About the Author(s)


Ena Jansen Email symbol
Department of Dutch Literature, University of Amsterdam, the Netherlands

Department of Afrikaans, University of Johannesburg, South Africa

Citation


Jansen, E., 2018, ‘Hand aan hand met Antie Meisie’, Literator 39(2), a1500. https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1500

Litera

Hand aan hand met Antie Meisie

Ena Jansen

Copyright: © 2018. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Twee blonde dogtertjies hardloop hand aan hand met ’n jong vrou oor die strand. Sy dra ’n wit voorskoot. Dit is 1955. Die enigste rede waarom die bruin vrou hoegenaamd op daardie uitgestrekte strand mág wees, is omdat sy die wit kinders se oppasser is. Enkele jare vantevore, in 1953, is een van apartheid-Suid-Afrika se berugte verbodborde ingevolge die Groepsgebiedewet (no. 41) van 1950 immers ook in die Strand opgerig: ‘See & Strand Net vir Blankes/Beach & Sea Whites Only’. Vir kinderoppassers is egter altyd ’n uitsondering op die wet gemaak. In die argiewe is selfs foto’s van parkbanke elders in die land, gemerk ‘Nannies Only’.

In Mei 2015 het die strandfoto van my en my tweelingsussie, Christine, en ons oppasser tydens kleintydvakansies op die banier van die voorblad van Rapport verskyn; ook dieper in die koerant by die groot onderhoud wat Elmari Rautenbach met my gevoer het oor my boek, Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Dit was drie dae voordat dit in Kaapstad bekendgestel is. Ek het die foto in ons ouma, Tibbie Myburgh-Broeksma, se fotoalbum opgespoor, een van die talle foto’s waarin ons saam met die vrou afgebeeld is. Dit is op 11 September 1955 deur ons oupa, P.G. Myburgh, geneem. Hy was destyds jare lank Standard Bank se bestuurder op Darling. Hierdie selfde foto het in Julie 2017 weer op die voorblad van Rapport Weekliks verskyn (https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/toe-see-en-strand-net-vir-blankes-nou-familie-20170723).

Die foto is trouens lank as omslagfoto vir Soos familie oorweeg, totdat die ikoniese portret van Annie Mavata gekies is; ’n portret wat in 1956 deur Dorothy Kay geskilder is. Die foto is wel binne in die boek afgedruk. In 2016 is Soos familie met die Universiteit van Johannesburg se prys vir ‘Beste kreatiewe werk in Afrikaans’ bekroon en was dit op die kortlys van KykNET-Rapport se nie-fiksieprys. In 2016 het dit in Nederland as Bijna familie verskyn en Like family word in 2019 deur Wits University Press uitgegee.

Ek het dikwels gewonder of die vrou wat my en Christine opgepas het terwyl ons as gesin uit die Natalse binneland by ons oupa en ouma op Darling gekuier het, nog sou leef. Ek het nie geweet wat haar van was nie, net dat sy destyds Meisie genoem is. ’n Keer het ek in Darling se Hoofstraat vir ’n paar mense gevra of hulle haar ken, maar gou moed opgegee toe hulle my nie kon help nie.

Baie onverwags het ek vroeg in Mei 2017 die blye nuus ontvang: mevrou Meisie Cleophas, toe 91 jaar oud, leef en woon nog al die jare op Darling! Kort daarna het ’n herontmoeting tussen haar en ons plaasgevind; sestig jaar nadat ons mekaar laas gesien het.

Dit het alles danksy Facebook gebeur – ’n netwerk waarop ek nog maar enkele maande gelede begin rondkyk het en soms saamspeel. Op Dinsdag 09 Mei merk ek ’n post op van Wim Visser. Dit is die Nederlander wat die onvolprese Darling Voorkamerfest in die lewe geroep het en wat daardie dag tereg met trots op die tweede Darling Collection terugkyk wat toe sopas aangebied is. Hy en sy vrou besit ’n huis op Darling. Ek like sy berig en dink ineens om te vra of Wim kan probeer uitvind of iemand uit sy wye Darling-kennisnetwerk vir Meisie van destyds ken of onthou.

Hy laat dadelik weet hy sal sy bes doen. Op Sondag 14 Mei, enkele ure voor sy terugvlug Amsterdam toe, kom hierdie boodskap: ‘Gevonden!! Onze beste vriendin hier, Anna, heeft haar vanmorgen gesproken. Om van jou te horen, Ena, is haar mooiste Moederdag cadeau, zei zij Anna.’ Minute later het Wim vir my die foto gestuur wat Anna Cleophas van Antie Meisie gaan neem het.

Ek was diep dankbaar en ontroer. My kort storie op Facebook hieroor het 95 reaksies en meer as 50 kommentare ontlok. Dat die nuus ook toevallig op Moedersdag gekom het, het talle mense geraak. My sussie, Christine Smit, en ek het ons voorgeneem om sodra ek uit Amsterdam weer Kaap toe kom, so gou moontlik Darling toe te gaan. Met Anna het ek via Messenger en per telefoon begin reëlings tref.

Op 29 Junie is ons vroeg weg uit Stellenbosch en het eers ’n bietjie op Darling rondgery en gaan soek of die bankhuis wat my oupa-hulle Mon Desir genoem het, darem nog op sy groot erf staan. Alhoewel ons albei deur die jare soms deur die dorp gery en daarna gaan kyk het, weet ’n mens nooit hoe lank so ’n huis, wat duidelik nooit sedert die 1950’s opgekalfater is nie, sal bly staan. In die 1980’s het ek ’n hele reeks foto’s daarvan geneem.

Ons het Anna Cleophas om half twaalf by Evita se Perron ontmoet. Sy het in ons kar oorgeklim en die pad beduie: letterlik na die anderkant van die spoor, links van die pad Moorreesburg toe. Toevallig was Anna se oorlede man verlangs familie van Antie Meisie se oorlede man, dis dié dat hulle dieselfde van het en dat Anna geweet het hoe om Antie Meisie op te spoor. Anna sou die hele dag verder met groot invoeling en entoesiasme met ons deel. Sy blyk toevallig ook die behartiger van Pieter-Dirk Uys se Darling-huishouding te wees: ’n vrolike vrou; jy voel of jy haar al jare ken.

Toe ons voor die huis stop in dié gedeelte van Darling wat as Nuwedorp bekend staan, kom Antie Meisie dadelik buitentoe gestap: witgrys, regop, haar gesig straal. Daar is geen oomblik se huiwering nie: my sussie en ek is in haar arms. Ná ’n deurmekaar gelag en brille afhaal om die trane weg te vee, is ons binne toe. ’n Kraakhelder sonnige sitkamer waar ons saam op die bank sit, hande vashou en mekaar aanhoudend wil bekyk. En dadelik presente uitpak: warm sagte kleregoed en lekkergoed teen die winter wat kom en vir al dié wat verby is. En ons kyk foto’s: uit vergrotings van al die klein foto’tjies uit ons ouma se album waarop ons en Antie Meisie saam is. Alles voel vertroud: ons ken mekaar ondanks al die jare.

Ons hoor baie wat ons nie geweet het nie. Antie Meisie het agt kinders en byna almal het huise in die direkte omgewing. Haar man, Niklaas, is lank gelede oorlede. Ons ontmoet haar skoondogter. Dis in haar en haar man se huis wat Antie Meisie in ’n ruim kamer met ’n noordervenster woon. ’n Ander dogter, Linda, kom kort daarna ook binne en kuier die res van die dag saam. Antie Meisie is jammer om te hoor dat ons ouers, destyds so jonk soos sy, nou op onderskeidelik byna 93 en 88, te broos is om saam te kon gekom het. Sy sê dat sy baie dikwels aan my oupa-hulle en aan ons gesin deur die jare gedink het.

Met Antie Meisie voor langs my, ry ons na die hoofdorp. Van orals vandaan kan jy berge en heuwels in die verte sien. Darling, 75 kilometer van Kaapstad en 25 km van Yzerfontein se koue see, is omring deur koringlande en die beroemde veldblomvelde van die Renoster- en Groenkloof-natuurreservate. Die Duckitts se plase is naby. Die oorsigtelike dorp is in ’n soort vyfkant uitgelê. Dit was die perfekte dorp om kleintyd, op ongeteerde strate, in rond te loop en waar ons met ’n wit emaljekannetjie, met so ’n blink handvatsel, gaan melk haal het by ’n boer skuins oorkant die straat, by sy waenhuis, met van daai ou deure wat opsy skuif op ’n spoor, met ’n breë houtlatei sigbaar ingemessel.

Uiteraard ken Antie Meisie en Anna en Linda die dorp baie goed, maar veral Antie Meisie, nou 91, kom nie aldag meer oral nie. Ons stop en klim almal uit die kar aan die Koningin Victoriastraat-agterkant van Mon Desir wat deur nóg twee strate begrens word: Nemisastraat, waar die voorhekkie aan die sykant van die huis is, en Van der Stelstraat aan die anderkant. Die huis is plek-plek heeltemal oop na die strate met net so hier en daar ’n stuk outydse draadheining en hekkies. Daar hang handdoeke oor die reling van die ronde stoep, maar geen mens is in sig nie. Anna aarsel vir geen oomblik dat ons maar om die huis kan rondloop nie. Haar storie sal reg wees.

Ons onthou nog alles: die buitegeboue, die boog om die voordeur, die balkonstoep, die buitekraan, skuinsbakstene langs die beddings, die sementvoetpaadjies, die watertenk, die palmboom. Antie Meisie staan met haar hande op haar rug en bekyk en verduidelik vir ons hoe die vertrekke in mekaar gepas het. Dit blyk sy het nie net soms vir ons opgepas nie, maar ook gewas en gestryk. Voor haar het vroue met die name Tries en Trui by ons ouma gewerk.

Tot ons verbasing hoor ons dat sy destyds al getroud was en self al twee kinders gehad het terwyl sy ons opgepas het. Antie Meisie vertel van ons ouma en hoe besonder sy was. As daar byvoorbeeld boys was om te kom verf of die dak regmaak, het sy self tee gemaak en koppies én pierings saam met die teepot vir hulle op die skinkbord buitentoe gevat. Boys is die enigste Engelse woord wat Antie Meisie die hele dag gebruik – sy praat ’n pragtige en suiwer Afrikaans. Sy vertel hoe ons ouma dikwels smiddae in haar karretjie gery het om ’n vriendin te gaan haal met wie sy dan sit en brei het. Ek vra na Daniel, die man wat soms in die tuin kom help het, maar ook as bode by die bank gewerk het. Ek onthou hy het altyd ’n mooi hoed gedra. ‘Ja, hy was baie erg oor daai hoed,’ onthou sy ook.

Mon Desir was destyds heeltemal aan die oostelike rand van die dorp. In die oop veld direk langs die huis was ’n afgekapte bloekom wat ons ‘ons stomp’ genoem het. Op en om die stomp is ’n hele paar foto’s van ons met die jong vrou Meisie, ook met ons nóg jonger ma en ons ouma langs ons. By die hekkie wat na ons stomp gelei het, neem ons nou weer foto’s, 62 jaar later. En ons stap langs die geteerde Van der Stelstraat wat toe nog net op dorpsbeplanners se tekenborde bestaan het, af na Brig’s Barn langs die Hoofstraat.

Anna vertel dat sy op ’n plaas grootgeword het. ‘Alles was baie ongelyk, maar die boer en sy vrou was goed vir ons. Niemand het ooit honger gely nie. Die vrou het al ons bruinmense se kinders gevang.’ Nadat ons bobotie geëet het op die sonnige stoep, ry ons groepie verder deur die dorp. Ek wil weet waar Antie Meisie gewoon het toe sy by my ouma-hulle gewerk het. Dit blyk in die hart van die middedorp te gewees het. Sy wys ons die plek direk langs die sogenaamde sloot wat die hele dorp deurkruis. Dit was langs die viswinkel – haar man, Niklaas, het daar gewerk en oral teen die Weskus op gaan vis koop. Veral teen die hellings aan die suide- en westekant van die dorp is mooi ou huise, groot en klein. In baie van hulle het destyds bruin mense gewoon. Sy wys ons die ou Sendingkerk waarheen die mense uit die sogenaamde Nuwedorp nog lank gekom het voor daar anderkant die spoor vir hulle ’n kerk gebou is.

Sy en Linda en Anna Cleophas wys en vertel, ons vra uit en luister. Daar is geen uitgesproke bitterheid nie, net doodnugter konstaterings van hoe dinge was en hoe dit verander het. Maar dit móét op hierdie dag, hoe heerlik en van groot blydskap dit ook is, pynlik wees om so direk aan die vroeë 1950’s herinner te word, aan wat daarna nog alles sou gebeur. Antie Meisie het lang jare huiswerk in die dorp gedoen. Later by die posmeester en magistraat gewerk toe my oupa afgetree het. Sy sou toe baie ver van Nuwedorp moes stap om by haar werkhuise uit te kom.

Ons gaan laai haar en Linda weer in Nuwedorp af, en neem afskeid. Anna ry nog saam terug: sy woon oorkant die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk direk langs Pieter-Dirk Uys se huis. Rykie van Reenen het my jare gelede vertel dat sy in die tyd toe sy in die distrik geboer het, haar bankbestuurder, Piet Myburgh, se tweeling-kleindogtertjies met hulle kerkhoedjies in daardie einste kerk sien sit het. Hoe graag sou ek haar van ons ontmoeting met Antie Meisie wou vertel. En hoe duidelik ervaar ek dit as ’n uitdaging en ’n plig om baie meer van Darling en sy geskiedenis uit te vind: van die tyd toe al Darling se mense nog sáám tussen die koringplase in die eens vyfkantige dorp gewoon het – sónder sy uitstulping anderkant die spoor. Nóú, terwyl Antie Meisie nog so helder onthou en kan vertel wie het waar gewoon, wat die mense gesê het en hoe dit gevoel het toe die dinge begin verander het; kan vertel oor die tyd toe wrede wette op die klein dorp geïmplementeer is terwyl ons klein en blond en onder haar hoede was.

Naskrif

Op 28 Julie 2017 is ek weer Darling toe waar ons naby haar ou huis in die wintersonnetjie op die agterstoep van een van die nuwe koffieplekke gekuier het. Met verwondering het sy rondgekyk. ‘Dit was vroeër ’n mechanic se plek. Hier in die agterplaas het altyd ou karre gestaan.’ Sy was so gelukkig met die voorbladartikel van Rapport Weekliks wat van haar, volgens Anna, ineens ’n celeb gemaak het. Ek het gesê dat ons gou weer gaan kuier, maar dat ek eers weer terug moes Amsterdam toe. Twee maande later kry ek berig van Anna Cleophas. Antie Meisie is op Sondagoggend 01 Oktober 2017 oorlede ná ’n kort siekbed en op 07 Oktober in die familiegraf op Darling begrawe. Dit was so ’n ontroerende voorreg en plesier om haar in Junie tydens die besoek wat ek hierbo beskryf het, te kon herontmoet. Behalwe dat haar dood ’n groot verlies vir haar familie en vriende is, het ook ek ’n enorme gevoel van verlies en verdriet ervaar. Só graag wou ek vanuit háár perspektief en herinnering die dorp se geskiedenis en haar plek daarin probeer skryf het.



Crossref Citations

No related citations found.