About the Author(s)


Burgert A. Senekal Email symbol
Unit for Language Facilitation and Empowerment, Faculty of Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Senekal, B.A., 2022, ‘In ʼn leefwêreld vervleg: Die gesprek oor Ingrid Jonker op Instagram’, Literator 43(1), a1804. https://doi.org/10.4102/lit.v43i1.1804

Original Research

In ʼn leefwêreld vervleg: Die gesprek oor Ingrid Jonker op Instagram

Burgert A. Senekal

Received: 06 Apr. 2021; Accepted: 10 Sept. 2021; Published: 31 Mar. 2022

Copyright: © 2022. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Intertwined in a living world: The conversation about Ingrid Jonker on Instagram. Ingrid Jonker is a legend in Afrikaans literature who is sometimes compared with figures such as Marilyn Monroe, Elvis Presley and James Dean. Because she is such an important figure in Afrikaans literature, the current study examines the conversation around her on the social media platform, Instagram. The current study conducts an analysis of hashtags used in conjunction with #ingridjonker in order to determine which texts, people, places, films, musicians, plays, visual arts, emotions and the like are associated with her on this platform. Her strong connection with André P. Brink is highlighted and it is also shown how she remains relevant across language and medium boundaries.

Keywords: social media; Instagram; Afrikaans literature; folksonomy; hashtags; Ingrid Jonker; Afrikaans poetry.

Inleiding

Ingrid Jonker is ’n kultusfiguur in die Afrikaanse literatuur. Reeds in 1983 verwys Van Wyk (1983:13) na haar as ‘’n mens wat toenemend mite, legende en gedig self geword het’. Nel (2003:150) noem haar ’n ikoon en bring haar in verband met ander kultusfigure soos Marilyn Monroe, Elvis Presley, James Dean en Andy Warhol (kyk ook Burger 2018). Volgens Viljoen (2009:204) verteenwoordig Jonker, saam met Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman ‘die gesig van die Afrikaanse poësie’. As deel van Jonker se prestige, het verskeie digters ook reeds met haar in gesprek getree, byvoorbeeld Antjie Krog, Adam Small en Johann de Lange (Viljoen 2007:18–22), Carina Stander en Bernard Odendaal (Crous 2009:206, 212), Marlene van Niekerk (Wolfaardt-Gräbe 2013:575), Clinton V. du Plessis (Renders 2013:50), T.T. Cloete (Crous 2015:184), Wilma Stockenström (Coetzee 2015:37), Ruan Fourie (Cochrane 2018:183), Koos Kombuis (Bohnen 2018) en vele meer. Hambidge (2016) voer aan: ‘Daar is waarskynlik meer gedigte oor haar lewe en tragiese selfdood geskryf as oor enige ánder figuur in Afrikaans.’ Ook in populêre kultuur figureer sy sterk: Viljoen (2008:287) skryf dat Jonker saam met Breytenbach en Louw in Jan Blohm se liedjie, ‘Soos ’n rots’, voorgehou word ‘as een van die ikone van die Afrikaanse letterkunde’, terwyl Klopper (2017:206–207) ’n verwysing na Jonker deur Jack Parow in sy liedjie, ‘Bloubek’, bespreek. In ’n studie van die sigbaarheid van gekanoniseerde Afrikaanse skrywers op die sosialemediaplatform, Instagram, is ook aangedui dat gebruikers op hierdie platform die derde meeste voorkeure vir plasings oor Jonker aangedui het (naas Deon Meyer en Koos Kombuis) (Senekal 2020a:220). Sosiale media het ’n belangrike gespreksplatform in die hedendaagse wêreld geword, ook ten opsigte van die letterkunde en spesifiek die digkuns. Penke (2019:453) voer byvoorbeeld aan:

Damit lässt Instagram nicht nur die Fortsetzung etablierter Verfahren unter veränderten medialen Bedingungen zu, sondern es entstehen auch neue Möglichkeiten der literarischen Kommunikation. Diese äußern sich in neuen Praktiken der Produktion, Distribution, Rezeption, der reziproken Kritik wie der Netzwerkbildung, aber auch der Interaktion von Autorïnnen mit ihrem Publikum, die alle von den Affordanzen des Mediums mitbestimmt werden. Für keine literarische Gattung sind die Folgen dessen so umwälzend wie für die Lyrik [Instagram laat nie net toe dat gevestigde prosesse onder veranderde mediatoestande voortgesit word nie, maar skep ook nuwe moontlikhede vir literêre kommunikasie. Dit kom tot uitdrukking in nuwe praktyke van produksie, verspreiding, resepsie, wederkerige kritiek soos die vorming van netwerke, maar ook in die interaksie van skrywers met hul gehoor, wat alles bepaal word deur die vermoëns van die medium. Vir geen literêre genre is die gevolge hiervan so revolusionêr as vir poësie nie]. (bl. 453)

Die huidige studie ondersoek die gesprek op Instagram rondom die hutsmerk, #ingridjonker. Die doel is om te identifiseer met watter tekste, persone, plekke, films, musikante, toneelstukke, visuele kuns, emosies en dergelike sy op hierdie platform in verband gebring word. Omdat Instagram ’n sosialemediaplatform is wat in gewone mense se alledaagse lewens gebruik word, kan ’n studie van ’n hutsmerknetwerk uitlig waarmee ’n digter in die alledaagse leefwêreld geassosieer word.

Die artikel is soos volg gestruktureer: Eerstens word ’n agtergrond oor die verskynsel van volksonomie gegee, met spesifieke verwysing na Instagram en vanuit die oogpunt van die netwerkteorie. Hierna word die metodes bespreek wat in die huidige studie gebruik is. Daarna word die datastel beskryf en resultate word bespreek. Die artikel sluit af met slotopmerkings.

Agtergrond

Volksonomie is die verskynsel waar gewone mense etikette aan materiaal toeken (eerder as inligtingkundiges). Die term volksonomie is deur Van der Wal (2007) geskep wat die verskynsel soos volg omskryf:

Folksonomy is the result of personal free tagging of information and objects (anything with a URL) for one’s own retrieval. The tagging is done in a social environment (usually shared and open to others). Folksonomy is created from the act of tagging by the person consuming the information.

Hutsmerke is ’n vorm van volksonomie en het in 2007 op Twitter ontstaan toe Chris Messina voorgestel het dat gesprekke rondom ’n onderwerp gegroepeer kan word indien ’n # voor ’n woord geplaas word (Giannoulakis & Tsapatsoulis 2016:115). Die idee het vinnig aanklank by ander Twitter-gebruikers gevind en in 2009 is hutsmerke amptelik deur Twitter erken (Cox 2017). In 2011 is hutsmerke by die funksionaliteit van Instagram gevoeg (Giannoulakis & Tsapatsoulis 2016:115; Penke 2019:458). Penke (2019:458) voer aan: ‘Diese Verschlagwortungen stellten umgehend, wie bereits beim Vorbild Twitter, die wichtigste Möglichkeit dar, Inhalte netzwerkartig zu organisieren.’

Instagram is in 2010 deur Kevin Systrom en Mike Krieger gestig, aanvanklik met 25 000 gebruikers en net as ’n iPhone toepassing (Blystone 2020). ’n Android toepassing het in 2012 gevolg en webtoegang het in dieselfde jaar moontlik geword (Highfield & Leaver 2016:57). Die funksie om video’s te plaas, is in 2016 bygevoeg en skyfies in 2017 (Penke 2019:458). Instagram se ledetal het vinnig gestyg en teen 2020 was daar reeds 1 miljard gebruikers wat elke maand van die platform gebruik gemaak het (Aslam 2021; Kellogg 2020; Kemp 2020). In Suid-Afrika is Instagram ook een van die gewildste platforms met 4,7 miljoen aktiewe gebruikers (Goldstuck 2020:52). Daar is reeds meer as 50 miljard foto’s op Instagram geplaas (Aslam 2021).

Instagram laat nie alleen gebruikers toe om foto’s, video’s en skyfies te plaas nie, maar ook om met ander gebruikers in gesprek te tree. Buente et al. (2020) voer aan:

Although Instagram posts are an important part of the social media platform, it is the networked engagement of content that makes Instagram notably different than other photo-sharing platforms such as Flickr. (p. 1485)

Hutsmerke het vinnig ’n belangrike komponent van Instagram se funksionaliteit geword. Hutsmerke word gebruik om die sigbaarheid van plasings te verhoog en inhoud te bemark (Giannoulakis & Tsapatsoulis 2016:115), maar word hoofsaaklik aangewend om die inhoud van plasings te beskryf. Giannoulakis en Tsapatsoulis (2016) het gevind dat in 66% van gevalle, hutsmerke ’n beskrywing van die inhoud van ’n plasing is, terwyl die res op ander assosiasies van die gebruiker dui. Dorsch (2018:56) het ook bevind dat 60% van hutsmerke die inhoud van ’n plasing beskryf, terwyl die res van hutsmerke inligting oor die plasings aandui, byvoorbeeld die datum en plek, Instagram-verwante hutsmerke, byvoorbeeld #instagood, en ander. Hutsmerke is met ander woorde etikette wat met die onderwerp geassosieer word, hetsy denotatief of konnotatief. Buente et al. (2020:1484) skryf: ‘[hutsmerke] serve as keywords that bring people with mutual interests together to facilitate discourse around certain images and topics within a shared, networked space’.

Verskeie outeurs (Buente et al. 2020; Cattuto et al. 2007; Ichau, Frissen & D’Haenens 2019; Senekal 2020b; Shen & Wu 2005; Türker & Sulak 2017; Xamena, Brignole & Maguitman 2017) stel voor dat etikette wat deur gebruikers aan sosialemedia-inhoud toegeken is, as ’n netwerk ondersoek kan word. In so ’n geval word elke hutsmerk as ’n nodus aangedui en ’n skakel word tussen hutsmerke aangedui indien hulle in dieselfde plasing voorkom en dus na dieselfde item of plasing verwys. Wanneer so ’n hutsmerknetwerk saamgestel is, kan die netwerk binne die netwerkteorie (Barabási 2016) ontleed word wat ’n benaderingswyse binne die sisteemteorie is, maar ook tot ’n teorie in eie reg ontwikkel het. Die netwerkteorie laat die navorser dan toe om belangrike nodusse wiskundig te identifiseer, byvoorbeeld deur Freeman (1977) se graad-, tussenligging- en nabyheidsentraliteit te gebruik, die netwerk te visualiseer, byvoorbeeld met behulp van Fruchterman en Reingold (1991) se uitlegalgoritme, om groeperings of gemeenskappe te identifiseer, byvoorbeeld met behulp van Blondel et al. (2008) se algoritme, asook om die hele struktuur van die netwerk te ondersoek soos byvoorbeeld in Senekal (2020b) onderneem word.

Die huidige studie konsentreer daarop om die sigbaarste hutsmerke te identifiseer wat saam met #ingridjonker voorkom. Hiervoor is Freeman (1977) se graadsentraliteit die beste geskik. Graadsentraliteit tel die getal direkte skakels wat ’n nodus het, nabyheidsentraliteit identifiseer die nodusse wat die meeste ander nodusse met ’n kort pad kan bereik, en tussenliggingsentraliteit identifiseer die nodusse wat op kort paaie in ’n netwerk aangetref word. Graadsentraliteit neem slegs direkte skakels in ’n netwerk in ag en is daarom ’n eenvoudige en plaaslike meting, maar in ’n hutsmerknetwerk sal graadsentraliteit juis die sigbaarste hutsmerke uitlig, omdat dit die nodusse met die meeste skakels uitlig. Eksperimente het ook getoon dat ander maatstawwe wat die belangrikheid van ’n nodus bepaal, byvoorbeeld tussenligging- en nabyheidsentraliteit vir die huidige doel oorbodig is, aangesien graadsentraliteit baie sterk (r > 0.9) met hierdie maatstawwe gekorreleer het.

Die netwerkteorie se konsep van modulariteit kan aangewend word om groeperings of gemeenskappe in hutsmerknetwerke te identifiseer (Ichau et al. 2019). In so ’n geval word ’n statisties beduidende verskil tussen die aantal intragemeenskap teenoor die getal intergemeenskapskakels met behulp van ’n algoritme, byvoorbeeld dié Blondel et al. (2008) bepaal. Dié en soortgelyke algoritmes identifiseer dan groepe nodusse wat meer gereeld onderlinge skakels aanknoop. In ’n hutsmerknetwerk beteken dit dat hutsmerke geïdentifiseer word wat meer gereeld saam genoem word in die byskrifte van plasings.

Die volgende afdeling bespreek die metodes wat in die huidige studie gevolg is.

Metodes

Alle Instagram-plasings met die hutsmerk, #ingridjonker, is op 31 Maart 2021 met behulp van die toepassing, InstaBro, afgelaai. Hierdie toepassing maak dit moontlik om die inhoud van die plasing (foto, skyfie of video) af te laai, sowel as metadata soos die datum en tyd van die plasing, die byskrif en hoeveel voorkeure en kommentare die plasing ontvang het. Alle plasings, vanaf die eerste plasing tot en met die mees onlangse, is afgelaai. Geen besonderhede is beskikbaar oor gebruikers se ligging, naam, geslag of ouderdom nie wat die ontleding beperk, maar, beteken dat gebruikers se privaatheid nie geskend kan word nie. In plaas van gebruikers se name, is ’n unieke numeriese kode aan elke gebruiker toegeken. Alle plasings wat afgelaai is, is boonop openbare plasings, met ander woorde nie privaat rekeninge waartoe die navorser toegang sou moes kry nie. Highfield en Leaver (2016) skryf oor die komplekse kwessies verbonde aan etiek in sosialemedianavorsing, maar maak die volgende belangrike stelling:

In this context, it may be more useful to move away from the binaries of public or private, and consider whether the act of researching surfaces material that would otherwise had little attention and whether amplifying that material through research and research reporting has the potential to do any harm. (p. 57)

Aangesien die huidige studie nie ’n kontroversiële onderwerp is nie, kan aangevoer word dat die gebruik van sosialemediaplasings nie skade kan veroorsaak vir gebruikers nie. Boonop word op hutsmerke eerder as individuele gebruikers gekonsentreer in die ontleding hieronder.

Die hutsmerke wat saam met ’n plasing gebruik word, word aangetref in die byskrif van die plasing wat dit nodig maak om hutsmerke te onttrek ten einde hutsmerke verder te kan ontleed. Hiervoor is gebruik gemaak van die gereelde uitdrukking wat in Senekal (2020a:240) weergegee is waar hutsmerke volgens soort geklassifiseer is.

Dorsch (2018) klassifiseer hutsmerke in sewe kategorieë (voorbeelde is uit die #ingridjonker datastel geneem):

Inhoudelik, wat die inhoud van die plasing beskryf, byvoorbeeld #vlamindiesneeu:

  1. Emosionaliteit, wat emosie uitdruk, byvoorbeeld #sadness;

  2. Sinne, volsinne met ’n subjek, werkwoord en objek, byvoorbeeld #plantvirmynboomandre;

  3. Meta (‘ishness’), wat handel oor die plasing, byvoorbeeld #digkuns;

  4. Performatiwiteit, wat handeling veronderstel, byvoorbeeld #reading;

  5. Valsheid, waar hutsmerke op iets dui wat onwaar is;

  6. Instagram-verwante hutsmerke, byvoorbeeld #instart.

Hierdie indeling is egter nie toepaslik in die huidige studie nie: #plantvirmynboomandre is byvoorbeeld ’n sin, maar ook ’n gedig en ’n toneelstuk, terwyl die hutsmerk #vlamindiesneeu as inhoudelik geklassifiseer kan word, maar dit is ook die titel van ’n boek. Ek het gevolglik sommige van Dorsch (2018) se kategorieë gebruik, naamlik Instagram-verwant en meta, maar verder my eie kategorieë geskep op grond van die aard van die hutsmerke self en die plasings wat gemaak issoos Ichau et al. (2019) ook kategorieë geskep het op grond van die data self. Sommige hutsmerke verwys byvoorbeeld na digbundels, literatuur in die algemeen, skrywers, teaterproduksies of kunsuitstallings. Hutsmerke is in 16 kategorieë ingedeel:

  1. Meta is algemene hutsmerke oor die plasing, byvoorbeeld #inspirasie, #woorde en #picoftheday;

  2. Literatuur sluit algemene hutsmerke in wat verband hou met literatuur, byvoorbeeld #digbundel, #skryf en #verse;

  3. Visuele kuns sluit hutsmerke in wat verwys na visuele kuns, byvoorbeeld #portrait, #collage en #painting.

  4. Emosie verwys na hutsmerke wat emosie uitdruk, byvoorbeeld #liefde, #hartseer en #verdriet;

  5. Instagram-verwante hutsmerke is hutsmerke wat spesifiek betrekking het op die platform, byvoorbeeld #tbt (‘throwback Thursday’), #dichtersvaninstagram en #bookstagram;

  6. Plek sluit plekname in, byvoorbeeld #pretoria, #stellenbosch en #southafrica;

  7. Natuur bevat hutsmerke wat na die natuur verwys, byvoorbeeld #beach, #ocean en #sunset;

  8. Skrywer verwys na ander skrywers se name, byvoorbeeld #linaspies, #djopperman en #npvanwyklouw;

  9. Taal sluit tale en taalverwante hutsmerke in, byvoorbeeld #afrikaans, #nederlands en #myafrikaans;

  10. Musiek sluit hutsmerke in wat verband hou met musiek, byvoorbeeld #artmusic, #contemporarymusic en #classicalmusic;

  11. Teks noem die titel van ’n literêre werk, gedig of boek, byvoorbeeld #vlamindiesneeu, #rookenoker en #diekind;

  12. Film sluit verwysings na films in, byvoorbeeld #movie, #shortfilm en #afrikaansfilm;

  13. Teater sluit teater-verwante hutsmerke in, byvoorbeeld #korreltjiekantel, #threatre en #drosdytheatre;

  14. Feeste sluit verwysings na feeste in, byvoorbeeld #tuinvandigters2018, #aardklop en #woordfees;

  15. Kunstenaar sluit verwysings na musikante in, byvoorbeeld #chrischameleon, #amandastrydom en #antongoosen;

  16. Akteur verwys na hutsmerke wat ’n akteur se naam noem, byvoorbeeld #tinarievanwykloots, #liamcunningham en #sandraprinsloo.

Hierdie kategorieë is gebruik om die bespreking van die volksonomienetwerk rondom #ingridjonker te rig. Wanneer hutsmerke nie binne hierdie kategorieë ingedeel kon word nie, is dit as ander geklassifiseer, byvoorbeeld #coffee, #cheers, #beeldvan en #athlete. In die bespreking hieronder word dubbelsinnige hutsmerke ook uitgelig.

Soos in Ichau et al. (2019) is gemeenskappe in die hutsmerknetwerk ook deur middel van modulariteit geïdentifiseer. Die datastel is as ’n netwerk in Gephi saamgestel met hutsmerke as nodusse aangedui en ’n skakel tussen nodusse wanneer hulle in dieselfde plasing voorkom. Blondel et al. (2008) se algoritme is op hierdie netwerk toegepas waartydens die algoritme nodusse in verskillende gemeenskappe verdeel het op grond van die mate waarin skakels tussen gemeenskappe van nodusse bestaan. Tydens die identifisering van gemeenskappe word ’n arbitrêre nommer aan gemeenskappe toegeken vir verwysingsdoeleindes.

Die datastel

Daar was 1 251 unieke plasings met die hutsmerk #ingridjonker op Instagram tussen 2012-07-28 (die datum van die eerste plasing) en 2021-03-24 (die laaste plasing) wat beteken dat plasings oor agt jaar gemaak is. Plasings is oor hierdie agt jaar soos volg gemaak: vier plasings is in 2012 gemaak, 14 plasings in 2013, 37 plasings in 2014, 193 plasings in 2015, 225 plasings in 2016, 211 plasings in 2017, 174 plasings in 2018, 170 plasings in 2019, 186 plasings in 2020 en 37 plasings in 2021 (soos op 2021-03-31). Hierdie plasings is deur 784 unieke gebruikers geplaas teen ’n gemiddeld van 1.5 plasings per gebruiker. Met slegs 1251 unieke plasings en 784 gebruikers is hierdie ’n betreklik klein datastel, maar daar kan verwag word dat die Afrikaanse poësie nie so gewild sal wees soos ander onderwerpe (byvoorbeeld televisiereekse) nie. Teenoor ander Afrikaanse digters is Jonker egter gewild: in Senekal (2020a) is aangedui dat daar maar enkele plasings op Instagram oor digters soos Tom Gouws en Johann Lodewyk Marais is, en net 14 van die skrywers wat in hierdie studie ondersoek is, het meer as 100 plasing op Instagram gehad. Die groot aantal plasings oor Jonker (relatief tot ander Afrikaanse skrywers) dui met ander woorde op haar gewildheid op hierdie platform.

Plasings is oorwegend in foto-formaat met 1136 foto’s (91% van plasings) en 78 skyfies (6% van plasings), teenoor 37 video’s (3% van plasings). Hierdie dominansie van foto’s is nie vreemd nie, gegewe dat Instagram bekend staan as ’n foto-gebaseerde sosialemediaplatform (anders as byvoorbeeld YouTube of TikTok).

Daar is 45 035 keer aangedui dat gebruikers van ’n plasing hou met ’n gemiddeld van 36 voorkeure per plasing. Die plasing waarvan die meeste mense gehou het, is ’n plasing met 1301 voorkeure:


Daar is egter ook 641 plasings (51% van alle plasings) waar minder as twintig gebruikers aangedui het dat hulle daarvan hou en 6 plasings (0.48% van alle plasings) waar geen gebruiker aangedui het dat hulle daarvan hou nie. Voorkeure is derhalwe nie eweredig tussen plasings versprei nie en 77% van alle plasings (962 plasings) het minder as die gemiddelde getal voorkeure verwerf. Plasings het ook 1761 kommentare ontvang, met ’n gemiddeld van 1.4 kommentare per plasing en ’n maksimum van 64 kommentare per plasing, maar 667 plasings (53% van die totaal) het geen kommentare ontvang nie.

Byskrifte is in 20 tale geplaas waarvan die meeste in Afrikaans (412 plasings, of 33% van alle plasings). Plasings was ook in Engels (384 plasings, of 31% van alle plasings), ongedefinieer (233 plasings, of 19% van alle plasings), Nederlands (87 plasings, of 7% van alle plasings) en Portugees (15 plasings, of 1% van alle plasings). Ongedefinieerd verwys na plasings waar geen byskrif gebruik is nie en slegs hutsmerke voorgekom het. Die diskoers rondom Ingrid Jonker vind met ander woorde oorwegend in Afrikaans plaas op Instagram, maar nie uitsluitlik nie. Die byskrifte in Nederlands hou verband daarmee dat sy ook deel van die Nederlandse literêre sisteem uitmaak (Francken 2014; T’Sjoen 2013) en daar word in die hutsmerke hieronder aangedui dat vertalings van onder andere Vlam in die sneeu (Brink & Jonker 2016) ook in Nederlands en Engels gebruik word. Plasings in Portugees hou verband daarmee dat ’n film oor haar lewe, Black butterflies (Van der Oest 2011), ook in Portugees vrygestel is met die titel, Borboletas Negras, terwyl die Portugees-sprekende kunstenaar, Ângela Ferreira, Jonker se materiaal in haar kunswerke gebruik (Nieves Fernández 2020).

Plasings is met 8929 hutsmerke gemaak waarvan 3835 uniek is. Plasings bevat gemiddeld sewe hutsmerke per plasing. Die mees algemene hutsmerk is #ingridjonker, gevolg deur #afrikaans, #poetry, #digkuns en #southafrica. Hutsmerke word hieronder in meer detail bespreek.

Die volgende afdeling bespreek die resultate van die huidige studie.

Resultate

Die mees algemene hutsmerke

Die meeste hutsmerke kom slegs een keer of minder as 10 keer voor. Tabel 1 dui die getal hutsmerke aan wat een tot tien keer voorkom, asook dié wat meer as tien keer voorkom. Hier kan duidelik gesien word dat die getal hutsmerke afneem namate hul voorkomste toeneem met ’n klein aantal hutsmerke wat ’n groot aantal kere voorkom. Die gaping tussen die aantal kere wat die gewildste hutsmerke voorkom en die getal kere wat die ongewildste hutsmerke voorkom, is derhalwe baie groot.

TABEL 1: Die voorkomste van hutsmerke.

Omdat die oorgrote meerderheid hutsmerke slegs een of twee keer voorkom, is daar op die klassifisering van hutsmerke gefokus wat drie keer en meer voorkom en derhalwe sigbaar is in die diskoers rondom die hutsmerk, #ingridjonker. Tabel 2 dui die getal hutsmerke volgens kategorie aan. Sommige van hierdie hutsmerke kon nie geklassifiseer word binne bostaande kategorieë nie, byvoorbeeld #travel, #brideandgroom en #bridesmaid. Sulke hutsmerke is as ongeklassifiseer in Tabel 2 aangedui. Meer as twee derdes van hutsmerke wat drie keer en meer voorkom, is egter in kategorieë ingedeel. Die meeste hutsmerke sorteer onder die kategorie meta, gevolg deur literatuur, visuele kuns en emosie. Hierdie hutsmerke word later bespreek.

TABEL 2: Die voorkomste van hutsmerke volgens kategorie.

Figuur 1 dui die mees algemene hutsmerke vir die ses grootste kategorieë aan. Wat die kategorie meta aanbetref, kan duidelik gesien word dat Jonker se gedigte vir inspirasie gebruik word. Hutsmerke soos #inspiration, #words, #quotes en #life kom gereeld saam met #ingridjonker voor.

FIGUUR 1: Die voorkomste van hutsmerke volgens kategorie (grootste ses kategorieë).

Die meta-kategorie sluit ook aan by die literatuur-kategorie waar bykans al tien die gewildste hutsmerke na poësie verwys. Hieruit kan afgelei word dat daar gereeld aanhalings van haar poësie op Instagram geplaas word.

Die kategorie visuele kuns dui daarop dat sy ook visuele kunstenaars inspireer en skilderye en selfs tattoeërmerke (#inked) figureer sterk in hierdie diskoers (hierdie is die derde grootste kategorie). Hutsmerke word verbatim in tabelle weergegee en die spelfout in #awesomepotrait is derhalwe ’n fout wat ook op Instagram voorkom.

Die kategorie emosie is ook interessant: alhoewel hutsmerke soos #sad en #depression in die datastel voorkom, is dit veral hutsmerke wat saamhang met liefde wat gereeld saam met #ingridjonker voorkom. Jonker word met ander woorde meestal met liefde geassosieer, ten spyte daarvan dat sy aan depressie gely het en die gewildste plasing (soos hierbo aangehaal) in die huidige datastel ook daarop dui dat gebruikers bekend is met die wyse waarop sy selfmoord gepleeg het. Du Buson (1958:64) het haar destyds beskryf as ‘die ontgoëlde, die siniese mens wat in ’n ontsettende alleen-wees in die geestelike dampkring van die Nihilisme alles van haar stroop’, maar op Instagram word sy hoofsaaklik met liefde verbind.

Die kategorie Instagram is die vyfde grootste kategorie en hier kan gesien word hoe die literatuur (#bookstagram) – en meer spesifiek die digkuns (#poemsofinstagram) – sowel as visuele kunste (#instaart) rondom haar figuur op Instagram vervleg word.

Die kategorie plek verbaas nie: sy word veral met Kaapstad, waar sy ook gewoon het, geassosieer (Kannemeyer 1983:285). Ander plekname wys op haar assosiasie met Suid-Afrika. Die gebruik van die hutsmerk #zuidafrika dui weereens op haar sterk verbintenis met Nederlands. Die verbintenis met Houghton is deur die Foxwood-teater waar die toneelstuk Plant vir my ’n boom, André, opgevoer is (Myburgh 2020).

Figuur 2 dui die mees algemene hutsmerke vir die volgende ses kategorieë aan. Wat die kategorie natuur aanbetref, moet daarop gelet word dat dit baie positiewe beelde van die natuur is wat met Jonker verbind word: strand, see, blomme, sonsondergange, somer, berge en bome. Die beeld wat ’n mens uit hierdie natuur-verwante hutsmerke kry, is ’n duidelike positiewe een soos ook hierbo genoem ten opsigte van die emosionele hutsmerke wat saam met #ingridjonker gebruik word.

FIGUUR 2: Die voorkomste van hutsmerke volgens kategorie (volgende ses kategorieë).

Die skrywers wat rondom Ingrid Jonker genoem word, verbaas nie: André P. Brink is in die tweede en derde plek, en Jack Cope figureer ook sterk. Brink is in ’n vorige studie van die gesprek rondom Afrikaanse skrywers op Instagram ook geïdentifiseer vir sy sterk verbintenis met Jonker op hierdie platform (Senekal 2020a:226).

Daar word op verskillende maniere na Brink verwys (#andrepbrink en #andrebrink) en dit is dan ook interessant dat die verwysing met die voorletter meer gereeld gebruik word as verwysings daarsonder. Hierdie onderskeid word later in hierdie artikel verder bespreek. Ander bekende Afrikaanse digters wat met haar verbind word, is Antjie Krog, Breyten Breytenbach en D.J. Opperman. Kannemeyer (1983:286) skryf dat Jonker bevriend was met Uys Krige, Jan Rabie, Jack Cope en André P. Brink. Al vier hierdie skrywers word rondom #ingridjonker genoem, alhoewel almal nie op die tabel aangedui is nie (#uyskrige kom een keer voor en #janrabie twee keer). Die vermelding van Sylvia Plath is ook interessant, omdat laasgenoemde ook ’n tragiese literêre figuur was wat gereeld in die Afrikaanse literatuurstudie met Jonker verbind word (sien byvoorbeeld Gertenbach 2008; Hambidge 2016; Thomas 2014). Wanneer Van Vuuren (2011:464) byvoorbeeld skryf dat alles van Jonker as laatwerk beskou kan word, ‘weens die intense obsessie met selfmoord dwarsdeur haar oeuvre’, word Plath ook in die volgende sin genoem. Die verwysing na Deborah Steinmair verwys na haar toneelstuk Plant vir my ’n boom, André (Steinmair & Meyer 2016).

Taalverwante hutsmerke sentreer rondom Afrikaans en Nederlands. Die sterk verbintenis met Nederlands is deels die gevolg daarvan dat Chris Chameleon reeds ’n paar toere in Nederland en België onderneem het waar hy toonsettings van Jonker se gedigte opgevoer het (Francken 2014:166–167).

Musiekverwante hutsmerke is die gevolg daarvan dat haar gedigte gereeld in opvoerings gebruik word en deur ’n verskeidenheid kunstenaars getoonset en gesing is. Hierdie kunstenaars word later in hierdie artikel uitgelig.

Tekste wat saam met #ingridjonker genoem word, is eerstens Vlam in die sneeu (Brink & Jonker 2016) wat ook inskakel met die sterk assosiasie tussen die hutsmerke #ingridjonker en #andrepbrink wat in Figuur 2 aangedui is. Let ook daarop dat Vlam in die sneeu in Afrikaans, Engels en Nederlands onder die tien gewildste teksverwante hutsmerke aangetref word wat daarop dui dat ook Engelse en Nederlandse weergawes van hierdie boek by die diskoers betrek word. Jonker se tekste waarna die meeste verwys word, is verder Black butterflies (Jonker 2007), maar dit kan nie met sekerheid gesê word of die verwysing na haar versamelde werke of die gelyknamige film (Van der Oest 2011) is nie. Jonker se debuutbundel Ontvlugting (Jonker 1956) figureer ook sterk, alhoewel dit onduidelik is of die verwysing na die bundel die gedig of Chris Chameleon se toonsetting van die gedig is. Daar word gereeld na Rook en oker (Jonker 1963) verwys, maar na Kantelson (Jonker 1966) word slegs twee keer verwys en dit is daarom nie op die tabel aangedui nie. Bitterbessie dagbreek is deur Chris Chameleon getoonset. Dit verklaar die sterk verbintenis tussen haar en Chameleon wat in Figuur 3 uitgelig word. Die kind is op sy beurt wêreldberoemd nadat Nelson Mandela hierdie gedig in 1994 tydens sy inhuldiging voorgelees het. Jonker se verbintenis met Mandela kan gesien word daarin dat hy 18 keer in die huidige datastel genoem is (nie op die tabelle aangedui nie). Die verwysing na Plant vir my ’n boom, André is eweneens dubbelsinnig: dit kan verwys na Jonker se gedig, Anton Goosen se toonsetting daarvan, of die teaterstuk wat in 2016 by die Woordfees opgevoer is (Steinmair & Meyer 2016). Die verwysing na Ek herhaal jou, kan eweneens na die gedig, of Chameleon se toonsetting daarvan, of sy gelyknamige album verwys. Daar is ook drie verwysings na Jonker se kortverhaal, Die bok (Louw 1964), maar aangesien hierdie verhaal ook verfilm is (Van Zyl 2016), kan daar nie met sekerheid gesê word of die verwysing na die kortverhaal of die film is nie.

FIGUUR 3: Die voorkomste van hutsmerke volgens kategorie (kleinste vier kategorieë).

Filmverwante hutsmerke verwys na die Portugese titel Borboletas Negras van die film Black butterflies oor Jonker se lewe (Van der Oest 2011). Die Portugese titel is een van die redes waarom Portugees een van die gewildste tale vir plasings rondom #ingridjonker is, tesame met plasings rondom die kunstenaar, Ângela Ferreira, wat van Jonker se materiaal gebruik maak. Die verwysing na Harry Potter is vermoedelik ’n bemarkingstruuk: mense plaas soms nie-verwante hutsmerke in ’n poging om meer blootstellings vir plasings te kry.

Figuur 3 dui die mees algemene hutsmerke vir die laaste vier kategorieë aan. Teater-verwante hutsmerke sentreer rondom Korreltjie kantel (Anoniem, geen datum) en dui ook ’n paar teaters aan waar toneelstukke opgevoer is wat Jonker se werk en lewe betrek. Op dieselfde manier dui feesverwante hutsmerke ’n aantal feeste aan waar opvoerings en films figureer het wat Jonker-materiaal ingesluit het.

Kunstenaar-verwante hutsmerke sluit ’n aantal kunstenaars in wat sterk met Jonker verbind word, byvoorbeeld Chris Chameleon wat van haar gedigte getoonset het. Marais (2008:28) noem Chameleon se album, Ek herhaal jou, sy ‘deurbraak-album’. Luna Paige, Nick Turner en Jamie Jupiter het die musiek geskryf vir die produksie Korreltjie kantel wat in 2015 tydens die RSG-Kunstefees opgevoer is. Dit is ook die daaropvolgende jaar by die Woordfees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) (Anoniem, geen datum) opgevoer. Lizanne Barnard was betrokke by die produksie Landskap wat in 2017 by Aardklop opgevoer is en toonsettings van onder andere Jonker se gedigte ingesluit het (Schenck 2017). Laurika Rauch is reeds sedert haar 1979-debuut met Jonker verbind deur die toonsetting van Toemaar die donker man. Angelica Rizzi is ’n Italiaanse sangeres en Anne van Schothorst is ’n harpspeler wat by toonsettings van Jonker se gedigte betrokke was (Van Schothorst 2016). Die verwysing na Miriam Makeba is ook interessant: Dlamini-Zuma het Die kind by Makeba se begrafnis in 2008 aangehaal (Dlamini-Zuma 2008), en die kabaret, Dwaaltuin van pêrelspore, wat in 2000 opgevoer is, het onder andere musiek van Makeba en gedigte van Jonker in dieselfde produksie gekombineer (Anoniem 2000). Daar is egter geen verwysing in die datastel na óf Dwaaltuin van pêrelspore, óf Dlamini-Zuma se toespraak nie. ’n Duideliker verband word aangetref in die werke van die Mosambiekse kunstenaar, Ângela Ferreira, wat verwysings na beide Jonker en Makeba maak (Nieves Fernández 2020). Die hutsmerk, #angelaferreira, kom 15 keer in hierdie datastel voor.

Die kleinste kategorie is dié van akteurs. Hierdie akteurs is almal bekend uit hulle rolle in Black butterflies (Carice van Houten en Liam Cunningham), Korreltjie kantel (Erik Holm, Jan Groenewald, Tinarie van Wyk-Loots), Plant vir my ’n boom, André (Erik Holm, Tinarie van Wyk Loots en Magdaleen Minnaar) en Die bok (Christia Visser). Sandra Prinsloo het in Windows of my heart – The Simone and Ingrid Jonker Stor y saam met Erik Holm, Tinarie van Wyk-Loots, Richard van der Westhuizen en Lizanne Barnard opgetree (Anoniem 2015). Die verbintenis tussen Sandra Prinsloo en Jonker is egter ook indirek: Prinsloo het in Die wandelende Jood gespeel wat by die Foxwoodfees opgevoer is waar Plant vir my ’n boom, André ook opgevoer is (Myburgh 2020). Sabine Goethals en Jonas van Thielen het in die toneelstuk, Hartseerkind, gespeel wat in 2016 by die Woordfees opgevoer is (Anoniem 2016).

Die volgende onderafdeling bespreek die groeperings of gemeenskappe in die hutsmerknetwerk rondom #ingridjonker.

Die vermelding van skrywers in die hutsmerknetwerk

Figuur 4 dui die hutsmerknetwerk aan waar elke nodus ’n hutsmerk verteenwoordig en ’n skakel tussen hutsmerke aangedui is indien hulle in dieselfde plasing voorkom. Ter wille van leesbaarheid is slegs skrywers se name wat drie keer en meer in die datastel voorkom, aangedui, alhoewel alle hutsmerke in hierdie netwerk teenwoordig is. Die netwerk bestaan uit 5027 nodusse en 8632 skakels en daar is twee soorte nodusse wat beteken dat hierdie ’n tweeledige netwerk is. 3815 nodusse (76% van die totaal) is hutsmerke en 1212 (24%) van nodusse is plasings. Die netwerk is gevisualiseer met behulp van Fruchterman en Reingold (1991) se kraggebaseerde uitleg-algoritme (sien Figuur 4).

FIGUUR 4: Die hutsmerknetwerk rondom #ingridjonker.

Dit is opvallend dat Jonker nader aan sommige skrywers aangetref word as ander. Ichau et al. (2019) voer aan dat hutsmerke wat gereeld saam aangetref word, nader aan mekaar in ’n netwerkvisualisasie is as hutsmerke wat nie gereeld saam aangetref word nie. In navolging van Ichau et al. (2019) is Blondel et al. (2008) se algoritme derhalwe gebruik om gemeenskappe in hierdie netwerk te identifiseer en daar is 182 gemeenskappe in hierdie netwerk gevind. Die grootste gemeenskap (Gemeenskap 114) bestaan uit 520 nodusse (10% van nodusse), gevolg deur Gemeenskap 177 (8% van nodusse), Gemeenskap 177 (8% van nodusse), Gemeenskap 53 (6% van nodusse) en Gemeenskap 59 (6% van nodusse). Slegs die tien grootste gemeenskappe word hieronder bespreek.

Die nodusse in Gemeenskap 114 sluit in #afrikaans, #digkuns, #gedigte, #poësie, #gedig, #poems, #digter, #suidafrika, #letterkunde en #bitterbessiedagbreek. Die voorkoms van #bitterbessiedagbreek is hier interessant, omdat die toonsetting van hierdie gedig bekend is deur Chris Chameleon en Theuns Jordaan se weergawes, maar die gedig word meestal in die konteks van gedigte geplaas en nie met musiek in verband gebring nie.

Die nodusse in Gemeenskap 177 sluit in #southafrica, #capetown, #nature, #beach, #artist, #words, #photography, #theatre, #ocean en #life. Dit is opvallend dat al hierdie hutsmerke in Engels is wat daarop dui dat Jonker se werke ook ’n duidelike rol speel in ander taalgemeenskappe.

Die nodusse in Gemeenskap 50 sluit in #illustration, #diehartseerkind, #collage, #afrikaanspoetry, #divandavid, #lunapaige, #highlifemagazine, #sabinegoethals, #sielskos en #woordfees. Hierdie gemeenskap sluit heelwat hutsmerke in wat met visuele kuns verband hou, maar die verwysings na Luna Paige, Sabine Goethals en Woordfees maak hierdie ’n baie diverse groepering.

Gemeenskap 53 bestaan uit hutsmerke soos #poet, #igerssouthafrica, #blackandwhite, #writing en #igerscapetown, #drawing, #sketchbook, #doodle, #instaart en #design. Hierdie is duidelik ook ’n sterk visuele groepering.

Die nodusse in Gemeenskap 59 sluit in #andrebrink, #bookstagram, #reading, #antjiekrog, #book, #flameinthesnow, #booklover, #vlamindesneeuw, #stringquartet en #booksofinstagram. By hierdie groepering is dit interessant om daarop te let dat verwysings na Vlam in die sneeu (Brink & Jonker 2016) in Nederlands en Engels voorkom, maar die verwysing na die Afrikaanse weergawe is in Gemeenskap 35 hieronder. Die verwysing na Brink is ook sonder sy voorletter, terwyl die verwysing met die voorletter ook in Gemeenskap 35 hieronder aangetref word. Dit dui daarop dat daar minder gereeld na sy naam verwys word met die voorletter wanneer die verwysing in Engels is (let ook op die taal van ander hutsmerke in Gemeenskap 59). Dít is ’n klein maar belangrike bevinding: Brink se voorletter is hier ’n merker wat die Afrikaanse en Engelse leesgemeenskappe onderskei. Ek het ook ondersoek ingestel na artikels wat in Current writing (1997–2020) en Stilet (2002–2019) verskyn het, en kon 23 artikels in Current writing vind wat na Brink sonder sy voorletter verwys, en net ses artikels wat na hom met sy voorletter verwys, teenoor 74 artikels in Stilet met sy voorletter en 25 wat na hom sonder sy voorletter verwys waarvan vyf artikels boonop in Engels verskyn het. Dit wil dus voorkom of die gebruik van sy voorletter die Afrikaanse en Engelse leesgemeenskappe onderskei op Instagram sowel as in die literatuurstudie.

Gemeenskap 52 sluit in hutsmerke soos #poetry, #literature, #southafrican, #poetrycommunity, #southafricanpoetry, #biography, #poemsofinstagram, #simonejonker, #literatuur, #sandraprinsloo. Weereens is hierdie ’n Engelse groepering, maar die hutsmerk #simonejonker en #sandraprinsloo suggereer dat hierdie groepering saamhang met Windows of my heart – The Simone and Ingrid Jonker story wat in 2015 by die Foxwoodteater opgevoer is en waarin Prinsloo ook opgetree het (Anoniem 2015).

Nodusse in Gemeenskap 35 sluit in #andrepbrink, #vlamindiesneeu, #liefde, #andré, #liefdesbriewe, #loveletters, #korreltjiekantel, #lees, #boek, #briewe. Soos wat by Gemeenskap 59 aangevoer is, is dit interessant dat Brink se naam hier met ’n voorletter voorkom. Verwysings na Vlam in die sneeu is na die Afrikaanse titel en die meerderheid hutsmerke is ook in Afrikaans.

Gemeenskap 103 sluit hutsmerke in soos #blackbutterflies, #caricevanhouten, #paulavanderoest, #kaalwoorde, #liamcunningham, #couple, #rutgerhauer, #tb, #photo, #see. Vroeër in hierdie artikel is gestel dat dit onseker is of die hutsmerk #blackbutterflies na Jonker se versamelde werke (Jonker 2007), of die gelyknamige film (Van der Oest 2011) verwys, maar die teenwoordigheid van hierdie hutsmerk saam met #caricevanhouten, #paulavanderoest, #rutgerhauer en #liamcunningham dui daarop dat #blackbutterflies eerder na die film as na Jonker se versamelde werke verwys. In hierdie opsig het Blondel et al. (2008) se algoritme dit met ander woorde moontlik gemaak om uit te klaar waarna die hutsmerk verwys.

Gemeenskap 61 bestaan uit hutsmerke soos #poem, #nelsonmandela, #zuidafrika, #gedicht, #gedichten, #apartheid, #korreltjiesand, #thechild, #typography, #autumn. Hierdie is duidelik ’n meer politieke groepering deur hutsmerke soos #nelsonmandela, #thechild en #apartheid in te sluit, maar dit is ook opvallend dat hierdie groepering meer Nederlandse hutsmerke insluit. Dit mag wees dat Jonker se gedigte tot ’n groter mate vanuit ’n politieke oogpunt gelees word in Nederlandas wat die geval is in Suid-Afrika, maar hieroor kan ek op grond van die huidige datastel slegs spekuleer.

Die nodusse in Gemeenskap 86 sluit in #afrikaansegedigte, #ingridjonkerinspired, #jackcope, #chrischameleon, #skrywer, #southafricanliterature, #southafricanartists, #wutheringheights, #authors en #ingridjonkerpoetry. Hierdie is weereens ’n diverse groepering en dui op Jonker se oorgrensfunksionering omdat skrywers en musikante genoem word.

Die voorafgaande bespreking van die grootste gemeenskappe in die hutsmerknetwerk het veral Jonker se funksionering in verskeie sisteme uitgelig. Hutsmerke groepeer rondom films of toneelstukke in Afrikaans of Engels, visuele kuns en die name van mense wat hulleself met Jonker verbind het. Die diverse aard van hierdie hutsmerke dui aan in hoeveel fasette van die Suid-Afrikaanse en ook oorsese leefwêrelde Jonker verweef geword het.

Slot

Hierdie studie het ondersoek ingestel na die gesprek rondom die hutsmerk, #ingridjonker, op Instagram. Daar is aangedui watter hutsmerke die meeste met haar verbind word, insluitend emosionele terme, plekke, tekste, films en teaterproduksies. Haar verbintenis met André P. Brink kom duidelik na vore, hetsy deur die gebruik van die hutsmerk #andrepbrink, of deur verwysings na liefdesbriewe, Vlam in die sneeu (2016) of toneelstukke oor hulle verhouding (Plant vir my ’n boom, André), maar daar is ook aangedui hoe sy met ’n verskeidenheid ander kunstenaars, akteurs en skrywers verbind word.

Wat veral treffend na vore kom uit die voorafgaande is hoe die legende van Ingrid Jonker vervleg is met terreine so uiteenlopend soos die literatuur, musiek, film, teater en die visuele kunste, maar dan ook dat haar naam nie net binne ’n Afrikaanse konteks voortleef nie, maar ook in Engels, Nederlands en Portugees. Haar kultusstatus is derhalwe nie slegs binne ’n (Suid-)Afrikaanse en Nederlandse konteks nie, maar ook binne ander taalgemeenskappe. Alhoewel sy ook lank voor die koms van die internet en sosiale media geleef het, dui die meer as ’n duisend plasings ook daarop dat sy steeds relevant bly in hierdie dinamiese sosialemedia-omgewing. Die groot aantal plasings oor Jonker (relatief tot ander Afrikaanse skrywers), bevestig dat sy een van die gewildste Afrikaanse digters bly.

Die vooropstelling van liefde is verder duidelik uit hierdie studie: emosie-verwante hutsmerke fokus meestal op liefde, tekste wat die meeste met haar verbind word, het liefde as tema, en die persoon waarmee sy verreweg die meeste verbind word, is André P. Brink. Jonker word met ander woorde die meeste met liefde verbind op Instagram.

Dit is voor die hand liggend dat ander skrywers met ander mense, plekke en konsepte verbind sal word op Instagram. Eksperimente het byvoorbeeld getoon dat Antjie Krog meer gereeld met politiek in verband gebring word, plasings oor D.J. Opperman is tot Afrikaans en Engels beperk, en N.P. van Wyk Louw word veral met die herfs verbind. Deur die hutsmerke te bestudeer wat saam met skrywers gebruik word, kan ondersoek ingestel word na wat oor die algemeen met skrywers geassosieer word, en veral hoe hierdie assosiasies verskil.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

Alle skrywers het ewe veel tot hierdie werk bygedra.

Etiese oorweging

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendi.

Literatuurverwysings

Anoniem, n.d., Korreltjie kantel, besigtig 25 Maart 2021, vanaf http://www.iluminarproductions.co.za/productions/korreltjie-kantel/

Anoniem, 2000, Dwaaltuin van pêrelspore, besigtig 25 Maart 2021, vanaf https://www.artlink.co.za/news_article.htm?contentID=12490

Anoniem, 2015, Windows of my heart – The Simone and Ingrid Jonker Story, Facebook, 14 September, viewed 01 April 2021, from https://web.facebook.com/485242968162035/posts/sien-julle-daar-kaapenaars-kom-vier-fees/1061814697171523/?_rdc=1&_rdr

Anoniem, 2016, #Woordfees Die hartseerkind, besigtig 01 April 2021, vanaf https://www.roekeloos.co.za/teater/woordfees-die-hartseerkind/

Aslam, S., 2021, Instagram by the numbers (2021): Stats, demographics & fun facts, viewed 23 Maart 2021, from https://www.omnicoreagency.com/instagram-statistics/

Barabási, A.-L., 2016, Network science, Cambridge University Press, Cambridge.

Blondel, V., Guillaume, J., Lambiotte, R. & Lefebvre, E., 2008, ‘Fast unfolding of communities in large networks’, Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment 10, P10008. https://doi.org/10.1088/1742-5468/2008/10/P10008

Blystone, D., 2020, The story of Instagram: The rise of the #1 photo-sharing application, viewed 12 Oktober 2020, from https://www.investopedia.com/articles/investing/102615/story-instagram-rise-1-photo0sharing-app.asp

Bohnen, R., 2018, Onderhoud met Koos Kombuis (Vandag wil ek my blou skoene dra), besigtig 26 Maart 2021, vanaf https://versindaba.co.za/2018/03/09/onderhoud-met-koos-kombuis-vandag-wil-ek-my-blou-skoene-dra/

Brink, A.P. & Jonker, I., 2016, Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker, Geredigeer deur F. Galloway, Umuzi, Kaapstad.

Buente, W., Rathnayake, C., Neo, R., Dalisay, F. & Kramer, H.K., 2020, ‘Tradition gone mobile: An exploration of #betelnut on Instagram’, Substance Use & Misuse 55(9), 1483–1492, https://doi.org/10.1080/10826084.2020.1744657

Burger, W., 2018, Kies ʼn boek: Ingrid Jonker, besigtig 25 Maart 2021, vanaf https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/kies-n-boek-ingrid-jonker

Cattuto, C., Schmitz, C., Baldassarri, A., Servedio, V.D.P., Loreto, V., Hotho, A. et al., 2007, ‘Network properties of folksonomies’, AI Communications 20, 245–262.

Cochrane, N., 2018, ‘ʼn Ope brief aan Dorian Gray en ʼn peiling van die Afrikaanse resensiebedryf’, Tydskrif vir Letterkunde 55(1), 175–186, https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4384

Coetzee, C., 2015, ‘Huisies aan die Rand: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van sewe gedigte met Johannesburg as agtergrond’, LitNet Akademies Geesteswetenskappe 12(3), 1–50.

Cox, L.K., 2017, The history of hashtags, viewed 23 March 2021, from https://blog.hubspot.com/marketing/history-of-hashtags

Crous, M., 2009, ‘Afrikaans poetry: New voices’, Current Writing 21(1–2), 200–217. https://doi.org/10.1080/1013929X.2009.9678318

Crous, M., 2015, ‘T.T. Cloete en die subalterne’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2), 177–187, https://doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n2a2

Dlamini-Zuma, N., 2008, Tribute at the Memorial Service of the late Ambassador Miriam Makeba, Memorial Service of the late Ambassador Miriam Makeba, 15 November.

Dorsch, I., 2018, ‘Content description on a mobile image sharing service: Hashtags on instagram’, Journal of Information Science Theory and Practice 6, 46–61.

Du Buson, M.S., 1958, ‘Die geding met God’, Tydskrif vir Letterkunde 8(1), 39–65.

Francken, E., 2014, ‘Zo ver en zo dichtbij: De Afrikaanse literatuur in Nederland in 2013’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(1), 166–170.

Freeman, L.C., 1977, ‘A set of measures of centrality based on betweenness’, Sociometry 40(1), 35, https://doi.org/10.2307/3033543

Fruchterman, T.M.J. & Reingold, E.M., 1991, ‘Graph drawing by force-directed placement’, Software: Practice and Experience 21(11), 1129–1164, https://doi.org/10.1002/spe.4380211102

Gertenbach, I., 2008, ‘Die aantrekkingskrag van die see’, Literator 29(3), 181–197.

Giannoulakis, S. & Tsapatsoulis, N., 2016, ‘Evaluating the descriptive power of Instagram hashtags’, Journal of Innovation in Digital Ecosystems 3(2), 114–129, https://doi.org/10.1016/j.jides.2016.10.001

Goldstuck, A., 2020, ‘Under the skin of social media in South Africa’, in Ornico (ed.), The South African social media landscape: Social media myths high walls and controlled data, pp. 52–53, Ornico, Johannesburg.

Hambidge, J., 2016, Ingrid Jonker: Versamelde gedigte, besigtig 25 Maart 2021, vanaf https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/jonker-se-lewe-as-litteken-20161115

Highfield, T. & Leaver, T., 2016, ‘Instagrammatics and digital methods: Studying visual social media, from selfies and GIFs to memes and emoji’, Communication Research and Practice 2(1), 47–62, https://doi.org/10.1080/22041451.2016.1155332

Ichau, E., Frissen, T. & d’Haenens, L., 2019, ‘From #selfie to #edgy: Hashtag networks and images associated with the hashtag #jews on Instagram’, Telematics and Informatics 44, 101275, https://doi.org/10.1016/j.tele.2019.101275

Jonker, I., 1956, Ontvlugting, Culemborg, Kaapstad.

Jonker, I., 1963, Rook en oker, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg.

Jonker, I., 1966, Kantelson, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg.

Jonker, I., 2007, Black butterflies: Selected poems: Ingrid Jonker, vert. deur A.P. Brink en A. Krog, Human & Rousseau, Kaapstad.

Kannemeyer, J.C., 1983, Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur Deel 2, Academica, Pretoria.

Kellogg, K., 2020, The 7 biggest social media sites in 2020, viewed 12 October 2020, from https://www.searchenginejournal.com/social-media/biggest-social-media-sites/#close

Kemp, S., 2020, Digital 2020: South Africa, viewed 12 October 2020, from https://datareportal.com/reports/digital-2020-south-africa

Klopper, A.E., 2017, ‘Identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek met spesifieke verwysing na Die Antwoord, Jack Parow en Bittereinder’, Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.

Louw, N.P. van W. (red.), 1964, Windroos, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg.

Marais, D., 2008, Wanneer is lirieke ook poësie?, Insig, 28 Januarie.

Myburgh, M., 2020, Foxwoodfees: Sandra Prinsloo gee ʼn stem aan Olga Kirsch en Nerina Ferreira, besigtig 01 April 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/foxwoodfees-sandra-prinsloo-gee-n-stem-aan-olga-kirsch-en-nerina-ferreira/

Nel, A., 2003, ‘Poësie en popkultuur: Oor enkele gedigte van Joan Hambidge’, Literator 24(3), 139–161.

Nieves Fernández, 2020, Ângela Ferreira, viewed 25 March 2021, from https://www.nfgaleria.com/en/artist/angela-ferreira

Penke, N., 2019, ‘#instapoetry: Populäre Lyrik auf Instagram und ihre Affordanzen’, Zeitschrift für Literaturwissenschaft und Linguistik 49(3), 451–475, https://doi.org/10.1007/s41244-019-00143-1

Renders, L., 2013, ‘Clinton V. du Plessis: Poëzie als reality show’, Vooys 31, 42–51.

Schenck, C., 2017, In gesprek met Lizanne Barnard, besigtig 26 Maart 2021, vanaf http://rooirose.co.za/in-gesprek-met-lizanne-barnard/

Senekal, B.A., 2020a, ‘ʼn Hond, ʼn hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem’, LitNet Akademies Geesteswetenskappe 17(3), 211–240.

Senekal, B.A., 2020b, ‘Instagram volksonomie as komplekse netwerke’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 39(1), 61–67.

Shen, K. & Wu, L., 2005, ‘Folksonomy as a complex network’, ArXiv, abs/cs/0509072.

Steinmair, D. & Meyer, N., 2016, US Woordfees 2016-onderhoud: Plant vir my ʼn boom, André, besigtig 25 Maart 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/us-woordfees-2016-onderhoud-plant-vir-my-n-boom-andre/

Thomas, M., 2014, ‘A close reading and comparison of selected poems by Ingrid Jonker and Sylvia Plath’, Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

T’Sjoen, Y., 2013, ‘Beloken blikvelden in de Lage Landen: Eenentwintigste-eeuwse receptie van Nederlandse vertalingen van Afrikaanse poëzie’, Tydskrif vir Letterkunde 50(1), 16–35. https://doi.org/10.4314/tvl.v50i1.2

Türker, İ. & Sulak, E.E., 2017, ‘A multilayer network analysis of hashtags in twitter via co-occurrence and semantic links’, International Journal of Modern Physics B 32(4), 1850029, https://doi.org/10.1142/S0217979218500297

Van der Oest, P., 2011, Black butterflies (film), Cool Beans, Suid-Afrika.

Van der Wal, T., 2007, Folksonomy coinage and definition, viewed 23 March 2021, from http://www.vanderwal.net/folksonomy.html

Van Schothorst, A., 2016, Die kind is nog jonger: Onderhoud met Anne van Schothorst, Vertaal deur N. Meyer, besigtig 26 Maart 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/die-kind-nog-jonger-onderhoud-met-anne-van-schothorst.

Van Vuuren, H., 2011, ‘ʼn Almanak van klippe’: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge)’, LitNet Akademies Geesteswetenskappe 8(3), 462–487.

Van Wyk, J., 1983, ‘ʼn Ondersoek na die poësie en lewe van Ingrid Jonker, Deel 1’, Ensovoort 3(1), 12–16.

Van Zyl, P., 2016, Die bok, Suid-Afrika: David and Goliath Films.

Viljoen, L., 2007, ‘Antjie Krog en haar literêre moeders: Die werking van ʼn vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie’, Tydskrif vir Letterkunde 44(2), 5–28.

Viljoen, L., 2008, ‘Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(3), 267–291.

Viljoen, L., 2009, ‘Afrikaanse digters in gesprek met Breyten Breytenbach as digter’, LitNet Akademies Geesteswetenskappe 6(3), 185–209.

Wolfaardt-Gräbe, I., 2013, ‘Poëtiese denke: Gees/bewussyn, gevoel, (ge)wete’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 53(4), 558–577.

Xamena, E., Brignole, N.B. & Maguitman, A.G., 2017, ‘A structural analysis of topic ontologies’, Information Sciences 421, 15–29, https://doi.org/10.1016/j.ins.2017.08.081



Crossref Citations

No related citations found.