Kop op ’n blok/blog
Book Title: Kop op ’n blok
Author: Philip de Vos
ISBN: 978-1-86919-546-5
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2012, 248 p., ZAR150.00*
*Book price at time of review
Review Title: Kop op ’n blok/blog
Reviewer: N. Vercuil
Affiliation: Private
Postal adress: PO Box 18, Escourt 3310, South Africa
How to cite this book review: Vercuil, N., 2013, ‘Kop op ’n blok/blog’, Literator 34(2), Art. #396, 2 pages.
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.396
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Philip de Vos is ’n bekende limerick-skrywer en het ’n aantal bloginskrywings op die Versindaba-webtuiste gelewer. Kop op ’n blok bestaan uit ’n versameling van hierdie bloginskrywings. Die bundel bevat egter ook ’n aantal sketse wat in tydskrifte en koerante gepubliseer is. Die inskrywings is outobiografies. De Vos gee interessante besonderhede oor ’n paar bekendes, soos die sangeres Cecelia Wessels, die aktrise, Anna Neetling-Pohl en die skrywers Freda Linde en Karel Schoeman. Sy ander belangstellings naas skryf – fotografie en sang – word ook bespreek. Wanneer ’n mens Kop op ’n blok lees, behoort in gedagte gehou te word dat die oorgrote meerderheid sketse in die bundel oorspronklik inskrywings op ’n blog was. Die term blog is ’n verkorte weergawe van die woord weblog, hoewel die terme aanlynjoernaal en selfs ‘blok’ in Afrikaans gebruik kan word. (Die titel van die bundel kan dus ’n woordspeling op die oorsprong van die bundel aandui.) Blog is ’n betreklik nuwe genre en het deure oopgemaak vir elke persoon wat die behoefte het om sy binnewêreld of belangstellings met ander lesers in die kuberruim te deel. Heelwat blogs is outobiografies van aard in die sin dat hulle ’n glimp van die skrywer se leefwêreld weergee. De Vos se bundel is dan ook in der waarheid ’n soort outobiografie en gee ’n oorsig oor sy kinderjare, loopbaan, verhoudings en voor-en afkeure. ’n Blog – as ’n produk van elektroniese media – is in essensie interaktief en die leser word potensieel makliker emosioneel en intellektueel by die skrywer en sy standpunte betrek. Wanneer bloginskrywings in bundelvorm gepubliseer word, verloor dit egter die vermoë om interaktief benader te word; wat op ’n blog as spontane gedagtewisseling vertolk kan word, mag in gedrukte formaat bloot as ondeurdag vertolk word. Die keuse van die inskrywings om by die bundel ingesluit te word, word dus belangrik. Aansluitend daarby: Aangesien die moontlikheid bestaan dat ’n soekenjinsoektog ’n leser toevallig op ’n spesifieke blog-inskrywing kan laat afkom, behoort elke blog-inskrywing onafhanklik van vorige inskrywings te kan staan. De Vos slaag goed daarin om elke skets boeiend te hou. Om blog-inskrywings egter in ’n bundel op te neem sodat dit ’n samehangende geheel vorm, veronderstel versigtige redigering – wat duidelik onder die redaksie van ’n redakteur van Daniel Hugo se formaat plaasgevind het. Die skrywer van ’n blog moet sy kop op ’n blok kan sit dat dit, wat hy skryf, die blootstelling en gevolglike kommentaar werd is. Terugvoer is gewoonlik feitlik oombliklik en die skrywer het baie gou ’n aanduiding of die inskrywing geslaagd was. Dit verg moed – en dis duidelik dat De Vos wel die moed het om hom uit te laat oor die sake waaroor hy sterk standpunt wil inneem. Hy steek soms sy nek ver uit met standpunte, veral oor bekendes. Dit is te betwyfel of die insluiting van ’n skets op bladsy 47 pas by De Vos se belofte dat net mooi en edele dinge in die bundel kwytgeraak sal word. Dit toon egter die ontwikkeling van ’n karakter wat homself as ‘die Sub B met die skoonste naels en die ordentlikste maniere’ beskryf – by implikasie iemand wat homself nie laat geld wanneer daar gemeen teenoor hom opgetree word nie na iemand wat op ’n mooi manier kan wraak neem wanneer hy hom vervies. Die taalgebruik binne ’n blog is soms informeel en ongestruktureerd. De Vos se inskrywings is egter in die vorm van sketse en sy taalgebruik is keurig. Die sketse is humoristies – sommiges skreeusnaaks – en bevat van sy versies. ’n Toon van melankolie kruip egter soms in en maak mens daarvan bewus dat die skrywer ’n veelfasettige mens is. Hoewel sy herhaaldelike verwysings na Karel Schoeman hinderlik is, kan dit wees dat sy verbintenis met die enigmatiese Schoeman dikwels pynlik was en dat die terugkeer na die onderwerp ’n poging is om sin daarvan te maak. Die inskrywing oor Thomas Linley, ’n Engelse tienervriend van Mozart, is interessante leesstof en een van vele sketse in die bundel waar omvattende navorsing deurskemer. De Vos begin sy boek met die waarskuwing dat hy geen wyshede oor die letterkunde sal kan kwytraak nie en spot subtiel met mense wat hulself te belangrik ag. Hy spot egter ook met homself – sy aandagafleibaarheid, haat vir kleefband, jammerte vir mismaakte vuurhoutjies en hoe ’n sjimpansee die kollig by hom gesteel het tydens sy debuut as operasanger. Hoewel Kop op ’n blok outobiografies is, is dit ook vermaaklike leesstof en sal dit by die meeste lesers aanklank vind. Veral mense met ’n bewondering vir De Vos se werk, sal die insae in die persoon insiggewend vind.
|