & Smith, F.I., 2008, ‘A mesolevel communicative model of communication’, Communication Theory 18, 367–406. http://dx.doi.org/10.1111/j.1468-2885.2008.00327.x

Kruger, A., Lemke, S., Phometsi, M., Van’t Riet, H., Pienaar, A.E. & Kotze, G., 2006, ‘Poverty and household food security of black South African farm dwellers: The legacy of social inequalities’, Public Health Nutrition 9(7), 830–836. http://dx.doi.org/10.1017/PHN2005927, PMid:17010247

Murvosh, M., 2012, ‘Powerful partnerships’, Library by Design, Spring, 1–9.

Nair, K.S. & White, S.A., 1993, ‘The development communication process: a reconceptualization’, in K.S. Nair & S.A. White (reds.), Perspectives in development communication, pp. 47–70, Sage, New Delhi.

Ong, W.J., 1982, Orality and literacy: The technologizing of the word, Routledge, London. http://dx.doi.org/10.4324/9780203328064

Oosthuizen, D., 2006a, ‘Herinneringe aan Rysmierbult’, in A. Combrink (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 17, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Oosthuizen, D., 2006b, ‘Interessante karakters op Rysmierbult’, in A. Combrink, (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 24, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Oosthuizen, D., 2006c, ‘Die tronk op Rysmierbult’, in A. Combrink (red.), Die pad deur Rysmierbult/The road through Rysmierbult/Tsela e e fetang mo Rysmierbult, bl. 23, Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Roberts, H., 1979, Community development: learning and action, University of Toronto Press, Toronto.

Rossouw, A., 2001, ‘Hoe gaan Afrikaans en ander minderheidstale in Suid-Afrika oorleef? KKNK: Die Burger-lesingreeks’, in Litnet, besigtig 26 April 2004, by http://www.litnet.co.za/seminaar/06arrie.asp

Sawyer, R.K., 2006, Explaining creativity: the science of human innovation, Oxford University Press, Oxford.

Sillitoe, P., 2002, ‘Participant observation to participatory development: Making anthropology work’, in P. Sillitoe, A. Bicker & J. Pottier (eds.), Participating in development: approaches to indigenous knowledge, pp. 1– 23, Routledge, London.

Stassen, N., 2003, ‘Die laaste (Afrikaanse) boek’, in LitNet, besigtig 04 Junie 2003, by http://www.mweb.co.za/litnet/seminaar/kknkstassen.asp

Stoecker, R., 2005, Research methods for community change: A project-based approach, Sage, London.

Thomson, A.M., Perry, J.L., & Miller, T.K., 2007, ‘Conceptualizing and measuring collaboration’ [Konseptualisering en meting van samewerking]’, Journal of Public Administration Research and Theory 19, 23–56. http://dx.doi.org/10.1093/jopart/mum036

Vangen, S. & Huxham, C., 2003, ‘Nurturing collaborative relations: Building trust in interorganizational collaboration [Die koestering van samewerkende verhoudings: Die opbou van vertroue in inter-organisatoriese samewerking]’, Journal of Applied Behavioral Science 39(1), 5–31. http://dx.doi.org/10.1177/ 0021886303039001001

Vorster, H.H., Wissing, M.P., Venter C.S., Kruger H.S., Kruger A., Malan N.T. et al., 2000, ‘The Impact of urbanization on physical, physiological and mental health of Africans in the North West Province of South Africa: The THUSA study [Die impak van verstedeliking op die fisiese, fisiologiese en geestelike gesondheid van Afrikaners in die Noordwes-Provinsie van Suid-Afrika: Die THUSA studie]’, South African Journal of Science 96, 505–514.

Woodland, R. H. & Hutton, M.S., 2012, ‘Evaluating organizational collaborations: Suggested entry points and strategies [Evaluering van organisatoriese samewerking: Voorgestelde inskrywing punte en strategieë]’, American Journal of Evaluation 33(3), 366–383. http://dx.doi.org/10.1177/1098214012440028

Yoon, C.S., 1997, ‘Participatory communication for development’, in International Development Research Centre, viewed 18 November 2004, from http://web.idrc.ca/en/ev-1-201-1-DO_TOPIC.html

Footnotes

1. Die artikel is deurlopend uit die oogpunt van Anneretha Combrink geskryf.

2. Die goue skip wat kon vlieg is ’n variasie op How six travel through the world of The land water ship/The ship that went on sea and land (Aarne-Thompson Tipes 513A and 513B; Grimm Nr. 71 – Sechse kommen durch die ganze Welt). Die verhaal word gekenmerk deur buitengewone reisigers wat spesiale kragte het waarmee hulle sekere take vir die held kan uitvoer (Thompson in Greyling n.d.).

3. Die deelnemende benadering het in die vorige eeu ontwikkel as teenvoeter vir die ‘van bo na onder’-benadering wat vroeër gevolg is, waarin gepoog is om gemeenskappe op ekonomiese gebied te moderniseer. In die meer prosesgedrewe deelnemende benadering word die inisiatief en deelname van ’n gemeenskap self beklemtoon (Roberts 1979).

4. Die finansiële ondersteuning van Nutrition Third World en die NWU word met dank erken. Vir meer inligting besoek: 5. Besluitneming is vir Yoon (1997) een van die belangrikste aspekte van deelname. Dit is ook die ideaal, maar weens praktiese uitvoerbaarheid en die dinamika van die Rysmierbultprojek, was die gemeenskap nie by elke fase en op elke vlak van die projek betrokke nie. Gemeenskapslede het byvoorbeeld nie direk insae gehad in die besluitneming in, beplanning en beheer van die projek nie, hoewel gemeenskapsleiers in dialoog betrek is tydens die beplanningsfase. Die gemeenskap was betrokke by die uitvoering en evaluering van die projek. Tydens die laaste fase, publikasie van die gemeenskapsbundel, het die grootste deel van die gemeenskap se gebrekkige geletterdheid nie toegelaat dat hulle kon deelneem aan die publikasieproses nie. Die proses het die finale redigering, voorbladontwerp, bladuitleg, en voorbereiding van die boek vir publikasie behels, en sou dus vaardighede vereis waaroor die gemeenskap nie beskik nie. Hulle het egter wel voordeel uit die projek (en die gemeenskapsbundel as produk) getrek.

6. Hoewel die gemeenskap hoofsaaklik ongeletterd is, is skriftelike toestemmingsvorms gebruik. Dit is mondelings aan die deelnemers verduidelik en hulle het die geleentheid gehad om hul handtekenings op die vorms te maak.

7. Hiermee word bedoel skryfkuns wat nie voorheen bestaan het nie; met ander woorde nie kultureel oorgelewerde verhale nie, maar nuutskeppings.


Crossref Citations

No related citations found.