Geskiedenis met ’n wandelstaf

Book Title: Eilande en enklaves: Reissketse
Author: André Pretorius
ISBN: 978-1-86919-687-5
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2012, 279 p., ZAR180.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Salomi Louw1
Affiliation: 1School of Languages and Communication Studies,University of Limpopo, South Africa
Postal Adress: Britsweg 561, Pretoria 0182, South Africa
How to cite this book review: Louw, S., 2013, ‘Geskiedenis met ’n wandelstaf’, Literator 34(2), Art. #412, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.412
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In hierdie boek is die begrip ‘eilande’ of ‘enklaves’ nie slegs ’n geografies begrip nie, dit is ook ’n aanduiding van ’n spesifieke eenheid – al is dit momenteel volgens die skrywer se beskouing – van gebeurtenisse, geskiedenis, belewenisse en plekke. Hy meld dat ‘eiland’ teenoor ‘vasteland’ staan, ‘asof die afwesigheid van vastigheid die onderskeidende kenmerk van ’n eiland is’ (bl. 10).

Verskillende lande, streke en stede of dorpe bied agtergrond vir die bespreking van musiek en komponiste, van ’n besondere stuk geskiedenis, merkwaardige mense, geloofsake, politiek, geografiese gebeure, filosofiese besinnings en enkele persoonlike ervarings. Pretorius teken sy indrukke aan vanuit Europese en Britse lande, die Verre en Nabye Ooste en Suid-Amerika.

Die sketse, wat oor ’n tydperk van dertien jaar geskryf is, word verdeel in sewe afdelings waarin sketse gesentreer is onder die samevattende subtitels ‘Eilande …’ of ‘Enklaves …’, met ’n voorafgaande besinning oor ‘Fragmente van bestaan’, en ‘Inkspore’ wat die gebruik of verlies van ’n paspoort onder die aandag bring.

In ‘Eilande van die son’ vertel Pretorius van ’n reis per bromponie in Salina, die Maltese geskiedenis vanaf Paulus se stranding aldaar, die Siciliaanse dorpie Corleone en ’n rit van Palmira in Sirië na Damaskus. (Hier het ek ’n gemis gevoel aan ’n beskrywing van die asemrowende Palmira, MarMousa en Damaskus self met onder andere sy Reguitstraat en die huis van Ananias.)

‘Eilande van die kil uiterstes’ handel nie net oor koue wêrelddele soos Ysland en Patagonië nie, maar ook oor Cornwall en die politieke probleme van Noord-Ierland vanwaar die skrywer se voorouers kom.

’n Terugblik op oorloë is die hoofsaaklike bestanddeel van ‘Enklaves van herinnering’; vanaf die Franse Rewolusie en oorgeërfde adel; Hitler se Berchtesgaden; Duitse oorlogsvergrype in Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog; die Spaanse Burgeroorlog; en die kernfisici Heisenberg en Bohr se ontmoeting in Kopenhagen tydens die Tweede Wêreldoorlog. Meer onlangse oorlogsgebeure word ook oordink, soos Kroasië en die gewese Joego-Slawiese opstand wat gelei het tot die verhoor van Karadžić. Een bydrae in hierdie afdeling val egter effens buite die oorlogstema: in ‘Musiek en Metternich’ vertel die skrywer van ’n musikale geleentheid wat hy op die Metternichlandgoed bygewoon het en hy beskryf die geskiedenis van die landgoed en van die musiek wat in hierdie geweste ontstaan het.

Besprekings van Griekse gode, ketters, ’n Kersdiens in Cambridge, en Boedddhisme, Katolisisme en Ho Chi Minh word in ‘Eilande van geloof’ gekoppel aan reisbeskrywings. In die opstel ‘Beskermheilige van bevlekte skoonheid: Antwerpen, Januarie 1999’ kry ons die dichotomie van ‘die 16de-eeuse Onze Lieve Vrouwe-katedraal’ (bl. 177) en die rooiliggebied waar prostitute hulself uitstal:

Mooi Antwerpen, wat op ’n vreemde manier ook hier in die rooiliggebied aanwesig is: Byna elke straathoek het ’n Madonnabeeldjie in ’n nis. En so hou Maria, die moeder van Jesus, wag oor moderne Maria Magdalenas in ’n transfigurasie wat die goddelike mooi katedraal met sy kruisigingstoneel en die ongoddelike verloedering van die rooiligarea versmelt tot een: ‘Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.’ (bl. 179)

Die laaste reisbeskrywing in hierdie afdeling gaan oor ’n besoek aan Moembaai en sy ‘plekke van aanbidding’. Op bladsy 191 stel Pretorius die retoriese vraag: ‘Is daar enige embleem meer tekenend van die uitheemse as ’n plek se omgang met sy gode?’

Die verdeeldheid van die Duitse volk tydens die Muur en dié van die twee Koreas met die Militêre Skeidslyn, vroeëre wreedaardige situasies in Argentinië, Rusland, Parys en Marokko en die gebeure rondom die neutraliteit van Switserland word in die afdeling ‘Enklaves van vryheid’ beskryf.

‘Enklaves van misplaastheid’ verduidelik omstandighede in Brasilië en Libië en die laaste saamgroepering delf in die persoonlike gevoelens wat die skrywer tydens reis en verblyf ervaar en word – soos in die voorafgaande sketse – gereeld aan musiek gekoppel. Hierdie gedeelte, ‘Enklaves van die gemoed’, het my die meeste genot verskaf.

Pretorius is ’n berese en belese skrywer. Musiek en geskiedenis is die aambeeld waarop hy die reissketse skoei en verwysings na of aanhalings uit letterkunde en ander publikasies word gereeld aangewend. Die outeur illustreer ook sommige van die plekke wat hy besoek het met sy eie foto’s.

Eilande en enklaves is nie ’n reisgids in die sin van waarheen om te gaan en wat om te sien nie; die sketse word onderlê deur persoonlike belewenisse, gedagtes, herinneringe, filosofie en emosies wat die sketse onderlê. Rusbankreisigers, wêreldreisigers en diegene wat in geskiedenis belangstel, sal hierdie publikasie kan waardeer.

Die skryfstyl het my egter soms gefrustreer, veral die herhaling van dieselfde byvoeglike naamwoord (soos grou, grys, swart en wit, byvoorbeeld in ‘Eilande van die kil uiterstes’), die voortdurende parenteses met aandagstrepe en die veelvuldige gebruik van stippels (…).

Dit was nogtans ’n interessante leeservaring.



Crossref Citations

No related citations found.