Mag ons hierdie lyf vergeet

Book Title: ’n Lyf onthou
Author: Riette Rust
ISBN: 978-1-869-548-9
Publisher: Protea, Pretoria, 2012,
168 p., ZAR170.00*

Review Title: Mag ons hierdie lyf vergeet
Reviewer: Joan Hambidge1
Postal adress: Private Bag X3, Rondebosch 7701, South Africa
Affiliation: 1Department of Afrikaans Literature and Creative Writing, University of Cape Town, South Africa
How to cite this book review: Hambidge, J., 2013, ‘Mag ons hierdie lyf vergeet’, Literator 34(2), Art. #384, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.384
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Wat ’n mens eet, is jy. Dieselfde geld vir wat jy lees, dit word jy. In dieselfde tyd as S.J. Naudé se Alfabet van die voëls en Nicole Jaekel Strauss se Maal, verskyn ’n Lyf onthou van Riette Rust, die skrywer van Lang bene en lipstiek: Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses (’n boek oor ‘erotiese kapitaal’).

Marius Crous prys die jongste boek op die agterblad en praat van ‘geile verhale oor die liggaam, erotiek en die sluimerende wellus’. Pas nadat die boek egter verskyn het, bruis ’n ligte polemiek in Die Burger oor Louise Viljoen (2012) en Harry Kalmer (2012) se uiteenlopende resensies. Kalmer vind min goeds in die verhale en meen dat die boek swak geskryf is. Viljoen, daarenteen, probeer die boek vanuit ’n debiet- en kredietstaatperspektief benader. Ons lees verder op die agterblad dat die bundel oor ‘die versplintering van die openbare en geheime lewens van gewone mense’ handel. Story of O in Afrikaans? ’n Verwagtingshorison word geskep met die gelade woorde dat ons hier te make het met ‘die liefde, erotiek en seks soos selde(!) in Afrikaans’ beskryf. Aucamp, Koos Prinsloo, De Lange daargelaat, kom verskeie vroueskrywers soos Riana Scheepers, Rachelle Greeff en Marita van der Vyver as bedrewe beoefenaars van die erotiese en seksuele uit die coulisse. Die boek word verder vir die volwasse leser bemark. Dus sagte pornografie?

As jy jou lippe vir ’n Anaïs Nin of Erica Jong aflek, gaan jy teleurgesteld wees. Uitgesluit die verhaal Vanielje waar ’n s&m-verhouding beskryf word. In die hartverskeurende Ys word impotensie onder die loep geneem en wanneer die ys stukkend geslaan word, vergruis elke hou iets in haar (bl. 74). Eer jou vader (bl. 142) ontgin die psigodrama, wat waarskynlik onderliggend aan hierdie vertellinge lê en toon die skrywer op haar beste. Tog word die gegewe nie diepgrondig genoeg ontgin nie. Die bundel het daardie selfbewustheid van ’n voorstedelike skrywer, wat die leser die hele tyd daaraan herinner dat jy iets ‘stouts’ of ‘grensoorskrydends’ beleef. En dit is juis dit wat goeie seks- en erotiese verhale besonders maak: skaamteloosheid. As Johann de Lange in Tongnaai sy objek-van-begeerte beskryf, is dit sonder skroom en dwingend; en in sterk metafore beskryf. Slagplaas van Prinsloo bied eweneens verhale, binne hierdie sub-genre, wat jou tussen die oë tref. Die meeste van die verhale in hierdie bundel het egter te veel van ’n Sarie-aanslag (wat ek net in ’n dokter se spreekkamer lees) om werklik ‘skokkend’ of sterk te wees wanneer verkragting, teistering en drankmisbruik ontgin word. Het die agterbladskrywer al ooit gewaagde Amerikaanse verhale gelees? Of uitgegaan? Of Corlia Fourie en Annemarié van Niekerk se bundels opgetel?

Die lyf van ’n mooi jong vrou op die voorblad (wat resoneer met Antjie Krog se voorblad van Verweerskrif, ’n bundel wat terloops die seksuele sonder beletsel verken) kondig reeds die toonaard aan. Was die prosa maar gephotoshop. Ek haal aan: ‘Haar onderlyf het sappig geword. Sy haal diep asem wanneer hy, kamma uitgeput, op sy rug langs haar kom lê’ (bl. 28). Die destydse Loslyf het getoon dat die beskrywing van die seksuele daad in Afrikaans maklik lagwekkend kan word, ofskoon vermaak die absolute bedoeling van daardie tydskrif was. Ek het weer Henry Miller se odes aan die cock gelees en vind hierdie middelklas-blues en stoute drome vervelig. Veral omdat die prosa so flets is. Stories dreun verby hul eindes, die verteller onderskat die leser en óórverduidelik simbole en kodes.

André le Roux, ’n voorste beoefenaar van kortkuns, word in die bedankingswoord as haar mentor beskou. ’n Deeglike lees van sý verhale sou haar leer hoé om ’n intro- en slot te skryf. Dit is jammer as ’n mens ’n boek lees en die hinderlike gevoel kry dat ’n bietjie slyp, nadink en veral léés in ander tale, die verhale uit ’n selfbewuste, paint-by-numbers-aanslag kon red. Die hemel behoede ons as hierdie soort bundel as goeie verhale beskou word.

’n Verhaal soos Ys het moontlikhede, juis omdat dit verby die hier-en-nou ’n soort mitologiese gegewe inbou en inspeel op argetipiese wreedhede in verhoudings. Wanneer ’n bundel egter eerder van penis (’n mediese term) as piel praat, verklap dit ’n kliniese manier van skryf. Die bundel bevat nie slegs seksverhale nie; daar is ook verhale oor die family romance en onvervulling, body loneliness, en lyfobsessies, maar hierdie verhale sal waarskynlik weens die bemarking minder aandag trek. Verhale word aan Marlene van Niekerk en Rachelle Greeff opgedra; waarskynlik ’n soort intertekstuele kopknik, wat die skraalheid net verder versterk. Die seksuele kom nie die mas op nie en die ernstige temas roep sterker vergelykings op wat ’n mens steeds laat besef dat herskrywing nuttig sou wees.

Waarskynlik sal die bundel verkoop – aan die desperate housewives. ’n Mens kan ’n skrywer enigiets vergewe, as sy jou met haar taalgebruik en –vernuf oorrompel. Hierdie skrywer is egter buite haar diepte en die stiletto’s gly oor die marmer. Al wat uitbly, is ’n plastieksakkie met pienk kondome.

Literatuurverwysings
Kalmer, H., 2012, ‘Teks kon baat by baie skaafwerk’, besigtig 13 Mei 2012, by http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Teks-kon-baat-by-baie-skaafwerk-20120513

Viljoen, L., 2012, ‘Bundel is gelukkig meer as net seks’, besigtig 13 Mei 2012, by http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Bundel-is-gelukkig-meer-as-net-seks-20120513



Crossref Citations

No related citations found.