About the Author(s)


Gerhard B. van Huyssteen Email symbol
Center for Text Technology (CTexT), North-West University, South Africa

Citation


Van Huyssteen, G.B., 2018, ‘’n Korpusondersoek na huidiglik’, Literator 39(2), a1527. https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1527

Original Research

’n Korpusondersoek na huidiglik

Gerhard B. van Huyssteen

Received: 29 May 2018; Accepted: 02 Aug. 2018; Published: 05 Nov. 2018

Copyright: © 2018. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

A corpus exploration of huidiglik. In tandem with Van Huyssteen (2018a), this article examines the current usage of the word huidiglik (‘currently’) (an alleged Anglicism), together with other associated words (e.g. its base, huidig ‘current’). Based on a comprehensive literature review, Van Huyssteen (2018a) concludes that apart from stylistic preferences, none of the linguistic arguments against huidiglik holds water. In this article, a corpus exploration of some of the issues pertaining to huidiglik is undertaken. Based on evidence from a large variety of corpora, we conclude that huidiglik has become well-established in Afrikaans over the past four decades, both in formal texts and informal chat language. Since it does not displace any of its often-prescribed synonyms (like tans, deesdae, or teenswoordig), it confirms that arguments for its status as an Anglicism is rather thin. Although the inflected form huidige is mostly used as prenominal adjective, its uninflected form is also used with noticeable frequency as adverb and predicative adjective. Huidiglik, however, is used almost exclusively as adverb, rarely as inflected attributive adjective, but never as predicative adjective. Lastly, it is shown that adverbialising ⋅lik occurs with high frequency in Afrikaans, but it is not very productive. In addition, it is illustrated that ⋅ig⋅lik is an entrenched suffix pairing.

Inleiding

Die woord huidiglik is besonder kontroversieel in Afrikaans. Aan die een kant word dit dikwels deur preskriptiwiste, taalpraktisyns en taalpuriste skerp en vurig afgekeur, terwyl dit ’n woord is wat al vir die afgelope jare frekwent in veral gesproke taal voorkom. Op een uitsondering na (Prinsloo 2003), is opmerkings oor die woord huidiglik en sy basiswoord huidig (voortaan gesamentlik huidig[lik]) se frekwensie en spreiding egter dikwels informeel en anekdoties. Vergelyk byvoorbeeld die waarneming van Combrink (1995b):

Op die Afrikaanse Onderwyskongres in Bloemfontein, Junie 1995, het ek oor die 40 keer die bywoord huidig met die betekenis ‘tans’ gehoor uit die mond van geleerde kongresgangers. Dit is nutteloos om langer teen die prikkels te skop: huidig is huidig deel van die taalskat van meningvormende Afrikaanssprekendes. En as huidig deel is, dan is daar ook nie meer geldige besware teen huidiglik nie. Ook huidiglik het ek dosyne kere gehoor op dié onderwyskongres. (bl. 11)

In dieselfde jaar merk Prinsloo en Odendal (1995) egter presies die teenoorgestelde op: ‘Dit lyk asof die gebruik [van huidiglik] aan die verminder is in openbare toesprake, maar dit het lank nog nie gesneuwel voor die ekonomiese alternatiewe nie.’ Agt jaar later, in die enigste korpusondersoek wat nog oor die twee woorde gedoen is, kom Prinsloo (2003) egter tot die gevolgtrekking dat huidiglik sodanig gevestig is dat dit verdien om in woordeboeke opgeneem te word.

Desnieteenstaande hierdie bevinding van Prinsloo (2003) – wat vanuit ’n leksikografiese perspektief geskryf is – kom huidiglik twaalf jaar later in die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Luther, Pfeiffer & Gouws 2015) nog steeds voor met ’n gebruiksnota:

hui’dig·lik bw. … Opmerking: Alhoewel huidiglik dikwels (in formele, gesproke Afrikaans) gebruik word, word die gebruik daarvan steeds deur die meeste kundiges afgekeur en deur subredakteurs uit geskrewe tekste geweer. > deesdae, nou1, tans

Gegewe hierdie woordeboekinskrywing, kan woordeboek- en ander taalgebruikers met reg vra:

  1. Wie is hierdie kundiges waarna HAT (2015) verwys, en wat is hulle argumente teen die gebruik van huidig(lik)?; en

  2. HAT6 stel dit dat huidiglik ‘dikwels’ gebruik word. Hoe dikwels word huidiglik in eietydse Afrikaans gebruik?

Die eerste vraag word uitvoerig in Van Huyssteen (2018a) beantwoord, maar ’n aantal addisionele vrae word daarin geïdentifiseer wat in ’n korpusondersoek beantwoord moet word. Die oorhoofse doel van hierdie artikel is dus nie net om die tweede vraag hier bo te beantwoord nie, maar ook die volgende addisionele vrae:

  1. Diachronie: Is daar korpusbewyse wat die vermoede dat huidiglik in die 1970’s ontstaan het (Van Huyssteen 2018a), ondersteun?

  2. Leksikologie: Is huidiglik ’n modeverskynsel (De Villiers 1981), of is dit juis verouderd (De Villiers 1986)? Overgesetsynde, kom huidiglik meer as 30 jaar ná De Villiers se uitsprake steeds in Afrikaans voor?

  3. Leksikologie: Kom huidiglik met ’n hoër frekwensie as, of met ’n toename ten koste van, alternatiewe woorde of frases (sinonieme) voor? Overgesetsynde, hoe vergelyk die woordfrekwensieklasse van huidiglik en sy sinonieme?

  4. Leksikologie: Is huidig(lik) beperk tot amptenaarstaal (bv. regeringstekste), of ‘tot de deftige schrijftaal’ (volgens die artikel uit 1907 in die Woordenboek der Nederlandse Taal [WNT] – De Vries & Te Winkel 1864–1997)?

  5. Morfosintaksis: Word huidig as bywoord, of predikatiewe of onverboë adjektief in Afrikaans gebruik, anders as menige bron wat meen dat slegs huidige as prenominale adjektief voorkom (bv. Carstens 2018:134–135)?

  6. Morfosintaksis: In aansluiting by Kempen (1969:535) se woordsoortelike waarnemings oor woorde wat gevorm word met ⋅lik, word huidiglik as bywoord én adjektief gebruik, of slegs as bywoord?

  7. Morfologie: Is ⋅lik as adverbialiseerder produktief in eietydse Afrikaans?

  8. Morfologie: Kom die ⋅ig⋅lik-kombinasie dikwels in hedendaagse geskrewe Afrikaans voor?

In die volgende afdeling word die data en metodes wat vir hierdie navorsing gebruik is, breedvoerig bespreek; vir ’n literatuuroorsig oor huidig(lik), kyk Van Huyssteen (2018a). In die daaropvolgende afdelings word bostaande vrae sistematies aan die hand van korpusdata beantwoord. Ten slotte word dié gegewens oorweeg om ’n standpunt te formuleer oor die eksterne norme (d.i. met betrekking tot die taal in gebruik) (Carstens 2018:28) wat tans ten opsigte van huidig(lik) sou kon geld. Hoewel hierdie artikel slegs op ’n enkele woord en sy verskillende vorme fokus, wil dit ook illustreer hoe metodes uit die korpuslinguistiek gebruik kan word om gebruiksgebaseerde preskriptiwistiese standpunte te evalueer en desnoods te formuleer.

Data en metodes

Die versameling tekste in die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Korpusportaal: Omvattend (voortaan VivA-KPO) dien as primêre vertrekpunt in hierdie artikel. Tensy anders vermeld, kom alle voorbeeldmateriaal en data uit dié versameling van meer as 150 miljoen woorde (kyk Tabel 1). Die meeste van die tekste in hierdie versameling kan beskou word as geredigeerde teks (d.i. van uitgewers) wat ’n beeld van eietydse geskrewe Standaardafrikaans (St.Afr.) weergee. ’n Klein gedeelte van die Taalkommissiekorpus (5,8 miljoen woorde) is gekategoriseer as fiksie, terwyl die NWU/Lapa- en PUK/Protea-korpus (gesamentlik 25 miljoen woorde) ook primêr uit fiksietekste bestaan. ’n Mens kan aanneem dat daar in hierdie fiksiegedeeltes tekens sou wees van gesproke dialektiese Afrikaans (D.Afr.), maar dat dit hoegenaamd nie verteenwoordigend van D.Afr. is nie. Insgelyks is die versameling nie homogeen met betrekking tot die mate van redigering van die tekste nie. So byvoorbeeld kan die Wikipediakorpus as semigeredigeerd beskou word, terwyl daar ’n hoë mate van wisseling veronderstel moet word in die Leipzigkorpus wat slegs uit internettekste bestaan.1

TABEL 1: Korpusse in VivA-KPO (2018).

Aangesien ’n mens kan aanneem dat die VivA-KPO skeef getrek is ten opsigte van St.Afr., word soveel as moontlik ander bronne en korpusse betrek om ’n meer verteenwoordigende beeld van huidig(lik) te probeer kry. Dié versameling (kyk Tabel 2) bestaan uit:

  • WKJ: Watkykjy.co.za-korpus 1.3, bestaande uit informele blogs, hoofsaaklik geskryf in sogenaamde Zefrikaans (Breed 2017).
  • WKK: CTexT Webkommentaarkorpus 0.1 (CTexT 2018), ’n versameling van kommentare wat vanaf 2014–2018 op nuuswebblaaie en blogs gelewer is.
  • LAK-2013 en LAK-2014: Leipzig- Afrikaanse korpus (Projekt Deutscher Wortschatz 2017a en 2017b), bestaande uit ’n mengsel van tekste wat outomaties van die internet afgelaai is – onderskeidelik in 2013 en 2014. Daar is geen oorvleueling tussen hierdie tekste en die tekste wat ingesluit is in die weergawe van LAK in VivA-KPO nie.
  • JLNK: Jana Luther se Afrikaanse Niefiksiekorpus (Luther 2017), ’n persoonlike korpus (nie beskikbaar vir verspreiding nie) van koerantartikels, niefiksieboeke, blogs en ander niefiksietekste. In hierdie artikel word spesifiek gewerk met ’n subdeel van die koerantgedeelte wat tussen 1986 en 2005 gepubliseer is; slegs die jare 2001 en 2002 ontbreek. Die subdele wissel in grootte tussen ~60 000 en ~960 000, met ’n gemiddeld van ~330 000 per jaar. (Waar die akroniem JLNK gebruik word, verwys dit na hierdie subdeel van die korpus.)
  • HKSA: Historiese Korpus van Standaardafrikaans (Kirsten 2015), ’n gestratifiseerde korpus van niefiksietekste, geskryf in Standaardafrikaans en verdeel in vier periodes: 1911–1920 (242 686 woorde); 1941–1950 (263 838 woorde); 1971–1980 (262 386 woorde); en 2001–2010 (263 270 woorde) (Kirsten 2016:67).
  • PKGA: Ponelis Korpus van Gesproke Afrikaans (Ponelis 1976), wat bestaan uit gesproke data van gesprekke, lesings en radio-onderhoude, versamel in die vroeë 1970s. Aangesien kwaliteitskontrole nog nie op die volledige korpus toegepas is nie, is dit ten tyde van publikasie van hierdie artikel nog slegs moontlik om aan te dui dat die korpus uit ongeveer 500 000 woorde bestaan. Desgevolglik sal hierdie korpus ook nie in enige van die statistiese vergelykings gebruik word nie.
  • Google: Aangesien beskikbare korpusse te klein is of neig om slegs geredigeerde teks te bevat, kan ’n soekenjin soos Google gebruik word om na alternatiewe materiaal te soek. Daar word slegs in die laaste instansie – nadat alle ander beskikbare korpusse ontgin is – van Googlesoektogte gebruikgemaak. Wanneer Googlesoektogte gebruik word, word die protokol in Van Huyssteen (2017) streng gevolg.
TABEL 2: Ander korpusse.

Die primêre datastel is uit VivA-KPO onttrek en in Notepad++ en Microsoft Excel verwerk en geannoteer; alle statistiese verwerkings is in Microsoft Excel gedoen. Tensy anders vermeld word, word:

  • tik-/spelfoute (bv. *huidilgik en *heidiglik) om praktiese redes uitgesluit uit die data;
  • woorde wat in die selfnoemfunksie gebruik word, by die data ingesluit; en
  • statistiek deurgaans op woordvormtellings (en nie lemmatellings nie) baseer.

Waar relevant vir vergelykingsdoeleindes, word die frekwensie van ’n woord F(n1) genormaliseer na frekwensie per miljoen woorde (fpmw) uit die totale aantal woorde F(N) in die korpus:

Indien fpmw ≥ 20 is, word die woord as hoogs frekwent geag; indien fpmw ≤ 2 het dit ’n lae frekwensie; van 3 tot 19 is gemiddeld. Hierdie skaal is egter nie so intuïtief soos byvoorbeeld ’n sewepuntlikertskaal nie en maak ook nie voorsiening vir woorde wat glad nie in kleiner korpusse voorkom nie. Om dié redes het Van Heuven et al. (2014) ’n logaritmiese Zipfiaanse skaal voorgestel. Met die fpmw as vertrekpunt word die Zipf-waarde van ’n woord bereken met log10(frekwensie per miljard woorde), of log10(fpmw) + 3. Woorde wat een keer in ’n 100-miljoenwoordkorpus voorkom, het Zipf = 1; woorde wat een keer in ’n 10-miljoenwoordkorpus voorkom, het Zipf = 2; woorde wat een keer in ’n 1-miljoenwoordkorpus voorkom, het Zipf = 3; ensovoorts.

Ten einde voorsiening te maak vir woorde met ’n fpmw = 0, word die frekwensie van die onderhawige woord F(n1) met 1 vermeerder. Dienooreenkomstig moet die aantal tekseenheidtipes F(V) (‘types’) per miljoen woorde ook saam met die aantal tekseenhede F(N) (‘tokens’) per miljoen woorde in berekening gebring word, sodat:

Die skaal strek van ~1 tot ~7; woorde met Zipf < 4 is laefrekwensiewoorde, 4 ≤ Zipf < 7 dui op hoëfrekwensiewoorde, terwyl woorde met Zipf ≥ 7 gewoonlik funksiewoorde met ’n baie hoë frekwensie is (bv. die, en, is, het, van, in en nie).

Om keuses tussen leksikale items (bv. tussen huidiglik en tans) te beskryf, word gewerk met ’n keusemodel waar veronderstel word dat keuseopsies vry is om te varieer (Wallis et al. 2012:4). Die waarskynlikheid P dat ’n bepaalde vorm n1 uit die totale aantal werklike keuseopsies ni gekies sal word, is:

waar F(n1) die totale aantal gevalle (ongenormaliseerde frekwensie) van die een woord is, F(n2) van die tweede woord, ensovoorts (Wallis et al. 2012:4). Die waarskynlikheid P word uitgedruk as ’n waarde tussen 0 (onwaarskynlik) en 1 (volkome waarskynlik). Aangesien daar met waarskynlikhede gewerk word, kan ook met die gemiddeld van waarskynlikhede oor verskillende korpusse heen gewerk word. In Van Huyssteen (2017) word hierdie metode aan die hand van ’n gevallestudie geïllustreer.

Morfologiese produktiwiteit word in die eng sin van die woord (Baayen & Lieber 1991) gemeet as MP = n1/N, waar MP die produktiwiteitsmeting is; n1 die totale aantal hapax legomena wat die morfeem bevat, is; en N die totale aantal tekseenhede (‘tokens’) met daardie morfeem is. MP is kleiner vir onproduktiewe prosesse en groter vir produktiewes. Vir vergelykingsdoeleinde word die nominaliseerder ⋅heid as verwysingspunt gebruik, aangesien Kempen (1969:481) meen dat dit ’n hoogs produktiewe suffiks in Afrikaans is. Gebaseer op data uit die TK-korpus, bevestig Van Huyssteen (2018b) dié aanname oor ⋅heid (MP = 0,02).

Diachronie

Vraag 1

Is daar korpusbewyse wat die vermoede dat huidiglik in die 1970s ontstaan het (Van Huyssteen 2018a), ondersteun?

Daar bestaan helaas tans nie voldoende omvattende korpusse om die vraag bevredigend te antwoord nie. Ons is daarom op brokkies konvergerende bewyse uit verskillende bronne aangewese om tot ’n onbevestigde gevolgtrekking te kan kom. Die volgende bewyse is daarom nie afdoende om die hipotese dat huidiglik in die 1970s in gesproke amptenaarstaal ontstaan het, te bewys nie, maar is die enigste korpusbewyse wat wel kan dien:

  • PKGA: Geen trefslae is in die korpus aangetref nie. Hou in gedagte dat dié korpus in die eerste helfte van die 1970s ingesamel is.
  • HKSA: Daar is twee trefslae van huidiglik in dié korpus (fpmw = 1.94), beide in die tydperk 2001–2010. Let op dat daar juis ook geen trefslae in die periode 1971–1980 is nie.
  • Googlesoektog: Van Huyssteen (2018a) meld dat die oudste sitaat in geskrewe Afrikaans wat met behulp van ’n Googlesoektog opgespoor kon word, uit 1982 dateer.

Leksikologie

Vraag 2

Is huidiglik ’n modeverskynsel (De Villiers 1981), of is dit juis verouderd (De Villiers 1986)? Overgesetsynde, kom huidiglik meer as 30 jaar ná De Villiers se uitsprake steeds in Afrikaans voor?

Sou ’n mens vir Afrikaans ’n korpus soos Google se n-gram-korpusse vir ’n verskeidenheid wêreldtale5 gehad het, sou ’n mens groei-of-krimp-tendense vir ’n bepaalde woord kon aantoon. In VivA-KPO is die inligting oor publikasiedatums helaas onbruikbaar, aangesien die onderskeie korpusse nie akkuraat van metadata oor publikasiedatums voorsien is nie.

Figuur 1 illustreer die spreiding van die woord hierdie (normaliter een van die 50 frekwentste woord in enige Afrikaanse korpus) in VivA-KPO, waaruit die skeefheid van dié versameling duidelik blyk. Dit is dus onmoontlik om op hierdie stadium diachrone inligting uit hierdie versameling te gebruik.

FIGUUR 1: Hierdie in VivA-KPO.

Behalwe vir die kleinskalige HKSA beskik Afrikaanse navorsers helaas nie oor ’n omvangryke of verteenwoordigende diachroniese korpus nie. Die enigste diachrone korpusdata wat tot my beskikking was, is die subdeel uit die koerantgedeelte van JLNK (kyk hierbo vir ’n beskrywing van dié versameling). In vergelyking met, toon Figuur 2 (op dieselfde skaal) die relatiewe frekwensiestabiliteit6 van hierdie in die subdeel waarmee gewerk word, met die fpmw wat tussen ~15 000 en ~35 000 wissel. Die implikasie hiervan is dat hierdie gedeelte van JLNFK wel geskik is vir frekwensievergelykings (fpmw) oor die tydperk van bykans twee dekades.

FIGUUR 2: Hierdie (fpmw) in ’n subdeel van die koerantgedeelte van JLNFK.

Indien huidiglik bloot ’n modeverskynsel is (De Villiers 1981), kan ’n mens ’n skerp piek iewers op die woord se frekwensielyn verwag; as dit aan ’t verouder is (De Villiers 1986), sou ’n mens ’n dalende frekwensielyn kon verwag. In Figuur 3 word die frekwensielyn van huidiglik naas dié van onvriendelike – ’n doodgewone en algemene woord wat nie modieus of verouderend is nie – vir vergelykingsdoeleindes getoon.7 Dit is ooglopend dat die trajekte van beide woorde se frekwensielyne ongeveer dieselfde is, soos ook blyk uit die byna parallellopende R2-tendenslyne. Ons kan vervolgens die logiese afleiding maak dat huidiglik ook nie tekens vertoon dat dit modieus of verouderend (in hierdie korpus) is nie. Hierdie tendens word ook deur Prinsloo (2003) in sy ondersoek in verskeie koerantkorpusse bevestig.

FIGUUR 3: Huidiglik en onvriendelike (fpmw) in ’n subdeel van die koerantgedeelte van JLNFK.

Is daar korpusbewyse dat huidiglik meer as 30 jaar ná De Villiers se uitsprake steeds in Afrikaans voorkom? Indien dit ’n modeverskynsel was, of besig was om te verouder, dan sou ons kon aanneem dat ons nie eintlik meer die woord 30 jaar later sou teëkom nie. Aangesien VivA-KPO gesien kan word as ’n versameling van eietydse Standaardafrikaans, sou ons die aanname kon maak dat dié korpusse gebruik kan word om ’n sinchroniese blik op ’n bepaalde woord te kry.

Uit ’n vergelyking van al die korpusse in VivA-KPO (kyk Tabel 3) blyk dit dat huidiglik ’n hoërige frekwensie (Z ≥ 4; aangedui in vetdruk) in drie van die agt korpusse het, met die hoogste relatiewe frekwensies in NCHLT (regeringstekste, wat huidiglik se status in amptenaarstaal enigsins bevestig; Zipf = 5.1) en LAK (groot verskeidenheid tekste van die internet afgelaai; Zipf = 5.0). Let ook op die lae frekwensies en Zipf-waardes van korpusse waar ’n mens ’n gevestigde redigeerpraktyk met ’n sterk redigeerbeleid of huisstyl kan verwag, byvoorbeeld by uitgewers soos Protea Boekhuis en LAPA, asook nuusdienste soos Maroela Media en RSG. Hierdie gegewens bevestig dus dat huidiglik seer sekerlik van ’n modeverskynsel tot ’n gevestigde woord in geskrewe Standaardafrikaans gegroei het. Of huidiglik in ’n verskeidenheid genres en registers voorkom, sal in Vraag 4 bespreek word.

TABEL 3: huidiglik in VivA-KPO se korpusse.
Vraag 3

Kom huidiglik met ’n hoër frekwensie as, of met ’n toename ten koste van alternatiewe woorde of frases (sinonieme) voor? Overgesetsynde, hoe vergelyk die woordfrekwensieklasse van huidiglik en sy sinonieme?

Outeurs wat van mening is dat huidiglik ’n anglisisme is, argumenteer dat huidiglik vorme soos nou, tans, deesdae, teenswoordig (Carstens 2018:134), op hierdie oomblik, in hierdie tyd (HAT3), soos sake nou staan (HAT 2015), by hierdie geleentheid, in ons moderne tyd, heden en op hierdie oomblik in die tyd (Combrink & Spies 1994) verdring. Vir die anglisistiese argument om te bly staan, moet ’n mens dus kan aantoon dat huidiglik met ’n toename ten koste van hierdie alternatiewe woorde of frases, of met ’n hoër frekwensie as hulle voorkom.

Om praktiese redes word daar hier gewerk met ’n potensiële keuseruimte van vier enkelwoorditems: huidiglik, tans, deesdae en teenswoordig.8 Daar word veronderstel dat op elke gegewe oomblik waartydens aan die betekenis [met die aard van die hede] uiting gegee kon word, elke outeur ’n keuse had tussen hierdie vier woorde (en slegs hierdie vier woorde). Op dié manier kan ons dus bereken wat die waarskynlikheid is dat iemand huidiglik ten koste van die ander woorde gebruik het, asook of daar ’n groei- of daaltendens oor ’n tydperk heen is.

Uit Tabel 4 blyk dit duidelik dat huidiglik hoegenaamd geen ‘bedreiging’ vir tans en deesdae inhou nie. Inteendeel, die waarskynlikheid dat huidiglik en teenswoordig in geskrewe (Standaard-)Afrikaans gekies word, is weglaatbaar klein – selfs in veronderstelde semigeredigeerde tekste soos in WAK, of in tekste waarvan die vlak van redigering wisselend sou kon wees, soos in LAK. Let ook interessantheidshalwe daarop dat tans slegs in twee korpusse, te wete LAPA en PK, nie die waarskynlikste woord is nie, maar eerder deesdae. Beide hierdie korpusse bestaan merendeels uit fiksie, en die laer waarskynlikheid van tans in hierdie twee korpusse bevestig dus enigsins Combrink en Spies (1994) se stelling dat tans ook ’n deftige amptenaarswoord is.

TABEL 4: huidiglik en sinonieme in VivA-KPO se korpusse.

Het huidiglik miskien teenswoordig verdring? Of sien ons oor ’n langer periode dalk ’n daling in die gebruik van tans en deesdae? Gebaseer op twintig jaar se data uit JLNFK, toon Figuur 4 dat die frekwensielyne van huidiglik en teenswoordig in wese bo-op mekaar is, gelyklopend is en byna nie sigbaar aan die onderkant van die grafiek is nie. (Vir ’n ingezoemde weergawe van huidiglik se frekwensielyn, kyk Figuur 3.) Deesdae se R2-tendenslyn is byna vertikaal, terwyl tans s’n met huidiglik en onvriendelik s’n in Figuur 3 vergelyk kan word. Daar is dus geen bewyse uit die beskikbare korpusse dat huidiglik oor ’n tydperk van vier dekades (of meer) enigsins enige van sy sinonieme verdring het nie.

FIGUUR 4: Huidiglik en sinonieme in ’n subdeel van die koerantgedeelte van JLNFK.

Vraag 4

Is huidig(lik) beperk tot amptenaarstaal (bv. regeringstekste), of ‘tot de deftige schrijftaal’ (volgens die artikel uit 1907 in WNT (De Vries & Te Winkel 1864–1997)?

Dit is veral Combrink (1995a; 1995b; 1995c) wat van mening is dat huidig(lik) by uitstek in amptenaarstaal voorkom, en soos in Van Huyssteen (2018a) geargumenteer is, is daar ook ’n oorwig van bewyse dat huidiglik waarskynlik sy ontstaan in amptenaarstaal het. Die vraag hier is of huidig(lik) in eietydse Afrikaans (dus meer as 20 jaar ná Combrink se uitsprake) ook tekenend van amptenaarstaal is, of anders gestel, of huidig(lik) in ’n verskeidenheid soorte tekste voorkom.

In Tabel 3 hier bo is reeds gewys dat huidiglik die hoogste relatiewe frekwensies in NCHLT (regeringstekste) en LAK (internettekste) het, telkens met Zipf = 5. By ’n gebrek aan ’n ander korpus wat tekenend van amptenaarstaal is, moet ons vir empiriese bewyse volstaan met NCHLT. ’n Googlesoektog in die .gov.za-domein (regeringsdomein) bevestig egter dat huidiglik in tallose amptelike regeringsdokumentasie voorkom. Vergelyk onderstaande voorbeelde uit wette, die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring, vraestelle en memoranda, en so meer:

  1. … die munisipaliteit nie huidiglik sy finansiële verpligtinge teenoor sy skuldeisers kan nakom nie … (Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003)

  2. … die goedere bestem is om te bly onder die doeaneprosedure waarvoor die goedere huidiglik vrygestel is … (Wet op Doeanebeheer 31 van 2014)

  3. As ’n motor huidiglik R90 000 werd is, wat sal die motor werd wees in twee jaar se tyd [sic] as die waarde van die motor afneem met ongeveer 15% in die eerste jaar en 10% in die tweede jaar? (Departement van Basiese Onderwys 2011:123)

  4. Huidiglik word die implementering van hierdie beleide gemonitor deur die regering. (Departement van Onderwys 2008a:15)

  5. Huidiglik is die ekonomiese groeikoers 1.4% (Provinsie Wes-Kaap 2015:30)

  6. ‘ontwikkelingsbord’ [beteken] ’n advertensie wat op ’n perseel vertoon word waar boubedrywighede huidiglik aan die gang is … (Provinsie Wes-Kaap 2008:56)

  7. Omdat dit huidiglik nog nie afgehandel en toegeken is nie kan dit nie publiseer [sic] en oorgedra word nie. (Provinsie Wes-Kaap 2010:49)

Ook vir huidig (onverboë) kan talle voorbeelde uit regeringsdokumentasie in die .gov.za-domein aangebied word, soos:

  1. Daar is 18 miljoen Suid-Afrikaners (in 3 miljoen huishoudings) wat huidig nie toegang het tot basiese sanitasie nie. (Departement van Waterwese en Bosbou s.j.:1)

  2. … aan Nedcor verskuldig is, welke bedrag huidig opeisbaar en betaalbaar is. (Nedcor Bank Limited v SDR Investment Holdings Co [Pty] Ltd 2008:2)

  3. … om die huidig befondsde projekte vir werkskepping en inkomstegenerering te evalueer … (Provinsie Wes-Kaap 2012:162)

  4. Deurdat hierdie en ander wetgewende knelpunte (huidig of dreigend) geïdentifiseer is … (Provinsie Wes-Kaap 2017:66)

Uit bostaande voorbeelde is dit duidelik dat sowel huidiglik as onverboë huidig tot die deftige skryftaal van amptenare hoort. Hoe staan sake aan die teenoorgestelde kant – in ongeredigeerde tekste, informele Afrikaans en kletstaal? Tabel 5 gee ’n oorsig van resultate uit alle beskikbare korpusse: die korpusse in VivA-KPO (bo die skeidingslyn; data in Tabel 3 word hier herhaal), sowel as dié wat nie by VivA-KPO (onder die skeidingslyn) ingesluit is nie. Vir vergelykingsdoeleindes word data vir huidige en hede ook in die tabel ingesluit.

TABEL 5: huidiglik en verwante woorde in alle korpusse.

Uit die gegewens in Tabel 5 kan vervolgens drie gevolgtrekkings gemaak word:

  • Oor alle korpusse heen het huidiglik ’n gemiddelde Zipf-waarde van 4.3. Dit impliseer dat huidiglik in die kategorie hoëfrekwensiewoorde (Zipf ≥ 4) val en dat ons dus kan sê dat huidiglik goed gevestigd is in Afrikaans.
  • Die feit dat huidig lae Zipf-waardes in MM, LAPA, PK en RSG het, wys waarskynlik ook weereens die hand van teksredakteurs in hierdie korpusse, asook op die feit dat huidig en huidiglik nie werklik met mekaar in kompetisie is nie. Laasgenoemde word bevestig deur huidig se lae Zipf-waarde in ’n ongeredigeerde korpus soos WKJ.
  • Die feit dat huidiglik die hoogste Zipf-waarde in WKK het (Zipf = 5.6), bevestig dat huidiglik ook (veral) deel is van informele kletstaal (en nie net amptenaarstaal nie). Die feit dat huidig se Zipf-waarde in PKGA die hoogste is (Zipf = 5.1), bevestig dat huidig allermins beperk is tot ‘deftige schriftaal’.

Morfosintaksis

Vraag 5

Word huidig as bywoord of predikatiewe of onverboë adjektief in Afrikaans gebruik, anders as menige bron wat meen dat slegs huidige as prenominale adjektief voorkom (bv. Carstens 2018:134–135)?

Ten spyte van leksikograwe en preskriptiwiste se aanname dat onverboë huidig nie in Afrikaans voorkom nie, het dit ’n gemiddelde Zipf-waarde van 3.7 oor alle korpusse heen (kyk Tabel 5). Ook huidig het dus sy plek in Afrikaanse skryftaal.

’n Analise van die 62 gevalle in TK bring aan die lig dat huidig verreweg die meeste kere (76%) as bywoord van tyd en as deel van die predikaat gebruik word, soos in (12) hier onder. In slegs drie gevalle (5%) word huidig in sy bywoordelike gebruik as voorbepaling by ’n adjektief gebruik, soos in (13). In 4 gevalle (6%) word huidig as bywoord selfstandig gebruik, byvoorbeeld om ’n datum te vervang (soos in (14) hier onder), of bo-aan ’n kolom in rekenkundige state. Slegs in 8 gevalle (13%) word huidig as postnominale attributiewe adjektief gebruik, soos in (15) hier onder.

  1. Daar is huidig geen gepubliseerde inligting beskikbaar waarin …

  2. … die huidig heersende filosofiese beskouing …

  3. Die landbou-mynbou-nywerheidstadium (1914 tot huidig) …

  4. … behalwe om prosesse (huidig en histories) te probeer …

Van die 62 gevalle kom slegs een uit die fiksiegedeelte van TK; dit bevestig dus ook die gegewens in Tabel 5 dat huidig veel minder in geredigeerde korpusse wat merendeels uit fiksietekste bestaan, voorkom. Die meeste gevalle (66%) van huidig in TK kom in akademiese tekste voor, waarmee tog weer enigsins aangedui kan word dat dit ’n deftige element bevat.

Vraag 6

In aansluiting by Kempen (1969) se woordsoortelike waarnemings oor woorde wat gevorm word met ⋅lik, word huidiglik as bywoord én adjektief gebruik, of slegs as bywoord?

Kempen (1969:535) stel dat woorde wat gevorm word met ⋅lik meestal as bywoord én adjektief gebruik kan word, en dat daar eintlik net een is wat eksklusief as bywoord funksioneer, naamlik naarstiglik. Op die oog af lyk dit asof huidiglik ook so ’n geval is: Uit die 106 trefslae in TK, funksioneer 97 suiwer as bywoord van tyd en as deel van die predikaat. Die ander nege gevalle behels die selfnoemfunksie, soos in (16):

  1. … die gebruik van modewoorde soos huidiglik

Wat interessant is, is dat huidiglik wél soms as prenominale attributiewe adjektief funksioneer, dan wel in verboë vorm soos in (17) hier onder. Uit die 23 gevalle in LAK-2014 (kyk Tabel 6) is 21 adjektiewe. In een geval word huidiglike as selfstandige naamwoord gebruik (in die plek van hede; kyk [18]) en in een geval bywoordelik as voorbepaling by die adjektief ge-‘fire’-de (kyk (19)).

  1. Maak altyd van die atleet se huidiglike liggaamsmassa gebruik.

  2. Die gaping tussen die huidiglike en die droom is soos die Grand Canyon wat net nie wil kleiner word nie.

  3. ‘Attie, mmh wat ’n snaakse naam’ het ’n huidiglike ge‘fire’de zimdollarjoernalis gedink.

TABEL 6: huidiglike in alle korpusse.

Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat huidiglik oorwegend as bywoord gebruik word, by uitsondering as verboë attributiewe adjektief, maar nooit as predikatiewe adjektief nie.

Morfologie

Vraag 7

Is ⋅lik as adverbialiseerder produktief in eietydse Afrikaans?

Woorde wat op die letters ⋅lik eindig, is hoogs frekwent in Afrikaans; daar is byvoorbeeld 1 066 210 trefslae in VivA-KPO. Boonop is baie van die woorde vals trefslae, soos byvoorbeeld klik, oomblik of konflik. Sonder ’n hoogs akkurate woordsoortetiketteerder, is dit dus ’n haas onbegonne taak om slegs rekenaarmatig die produktiwiteit van ⋅lik as adverbialiseerder vas te stel.

Ten einde die soekruimte te verklein, word daar vir doeleindes van hierdie artikel slegs met data uit die TK-korpus gewerk. Alle woorde wat op ⋅lik en ⋅like eindig, is uit die korpus onttrek, sodat F(⋅lik) = 287 794 en F(⋅like) = 174 831. Uit dié data is daardie gevalle onttrek wat nié ⋅like-ekwivalente het nie, met die veronderstelling dat sulke gevalle potensieel adverbiaal gebruik word. Uit hierdie oorblywende gevalle is alle naamwoorde (bv. koekblik), werkwoorde (bv. verduidelik), vorme met stamme of prefikse as linkerlid (bv. toeristevriendelik en medeverantwoordelik) en spelfoute (bv. *gewoonklik) handmatig uit die data verwyder. Ter wille van die berekening van die produktiwiteit van ⋅lik is alle hapax legomena ook binne konteks gekontroleer, om seker te maak dat hulle wel bywoordelik gebruik word. Die finale datastel bestaan uit 153 tekseenheidtipes (‘types’) en 10 777 tekseenhede (‘tokens’), met ’n totaal van 92 hapax legomena. Die twintig frekwentste gevalle word in Tabel 7 gelys.

TABEL 7: Frekwentste bywoord wat op ⋅lik eindig (TK).

Met dié data in pag kan die produktiwiteit van adverbialiserende ⋅lik gemeet word, relatief tot die hoogs produktiewe suffiks ⋅heid (Van Huyssteen 2018b). Deur die formule van Baayen en Lieber (1991) te gebruik, word die produktiwiteit gemeet as MP = 0,009. Die produktiwiteitsmeting is dus aansienlik laer as ⋅heid se MP van 0,02, wat beteken dat ⋅lik minder produktief as ⋅heid is. Desalnietemin, ⋅lik is wel enigsins produktief.

Ter wille van illustrasie, vergelyk enkele van die hapax legomena wat eindig op ⋅lik:

  1. Maar Durban het verander, die binnestadse verderf het skynlik al die sjarme van haar historiese prag vernietig en soos elders het die middelklas en rykes gevlug noorde toe, nes die Voortrekkers.

  2. Hy het sy tong spytlik geklik.

  3. Om volkome beskerming uit immunisering te verhaal, moet hulle volgordelik op spesifieke ouderdomme van die baba toegedien word.

Vraag 8

Kom die ⋅ig⋅lik-kombinasie dikwels in hedendaagse geskrewe Afrikaans voor?

In die besinning oor huidiglik lug Van Huyssteen (2018a) die vraag of ⋅ig⋅lik wel ’n ‘geldige’ kombinasie van suffikse is. Hy toon reeds daar aan dat woorde wat op ⋅ig⋅lik eindig, al voorkom in van die oudste tekste wat in formele Standaardafrikaans geskryf is, waaronder goed-gunstiglik [sic], naarstiglik en gewilliglik (uit HKSA).9

In hedendaagse geskrewe Afrikaans kom die ⋅ig⋅lik-kombinasie ook dikwels voor. In VivA-KPO is daar 3 507 trefslae (‘tokens’) van woorde wat op ⋅ig⋅lik(⋅e) eindig, bestaande uit 139 unieke trefslae (‘types’); in WKK is daar 720 trefslae waarvan 60 uniek is. Die produktiwiteit van dié morfeemkombinasie is selfs hoër as ⋅heid se gemete 0,02: Vir ⋅ig⋅lik is MP = 0,03 in VivA-KPO; in WKK is MP = 0,08.

In Tabel 8 word die tien frekwentste gevalle in VivA-KPO aangedui, met daarnaas die ooreenstemmende rangorde in WKK. Vergelyk (23) tot (25) vir ’n aantal voorbeelde met ’n lae frekwensie.

  1. In ’n motorresensie: … sagte krulvere (waarvan die bons lank aanhou), ferm dempers (om einste bons tydiglik hok te slaan) …

  2. Sonde het ontstaan deur die wil van die skepsel, die eerste en laaste keer wat hy ’n vrye wil gehad het, en dan die vrye wil, met sy vrye wil, vrywilliglik en wetenswilliglik afstand van gedoen het deur daardie oortreding.

  3. Die Bokke het die bal uitstekend beskerm en lustiglik lug gegee …

TABEL 8: Frekwensie van woorde in VivA-KPO wat op ⋅ig⋅lik eindig.

Gevolgtrekking

In samehang met Van Huyssteen (2018a) is huidiglik en talle verwante woorde en morfeme in hierdie tweeluik artikels ondersoek. Die oorhoofse doel was om ’n deskriptiewe beeld van huidiglik te skets, ten einde te bepaal wat die eietydse (preskriptiewe) norme oor dié woord sou kon wees.

Van Huyssteen (2018a) bevind ‘dat daar geen taalkundige besware teen huidig(lik) ingebring kan word nie’ en dat stilistiese besware meestal ’n kwessie van smaak is. Hierdie interne norme word deur middel van die korpusondersoek in hierdie artikel ook as eksterne norme bevestig, soos blyk uit die antwoorde op die navorsingsvrae wat aan die begin van hierdie artikel gestel is:

  1. Huidiglik is al vir meer as vier dekades deel van Afrikaans se woordeskat.

  2. Huidiglik was miskien aanvanklik ’n modeverskynsel (De Villiers 1981), maar is vandag goed gevestigd in Afrikaans.

  3. Huidiglik verdring geen sinonieme of alternatiewe woorde nie. Aan die hand van korpusbewyse kan geargumenteer word dat huidiglik dus nié ’n anglisisme is nie, aangesien dit nie aan die kriterium van verdringing voldoen nie.

  4. Huidig(lik) is nie beperk tot amptenaarstaal of die deftige skryftaal nie: Beide kom met ewe hoë frekwensies voor in én regeringstekste, én informele kletstaal op die internet. Dit blyk egter dat beide minder in fiksietekste voorkom, asook in kontekste met ’n sterk gevestigde redigeerpraktyk.

  5. Huidige word meestal as prenominale adjektief gebruik, maar huidig kom wel ook met redelike frekwensies voor as bywoord en predikatiewe of onverboë adjektief.

  6. Huidiglik word oorwegend as bywoord gebruik, by uitsondering as verboë attributiewe adjektief, maar nooit as predikatiewe adjektief nie.

  7. Die adverbialiseerder ⋅lik kom met ’n hoë frekwensie voor, maar is minder produktief as ’n produktiewe suffiks soos ⋅heid.

  8. Die ⋅ig⋅lik-kombinasie van suffikse kom dikwels en produktief in hedendaagse geskrewe Afrikaans voor.

Erkenning

Met dank en erkenning aan Jana Luther wat goedgunstiglik (!) vir my data uit haar niefiksiekorpus onttrek het.

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Baayen, H. & Lieber, R., 1991, ‘Productivity and English derivation: A corpus-based study’, Linguistics 29, 801–844. https://doi.org/10.1515/ling.1991.29.5.801

Breed, A., 2017, ‘The subjective use of postural verbs in Afrikaans (II): A corpus analysis of CPV en in Zefrikaans’, Stellenbosch Papers in Linguistics 52, 23–43. https://doi.org/10.5842/52-0-709

Carstens, W.A.M., 2018, Norme vir Afrikaans, 6e uitg., Van Schaik, Pretoria.

Combrink, J.G.H., 1995a, ‘Redes waarom “wettiglik”, “naarstiglik” en “huidiglik” nié toutologieë is nie’, Beeld 23 Januarie, bl. 7.

Combrink, J.G.H., 1995b, ‘Woordeboek nie altyd op datum’, Die Burger 26 Junie, bl. 11.

Combrink, J.G.H., 1995c, ‘Geforseerde “huidiglik” kom uit Amptenaraans’, Beeld 6 Maart, bl. 7.

Combrink, J.G.H. & Spies, J., 1994, Sakboek van regte Afrikaans, Tafelberg, Kaapstad.

CTexT, 2018, CTexT Webkommentaarkorpus 1.0, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by http://humanities.nwu.ac.za/ctext

Departement van Kuns en Kultuur & CTexT, 2017, Afrikaanse NCHLT-tekskorpus, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by https://doi.org/ISLRN:544-932-849-161-3

De Villiers, M., 1981, ‘Modeverskynsels in die taal’, Die Kerkbode.

De Villiers, M., 1986, Los liewer “-lik” in Afrikaans, Rapport, 20 April, bl. 15.

De Vries, M. & Te Winkel, L.A. (reds.), 1864–1997, Woordenboek der Nederlandsche taal [WNT], Martinus Nijhoff, ’s-Gravenhage.

Kempen, W., 1969, Samestelling, afleiding en woordsoortelike meerfunksionaliteit in Afrikaans, Nasou, Kaapstad.

Kirsten, J., 2015, Historiese korpus van Standaardafrikaans 1.0, Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark.

Kirsten, J., 2016, Grammatikale verandering in Afrikaans van 1911–2010, Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark.

Lapa-uitgewers & CTexT, 2017, NWU/Lapa-korpus 1.1, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018. by http://viva-afrikaans.org

Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H. (reds.), 2015, Handwoordeboek van die Afrikaanse taal, 6e uitg., Pearson, Kaapstad.

Luther, J., 2017, Afrikaanse niefiksiekorpus 1.0, Persoonlike versameling, Kaapstad.

Maroela Media & CTexT, 2017, NWU-Maroela Media-korpus 1.1, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Ponelis, F.A., 1976, Ponelis korpus van Gesproke Afrikaans 1.0, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch.

Prinsloo, A.F., 2003, ‘Huidiglik – ’n sondebok (bet. 1)’, in W.F. Botha (red.), ’n Man wat beur, bl. 305–313, Buro van die WAT, Stellenbosch.

Prinsloo, A.F. & Odendal, F.F., 1995, Afrikaans op sy beste: Hulp met moderne taalkwessies, Van Schaik, Pretoria.

Projekt Deutscher Wortschatz, 2018, Afrikaans corpus, Abteilung Automatische Sprachverarbeitung, Universität Leipzig, Leipzig, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Projekt Deutscher Wortschatz, 2017a, Afrikaans corpus [LAK-2013], Abteilung Automatische Sprachverarbeitung, Universität Leipzig, Leipzig, besoek op 30 April 2018, by http://corpora.uni-leipzig.de/en?corpusId=afr_mixed_2013

Projekt Deutscher Wortschatz, 2017b, Afrikaans corpus [LAK-2014], Abteilung Automatische Sprachverarbeitung, Universität Leipzig, Leipzig, besoek op 30 April 2018, by http://corpora.uni-leipzig.de/en?corpusId=afr_mixed_2014

Protea Boekhuis & CTexT, 2017, PUK/Protea Boekhuis-korpus 2.1, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Provinsie Wes-Kaap, 2008, ‘Buitengewone provinsiale koerant 6543’, 09 September, Provinsie Wes-Kaap, Kaapstad.

Provinsie Wes-Kaap, 2010, ‘Buitengewone provinsiale koerant 6703’, 02 Maart, Provinsie Wes-Kaap, Kaapstad.

Provinsie Wes-Kaap, 2012, ‘Department van Maatskaplike Ontwikkeling’, Jaarverslag 2011/2012, Kaapstad.

Provinsie Wes-Kaap, 2015, Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Vaardigheidstoets vir merkers: Vraestel 1 & 2 Ekonomie, Augustus, Provinsie Wes-Kaap, Kaapstad.

Provinsie Wes-Kaap, 2017, Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Jaarverslag 2016/2017, Kaapstad.

Rayson, P., 2016, ‘Log-likelihood and effect size calculator’, besigtig op 14 Maart 2018, by http://ucrel.lancs.ac.uk/llwizard.html

Radio Sonder Grense & CtexT, 2015, RSG-nuuskorpus 2.0, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Suid-Afrika, s.j., Departement van Waterwese en Bosbou, Die beleid op basiese huishoudelike sanitasie in ’n japtrap, Pretoria, besoek op 23 Mei 2018, by http://www.dwaf.gov.za/downloads/ws/content/LIDS/PDF/afrikaans3.pdf

Suid-Afrika, 2003, Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003, Pretoria.

Suid-Afrika, 2008a, Departement van Onderwys, Nasionale Senior Sertifikaat: Besigheidstudies – Memorandum, Pretoria.

Suid-Afrika, 2008b, Nedcor Bank Limited v SDR Investment Holdings Co (Pty) Ltd 2008 (274/07) ZASCA 11, South African Legal Information Institute, besoek op 07 Desember 2017, by http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2008/11.html

Suid-Afrika, 2011, Departement van Basiese Onderwys, Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring: Graad 10–12 – Wiskundige geletterdheid, Staatsdrukker, Pretoria.

Suid-Afrika, 2014, Wet op Doeanebeheer 31 van 2014, Staatsdrukker, Pretoria.

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2011, Taalkommissiekorpus 1.1, CTexT, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org. Toegang op 30 April 2018.

Van Heuven, W.J.B., Mandera, P., Keuleers, E. & Brysbaert, M., 2014, ‘Subtlex-UK: A new and improved word frequency database for British English’, Quarterly Journal of Experimental Psychology 67, 1176–1190. https://doi.org/10.1080/17470218.2013.850521

Van Huyssteen, G.B., 2017, ‘Opname- en elimineringskriteria vir die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls: Die geval emeritus. Deel 2’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 57, 346–368.

Van Huyssteen, G., 2018a, ‘Norme vir huidiglik’, Literator 39(2), a1526. https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1526

Van Huyssteen, G.B., 2018b, ‘The hulle and goed constructions in Afrikaans’, in G. Booij (ed.), The construction of words: Advances in construction morphology, Springer, Dordrecht. https://doi.org/10.1007/978-3-319-74394-3_15

Virtuele Instituut vir Afrikaans, 2017, Korpusportaal: Omvattend, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Wallis, S., Bowie, J. & Aarts, B., 2012, ‘That vexed problem of choice. Some reflections on experimental design and statistics with corpora’, International Conference on Advances in Mechanics Engineering (ICAME 33).

WatKykJy, 2017, Watkykjy.co.za-korpus 1.1, WatKykJy.co.za, besoek op 30 April 2018, by http://viva-afrikaans.org

Footnotes

1. Vir volledige besonderhede, kyk die subafdeling ‘Korpusse’ in die afdeling ‘Verwysings’.

2. Berekeninge gedoen op 30 April 2018.

3. In die afdeling Korpusondersoek word hierdie inligting gebruik om die frekwensieklas N van woorde te bereken.

4. Die frekwensie van dié in die onderskeie korpusse word nie gerapporteer nie, aangesien hierdie korpusse nie gebruik word om die frekwensieklas van woorde te bereken nie.

5. https://books.google.com/ngrams/info

6. LL = 491.27 (p < 0,0001) (Rayson 2016)

7. Die skaal is 1:1000 in vergelyking met Figuur 1 en 2. Huidiglik se gemiddelde fpmw = 30; onvriendelike se gemiddelde fpmw = 51.

8. Weens sy homonimiese en polisemiese aard, word nou (wat vele outeurs as alternatief vir huidiglik noem) nie in die ondersoek betrek nie.

9. Kwalik word ingesluit by dié groep, aangesien dit histories bestaan uit kwaad en ⋅lik.



Crossref Citations

No related citations found.