Skryfkuns is ’n relatief nuwe vak aan Suid-Afrikaanse universiteite. Die bestek en metodologie van hierdie vakgebied is plaaslik nog nie na behore ondersoek nie. In dié artikel word die dosering van Skryfkuns as vak, kursus en/of program aan Suid-Afrikaanse universiteite van naderby betrag met betrekking tot kursusinhoud, metodologiese en pedagogiese kwessies en uitkomste. ’n Semigestruktureerde vraelys oor kursusinhoud, didaktiese aspekte rondom die dosering van Skryfkuns en manuskripte as uitkomste is aan kursus-koördineerders van Skryfkuns by 11 Suid-Afrikaanse universiteite gestuur. Die bevindings van hierdie peiling word bespreek met betrekking tot elke deelnemende universiteit. Dit blyk dat Skryfkuns hoofsaaklik op nagraadse vlak gedoseer word, met die fokus op die MA-vlak. Alhoewel daar verskille in onderrigmetodes is, is dit duidelik dat die werkswinkel deur die meeste respondente as kern-doseringsmetode gebruik word. Skryfkuns aan Suid-Afrikaanse universiteite as ’n vak toon groot groei met betrekking tot studentegetalle en gepubliseerde uitsette – enkele syfers word verskaf ter illustrasie. Hierdie toename sluit by ’n wêreldwye tendens van voortdurende groei van Skryfkuns aan universiteite aan. Deur gepubliseerde (en dikwels bekroonde) uitsette dra Skryfkunsprogramme by tot die gevarieerde Suid-Afrikaanse literêre landskap.
Teaching Creative Writing at South African universities: An overview. Creative Writing is a relatively new subject at South African universities. The scope and methodologies of teaching this subject locally have not yet been investigated properly. In this article the teaching of Creative Writing as subject, course and/or programme at South African universities is probed with regard to course content, methodological and pedagogical questions and outcomes. A semistructured questionnaire dealing with course content, didactic aspects of teaching Creative Writing and manuscript outcomes was sent to course co-ordinators of Creative Writing at 11 South African universities. The findings of this inquiry are discussed with regard to each participating university. Creative Writing is mainly taught at postgraduate level, with the focus on MA level. Although there are differences in teaching approaches, it is evident that the workshop serves as the core teaching method for most respondents. Creative Writing at South African universities has grown tremendously in terms of student numbers and published outputs – some figures are provided as illustrations. This increase links South African Creative Writing to a world-wide trend which reflects continuous growth in Creative Writing as university subject. Through published (and often award-winning) outcomes Creative Writing programmes contribute to the varied South African literary landscape.
Die eerste universiteit wat begin het om klasse in Skryfkuns aan te bied, is die Universiteit van Iowa in die Verenigde State van Amerika (VSA). Dié instansie het reeds in die 1890’s klasse in Skryfkuns aangebied, in 1922 al manuskripte van skrywers aanvaar as deel van nagraadse kwalifikasies en bied sedert 1936 die wêreldbekende Iowa Writers’ Workshop aan, waartydens studente deur bekende en bekroonde skrywers begelei word (vgl. Writers’ Workshop, University of Iowa n.d. & Delaney 2007).In die universiteitskonteks het Skryfkuns ná die Tweede Wêreldoorlog relatief vinnig as vak, kursus en/of graadprogram gevestig geraak aan verskeie universiteite op verskeie kontinente. Tans is daar meer as 300 graadkursusse in Skryfkuns in die VSA alleen (Delaney 2007), terwyl verskeie universiteite in die Verenigde Koninkryk, soos onder meer Cambridge, Oxford, Lancaster, Plymouth, East Anglia, Sussex en Newcastle, nagraadse kursusse in Skryfkuns aanbied. Australiese universiteite soos Monash, Bond, Canberra, Adelaide en Sydney bied eweneens Skryfkunskursusse aan en die Universiteit van Singapoer is bekend vir sy Skryfkunsprogramme. In China word Skryfkuns in Engels aan die Universiteit van Hongkong, die City University in Hongkong (ook in Engels) en die Fudan Universiteit (in Chinees) aangebied (vgl. Lam n.d.) Verskeie universiteite en sentra in Indië bied diploma-, sertifikaat- en graadprogramme in Skryfkuns aan, onder meer die Indira Gandhi Open University, die Krishna Kanta Handiqui State Open University, Guwahati en die Jawaharlal Nehru University, Nieu-Delhi (vgl. Indian Freelance Writers n.d.). Op die Afrika-kontinent bied onder meer die American University in Kaïro, die National Open University of Nigeria, die Universiteit van Ghana en die Universiteit van Botswana Skryfkuns as vak en/of graadkursus aan (vgl. American University in Cairo n.d.; National Open University of Nigeria n.d.; University of Ghana n.d.; University of Botswana n.d.). Sedert die middel-tagtigerjare van die vorige eeu begin verskillende Suid-Afrikaanse universiteite ook met ’n verskeidenheid voor- en nagraadse Skryfkunskursusse. Tydens die afgelope twee dekades verskyn daar, benewens besinnings oor die vestiging van Skryfkuns as universiteitsvak, meer en meer publikasies oor die vakspesifieke teorie van didaktiek en pedagogiek vir aanbieding in hierdie vak, vergelyk Creative Writing studies. Practice, research and pedagogy (Harper & Kroll 2008a), The handbook of Creative Writing (Earnshaw 2007), Teaching Creative Writing (Harper 2006) en On Creative Writing (Harper 2010), om maar enkele titels te noem. Die boek van Harper en Kroll (2008a) bevat onder meer essays getiteld ‘Creative Writing in the university’ (Harper & Kroll 2008b) en ‘Sleeping with Proust vs. Tinkering under the bonnet: The origins and consequences of the American and British approaches to creative writing in higher education’ (Vanderslice 2008), terwyl die bundel van Earnshaw (2007) onder meer ‘Theories of creativity and creative writing pedagogy’ (Swander, Leahy & Cantrell 2007) en ‘The evaluation of Creative Writing at MA level (UK)’ (Newman 2007) bevat. Die doel van hierdie artikel is om ’n oorsig van die dosering van Skryfkuns aan Suid-Afrikaanse universiteite te gee met betrekking tot tipe kursusse, metodologie in die aanbieding daarvan, uitkomste en publikasies.
Semigestruktureerde vraelyste is gedurende Julie 2012 tot November 2012 aan kursus-koördineerders van Skryfkuns by 11 Suid-Afrikaanse universiteite gestuur. Die vrae gestel, was basies die volgende:• Wanneer is Skryfkuns as vak/kursus/graadprogram aan Universiteit X gevestig en deur wie?
• ’n Kort beskrywing van die kursusinhoude (voor- en/of nagraads)
• Hoe (indien wel) word studente gekeur vir die kursus(se)?
• Op watter wyse(s) word die kursusse/grade aangebied – is die MA byvoorbeeld ’n gedoseerde of ’n navorsingsgebaseerde graad?
• Word spesifieke vakmetodologieë of -didaktiek en -pedagogiek gevolg in die dosering van hierdie kursusse?
• Word die kursusse/grade by wyse van lesings of werkswinkels aangebied?
• Hoeveel studente het reeds die graad aan Universiteit X voltooi en hoeveel het reeds selfstandig gepubliseer?
• Enige ander inligting relevant tot die tema. Terugvoer is ontvang van die volgende instansies, in geen spesifieke volgorde nie: die Universiteit van Kaapstad (UK) (Coovadia 2012; Hambidge 2012a; Van Heerden 2012); die Universiteit van Stellenbosch (US) (Anker 2012a); Rhodes Universiteit (Rhodes) (Berold 2012; Krueger 2012, 2013); die Universiteit van die Vrystaat (UV) (Van Coller 2012a); die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) (Moolman 2012); Witwatersrandse Universiteit (Wits) (Law-Viljoen 2012); die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) (Keuris 2012; Taljaard-Gilson 2012); Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) (Crous 2012); die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) (Vandermerwe 2012; Van Zyl 2012) en Noordwes-Universiteit (NWU), Potchefstroom Kampus (Greyling 2012a). Die respons1 van die Universiteit van Pretoria (UP) is dié van die navorser self sowel as van Jordaan (2012) en Medalie (2013). In die hieropvolgende gedeelte word die terugvoer van respondente opsommenderwys en chronologies met betrekking tot aanvang van die dosering van Skryfkuns aangebied. Sommige respondente het die gestelde vrae kortliks beantwoord, ander het hul respons in die vorm van ’n kort essay verskaf, sodat ’n breë narratief as voorlopige sintese oor die dosering van Skryfkuns aan Suid-Afrikaanse universiteite gebied word.
Die dosering van Skryfkuns aan Suid-Afrikaanse universiteite
|
|
Noordwes-Universiteit (Potchefstroom Kampus)
Die ATKV-Skryfskool
Die ATKV-Skryfskool van die NWU bestaan reeds sedert 1990, maar het in 1985 al die eerste skryfkursus in prosa onder die vaandel van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom kampus (PUK) aangebied. Dié skryfskool is dus die oudste skryfskool in Suid-Afrika wat binne die raamwerk van ’n universiteit funksioneer.Die Skryfskool, aanvanklik onder leiding van die digter en prosaskrywer Hans du Plessis en vanaf 2012 onder die literator en digter Bernard Odendaal, bied kursusse in Afrikaans in verskeie genres aan. Voorts bied die skool ’n jaarlikse herfsskool vir skrywers aan, waartydens onderrig in prosa, poësie, kinderliteratuur en die skryf van rubrieke plaasvind. ’n Jaarlikse lenteskool word spesifiek gerig op die skryf van liefdesverhale. Ten minste drie Kanselierskursusse vir hoërskoolleerlinge word jaarliks landswyd aangebied as naweekkursusse; die afgelope paar jare is daar vier tot vyf van hierdie kursusse elke jaar aangebied (Odendaal 2013). Die sukses van die Skryfskool lê in ‘die noue samewerking met gevestigde skrywers wat as aanbieders optree en ook die samewerking van Afrikaanse uitgewers’ (Du Plessis 2012:367). Honderde publikasies van oudstudente het die afgelope byna drie dekades verskyn, insluitende tekste van Irma Joubert, Christine Barkhuizen le Roux, Carina Stander, Elias P. Nel, Jaco Jacobs, Piet Steyn en Chanette Paul.
Die Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit
Skryfkuns word op voor- en nagraadse vlak in die Skool vir Tale by die NWU aangebied as volledige graadvak onder leiding van die skrywers Franci Greyling en Bernard Odendaal (voorheen Hans du Plessis, soos gemeld). Dit word veral deur taalstudente en studente in kommunikasiestudies geneem. Voorgraads bestaan die kursus uit ses opeenvolgende modules: Jaar 1: Inleiding tot Skryfkuns, en die Skryf van prosa; Jaar 2: Skryf van poësie, en die Skryf van kinder- en jeugliteratuur; Jaar 3: Skryf van drama, en Skryfkuns in toepassing. Die modules bestaan uit teorie sowel as kreatiewe skryfwerk en in alle modules maak die praktiese komponent die helfte van die punte uit. Op honneursvlak is Afrikaanse Skryfkuns een van die beskikbare modules in Afrikaans en Nederlands honneurs. Die moontlikheid bestaan dat Skryfkuns in die toekoms as ’n volledige honneurskursus aangebied kan word (Greyling 2012b:371). Die Meestersgraad (MA) en PhD-graad (PhD) in Skryfkuns word onder die sambreel van Afrikaans‑Nederlands aangebied. Daar word beoog om in die toekoms aansoek te doen om dit as selfstandige kwalifikasies erken te kry. Die voorvereiste is ’n honneursgraad in ’n taal (oorwegend Afrikaans en Nederlands). Studente wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, word individueel gehanteer en kan op grond van vorige leer aansoek doen om status. Beide die MA en PhD is navorsingsgrade. Studente werk onafhanklik, met begeleiding deur die studieleiers. Die fokus is meer op die ontwikkeling van die student as selfstandige navorser en skrywer en nie op die ontwikkeling van manuskripte as sodanig nie. In die algemeen word ’n praktykgebaseerde benadering gevolg. Die verhouding en balans tussen teorie en kreatiewe skryfwerk hang van die betrokke navorsingstema en agtergrond van die student af (Greyling 2012a).
Die Universiteit van Kaapstad
Skryfkuns is in 1992 aan UK gevestig deur Peter Horn, skrywer en professor in die Departement Duits. Latere dosente en medewerkers sluit in J.M. Coetzee, André P. Brink, Stephen Watson, Joan Hambidge, Etienne van Heerden, Damon Galgut, Justin Fox, Rayda Jacobs, Christopher Hope, Breyten Breytenbach, Zakes Mda, Mike Nicol, Antjie Krog, Deon Meyer, Ingrid Winterbach, Zoë Wicomb en Imraan Coovadia, wat tans die programdirekteur is. Medewerkers aan en graduandi van die program het al verskeie groot literêre pryse gewen of is daarvoor gekortlys, byvoorbeeld die Nobel-, Booker-, MNet-, CNA-, Sunday Times, Caine- en Hertzogprys (Coovadia 2012; University of Cape Town n.d.).Die digter, romanskrywer en kritikus Joan Hambidge (2012b:372) vertel meer van Skryfkuns aan UK. Die Sentrum vir Kreatiewe Skryfwerk bied ’n twee jaar lange meestersprogram vir skrywers van fiksie, kreatiewe niefiksie en poësie aan. Die kursus bestaan uit werksessies en studieleiding deur dosente. Sy noem dit ‘die toonaangewendste kreatiewe skryfkursus in Afrika’. Die program het ’n sterk tradisie van plaaslike en internasionale besoekers, voorlesings, en formele en informele verbintenisse met ander lede van die kunstegemeenskap soos draaiboek- en televisieskrywers, dokumentêre filmmakers, literêre joernaliste en uitgewers. Voornemende studente moet oor ’n honneursgraad of gelykwaardige kwalifikasie beskik en uitgebreide portefeuljes van hul werk (sowat 40 bladsye) voorlê in die genre waarvoor hulle wil inskryf. Die voorlegging moet vergesel word van ’n uiteensetting van kandidate se skryfdoelwitte en ondervinding. Daar word van studente verwag om twee bykomende kursusse aan die universiteit te volg. Na afloop van die twee jaar behoort ’n M-student ’n omvangryke stuk werk as verhandeling te kan voorlê: ’n roman, kortverhaalbundel of kreatiewe niefiksiewerk van ongeveer 60 000–80 000 woorde of ’n digbundel van beduidende omvang.
Die MA-kursus in poësie
Hambidge fasiliteer elke drie weke ’n werksessie van drie uur waarin gedigte bespreek word. Die finale MA bestaan uit ’n kreatiewe portefeulje en ’n essay van ’n besinnende aard. Hambidge skryf dat sy ‘[mense] kies wat die digkuns as ’n kunsvorm benader en nie as ’n emosionele uitlaatklep nie’ (2012b:373). Meer as 15 studente het die graad reeds onder haar leiding voltooi (kyk Hambidge 2012a) en digters wat onder haar gepubliseer het, sluit in Carina Stander (Die vloedbos sal weer vlieg), Fourie Botha (Donkerkamer), Martina Klopper (Nadoodse ondersoek), Aniel Botha (Pirouette), Karen Kuhn (Ingeboek) en Hennie Nortjé (In die skadu van soveel bome – wat bekroon is met die Eugène Maraisprys en die Ingrid Jonkerprys). Digters wat in bloemlesings gepubliseer het, sluit in Lou-Ann Stone.
Die MA-kursus in prosa
Wat betref boeke wat studente uitgegee het, gaan dit oor studente wat onder Etienne van Heerden se persoonlike studieleiding manuskripte ontwikkel het, in beide Engels en Afrikaans. Dis vir hom belangrik dat studente in albei tale werk. Verder vergader studente wat in sy fiksie‑meestersklasse sit, twee keer per week vir lang seminaarsessies (gewoonlik twee uur per keer). Hulle loods egter hul individuele projekte deur ander studieleiers – met ander woorde Imraan Coovadia kan byvoorbeeld ’n student se ‘promotor’ vir die individuele manuskripontwikkeling wees. Hulle woon eerstens Van Heerden se lesings by oor die narratologie (vertelstrategieë). Hier bekyk hy stelselmatig ruimte, tyd, verteller, ensovoorts. Tweedens hou hy werkswinkels waarin hulle hul kortverhale ‘workshop’; dit is werk wat hulle self skep vir portuurbespreking. Derdens is daar sy seminaarreeks ‘The Writer as ...’, waarin hy tesame met byvoorbeeld Njabulo Ndebele, Antjie Krog, Deon Meyer, Damon Galgut, ensovoorts, verskeie aspekte van skrywerskap onder die loep neem: ‘[Die skrywer as stilis/vermaaklikheidskunstenaar/aktivis/kunstenaar/satirikus/futuris, ensovoorts]. Dit help die studente om hul eie talent te posisioneer’, sê Van Heerden (2012). (Hierdie seminaarreeks sluit nie die narratologie en die werkswinkels hierbo in nie.) Die narratologie-, werkswinkel- en seminaarreeks word in Engels aangebied en die getal studente wissel van 12 na 21 per jaar. Hy begelei tans ongeveer sewe romanskrywers vir individuele manuskripontwikkeling, in Engels en Afrikaans. In ’n sin loop die studente in die werkswinkels dus ook onder sy hande deur, want hy is verantwoordelik vir die fiksie‑meestersklasse (Van Heerden 2012). MA-studente wat die graad onder leiding van Van Heerden voltooi en gepubliseer het, sluit in: Wilna Adriaanse (’n Klein lewe), Terry Westby-Nunn (The sea of wise insects), Nicole Jaekel Strauss (Maal, bekroon met die Eugène Maraisprys), Toast Coetzer (Naweek), Nanette van Rooyen (Chinchilla), Ingrid Wolfaardt (Heartfruit), Quintus van der Merwe (Die blou van ons hemel), Michael Rands (Praise routine number four), Willemien Brümmer (Die dag toe ek my hare losgemaak het), Chanette Paul-Hughes (Leila word lig), Sonja Loots (Spoor), Tom Dreyer (Stinkafrikaners, bekroon met die Eugène Maraisprys), Nini Bennett (Stoornis, bekroon met die UJ-debuutprys), Jaco Botha (Sweisbril), Izak de Vries (Kom slag ’n bees) en Rachelle Greeff (Hanna). Ander graduandi van die kreatiewe MA van UK wat gepubliseer het, sluit in Henrietta Rose-Innes, Ceridwen Dovey, Femi Terry, Lauren Beukes, Nape ‘a Motana en Tom Eaton.
Die Universiteit van KwaZulu-Natal
Volgens die digter Kobus Moolman is Skryfkuns in 2000 aan UKZN gevestig as vak deur Michael Green in die Departement Engels. Green het die program alleen aangebied, bygestaan deur deeltydse tutors (onder meer die dramaturg Greig Coetzee), tot 2004, toe Moolman by die departement aangesluit het. Sedert 2010 doseer Moolman en Sally-Ann Murray die Skryfkunsprogram (Moolman 2012).Skryfkuns word op voor- sowel as nagraadse vlak aangebied. Voorgraads is dit deel van die tweede en derde jaar. Daar is ’n honneursmodule wat oor een semester aangebied word, ’n meestersgraad wat gewoonlik twee jaar duur, en ’n PhD. Die voorgraadse kursus fokus op drie genres: die gedig, kortfiksie en draaiboek skryf. Gedurende die tweede jaar word inleidende lesings oor die praktyk van skryf aangebied, sowel as oor die basiese komponente van die onderskeie genres. Moolman (2012) skryf oor die voorgraadse komponent: Both level two and three are mainly aimed at what we call ‘reading for writing’; thus apart from some tutorial exercises, the second year student does no original writing as such, focusing instead on how to read a poem, what makes a poem a poem, what is narrative, what is character, etcetera. In their third year only do students write their own original material: a short poem (about 20 lines), a piece of short fiction (about three pages), and a short monologue. The third year course thus is the first practical experience the students have of writing. [Beide vlak twee en drie is gemik op wat ons noem ‘leeswerk vir skryfwerk’; dus doen die tweedejaarstudent, behalwe ’n paar tutorialeoefeninge, geen oorspronklike skryfwerk as sulks nie; die fokus is eerder op hoe om ’n gedig te lees, wat ’n gedig ’n gedig maak, wat karakter verteenwoordig, ensovoorts. Eers in hul derde jaar skryf studente hul eie, oorspronklike materiaal: ’n kort gedig (ongeveer 20 reëls, ’n stuk kortfiksie (ongeveer drie bladsye), en ’n kort monoloog. Die derdejaarkursus is dus die eerste praktiese ervaring wat studente opdoen met skryfwerk.] (Outeur se eie vertaling) Die honneurskursus handhaaf weer ’n multi- of oorkruisgenre-aanslag. Studente ondersoek die problematiek van die dosering van Skryfkuns, asook die teorie onderliggend aan konsepte soos narratief of genre. Verder skryf Moolman (2012) oor die honneurs: At this level students are actively encouraged to experiment with mixing genres; not necessarily to get them to produce finished examples, but mainly so that they learn to challenge their own writing practice, their own writing clichés and patterns. [Op hierdie vlak word studente aktief aangemoedig om te eksperimenteer om genres te meng; nie noodwendig om hulle sover te kry om afgeronde voorbeelde te lewer nie, maar hoofsaaklik sodat hulle leer om hul eie skryfpraktyke uit te daag, hul eie skryfclichés en -patrone.] (Outeur se eie vertaling) Aan die einde van die honneurskursus word van studente verwag om ’n kort portefeulje van hul werk te lewer: die eerste drie of vier hoofstukke van ’n roman, drie of vier kortverhale, ensovoorts. In die MA en PhD is die klem op die produksie van manuskripte met die omvang van ’n boek in enige genre wat die student kies. Voorgraadse studente word nie gekeur nie en dit skep probleme, aangesien nie alle studente dieselfde skryftalent of belangstelling in skryfkuns het nie. Omdat daar egter gefokus word op ‘leeswerk vir skryfwerk’ en die elemente betrokke in literêre tekste (karakter, beeld, ensovoorts), word hierdie probleem tot ’n mate opgelos. Toegang tot al die nagraadse kursusse word streng op grond van ’n portefeulje skeppende werk hanteer. Die PhD is slegs beskikbaar vir kandidate wat bewys kan lewer van vorige prestasies met betrekking tot publikasie of van ’n lang verbintenis met skryfwerk (Moolman 2012). Moolman skryf dat die dosering van voorgraadse Skryfkuns geskied deur ’n kombinasie van lesings en groepsklasse; in die laasgenoemde is daar gewoonlik 20 tot 25 studente. Daar is gewoonlik 6 tot 12 studente in die honneurskursus wat basies ’n indringend gedoseerde seminaar is, met besprekings, lees- en skryfwerk. Die MA en PhD is navorsingsgebaseerde programme, met individuele leiding van die dosent aan elke student. Nóg die voorgraadse nóg die honneursvlak in Skryfkuns lei tot ’n graad in Skryfkuns – dit is deel van die BA of BA (Hons) in Engels. Sedert 2004 het ongeveer 15 studente die MA in Skryfkuns voltooi en een (Moolman) die PhD. Tans is daar sewe studente geregistreer vir die MA en twee vir die PhD, wat volgens Moolman duidelik bewys dat daar ’n groeiende belangstelling in die kursusse is. Drie van UKZN se afgestudeerde MA-studente het boeke gepubliseer: Mariam Akabor se Flat 9, Sarah Frost se Conduit en Shubnum Khan se Onion tears. Ongeveer vyf ander studente het individuele tekste in tydskrifte en bloemlesings gepubliseer. Murray publiseer ’n roman en Moolman verskeie digbundels.
Die Universiteit van Suid-Afrika
Skryfkuns word slegs op voorgraadse vlak by UNISA gedoseer in beide Afrikaans en Engels. Die graadprogram BA (met spesialisering in Kreatiewe Skryfkuns) het in 2001 by UNISA begin; dit is ‘die enigste program wat in daardie jaar in die Kollege [vir Geesteswetenskappe] begin is wat tans nog voortbestaan en aanhou groei’ (Keuris 2012). Die koördineerder is die prosaskrywer Gerda Taljaard‑Gilson. Marisa Keuris en die digter en kortverhaalskrywer Andries Oliphant is ook betrokke by die dosering van die graad.Keuris (2012) omskryf die graad as ’n graadprogram (totaal: 30 modules) met kernmodules wat ten minste een taalhoofvak (Afrikaans, Engels, en dies meer), Algemene Literatuurwetenskap, die drie modules in Praktiese Skryfkuns en enkele ander bevat, asook ’n getal opsionele modules wat uit kort lyste gekies kan word. Op derdejaarvlak word die volgende uitkomste gestel: 25–30 gedigte, 8 tot 10 kortverhale of hoofstukke uit ’n roman en ’n volledige verhoog- of radiodrama. Studente moet twee uit die drie genres kies. Wat keuring betref: Studente hoef gewoon te voldoen aan die vereistes van ’n B‑graad. Die uitgangspunt is, volgens Keuris (2012): Enigeen wat belangstel om vir ’n Kreatiewe Skryfkunsprogram te wil inskryf, kan inskryf. Soms word dit gou duidelik dat iemand nie veel skryftalent het nie (en hulle val binne die eerste jaar uit), maar in die algemeen het die meeste van ons studente redelike – na uitstekende – skryftalent. Daar is heelwat afgestudeerde studente ná tien jaar, en van hulle het etlikes al gepubliseer. Die studente is oorwegend Engelssprekend, maar die digter Ilse van Staden (wat bekroon is met die Ingrid Jonker- en Eugène Maraisprys) was byvoorbeeld ’n student by UNISA. Neil Coppen wat die Standard Bank Young Artists Award (Drama) in 2011 ontvang het, was ook een van hul studente. Een werkswinkel per semester word aangebied. Die program is baie gewild en getalle neem jaarliks toe. Die meeste van die 1500 studente wat tans Algemene Literatuurwetenskap as hoofvak neem, neem dit omdat Skryfkuns deel van die program is, reken Keuris. Heelparty studente het al aanlyn (op LitNet en oorsese netwerke) gepubliseer; twee verhale van ’n student, Carla van Eck, is in die bundel Nuwe stories opgeneem (saamgestel deur Ferreira & Kotzé-Myburgh 2012).
Die Universiteit van Stellenbosch
Die MA in Kreatiewe Skryfkunde is in 2002 ingestel by die US. Die dramaturg en prosaskrywer Willem Anker en die digter en prosaskrywer Marlene van Niekerk doseer die program.Kandidate wat wil aansoek doen moet ’n honneursgraad in ’n taal hê en ’n keuringsportefeulje skeppende werk – poësie, prosa of drama – voorlê. Oor die voorgraadse en honneurskomponent skryf Anker (2012a) dat daar ’n module in Afrikaans 3 vir skryfkunde is wat die afgelope paar jaar ’n keuringsmodule geword het. Tussen 12 en 15 studente word toegelaat. Afhangende van die dosent wat die module aanbied en die voorkeur van die studente, word prosa en/of poësie aangebied. Die afgelope twee jaar word die kursus in twee blokke oor naweke aangebied met langer werksessies, omdat die een lesuur per week nie prakties was vir die aanbied van skryfkundeseminare nie. Die modules in die derde jaar en honneurs word gedoseer op ’n soortgelyke wyse as die MA: studente moet gereeld weergawes van hul kreatiewe werk inlewer wat in die klas bespreek word deur die dosent en die studente. Voorbeelde uit die wêreldliteratuur word bestudeer om te kyk hoe dié skrywers te werk gaan met hul stof. Leeswerk wat verband hou met die student se projek word voorgeskryf en leesverslae moet gereeld ingelewer word. Soos in die MA word verwante akademiese opstelle ook geskryf, wat 50% van die punt uitmaak. Alle studente in die MA neem deel aan die maandelikse seminare in hul eerste jaar van inskrywing, vertel Anker (2012a). Daar is slegs een seminaar wat almal bywoon, ongeag die genre wat hulle bedryf. In hul ondervinding is dit juis vrugbaar om studente, wat in verskillende genres skryf, mekaar se werk te laat lees en kommentaar daarop te lewer en vir mekaar raad te gee. Voorts skryf hy insiggewend oor die rol van studieleiers in die MA-kursus: Die rol van die begeleiers is om studente te dril in goeie skryfgewoontes: Insig in die kern van wat die skrywer wil vertel; die belang van ’n goeie storie en die verhaalmatige verpakking van tydsverloop; die nadruk op sintuiglike uitbeelding in die vormgewing van ruimte, handeling en karakter; die vermyding sover moontlik van abstrakte begrippe en die onnodige uitspel van idees; klem op die materialiteit van taal; ’n kritiese bewussyn van die aard van die skryfdaad en die etiek van die skryfhandeling; en […] ’n kritiese insig in die tradisies en konvensies van die romankuns. Studente word deurgaans gevra om te besin oor waarom hulle op ’n spesifieke moment in die historiese tyd wil skryf wat hulle skryf en vir wie hulle dit op ’n spesifieke manier wil vertel en waarom. Ondervraging van maatskaplike werklikhede in terme van kritiese denkraamwerke word aangemoedig. (Anker 2012b:374) Naas die nadruk op skryfdissipline word klem verder gelê op die aanleer van vreesloosheid en improvisasielus: Ons glo in ’n aanvangsfase van vry-assosiërende generering van klompe materiaal-as-kompos, en voorts die seleksie van bruikbare elemente in vele opeenvolgende fases van herskrywing. Een van ons belangrikste vuisreëls is: Elke fout wat ’n mens maak as skrywer is ’n les; vreesloos foute maak en jouself deur elke fout te laat onderrig, is ’n leerhouding wat ons by skryfstudente probeer kweek. ’n Ander vuisreël is: Geen begeerte (om iets te vertel) sal slaag sonder ’n beheersing van tegniek nie. (Anker 2012b:374) Afgestudeerde en gepubliseerde studente sluit in: Willem Anker (Siegfried, bekroon met onder meer die UJ-debuutprys); Deon Meyer (Infanta); Helena Gunter (Op ’n plaas in Afrika, bekroon met die Eugène Maraisprys); Loftus Marais (Staan in die algemeen nader aan vensters, bekroon met onder meer die Ingrid Jonker-, UJ-Debuut- en Eugène Maraisprys); Theo Kemp (Skool); Marius Crous (Vol draadwerk); SJ Naudé (Alfabet van die voëls, bekroon met onder meer die UJ-Debuut- en die SALA-Prys) en James Whyle (The Book of war) (Anker 2012a).
Die Universiteit van Wes-Kaapland
Volgens Vandermerwe (2012) is UWC Creates, die Skryfkuns-program by die Universiteit van Wes-Kaapland, amptelik geloods in 2009, alhoewel verskeie taaldepartemente deur die jare Skryfkunsmodules aangebied het.Vandermerwe (2012) omskryf UWC Creates as ’n unieke, veeltalige, interdepartementele Skryfkunsinisiatief wat die Departemente Engels, Xhosa en Afrikaans omvat. Tans bestaan daar voorgraadse keusemodules in Skryfkuns vir Engels 3 en Xhosa 3, honneurs-keusemodules in Afrikaans en Engels en ’n MA in Skryfkunde in die Departement Engels (geloods in 2012). Daar is voorts weeklikse kreatieweskryfkuns-groepe wat oop is vir alle studente by UWK wat Engels, Xhosa en Afrikaans studeer. Hierdie groepe word deur Meg Vandermerwe (Engels), Sindiwe Magona (Xhosa) en Antjie Krog (Afrikaans) gefasiliteer. Volgens Vandermerwe (2012) is UWC Creates uniek omdat: ... students have the chance to study and write within their chosen departments/streams but also have the opportunity to come together with their peers writing in other departments/streams for shared workshops/seminars, etcetera. So the Xhosa 3 and English 3 students have joint workshops, exercises, etcetera. This is because we believe in a hybrid, multi-lingual approach to creative writing at UWC. We also produce joint multi-lingual publications such as the recent anthology, This is My Land. [... studente kans kry om binne hul gekose departemente/strome te studeer en skryf, maar ook die geleentheid het om saam met hul eweknieë wat in ander departemente/strome skryf, werkswinkels/seminare, ensovoorts by te woon. So het die Xhosa 3- en Engels 3-studente gesamentlike werkswinkels, oefeninge, ensovoorts. Dit is die geval omdat ons in ’n hibridiese, veeltalige benadering tot Skryfkuns aan UWK glo. Ons lewer ook gesamentlik veeltalige publikasies soos die onlangse bloemlesing, This is My Land.] (Outeur se eie vertaling) Vandermerwe doseer prosa en Wendy Woodward poësie, terwyl Sindiwe Magona Skryfkuns in die Xhosa Departement doseer. Die keuringsvereiste vir die voorgraadse modules is ’n portefeulje van 3000 woorde en vir die MA ’n portefeulje van 40 bladsye. Daarmee saam word ’n omskrywing verlang van wat die student genre- sowel as navorsingsgewys met die MA beoog. Skryfkuns word by wyse van lesings, groepswerkswinkels en individuele ontmoetings met studieleiers gedoseer. Voorgraads het ongeveer 50 studente in die Departement Engels reeds die Skryfkunsmodules voltooi. Die departement het tans drie MA-studente in Skryfkuns. Verskeie UWK-studente het reeds in literêre en aanlyn-tydskrifte gepubliseer, onder meer in Botsotso en Jungle Jim. Altesaam 25 studente het in die vermelde This is my land-bloemlesing gepubliseer (Vandermerwe 2012). Volgens Van Zyl (2012) het die Departement Afrikaans aan UWK reeds in 2005 ’n keusemodule in Skryfkuns gehad. Van Zyl doseer die honneursmodule in Skryfkuns, maar in ’n enkele geval (Ronelda Kamfer) het Antjie Krog die kandidaat begelei. Oor die dosering van die Skryfkunsmodule skryf Van Zyl (2012) dat selfs wanneer meer as een student die module volg, dit individueel, een-tot-een, vir elke student aangebied word. Dit kom rofweg daarop neer dat die student ’n idee voorlê wat vervolgens bespreek word. Die volgende stap is dat die student die verhaal (by uitsondering gaan dit om poësie) gaan skryf en voorlê wat eweneens bespreek en desnoods aangepas word. Die uiteindelike weergawe gaan na Abraham de Vries wat nogeens kommentaar gee wat dan lei tot ’n finale teks. Die eindproduk is sewe voltooide verhale of gedigte. Van Zyl en Antjie Krog het tot op datum saam sewe studente afgelewer. Publikasies sluit in: Ronelda Kamfer se grond/Santekraam, Christine Barkhuizen-Le Roux se Waar wyn en brood ontbreek en verhale van Elias P. Nel en Anneke Boshoff.
Die Universiteit van Pretoria
|
|
Die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns
Die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns is in 2007 aan UP gevestig deur die digter, kortverhaalskrywer en vertaler Henning Pieterse. Sedert 2009 funksioneer die Eenheid binne die Departement Afrikaans, met samewerking van al die taaldepartemente. ’n MA en PhD word aangebied in Afrikaans en Engels, en daar is ook honneursmodules in Skryfkuns wat as deel van die Afrikaans- en Engels-honneurskursus aangebied word. Studente word, volgens genre- en/of taalvoorkeur, ingedeel by Henning Pieterse, Willie Burger (Departement Afrikaans) of David Medalie (Departement Engels).Tussen 2008 en 2010 is Skryfkuns op voorgraadse vlak aangebied deur Leti Kleyn. In 2009 is daar besluit om slegs op nagraadse vlak te fokus. ’n Honneurs- of vierjarige graad is ’n voorvereiste vir toelating tot die MA en ’n keuringsportefeulje kreatiewe tekste moet aansoeke vergesel: 20 gedigte, of 10 kortverhale, of ’n substansiële gedeelte van ’n roman, drama of draaiboek. Studente moet reeds bedrewe kan skryf om tot die kursus toegelaat te word. Die MA bestaan uit twee dele: ’n kreatiewe manuskrip (75%) en ’n mini-verhandeling oor ’n navorsingstema (25%). Jaarliks word ’n reeks tweeweeklikse werkswinkels aangebied (afwisselend vir poësie en prosa) waartydens studente se tekste geslyp word, tegniese en teoretiese kwessies bespreek en leeswerk uitgedeel en bespreek word. Die PhD bestaan ook uit twee dele: ’n kreatiewe manuskrip van omvang, en ’n proefskrif met ’n teoretiese en navorsingsbasis. PhD-kandidate woon die werkswinkels saam met MA-studente by. Tot dusver het 20 MA-kandidate en een PhD-student hul grade voltooi. Studente wat selfstandig gepubliseer het, sluit in: Anna Kemp (Op reis met ‘n hond), René Bohnen (in die niks al om), Japie Bogaards (Tussen middernag en dagbreek), M.S. Burger (Bloedfamilie, bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys) en Derick van der Walt (Hoopvol, bekroon met die Sanlamprys vir Jeuglektuur). Drie ander studente se manuskripte is vir publikasie aanvaar. Studente wat in versamelbundels gepubliseer het, sluit in Cornel Judels en Corné Coetzee.
Die Departement Afrikaans
Die honneursmodule binne die Afrikaans-honneurskursus is sedert die negentigerjare van die vorige eeu deur die skrywer P.H. Roodt aangebied en sedert 2005 deur die skrywer Annette Jordaan. Daar is geen vooraf keuring vir die module nie – enige student wat kwalifiseer vir honneurs mag die module volg. Daar was met die verloop van die agt jaar reeds 36 studente wat die module geneem en geslaag het. Minstens twee studente het al een of meer kortverhale in tydskrifte gepubliseer. Daar is verhale van drie ander studente opgeneem in Nuwe stories (Jordaan 2012). Dit is hoofsaaklik ’n praktiese skryfkursus en teorie oor skeppende skryfwerk word as selfstudie aangepak en onderling uitgeruil. Die studente skryf vir elke ontmoeting (in die vorm van ’n werkswinkel-lesing) ’n kortverhaal wat dan bespreek en gekritiseer word tydens die ontmoeting. Daar word dus induktief gewerk, skryf Jordaan. Leer geskied deur oefening, selfkritiek en die bywerk van kommentaar en kritiek tydens ontmoetings. Taalprobleme word uiteraard uitgewys, asook probleme rondom verhaaltegniese aspekte – maar dan altyd deur die student se verhaal te analiseer en nie as aparte teoretiese aanbod nie. Afgesien van die eie kortverhale word soms klasoefeninge gegee soos om ’n alternatiewe slot vir ’n bestaande verhaal te skryf of om ’n bestaande verhaal vanuit een van die (ander) karakters se perspektief te herskryf. In die loop van die semester word een of meer skrywers genooi om met die studente te kom gesels oor skryfwerk en hulle eie aanpak van die skryfkuns. In die portefeulje vir evaluering moet daar uiteindelik vyf kortverhale en ’n reflekterende opstel oor hul eie skryfproses en insigte wees. Die vyf kortverhale word min of meer binne genres geplaas: een van ‘vrye keuse’ as ’n eerste verhaal; een herinneringsverhaal (waar ruimte en sintuiglike waarneming ’n belangrike rol speel); een spanningsverhaal (waarin nie net uiterlike spanning nie maar veral innerlike spanning belangrik is); een kinder- of jeugverhaal en een sogenaamde ‘literêre verhaal’ (wat nie beteken die ander moet dit nié ook wees nie, maar waarin spesifiek gepoog word om ’n meer veelvlakkige verhaal te skryf, met onder meer ’n spel wat die tydsaspek betref en ’n oop of verrassende einde).
Die Departement Engels
Die honneurskursus (-module) in Skryfkuns (Engels) is in 2002 deur die kortverhaal- en romanskrywer David Medalie gevestig. Daar is geen vooraf keuring nie: enige nagraadse student in die Fakulteit Geesteswetenskappe mag vir die module registreer en daar is gewoonlik 10 tot 15 deelnemende studente. ’n Paar studente het reeds gedigte en kortverhale in literêre tydskrifte (bv. New Contrast) gepubliseer. Medalie (2013) skryf onder meer dat die veertien week lange module ’n inleiding is tot die praktyk en ambag van Skryfkuns. Die doel daarvan is om studente aan te moedig en by te staan in die produksie van oorspronklike, esteties bevredigende en taalkundig boeiende kreatiewe werk. ‘Kreatiewe werk’ word in die algemeen gedefinieer, en kan fiksie, poësie, drama, ’n draaiboek, biografie, outobiografie of reissketse wees. Analitiese of verklarende skryfwerk word egter nie aanvaar nie. Deelnemers mag in enige genre skryf en geen leiding of bystand word gegee betreffende temas nie – studente moet hul eie temas en onderwerpe vind. Die kursus is prakties en word aangebied by wyse van ’n weeklikse werkswinkel van 90 minute. Die werkswinkel is dus die belangrikste bron van terugvoer. Daar is nie ’n teoretiese komponent of bykomende refleksiewe essays in die kursus nie en die voorbereiding van ’n portefeulje tekste is al wat verlang word. Voorts is daar nie ’n eksamen nie – studente dien ’n substansiële portefeulje in wat deur ’n eksterne eksaminator geassesseer word (Medalie 2013).
Die Universiteit van die Witwatersrand
Skryfkuns is in 2008/2009 as MA-kursus deur die digter, vertaler en romanskrywer Leon de Kock aan Wits gevestig. In 2010 volg ’n honneurskursus in Skryfkuns en vanaf 2012 word ’n PhD in Skryfkuns ingestel. Deelnemende dosente sluit in: Bronwyn Law‑Viljoen, Michael Titlestad, Gerrit Olivier, Véronique Tadjo, Michelle Adler, Craig Higginson, Bheki Peterson, Elsie Cloete, Christopher Thurman en verskeie besoekende dosente en eksterne studieleiers. Law-Viljoen (2012) skryf dat hul werkswinkels bestaan uit groepe van ses tot twaalf wat gereeld bymekaarkom (die honneursgroep weekliks, die MA-groep tweeweekliks). Die honneurswerkswinkels is strenger gestruktureer as dié in die MA – dit behels ’n kombinasie van tekste wat in die werkswinkel geskryf word, besprekings van verskillende tekstipes en terugvoer oor studente se eie tekste. In die MA-werkswinkels lê studente werk voor vir kritiese terugvoer van hul eweknieë en studieleiers. Gasskrywers en uitgewers is van tyd tot tyd deel van die werkswinkelproses. Daar word gepoog om voorgraadse kursusse in letterkunde en nagraadse kursusse in Skryfkuns deurlopend te skakel, in die hoop dat die meeste studente wat die honneursprogram in Skryfkuns aanpak ’n basis in letterkunde (intensiewe lees, literêre teorie, ensovoorts) sal hê. Volgens Law-Viljoen (2012) is hul ervaring dat die honneurs ’n goeie basis vir die MA lê en dat meer en meer studente vanuit die honneurs na die meestersgraad beweeg. Sy skryf voorts: The pedagogy, at least for the Honours degree, thus extends and supplements the pedagogy of the various programmes in literature at the university (focus on the critical reading of texts, etcetera). A strong emphasis (as in the literature degrees) is placed on critical reading and response to texts, but with the addition of a concentration on the writing process first as creative response to texts and second as a creative end in itself. So, for example, the core course in Creative Writing (in the Honours degree) focuses on short forms and begins each new module by looking at a range of examples (essays, short stories, ‘flash’ fiction), discussing and responding to these texts before moving on to the writing of an essay (or short story, etcetera). [Die pedagogie, vir die honneurs ten minste, brei dus uit op en vul die pedagogie van die onderskeie letterkundeprogramme by die universiteit aan (fokus op die kritiese lees van tekste, ensovoorts). Sterk klem word geplaas op kritiese lees en respons op tekste (soos in die letterkundegrade), maar met die byvoeging van ’n konsentrasie op die skryfproses, eerstens as kreatiewe respons op tekste en tweedens as kreatiewe oogmerk op sigself. So, byvoorbeeld, fokus die kernkursus in Skryfkuns (in die honneurs) op kort vorme en begin elke nuwe module deur te kyk na ’n reeks voorbeelde (essays, kortverhale, ‘vonkfiksie’). Hierdie tekste word bespreek en op gereageer voordat daar aanbeweeg word na die skryf van ’n essay (of kortverhaal, ensovoorts).] (Law-Viljoen 2012, [outeur se eie vertaling]) Die honneurskursus bestaan uit vyf komponente: ’n kernmodule (Working Concepts in Creative Writing), twee skryfkursusse (onder meer Writing for Performance, Creative Writing for Journalists en The ABC of Travel Writing), ’n letterkundekursus vanuit enige van die taaldepartemente en ’n lang opstel. Oor die pedagogie van die honneurskursus skryf Law-Viljoen (2012): The Honours degree has adopted, broadly speaking, the pedagogy of many writing programmes in the USA, where the focus is on a gradual deepening and sophistication of the written text through drafting, additional reading where appropriate, critical feedback (both verbal and written) and more drafting of the text. The degree seeks to encourage research as a necessary part of any writing process, and thus incorporates a long project (10 000 words) which must demonstrate evidence of wide reading and research and a grasp of the range and creative possibilities of the essay form (students may opt for a long ‘creative’ text with an accompanying ‘research’ essay). [Die honneursprogram het, in die algemeen beskou, die pedagogie van baie skryfprogramme in die VSA aangeneem, waarin die fokus op ’n geleidelike verdieping en sofistikasie van die geskrewe teks is deur ruwe ontwerp, bykomende leeswerk waar nodig, kritiese terugvoer (beide verbaal en geskrewe) en verdere weergawes van die teks. Die graad moedig navorsing aan as ’n noodsaaklike deel van enige skryfproses en sluit dus ook ’n lang projek in (10 000 woorde) wat bewys moet lewer van uitgebreide leeswerk en navorsing en ’n beheersing van die omvang en kreatiewe moontlikhede van die essayvorm (studente mag ’n langer ‘kreatiewe’ teks kies met ’n begeleidende ‘navorsings’-essay.)] (Outeur se eie vertaling) Tot dusver het 10 studente hierdie kursus voltooi, terwyl ’n verdere 12 hul studie aan die einde van 2012 sou voltooi (Law-Viljoen 2012). ’n Honneursgraad in letterkunde, joernalistiek of drama is ’n voorvereiste vir toelating tot die MA en slegs 12 studente word jaarliks tot hierdie kursus toegelaat. Law-Viljoen skryf dat dit soms die geval is dat studente toegelaat word tot die MA jare ná die voltooiing van hul voorgraadse en honneursstudies, of dat hulle die graad aanpak sonder enige literêre agtergrond. Hierdie aansoekers word vir die kursus oorweeg as hulle by wyse van ’n portefeulje en ’n onderhoud (waar toepaslik) kan bewys dat hulle oor ’n hoë vlak van vaardigheid in Skryfkuns beskik. Die MA bestaan uit ’n literêre teks (80%) en ’n navorsings- of refleksiewe essay wat die proses van die werk se komposisie in verhouding tot kontemporêre teoretiese en filosofiese debatte oor die genre van die werk en die temas wat aangespreek word, beskou (20%). Die pedagogiese aanslag van die MA volg die werkswinkelmodel van onderrig, waarin studente gereeld gedeeltes van ’n kreatiewe projek en dan die refleksiewe essay vir terugvoer voorlê aan hul eweknieë en programstudieleiers. Law-Viljoen skryf onder meer oor die PhD dat dié graad ’n hoë vlak van bevoegdheid vooronderstel, aangesien die proefskrif grootliks onafhanklik onderneem word (onder studieleiding). PhD-studente mag, informeel en vrywillig, ’n seminaar of werkswinkel vestig waarin hulle eie tekste voorlê en op mekaar se tekste reageer. Die PhD bestaan uit: . . . a creative project that may take the form of a performance and/or a body of creative work (novel, collection of stories/essays, etcetera) plus a dissertation that contextualises the work critically and defends its originality. [... ’n kreatiewe projek wat die vorm van ’n uitvoering en/of ’n korpus kreatiewe werk aanneem (roman, versameling kortverhale/essays, ensovoorts) plus ’n proefskrif wat die werk krities kontekstualiseer en die oorspronklikheid daarvan verdedig.] (Law-Viljoen 2012, [outeur se eie vertaling]) Keuringskriteria behels die volgende: ’n Toepaslik taalverwante graad of publikasiegeskiedenis. Vir die honneurskursus word ’n portefeulje van 25 bladsye verlang, vir die MA ’n portefeulje van 50 bladsye en ’n voorheen gepubliseerde boek dien as keuringskriterium vir die PhD (Law-Viljoen 2012). Tot op datum het sewe studente die MA voltooi, terwyl ’n verdere nege hul graad aan die einde van 2012 sou ontvang en nog 12 besig is met die kursus (Law-Viljoen 2012). Die volgende studente het reeds gepubliseer: Antony Altbeker (Fruit of a poisoned tree), Kevin Bloom (Ways of staying), Shaun de Waal (Exposure), Craig Higginson (The landscape painter), Pat Hopkins (Johnny Golightly comes home), Liesl Jobson (100 Papers) en Andie Miller (Slow motion).
Die Universiteit van die Vrystaat
Die Universiteit van die Vrystaat bied sedert 2009 ’n MA-kursus in Skryfkuns aan. Dosente betrokke is Hennie van Coller, Anthea van Jaarsveld, Burgert Senekal en Eleanor Bernard (dosente van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans). Die toelatingsvereistes is ’n honneursgraad, liefs in Afrikaans, Nederlands, Duits of Frans, en ’n portefeulje skryfwerk wat intern én ekstern beoordeel word. Daar is formele lesings – soms deur gasdosente. Werkswinkels word aangebied waartydens tekste (dikwels ook van studente) anoniem beoordeel word en verder werkstukke wat by geleentheid ook die basis kan vorm vir ’n besprekingsklas. Vyftig persent van die program behels korter skripsies of eksamens en die ander helfte van die kursus is toegespits op die ontwikkeling en afronding van manuskripte. Voorsiening word gemaak vir skrywerk in verskillende genres: poësie, liedtekskuns, langverhaalkuns, essayïstiese werk, ensovoorts. Ses studente het reeds die kursus voltooi. Los gedigte en verhale is gepubliseer en van die studente (bv. Gert Coetzee) is besig om ’n teks gereed te kry vir publikasie (Van Coller 2012a, 2012b).
Rhodes Universiteit
Skryfkuns is in 2011 by Rhodes op MA-vlak gevestig vir alle genres. Die program word in Engels aangebied, maar studente het ook die keuse om hul tekste te skryf in Afrikaans of Xhosa. Robert Berold (2012), digter en kursus-koördineerder van Skryfkuns by Rhodes, skryf dat hul MA deur Laurence Wright, ISEA-direkteur (Institute for the Study of English in Africa), gevestig is en dat die basis daarvan ’n gedoseerde komponent is, bestaande uit verskeie perspektiewe en gedoseer deur 12 skrywerdosente. Skrywers doseer elkeen ’n week van die program en elkeen bied ’n seminaar en werkstuk aan, gebaseer op hul eie kreatiewe praktyk. Berold (2012) verduidelik dat ’n intensief gedoseerde basis absoluut noodsaaklik is om studente in te lei tot die vele rigtings van kontemporêre letterkunde. Die kursus is gemik op sowel studente wat min literêre agtergrond het en ’n blitskursus in lees benodig, as diegene wie se literêre agtergrond estetiese verbreding benodig. Die kursus het dit ten doel om studenteskrywers se primêre verbintenis met lees te herstel. ’n Leeslys van 100 titels word verskaf en: students are also recommended specific reading in tune with their writing style as it emerges. The approach to reading is to restore the joy of reading, the pleasure of the text. [spesifieke leeswerk word ook aan studente voorgestel, in harmonie met hul ontluikende skryfstyl. Die benadering tot lees is om die vreugde van lees, die plesier van die teks, te herstel.] (Outeur se eie vertaling) Dosente betrokke by die 2013-kursus is: Joan Metelerkamp, Mxolisi Nyezwa, Brian Walter, Paul Wessels, Joanne Hichens, Anton Krueger, Carol Leff, Godfrey Meintjes, Hazel Crampton, Ingrid Winterbach, Paul Mason, Rian Malan en Robert Berold. Jaarliks is daar twee inwonende skrywers vir die MA-studente, geborg deur die Mellon Foundation. In 2012 was die Mellon-skrywers Lesego Rampolokeng en Eben Venter. Uitkomste van die MA is ’n prosaprojek van minstens 30 000 woorde, of ’n poësieprojek van meer as 35 bladsye, of 10 voltooide tonele of episodes van ’n toneelstuk of draaiboek. Die dramaturg en digter Anton Krueger bied ook sedert 2008 voor- en nagraadse kursusse in die skryf van drama in die Departement Drama van Rhodes aan. Van die kursusse is Creative Writing for the theatre waarvan die een uitkomste ’n volledige kort drama van 45 minute is en Introduction to dramatic writing. Krueger (2012) skryf oor die laasgenoemde kursus dat die doel daarvan is om studente te help om basiese vaardighede te ontwikkel in die skryf van dramatiese tekste. Daar is ’n klem op sowel vorm (uitleg, genre, plot, diksie en toonaard) as inhoud (narratief, karakterisering en tema). Die uitkomste van die kursus Dramatic writing sluit onder meer die skep van ’n vollengte verhoogteks in. Berold (2012) noem voorts dat daar van elke student verwag word om ’n dagboek te hou oor sy of haar skryfwerk: [S]tudent[s] will be required to maintain a journal of free writing in order to keep their language supple. This journal will also be used to explore and experiment with the exercises provided during the weekly seminars. The style and content of the journal is open, though an attempt should be made to provide a reflective analysis of the student’s creative processes. [Daar word van studente verwag om ’n dagboek van vrye skryfwerk te hou om hul taal soepel te hou. Hierdie dagboek sal ook gebruik word om die oefeninge wat gedurende die weeklikse seminare verskaf word, te ondersoek en mee te eksperimenteer. Die styl en inhoud van die dagboek is oop, alhoewel daar gepoog behoort te word om ’n refleksiewe analise van die student se kreatiewe proses te verskaf.] (Outeur se eie vertaling) Krueger (2012) raak ’n belangrike kwessie aan wanneer hy die volgende skryf oor assesseringskriteria van Skryfkuns-tekste: A discussion of the problematics of assessing creative writing will form part of the course content, and students will be encouraged to explore different ways of assessing their work. As the year progresses, students will be asked to develop the criteria in terms of which their work is to be adjudicated. In brief, the genre of a piece will go a long way towards determining the style, characterisation and types of narrative devices used. As far as possible, each piece of writing will be assessed in the terms it creates for itself. [’n Bespreking van die problematiek rondom die assessering van Skryfkuns sal deel uitmaak van die kursusinhoud, en studente sal aangemoedig word om verskillende maniere om hul werk te assesseer, te ondersoek. Soos wat die jaar vorder, sal studente gevra word om die kriteria te ontwikkel in terme waarvan hul werk beoordeel moet word. Kortliks: die genre van ’n stuk sal grootliks die styl, karakterisering en tipes narratiewe tegnieke gebruik, bepaal. So ver moontlik sal elke teks geassesseer word op grond van die voorwaardes wat dit self daarvoor skep.] (Outeur se eie vertaling) Krueger (2013) brei uit op hierdie kwessie in sy dokument Creative writing – Criteria waarin hy skryf oor die moontlike assesseringkriteria van die verskeie elemente van ’n dramateks – plot, struktuur, styl, karakterkonstruksie, dialoog, oorspronklikheid, ritme en subteks. Waar die ander universiteite merendeels op die genres van prosa en poësie konsentreer, akkommodeer Rhodes álle genres. Sewe studente het reeds die MA voltooi; twee van hulle se manuskripte is vir publikasie aanvaar (Berold 2012).
Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
Kevin Goddard het voorgraadse modules in Skryfkuns as deel van die Engels-kurrikulum gevestig aan die NMMU. Sedert 2011 doseer die digter Marius Crous Skryfkunde-modules aan hierdie universiteit. Hy skryf dat daar tans geen formele kursusse vir kreatiewe skryfkunde in Afrikaans aan die NMMU is nie. Hy het die proses onlangs aan die gang gesit en vanaf 2015 sal hulle ’n navorsingsgebaseerde MA in Kreatiewe Skryfkunde aanbied. Dit sal bestaan uit twee dele, te wete ’n navorsingskripsie of beskouende opstel en ’n manuskrip van publiseerbare lengte. Studente kies of hulle in Afrikaans, Engels of IsiXhosa wil skryf. Die toelatingsvereiste is ’n honneursgraad of bewys van publikasiegeskiedenis. Tot op hede was die MA ’n hibridiese kursus – dit wil sê ’n MA-tesis waarin die kreatiewe deel as addendum aangeheg word. Dit sal hopelik verander met die instelling van die nuwe MA.Voorgraads word kreatiewe skryfwerk wel in Engels en IsiXhosa aangebied. In Engels 2 word in die eerste semester gefokus op die skryf van poësie (die studente begin met kinderpoësie en behandel die vernaamste tipes gedigte [byvoorbeeld kwatryn, sonnet, ensovoorts]). Aangesien die studente in mediastudie geleer word om filmtekste te skryf, fokus Crous eerder op poësie, kortverhale en eenbedrywe. Wat die derde jaar betref, word net van die studente vereis om ’n manuskrip in te lewer. Dit word aangevul deur uitgebreide leeslyste en die inlewering van verskeie weergawes, want dis nogal veel gevra van ’n derdejaarstudent om sonder enige opleiding ’n manuskrip te voltooi, voeg Crous by. Die gevaar bestaan dat studente altyd dink kreatiewe skryfkunde is ’n maklike opsie as dit kom by die kies van modules, reken Crous (2012). Hy probeer die tweedejaarsmodules laai sodat dit gelykstaande is aan ’n soortgelyke module in Engels met voorgeskrewe boeke, twee opstelle en ’n eksamenvraestel. Studente wat Engels I geslaag het, mag Skryfkunsmodules in die tweede jaar neem. Crous noem dat die klasse gewoonlik klein is – nooit meer as 10 nie – en dit aangevul word deur leeslyste uit verskillende letterkundes, byvoorbeeld gedigte van die Nobelpryswenners, ensovoorts. Studente woon een keer per week ’n lesing van 90 minute lank by en lewer na afloop van die kursus ’n portefeulje in. Die lesings bestaan uit werkswinkels waartydens praktiese terugvoer op tekste gelewer word en besprekings van tekste plaasvind. Soms word sprekers (skrywers) genooi om oor bepaalde aspekte van skryfkuns te praat. Oor metodologie en assessering skryf Crous (2012): ‘Ek maak nie van ’n spesifieke metodologie gebruik nie. Ek vind wel die evaluering of assessering problematies. Daar maak ek gewoonlik van musiekkomposisie se templaat gebruik.’ Tot op hede het een student in Engels gegradueer. ’n Tweede student beoog om in 2013 in te lewer, met ’n Afrikaanse filmteks as kreatiewe komponent.
Samevatting en bevindings
|
|
Uit die terugvoer word bepaalde aspekte duidelik.Voor- en/of nagraads: Ses universiteite – US, Rhodes, UKZN, NWU, NMMU en UWK – bied Skryfkuns op voorgraadse (een tot drie modules) sowel as nagraadse vlak. Vier universiteite – UK, Wits, UP en UV – bied die kursus slegs op nagraadse vlak. Net een – UNISA – bied dit slegs voorgraads. UNISA se derdejaarsuitkomste is baie hoog, vergelykbaar met die nagraadse uitkomste van ander universiteite. Slegs Wits bied ’n volledige honneursprogram in Skryfkuns (wat baie bewus met die voorgraadse letterkundekursusse sowel as met die MA in Skryfkuns skakel) en slegs NWU, Wits, UP en UKZN bied ’n PhD in Skryfkuns. Taalmedium: Die meeste universiteite laat studente toe om in Afrikaans of Engels te skryf, terwyl UWK, NMMU en Rhodes ook vir Xhosasprekende studente voorsiening maak. Slegs NWU en UV se MA-program is eentalig Afrikaans, terwyl dié van Wits en UKZN eentalig Engels is. Pedagogie/didaktiek: Al die respondente raak pedagogiese en didaktiese kwessies direk of indirek in hul terugvoer aan. Een kernkomponent is duidelik: studente word deur die bank gedwing om wyd te lees – ‘reading for writing’, ofte wel leeswerk vir skryfwerk, soos Moolman (2012) dit stel. Law-Viljoen (2012), Moolman (2012) en Berold (2012) besin in besonderhede oor hierdie kwessie. ’n Artikel oor didakties-pedagogiese kwessies met betrekking tot die dosering van Skryfkuns aan Suid-Afrikaanse universiteite word deur die navorser in die vooruitsig gestel, in aansluiting by navorsers soos Harper (2006, 2010), Harper en Kroll (2008a) en Earnshaw (2007). Teorie en navorsing is deel van die voor- en nagraadse kursusse in Skryfkuns by die meeste universiteite, spesifiek by UWK, UK (veral Van Heerden se prosakursus), UKZN, UNISA en UP se honneursmodule (waar teorie as selfstudie by die student beskou word – kyk Jordaan [2012]). Dit is egter duidelik dat die praktiese skryfkomponent die kern vorm van al die nagraadse kursusse, alhoewel dieselfde gewig nie deur die verskillende instansies daaraan toegeken word nie – kyk die paragraaf oor ‘Assessering’ verder aan. Die werkswinkel: Dit is duidelik dat die werkswinkel die voorkeurmetode van onderrig vir al die universiteite is, veral op MA-vlak. Waar die studente volgens genre (poësie en prosa) geskei en ingedeel word in werkswinkels by UP en UK, word alle studente, ongeag genre, in een werkswinkel (‘seminaar’) geakkommodeer by US. By UWK word die Engels 3- en IsiXhosa 3-studente saam geakkommodeer in een werkswinkel, terwyl MA- en PhD-studente saam werkswinkels bywoon by UP. Verdere navorsing oor die struktuur, verwagtings vir en uitkomste van die werkswinkelmodel aan die onderskeie universiteite word in die vooruitsig gestel. Assessering: Krueger (2012, 2013) en Crous (2012) raak die problematiek van die assessering van skryfkunstekste aan. Krueger (2013) maak spesifieke voorstelle oor die assessering van elemente in dramatiese tekste soos plot, struktuur en dialoog en noem: ‘As far as possible, each piece of writing will be assessed in the terms it creates for itself’ [So ver moontlik sal elke teks geassesseer word op grond van die voorwaardes wat dit self daarvoor skep]. Crous noem dat hy komposisietemplate as evalueringsmodel gebruik. Meer navorsing, in aansluiting by byvoorbeeld Newman (2007), behoort oor die assessering – met betrekking tot bestaande en moontlike kriteria – van ’n uiters subjektiewe veld gedoen te word. Die gewig van die kreatiewe komponente van die MA wissel voorts tussen universiteite: by Wits tel dit byvoorbeeld 80%, by UP en UK 75% en by Rhodes, NMMU en US 50%. Keuringskriteria: ’n Literêre onderbou word van voornemende studente verwag by al die universiteite, maar studente uit ander vakrigtings benewens letterkunde word tot die verskeie MA- en PhD-grade toegelaat op grond van vorige skryfervaring (dus Recognition of Prior Learning [RPL], ofte wel ‘erkenning van vorige leer’) – ’n aspek wat deur die keuringsportefeulje bepaal word. Alhoewel die besonderhede moontlik kan verskil, stem al die respondente hier oor een aspek saam: ’n omvattende portefeulje kreatiewe tekste moet deur voornemende MA- en PhD-studente voorgelê word vir keuringsdoeleindes, terwyl ’n publikasiegeskiedenis ’n student se aansoek versterk, veral met betrekking tot toelating tot die PhD. Met die uitsondering van NWU, UK en UP, wat Skryfkuns-kursusse onderskeidelik in die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu gevestig het, het al die ander universiteite Skryfkuns eers vanaf 2000 (UKZN), 2001 (UNISA), 2002 (US), 2005 (UWK), 2007 (UP – nagraads), 2008 (Wits), 2009 (UV) en 2011 (Rhodes en NMMU) begin aanbied. Die getal studente wat binne hierdie relatief kort tydperk afgelewer is, is indrukwekkend. Studente afgelewer: in totaal, by benadering; slegs volledige Skryfkunsgrade word hier in berekening gebring, nie enkele modules nie: Voorgraads (UNISA en NWU): etlike honderde; Honneurs (Wits): 22; MA (UK, US, Rhodes, UP, UKZN, Wits, NWU en UV): 119; PhD (UKZN, UP en NWU): 8. Dit is veral op MA-vlak – waar studente ook uit ander vakrigtings benewens tale en die geesteswetenskappe toegelaat word – waar groot vooruitgang te sien is: in die bestek van 10 jaar (met die uitsondering van UK wat sedert 1992 die MA aanbied) het agt universiteite meer as 110 MA-verhandelings afgelewer. Alhoewel nie een van die respondente gepubliseerde manuskripte as uitkomste aandui nie (Greyling [2012a] maak dit byvoorbeeld duidelik dat die fokus van NWU se MA en PhD meer op die ontwikkeling van die student as selfstandige navorser en skrywer is en nie op die ontwikkeling van manuskripte as sodanig nie), is dit wel waar dat verskeie manuskripte vanuit skryfskole gepubliseer is en steeds word. Die kwessie van ratio van voltooiing van graad tot gepubliseerde boek is stof vir verdere navorsing. Die talle bekroonde publikasies in alle genres (veral in poësie en prosa) vanuit die verskeie skryfskole – in bloemlesings en as afsonderlike bundels of boeke – deur veral afgestudeerde MA-kandidate getuig van die waarde van universiteitsopleiding in Skryfkuns as basis vir publikasie. Die gehalte van hierdie publikasies weerlê Van Niekerk (2012:167) se growwe veralgemening: ‘Sommige romans of verhale wat na afloop van so ’n [Skryfkuns]-kursus gepubliseer word, is dikwels yl of pretensieus of lomp – of al drie.’ Dit is duidelik dat Skryfkuns ’n groeipunt aan Suid-Afrikaaanse universiteite is. Met betrekking tot groei en publikasie-uitkomste, sluit Suid-Afrikaanse Skryfkuns by ’n wêreldwye tendens van vooruitgang in universiteitsgebaseerde Skryfkunsprogramme aan. Die getalle afgelewerde studente en publikasies van dié studente en hul dosente dra ongetwyfeld by tot ’n kragtiger Suid-Afrikaanse letterkundelandskap.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.
American University in Cairo, n.d., Gretchen McCullough, viewed 30 October 2012, from
http://www.aucegypt.edu/fac/profiles/pages/mcculloughgretchen.aspx
Anker, W., 2012a, e-pos, 15 Augustus,
anker@sun.ac.za
Anker, W., 2012b, ‘Skryfskool aan die Universiteit van Stellenbosch’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 374–375, Penguin, Johannesburg. Berold, R., 2012, e-pos, 05 Augustus,
r.berold@gmail.com
Coovadia, I., 2012, e-pos, 31 Julie,
imraan.coovadia@gmail.com
Crous, M., 2012, e-pos, 01 Oktober,
marius.crous@nmmu.ac.za
Delaney, E.J., 2007, ‘Where great writers are made’, in The Atlantic, viewed 30 November 2012, from
http://www.theatlantic.com/magazine/archive/2007/08/where-great-writers-are-made/306032/
Du Plessis, H., 2012, ‘Die ATKV-Skryfskool’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 367, Penguin, Johannesburg. Earnshaw, S. (ed.), 2007, The handbook of Creative Writing, Edinburgh University Press, Edinburgh. Ferreira, J. & Kotzé-Myburgh, S., 2012, (samest.), Nuwe stories, Human & Rousseau, Kaapstad. Greyling, F., 2012a, e-pos, 30 Julie,
franci.greyling@nwu.ac.za
Greyling, F., 2012b, ‘Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 371–372, Penguin, Johannesburg. Hambidge, J., 2012a, e-pos, 30 Julie,
joan.hambidge@uct.ac.za
Hambidge, Joan, 2012b, ‘Kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 372–373, Penguin, Johannesburg. Harper, G. (ed.), 2006, Teaching Creative Writing, Continuum, London/New York. Harper, G. & Kroll, J. (eds.), 2008a, Creative Writing studies. Practice, research and pedagogy, Multilingual Matters Ltd., Cleveland/Buffalo/Toronto. Harper, G. & Kroll, J., 2008b, ‘Creative Writing in the university’, in G. Harper & J. Kroll (eds.), Creative Writing Studies. Practice, Research and Pedagogy, pp. 1–9, Multilingual Matters Ltd., Cleveland/Buffalo/Toronto. Harper, G., 2010, On Creative Writing, Multilingual Matters Ltd., Cleveland/Buffalo/Toronto. Indian Freelance Writers, n.d., The best writing courses in India, viewed 28 April 2013, from
http://www.indianfreelancewriters.com/2012/09/the-best-writing-courses-in-india-html
Jordaan, A., 2012, e-pos, 14 November,
annette.jordaan@up.ac.za
Keuris, M., 2012, e-pos, 04 September,
keurim@unisa.ac.za
Krueger, A., 2012, e-pos, 30 Julie,
mnrkrueger@gmail.com
Krueger, A., 2013, ‘Creative Writing – Criteria (Document with guidelines to external examiners)’, Rhodes University. Lam, B., n.d., The Chinese writing degree, viewed 28 April 2013, from
http://www.franklincenter.org/us/content/BarbaraLam_ClingerReport
Law-Viljoen, B., 2012, e-pos, 13 Augustus,
bronwyn.lawviljoen@wits.ac.za
Medalie, D., 2013, ‘The Honours course in Creative Writing (Information document on English 780)’, University of Pretoria. Moolman, K., 2012, e-pos, 13 Augustus,
moolman@ukzn.ac.za
National Open University of Nigeria, n.d., Creative Writing 1 – National Open University of Nigeria, viewed 03 June 2013, from
http://www.nou.edu.ng/noun/NOUN_OCL/pdf/pdfs2/ENG 12.pdf
ENG%2012.pdf Newman, J., 2007, ‘The evaluation of Creative Writing at MA level (UK)’, in S. Earnshaw (ed.), The handbook of Creative Writing, pp. 24 –36, Edinburgh University Press, Edinburgh. Odendaal, B., 2013, e-pos, 02 Julie,
bernard.odendaal@nwu.ac.za
Pieterse, H.J., 2012, ‘Kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 373–374, Penguin, Johannesburg. Scheepers, R. & Kleyn, L. (samests.), 2012, Die Afrikaanse skryfgids, Penguin, Johannesburg. Swander, M., Leahy, A. & Cantrell, M., 2007, ‘Theories of Creativity and Creative Writing Pedagogy’, in S. Earnshaw (ed.), The handbook of Creative Writing, pp. 11–13, Edinburgh University Press, Edinburgh. Taljaard-Gilson, G., 2012, e-pos, 04 September,
taljagh@unisa.ac.za
University of Botswana n.d., Program Details: Master of Arts Programme in African Languages and Literature, viewed 03 June 2013, from
http://www.ub.bw/programdet/pid/Master-of-Arts-Programme-in-African-Languages-and-Literature
University of Cape Town n.d., Creative Writing at UCT, viewed 31 July 2012, from
http://www.creativewriting.uct.ac.za
University of Ghana n.d., Department of English, viewed 03 June 2013, from
http://www.ug.edu.gh/index1.php?linkid
http://www.ug.edu.gh/index1.php?linkid=703
Van Coller, H., 2012a, e-pos, 01 Augustus,
meiringi@ufs.ac.za
Van Coller, H., 2012b, ‘MA in skryf en vertaal by die Universiteit van die Vrystaat’, in R. Scheepers & L. Kleyn (samest.), Die Afrikaanse skryfgids, bl. 375, Penguin, Johannesburg.
PMid:23237124
Vandermerwe, M., 2012, e-pos, 20 Augustus,
megvandermerwe@yahoo.com
Vanderslice, S., 2008, ‘Sleeping with Proust vs. Tinkering under the bonnet: The origins and consequences of the American and British approaches to Creative Writing in Higher Education’, in G. Harper & J. Kroll (eds.), Creative Writing Studies. Practice, research and pedagogy, pp. 66–74, Multilingual Matters Ltd., Cleveland/Buffalo/Toronto. Van Heerden, E., 2012, e-pos, 22 Augustus,
etiennev@mweb.co.za
Van Niekerk, J., 2012, ‘Resensie van Alfabet van die voëls’, Tydskrif vir Letterkunde 49(2), 167–169.
http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v49i2.14
Van Zyl, W., 2012, e-pos, 28 September,
wvanzyl@uwc.ac.za
Writers’ Workshop, University of Iowa, n.d., Writers’ workshop, University of Iowa, viewed 10 August 2012, from
http://www.uiowa.edu/~iww/
1. Daar is gepoog om telefonies, sowel as per e-pos, inligting oor die dosering van Skryfkuns aan die Universiteite van Transkei, Fort Hare, Venda en Limpopo
te verkry; geen terugvoer is egter aan die navorser verskaf vanuit hierdie instansies nie. Buitelandse universiteite wat kampusse binne
Suid-Afrika bedryf, soos byvoorbeeld Monash (Australies), word vir die doel van hierdie artikel buite rekening gelaat.
|