Book Review

Geleerde digters en geleerde lesers

Book Title: Die geleerde digter

Author: Henderson W.J

ISBN: ISBN 978-0-6399219-2-1

Publisher: Imprimatur, 2018, R600*

*Book price at time of review

Review Title: Geleerde digters en geleerde lesers

Reviewer:
Johan J. Steenkamp1symbol

Affiliation:
1School for Ancient Languages and Text Studies, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Corresponding author: Johan Steenkamp, johan.steenkamp@nwu.ac.za

How to cite this book review: Steenkamp, J.J., 2022, ‘Geleerde digters en geleerde lesers’, Literator 43(1), a1869. https://doi.org/10.4102/lit.v43i1.1869

Copyright Notice: © 2022. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die geleerde digter is Henderson se vierde boek oor korter antieke Griekse poësie en die langste – die boek beslaan drie bande. Die werk bevat seleksies uit die pastorale en epigrammatiese poësie. Dié reeks oor die korter Griekse poësie beoog, in Henderson se woorde, om ‘n seleksie van die antieke Griekse poëtiese vorme wat nog nie in Afrikaans vertaal is nie, in Afrikaans beskikbaar te maak. Die eerste boeke in die reeks, Op Griekse lier (2004), Vir Griekse fluite (2009), en Die berispende stem (2011), het onderskeidelik liriese, elegiese en jambiese poësie bevat. Hierdie laaste boek sluit die res van die genres in, wat tydens die Hellenistiese tyd meer populêr was. Die geleerde digter is nie ‘n vertaling van al die korter Griekse poësie wat gepubliseer is nie; dit is ‘n antologie eerder as ‘n versameling. Die geleerde digter gee ‘n verteenwoordigende seleksie van die genres, besprekings van die gedigte, die konteks waarin hulle gepubliseer is en die digterlike storiewêreld waarin die gedigte afspeel.

Die doelwit wat Henderson hom met die boek gestel het, is allesbehalwe maklik. Die poësie in hierdie bundel is die produk van ‘n lang en komplekse literêre tradisie en Henderson se werk daarop is, soos hy in die voorwoord bely, reeds in die vorige eeu in Urbino in Italië begin. Hellenistiese poësie is eiesoortig en uniek. Dit is geskep in ‘n spesifieke geskiedkundige konteks, wat nie maklik is om te leer ken nie, en in ‘n sonderlinge kulturele klimaat wat moeilik is om te verstaan. Afgesien hiervan is die tekste van die gedigte self ook nie stabiel nie, maar die produk van eeuelange oorskryf. Die geleerde digter is dus, terselfdertyd, ‘n vertaling, ‘n literêre interpretasie, ‘n kultuurgeskiedkundige analise en ‘n tekskritiese ondersoek.

Die meeste van die gedigte vervat in Die geleerde digter is alreeds in antieke tye in antologieë versamel. Die gedigte wat die grootste invloed op Europese literatuur gehad het, kom uit die versameling wat bekend staan as die Anthologia Graeca (1606), wat op sy beurt saamgestel is uit die Anthologia Planudea (14de eeu) en die Anthologia Palatina (10de eeu). Dié versamelings is natuurlik op ouer versamelings gebaseer waarvan ons nie baie weet nie. Die oudste versamelaar van antieke Griekse gedigte aan ons bekend is Meleagros van Gadara, wie se gedigte in band drie verskyn.

Antieke Griekse literatuur het ‘n enorme geskiedenis en die meeste van die genres wat ons vandag in Westerse literatuur aantref is deur die antieke Griekse skrywers geskep. Die argaïese tydperk (c. 800-480 v.C.) is bekend vir veral epiese poësie en die meeste lesers is bekend met die Ilias en Odusseia van Homerus, dalk ook met die werke van Hesiodus. Die klassieke tydperk in die vyfde eeu v.C. en net daarna is weer bekend vir die drama van die beroemde Griekse tragedieskrywers soos Sophokles, Aristophanes en Euripides. Dit is natuurlik nie te sê dat daar slegs drama en epos in antieke Griekeland geskryf is nie en Henderson wy ‘n deel van band twee aan die epigrammatiese poësie van dié tydperk. Die grootste deel van Die geleerde digter is egter gemoeid met die poësie van die Hellenistiese tydperk – die tydperk wat gevolg het op die val van die Macedoniese ryk van Aleksander die Grote. In hierdie tydperk het genres met korter gedigte meer populêr geword en die beste digters het hulle op die korter genres toegespits. Dit is ook in dié tyd dat Griekse literatuur nie meer deur outeurs van Griekeland oorheers is nie, maar toe die kulturele hoofstad van die Griekssprekende beskawing na Aleksandrië in Egipte verskuif het. In Aleksandrië, onder die beskerming van die Ptolemeïese koningshuis, het die letterkunde in ‘n unieke kulturele konteks in en om die beroemde biblioteek, die Mouseion, in die stad gefloreer.

Die titel Die geleerde digter is ontleen van hierdie hoë literêre kultuur waarin die poësie geskep is. Soos Henderson in die verskeie inleidings in die boek ons telkens bewus maak, is hierdie korter poësie deur geleerde skrywers vir ‘n baie spesifieke gehoor gekomponeer. Die netwerke van intertekstuele verwysings, fyn humor en subtiele poëtiese spel maak die gedigte kompleks en interessant – dit maak ook die vertaler se werk baie moeiliker. Dit is alombekend dat vertaling nie net die omskakeling van ‘n boodskap in een taal na ‘n ander behels nie, maar dat dit ook, veral in die geval van literatuur, die herskepping van die oorspronklike kunswerk in ‘n nuwe kultuur vereis. Die geleerde digter kry dit reg.

Die eerste band bevat ‘n algemene inleiding tot al drie bande van die boek. Die lys van afkortings, wat redelik uitgebreid is, sowel as die notas oor die datums (en gebrek aan datums) vir die Griekse outeurs, word egter in elke band herhaal. In die eerste band, in die tweede hoofstuk, word die literêre wêreld van Aleksandrië, die konteks waarin gedigte van al drie bande gepubliseer is, beskryf. Dié inleiding is nie ‘n geskiedkundige handboek oor die tydperk nie, maar ‘n inleiding tot die verstaan van die poësie wat volg. Henderson behandel die Hellenistiese wêreldbeeld en filosofie, die kultuur van die Mouseion en die literêre teorie wat die skryf en lees van die poësie onderlê het.

Met die eerste oogopslag lyk dit of die sowat 15 bladsye wat aan hierdie afdeling gewy is, nie naastenby voldoende kan wees om só ‘n ingewikkelde tydperk te beskryf nie. ‘n Nader blik wys die teenoorgestelde. Henderson mors nie tyd met breedvoerige verduidelikings wat reeds in ander boeke opgeskryf is nie en streng gesproke aan die meeste literatuurliefhebbers bekend behoort te wees. Die bespreking fokus slegs op dié aspekte van die kultuur wat noodsaaklik is vir die verstaan en geniet van die poësie. Die res van die eerste band is gewy aan die pastorale poësie self.

Die afdeling oor pastorale poësie fokus natuurlik op Theokritos van Sirakuse, sekerlik die bekendste pastorale digter, maar Moschos van Sirakuse en Bion van Smirna is ook verteenwoordig. Elkeen van die digters het hul eie inleiding waarin Henderson noukeurig, maar bondig, die inligting wat oor die digters beskikbaar is, gee. Die hoogtepunt van die eerste band is definitief die sowat negentig bladsye wat aan Theokritos gewy is. Die Idille van Theokritos staan aan die begin van ‘n tradisie van pastorale poësie en as die oorspronklike inspirasie vir pastorale poësie van Vergilius tot Spenser, Milton en Pope. Elke gedig word omsluit met ‘n breedvoerige uiteensetting van die tematiek, performatiewe implikasies, intertekstuele verwysingsnetwerk en, waar nodig, die tekstradisie, vooraf, en ‘n interpretasie van die gedig self, daarna. Die strukturele organisasie van die besprekings en vertaling word herhaal by elke afdeling.

‘n Goeie voorbeeld is die storie van Poluphemus wat in Idille 11 vertel word en weer in Idille 6 na verwys word. Poluphemus die sikloop is smoorverlief op die nimf Galateia, maar hy dink dat sy hom lelik ag (hy is immers ‘n sikloop). Om hom van sy liefdesteleurstelling te genees, sing hy aan sy beminde ‘n lied wat nie baie gesofistikeerd is nie. Hier is ‘n uittreksel:

‘Ek weet, skone meisie, waarom jy wegvlug:

dit is omdat ‘n harige wenkbrou, net een grote,

oor my hele voorkop strek van oor tot oor,

en net een oog daaronder is, en ‘n plat neusgat bo my lip.

Maar lelik soos ek is, ek pas ‘n duisend beeste op,

en van hulle trek en drink ek die beste melk.

Aan kaas het ek geen tekort, nie in die somer, herfs

of einde winter nie: my rakke is altyd swaar gelaai’.

Band twee bevat klassieke en vroeë Hellenistiese epigramme. Die gedigte in hierdie bundel is nie almal Aleksandryns nie, maar kom uit verskeie ander dele van die Griekse wêreld. Die band is natuurlik ook van ‘n inleiding voorsien wat die oorsprong, ontwikkeling en tematiek van die epigram bespreek. Die beroemde digters Simonides van Keos, Leonidas van Tarentum en Poseidippos van Pella is natuurlik verteenwoordig, maar die tydperk het ook verskeie vrouedigters opgelewer. Die wêreld van vroue in antieke Griekeland, hul vrese en drome, word verwoord in die epigramme van Erinna van Telos, Anutê van Tegea en Nossis van Lokri.

Die vrouedigters staan nie terug vir die mans nie en hul werk is al in antieke tye hoog geag. Een van die epigramme van Nossis eindig met ‘n koeplet wat nie minder nie as vier interpretasiemoontlikhede bevat. Dié word in die bespreking ná die gedig genoem, maar in die vertaling self word die polisemie net so gelos:

‘“Niks is soeter as die liefde nie; alle ander genietinge kom

tweede; ek het selfs heuning uit my mond gespoeg.”

So sê Nossis. Maar vir wie Kupris* nog nie gesoen het nie, *Aphrodite

weet regtig nie watter blomme haar rose is nie’.

Laastens, in band drie, word daar na die Mouseion in Aleksandrië teruggekeer. Die seleksie begin by sekerlik die beroemdste Hellenistiese digter, Kallimachos van Kurene, een van die hoofbibliotekarisse van die Mouseion en eindig by Meleagros van Gadara wat in die eerste eeu v.C. in Sirië gebore is.

Die keurige uitleg en versorging van die drie bande moet ook genoem word. In hierdie opsig moet Imprimatur gekomplementeer word met die drie aantreklike bande wat hulle uitgegee het. Die stofomslag voel luuks en die bindwerk lyk of dit die aanslae van herhaalde gebruik maklik sal weerstaan. Die bladsye is netjies uitgelê en alhoewel die skreeflose lettertipe eienaardig is vir ‘n gedrukte boek, lees die teks maklik. Die groot probleme wat gewoonlik gepaardgaan met die lettersetwerk van antieke Griekse woorde en name is ook doeltreffend opgelos. Die algemene gebrek aan drukfoute in die enorme hoeveelheid detail in die voetnotas, glossaria, en bibliografieë getuig van tydsame en noukeurige proefleeswerk.

Dit bly oor om Die geleerde digter heelhartig aan te beveel aan alle poësie- en literatuurliefhebbers. Die geleerde digter is waardevol vir die plesier wat die antieke Griekse poësie verskaf en vir die toeligting en bespreking van hierdie poësie. Die geleerde digter is egter ook waardevol vir sy potensiële bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Die bladsye van hierdie boek verleen toegang tot ‘n bron van literêre inspirasie waarsonder Westerse literatuur nie in die huidige vorm sou bestaan nie. Vertalings van hierdie poësie staan aan die begin van die letterkunde van Italië en Spanje en vandaar is dit deur Europa versprei, van biblioteek na biblioteek, totdat die Hellenistiese digters ‘n intrinsieke deel geword het van die literêre verbeelding van die wêreld.



Crossref Citations

No related citations found.