Article Information

Author:
Joan Hambidge1

Affiliation:
1Department of Afrikaans Literature & Creative Writing, University of Cape Town, South Africa

Postal address:
Private Bag X3, Rondebosch 7701, South Africa

Dates:
Received: 15 Mar. 2012
Accepted: 16 Apr. 2012
Published: 07 Dec. 2012

How to cite this article:
Hambidge, J., 2012, ‘Drie meditasies oor Istanbul’, Literator 33(2), Art. #406, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i2.406

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Drie meditasies oor Istanbul
In This Litera...
Open Access

Istanbul, ‘n meditasie

In ‘n droom tussen wakker en slaap,
‘n tydverskil tussen kontinent en on-vasteland
hoor ek hierdie woorde aan my gefluister
op laataand televisie:
“‘n Klein pistachio-neut oopgebreek
openbaar sy ware aard:
harde dop met murgsagte binnegoed.”
Ek vaar oor die Bosphorus,
trek my skoene uit in die Blou Moskee,
staan in die Hagia Sofia,
onverwoesbaar deur soveel brande,
aardbewings, teenstand.
Stad van die Chora,
kerk, tempel of moskee:
Sy gesig orals gemosaïek,
‘n Geel Lig van Wysheid
omvou dié stad van die Vader,
Seun en Heilige Gees,
teen soveel aanslae bestand.

Istanbul, ‘n meditasie

In ‘n troebel droom
skeur ek die binneblad van ‘n boek uit,
daar waar die biblioteekdatumstempel staan.
Die boek handel oor hulle, die dooies,
die vertrekkendes, wat soms in drome
hul opwagting maak of in vreemde stede
op ‘n haar-na-lyk soos ‘n inwoner van ‘n stad,
maar praat met ‘n vreemde tongval, verbaas opkyk
en nooit teruggroet nie of in ‘n glaskas van ‘n museum
uitgestrek lê en onsiende staar. Hulle lewens
was op bruikleen. Dit het nooit aan hul behoort nie.
Hulle lewens was ‘n blote storie en die Outeur
se naam in die kolofon blyk te wees ‘n skuilnaam.
Daardie Naam is die een waarna ek bly soek.
Vannag lees ek daardie geleende boek
oor die lewens van my vriende, my vader
en almal wat my pad gekruis het. Oor ‘n lewe
uitgeneem in die biblioteek van die Dood.

Istanbul, ‘n meditasie

Slotte is ook sleutels (soekend) sleutels ook slotte,
na “closure”, na Saul Bellow se “quiet space”.
Helaas geluk dit my nie; die sleutel toegesluit
in die Royal Hotel op die vierde verdieping.
Jy sal waarskynlik opmerk:”unresolvable plot”,
my attent maak dat die Bosphorus dit reeds uitwys:
dat sluiting of eindes in ‘n postmodernistiese tyd nie deug.
Hierom dan ‘n gedig, gedagtig aan VWL se slotte,
wéér ‘n vaart oor die rivier en nadink oor DJO:
”alles stroom deur grens en eeu aaneen.”
Allersieledag vir my in ‘n stad vol tekens, intertekste
en veral, museums gevul met verlore slotte.
En alles bly helaas hier tussen aanhalingstekens.



Crossref Citations

No related citations found.