at the house of fraser 50tigs retro in chroom om my
drink ek cappucino uit ’n diepblou koppie
en loer in die spieël na die gul
Indiese meisie met die dik bos donker hare donker streep bokant haar lip
van haar kêrel is net die hand sigbaar
wat haar oor die wang streel
sy weet ek kyk hoe sy gevry word die skuim van die cappucino proe
bitter en nikserig in die mond
ek vang haar oog wat blink
opgewonde in ‘n donker driehoek van haar
en hom en my en hom en haar sou sy skuim afskei geprikkel
êrens in ’n donker driehoek van haar
en my en hom opwindend opgewonde haar opwinding wen my op
van sy opwinding tussen ons
verstandhouding in die spieël in ’n donker driehoek van haar
en hom en my
en my en hom en haar mekaar in die spieël
en in mekaar spieël
opwindend hom en haar en my
in ’n donker driehoek
teugies koffie slurpend at the house of fraser met woorde werk van wors tot stronk wors rym op dors kil wit wyn
nee op kole nee op mors
soos dood vesels van diere
ingestop nee op dop of dam
klippies ja en ook steen
soos ‘n been soos ‘n skeen
dors soos in trap maar met ‘n masjien
’n dreuning van pitte in die drom
skud-skud van siwwe
nee been op seer soos stronke jou klits
waar jy rol in die blare droë
wintervel vaal geskuur brandend
in die ou bad op pote
en die koperkraantjie wat stadig
tippetoe groot swart ketel
nee sis op groot swart stoof en
die hakskene brand en brand
en skurf geskuur vullis
afgeskuur met ’n stronk
ouma se paraffienwaks ingevryf
en die hoes-hoes in die nag
die nagse gehoes stoom en bloekomolie
nee soos lepel op lewertraan
hoes-hoes deur die nag
ouma se spesiale mengsel bitter soos gal haar bolla yl nog altyd swart
wors sis op die stronkvuur in die stoof
swart stronk geel vlam swart stoof
haar bolla swart haar maer geaarde hande lankal stof Katedraalvensterlig Vir Heilna
lig val deur die hoë vensters
reik byna nie tot by die pilare
hoë stamme wat die dak
so hoog soos die hemel skraag
stuif donsig om die reuk
van wierook verslaande stof
wat nog steeds die stink van rykes probeer verdryf
om die roesemoes van pseudo-pelgrims
wat na die altaarstukke loer krap
aan die verf wat plek-plek
afskilfer dik van stemme en asems selfs in St. George’s hier by ons
is die lig yl dun glim dit helder
op koperbakke val dit sonder misterie
oor banke riempiestoele ’n psalter of wat ons moet bid vir meer katedraallig
soos lig wat deursyfer in ’n bos vol hoë bome
diep in die Tsitsikamma gesif deur blare
gekleur met al die afwesige stemme
stories van voorsate versprei op die wind lig gefilter deur stemme en stories
van die voorsate soos deur blare
sodat ons byna heilig ons gang kan gaan
elke gebaar elke beweging elke reik
na pen of sleutelbord traag gebeur
asof deur dik swaar molasse
van die voorsate se sweet stem en asem lig dik van heiligheid en andersheid
wat ons in Afrika se brutale son tog
iets van u ewige werksaamheid sal laat vind
sal laat sien hoe u werk in grassie
in nagapie in die verste botsel van ’n groen
varinkie in ons asem tong en hand
hoe die geelvink kwinkeleer die loerie
bottelaar die skaam Knysna-loerie
van boom na boom sy rooi ondervlerke sprei
hoe bedrywig
ons skryf en praat is u liggaam (met erkenning aan G.M. Hopkins, G. Gillespie en P. Sheldrake)
|