Article Information

Author:
Wyn Roux1

Affiliation:
1Department of Afrikaans & Theory of literature, University of South Africa, South Africa

Postal address:
Private Bag X05, Noordbrug 2522, South Africa

Dates:
Received: 15 Sept. 2011
Accepted: 06 Jan. 2012
Published: 13 Nov. 2012

How to cite this article:
How to cite this article: Roux, W., 2012, ‘Die gedig as ’n vreemdeling se graf’, Literator 33(1), Art. #397, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i1.397

Note:
Hierdie bydrae is uit die kunstenaarsboek Die gedig as ‘n vreemdeling se graf, geskryf deur Wyn Roux (2010), www.bookboek.co.za

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die gedig as ’n vreemdeling se graf
In This Litera...
Open Access
Die gedig as ’n vreemdeling se graf

I

Wonder of dié dag my iets gaan leer van jou skielike afsterwe,
jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie. Brand elke nag
die maan met jou lyf wanneer jy kaal onder grond vrugbaar
weer deel word van die aarde. Proe elke wurm sag deur jou
lyf. Ag, om te ontsnap uit die woorde wanneer ek nie eens
weet wie of wat jy is nie, jy vir wie ek skryf, ses voet onder?

II

Geen mens het jou weer gesien nadat ek jou in die gedig
begrawe het nie. Aan die kis van woorde hoor ek jou krap,
proe aan wurms in jou mond, hulle wat hap na hap
die vrekte vier. Vraatsugtig byt jy nog aan grond asof
jy nooit genoeg daarvan sal kry nie. Eendag op ’n reëndag
sal ek met geen vermoede van ontmoeting op jou graf trap en ril.

III

Wanneer al die slaap van “vir ewig” verbygaan, sal
ek en jy – daar onder – die sjampanjebottels uit die kaste
van die ewigheid haal en drink op dit wat ons nooit geken
het nie. Ons sal mekaar vier en dink: As ons net vroeër
in hierdie vreemde
liggaamloosheid was,
sou ons -aan- geloop het soos verliefdes hand-aan-hand.

IV

In jou geraamte-arm se kuil hou ek my skuil; die
benerigheid van vergaan is aanvanklik hard, maar sagter
soos die jare kom en gaan. Die warm water filtreer
deur muwwe grond. Wat sal die mense sê as hulle ons
saam daar onder in die kis langs mekaar sien lê? “Is ’n kis nie
’n baie private ding nie?” Ag, om ewighede aan jou te ruik!

V

Die eerste keer binne ʼn donker kelder onthou ek goed.
Daarna wou ek nooit weer na die kelder teruggaan nie.
Die eerste keer het ek kennis gemaak met die donker. Ek het nooit
weer teruggegaan nie. Ek droom meestal dat ek nie wil doodgaan nie.
Die kis klap toe en ek haal nog asem. Ek krap met pen teen die kis
se klap. Jare later vind julle die gedig: Jul ‘t van my vergeet.

VI

Ag, hoe goed om eindelik te ontmoet. Jy het ook asemgehaal
soos duisende ander. Ook gestink en eindelik opgehou met stink.
Jy het lank in die grond baljaar. Gespeel in ’n sandput – kastele gebou.
Nou klim jy agter my in soos wanneer ons saam sou bad. Onthou jy?
Maar jy kan nie onthou nie. Ek het jou nooit ontmoet nie. Ek het jou
verbeel; ek het elkeen van julle verbeel en die woorde het reeds ontbind.


Bron: Hierdie afdruk word gebruik met toestemming van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Suid-Afrika


Crossref Citations

No related citations found.