Article Information

Author:
Adri Breed1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Adri Breed

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 07 Feb. 2013
Accepted: 27 Aug. 2013
Published: 12 Nov. 2013

How to cite this article:
Breed, A., 2013, ‘Die hedetyd is iets van die verlede: ’n Taalkundige motivering vir die “hedetydskryfkunstradisie” in Afrikaans’, Literator 34(2), Art. #425, 9 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.425

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die hedetyd is iets van die verlede: ’n Taalkundige motivering vir die ‘hedetydskryfkunstradisie’ in Afrikaans
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding en kontekstualisering
   • Semantiese motivering
   • Stilistiese motivering
   • Bespreking van die twee moontlike motiverings
Gevolgtrekking
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstrak

Daar bestaan in die Afrikaanse skryfkuns ’n tradisie om verhaalgebeure by verstek in die hedetyd aan te bied. Dit is egter moeilik om vanuit ’n literatuuroorsig aan te toon dat hierdie tradisie wel bestaan, sowel as om die redes vir die ontstaan en instandhouding van die tradisie te bepaal. In hierdie artikel word daar eerstens vanuit die skryfkunsperspektief aangetoon dat daar wel in Afrikaans die konvensie bestaan om verhaalgebeure in die hedetyd aan te bied. Tweedens word daar vanuit ’n taalkundige perspektief twee moontlike motiverings vir die ontstaan en instandhouding van die tradisie aangebied. Die doel van die artikel is nie om die geldigheid van die hedetydskryfkunstradisie te bevraagteken nie, maar eerder om ’n gesprek te open rakende die geldigheid van die tradisie, sowel as die implikasies wat dit vir die skryf, lees en interpretasie van Afrikaanse literêre werke het.

Abstract

The present is a thing of the past: Possible linguistic motivations for the ‘present tense writing tradition’ in Afrikaans prose. There exists a long-standing tradition in Afrikaans creative writing to present narrative prose in the present tense, and not in the simple past as in English and Dutch. It is, however, difficult to prove the existence of such a tradition or to conduct a literature survey in order to determine the reasons for the origin and perpetuation of this tradition. This article firstly demonstrates from a creative writing perspective that the ‘present tense writing tradition’ does exist in Afrikaans. Secondly, two possible motivations for this tradition are proposed from a linguistic perspective. The goal of this article is not to question the validity of this tradition, but rather to open a discussion on the legitimacy of the tradition, as well as the implication it has for the writing, reading and interpretation of Afrikaans literary works.

Inleiding en kontekstualisering

Skryfriglyne vir skrywers wat in tale soos Engels en Nederlands wil skryf, raai aspirantskrywers aan om hul verhale eerder in die verledetyd1 aan te bied as in die hedetyd (vgl. onder meer Darwin 2008; Blackburne 2009; Kilian 2007; Scholieren.com s.a. 2010). Enkele redes word hiervoor aangevoer.

Volgens Jae (2012) skep die gebruik van eenvoudige verledetyd ’n mate van vertroue tussen die leser en die skrywer:

[P]ast tense’s reflective nature is its great strength. The connotations of past tense are entirely different from present– in present tense the narrator is telling the reader the story as it happens, while in past tense the narrator is retelling the story events to the reader. In past tense, the narrator already knows how the story ends – in present, he does not. Between the two, past tense is the more realistic tense. By this I mean it’s much easier to believe that the character is retelling their story than it is to believe that they’re announcing their story as it happens. [...] Reading novels in past tense, then, feels much more natural ... [D]ie verledetyd se reflektiewe aard is sy groot bate. Die konnotasies van die verledetyd is totaal verskillend van die hedetyd – in die hedetyd is die verteller besig om vir die leser ’n verhaal te vertel soos dit plaasvind, terwyl hy in die verledetyd die storie aan die leser oorvertel. In die verledetyd ken die verteller reeds die einde, in die hedetyd egter nie. Tussen hierdie twee, is die verledetyd die meer realistiese tempus. Hiermee bedoel ek dat dit makliker is om te glo dat die karakter besig is om hul storie oor te vertel, as wat dit is om te glo dat hy besig is om aan te kondig wat aan die gebeur is [...] Om stories in die verledetyd te lees, voel baie meer natuurlik ...] (Outeur se eie vertaling)

Tweedens is die verledetyd skynbaar in Engels die mees natuurlike wyse om ’n reeks insidente weer te gee:

Most stories and novels are in the past tense for good reason. It sounds natural. When you tell a child the story of the tortoise and the hare, or simply report to a friend what happened over the weekend, you use past tense. [Die meeste verhale en romans word om ’n goeie rede in die verledetyd geskryf. Dit klink natuurlik. Wanneer jy vir ’n kind die storie van die skilpad en die haas vertel, of sommer vir ’n vriend vertel wat oor die naweek gebeur het, gebruik jy die verledetyd.] (Keables Guide 2012, [outeur se eie vertaling])

Wanneer die hedetyd in Engels of Nederlands gebruik word om ’n verhaal aan te bied, moet daar ’n baie spesifieke rede voor wees. Een so ’n rede kan wees om aan te dui dat die outeur ‘binne’ die teks is:

Present tense narrative is not original or innovative; it has been tried often. Sometimes it only calls attention to itself and sounds awkward … You may use present tense, but (as with any stylistic technique) you should have a good reason. [Narratief in die hedetyd is nie oorspronklik of innoverend nie; dit klink lomp ... Jy mag die hedetyd gebruik, maar (soos in die geval van enige stilistiese tegniek) jy behoort ’n goeie rede te hê.] (Keables Guide 2012, [outeur se eie vertaling])

Tweedens is dit skynbaar in Engels meer gepas binne bepaalde genres, soos fantasie- of kinderverhale:

Ik gebruik verleden tijd om iets te vertellen dat duidelijk in het verleden is gebeurd (mijn ene roman is een grote terugblik, eigenlijk), en tegenwoordige tijd voor mijn fantasyverhaal (dat kan net zo goed op dit moment gebeuren) en kinderboek (het is te prefereren voor kinderen, geloof ik. Leest makkelijker). [Ek gebruik die verledetyd om iets te vertel wat duidelik in die verlede gebeur het (my eie roman is, om die waarheid te sê, een groot terugblik), en die hedetyd vir my fantasieverhale (dit kan net so wel op hierdie oomblik besig wees om te gebeur) en kinderboeke (dit is wenslik vir kinders, glo ek. Dit lees makliker).] (Meinderts 2007, [outeur se eie vertaling])

Laastens voer Darwin (2008) aan dat die gebruik van die hedetyd kan veroorsaak dat die verhaal ‘stamperig’ klink:

If there is a central problem, (and as the extract from A Secret Alchemy demonstrates, I use it myself and I don’t think it goes without saying that there is a problem) it’s that present tense is by definition unreflective. Because it’s all present, there’s less sense of even the past that happened on the previous page. It’s just tap-tap-tap ... one event after another. [As daar ’n sentrale probleem is, (en soos die aanhaling uit A Secret Alchemy illustreer, gebruik ek dit self en dink ek daar hoef nie verder gemotiveer te word dat daar ’n probleem is nie), is dit dat die hedetyd per definisie niereflekterend is. Dit is altyd teenwoordig, daar is minder gevoel vir die verlede wat selfs op die vorige bladsy plaasgevind het. Dit is net tap-tap-tap ... een gebeurtenis na die ander.] (Outeur se eie vertaling)

Die gebruik van die hedetyd het dus ’n bepaalde effek. Dit kan vir die leser voel of die verhaalgebeure ’n versnelde tempo het en die reflektiewe afstand wat geskep kan word deur die gebruik van die verledetyd, ontbreek in tekste wat in die hedetyd geskryf is.

Ook volgens Brink (1976:93) skep die hedetyd in ’n prosateks ’n gevoel van ’onmiddellike, dramatiese voorstelling’. Derhalwe word die eenvoudige verledetyd (simple past) in tale soos Engels en Nederlands as verstekvorm gebruik om verhaalgebeure op die mees ongemarkeerde (dit is as mees onbeklemtoonde) wyse weer te gee.

Wanneer egter na Afrikaanse skryfriglyne gekyk word, lyk dit asof skrywers wat in Afrikaans wil skryf júis anders aangeraai word – Afrikaanse skrywers moet eerder hul verhalende tekste in die hedetyd skryf. Bekende en ervare Afrikaanse skrywers soos Chanette Paul, Deon Meyer en Martie Preller gee aspirantskrywers byvoorbeeld die volgende raad:

Hy moet verstaan daar is in Afrikaans probleme rondom die gebruik van die verlede tyd. In teenstelling met ons Engelse eweknieë het ons geen ander keuse as om hoofsaaklik teenwoordige tyd te gebruik nie, en dit het ’n magdom implikasies waarvan die skrywer bewus moet wees of gemaak moet word. (Paul 2010)

Afrikaans is ’n moeilike taal as jy ’n storie in die verlede tyd wil skryf. Die het ge-verbuiging is dikwels lomp. Daarom vind die meeste fiksie in die huidige tyd plaas. (Meyer 2010)

Skryf in die teenwoordige tyd – wat NOU gebeur – moenie verlede tyd gebruik nie – lomp verlede tyd in Afrikaans – met al die het gedit en het gedat. (Preller 2000)

Ook op die winterskool van die Eenheid van Kreatiewe Skryfkuns van die Universiteit Pretoria leer die skryfskoolgangers om hul verhale in die hedetyd te skryf. ‘Ek het geleer dat ek in die hede moet skryf. Daar is te veel “ge’s” in Afrikaans as mens in die verlede tyd skryf’ (Van Dyk 2011).

Skoliere wat prosatekste wil inskryf vir die Afrikaans Ekspo vir leerders (2012) word op die inskrywingsbladsy van dié kompetisie gemaan om nie hul verhale in die verledetyd te skryf nie: ‘Moet NIE in die verledetydsvorm skryf nie; eerder in die hede.’ (Afrikaans Ekspo vir leerders 2012)

Resensente van Afrikaanse letterkunde is ook sensitief vir die gebruik van verledetyd in moderne prosa en lewer kritiek in hierdie verband:

Die laaste element wat die boek minder bevredigend maak, is die gebruik van huidige en verlede tyd. In Afrikaans gebruik ons die teenwoordige tyd – die historiese presens – om stories te vertel … die skrywer wat verledetyd gebruik het, moes ’n damn goeie rede gehad het … Die verledetyd […] laat dit soos ’n memoir voel. (Visser 2012)

Op basis van ’n hele klomp skryfriglyne wat vir Afrikaanse skrywers beskikbaar is, kan daar afgelei word dat daar ’n bestaande tradisie in die Afrikaanse skryfkuns is om verhale by verstek in die hedetyd aan te bied. Daar is myns insiens ’n duidelike en doelbewuste riglyn vir of aanmoediging van Afrikaanse skrywers om die gebruik van die verledetyd te vermy.

Om hierdie stelling op basis van ’n literatuurondersoek te staaf is egter moeilik. Dit lyk nie asof die saak juis deur letterkundiges bespreek word nie. Behalwe vir enkele debatte wat in die jare sestig deur taal- en letterkundiges (onder meer Rob Antonissen, N.P. van Wyk Louw, Meyer de Villiers en André P. Brink) gevoer is rakende die werkwoordelike stelsel wat tot Afrikaanse prosaskrywers se beskikking is (Wybenga 1983:1–3), is hierdie verskynsel nog nie behoorlik of voldoende vanuit ’n letterkundige (óf taalkundige) perspektief bespreek nie. Die motivering vir die ontstaan van die tradisie is onduidelik en verdere ondersoek sou ook nodig wees om te bepaal in watter mate die aanmoediging om in die hedetyd te skryf op die ou einde vergestalting vind in die gepubliseerde Afrikaanse letterkunde. Daar is immers wel bekende Afrikaanse literêre verhale wat wél in die verledetyd geskryf is (vgl. bv. die romans van Brink 1979; Matthee 1985; Strachan 1990, 1994, 1997; Barnard 1992; Sleigh 2002; asook Du Plessis 2010). Sou hierdie skryfriglyn dan slegs geld vir onervare skrywers? Of sou die tradisie genre-spesifiek wees en byvoorbeeld eerder geld vir skrywers wat byvoorbeeld Afrikaanse spannings-, liefdes- en kinderverhale skryf?

Die doel van hierdie artikel is nie om die geldigheid van die tradisie te bevraagteken, óf om te bepaal of gepubliseerde Afrikaanse verhale hoofsaaklik in die hede- of verledetyd geskryf is nie. Die fokus daarvan is eerder om ’n moontlike motivering vir die ontstaan van hierdie skryfkunstradisie te ondersoek. Twee moontlike ontstaanmotiverings sal vanuit ’n taalkundige perspektief aangebied en kortliks bespreek word. Die hoop is wel dat hierdie artikel as stimulus sal dien vir ’n gesprek oor die geldigheid van die tradisie, sowel as die implikasies wat dit vir die skryf, lees en interpretasie van Afrikaanse letterkunde het. Verdere navorsing sou moontlik wees om op empiriese wyse vas te stel wat die effek van dié skryfkunstradisie op die Afrikaanse letterkunde is.

Semantiese motivering
Die ontstaan van die genoemde skryftradisie het waarskynlik eerstens te make met die aard van die Afrikaanse werkwoordelike sisteem. Die verledetyd van Afrikaans verskil van dié van Nederlands2 en Engels. Hierdie waarneming het al gelei tot verskeie stellings rakende die ‘lastige werkwoordkategorieë in Afrikaans’ (De Villiers 1962:59). Wybenga (1983:1–9) toon aan dat dié kwessie – dit is die wyse waarop tyd in die Afrikaanse letterkunde behoort uitgedruk te word – al jare gelede deur taal- en letterkundiges soos Mansvelt (1884), Du Toit (1940), De Villiers (1962), Antonissen (1966) en Brink (1976) bespreek is.

Volgens hom (Wybenga 1983) het Eugène Marais reeds in die twintigerjare hierdie ‘probleem’ van die Afrikaanse verledetydskonstruksie geopper, naamlik dat Afrikaans nie ’n onvolmaakte verledetyd het nie en dat sekere betekenisse nie daarsonder uitgedruk kan word nie:

Daar is nuanses van betekenis in die taal wat alleen deur die verborge vorm weergegee kan word; daar is nuanses wat mens in Afrikaans nooit sonder die onvolmaakte verledetyd kan weergee nie. (Marais, soos aangehaal deur Du Toit [1940] in Wybenga [1983:1])

Die wyse waarop tydsuitdrukking in die Afrikaanse letterkunde gebruik word, is ’n aanduiding dat die skrywers nie bewus is van die wyses waarop tyd in Afrikaans uitgedruk behoort te word nie, is die gevolgtrekking van De Villiers (1962):

Sonder twyfel is die kwessie van die werkwoordkategorieë in Afrikaans lastig … ons skrywers is nog te min bewus van die Afrikaanse werkwoordelike stelsel en meen dat Afrikaans in teenstelling met Engels en ander tale geen ‘grammatika’ het nie; die skrywers tas in die donker omdat hulle behoefte het aan ’n geskrewe, gereglementeerde taalgebruik; die toestand is in Afrikaans nog vloeibaar en daar is geen werklike sisteem nie. (bl. 59)

André P. Brink (1976) gee aandag aan die gebruik van die hedetyd in die Afrikaanse skryfkuns:

Ek wil nie deelneem aan die argumente van kritici nie; as skrywer kan ek alleen sê dat hierdie tydsprobleem in Afrikaans vir my inderdaad van deurslaggewende belang lyk. G’n roman van 300 bladsye kan volgestop word met sinne wat elk ’n ’het ge-’ bevat nie; daarom is die alternatief gewoonlik gebruik – die historiese gebruik van die preasens. (bl. 93)

Bykans al die stellings gemaak in bogenoemde aanhalings is myns insiens aanvegbaar en bevat veralgemenings rakende die wyse waarop Afrikaans tyd uitdruk of behoort uit te druk. Wat die presiese ‘probleem’ met die Afrikaanse werkwoordsisteem is, is eweneens onduidelik uit ’n literatuurstudie. Om behoorlik te verstaan waaroor die saak gaan, is dit nodig om dit vanuit ’n taalkundige perspektief te verduidelik. In wese gaan dit oor die aspektuele meerduidigheid van die Afrikaanse werkwoordelike sisteem. Dit is juis op hierdie vlak wat die Afrikaanse verledetyd verskil van die Engelse of Nederlandse verledetydsvorme. Daar is vermoedelik nog nie ’n goeie begrip onder Afrikaanssprekendes vir die verskil tussen die temporele begrippe ‘tempus’ en ‘aspek’ nie. Ek is dit met De Villiers (1962) eens dat: ‘skrywers nog te min bewus [is] van die Afrikaanse werkwoordelike stelsel.’ Ek gaan dus in hierdie gedeelte poog om die grammatikale kwessie van die Afrikaanse werkwoordelike stelsel sistematies aan te pak en aan te toon dat die wyse waarop ons die werkwoordsvorm verstaan ’n moontlike eerste rede kan wees vir die aanmoediging om eerder Afrikaanse prosatekste in die hedetyd te skryf.

Vergelyk die volgende sinne:

1. Engels: The dog drank the water.
    Nederlands: De hond dronk het water. (Eenvoudige verledetyd)
    Engels: The dog was drinking the water.
    Nederlands: De hond was het water aan het3 drinken (Progressiewe verledetyd)
2. Engels: The dog has drunk the water.
    Nederlands: De hond heeft het water gedronken. (Voltooide tyd)

Dit is duidelik dat die Engels- en Nederlandssprekende van verskillende vormlike konstruksies gebruik maak om die onderskeie verledetydsbetekenisse uit te druk. Die verskillende konstruksies druk telkens ’n ander aspektuele onderskeid uit. Sinne (1) dui aan dat die hond die totale aksie van drink uitgevoer het. Sinne (2) dui aan dat die hond op ’n gegewe oomblik in die verlede besig was om water te drink. Sinne (3) dui aan dat die hond op ’n tydstip in die verlede die water gedrink het en dat hierdie situasie nog vir die oomblik in die hede relevant is.

Die Engelse en Nederlandse spreker is beperk ten opsigte van watter konstruksies gebruik kan word om sekere aspektuele betekenis uit te druk. Só sal die perfektumkonstruksie (dit is have/hebben-konstruksie) in Engels en Nederlands ’n anteriorbetekenis4 hê en kan dit nie gebruik word om byvoorbeeld perfektiewe verledetyd, onbepaalde verledetyd of progressiewe betekenis uit te druk nie, vergelyk (4) en (5):

4. Engels: *The dog has drunk the water and the cat drank the milk.5
    Nederlands: *De hond heeft het water gedronken en de kat dronk de melk.
5. Engels: *The dog was drinking the water while I had mopped the floor.
    Nederlands: *De hond was het water aan het drinken,terwijl ik de vloer had gedweild.

In Afrikaans word hierdie verskillende aspektuele betekenisse egter nie noodsaaklik op ’n eksplisiete of verpligte wyse aangedui nie. Die bogenoemde sinne, (1) tot (3), kan byvoorbeeld almal na Afrikaans vertaal word as:

6. Die hond het die water gedrink.

Hoewel die vertaling van die sinne vormlik identies is, kan dit heel gemaklik geïnterpreteer word met onderskeidelik perfektiewe of onbepaalde verledetydsbetekenis, vergelyk (7), progressiewe verledetydsbetekenis, vergelyk (8) en anteriorbetekenis, vergelyk (9):

7. Die hond het die water gedrink en die kat het die melk gedrink.
8. Die hond het die water gedrink terwyl ek die vloer gewas het.
9. Die hond het die water gedrink, so hy is nie meer dors nie.

Afrikaans het nie ’n geïnflekteerde werkwoordsvorm om die perfektiewe of imperfektiewe verledetyd te spesifiseer nie en daarom kan dieselfde het ge-vorm gebruik word wat ook die anteriorbetekenis uitdruk. Waar Engels en Nederlands dus ten minste drie vormlike konstruksies het (dit is die eenvoudige verledetyd, die onvoltooide verledetyd en die voltooidetyd) om aspektuele onderskeid te tref, is dit moontlik om in Afrikaans slegs één formele verledetydsvorm te gebruik wat verskeie aspektuele betekenisse kan uitdruk, naamlik die het ge-konstruksie.

Uit ’n literatuuroorsig oor aspektuele uitdrukking in Afrikaans is dit duidelik dat daar tot op hede nog nie ’n goeie verduideliking of uiteensetting gebied is van die wyse waarop Afrikaans aspektuele betekenis uitdruk nie. Hierdie leemte lei tot die ontstaan van bepaalde persepsies rakende die grammatika van Afrikaans. Stellings soos ‘vereenvoudig’, ‘lastig’, ‘onvoldoende’ en ‘grammatikaloos’ is al gebruik om die werkwoordelike stelsel van Afrikaans te beskryf (vgl. Scholtz 1940; Broos 1964:3; De Villiers 1951, 1962, 1968; Van der Merwe 1958:281; Visser 1968; Labuschagne 1968; Potgieter 1982:189; Wybenga 1983; Louw 1987; Van Niekerk 1997).

Ten einde die begrip aspek te verstaan, is dit vir ’n Afrikaanssprekende nodig om te begryp hoe dit verskil van die begrip tempus. Vergelyk derhalwe die volgende drie sinne:

10. Die hond het die water gedrink.
11. Die hond drink die water.
12. Die hond sal die water drink.

Die verskil tussen die drie bogenoemde gebeurtenisse is geleë in die tyd waarop die situasie ‘die hond wat die water drink’ plaasvind. Meer spesifiek, die verhouding tussen (a) die tyd waarop die situasie van die hond wat die water drink, plaasvind; en (b) die oomblik wat daar van die situasie melding gemaak word, verskil telkens: Die situasie wat deur (10) uitgedruk word, vind plaas vóór die oomblik wat daar oor die situasie gepraat word. In (11) vind die situasie plaas op dieselfde oomblik as wanneer daarna verwys word en die situasie wat deur (12) uitgedruk word, vind plaas ná die oomblik wat daarvan melding g emaak word.

Die situasie waaroor daar gepraat word, staan in ’n bepaalde verhouding tot die spreektyd, deurdat dit vóór, gelyktydig, mét of ná die spreektyd plaasvind. Dit gaan derhalwe hoofsaaklik oor ’n deiktiese onderskeid en hierdie deiktiese onderskeid staan bekend as die tempus van die temporele uitdrukking (Comrie 1976:1).

Binne die algemene temporele konstruksie staan tempus en aspek in ’n hegte verhouding tot mekaar, aangesien albei grammatikale kategorieë is wat gebruik word om ’n situasie in verhouding met tyd te stel. Volgens Comrie (1985) word tempus en aspek eerstens gebruik om ’n situasie êrens op ’n tydlyn te plaas en tweedens om ’n interne temporele kontoer van ’n situasie te skep:

One is to locate the situation somewhere on the time line, necessarily in relation to some other specified point or segment of the line, since in one sense all time locations are relative, there being no absolutely specified points. This concept of time location is essential to the linguistic category of tense ... [Mens behoort die situasie êrens op die tydlyn te posisioneer, noodwendig in verhouding tot ’n ander gespesifiseerde punt of segmente van die lyn. Alle tydruimtes is immers op ’n manier relatief, aangesien daar nie absolute gespesifiseerde punte is nie. Hierdie konsep van tyd is essensieel tot die linguistiese kategorie van tempus.] (bl. 6, [outeur se eie vertaling])

… The second possibility of relating situations to the time line is that one might be interested in discussing the internal temporal contour of a situation, for instance in discussing whether it is to be represented as a point on the time line, or a stretch of the time line. [... Die tweede moontlikheid om situasies met ’n tydlyn in verband te bring, is deur die interne temporele kontoer van die situasie te bespreek. ’n Mens kan byvoorbeeld aandui of ’n situasie as ’n punt, of as ’n strekking op die tydlyn behoort beskou te word.] (bl. 6, [outeur se eie vertaling])

Die tweede aanhaling het betrekking op aspek. Die voorbeelde wat Comrie (1985:6) gee, dui die verskil tussen tempus en aspek aan. Voorbeelde (13) en (14) gaan duidelik oor deiktiese onderskeid, terwyl (15) en (16) oor ’n aspektuele onderskeid gaan:

13. Engels: John was singing.
14. Engels: John is singing.
15. Engels: John was singing.
16. Engels: John sang.

Aspektuele konstruksies6 bied, anders as tempus, niedeiktiese temporele inligting aan. Voorbeelde hiervan is die duur, frekwensie, oogpunt en inligting rakende interne temporele struktuur van die situasie. Sowel (13) as (14) druk aspektuele betekenis uit (spesifiek progressiefaspektuele betekenis), maar daar bestaan ’n temporeeldeiktiese verskil tussen die sinne. Die situasie van (13) vind plaas vóór die oomblik wat die sin geuiter word, terwyl (14) gelyktydig plaasvind met die spreektyd. Beide (15) en (16) vind plaas vóór die oomblik wat die sinne geuiter is (deikties dus beide in die verledetyd), maar, soos aangetoon sal word, verskil hierdie twee sinne se aspektuele betekenis.

Aspek het, soos genoem, te make met die oogpunt waaruit die spreker die situasie beskou. Dit is veral die wyse waarop hierdie aspektuele betekenis in Afrikaans uitgedruk word (of dan nié uitgedruk word nie), wat relevant is vir die bespreking van die persepsies rakende die verledetyd van Afrikaans. Sinne (1) tot (3) is voorbeelde van konstruksies wat aspektuele betekenis uitdruk. Die drie terme, te wete oogpuntaspek, aspektuele oogpunt en grammatikale aspek kan as sinonieme beskou word. ’n Situasie kan uit twee perspektiewe beskou word. Eerstens kan dit as ’n geheel beskou word, met die grense van die situasie ingesluit by die beskouing. Hierdie beskouing word omskryf as die perfektiewe aspek. Tweedens kan ’n situasie beskou word met ’n fokus op die interne temporele struktuur van die situasie. Hierdie oogpunt staan bekend as imperfektiewe aspek. Die grense van die situasie word uitgesluit by ’n imperfektiewe oogpunt. Dik (1997:222) som die verskil tussen die perfektiewe en imperfektiewe betekenis in Tabel 1 op.

TABEL 1: Verskil tussen perfektiewe en imperfektiewe oogpunte.

Die volgende sinne illustreer die verskil tussen die perfektiewe en imperfektiewe oogpunt7:

17. Engels: Q: What were you doing while the others were working?
     A: I was eating.
18. Engels: Q: What did you do two hours ago?
     A: I ate an apple.
19. Engels: Q: Are you hungry?
     A: I have already eaten.

Wanneer (17) tot (19) met mekaar vergelyk word, is dit duidelik dat dit nie hier gaan oor die verskil tussen die situasietipes nie, aangesien al die bogenoemde voorbeelde die situasie ‘om te eet’ aandui. Die verskillende konstruksies dui eerstens op die verskil in die interne temporele struktuur van die situasies en tweedens op die oogpunt waaruit die situasie beskou word. In (17) word gefokus op die progressie van die situasie, oftewel die verskillende fases van ‘om besig te wees om te eet’. Die betekenis wat in hierdie konstruksie uitgedruk word, is imperfektiewe betekenis. In (18) is die fokus op die totale proses van ‘om ’n appel te eet’. Die betekenis hier is perfektief.

Vanweë heelwat misverstande wat kan ontstaan uit die vormlike ooreenkoms tussen dié twee terme, asook vanweë die relevansie van hierdie onderskeid vir die bespreking van die skryfkunstradisie in Afrikaans, is dit noodsaaklik om aan te toon wat die verskil tussen die perfektiewe (perfective) en die perfektum (perfect) aspektuele betekenis is. As gevolg van die verwarrende ooreenkoms, gebruik navorsers soos Bybee (2003) eerder die term anterior om te verwys na perfektum aspektuele betekenis. Die anterior kan gedefinieer word as ‘the continuing relevance of a previous situation’ (Comrie 1976:56) [die voortgesette relevansie van ’n vorige situasie] en sin (19) is ’n voorbeeld van hierdie aspektuele onderskeid. Die fokus van die sin is eerder op die gevolge van die eetproses. Aangesien die spreker reeds geëet het en tans versadig is, word anteriorbetekenis hier uitgedruk. In die meeste beskouings word die anterior as ’n aspektuele kategorie gesien, hoewel dit tog ’n bietjie anders gehanteer behoort te word. Die anterior druk, anders as die perfektief en imperfektief, die verhouding tussen meerdere tydspunte aan. Enersyds druk dit die tyd uit waarop ’n situasie in die verlede plaasgevind het en andersyds druk dit die tyd uit van die toestand wat voortvloei uit die situasie in die verlede (Comrie 1976:52–56).

Vir ’n Afrikaanssprekende is dit soms moeilik om hierdie aspektuele betekenisse (spesifiek die anterior en perfektiewe betekenisse) te onderskei en daar kan moontlik afgelei word dat Afrikaans geen verledetydsgrammatika het nie (vgl. De Villiers 1962:59). Die gevolgtrekking word dan moontlik deur skrywers gemaak dat Afrikaans nie dieselfde moontlikhede as tale soos Engels en Nederlands het om verhale in die verledetyd aan te bied nie. Skrywers kan miskien ook voel dat die nie-aspektuele aard van die Afrikaanse werkwoordsisteem semanties verarmend is, en om dié rede word verhale eerder in die hedetyd skryf. Die vermoede dat hierdie afleiding ’n eerste moontlike motivering is vir die ontstaan van die hedetydskryfkunstradisie, word gestaaf deur die genoemde stelling van Eugène Marais: ‘Daar is nuanses wat mens in Afrikaans nooit sonder die onvolmaakte verledetyd kan weergee nie.’

Stilistiese motivering
Hoewel dit blykbaar nie juis in Afrikaanse akademiese literatuur of skryfkunsriglyne eksplisiet so gestel word nie, blyk dit dat ’n tweede moontlike motivering vir die hedetydskryfkunstradisie kan wees dat aanvaar word dat die gebruik van die verledetyd in die Afrikaanse letterkunde bepaalde stilistiese implikasies het. Vergelyk byvoorbeeld die volgende stelling rakende die wyse waarop tekste uit Nederlands na Afrikaans vertaal word:

Aansluitend hierby is daar die kwessie van die verlede tyd in Afrikaans, waar die konstruksie met ‘het’ + ‘ge-’ + werkwoord minder vlot klink as die verbuiging van die werkwoord in die Nederlandse taal. Een oplossing is natuurlik om die verlede tyd eenvoudig na die teenwoordige tyd om te skakel, maar dan loop die vertaler gevaar om die oorspronklike bedoeling van die digter te saboteer. (Bezuidenhout 2012)

Gebaseer op die kommentaar van skrywers soos Eugène Marais in Du Toit (1940), André P. Brink (1976), Martie Preller (2000), Chanette Paul (2010), asook Deon Meyer (2010), word die volgende afgelei wat te make het met die stilistiese motivering vir die gebruik van die hedetyd in Afrikaans:

Eerstens lyk dit byvoorbeeld asof sommige skrywers van mening is dat die gebruik van die verledetyd in Afrikaanse verhalende tekste lei tot ’n ongenuanseerde beskrywing van gebeure wat in die verlede afspeel. Aangesien die het ge-konstruksie verskeie aspektuele betekenisse het, vereenvoudig dit die gebeure wat in die verledetyd afspeel tot ’n blote deikties temporele onderskeid. In teenstelling met byvoorbeeld die Engelse verledetye, word daar nie deur die het ge-konstruksie verder gespesifiseer of ’n verledetydsituasie byvoorbeeld onvoltooid of voltooid is nie. Die moontlike betekenisse wat in ander tale deur verskillende verledetydskonstruksies uitgedruk kan word, word in Afrikaans ‘verplat of vereenvoudig’ om gewoon aan te dui dat ’n situasie êrens in die verlede plaasgevind het. Aspektuele betekenis moet op alternatiewe wyses geïmpliseer word, en kan nie uit die werkwoord self afgelei word nie. Dit is dus nie moontlik om verledetydsverhale ewe bondig in Afrikaans aan te bied as in Engels of Nederlands nie.

Tweedens kan die herhalende gebruik van die het ge-konstruksie dikwels lomp en onafgerond voorkom. Dit kan die lees van ’n teks belemmer. Wanneer ’n Afrikaanse prosateks in die hedetyd geskryf is, word slegs die stam van die werkwoord gebruik en is daar geen opvallende woordherhaling nie. Wanneer die teks egter in die verledetyd geskryf word, word die hulpwerkwoord het normaalweg in ’n groot hoeveelheid sinne gebruik en hierdie woordherhaling kan steurend wees.

Derdens, wanneer die verledetyd wél gebruik word om ’n verhalende gebeurtenis uit te druk, het dit ’n bepaalde betekeniseffek op die leser. Aangesien die het ge-verledetydskonstruksie, anders as die ewekniekonstruksie in Nederlands of Engels, nie spesifiseer of ’n situasie in die verlede (a) afgehandel; (b) afgehandel, maar steeds relevant vir die verteltyd, of (c) aan die gang is nie, kan die leser die verhaal dan interpreteer hetsy as byvoorbeeld progressief, ver terug in die verlede, pas afgeloop of selfs as ’n herinnering. Dit is waarskynlik om hierdie rede dat Visser (2012) die vertelling in die geresenseerde roman as ’n ‘memoir’ ervaar het.

Bespreking van die twee moontlike motiverings
Soos reeds verduidelik, is dit nie die bedoeling van hierdie artikel om die Afrikaanse hedetydskryfkunstradisie te bevraagteken nie, maar wel om ’n gesprek aan die gang te sit wat die moontlike redes vir die ontstaan en instandhouding van die tradisie bespreek.

Indien die gestelde hipotese dat die meerduidigheid van die Afrikaanse verledetydsvorm ’n motivering is vir die ontstaan van die hedetydskryfkunstradisie waar is, kan die vraag gevra word of die het ge-konstruksie die enigste wyse is waarop gebeure in die verledetyd uitgedruk kan word. In Engels en Nederlands word aspektuele betekenisse by verstek gespesifiseer deur verskillende verledetydsvorme, vergelyk weer voorbeeldsinne (1) tot (3). In Afrikaans word die aspektuele betekenis nie gespesifiseer deur die het ge-verledetyd nie, maar is dit egter so dat die verledetyd in Afrikaanse áltyd aspektueel meerduidig sal wees?

Die het ge-konstruksie kan gebruik word in kontekste waar die situasie as voltooid of onvoltooid beskou word. Hoewel dit in die meeste kontekste dus grammatikaal korrek is om die (meerduidige) het ge-verledetyd te gebruik, het die Afrikaanssprekende wel dikwels die behoefte om aspektuele betekenis te spesifiseer. Wanneer ’n spreker dan byvoorbeeld wil aandui dat ’n bepaalde situasie aan die gang was op ’n bepaalde tydstip in die verlede, kan die spreker verskillende strategieë gebruik om seker te maak dat die sin nie aspektueelmeerduidige betekenis het nie. Daar is prototipies vyf strategieë wat gebruik kan word om niemeerduidige aspektuele betekenis te skep: deur (a) leksikale konstruksies (byvoorbeeld bywoorde en voegwoorde); (b) affiksering van konstruksies; (c) reduplikasie van konstruksies, (d) passifisering van konstruksies en v) perifrastiese konstruksies. Neem die volgende sinne as voorbeeld:

20. James sluit hom in ‘n toilet toe en rook klaar.8
21. Die helikopter was klaar in die lug op soek.
22. Ek het klaar alles opgehang wat ek wou ophang.
23. Terwyl ek so verby die kamperendes loop, let ek op dat ‘n hele paar van hulle besig is om op amper klandestiene wyse in foeliebakke vuur te maak om ‘n vleisie te braai.
24. Net die baddery saans is bietjie uitputtend.
25. So bly, dat ek saam met die honde al blaffende straat toe gehardloop het om hulle te gaan verwelkom.
26. Maar as jy met Arno van Oude Werf wil trou, meisiekindjie, sal jy nie rustig kan stap-stap soos die ander van jou jare nie. Dit sal spring-spring moet gaan as jy hóm wil inhaal …
27. Sy swyg weer, luister snuiwend na die water wat drup-drup van die dakrand af op die sement voor die houtdeur val.
28. Die sade word gedroog en heel of fyngemaal in kerries gebruik.
29. In krieketkringe word gefluister dat Kirsten wel nog ‘n rol in die afrigting van jong, belowende kolwers kan speel.
30. Ek moet my grond vervang; ek moet aanhou boer.
31. Toe Poppie tyding kry dat Oupa begin yl, begin sy regmaak.

Voorbeeldsinne (20) tot (22) is konstruksies waar die leksikale betekenis (dit is die oorspronklike, letterlike betekenis van woorde) van die bywoord klaar gebruik word om aspektuele betekenis uit te druk. Hoewel klaar in al drie die eerste sinne gebruik word, druk hierdie woord telkens ’n ander aspektuele betekenis uit. In (20) gebruik die spreker klaar om aan te dui dat James die aksie voltooi of afhandel. Dit gaan dus hier oor ’n eindigende (cessative) aspektuele betekenis. In (21) word klaar gebruik om aan te dui dat ’n bepaalde handeling reeds aan die gang is, dus progressiewe aspektuele betekenis. In (22) gebruik die spreker klaar om aan te dui dat die aksie reeds afgehandel is, en dit gaan dus hier oor anteriorbetekenis. Voegwoorde soos terwyl kan ook gebruik word om aan te dui dat ’n handeling progressief is, vergelyk voorbeeld (23).

Sinne (24) en (25) is voorbeelde van geaffikseerde konstruksies met aspektuele betekenis. Die -ery in (24) impliseer dat die aksie van bad herhaaldelik uitgevoer word, dus word iteratiewe betekenis uitgedruk. Die -end(e) in (25) en (27) is ’n teenwoordige deelwoord-suffiks (participium presens) en dui aan dat die honde op ’n bepaalde tydstip besig was om te blaf, dus word progressiewe betekenis uitgedruk.

Sinne (26) en (27) is voorbeelde van reduplikasiekonstruksies. Op ’n kreatiewe wyse gebruik die spreker in (26) ’n reduplikasie van stap in kombinasie met die bywoord rustig om ’n kontinuatiewe interpretasie te skep. In dieselfde sin word spring in ’n reduplikasiekonstruksie gebruik wat die ontvanger die idee gee dat die reduplisering van hierdie tweede werkwoord oor die intensiteit van die aksie gaan, eerder as oor die duur van die aksie. In (27) gebruik die spreker ’n reduplikasiekonstruksie (drup-drup) om aan te dui dat die aksie wat van korte duur is, herhaaldelik plaasvind, weer eens dus ’n voorbeeld van iteratiewe betekenis.

In (28) dui die word aan dat die aksie van ‘sade maal’ ’n herhaaldelike aksie is wat elke keer weer uitgevoer word wanneer speserye gemaak word. In (29) dui die word aan dat die bespiegelinge rakende Kirsten tans aan die gang is. In (28) en (29) word die sinne in die passiewe vorm aangebied om onderskeidelik frekwentatiewe aspek en progressiewe aspek uit te druk.

Sinne (30) en (31) kan as voorbeelde gesien word van perifrastiese aspektuele konstruksies. ’n Perifrastiese konstruksie kan hier beskryf word as ’n grammatikale kategorie wat betekenis uitdruk deur vry, losstaande morfeme. Dit verskil egter van leksikale konstruksies, aangesien die items in perifrase reeds begin afstand doen9 het van sy oorspronklike, letterlike betekenis en grammatikale betekenis bygekry het. In (30) word aanhou gebruik om aan te dui dat ’n bepaalde aksie voortgesit word en dit dus kontinuatiewe aspek uitdruk. Aanhou het die oorspronklike leksikale betekenis van ‘vashou’ of ‘aanraak’ en het vanaf ’n leksikale konstruksie gegrammatikaliseer tot ’n perifrastiese konstruksie wat kontinuatiewe aspek uitdruk. In (31) word die werkwoord begin gebruik om aan te dui dat die aksie ‘Oupa wat yl’ ’n aanvang neem. Die werkwoord begin word hier op ’n perifrastiese wyse gebruik om inchoatiewe aspek aan te dui. In (23) is is besig om ’n perifrase wat progressiewe betekenis uitdruk.

Een van die stilistiese redes wat aangedui is vir die moontlike ontstaan van die hedetydskryfkunstradisie, is dat die herhalende gebruik van het ge- lomp en omslagtig kan voorkom wanneer ’n verhaal in die verledetyd aangebied word. Hierdie stelling of afleiding impliseer dat die het ge-konstruksie die enigste wyse is waarop die verledetyd aangedui kan word. Dit is egter moontlik om ’n situasie op meer wyses as slegs met het ge- in die verledetyd voor te stel. Vergelyk die volgende drie sinne:

32. Jannie het die tamaties geëet.
33. Jannie was besig om die tamaties te eet.
34. Toe ek inkom, sit Jannie die tamaties en eet.

In (32) word die situasie in die het ge-verledetyd aangebied en hierdie sin is aspektueel meerduidig. In (33) word hierdie selfde situasie egter voorgestel as aan die gang (progressief) en die verledetydsvorm van die koppelwerkwoord was word gebruik om die verledetydstempus van die situasie te spesifiseer. Hier word dus van die besig was om-perifrase gebruik gemaak om die verledetydshandeling uit te druk. Dit is boonop onmoontlik om hierdie aspektueel gespesifiseerde verledetydsbetekenis met het ge- te vorm. In die laaste voorbeeldsin, sin (34), word die historiese presens gebruik om aan te dui dat die situasie in die verlede plaasgevind het. Die voegwoord toe lei die sin in en dui aan dat die situasie in die verlede plaasgevind het. Die progressiewe sit en-perifrastiese konstruksie word in die bysin in ’n hedetydsvorm aangebied, maar steeds interpreteer die leser die sin as verledetyd. Buiten die feit dat daar meer as slegs die het ge-konstruksie is wat gebruik kan word om situasies in die verledetyd aan te bied, kan die opvallende herhaling van die het ge- in verledetydsgebeure derhalwe ‘verbloem’ word deur gebruik te maak van die alternatiewe konstruksies wat genoem is om aspektuele betekenis te spesifiseer.

Laastens is dit belangrik om te besef dat die hedetyd in Afrikaans ook aspektueel meerduidig is en bepaalde semantiese en stilistiese implikasies het. In Afrikaans word ’n ongemerkte konstruksie gebruik om gebeure in die hede aan te dui. ’n Voorbeeldsin soos (35) kan, sonder dat die konteks hier bygegee word, op twee maniere geïnterpreteer word. Eerstens kan dit geïnterpreteer word as ’n progressiewe gebeurtenis, dus letterlik dat Jannie op hierdie oomblik besig is om tamaties te eet. Dit kan egter ook geïnterpreteer word as ’n generiese stelling, dus dat Jannie van tamaties hou en in die algemeen geneë is om tamaties te eet:

35. Jannie eet tamaties.

Ten spyte daarvan dat die Afrikaanse hedetyd meerduidig is met betrekking tot progressiewe of generiese aspektuele betekenis, is die hedetyd in wese semanties beperk tot imperfektiewe betekenis. Beide progressiewe en generiese betekenisse kan as imperfektiewe betekenisse gekategoriseer word, aangesien albei aspektuele betekenisse fokus op die situasie as ongebonde en onvoltooid (vgl. Bybee, Perkins & Pagliuca 1994:147; Breed 2012:49–57). In die hedetyd vind die situasie plaas op dieselfde oomblik as wanneer daarna verwys word (in hierdie voorbeeld ‘om tamaties te eet’). Aangesien daar maar slegs een hedetydskonstruksie in Afrikaans is, en dit die ongemerkte hedetydskonstruksie is, is dit onmoontlik om ooit na enige hedetydsituasie te verwys as byvoorbeeld ’n voltooide handeling. In Engels is dit moontlik om ’n hedetydsanterior (present perfect), byvoorbeeld (36), teenoor ’n voltooide verledetydsanterior (past perfect), byvoorbeeld (37), te stel en so ’n voltooide be tekenis in die hede uit te druk:

36. Engels: John has eaten the tomatoes. (Hedetydsanterior)
     Jannie het die tamaties geëet.
37. Engels: John had eaten the tomatoes. (Verledetydsanterior)
     Jannie het die tamaties geëet.

In Afrikaans moet die het ge-konstruksie gebruik word om hierdie betekenisse uit te druk en die ongemerkte hedetydskonstruksie sal altyd ’n imperfektiewe (spesifiek ’n onvoltooide of generiese) betekenis hê. Verhale wat slegs in die hedetyd aangebied word, kan derhalwe slegs vanuit ’n imperfektiewe (meestal dan as ’n progressiewe) perspektief aangebied word.

Soos in die inleiding aangetoon is, is die hoofrede waarom skrywers van Engelse prosa hoofsaaklik van verledetydskonstruksies gebruik maak om verhaalgebeure aan te bied, die feit dat dit vertroue tussen die leser en die skrywer vestig. Wanneer die skrywer die verhaalgebeure in die verledetyd aanbied, gee die skrywer te kenne dat hy kennis dra van die gebeure. Wanneer van ’n imperfektiewe hedetyd gebruik gemaak word, ‘ontdek’ die skrywer die verhaal saam met die leser, aangesien die skrywer dan dieselfde perspektief (’n durende en progressiewe oogpunt) op die verhaalgebeure as die leser het. Hoewel daar wel bepaalde semantiese en stilistiese implikasies vir die gebruik van die Afrikaanse verledetyd in prosatekste is, is dit belangrik om te besef dat daar by die gebruik van die hedetyd ook bepaalde ‘probleme’ ontstaan.

Gevolgtrekking

In die Afrikaanse skryfkuns bestaan ’n tradisie om skrywers aan te moedig om prosatekste in die hedetyd aan te bied. Die motivering vir die ontstaan van hierdie tradisie is egter onduidelik, maar uit bepaalde stellings deur Afrikaanse skrywers en taal- en letterkundiges kan afgelei word dat dit waarskynlik te make het met die aard van die Afrikaanse verledetydskonstruksie. Die het ge-verledetydskonstruksie is – in teenstelling met die Engelse en Nederlandse ewekniekonstruksies – aspektueel meerduidig. Geen inflektiewe verledetydskonstruksie word in Afrikaans gebruik om aspektuele betekenis te spesifiseer nie, en die het ge-konstruksie sluit verskeie aspektuele betekenisse in. Die gebruik van die meerduidige verledetydskonstruksie in prosa het ook bepaalde stilistiese implikasies, aangesien die herhalende gebruik van die het ge- lomp en ongenuanseerd kan voorkom.

Hoewel die gebruik van die hedetyd in plaas van die verledetyd derhalwe wel gemotiveerd is, is daar eweneens ook bepaalde probleme (veral semanties van aard) wanneer die verhaalgebeure in die hedetyd aangebied word.

Die doel van hierdie artikel is nie om geldigheid van die hedetydskryfkunstradisie in die Afrikaanse skryfkuns te bevraagteken nie, maar eerder om ’n gesprek te begin waar saam oor die gevestigde skryftradisie besin word.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar hiermee dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Afrikaanse Ekspo vir leerders, 2012, Inskrywingsvorm: Afrikaanse ekspo vir leerders 2012, besigtig 09 Februarie 2012, by http://www.afrikaansekspo.org.za/inskrywing.html

Antonissen, R., 1966, Spitsberaad, Nasou, Kaapstad.

Barnard, C., 1992, Moerland, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Bezuidenhout, Z., 2012, ‘In plaas van die stilte: ’n Keuse uit die gedigte van Miriam Van hee. Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo’, in Versindaba, besigtig 07 Januarie 2013, by http://versindaba.co.za/category/redaksie-resensies/page/2/

Blackburn, L., 2009, ‘Switching up tense in the narration’, in A brain scientist’s take on writing, viewed 22 July 2013, from http://blog.liviablackburne.com/2009/09/switching-up-tense-in-narration.html

Breed, C.A., 2012, ‘Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: ’n semantiese studie van perifrastiese progressiewe konstruksies’, PhD-proefskrif, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Noordwes-Universiteit.

Brink, A.P., 1976, Aspekte van die nuwe prosa, Academica, Pretoria.

Brink, A.P., 1979, ’n Droë wit seisoen, Human & Rousseau, Kaapstad.

Broos, J.A.R., 1964, Aspek: ’n Driedimensionale interpretasie, PhD-proefskrif, UNISA Press, Pretoria.

Bybee, J.L., 2003, ‘Aspect’, in W.J. Frawley (ed), International Encyclopedia of linguistics, 2nd edn, pp. 157–158, Oxford University Press, Oxford.

Bybee, J.L., Perkins, R.D. & Pagliuca, W., 1994, The evolution of grammar: Tense, aspect and modality in the languages of the world, University of Chicago Press, Chicago.

Comrie, B., 1976, Aspect: An introduction to the study of verbal aspect and related problems, Cambridge University Press, Cambridge.

Comrie, B., 1985, Tense, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9781139165815

Darwin, E., 2008, ‘Past and present tense’, in The itch of writing, viewed 22 July 2013, from http://emmadarwin.typepad.com/thisitchofwriting/2008/11/

De Villiers, M., 1951, Werkwoordsvorme in Afrikaans in die verlede tyd, Jrg xxxvi, Stellenbosch.

De Villiers, M., 1962, ‘Die aanduiding van tyd in Afrikaans’, Standpunte 44(2), 5–61.

De Villiers, M., 1968, Die grammatika van tyd en modaliteit, Balkema, Kaapstad.

Dik, S.C., 1997, The theory of functional grammar: Part 1 – The structure of the clause, 2nd edn., Mouton de Gruyter, Berlin.

Du Plessis, P.G., 2010, Fees van die ongenooides, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Du Toit, F.G.M., 1940, Eugène Marais, sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, Swets en Zeitlinger, Amsterdam.

Jae, A., 2012, ‘Why use the past tense?’, in Writability, viewed 13 January 2013, from http://avajae.blogspot.com/2012/01/why-use-past-tense.html

Keables Guide, 2012, ‘Creative writing: Verb tense’, in The Keables Guide, viewed 15 January 2012, from http://www.iolani.honolulu.hi.us/Keables/KeablesGuide/PartFive/CreativeWriting.htm

Kilian, C., 2007, ‘Present tense, or Past?’, in Writing fiction: Discussion on writing and publishing novels and short fiction, viewed 22 July 2013, from http://crofsblogs.typepad.com/fiction/2007/06/present_tense_o.html

Labuschagne, F.J., 1968, ‘Iets oor aspek: Lingologies gesien’, Taalfasette 6, 17–26.

Louw, J.P., 1987, ‘Verbale aspek: ’n Misvatting?’ Suid-Afrikaanse tydskrif vir taalkunde 5(4), 46–56.

Mansvelt, N., 1884, Proeve van een Kaapsch-Hollandsch idioticon, C.J. Martin, Kaapstad.

Matthee, D., 1985, Fiela se kind, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Meinderts, M., 2007, ‘Tegenwoordige of verleden tijd: Reaktie’, in Schrijvenonline, besigtig 23 Julie 2013, by http://www.schrijvenonline.org/forum-onderwerp/2928

Meyer, D., 2010, ‘Skryfnet XXII: Deon Meyer se eerste verslag’, in Litnet, besigtig 29 November 2010, by http://www.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=74352&cat_id=286

Paul, C., 2010, ‘Misdaadfiksie – Trippe, trappe, t(r)one’, in Litnet, besigtig 03 Maart 2012, by http://www.argief.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=82204&cause_id=1270

Potgieter, F. du T., 1982, ‘Taal breek deur die tydsgrens: ’n Vergelykende studie oor tydsaanduiding in Latyn, Engels en Afrikaans: Progressief en regressief’, Unie 78(7), 186–190.

Preller, M., 2000, ‘Riglyne vir klein stories: Skryfgeheime’, in Storiewerf, besigtig 22 Januarie 2013, by http://www.storiewerf.co.za/skryf/riglyne_martiepreller.htm

Scholieren.com, s.a., Welke tijd maakt het verhaal het spannendst?, besigtig 20 Julie 2013, by http://forum.scholieren.com/showthread.php?t=1797296

Scholtz, H.v.d.M., 1940, Taal en taalverskynsels, Nasou, Kaapstad.

Sleigh, D., 2002, Eilande, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. PMCid:PMC2567576

Strachan, A., 1990, Die jakkalsjagter, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Strachan, A., 1994, Die werfbobbejaan, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Strachan, A., 1997, Agter die suikergordyn, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Van der Merwe, H.J.J.M., 1958, Aspek as uitdrukkingsmiddel van handeling, UNISA Press, Pretoria.

Taalkommissie, 2010, Taalkommissiekorpus, audio CD, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria.

Van Dyk, D., 2011, ‘Sê eers vir my, het julle my gemis?’, in Delenewordlig: Delene se journey om ligter te word, besigtig 22 Januarie 2013, by http://delenewordlig.wordpress.com/2011/07/04/%E2%80%9Cse-eers-vir-my-het-julle-my-gemis%E2%80%9D/

Van Niekerk, J., 1997, ‘Leksikale aspek en temporele spesifikasie’, Suid-Afrikaanse tydskrif vir taalkunde 15(3), 98–103.

Visser, A.J.J., 1968, ‘Aspek (die verloop van ’n handeling) in Afrikaans’, Unie 65(1), 36–38.

Visser, M., 2012, ‘Resensie: So lig soos klip deur Jacques Pretorius’, in … and that’s your theory blogspot?, besigtig 05 Maart 2012, by http://aityt.blogspot.com/2012/02/resensie-so-lig-soos-klip-deur-jacques.html

Wybenga, D.M., 1983, ‘Grammatiese tydsvergestalting in Afrikaans: ’n Linguistiese ondersoek aan die hand van enkele Afrikaanse kortverhale’, PhD-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Voetnotas

1. In hierdie artikel word na die drie temporele onderskeidinge verwys as verledetyd, hedetyd en toekomendetyd – teenoor die gebruiklike verwysing as teenwoordige tyd, verlede tyd en toekomstige tyd, aangesien ons nie hier te make het met adjektiewe bepalings van ‘tyd’ nie, maar eerder met taalkundige en semantiese konsepte (vgl. Breed 2012:3).

2. Hoewel daar in Nederlands (heb/heeft + verlede deelwoord) en Afrikaans (het + verlede deelwoord) vormlik ooreenstemmende verledetydsvorme gevind word, is dit belangrik vir die argument van hierdie artikel om in ag te neem dat dié ewekniekonstruksies nie semanties ooreenstem nie. In Nederlands word die konstruksie gebruik om anterior (oftewel perfektum) betekenis uit te druk, terwyl die Afrikaanse konstruksie gewoon eenvoudige verledetyd uitdruk. Die eenvoudige verledetydsvorm van Nederlands stem vormlik nie ooreen met die het-eenvoudige verledetydsvorm van Afrikaans nie. Hierdie onderskeid word later in die artikel verder bespreek.

3. Hoewel daar in Afrikaans ’n ewekniekonstruksie (Die hond was die water aan die drink) gevind kan word, is die aan het-konstruksie in Nederlands – anders as in Afrikaans – die gegewe konstruksie om progressiewe betekenis uit te druk. In Afrikaans, soos aangetoon sal word, kan die het ge-konstruksie ook gebruik word om progressiewe verledetyd aan te dui.

4. Sien ’n bespreking later van die anterior betekenis.

5. Die asterisk (*) word gebruik om aan te dui dat ’n sin ongrammatikaal is.

6. Daar kan ’n verdere onderskeid gemaak word tussen leksikale en grammatikale aspek. Leksikale aspek het te make met die inherente, konseptuele eienskappe (duur, telisiteit en statiwiteit) van ’n situasie (bv. die situasies ‘om van iets te hou’ en‘om iets te skop’). Grammatikale aspek is hoofsaaklik relevant in dié artikel en daar word in hierdie ondersoek na grammatikale aspek as aspek verwys.

7. Vanweë die aspektueel meerduidige aard van Afrikaanse tempuskonstruksies, word die meeste voorbeelde in Engels aangebied, om sodoende die verskillende betekenisonderskeidinge voldoende te kan illustreer.

8. Voorbeeldsinne (20) tot (31) kom uit die TK-korpus van 2010. Hierdie korpus is opgestel deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, met die bedoeling om ’n gestratifiseerde voorbeeld te wees van geskrewe Afrikaans (kyk Taalkommissie 2010).

9. Hierdie afstanddoening vind plaas as gevolg van ’n proses van ‘grammatikalisering’. Grammatikalisering word nie in hierdie artikel bespreek nie, maar ’n omvattende verduideliking van die grammatikalisering van perifrastiese konstruksies kan gevind word in Breed (2012:23–91).



Crossref Citations

No related citations found.