’n Geheim met komplekse kante
Book Title: Dis my geheim
Author: Juanita Aggenbach
ISBN: 978-1-86919-761-2
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2012, 192 p., ZAR140,00*
*Book price at time of review
Reviewer: Susan Meyer1
Affiliation: 1School of Curriculum-based Studies, North-West University, South Africa
Postal Adress: Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Meyer, S., 2013, ‘’n Geheim met komplekse kante’, Literator 34(1), Art. #424, 2 pages.
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i1.424
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
In Juanita Aggenbach se debuutroman, Dis my geheim, word die leser bekendgestel aan die leefwêreld van vier karakters wat op verskillende maniere deur die aanneming van ’n kind geraak word. Die roman bevat outobiografiese gegewens, dit is geskoei op ’die verhaal wat die outeur die beste ken – haar eie’. Op die voorblad berei ’n enkele vraag die leser voor op die komplekse emosies en spanning wat rondom die ervaring van aanneming saamgeweef word: ‘Hoe kan ’n mens deur die lewe gaan en dink jou verlede sal jou nie inhaal nie?’Die verhaal begin wanneer Eloïse, wat as aangenome baba ’n welkome tuiste in die huis van Petra en haar man, Marnus, gevind het, op twintigjarige ouderdom haar biologiese grootouers ontmoet as ’n eerste stap om haar ma op te spoor. Die vele kante van die geheim in hierdie roman ontvou. Niemand in Eloïse se biologiese familie aan moederskant weet van haar bestaan nie, buiten haar oupa. Hy verwerp haar egter op onsensitiewe wyse, omdat hy in die belang van sy dogter, Ané, Eloïse se biologiese moeder, probeer optree. Ané, ’n model wat na Amerika geëmigreer het, is getroud met ’n hartspesialis wat ook onbewus is van die bestaan van die dogtertjie van wie Ané in haar matriekjaar afstand gedoen het. Die biologiese vader, James, dra twintig jaar lank sonder sy familie se wete aan die beeld van die baba, wat hy net vlugtig in die hospitaal gesien het, maar wat hom genadeloos volg sodat hy jare later ure lank buite laerskole sit en wag in die hoop om haar te herken. Wanneer hy op sy dogter se agtiende verjaarsdag wettig na haar mag begin soek, loop hy hom vas teen ’n ondeurdringbare geheim, want kinderwelsyn mag geen inligting aan hom verstrek nie omdat hy nie as biologiese pa op die aannemingsdokumente genoem word nie. Dis egter Eloïse se geheim wat die roman oorheers. Wanneer haar ouers haar inlig dat sy ’n aangenome kind is, lei dit ’n kwelperiode in; sy leer ken ’n ‘vreemde swaar gevoel’ naby haar hart wat in allerlei geheime vrese manifesteer – onder andere dat sy nie sal kan voldoen aan die verwagtinge wat Petra van haar droomdogtertjie gehad het nie en dat sy haar maats sal verloor as hulle die ‘volle waarheid’ weet. Haar geheim begin haar lewe oorneem, ‘dit het begin oorheers wie ek was. Ek was nie Eloïse nie, ek was Aangeneem’ (bl. 86). Sy vermoed die begeerte om haar biologiese ma te ontmoet sal haar ouers seermaak, en besluit: ‘Dit sal my geheim wees’ (bl. 116). Eloïse vertel haar storie in die eerstepersoonvorm en die ander stories, dié van Ané, Petra en James, word ouktorieel vertel. Uit verskillende perspektiewe word ’n beeld gebied van die talle implikasies van aanneming. Ané se swangerskap konfronteer haar met verwarring en skuldgevoelens rondom die keuse tussen aborsie en aanneming. Ses-en-twintig jaar later ontmoet sy die kind wat sy so lankal uit haar hart probeer skuif het om met haar lewe te kon voortgaan, en moet verduidelik: ‘I had to cut you from my life the moment after you were born. […] You did not exist anymore. I would not have survived otherwise’ (bl. 179). Uit Eloïse se perspektief ontvou die besonderhede van hierdie ses-en-twintig jaar op ’n wyse wat die intrige en kompleksiteite van hierdie situasie, naamlik woede, angs, twyfel en verwyte, aangrypend uitbeeld. Ondanks ’n goeie verhouding met haar aanneemouers, verander die bril waardeur sy na die lewe kyk grootliks wanneer sy uitvind dat sy nie biologies by haar gesin hoort nie. Sy idealiseer van jongs af haar ‘bloedma’ en soek in alle vroue op straat na iets wat dalk vir haar kan sê dat dit sý is. Sy bou onverpoos aan wensbeelde rondom die ontmoeting met hierdie vrou, maar in die eerste gesprek met ’n biologiese familielid, die oupa, word al die ideale en drome met ’n paar woorde weggevee. Ané stel klaarblyklik nie belang om met haar kontak te maak nie en wil nie haar nuwe lewe in Amerika kompliseer met so ’n ontmoeting nie. Die skok en woede, die wipplank-effek van hoop en ontnugtering wat nog baie jare sou voortduur nadat Eloïse wel haar biologiese ma ontmoet het, word deeglik belig en bring nugter werklikhede tuis wat alle romantiese illusies omtrent so ’n situasie verbreek. Die oortuigingskrag van die Eloïse-karakter lê in die stryd wat uitgespeel word tussen hoof en hart. Sy begryp hoe haar smagting na die goedkeuring van haar bloedma van haar ‘’n hondjie (maak) wat sy eienaar smeek vir ’n bietjie kos, ’n bietjie aandag. […] Ek was pateties’ (bl. 156). Die hunkering om egter tóg kontak te hê, selfs nadat hul ontmoeting verwerping en verplettering vir haar ingehou het, word beleef as ’n verslawing waarvan haar hart nie vry kan kom nie. Jare later, wanneer Ané weer na Suid-Afrika vlieg, is daar opnuut hoop in haar dogter se ‘verraderlike hart’. Eloïse rasionaliseer: ‘Kop versus hart. In ’n verslawing luister jy nié na jou hart nie’ (bl. 171), maar die waagstuk lewer ’n onverwagte wending. Petra bring ’n groot hoeveelheid geloofwaardigheid na die verhaal as die verpersoonliking van die nieheroïese. Sy is die onwillige ondersteuner van haar aangenome kind in die soektog wat vir dié lewensbelangrik; is die wantrouige medespeler in die drama wat ontplooi juis as gevolg van die opregtheid waarmee sy vir haar kind die keuse gun om haar biologiese wortels te vind. Petra is volkome ma én mens in haar teleurstelling wanneer die sorgvuldige drome vir haar enigste dogter sneuwel weens die kind se eiesinnige aard, en in haar opstandigheid omdat haar kind ‘neuk met ’n vrou wat vir alle praktiese doeleindes niks van haar is nie’ (bl. 101). Sy ken die dun balanseertou waaroor ’n aanneemma haar voete skuif: hoe geseënd jy is om ’n kind groot te maak, hoe wesenlik die gevaar is dat jy daardie kind later weer kan verloor. Tot reg aan die einde, wanneer Eloïse in haar biologiese ma se lewe ’n plek vind, skep Petra se beskermingsdrang wantroue jeens hierdie vrou in wie se mag dit is om haar kind veel pyn te besorg. Die trefkrag van die verhaal hou verder verband met die wyse waarop ook ’n manlike element by die ervarings rondom aanneming betrek word. Wanneer James sy dogter oplaas leer ken, ná ’n leeftyd se hunkering na haar, beland hy in die rol van ontgogelde. Die stroom van skuldbelydenisse en pleitredes om vergifnis en sy pogings tot oorkompensasie skep ongemak en afstand tussen hulle. Veel later kry ook hierdie verhouding ’n tweede kans en James besluit: ‘Hierdie keer sal hy dinge reg doen’ (bl. 185). Die roman praat oor die relatiwiteit en die omkeerbaarheid van rolle: Eloïse, wat die ervaring van verwerping intiem ken, vertolk – wel ter beskerming van haar gevoelens en privaatheid – ook die rol van verwerper. James se vaderskap, waarop hy vir agtien jaar lank staatgemaak het in die hoop op ’n deurbraak in die soektog, staan deurgaans in die teken van ontmagtiging. En in die interaksie tussen biologiese ma en dogter swig die verwerper en word sy die omhelser van die verwerpte, nie in die hoedanigheid as dogter nie, maar eerder as vriendin. Die roman baat by die meerstemmigheid, geskep deur verskillende fokalisasies wat ingebed word binne die ouktoriële vertelling. ‘Reg’ en ‘verkeerd’ word nie simplisties teen mekaar afgespeel nie; verskeie perspektiewe vloei saam tot ’n boodskap oor die ongekaarte paaie waarop die mens reis en die onpeilbaarheid van die geheime wat die mens saamdra. Dis ’n verhaal wat min lesers onaangeraak sal laat.
|