Article Information

Author:
Leti Kleyn1

Affiliation:
1Department of Information Science, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Leti Kleyn

Postal address:
Lynwood Road, Pretoria 0001, South Africa

Dates:
Received: 17 Jan. 2013
Accepted: 15 July 2013
Published: 11 Oct. 2013

How to cite this article: Kleyn, L., 2013, ‘Ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê’: ’n Terreinverkenning van skryfopleiding in die groter Afrikaanse literêre sisteem (1995–2012)’, Literator 34(2), Art. #416,  9 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.416

Note:
Die titel van dié artikel is ontleen aan ’n uitspraak van Jaco Botha tydens ’n onderhoud met Herman Wasserman (2000:4). Volledig lees dit soos volg:

‘Ek is klaar met literêre dinge, ek is ’n baie pragmatiese mens. ’n Mens se ervaringswêreld is baie beperk binne ’n literêre gemeenskap – ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê [...]’. Hierdie artikel vorm deel van ’n meer omvattende studie oor kanoniseringsmeganismes in die Afrikaanse literêre sisteem.

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
‘Ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê’: ’n Terreinverkenning van skryfopleiding in die groter Afrikaanse literêre sisteem (1995–2012)
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Die ontwikkeling van skryfopleiding – ’n Chronologie
Die behoefte aan skryfopleiding – formeel én informeel
Soorte opleiding
   • Mentorskap by www ...
   • Uitgewers – Publikasiegeleenthede en ontwikkeling
   • Slypskole
   • Skryfhandleidings
   • Tersiêre kwalifikasies
Gepubliseerde werke (1995–2012)
Bemarking en ontvangs van skryfskoolwerke
Bekroning van skryfskoolwerke
Nagraadse skryfopleiding in die Afrikaanse literêre sisteem
Ten slotte
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstrak

Hierdie artikel fokus op die rol wat skryfopleiding gedurende die tydperk 1995–2012 in die groter Afrikaanse literêre sisteem vervul het, met spesifieke verwysing na skryfopleiding as nagraadse kwalifikasie. Ondersoek word ingestel na die ontwikkeling van die vakgebied op tersiêre vlak, soorte skryfopleiding en die rol van mentorskap in die ontwikkeling van skryftalent. Daarbenewens word die getal solopublikasies wat tot op datum verskyn het van skrywers wat skryfopleiding ondergaan het, die rol wat skryfopleiding in die verpakking speel, die ontvangs en die toekenning van literêre pryse oorweeg. Ten slotte word daar gekyk na die rol (positief en negatief) wat skryfopleiding in die literêre sisteem vervul.

Abstract

Keeping it real for the sake of my career: An exploration of teaching creative writing in the broader Afrikaans literary system (1995–2012): This article focuses on the impact which training for creative writers has had in the wider Afrikaans literary system during the period 1995–2012 with specific reference to creative writing as postgraduate qualification. Development of the subject on tertiary level and the role of mentorship in the development of creative writing talent are examined. Furthermore, the investigation covers the number of solo book publications to date by people who followed courses in creative writing, how training in writing affects packaging, as well as the reception and awarding of literary prizes. Lastly, the teaching of creative writing within the literary system (both positively and negatively) is taken into consideration.

‘Keyter is ’n doos, Mat. Hy is ’n klein windgat stasiespeurdertjie met ’n houding en ’n groot kop. Hy weet fokkol. Wat het geword van “al die mannekrag wat jy nodig het”?’

‘Vir voetwerk, Bennie. Ek kan nie eenheidsmense afstaan nie. Jy weet almal is toegegooi met werk. En Keyter is nuut. Hy moet leer. Jý moet hom mentor.’

‘Mentor.’

‘Maak ’n speurder van hom.’

‘Dis sulke tye,’ sê Griessel, ‘dat ek weet hoekom ek ’n fokken alkoholis is.’ (Meyer 2004:173)

Inleiding

Skryfopleiding in die Suid-Afrikaanse (maar ook Afrikaanse) konteks vorm dekades reeds deel van die ontwikkeling van skrywers. Die populariteit van skryfskole as deel van verál nagraadse programme by tersiêre instellings het die afgelope dekade toegeneem, so ook die getal publikasies wat deur studente aan skryfskole gelewer is. Tussen 1993, met die instelling van M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk, en 2012 het daar 35 gepubliseerde tekste uit hierdie inisiatiewe vir skryfopleiding verskyn. Dié skryfskole speel dus ’n prominente rol in die uitgebreide Afrikaanse literêre sisteem deur ’n verbintenis met akademiese instansies; uitgewershuise (publikasiegeleenthede en skrywersbeurse), sowel as die rol wat erkenning aan mentorskap in die bemarking van die produk speel; resensies en uitsprake in die media; bekronings; asook die literêre en kanoniseringswaarde wat ’n teks bewerkstellig.

Die ontwikkeling van skryfopleiding – ’n Chronologie

Gesprekke rakende die nodigheid, haalbaarheid, metodiek, pedagogiek en waarde van skryfopleiding vir die Afrikaanse letterkunde – tans in ’n bloeitydperk – het op interessante wyse verloop. Prinsloo (in ’n voorwoord tot Marais 1987) skryf dan ook oor dié heersende debat:

Oor die waarde van opleiding in skeppende skryfwerk is almal dit nog nie eens nie, maar daar word toenemend besef dat hierdie vorm van onderrig met goeie gevolg toegepas kan word om skrywers op te lei of om die gehalte van die skryfwerk te verbeter, al kan die werklike omvang van die resultate van skrywersopleiding nie maklik en in alle gevalle met volkome sekerheid bepaal word nie. (Voorwoord)

In 1932 verskyn Pienaar en Langenhoven se Hoe om te skrywe: Hulpboekie by die studie van die stelkuns, gerig op die skoolonderwyser:

Die doel van hierdie handboek is natuurlik nie om leerlinge op te lei tot skeppende kunstenaars nie. Poeta nascitur non fit kan met waarheid in ’n baie algemener omvang gestel word: Die kunstenaar word gebore, nie gemaak nie. (Pienaar & Langenhoven 1932:9)

Die klem word geplaas op die rolpersletterkunde in Dienaar van die geskrewe woord: ’n Handleiding vir studente en aspirant-beoefenaars van die skryfkuns deur Mocke (1941):

Die kortverhale, sketse, romans en ander werke wat in die reël in tydskrifte [en koerante] verskyn en waarvan die doel nie soseer is om die enkele kritiese leser tevrede te stel nie, maar om ontspanning te verskaf aan die groot gros lesers vir wie die letterkunde uitsluitend ’n weg is waarlangs hulle die werklikheid van die lewe ontvlug. (bl. 7)

Mocke (1941) gee egter ook aandag aan die skryfwerk in populêre subgenres van die prosa (onder meer spannings- of speurverhale, spook- of bonatuurlike verhale en die humoristiese kortverhaal), joernalistiek, digkuns en drama.

Schoonees (1948) voer in sy Verskeidenheid: ’n Bundel opstelle en gedagtes aan dat die skryftegniek aan twee eenvoudige grondbeginsels gemeet kan word:

Die eerste is om wat jy sê op die eenvoudigste wyse, padlangs, sonder omhaal van woorde uit te druk sodat dit selfs die haastige leser nie afskrik nie. Die tweede, wat eintlik dieselfde doel beoog, is om jou sêgoed so in te span dat dit die leser dwing om verder te lees. (Schoonees 1948:178)

Dit is egter eers teen 1960 dat die kwessie van skryfkuns as ’n universiteitsvak ter sprake kom (Ernst van Heerden 1960:24–27)

en dat D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium by die Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika, as deel van die Afrikaans-Nederlands III-kursus tot stand kom (kyk ook De Wet 1994; Marais 1987, 1994, 2001). Twee dekades lank bied Opperman ’n mentorskapprogram aan in die skryf van die Afrikaanse poësie vir studente in die letterkunde (geskoei op die Amerikaanse model wat Van Heerden na Suid-Afrika gebring het), voordat daar weer ’n pleidooi vir dié vakgebied by tersiêre instansies ontstaan (Du Plessis 1993a:114–115) en die gesprekke hervat word (onder meer in Aucamp 1992).

Skryfopleiding neem sedert die tagtigerjare toe met kursusse wat deur uitgewers, kultuur- en skrywersverenigings en universiteite aangebied word (Marais 1987:3–4), maar bereik ’n hoogtepunt met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se konferensie oor goeie, gewilde prosa waar die opleiding van skrywers weer ter sprake kom. Met finansiële steun van die ATKV het die Potchefstroomse Universiteit (PU) vir Christelike Hoër Onderwys (CHO) sedert 1985 ’n verskeidenheid kursusse in skryfopleiding (verskeie genres) begin aanbied. In 1990 word ’n leerstoel in skeppende skryfwerk ingestel en Hans du Plessis dien meer as twee dekades lank as direkteur van die ATKV-Skryfskool. Sedert 1993 word Afrikaanse skryfkuns hier ook as voor- en nagraadse vak aangebied (kyk Marais 1994:50–72 vir ’n volledige oorsig en bespreking).

Sedertdien was daar plaaslik, sowel as internasionaal, ’n opbloei in die getal voor- en nagraadse kursusse in skryfkuns wat aan universiteite gevolg kan word (onder die hofie ‘Tersiêre kwalifikasies’). Gelyklopend daarmee het daar, veral internasionaal, ’n reeks publikasies oor die pedagogiek van dié vakgebied verskyn en is ’n akademiese tydskrif, New Writing: The International Journal for the Practice and Theory of Creative Writing, gevestig. Ook is ’n gespesialiseerde akademiese publikasiereeks, New Writing Viewpoints, ontwikkel.

Vooruitgang betreffende skryfopleiding het die afgelope twee dekades plaaslik ook op feitlik alle gebiede plaasgevind (onder die hofies ‘Mentorskap by www’ tot ‘Tersiêre kwalifikasies’), ook met betrekking tot nagraadse kursusse aan universiteite, en daar het reeds drie uitgawes van Literator (2000, 2009, 2012) verskyn met artikels wat op die een of ander wyse met skryfkuns gemoeid was. Daarbenewens het ’n reeks akademiese artikels ook elders in vaktydskrifte verskyn (kyk onder meer Breed & Greyling 2009; Combrink, Greyling & Du Plessis 2008; Du Plessis 2011; Greyling 2005).

Die behoefte aan skryfopleiding – formeel én informeel

‘[G]één skrywer wat ek ken, kan met eerlikheid sê dat hy geen informele opleiding gehad het nie’ (Aucamp 1992:73). Een van die oervorme van informele opleiding is die mentor:

Agter Elsa Joubert rys Sara Goldblatt [...] agter Etienne Leroux, Jan Greshoff; agter M.E.R., Van Wyk Louw, Opperman en J. du P. Scholtz; agter talle Tydskrif vir Letterkunde-skrywers, Elize Botha. In my studentejare het Eitemal my en Abraham H. de Vries onder sy sorg geneem, en doktor Fransie Malherbe het omgesien na Izak de Villiers. (Aucamp 1992:74)

Ook Johann Lodewyk Marais (1987:1) voer in sy sisteem-ondersoek na opleiding in skeppende skryfkuns aan dat dit onder gevestigde skrywers ‘duidelik [is] dat ’n skrywer dikwels op ’n deurslaggewende stadium in sy skryfloopbaan hulp met en aanmoediging in sy skryfwerk ontvang het’.

Dit is egter nie net die mentor wat ’n invloed op die jong skrywer gehad het nie; Aucamp (1992:68) dui in die voortdurende gesprek oor skryfopleiding aan dat publikasie ook ’n groot rol in die aanmoediging van skrywers speel. Antjie Krog, André le Roux en Koos Prinsloo is maar enkele voorbeelde van skrywers wat reeds op skool in die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Poort gedebuteer het. In Opperman (1946, 1965) se twee uitgawes van Stiebeuel maak 34 digters hul debuut en in die bloemlesing Visier kry nog agt ’n publikasiegeleentheid (kyk ook Kannemeyer 1996:11). Ongeveer 18 van hierdie gebloemleesde digters gee later solobundels uit en vyf word gerekende prosaskrywers. Met betrekking tot die Nuwe Stemme-reeks (onder die hofie ‘Uitgewers – publikasiegeleenthede en ontwikkeling’) is dié tendens wéér sigbaar en is dit duidelik dat veral uitgewers en aanlyndienste die laaste dekade aktief toegetree het tot die ontwikkeling van skrywers deur publikasiegeleenthede te bied (onder die hofie ‘Uitgewers – publikasiegeleenthede en ontwikkeling’, asook ‘Slypskole’).

Die koms van die internet het egter tot ’n ooraanbod kreatiewe werk aanleiding gegee – maklike publikasiemoontlikhede sonder die nodige keuring of terugvoering gee dus nie die tradisionele ondersteuning, ontwikkeling of status van publikasie nie. Riana Scheepers verduidelik:

Dit is een van die grootste behoeftes van die jong skrywer om ’n kundige en betroubare mentor te hê. [...] ’n Jong skrywer (en selfs sommige gepubliseerde skrywers) het immer behoefte aan ’n onselfsugtige mentor, ’n egolose leraar, ’n sensitiewe rigtingwyser wat toegewyd alles van daardie persoon lees, ’n kundige en streng redakteur wat alles wat fout is kan regmaak, hom artistiek slyp en hom bewaar van die bose. (Scheepers & Kleyn 2012:361)

Die gevestigde skrywer is egter lank nie meer die geduldige mentor wat die jong skrywer help om ’n plek in die Afrikaanse kanon te verower nie. Deesdae woon die aspirantskrywer ’n eendagkursus by of skryf vir ’n graadprogram aan ’n universiteit in. Publikasie in ’n gratis openbare ruimte is maklik, maar skryfopleiding het ekonomiese waarde gekry en is nou ’n betaaldiens soos enige ander.

Soorte opleiding

Sedert Marais (1987, 1994) skryfkuns in die Afrikaanse sisteem verken het, het daar heelwat ontwikkeling met betrekking tot skryfopleiding plaasgevind wat verandering in die uitgebreide literêre sisteem tot gevolg gehad het. Rolspelers in die Afrikaanse literêre sisteem sien tans soos volg daar uit:

1. Aanlynwebtuistes wat skryfopleiding bied (bv. LitNet se aanlynskryfskool), sowel as aanlynskryfskole met dienste vir manuskripontwikkeling (bv. SA Vryskutskrywers).

2. Uitgewers as ontwikkelaars van debuutskrywers deur publikasies en werksessies.

3. Skrywers wat dag- of weeklange skryfkursusse aanbied (b.v. Harry Kalmer, Martie Preller en Riana Scheepers).

4. Handleidings vir skryfontwikkeling (bv. Die Afrikaanse Skryfgids en Om te skryf).

5. Nie-formele opleiding by slypskole wat aan ’n universiteit aangebied word (bv. ATKV se Skryfskool en die Universiteit van Pretoria se Winterskool).

6. Formele tersiêre onderrig aan universiteite (voorgraadse en nagraadse programme).

7. Informele opleiding deur byvoorbeeld skrywers-verenigings (soos die Afrikaanse skrywersvereniging en die Bloemfonteinse skrywersvereniging).

Mentorskap by www ...
By die voornemende skrywer is daar gewoonlik twee behoeftes: ’n waardeoordeel en raad hoe om te verbeter (Du Plessis 1993a:109). Deesdae is die aanvraag na skryfbegeleiding so groot dat dit ’n waardevolle kommersiële rolspeler in die literêre sisteem geword het. Uitgewers en webtuistes wat kreatiewe werk publiseer, word oorval deur materiaal waarvan die gehalte meestal veel te wense oorlaat (kyk ook Marais & De Goede 2010:5–7; Odendaal 2010a).

Wat die poësie betref, meen Marais en De Goede (2010:6): ‘Ongemotiveerde eindrym, retoriese taalgebruik, stilistiese onbeholpenheid, afgesaagde beelde, ongetemperde sentimentaliteit, registerverwarrings en nawelstaardery [...] dien as verklaptekens van ’n gebrek aan lees- en skryfervaring.’

Die grootste probleem met dié gebrekkigheid word verder deur Marais en De Goede (2010) beskryf as:

Om in te skryf vir ’n bloemlesing soos dié sonder om vertroud te wees met die stand van eietydse digkuns, is om te glo jy kan sinvol bydra tot ’n gesprek wat jy hoegenaamd nie gevolg het nie. (bl. 6; Burger 2005:13)

Die internet het ook ’n belangrike bron vir skryfontwikkeling geword. Voorbeelde hiervan is:

1. Aanlynskryfopleiding vir voornemende skrywers, kritieklewering op manuskripte, sowel as die aanbod van redigeer- en vertaaldienste (onder meer by http://www.savryskutskrywer.co.za).

2. LitNet se openbare aanlynslypskool onder mentorskap van ’n gevestigde skrywerspaar, met bykans 20 werksessies vir digters en kortverhaalskrywers reeds voltooi ( http://www.litnet.co.za).

3. ’n Interaktiewe webblad (van die Om te skryf-publikasie) waar skryfoefening gedoen en inligting bekom kan word ( http://www.omteskryf.co.za).

Uitgewers – Publikasiegeleenthede en ontwikkeling
In die Afrikaanse poësie veral was daar rondom 2000 ’n opbloei in publikasiegeleenthede vir debutante. Tafelberg het sedert 1999 vier volumes in die Nuwe Stemme-reeks gepubliseer en sodoende aan bykans 70 digters ’n geleentheid gegee om te debuteer, waarvan 15 solobundels gepubliseer en minstens vier ook as prosaskrywers gedebuteer het.1

Nuwe Stemme 3 (Krog & Schaffer 2005) en Nuwe Stemme 4 (Marais & De Goede 2010) het met slypsessies in Johannesburg en Kaapstad begin, en vir Nuwe Stemme 5 (Marais & Du Plooy 2013) is daar ’n virtuele skrywerswerkwinkel met ’n Facebook-blad geskep. Die Facebook-blad is ook opgevolg deur werkswinkels in Kaapstad en Johannesburg.

Marais en De Goede (2010) wys op die uitdaging waarmee die samesteller te make het wanneer ’n slypskool betrokke is waarin die samesteller óók ’n mentorsrol vervul:

Indien jy [samesteller] geïnteresseerd is in dit wat net ’n spesifieke ongepubliseerde digter kan skep, mag jy nie vashou aan rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie nie. Anders gaan jy elke bydraer by die slypskool in dieselfde rigting stuur en bloot gedigte opneem wat jou eie idee van goeie poësie weerspieël. En dit sou veral noodlottig wees in ’n tyd waar stilistiese en tematiese verskeidenheid een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie is. (bl. 5)

Die projek soos DigBy in die bylae By van Die Burger, Beeld en Volksblad (2006–2007) het ook aan ongepubliseerde digters die geleentheid gebied om hul werk vir kommentaar en publikasie in te skryf – ’n voortsetting van ’n vroeëre verskynsel in Die Brandwag (kyk Aucamp 1992:74 vir meer inligting).

Wat kortverhale betref, is die publikasie-inisiatiewe egter nie so volop nie en is vonkfiksie (in onder meer Rapport se boekebylaag) tans in die gedrukte media die gewildste. Nuwe stories, deur Ferreira en Kotzé-Myburgh (2012) verskyn by Tafelberg na aanleiding van ’n kortverhaalkompetisie vir debuutskrywers; ’n verdere publikasie in dié reeks om aan aspirant-skrywers publikasiegeleentheid te gee, word vir 2013 in die vooruitsig gestel.

Slypskole
Die meeste slypskole2 maak van gevestigde skrywers gebruik om raad en advies – eie ervaring – aan aspirant skrywers te gee. Uitgewers doen gewoonlik ook mee aan die opleiding van aspirantskrywers in uitgewerspraktyke en die lesersmark (Scheepers & Kleyn 2012:367; 370). Vir Scheepers egter gaan dit by haar opleiding, naas die ontwikkeling van die skryftegniek, ook oor blootstelling aan gepubliseerde tekste, terwyl dit, onder meer by die Universiteit van Pretoria (UP) se Winterskool, oor kontak met die gevestigde skrywer as spreker gaan. Albei voorbeelde het ook ’n slypskool-komponent (Scheepers & Kleyn 2012:368–370) waarin daar prakties met tekste gewerk word.

Die tegniese aspekte (soos woordkeuse, sin- en paragraafbou) word beskou as ’n vaardigheid wat aangeleer kan word en dit is in die opleiding rakende ‘uitbreiding en verfyning van die skrywer se verbeelding, emosies en denke’ waar die knoop lê vir Aucamp (1992:69). Kreatiewe skryfvaardighede – soos enige ander uitvoerende kunsvorms – kan volgens Du Plessis (Scheepers & Kleyn 2012:366) nie aangeleer word nie. Iemand kan nie leer skryf nie, maar skryf- of slypskole kan vir die voornemende skrywer wat reeds ’n manuskrip het, wel voordele inhou:

’n Skryfskool is een van die nuttigste stukke gereedskap in die hand van die skrywer, of jou werk ongepubliseer of reeds gepubliseer is. Maar dan moet jy, dink ek, die regte verwagting van sulke soort opleidingsgeleenthede hê: Jou kop gaan geleer word om jou hart te slyp. Skryfskole is veronderstel om voornemende skrywers te help om van ’n nog onpubliseerbare poging ’n publiseerbare manuskrip te maak. ’n Skryfkursus, soos ’n sangles, rond jou ingebore kuns af, slyp dit en leer jou die beginsels van jou ambag. (Scheepers & Kleyn 2012:366)

Skryfhandleidings
Ten spyte van die toenemende gewildheid van die skryfkuns, het min Afrikaanse skryfhandleidings in druk verskyn. Marais (1994:23–24) dui in sy ondersoek aan dat daar ’n geweldige leemte op dié gebied is, en dat voornemende skrywers na bronne met betrekking tot literêre teorie verwys word wanneer skrywershulp nodig is. Die blote storie ’n Werkboek vir kortverhaalskrywers van Aucamp (1986:11; kyk ook Aucamp 1994) het dan ook ‘uit nood’ ontstaan, aangesien daar geen beskikbare publikasie vir die kortverhaalkursus beskikbaar was wat aan die Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika, gebruik kon word nie. Ander tekste in dié tyd is Human (1989) se Kom ons skryf ’n draaiboek gerig op die draaiboekskrywer; en ’n geredigeerde keur uit die referate voor die ATKV-skryfskool verskyn as Skryfateljee: Gesprekke oor skryfwerk (1992) wat ten doel stel om ‘die beginskrywer (en sy meer ervare kollega) [...] wat wil terugkeer na die steun en praktiese leiding van [...] ervare bydraers‘ (Steenberg & Du Plessis 1992:flapteks).

Ná dié skryfhandleidings duur dit bykans ’n dekade voordat daar in 2003 weer ’n handleiding vir die aspirantskrywer in Afrikaans verskyn. Eendag was daar ’n storie: ’n Praktiese storiemaakkursus deur Martie Preller is op die algemene publiek gerig en streef nie (noodwendig) publikasie as doelstelling na nie: ‘Dis bedoel vir almal. [...] Want ons is almal skrywers. Ons almal se lewens is stories wat ons daagliks skryf en beskryf’ (Preller 2003). Linde-Van Rooyen (2003) se ‘keur uit die briewe [...] tydens haar jare as verhaalredakteur riglyne vir skrywers [van tydskrifverhale] gegee het’ verskyn dieselfde jaar by Protea Boekhuis as Geagte skrywer.

In 2012 verskyn daar egter twee omvattende publikasies wat uitgebreid aan vaardighede in die skryfkuns aandag skenk. Die Afrikaanse Skryfgids (Scheepers & Kleyn 2012) is op die algemene publiek gerig met ’n oorsig oor die tradisionele genres, genrefiksie, joernalistiek en multimedia. Voorts bied dit riglyne oor die uitgewersbedryf, skryf- en slypskole, skryfterapie, kreatiwiteit en die verskille tussen populêre en literêre werke. Om te skryf (Van Schaik 2012) is op die akademiese mark ingestel, met, naas kreatiewe tekste (oorspronklik én na Afrikaans vertaal), ook woordelyste, begripstoetse en skryfoefeninge:

[D]ie moontlikheid [is] groot dat mens hierdie [...] in ’n Afrikaanse kreatiewe skryfklas kan verwag, as deel van ’n lesplan en besprekings agterna, waar studente hul antwoorde vergelyk en verduidelik. Ideaal, dus, vir universiteitsdosente in die vak Afrikaans. (Meyer 2012)

Tersiêre kwalifikasies
Byna elke departement vir Engels, en/of Afrikatale en/of Afrikaanse aan Suid-Afrikaanse universiteite bied formele kursusse in kreatiewe skryfkuns aan.4 Wat kreatiewe skryfkuns in Afrikaans betref, is daar kursusse aan die Universiteit van Kaapstad (Joan Hambidge [poësie] en Etienne van Heerden [prosa], nagraads), Universiteit van Stellenbosch (Willem Anker en Marlene van Niekerk, voorgraads vir derdejaarstudente én nagraads), Universiteit van Wes-Kaapland (Wium van Zyl, nagraads as honneursmodule), Universiteit van die Vrystaat (Hennie van Coller, nagraads), Universiteit van Pretoria (Henning Pieterse, nagraads), Universiteit van Suid-Afrika (voorgraads) en die Noordwes-Universiteit (Franci Greyling en Bernard Odendaal, ’n driejarige voorgraadse program én nagraads) (kyk ook Scheepers & Kleyn 2012:371–375 vir ’n volledige bespreking van programme).

Studente in veral nagraadse kursusse word (afhangende van die instansie) aan toelatingsvereistes en keuring onderwerp, moet verpligte werkwinkels of seminare bywoon, leeslyste deurwerk, vir addisionele vakke inskryf in, onder meer, die letterkunde of literatuurteorie, en moet ’n kreatiewe én akademiese komponent vir eksaminering inhandig. Die doelstelling is om manuskripte gereed vir publikasie te ontwikkel – hoofsaaklik van literêre gehalte, hoewel sommige instansies ruimte vir alternatiewe moontlikhede laat.

Gepubliseerde werke (1995–2012)

In die tydperk 1995–2012 verskyn daar 354 solopublikasies waarvan die manuskripte aan nagraadse skryfskole geskryf en ontwikkel is:

• Twee aan die Rhodes Universiteit: Spoor (Loots 1995) en Kom slag ’n bees (Izak de Vries 1998) onder leiding van Etienne van Heerden.

• Twaalf aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden: Sweisbril (Botha 1999); Stinkafrikaners (Dreyer 2000); Hanna (Greeff 2002); Stoornis (Bennett 2002); Leila word lig (Paul-Hughes 2005); Die blou van ons hemel (Van der Merwe 2007); Chinchilla (Van Rooyen 2007); Die dag toe ek my hare losgemaak het (Brümmer 2008); Naweek (Coetzer 2009); Maal (Strauss 2010); Padmaker (Barkhuizen le Roux 2010); ’n Klein lewe (Adriaanse 2012);

ƒƒasook ses onder leiding van Joan Hambidge: Die vloedbos sal weer vlieg (Stander 2006); Nadoodse ondersoek (Klopper 2010); Donkerkamer (Botha 2011); Ingeboek (Kuhn 2012); Pirouette (Botha 2012); In die skadu van soveel bome (Nortjé 2012).

• Ses aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk: Infanta (Meyer 2004); Op ’n plaas in Afrika (Gunter 2007); Siegfried (Anker 2007); Staan in die algemeen nader aan vensters (Marais 2008); Skool (Kemp 2011); Alfabet van die voëls (Naudé 2012).5

• Twee aan die Universiteit van Wes-Kaapland as deel van ’n honneursmodule in die Departement Afrikaans onder leiding van Wium van Zyl: Waar koek en wyn ontbreek (Barkhuizen le Roux 2006) en onder leiding van Antjie Krog: grond/Santekraam (Kamfer 2011).

• Twee aan die Noordwes-Universiteit onder leiding van Hans du Plessis en Franci Greyling: Dieper water (2007) en Somersneeu (2009) beide deur Helene de Kock.6

• Vyf aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van Henning Pieterse – Op reis met ’n hond (Kemp 2010); In die niks al om (Bohnen 2011); Tussen middernag en dagbreek (Bogaards 2012); Bloedfamilie (Burger 2012); Hoopvol (Van der Walt 2012).

Hierdie publikasies verteenwoordig die verskillende genres soos volg: nege digbundels, tien kortverhaalbundels en sestien romans. Altesaam 23 van die 35 publikasies is debuutwerke, maar minstens sewe van hierdie skrywers het reeds as joernaliste (Brümmer, Coetzer) en dramaturge (Anker) bekendheid verwerf, terwyl ander se werke vroeër reeds in tydskrifte en/of bloemlesings verskyn het (onder meer Bennett, Botha, Marais, Stander), of reeds gepubliseerde (Helene de Kock) of bekroonde skrywers is (onder meer Greeff, Kamfer, Meyer, Van der Walt, Van Rooyen).

Met die uitsondering van Kuhn (2012) se Ingeboek, verskyn alle publikasies by gevestigde uitgewershuise (soms ook met erkenning aan beurse van betrokke uitgewershuise), geniet dit redelike wye mediablootstelling in veral dagblaaie en tydskrifte met resensies en onderhoude (met die uitsondering van Helene de Kock se eersgenoemde roman waarvoor daar geen mediadekking opgespoor kon word nie), sowel as op literêre webtuistes (LitNet en Versindaba), en word dit met literêre pryse vir uitnemendheid bekroon (onder die hofie ‘Bekroning van skryfskoolwerke’).

Bemarking en ontvangs van skryfskoolwerke

Reeds met D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium het die erkenning van die skryfskool en die mentor as bemarkingstendens onder veral debuutskrywers tot stand gekom. In die inleiding tot die bloemlesings Visier (Fryer & Müller 1984), sowel as die flapteks en/of biografiese beskrywings van debuutbundels, onder meer, word daar van ’n betrokkenheid by dié Laboratorium melding gemaak (Marais 2001:103–104). Dié skryfskool is ’n waardevolle bemarkingsmiddel vir die aspirantskrywer en uitgewershuis wat, soos De Wet (1994:119) aanvoer, tot literêre én verkoops-waarde bydra. Die motivering agter dié gebruik word egter bevraagteken en daar word gewys op die status wat debutante bekom deur hul werk aan die name van mentors te koppel Hambidge (1989):

Waarom [...] moet hierdie bywoning enigsins vermeld word? Is dit werklik deel van die digter se curriculum vitae óf ’n soort verskuilde ‘waarmerk van gehalte’? ’n Bietjie afwys – ek was dáár? (bl. 46)

Irna van Zyl (1980:15) waarsku, met betrekking tot Opperman, dat hierdie koppeling tussen skrywer en mentor ook ’n negatiewe kant het – ’n onvermoë om weg te breek uit die tradisie van die mentor, die ‘intelery’ wat ontstaan (kyk ook Pienaar 2007:13), kenmerkend dus van die verskillende skole of style wat aan ’n bepaalde skryfskool gekoppel kan word (Hambidge 2007:4).

In die publikasies onder bespreking word daar op verskillende wyses met erkenning aan skryfskole en mentors omgegaan. Dit sluit in:

• opgedra aan mentor (Botha 1999; Dreyer 2000)

• kort bedanking aan die mentor en/of skryfskool as deel van ander bedankings/erkennings (onder meer Adriaanse 2012; Anker 2007; Botha 2011)

• vermelding van die mentor en/of skryfskool as deel van biografiese beskrywing van outeur op agterflap (onder meer Bennett 2002; Burger 2012; Stander 2006; Van der Merwe 2007; Van Rooyen 2007)

• erkenning aan die skryfskool na afloop van die teks (Botha 2012; Klopper 2010)

• geen erkenning (onder meer Bohnen 2011; Greeff 2002; Gunter 2007).

Voorlopig kan die afleiding dan gemaak word dat veral publikasies van debuutskrywers die mentor en/of skryfskool as Hambidge se ‘waarmerk van gehalte’ in die bemarking byhaal (uitgesonderd Bohnen, Gunter en Marais), terwyl skrywers wat reeds ’n reputasie het, eerder op hulle vorige skryfsuksesse voortbou en erkenning aan die proses, rolspelers en instansies gee (soos onder meer die reeds bekroonde Greeff, Meyer en Van Rooyen).

Die ontvangs in die openbare media is in die algemeen gunstiger as resensies wat in akademiese tydskrifte verskyn (kyk onder meer Cochrane 2010:175–177; Van Niekerk 2007:217–219) met die uitsondering waar daar in resensies aangedui word dat skryfskole (en uitgewers) sekere probleme met tekste vóór publikasie moes ondervang (kyk onder meer Burger 2000:11; Cilliers 2002:6; Müller 2007:4; Van Niekerk 2008:22). In resensies geniet die aandeel van die skryfskool bykans geen aandag nie, maar dit word wel benadruk veral in onderhoude wat met skrywers gevoer word (kyk onder meer Botha 2007:38; De Vries 2008:10; Muller 2009:12; Nieuwoudt 2000:10, 2007:12; Rautenbach 2008:10; Scheepers 2008:16; Smith 2002:4 & Van Zyl 2002:11).

Bekroning van skryfskoolwerke

Debuutpryse word geredelik aan werke van skryfskole toegeken. Tien van die genoemde publikasies is dan ook nie minder nie as 14 keer, bekroon.

In 2001 word Tom Dreyer met die Eugène Marais-prys vir Stinkafrikaners bekroon, waarna Bennett (2002) se Stoornis in die Randse Afrikaanse Universiteit-debuutprys en Meyer (2004) se Infanta die ATKV-prosaprys in 2004 ontvang. In 2008 kom twee werke uit dieselfde skryfskool vir bekroning teen mekaar te staan: Willem Anker7 (2007) se Siegfried word met die Rapport/Jan Rabie-prys, sowel as die Universiteit van Johannesburg (UJ)-debuutprys bekroon en Gunter (2007) ontvang die Eugène Marais-prys vir haar kortverhaalbundel, Op ’n plaas in Afrika. In 2009 ontvang Loftus Marais drie debuutpryse vir Staan in die algemeen nader aan vensters: Die UJ-debuutprys, asook die Ingrid Jonker-prys, word aan hom toegeken; hy deel die Eugène Marais-prys met Kamfer (2011) en word later daardie jaar ook met die Protea-poësieprys bekroon. Strauss se Maal word in 2010 met die UJ-debuutprys bekroon waarná die UJ-debuutprys, sowel as die Rapport/Jan Rabie-prys, in 2012 aan Naudé (2012) se Alfabet van die voëls toegeken word. In 2013 word die Eugène Marais-prys aan Nortjé (2012) vir In die skadu van soveel bome toegeken en Burger (2012) se Bloedfamilie ontvang die Rapport/Jan Rabie-prys.

Loftus Marais is met sy vier bekronings die grootste ‘suksesverhaal’ van opleiding in tersiêre programme in skeppende skryfwerk. Met die uitsondering van Theo Kemp (2011) se Skool word alle publikasies wat in die Stellenbosse program ontwikkel is, minstens een keer bekroon. Hierteenoor lewer die Universiteit van Kaapstad die meeste publikasies (18), maar palm slegs drie pryse in.

Nagraadse skryfopleiding in die Afrikaanse literêre sisteem

Weens die akademiese aard van dié skryfontwikkeling (skryfskole vorm meestal deel van nagraadse opleiding), is daar interne institusionele uitdagings in die vakgebied.

Die waarde van skryfopleiding word (ook as akademiese vakgebied) steeds bevraagteken (kyk onder meer in Burger 2005:13; Van Niekerk 2012:167; Du Plessis 1993a:108–109; Marais 1987; Pienaar 2007:13). Hambidge (2013) verduidelik die situasie soos volg:

Daar is baie skryfskole en -kursusse in Afrikaans. Party mense reageer snedig op hierdie kursusse en verwyt mentors dat hulle epigone skep of boeke wat nie werklik dwingend goed is nie. Dit is wel so dat skryfskole die droogte in die digkuns opgehef het. (Geen bladsy nommer beskikbaar)

Die plasing van skryfkuns as vakgebied binne die akademie het nie, soos Aucamp (1992:72) voorspel het, ’n tuiste in die joernalistieke departement gevind nie, maar in taaldepartemente.

Die formele opleiding van jonger skrywers word deur gevestigde (en hoofsaaklik bekroonde) skrywers onderneem. Marais (1994) verduidelik:

Dit is opvallend dat [...] aanbieders op tersiêre vlak opleiding in die letterkunde ontvang het en/of dit self op tersiêre vlak doseer, en dat almal reeds eie skeppende werk gepubliseer het [...] [oorspronklike klem]. (ble. 26–27)

In terme van die akademiese waarde van ’n kwalifikasie in skryfkuns, is die knelpunte tussen rolspelers, onder andere, die beoordelingskriteria van kreatiewe werk; die akademiese en/of literêre gehalte wat verwag word; die toelatingskriteria tot die kursus, asook die balans tussen teorie en praktyk (kyk ook Scheepers & Kleyn 2012:371–375 vir toelatingsvereistes, sowel as onder meer Aucamp 1992:72; Du Plessis 1993a: 109–111 vir die ouer debat).

Wat die meer groter sisteem betref, is daar ’n aantal positiewe uitkomste, waaronder: Skryfopleiding kan beskou word as metode om die algemene gehalte van die manuskripte te verbeter (Aucamp 1992:73; Odendaal 2010b) – iets wat skrywers self benadruk wanneer daar oor die waarde van skryfskole in die algemeen in die media gepraat word (onder die hofie ‘Bemarking en resepsie van skryfskoolwerke’). Verskeie rolspelers in die sisteem benadruk die belangrikheid van skryfopleiding en werk aktief mee, onder meer skrywersverenigings, kultuurverenigings en uitgewershuise. Keurverslae van uitgewers en tydskrifte is vroeër in die algemeen as ’n vorm van informele opleiding beskou (kyk ook Aucamp 1992:75; Marais 1987:3–4, 1994:22–23), maar vandag doen uitgewers deur, onder andere, skryfbeurse en bloemlesing van debuutwerk, aktief mee aan die werwing van nuwe materiaal vir publikasie.

Uitgewers ontwikkel nuwe talent deur publikasiegeleenthede vir skrywers beskikbaar te maak, wat soms ook met skryf-ontwikkeling gepaardgaan (’n voorbeeld is die aanvullende slypskool van die Nuwe Stemme-reeks). Skryfskole verleen groter bemarkingswaarde aan veral debutante en die erkenning wat in die bemarkingsmateriaal van gepubliseerde werk aangebied word, skep die indruk dat die uitgewer (en die skrywer) erkenning gee aan die waarde wat die mentor in die literêre sisteem het (Marais 1994:46; kyk ook onder die hofie ‘Bemarking en resepsie van skryfskoolwerke’). Die sukses aan skryfskole word gemeet aan studente uit sulke skole wat gepubliseerde skrywers word, of op die een of ander wyse ’n rolspeler in die sisteem word, byvoorbeeld, in die akademie of die uitgewersbedryf (Marais 1994:44), maar later ook as gevestigde en bekroonde skrywers. Die kreatiewe werk van Hambidge (Palindroom 2008), Van Heerden (Asbesmiddag 2007) en Van Niekerk (Die sneeuslaper 2010) hou ook noue verband met die tema van skryfskole en mentorskap.

Literêre tendense ontstaan soos die eenheidsbundel (kyk onder meer Crous 2010:19; Ferreira 2012), groter biografiese korrelasies en skryf as terapeutiese daad (kyk onder meer Bennett 2012; Greeff 2012:6; Kleyn 2012:10) en nuwe verwantskappe word tussen die werk van ouer en jonger skrywers gesmee (kyk onder meer Bennett 2012; Crous 2012:173–174; Lourens & Kuhn 2012; Naudé 2008:22). Die waarde en sukses van mentors en skryfskole word verder deur die sisteem benadruk met, onder andere, bekronings en ’n natuurlike assosiasie met literêre waarde wat hierdeur ontstaan (Beeld 11 Oktober 2003:12; Le Grange 2007:11).

Verdere tendense en verandering in die sisteem kan soos volg aangetoon word. Die genre-onewewigtigheid wat vroeër by Opperman tot stand gekom het, is lank reeds uit die weg geruim. Waar poësie aanvanklik die meeste aandag gekry het, blyk dit duidelik uit hierdie ondersoek dat die roman nou die botoon by skryfskole voer (kyk onder meer Retief 2012:13; Viljoen 2011:6), maar dat die poësie steeds die meeste publikasiegeleenthede in bloemlesings vir debuutwerke geniet. Opleiding in tradisionele genres stel egter beperking op die werke wat in die literêre sisteem opgeneem kan word. Populêre fiksie en toegepaste skryfwerk, soos Aucamp (1992:71) dit noem (films, teaterstukke, resensies), word in vroeëre skryfopleiding weggelaat – ’n situasie wat by slypskole wel aandag geniet, maar aan tersiêre skryfskole nog nie genoegsaam verander het nie. Sekere skryfskole stel werke met literêre gehalte eerder as gewilde werke ten doel (kyk onder meer die kritiek van John 2005:4 op Meyer (2004) se Infanta) en spanning ontstaan tussen populêre genres en literêre gehalte, soos dit in resensies onder bespreking kom (onder meer Dempers 2010:8; Human 2002:16, 2005:169; Steinmair 2007:13; Van Zyl 2007:241–242; Wybenga 2005:15). Verder bestaan daar steeds by skrywers ’n bewustheid dat sekere genres sowel as Engelstalige werk beter verkopers is (Wasserman 1998:4).

Die publikasie van werke uit skryfskole is nie ’n waarborg vir sukses of gehalte nie, en resensente dui aan dat daar werke is wat steeds verder afronding en ontwikkeling deur die uitgewershuis benodig het (onder meer Dempers 2010:8). Kritici meen dan ook dat die mentor se hand in die skrywer se kreatiewe werk soms sigbaar is (Bezuidenhout 2008:11; Crous 2007:9, 2010:11; Gouws 2011:7; Van Niekerk 2007:218). Dit is waarskynlik eerder ’n sigbare wisselwerking tussen mentor en student (kyk ook Du Plessis in Torr & Leyden 2011:42; Naudé 2008:22; Viljoen 2011:6) of selfs ’n gekonstrueerde gesprek met die mentor se werk (Aucamp 1998:8). Waar die skryfopleiding egter sigbaar is deur oordadige afwerking en gemaaktheid (Burger 2000:11; Crous 2010:11; Gouws 2011:7; Smith 2003:9; Van Niekerk 2008:22), is die kritiek moontlik eerder geregverdig.

Ten slotte

Skryfskole vervul nie net in ’n belangrike behoefte wat veral in die laaste dekade (waarskynlik weens die hekwagtersrol wat met die koms van die internet verval het) by aspirant-skrywers ontstaan het nie, maar speel ook ’n belangrike (grootliks positiewe) rol in die literêre sisteem, deur ’n wisselwerking tussen rolspelers te bewerkstellig en tot positiewe ontwikkeling in die boek- en letterkundige bedryf by te dra. Die getal publikasies wat die afgelope dekade verskyn het, die resepsie daarvan in die media, sowel as die groot hoeveelheid bekronings waarmee die publikasies spog, dra beslis by tot die kanoniseringswaarde van skrywers én werke wat aan skryfskole ontwikkel word. Dit is nou ’n ope vraag hoe hierdie tendense met debute vergelyk wat nie kan sê nie: ‘Kyk, ek was dáár’.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig of voordelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Adriaanse, W., 2012, ’n Klein lewe, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Anker, W., 2007, Siegfried, Kwela, Roggebaai.

Aucamp, H., 1986, Die blote storie: ’n Werkboek vir kortverhaalskrywers, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Aucamp, H., 1994, Die blote storie 2: ’n Werkboek vir kortverhaalskrywers, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Aucamp, H., 1992, Windperd: Opstelle oor kreatiewe skryfwerk, HAUM-Literêr, Pretoria.

Aucamp, H., 1998, ‘Stille getuienis van ’n revolusie’, Insig, 01 Februarie, bl. 8.

Barkhuizen le Roux, C., 2006, Waar koek en wyn ontbreek, Lapa Uitgewers, Pretoria.

Barkhuizen le Roux, C., 2010, Padmaker, Human & Rousseau, Kaapstad.

Bennett, N., 2002, Stoornis, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Bennett, N., 2012, ‘Om tot verhaal te kom’, Rapport, 05 Augustus, besigtig op 08 Januarie 2013, by http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Om-tot-verhaal-te-kom-20120803

Bezuidenhout, Z., 2008, ‘Loflike prentboek met taferele in ruite geraam’, Die Burger, 29 Desember, bl. 11.

Bogaards, J., 2012, Tussen middernag en dagbreek, Lapa Uitgewers, Pretoria.

Bohnen, R., 2011, In die niks al om, Lapa Uitgewers, Pretoria.

Botha, A., 2012, Pirouette: Gedigte, Queillerie, Kaapstad.

Botha, F., 2011, Donkerkamer, Queillerie, Kaapstad.

Botha, J., 1999, Sweisbril, Human & Rousseau, Kaapstad.

Botha, S., 2007, ‘Teen die onsêbare in’, Boeke-Insig, 01 September, bl. 38.

Breed, C.A. & Greyling, S.F., 2010, ‘’n Ondersoek na ’n werkwyse: Die herskryf van ’n komplekse roman na ’n draaiboek’, Literator 31(2), 83–115. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v31i2.48

Brümmer, W., 2008, Die dag toe ek my hare losgemaak het, Human & Rousseau, Kaapstad.

Burger, M.S., 2012, Bloedfamilie, Human & Rousseau, Kaapstad.

Burger, W., 2000, ‘“Stinkafrikaners” se gemaaktheid voorop’, Beeld, 18 September, bl. 11.

Burger, W., 2005, ‘Leeskursusse meer nodig as skryfkursusse’, Die Burger, 17 Oktober, bl. 13.

Cilliers, C., 2002, ‘Greeff bedrewe, oortuigend’, Volksblad, 30 September, bl. 6.

Cochrane, N., 2010, ‘Naweek’, Tydskrif vir Letterkunde 47(2), 175–177.

Coetzer, T., 2009, Naweek, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Combrink, A., Greyling, F. & Du Plessis, H., 2008, ‘Uit die oogpunt van die buitestaander: Die rol van identiteit en ruimte in die skep van ’n gemeenskapseie jeugnovelle’, Tydskrif vir Letterkunde 45(2), 32–47. http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v45i2.29736

Crous, M., 2007, ‘Stander dig met goeie oog en oor’, Die Burger, 29 Januarie, bl. 9.

Crous, M., 2010, ‘Digter sal met ”skalpel, skaal en liniaal” moet inklim’, Beeld, 11 Oktober, bl. 11.

Crous, M., 2012, ‘Donkerkamer’, Tydskrif vir Letterkunde 49(2), 173–174.

Crous, M., 2013, E-pos, 28 Mei.

‘Dan Sleigh wen RAU-skryfprys’, Beeld, 11 Oktober 2003, bl. 12.

De Kock, H., 2007, Dieper water, Human & Rousseau, Kaapstad.

De Kock, H., 2009, Somersneeu, Human & Rousseau, Kaapstad.

De Vries, I., 1998, Kom slag ’n bees, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

De Vries, W., 2008, ‘Hoe dikwels is dié storie nie vertel nie’, Die Burger, 26 Mei, bl. 10.

De Wet, K., 1994, ‘Eiendoms onbeperk: Die onvoltooide groot gesprek met D.J. Opperman in die Afrikaanse poësie’, D.Litt proefskrif, Universiteit van Bophuthatswana.

Dempers, A., 2010, ‘Roman gee jou aa-gevoel’, Volksblad, 05 April, bl. 8.

Dreyer, T., 2000, Stinkafrikaners, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Du Plessis, H., 1993a, ‘Skryfkuns as graadvak’, Literator 14(1), 107–116. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v14i1.694

Du Plessis, H., 2011, ‘Die romansier en die verlede: Die skrywer se hantering van historiese materiaal in die skep van die historiese roman Die pad na Skuilhoek’, LitNet Akademies 8(3), besigtig op 10 Januarie 2013, by http://www.litnet.co.za/Article/die-romansier-en-die-verlede-die-skrywer-se-hantering-van-historiese-materiaal-in-die-skep

Ferreira, J., 2012, ‘Alfabet van die voëls stel hoë eise’, LitNet, besigtig op 10 Januarie 2013, by http://www.litnet.co.za/Article/alfabet-van-die-vols-stel-hoë-eise

Ferreira, J. & Kotzé-Myburgh, S., 2012, (samest.), Nuwe stories, Human & Rousseau, Kaapstad.

Fryer, C. & Müller, P., (samest.), 1984, Visier: Agt nuwe digters, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Gouws, T., 2011, ‘Die onverwagse middelvinger ontbreek’, Volksblad, 24 September, bl. 7.

Greeff, R., 2002, Hanna, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Greeff, R., 2012, ‘Uit die hel van dwelms’, Rapport, 27 Mei, bl. 6.

Greyling, F., 2005, ‘Jong lesers se identifisering met karakters: Skryfteorie en -praktyk’, Literator 26(2), 97–120. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v26i2.230

Greyling, F., 2013, E-pos, 08 Julie.

Gunter, H., 2007, Op ’n plaas in Afrika, Human & Rousseau, Kaapstad.

Hambidge, J., 1989, ‘Opperman “leef” nog in ander poësie’, Insig, 01 Februarie, bl. 46.

Hambidge, J., 2007, ‘Ontrafel die knoop’, Rapport, 01 November, bl. 4.

Hambidge, J., 2008, Palindroom: ’n Post-postmoderne verhaal, Genugtig! Uitgewers, Parklands.

Hambidge, J., 2013, ‘Dié is nie net ’n deurstopper’, Beeld, 06 Januarie, besigtig op 08 Januarie 2013, by http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Die-is-nie-net-n-deurstopper-20130106

Human, H., 1989, Kom ons skryf ’n draaiboek, Serva, Pretoria.

Human, T., 2002, ‘Die mond as (uitlaat)klep van ’n verwonde hart’, Rapport, 01 September, bl. 16.

Human, T., 2005, ‘Met ’n ystergreep’, Literator, 26(3), 169–171.

John, P., 2005, ‘Meyer se resep werk’, Rapport, 16 Januarie, bl. 4.

Kamfer, R.S., 2011, Grond/Santekraam, Kaapstad, Kwela Boeke.

Kannemeyer, J.C., 1996, ‘Stiebeuel het puik debutante gelewer’, Boekewêreld, 18 September, bl. 11.

Kemp, A., 2010, Op reis met ’n hond, Human & Rousseau, Kaapstad.

Kemp, T., 2011, Skool, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Kleyn, L., 2012, ‘Die land van moord en dwelms’, Die Burger, 05 Junie, bl. 10.

Klopper, M., 2010, Nadoodse ondersoek: Gedigte, Human & Rousseau, Kaapstad.

Krog, A. & Schaffer, A., 2005, Nuwe Stemme 3, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Kuhn, K., 2012, Ingeboek, Griffel Uitgewery, Kaapstad.

Le Grange, C., 2007, ‘Godin van vlees en bloed se worsteling’, Die Burger, 13 Augustus, bl. 11.

Linde-Van Rooyen, E., 2003, Geagte skrywer, Protea Boekhuis, Pretoria.

Loots, S., 1995, Spoor, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Lourens, A. & Kuhn, K., 2012, ‘Onderhoud: Karen Kuhn (Ingeboek)’, Versindaba, besigtig op 10 Januarie 2012, by http://versindaba.co.za/2012/03/21/onderhoud-karen-kuhn-ingeboek/

Marais, D.& De Goede, R., 2010, Nuwe stemme 4, Tafelberg-Uitgewers-, Kaapstad.

Marais, L. & Du Plooy, H., 2013, Nuwe stemme 5, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Marais, J.L., 2001, ‘Die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch (1960–1984)’, Stilet 13(3), 92–108.

Marais, J.L, 1987, Opleiding in skeppende skryfwerk in Suid-Afrika: ’n Sisteembeskrywing, Raad vir Geesteswetenskaplike navorsing, Pretoria.

Marais, J.L., 1994, ‘Opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans’, MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Marais, L., 2008, Staan in die algemeen nader aan vensters: Gedigte, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Meyer, D., 2004, Infanta, Lapa Uitgewers, Pretoria.

Meyer, N., 2012, ‘Om te lees is om te skryf’, LitNet, besigtig op 08 Januarie 2013, by http://www.litnet.co.za/Article/om-te-skryf

Mocke, I.S., 1941, Dienaar van die woord: ’n Handleiding vir studente en aspirant-beoefenaars van die skryfkuns, J.L. van Schaik, Pretoria.

Müller, P., 2007, ‘Só ’n boek bring nuwe lug in longe’, Rapport, 19 Augustus, bl. 4.

Muller, W., 2009, ‘Gedigte vir die kykers’, Beeld, 19 Januarie, bl. 12.

Multilingual Matters Ltd n.d., New Writing Viewpoints, viewed n.d., from http://www.multilingual-matters.com/series_nwv.asp

Naudé, C-P., 2008, ‘Debuutdigter “dans op papier”’, Rapport, 30 November, bl. 22.

Naudé, S.J., 2012, Alfabet van die voëls, Umuzi, Kaapstad.

Nieuwoudt, S., 2000, ‘Dreyer flankeer met “lowart”’, Beeld, 20 September, bl. 10.

Nieuwoudt, S., 2007, ‘Van Rooyen verlei die muse’, Die Burger, 15 Augustus, bl. 12.

Nortjé, H., 2012, In die skadu van soveel bome: Gedigte, Queillerie, Kaapstad.

Odendaal, B., 2010a, ‘Ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie die afgelope dekade’ (Voordrag gelewer deur professor Bernard Odendaal by ’n byeenkoms van Dames Perspektief, Bloemfontein, 13 Maart 2010), besigtig op 08 Januarie 2013, by http://humanities.ufs.ac.za/dl/userfiles/Documents/00000/86_eng.pdf

Odendaal, B., 2010b, ‘Nadoodse ondersoek’, Versindaba, besigtig op 08 Januarie 2013 by: http://versindaba.co.za/2010/10/11/nadoodse-ondersoek/

Odendaal, F.F. & Gouws, R.H., 2010, s.v. ‘slypskool / skryfskool’, in HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Pinelands, Pearson Education, bl. 1029, 1047.

Opperman, D.J. & Le Roux, F.J., 1946, (samest.), Stiebeuel 1: ’n Bloemlesing, Nasionale Pers, Kaapstad.

Opperman, D.J. & Le Roux, F.J., 1965, (samest.), Stiebeuel 2: ’n Bloemlesing, Nasionale Pers, Kaapstad.

Paul-Hughes, C., 2005, Leila word lig, Human & Rousseau, Kaapstad.

Pienaar, E.C. & Langenhoven, C.J., 1932, Hoe om te skrywe: Hulpboekie by die studie van die stelkuns, Nasionale Pers, Kaapstad.

Pienaar, V., 2007, ‘Geen kritiek nodig op briljante roman’, Beeld, 10 Desember, bl. 13.

Preller, M., 2003, Eendag was daar ’n storie!: ’n Praktiese storiemaakkursus, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Rautenbach, E., 2008, ‘Teenpole’, Boeke-Insig, 01 Oktober, bl. 10.

Retief, H., 2012, ‘Skryf soos pyp wat bars’, Rapport, 17 Junie, bl. 13.

Scheepers, R., 2008, ‘Bundel delikaat soos glas, intens soos klank’, Die Burger, 10 Julie, bl. 16.

Scheepers, R. & Kleyn, L., 2012, Die Afrikaanse Skryfgids, Penguin Books, Johannesburg.

Schoonees, P.C., 1948, Verskeidenhede: ’n Bundel opstelle en gedagtes, Afrikaans Pers-Boekhandel, Johannesburg.

Smith, F., 2002, ‘Eenkantmens voel veilig in verhale’, Beeld, 31 Augustus, bl. 4.

Smith, F., 2003, ‘Breek deur die versperrings’, Die Burger, 27 Januarie, bl. 9.

Stander, C., 2006, Die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Steenberg, D. & Du Plessis, H. (reds.), 1992, Skryfateljee: Gesprekke oor skryfwerk, J.L. van Schaik, Pretoria.

Steinmair, D., 2007, ‘Lekkerleesboek boei, maar skuif nie grense’, Die Burger, 12 November, bl. 13.

Strauss, N.J., 2010, Maal: Kortverhale, Queillerie, Kaapstad.

Taylor & Francis Group n.d., New Writing: The International Journal for the Practice and Theory of Creative Writing, viewed n.d., from http://www.tandfonline.com/loi/rmnw20

Torr, D. & Leyden, M., 2011, ‘Totsiens aan Hans’, Taalgenoot, 01 Oktober, bl. 42.

Van der Merwe, Q., 2007, Die blou van ons hemel, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Van der Walt, D., 2012, Hoopvol, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Van Heerden, E., 1960, ‘Creative writing as a university subject’ [vertaling], Standpunte 14(1), 24–27.

Van Heerden, E., 2007, Asbesmiddag: ’n Roman, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Van Niekerk, A., 2008, ‘Belowende beendere maar waar is die murg?’ Rapport, 21 September, bl. 22.

Van Niekerk, J., 2007, ‘Chinchilla’, Tydskrif vir Letterkunde 44(1), 217–219.

Van Niekerk, J., 2012, ‘Alfabet van die voëls’, Tydskrif vir Letterkunde 49(2), 167–168. http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v49i2.14

Van Niekerk, M., 2010, Die Sneeuslaper: Verhale, Human & Rousseau, Kaapstad.

Van Rooyen, N., 2007, Chinchilla, Human & Rousseau, Kaapstad.

Van Schaik, 2012, Om te skryf, Van Schaik Uitgewers, Pretoria.

Van Zyl, D., 2002, ‘Greeff al hoe prominenter’, Die Burger, 07 Oktober, bl. 11.

Van Zyl, I., 1980, ‘Daar is plek vir vernuwing’, Graffier 1(2), 15.

Van Zyl, W., 2007, ‘Die blou van ons hemel’, Tydskrif vir Letterkunde 44(1), 241–242.

Viljoen, L., 2011, ‘Taal van ’n kortverhaal’, Rapport, 06 November, bl. 6.

Wasserman, H., 1998, ‘Nuwe stemme ondersoek eie werk’, Die Burger, 28 Desember, bl. 4.

Wasserman, H., 2000, ‘“Ek’s klaar met literêre dinge”, sê Jaco’, Die Burger, 06 Maart, bl. 4.

Wybenga, G., 2005, ‘Paul Hughes slaan suksesvol nuwe pad in’, Beeld, 05 September, bl. 15.

Voetnotas

1. Nuwe stemme 5 verskyn in 2013 met die werke van agtien debutante: Joan-Mari Barendse, Jaco Barnard-Naudé, Gerhard J. Bothma, Neil Cochrane, Adriaan Coetzee, Oloff de Wet, Izak du Plessis, Ihette Jacobs, Pieter Odendaal, Desmond Painter, Alwyn Roux, Hilda A. Smits, G.P. (Gerrie) Terblanche, Gisela Ullyatt, Carina van der Walt, Hendrik Albertus Cornelis van Niekerk, Fanie Viljoen en Wicus Luwes.

2. Die term ‘slypskool’ verwys na ’n nieformele kursus waarin skryfvermoëns ontwikkel word; die term ‘skryfskool’ verwys na instansies (soos universiteite) waar formele opleiding in skryfkuns met literêre gehalte plaasvind (kyk Odendaal & Gouws [2010:1029, 1047] onderskeidelik vir die verskillende definisies).

3. Skryfkuns by die Noordwes-Universiteit is op voorgraadse vlak ’n selfstandige vak. Dit word binne die Skool vir Tale aangebied, maar is nie deel van die Afrikaanse of Engelse departement as sodanig nie.

4. Inligting vir Universiteit Pretoria, Noordwes-Universiteit, Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van Vrystaat is deur programkoördineerders verskaf. Inligting oor Universiteit Kaapstad se poësiepublikasies is deur Hambidge aan my verskaf en die inligting oor die prosapublikasies is op die UK-webwerf bekom.

5. Marius Crous se Vol draadwerk is nie volledig hier as manuskrip ontwikkel nie. ‘Van die gedigte het tydens die kursus ontstaan, maar nie die hele bundel nie’ (Crous 2013).

6. Die situasie aan Noordwes-Universiteit sien egter anders as aan ander universiteite daar uit. Greyling (2013) verduidelik: ‘Soos in die geval van haar vorige roman het Helene Somersneeu selfstandig geskryf. Streng gesproke is die roman nie DEUR die skryfkunskursus as sodanig ontwikkel nie, maar dit is wel onlosmaaklik deel van haar navorsing en proefskrif. Gedeeltes van die roman word as bylae in die verhandeling of proefskrif opgeneem. Ons het ook nie soos die ander universiteite ’n duidelike aanduiding van die verhouding (en puntetoekenning) tussen die teoretiese gedeelte en kreatiewe werk nie’ [oorspronklike beklemtoning]. De Kock se akademiese studie word in 2013/2014 voltooi.

7. Die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs van R350 000 word in 2011 aan Willem Anker toegewys.


Crossref Citations

No related citations found.