Abstract
Dictionary didactics within a comprehensive dictionary culture. This article argues that the curricula of language and linguistics departments should include a component on lexicography. It is indicated that within a comprehensive dictionary culture, users need to be familiar with a variety of dictionary types and need to be able to execute a successful retrieval of information from the data on offer in dictionaries. A comprehensive dictionary culture has both general language and specialised dictionaries in its scope. Users need to be made aware of these dictionary types. Lexicographic training can be directed at three groups, namely dictionary users (who need to become familiar with dictionary using skills), future lexicographers (who need to master those aspects of meta-lexicography needed for the compilation of dictionaries) and future trainers of lexicography (who need a sound theoretical basis). The contents of a tertiary course in lexicography could commence with a broad context of the development of both the lexicographic practice and the theory of lexicography. A second focus could be on the contents, the different lexicographic tools, as well as the medium – printed or online format. Proposals are made for issues that could be discussed, regarding the treatment of meaning in monolingual and translation equivalents in bilingual dictionaries.
Inleiding
In sy lang loopbaan as akademikus het Wannie Carstens sy veelsydigheid duidelik laat blyk deur onder meer die balans wat hy deurgaans tussen navorsing, onderrig en akademiese bestuur, asook administrasie, kon handhaaf. Vir hom is dit deurlopend belangrik dat akademici hulle verantwoordelikheid teenoor voorgraadse en nagraadse studente besef en nakom – ook deur die gepaste inhoud in die onderskeie leerplanne in te bou. Sy leidinggewende rol in die beplanning en uiteindelike publikasie van Kontemporêre Afrikaanse taalkunde (Bosman & Carstens [reds.] 2013/2017) is een van die talle bewyse van sy betrokkenheid by die onderrig van kursusse in die Afrikaanse taalkunde. Hierdie boek bied ’n wye versameling onderwerpe wat in taalkundekursusse behandel kan word. Daar is onder meer ook ’n hoofstuk oor leksikografie waarin aspekte van die kerninhoud van ’n leksikografiekursus bespreek word.
Ter erkenning van en uit waardering vir Wannie Carstens se enorme bydrae tot die Afrikaanse taalkunde, bied die huidige artikel ’n bespreking van die insluiting van woordeboekdidaktiek in ’n omvattende woordeboekkultuur. Dit bevat ook ’n aanduiding van bepaalde inhoude wat in meer gevorderde leksikografiemodules aangebied kan word.
Woordeboeke is praktiese gebruiksinstrumente en elke woordeboek het ’n werklike doel – vergelyk in hierdie verband Wiegand (1998). Die werklike doel van enige woordeboek is om die geïdentifiseerde teikengebruiker te help om ’n gepaste antwoord te vind op die vraag wat aanleiding tot die spesifieke woordeboekraadplegingshandeling gegee het – mits die vraag binne die bestek van die betrokke woordeboeke se onderwerpsopdrag en leksikografiese aanbod en bewerking val. Ongeag die medium van ’n woordeboek – gedruk óf digitaal – is daar altyd twee voorveronderstellings om sukses tydens woordeboekraadpleging te verseker: die gebruiker moet weet watter woordeboek om te gebruik en ook hoe om daardie woordeboek te gebruik. Watter woordeboek om te gebruik en hoe om elke woordeboek te gebruik, staan sentraal in die breë onderwerp van woordeboekdidaktiek, en spesifiek die inhoud van leksikografiekurrikula, asook die onderrig van leksikografie en woordeboekgebruiksvaardighede.
Hierdie artikel fokus veral op die onderrig van die breë terrein van die leksikografie – sowel woordeboekgebruik as metaleksikografie. Dit is temas wat nie van die gebruik van woordeboeke in die onderrig van sowel taalkursusse as ander vakke geïsoleer behoort te word nie, want dit val binne die bestek van ’n breë en omvattende woordeboekkultuur.
’n Omvattende woordeboekkultuur
Hausmann (1989:13) het die onderskeid tussen ’n woordeboekkultuur en gebruikersvriendelikheid in die leksikografie daargestel: woordeboekkultuur impliseer dat ’n gemeenskap by die leksikografie moet aanpas, terwyl gebruikersvriendelikheid impliseer dat die leksikografie by die gemeenskap moet aanpas. Alhoewel hierdie tweedeling lank gehandhaaf is, het aanpassings met verloop van tyd nodig geraak. Volgens Gouws (2013:51) word ’n woordeboekkultuur nie oornag gevestig nie, maar is dit ’n voortgaande proses met verskillende fases. In hierdie fases is daar dikwels ’n uitbreiding vanaf ’n indiwiduele na ’n kollektiewe woordeboekkultuur.
Sedert Hausmann se aanvanklike tweedeling het die posisie en belang van ’n woordeboekkultuur ’n al hoe wesenliker fokusgebied ook binne die metaleksikografie geword. Wiegand (1984) se oorspronklike uiteensetting van die bestek en omvang van die terrein van woordeboeknavorsing, asook die herbevestiging daarvan in Wiegand (1998), ken vier hoofkomponente daaraan toe, te wete woordeboekgebruiksnavorsing, kritiese woordeboeknavorsing, historiese woordeboeknavorsing en sistematiese woordeboeknavorsing (vergelyk in hierdie verband ook Wiegand 1998:118 en Schierholz 2016:306). Gegee die navorsing van die onlangse jare en die sterk fokus op ’n woordeboekkultuur, kan daar met reg daarop aanspraak gemaak word dat woordeboekkultuur formeel binne die terrein van woordeboeknavorsing erken moet word. In hierdie verband toon Gouws (2016a:112) reeds aan dat dit nie ’n vyfde komponent van die woordeboeknavorsing moet word nie. Dit moet naamlik nie ’n afsonderlike deel van metaleksikografiese navorsing wees nie, maar veel eerder ’n integrale deel van elk van die vier hoofkomponente van woordeboeknavorsing.
Die aanvaarding van ’n omvattende woordeboekkultuur bring nie net integrasie daarvan binne die breë omskrywing van die metaleksikografie na vore nie, maar dit het ook implikasies vir nuwe fokusgebiede binne die metaleksikografie. Daar is reeds in verskeie publikasies, byvoorbeeld dié van Gouws (2012; 2013; 2016a; en 2016b) pleidooie gelewer ten gunste van ’n breër interpretasie van die begrip woordeboekkultuur. Tradisioneel het ’n woordeboekkultuur se verwerkliking, dit is die aanpassing van die samelewing by die leksikografie, feitlik uitsluitlik op ’n verbetering van gebruikers se kennis van die gebruik van algemene woordeboeke betrekking gehad; dit is woordeboeke waarin die algemene taal opgeteken en leksikografies bewerk word. Hierdie benadering spruit uit die dominante siening voort van wat ’n woordeboek is en van die rol wat algemene woordeboeke in die breër woordeboekgebruiksomgewing speel. Dit sluit ook regstreeks by die siening aan dat die leksikografie ’n onderafdeling van die taalkunde of toegepaste taalkunde is en dat die fokus dus op die taalkundige aspekte van die leksikografiese bewerking moet wees, veral soos in algemene woordeboeke aangetref. ’n Hedendaagse siening, vergelyk onder meer Tarp (2008:13), waarvolgens leksikografie ’n dissipline in eie reg is en wat nie taal nie, maar wel woordeboeke as studiegebied het, skep ruimte vir die insluiting van veel meer woordeboeksoorte as net algemene woordeboeke binne die bestek van ’n algemene woordeboekkultuur. Dit is ’n siening wat ook meer erkenning gee aan die rol wat vakwoordeboeke as praktiese gebruiksinstrumente speel. Die negatiewe houding wat vroeër teenoor hierdie woordeboeksoort gegeld het as gevolg van die oordrewe gerigtheid op algemene woordeboeke, blyk uit die siening van Kilgarriff (2012:27) dat algemene woordeboeke groot internasionale lughawens is, terwyl vakwoordeboeke slegs landingstroke van klein vliegveldjies is. Sy teenkanting teen meer teoretiese aandag aan vakwoordeboeke motiveer hy as dat ’n verslag van lugvaart dan op plaaslike vliegvelde gebaseer word en nie op internasionale lughawens nie.
’n Breër interpretasie van die begrip woordeboekkultuur gee ook meer erkenning aan bepaalde onderafdelings van die metaleksikografie, byvoorbeeld die rol wat woordeboekkritiek in die metaleksikografie moet speel. Alhoewel woordeboekkritiek reeds ’n erkende komponent van die metaleksikografie is (vergelyk Wiegand 1984:15; 1989:262; 1998:113) wys Gouws (2016a) op ’n wyer verskeidenheid aspekte van woordeboekkritiek, byvoorbeeld ’n deeglike kennis van die rol en waarde van woordeboekkritiek by sowel die gebruiker as die leksikograaf, wat ter sake is in die bereiking van ’n omvattende woordeboekkultuur. Hy wys ook op die verantwoordelikheid van die metaleksikograaf teenoor die gemeenskap om deur middel van resensies die woordeboekgebruikende gemeenskap leiding oor die gehalte en beskikbaarheid van woordeboeke te gee.
’n Onderwerp wat buite die grense van die oorspronklike terrein van die metaleksikografie geval het, maar wat deur die integrasie van ’n omvattende woordeboekkultuur na vore gedwing word, is die rol van woordeboekdidaktiek. Woordeboekdidaktiek pas naamlik in ’n omvattende woordeboekkultuur en binne so ’n kultuur moet woordeboekgebruik onderrig word, en moet woordeboeke as praktiese gebruiksinstrumente beskou word. Dit sal skoolleerders daartoe in staat stel om die nodige woordeboekgebruiksvaardighede reeds op ’n vroeë ouderdom te bemeester. Verskillende fases in hierdie proses sal daartoe lei dat die lede van ’n spesifieke taalgemeenskap besef dat woordeboeke van besondere belang is in die leer en aanleer van taal, maar dat woordeboeke nie net in taalvakke belangrik is nie. Hulle is ook belangrik in die bestudering van ander vakke. In ’n omvattende woordeboekkultuur is die fokus nie net op woordeboeke wat die taal vir algemene doeleindes bewerk nie, maar ook op vakwoordeboeke waarin verskillende tale vir spesiale doeleindes aangebied word. Die belang daarvan om leerders reeds vroeg aan vakwoordeboeke bekend te stel, dra by tot hulle ervaring van die wyer gebruik van woordeboeke en die belang daarvan vir ’n proses van lewenslange leer.
Die insluiting van woordeboekdidaktiek is nie net ter bevordering van praktiese woordeboekgebruik nie, maar is ook ter sake vir kurrikulumbeplanning. In ’n omvattende woordeboekkultuur moet woordeboekdidaktiek op so ’n manier aangebied word dat die onderrig van leksikografie op ten minste drie onderskeie groepe gerig is, al is daar wel soms sprake van ’n oorvleueling tussen hierdie groepe, asook ’n oorvleueling van die inhoud van die verskillende kursusse. Die drie groepe is woordeboekgebruikers, die aanbieders van leksikografiekursusse en ook praktiese leksikograwe.
Woordeboekgebruikers, dit wil sê alle studente in ’n betrokke kursus, het opleiding nodig om die tersaaklike woordeboekgebruiksvaardighede te verwerf en om met woordeboeke as praktiese gebruiksinstrumente in hulle eie leer- en kennisverwerwingservaring vertroud te raak. Die besondere vaardighede wat verwerf moet word, het op die gebruik van ’n verskeidenheid tipes leksikografiese produkte betrekking, maar ook op die gebruik van ander inligtingswerktuie. Binne die huidige inligtingsgemeenskap mag woordeboeke nie as geïsoleerde produkte beskou word nie. Hulle is deel van ’n groter versameling naslaanwerktuie en beter woordeboekvaardighede sal ook tot beter naslaanvaardighede in die gebruik van hierdie werktuie lei.
Die onderrig van leksikografie moet ook op die opleiding van opleiers fokus. Dosente en ook onderwysers moet daartoe in staat wees om hulle studente en leerders die nodige woordeboekgebruiksvaardighede, asook die nodige kennis van die teoretiese leksikografie te kan leer. Dosente en onderwysers moet die tersaaklike opleiding in hierdie verband kry. Taalkundiges wat die nodige leksikografie-opleiding het, is naas hulle deelname aan leksikografie-onderrig en navorsing in die leksikografie, ook daartoe in staat om aktief tot ’n uitbreiding van die woordeboekkultuur by te dra deur hulle deelname aan die belangrike intellektuele aktiwiteit van woordeboekkritiek. Te dikwels word woordeboekresensies deur mense geskryf met te min kennis van leksikografie. Woordeboekresensies, sowel in wetenskaplike tydskrifte as in populêre publikasies soos koerante, het dikwels ’n wesenlike invloed op voornemende woordeboekgebruikers in hulle besluite oor die aankoop en gebruik van spesifieke woordeboeke. Indien leksikografie-opleiding aan opleiers en studente kan help om die gehalte van toekomstige woordeboekresensies te verbeter, sal dit reeds belangrike toegevoegde waarde meebring.
Die beplanning en samestelling van woordeboeke met die nodige teoretiese basis kan nie suksesvol wees sonder die nodige kundigheid aan die kant van die beplanners en samestellers nie. Leksikografie is ’n professionele aktiwiteit, en in die beplanning van leksikografiekursusse moet die nodige aandag aan die behoefte gegee word om praktiese leksikograwe op te lei – leksikograwe wat oor die nodige kundigheid en teoretiese kennis beskik om die praktiese aktiwiteit van woordeboeksamestelling suksesvol en wetenskaplik verantwoordbaar uit te voer.
Slegs enkele aspekte vanuit die wye gebied van leksikografie-opleiding sal in hierdie artikel bespreek word. Weens die spesifieke fokus van hierdie artikel word leksikografiese korpora en woordeboekskryfstelsels nie hier bespreek nie.
Die fokus is op die tersiêre vlak. Daar word dus voortaan nie na die onderrig van woordeboekgebruiksvaardighede op skoolvlak verwys nie.
Die akademiese tuiste van leksikografie
Die ontwikkeling van leksikografie as ’n akademiese dissipline het deur verskeie fases beweeg (vergelyk Gouws 2005), waartydens verskillende fokusgebiede op die voorgrond getree het. Hierdie fases het waarskynlik ’n invloed gehad op waar en hoe leksikografiekursusse aan universiteite aangebied is. Tydens die jare kort na die toetrede van die teoretiese leksikografie as akademiese dissipline, is dit veral deur taalkundiges beoefen. Dit is in taalkundeleerplanne ingebou en gevolglik het die leksikografie as ’n onderafdeling van die taalkunde of die toegepaste taalkunde gevestig geraak. Die fokus in leksikografiekursusse, en ook in ’n groot deel van die navorsing oor die leksikografie, was op verskillende aspekte van die tipes taalkundige data gerig wat in woordeboeke aangebied word. Vergelyk in hierdie verband onder meer Zgusta (1971). Woordeboeke is veral as taalkundige hulpmiddels beskou wat ter sake is in die onderrig van taal en taalverwante onderwerpe. Leksikografiekursusse is veral ingebou in die leerplanne van taalwetenskapdepartemente of departemente wat individuele tale aanbied. Hierdie benadering het in die daaropvolgende fases voortgeduur waar die fokus van die taalkundige inhoud van woordeboeke na woordeboekstrukture en woordeboekfunksies verskuif het.
Die aard van leksikografiese navorsing het met verloop van tyd verander deurdat daar nie meer uitsluitlik na die inhoud van woordeboeke, veral die taalkundige inhoud daarvan, gekyk is nie. McArthur (1986) beskou ’n woordeboek as ‘n houer van kennis en in die metaleksikografie is die navorsingsaandag op sowel die inhoud van die houer as die houer self gerig. Die fokus op woordeboekstrukture, veral in die werk van die Duitse metaleksikograaf Herbert Ernst Wiegand, het dit gou duidelik gemaak dat taal nie die hoofnavorsingsobjek van leksikografie is nie, maar wel woordeboeke. Gevolglik word die leksikografie nie as ’n subdissipline van die taalkunde gesien nie, maar eerder as ’n dissipline in eie reg. In die metaleksikografie moet navorsing gevolglik op alle aspekte van woordeboeke gerig wees; nie net op die taalkundige inhoud daarvan nie. Verskeie woordeboekstrukture soos die dataverspreidingstruktuur, artikelstruktuur, toegangstruktuur en adresseringstruktuur is van beperkte belang indien ’n mens slegs ’n sterk linguistiese benadering tot die leksikografie het. Vir die suksesvolle beplanning van woordeboeke en om ’n optimale onttrekking van inligting aan die data-aanbod in woordeboeke moontlik te maak, is kennis van en gevorderde navorsing oor hierdie strukture van die uiterste belang. Ook in leksikografiekursusse moet daar dus ’n aanslag wees wat wyer strek as die eng taalkundige blik op woordeboeke.
Tydens die voorafgaande dekades in die ontwikkeling van die teoretiese leksikografie het die gebruikersperspektief ’n dominate rol gespeel, vergelyk onder meer Hartmann (1989). As praktiese gebruiksinstrumente word woordeboeke beplan en saamgestel om deur spesifieke gebruikers met spesifieke behoefes in spesifieke gebruiksituasies geraadpleeg te word. ’n Leksikograaf moet weet wie die teikengebruiker van ’n beplande woordeboek is, asook wat die leksikografiese behoeftes sowel as die naslaanvaardighede van die betrokke gebruiker is. Dit sal bepalend wees vir die vasstelling van die funksies van die woordeboek, die inhoud wat nodig is ter bevrediging van die betrokke funksies asook die aard en omvang van die tersaaklike woordeboekstrukture. Hierdie kernkenmerke van enige woordeboek, te wete funksies, inhoud en strukture, is nie medium-spesifiek nie. Die feit dat hierdie kenmerke vir sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke geld, impliseer die behoefte aan ’n algemene leksikografieteorie wat nie medium-spesifiek is nie. So ’n algemene teorie in sy wye toepassing behoort die basis van die onderrig van leksikografie as vakgebied te vorm – ongeag of die opleiding op woordeboekgebruikers, woordeboekopstellers of leksikografie-aanbieders en -navorsers gerig is.
Leksikografie en daarom ook opleiding in die leksikografie, sluit veel meer as bloot taalkunde in. As ’n volwaardige vakdissipline vertoon die leksikografie ’n netwerk van verhoudings met ander vakdissiplines en die interdissiplinêre aard van die leksikografie verbind dit met onder meer taalkunde, toegepaste taalkunde, rekenaarwetenskap, inligtingswetenskap, taaltegnologie, en die talle vakgebiede waarvoor daar vakwoordeboeke gemaak word. Leksikografie as vakgebied het verskillende tuistes, maar dit word veral steeds in taal- of taalverwante departemente, byvoorbeeld taaltegnologie, aangebied. Dit is wel belangrik om daarop te let dat die akademiese tuiste van leksikografieprogramme en kursusse nie die inhoud van die aanbod tot taalverwante temas moet beperk nie. Dit sou ’n verskraling van die vakgebied tot gevolg hê. Interdissiplinêre samewerking is vir die suksesvolle daarstelling van ’n leksikografieprogram of -kursus nodig.
Die konteks, die werktuie en die medium
Die konteks
In veral ’n eerste leksikografiekursus waar studente in ’n nuwe vakgebied ingelei word, is dit belangrik om met die betrokke konteks vertroud te raak. ’n Oorsig oor die historiese ontwikkeling van die betrokke vakgebied kan in hierdie verband van groot waarde wees. Ongeag of ’n leksikografiekursus op woordeboekgebruik, die maak van woordeboeke, of die teoretiese benadering tot die vakgebied gerig is, behoort ’n oorsig oor die ontwikkeling van sowel die praktiese as die teoretiese leksikografie ’n onmisbare eerste komponent van ’n leksikografiekursus te wees. Die inhoud van so ’n kursuskomponent sou die ontwikkeling in die leksikografiepraktyk vanaf die kleitablet tot en met die internet kon dek. Daar kan daarop gewys word dat die praktyk in ’n preteoretiese milieu ontwikkel het, maar dat die teorie toegetree het en uiteindelik met die praktyk gelykgetrek en daarna selfs die toon vir verdere ontwikkeling aangegee het. Ook in die ontwikkeling van die aanlyn leksikografie kan die wisselwerking tussen teorie en praktyk bespreek word om die interaktiewe konteks van die vakgebied te illustreer en te wys dat hierdie vakgebied nie net op abstrakte vlak geld nie, maar wel konkrete toepassingsmoontlikhede het wat tot die daarstelling van ’n wetenskaplike praktyk lei. Studente in die leksikografie behoort hieroor ingelig te word. ’n Oorsig oor die ontwikkeling van die leksikografieteorie behoort studente van die noodsaak daarvan te oortuig dat leksikograwe, woordeboekgebruikers en ook woordeboekkritici met die begrippe woordeboekgebruiker en woordeboekgebruiksituasie vertroud moet wees. Wanneer ’n woordeboek geraadpleeg word, beplan word of ’n metaleksikografiese bespreking van ’n woordeboek gegee word, is dit belangrik om te besef dat die leksikograaf voor die skryf van die betrokke woordeboek ’n antwoord moes gee op die vraag: Wat wil ek hê moet my teikengebruiker met hierdie woordeboek kan doen? Met kennis van die antwoord op hierdie vraag kan ’n mens voortgaan om oor die soort woordeboek, die funksies, inhoud en strukture van die woordeboek te gesels, en om vas te stel in watter mate die woordeboek die behoeftes van die teikengebruikers bevredig.
Die werktuie
Studente in die leksikografie moet vertroud raak met die gebruiksinstrumente van hierdie veld – woordeboeke as praktiese werktuie. ’n Omvattende woordeboekkultuur bepaal dat die lede van die betrokke taalgemeenskap bewus moet wees van die fout wat meermale voorkom, naamlik om dié woordeboek in plaas van ’n woordeboek te raadpleeg. Dit is dus uiters noodsaaklik dat ’n leksikografiemodule studente aan die woordeboektipologie moet bekendstel, asook aan die breë spektrum woordeboektipes wat beskikbaar is. Scerba (1940) het reeds op die behoefte aan verskillende woordeboeksoorte gedui en Zgusta (1971) het die basis vir ’n moderne tipologiese klassifikasie daargestel. ’n Aangepaste weergawe van hierdie klassifikasie word in Gouws en Prinsloo (2005) aangebied. Daar bestaan ook alternatiewe klassifikasiemetodes soos te vinde is in Malkiel (1967) en Geeraerts (1984). Verskeie aspekte van woordeboektipologie is ook in onder meer Hausmann et al. (1989–1991), Svensén (2009), Gouws et al. (2013), Klotz en Herbst (2016) en Fuertes-Olivera (2018) te vinde.
Die fokus op die gebruikersperspektief in die leksikografie moet in die bestudering van woordeboektipologie ook aandag kry, met erkenning aan die bepalende invloed wat die onderskeie teikengebruikersgroepe op die keuse van ’n woordeboeksoort het. Die rol van die tersaaklike leksikografiese funksies van elke woordeboek is ook baie belangrik.
Wat woordeboektipologie betref, is die aanpassing van die gemeenskap by die leksikografie, as ’n aspek van die woordeboekkultuur, hoogs ter sake. Kundige woordeboekgebruikers moet ook kundig wees oor watter instrumente in watter gebruiksituasie die geskikste is. Dit is slegs moontlik indien ’n mens ’n goeie oorsig oor en begrip van die tipologiese spektrum het.
Die medium
Woordeboeke is ’n onderwerp waaroor jonger mense nie noodwendig baie opgewonde is nie, aangesien dit te sterk aan uitgediende papierprodukte herinner waarvan die rakleeftyd reeds lank verstreke is. Dit moet uit ’n woordeboekkursus duidelik blyk dat woordeboeke nie generasie- of ouderdomsgebonde is nie, maar dat die leksikografie produkte vir die volle spektrum van potensiële gebruikers verskaf. Hier is dit ook belangrik om daarop te let dat die leksikografie hom by die gangbare medium van die tyd aanpas, maar ook by die verlangde medium van bepaalde gebruikersgroepe. Vir sowel gebruikers van tradisionele gedrukte woordeboeke as lede van Generasie Z wat deel vorm van die digitale samelewing, stel die leksikografie tersaaklike naslaanprodukte ter beskikking. Nóg die leksikografie, nóg leksikografiese produkte moet as beperk tot ’n mediumspesifieke aanslag beskou word.
In ’n leksikografiekursus moet dit duidelik wees dat daar weliswaar verskillende teoretiese benaderings in die leksikografie is, maar ook dat daar telkens één teorie is wat vir sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke geld. Sekere aspekte van so ’n teorie kan dalk slegs op gedrukte woordeboeke van toepassing wees, sekere aspekte slegs op aanlyn woordeboeke, maar talle aspekte geld sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke. Veral in die studie van woordeboekstrukture bring die oorgang na aanlyn woordeboeke ingrypende aanpassings waarvoor die tersaaklike teoretiese basis aangedui moet word. Daar is byvoorbeeld die skermskootstruktuur wat as ’n nuwe struktuur op die voorgrond tree, die makrostruktuur wat as ordeningstruktuur ten dele ’n kleiner rol speel, die toegangstruktuur wat grootliks aangepas word en die raamstruktuur wat verdwyn omdat daar nie meer voor- en agtertekste is nie maar slegs buitetekste. Ook vir praktiserende leksikograwe is hierdie aanpassings belangrik, omdat dit ’n nuwe blik op sommige van die moontlikhede werp wat die aanlyn omgewing bied.
’n Opvallende aspek in die ontwikkeling van die leksikografie is die herhaalde voorkoms en invloed van ingrypende oorgange, byvoorbeeld die oorgang van perkament na papier, van ’n tematiese na ’n alfabetiese ordening in woordeboeke, van handsetwerk na die drukpers en van die gedrukte na die digitale omgewing. Hierdie oorgange bevestig die feit dat die leksikografie dinamies is en hierdie kenmerke, én die teorie, én die praktyk behoort in die onderrig van leksikografie beklemtoon te word.
Van funksies na inhoud
Funksies
Alhoewel ons oor ’n omvattende tipologiese klassifikasie van woordeboeke beskik en alhoewel studente van hierdie verskillende woordeboeksoorte bewus moet wees, is dit ook belangrik om met ’n aanvullende benadering vertroud te wees wanneer daar oor woordeboeksoorte gepraat word. Dikwels, veral in die geval van aanlyn woordeboeke, word die tipe-bepaalde benadering in die klassifikasie van woordeboeke deur ’n kenmerk-bepaalde benadering vervang. Hierdie benaderingsverskil is veral ter sake wanneer die funksies van ’n woordeboek die regmatige erkenning kry. Vanuit ’n tipologiese perspektief kan ’n woordeboek, volgens die tipe-benadering, byvoorbeeld as ’n eentalige aanleerderwoordeboek geklassifiseer word. Verskillende woordeboeke wat tot hierdie kategorie behoort, kan moontlik egter verskillende funksies hê, byvoorbeeld ’n teksproduksie- of ’n teksresepsiefunksie. Hierdie kenmerk van ’n woordeboek behoort bepalend te wees in die keuse van aanduiders wat as deel van die leksikografiese bewerking in die artikels opgeneem moet word. ’n Teksproduksiewoordeboek sal meer aanduiders bevat wat koteks- en ‘n konteksleiding gee, terwyl aanduiders soos kollokasies en voorbeeldsinne in ’n teksresepsiewoordeboek kan dalk ontbreek. Indien voornemende woordeboekgebruikers onbewus is van die verskillende benaderings in twee woordeboeke wat tot dieselfde tipologiese kategorie behoort, kan dit tot onsuksesvolle woordeboekraadpleging lei. Leksikograwe behoort ook op die belang daarvan te let om die funksies van hulle woordeboeke op ’n ondubbelsinnige manier aan die teikengebruikers te kenne te gee.
Kursusse in leksikografie moet ook op daardie woordeboektipes gerig wees wat die algemeenste gebruik en die datatipes waarvoor hierdie woordeboeke die gereeldste nageslaan word. Die twee woordeboeksoorte wat waarskynlik die algemeenste gebruik word, is algemene eentalige verklarende en tweetalige woordeboeke. In verklarende woordeboeke stel gebruikers veral daarin belang om die betekenisverklaring van die behandelde woord te onttrek, en in tweetalige woordeboeke om ’n vertaalekwivalent vir ’n gegewe brontaalvorm te vind. In die hieropvolgende paragrawe volg ’n bondige bespreking van enkele aspekte van hierdie twee woordeboek- en datatipes.
Inhoud
Betekenis in verklarende woordeboeke
Die verstekbetekenisaanduider in ’n verklarende woordeboek is die betekenisparafrase. In ’n leksikografiemodule moet daar duidelik onderskei word tussen die terme definisie en betekenisparafrase. Definisies is aanduiders wat in vakwoordeboeke gebruik word om die betekenis van ’n term aan te dui. In woordeboeke wat die algemene taal weergee, word ’n betekenisparafrase-aanduider gebruik om die verklaring van die betekenis van die leksikale item wat deur die lemma voorgestel word, aan te bied. In ’n betekenisparafrase gaan dit nie altyd om dieselfde mate van betekenisvolledigheid of -presiesheid as wat in vakwoordeboekdefinisies gevind word nie. Die tipe algemene woordeboek, die teikengebruikers, hulle behoeftes en naslaanvaardighede bepaal die aard en omvang van die betekenisdata wat in ’n betekenisparafrase aangebied word. Die betekenis van die woord bobbejaan word soos volg in die Grondslagfasewoordeboek (GFW) (Gouws et al. [reds.] 2010:32) verklaar:
bobbejaan ’n Bobbejaan is ’n groot aap
Die HAT (Luther et al. [reds.] 2015:131) verklaar dit weer as volg:
bobbejaan groot aap met donker hare, ’n vooruitstekende snoet, groot wangsakke en slagtande, en ’n eeltagtige, onbehaarde sitvlak
Die teikengebruikers van die GFW is leerders in die eerste drie skooljare teenoor die gevorderde gebruikers van Afrikaans as teikengebruikers van die HAT. Daarom is GFW se betekenisverklaring nie so volledig soos dié van HAT nie en dit bied ook nie dieselfde feitelike inhoud nie. Die woordeboek bied ’n parafrase van die betekenis van die woord waaraan die teikengebruiker die inligting kan onttrek wat in die bepaalde gebruiksituasie nodig is. Die benaderingsverskil tussen ’n algemene woordeboek se betekenisparafrase en ’n vakwoordeboek se definisie blyk onder meer uit die verklaring van gene in onderskeidelik COBUILD (Sinclair 1987) en die Encyclopedic dictionary of Gene Technology deur Kaufmann en Bergenholtz (1998):
gene A gene is the part of a cell in a living thing which controls its physical characteristics, growth, and development. Genes can change and reproduce themselves and they are passed on from one generation to another, for example from parents to their children. (Sinclair 1987:602)
gene A gene is a DNA sequence encoding a protein, tRNA or rRNA. For eukaryotes a gene can also be defined as a transcribed DNA sequence or transcription unit. In prokaryotes two or more proteins are often encoded in the same transcription unit, and such a transcription unit plus its associated regulatory sequences is termed an operon. (Kaufmann & Bergenholtz 1998:197)
Die onderskeie gebruike van die leksikografieterme definisie en betekenisparafrase is nie so belangrik nie. Wat wel belangrik is, is om te weet dat die gebruiker en die woordeboeksoort bepalend is vir die manier waarop betekenisverklaring in die leksikografie aangebied word. In ’n leksikografiekursus moet dit ook pertinent genoem word; ook sodat die studente weet hoe om die verklaring van betekenis in ’n spesifieke woordeboek te evalueer. Nogmaals staan die gebruiker, die gebruiksituasie, die tipe woordeboek en die funksies van die betrokke woordeboek sentraal in besluite oor die manier waarop die daarstelling van leksikografiese data moet geskied.
In die leksikon van enige taal geld ’n netwerk van betekenisbetrekkings tussen ’n groot aantal leksikale items. Hierdie betrekkings val ook binne die bestek van die oordra van betekenis in verklarende woordeboeke. Woordeboekgebruiksvaardighede moet dit vir gebruikers moontlik maak om aanduiders te herken wat bydra tot ’n eksplisiete weergawe van data oor betekenisbetrekkings, byvoorbeeld antonimie of sinonimie. Daarbenewens moet kundige woordeboekgebruikers, veral diegene in die taalwetenskap of taalpraktyk, ook daartoe in staat wees om inligting oor betekenisbetrekkings aan ’n implisiete aanbieding van hierdie data te onttrek. In die logika word daar vir verskillende tipes definisies voorsiening gemaak, onder meer die genus-en-differentiae-definisie. In so ’n definisie bevat die definiens ’n woord of term wat die klas (genus) aandui waartoe die definiendum behoort. Die definiens bevat dan ’n omskrywing waarin die definiendum van die ander lede van die betrokke klas onderskei word. In woordeboekartikels volg betekenisparafrases dikwels ’n genus-en-differentiae-benadering deur die woord wat deur die lemmateken verteenwoordig word in ’n semantiese klas te plaas en dit dan van ander lede van die klas te onderskei. Vergelyk in hierdie verband HAT se betekenisparafrases in die artikels van die lemmas peer en perske waar somervrug as genus dien en die betekenisparafrase enkele onderskeidende kenmerke van peer en perske verstrek:
peer [pere; ~tjie]
1 soet, sappige somervrug – onder rond en smaller aan die bokant – van die bladwisselende boom Pyrus communis, onder meer geskik vir inmaak. (Luther et al. [reds.] 2015:966)
pers·ke s.nw. [~s; ~tjie] (botanie, kookkuns)
sappige, smaaklike somervrug van die bladwisselende boom Prunus persica, met ’n sagte, effens wollerige geel/rooi skil en ’n groot, harde pit:… (Luther et al. [reds.] 2015:974)
In ’n leksikografiekursus moet betekenisbetrekkings aan die orde gestel word in die bespreking oor betekenisdata in verklarende woordeboeke. Studente moet ook bewus gemaak word van die implisiete data-aanbod en dat ’n betekenisbetrekking soos hiponimie ook ter sprake kom deurdat ’n genus-en-differentia-benadering die lemma as ’n hiponiem van die semantieseklasaanduider as superordinaat aanbied. Aan ’n implisiete data-aanbod moet eksplisiete inligting onttrek kan word.
Vertaalekwivalente in tweetalige woordeboeke
Louw (1985) sê tereg:
Hardly ever does any user of a dictionary – except one with some training in lexicography – realize that what is given in a bilingual dictionary is not essentially a statement about meaning, but rather a list of translation equivalents or glosses. (p. 54)
In sowel een- as meertalige omgewings word tweetalige woordeboeke ter bevrediging van teksproduksie, teksresepsie en vertalingsbehoeftes geraadpleeg. Die aanbieding in tweetalige woordeboeke maak dit dikwels baie moeilik vir gebruikers om probleemloos die regte vertaalekwivalent te kan kies. ’n Tweetalige woordeboek met Engels en Duits as taalpaar sou die volgende vertaalekwivalentparadigma vir die Engelse lemma table kon bied:
table Tisch, Tabelle, Auflage, Verzeichnis, Aufstellung, Liste, Ausschuss, Komitee, Decke, Platte, Schnallbrett
Die bespreking van ekwivalentverhoudings in tweetalige woordeboeke moet studente daarop merksaam maak dat table nie Tisch of Auflage of Ausschuss beteken nie. In ’n bepaalde gebruiksituasie kan die Engelse woord table met die Duitse Tisch vertaal word, maar die doeltaalwoord is nie die betekenis van die brontaalvorm nie. Môre en oggend verteenwoordig nie die volle betekenis van die Spaanse woord mañana nie. Hierdie Spaanse woord kan ook gebruik word om na ’n onbepaalde tyd in die toekoms te verwys.
Leksikografiestudente moet van die taalkundige begrip polisemie bewus gemaak word, maar ook dat polisemie taalspesifiek is. ’n Polisemiese woord in die brontaal gaan dikwels nie ’n enkele vertaalekwivalent in die doeltaal hê met presies dieselfde polisemiese lading nie. Daarom het woordeboekartikels selde slegs ’n enkele doeltaalvorm in die vertaalekwivalentparadigma. Ten minste drie tipes ekwivalentverhoudings kan onderskei word, te wete volle ekwivalensie, gedeeltelike ekwivalensie en zero-ekwivalensie. Leksikografies vind hierdie verhoudings neerslag in kongruensie (’n een-tot-een-verhouding tussen die bron- en doeltaal), divergensie (’n een-tot-meer-as-een-verhouding) en surrogaatekwivalensie (in die geval van ’n een-tot-zero-verhouding). Divergensie, ’n veelvoorkomende ekwivalentverhouding wat dikwels tot probleme lei, word vervolgens kortliks bespreek ter aanduiding van die soort leiding wat in hierdie verband vir leksikografiestudente dalk van waarde kan wees.
’n Onderskeid word tussen drie tipes divergensie gemaak, te wete leksikale divergensie, semantiese divergensie en polidivergensie (Gouws 1989:166–172; 2017:458–460). Leksikale divergensie kom voor waar die voorkeurvertaalekwivalent een of meer sinonieme in die doeltaal het wat ook vir opname as vertaalekewivalente kwalifiseer soos uit die volgende artikel van Groot Woordeboek / Major Dictionary (Eksteen [red.] 1997:772) blyk:
bab´y sitter, babawagter, kroostrooster, fopouer
Al is daar ’n een-tot-meer-as-een-verhouding tussen die bron- en doeltaal, geld hierdie divergensie slegs op leksikale en nie op semantiese vlak nie, want die vertaalekwivalente is doelstaalsinonieme en verteenwoordig dieselfde betekenis van die brontaalvorm. Die ordening van hierdie vertaalekwivalente mag nie lukraak wees nie, maar moet deur die gebruiksfrekwensie van die onderskeie woorde bepaal word. Gebruikers moet weet dat die ordening van vertaalekwivalente volgens ’n werkswyse geskied wat in die woordeboek se konseptualiseringsplan vasgelê is.
Semantiese divergensie kom voor wanneer die een-tot-meer-as-een-verhouding verder as die leksikale vlak strek, omdat die brontaalvorm polisemies is soos uit die volgende artikel in Groot woordeboek / major Dictionary (Eksteen [red.] 1997:472) blyk:
rondspartel … jumble; flounder
Só ’n bewerking slaag daarin om semantiese ekwivalensie te bereik aangesien vertaalekwivalente vir al die brontaalvorm se polisemiese waardes verskaf word. Vir teksresepsiebehoeftes kan so ’n bewerking voldoende wees. Vir teksproduksie en vertaling, maar ook soms vir teksresepsie, behoort semantiese ekwivalensie deur kommunikatiewe ekwivalensie aangevul te word sodat die gebruikers sal weet wanneer om watter ekwivalent te kies. Kommunikatiewe ekwivalensie word deur konteks- en ‘n koteksaanduiders bereik soos in die volgende artikel uit The greater dictionary of Xhosa (Pahl 1989:173), waar aanduiders met ’n nie-lemmatiese adressering help om die gepaste ekwivalent te identifiseer:
úkù shikíxà … 1. shuffle the feet 2. rub (a stain or dirt) 3. examiner (a matter).
Polidivergensie is waar sowel leksikale as semantiese divergensie in dieselfde artikel voorkom soos die voorbeeld in Groot woordeboek / Major dictionary (Eksteen [red.] 1997:166):
fraai, (-, -e), fine, handsome, elegant, beautiful; brave; artistic, fancy.
Die eerste vier en die laaste twee vertaalekwivalente handhaaf ’n interne verhouding van leksikale divergensie, terwyl hierdie twee ekwivalentgroepe en die enkele ekwivalent brave ’n verhouding van semantiese divergensie daarstel.
In so ’n aanbieding moet gebruikers weet dat die kommas en kommapunte nie blote leestekens is nie, maar struktuurmerkers is wat spesifieke tipes skeiding tussen die vertaalekwivalente aandui. Gebrekkige konteks- en ‘n koteksleiding maak dit uiters moeilik vir gebruikers om die korrekte vertaalekwivalent te kies soos gesien kan word in die volgende voorbeeld van polidivergensie in Groot Woordeboek / Major Dictionary (Eksteen [red.] 1997:320):
lek´ker … dainty, nice, sweet, palatable, delectable, savoury, delicate, delicious; pleasant; cosy; tipsy; luscious, exquisite; cushy; merry; …
Veral vir suksesvolle teksproduksie- en vertalingshulp is bykomende inskrywings noodsaaklik.
Ter afsluiting
In ’n ideale leksikografiese wêreld sal daar ’n een-tot-een-verhouding wees tussen die data wat ’n leksikograaf in ’n woordeboek plaas en die inligting wat die teikengebruiker daaraan onttrek. Ongelukkig geld hierdie verhouding nie in die werklikheid nie. Leksikografie moet onderrig word en wel op so ’n manier dat studente kundige woordeboekgebruikers word wat so na as moontlik aan optimale inligtingsonttrekking aan die data in hulle verskillende woordeboeke kan kom.
Om studente, voornemende leksikograwe en metaleksikograwe ten regte op te lei, behels veel meer as ’n opdrag om iets in ’n woordeboek na te slaan. Dosente wat leksikografiekursusse aanbied, moet met ’n algemene leksikografieteorie vertroud wees wat nie medium-spesifiek is nie en wat die vakgebied ook met buurgebiede soos linguistiek en inligtingswetenskap kan skakel. Dosente moet weet hoe om studente in woordeboekgebruiksvaardighede op te lei en om voornemende praktiserende en teoretiese leksikograwe aan hierdie tweebenige dissipline met sy praktiese en teoretiese komponent, sy verskeidenheid woordeboektipes en die heersende gebruikersperspektief bekend te stel. Indien hulle met die funksies, inhoud en strukture van woordeboeke vertroud is, sal hulle weet hoe en wanneer om ’n spesifieke woordeboek as gebruiksinstrument te kies en wat van elkeen van die verskillende woordeboektipes verwag kan word.
Erkenning
Hierdie werk is gebaseer op die navorsing wat gedeeltelik ondersteun word deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NNS) (toekenning-spesifieke unieke verwysingsnommer [UID] 85434). Die outeur erken dat opinies, bevindings en gevolgtrekkings of aanbevelings in enige publikasie wat deur die NNS ondersteunde navorsing gegenereer is, die outeur se eie is en dat die NNS geen aanspreeklikheid hoegenaamd in hierdie verband aanvaar nie.
Meedingende belange
Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.
Literatuurverwysings
Carstens, W.A.M. & Bosman, N. (reds.), 2017, Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, Van Schaik, Pretoria.
Eksteen, L.C. (red.), 1997, Groot Woordeboek/Major Dictionary, Pharos Woordeboeke, Kaapstad.
Fuertes-Olivera, P.A. (ed.), 2018, The Routledge handbook of lexicography, Routledge, London.
Geeraerts, D., 1984, ‘Dictionary classification and the foundations of lexicography’, ITL Review 63, 37–63. https://doi.org/10.1075/itl.63.03gee
Gouws, R.H., 1989, Leksikografie, Academica, Kaapstad.
Gouws, R.H., 2005, ‘Meilensteine auf dem historischen Weg der Metalexikographie’, Lexicographica 21, 158–178.
Gouws, R.H., 2012, ‘Towards a system of integrated dictionary use’, in O. Karpova & F. Kartashkova (eds.), Multi-disciplinary lexicography: Traditions and challenges of the XXI-st century, pp. 134–144, Cambridge Scholars Publishing, Cambridge.
Gouws, R.H., 2013, ‘Establishing and developing a dictionary culture for specialised lexicography’, in V. Jesenšek (ed.), Specialised lexicography, pp. 51–62, De Gruyter, Berlin. https://doi.org/10.1515/9783110333435.51
Gouws, R.H., 2016a, ‘Op pad na ’n omvattende woordeboekkultuur in die digitale era’, Lexikos 26, 103–127. https://doi.org/10.5788/26-1-1356
Gouws, R.H., 2016b, ‘Increasing the scope of the treatment of specialised language terms in general language dictionaries’, in S. Schierholz et al. (eds.), Wörterbuchforschung und Lexikographie, pp. 101–118, De Gruyter, Berlin. https://doi.org/10.1515/9783110474251-007
Gouws, R.H., 2017, ‘Leksikografie’, in W.A.M. Carstens & N. Bosman (reds.), Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, pp. 429–463, Van Schaik, Pretoria.
Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds.), 2013, Dictionaries. An international encyclopedia of lexicography. Supplementary volume: Recent developments with focus on electronic and computational lexicography, De Gruyter, Berlin. https://doi.org/10.1515/9783110238136
Gouws, R.H. & Prinsloo, D.J., 2005, Principles and practice of South African lexicography, African SunMedia, Stellenbosch.
Gouws, R.H. & Steyn, M. (reds.), 2010, Grondslagfasewoordeboek Afrikaans/English, Maskew Miller Longman, Kaapstad.
Hartmann, R.R.K., 1989, ‘Sociology of the dictionary user: Hypothesis and empirical studies’, in F.J. Hausmann et al. (eds.), Wörterbücher, Dictionaries, Dictionnaires: An international encyclopedia of lexicography, pp. 102–111, De Gruyter, Berlin.
Hausmann, F.J., 1989, ‘Die gesellschaftlichen Aufgaben der Lexikographie in Geschichte und Gegenwart’, in F.J. Hausmann et al. (eds.), Wörterbücher, Dictionaries, Dictionnaires: An international encyclopedia of lexicography, pp. 1–19, De Gruyter, Berlin.
Hausmann, F.J., Reichmann, O., Wiegand, H.E. & Zgusta, L. (reds.), 1998–1991, Wörterbücher, Dictionaries, Dictionnaires: An international encyclopedia of lexicography, De Gruyter, Berlin.
Kaufmann, U. & Bergenholtz, H., 1998, Encyclopedic dictionary of Gene Technology, Lugus Libros, Toronto.
Kilgarriff, A., 2012, ‘Review of Fuertes-Olivera and Bergenholtz, e- Lexicography: The internet, digital initiatives and lexicography’, Kernerman Dictionary News 20, 26‒29.
Klotz, M. & Herbst, T., 2016, English dictionaries: A linguistic introduction, Erich Schmidt Verlag, Berlin.
Louw, J.P., 1985, Lexicography and translation, Bybelvereniging van Suid-Afrika, Kaapstad.
Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H., 2015, Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Pearson, Kaapstad.
Malkiel, Y., 1967, ‘A typological classification of dictionaries on the basis of distinctive features’, in F. Houselholder & S. Saporta (eds.), Problems in Lexicography, pp. 3–24, Indiana University, Bloomington, IN.
McArthur, T., 1986, Worlds of Reference, Cambridge University Press, Cambridge.
Pahl, H.W., 1989, The greater dictionary of Xhosa, Universiteit of Fort Hare, Alice.
Scerba, L.V., 1940, ‘Opyt Obscej Teorii Leksikografii’, Leksikograficheskij Sbornik 3, 89–117.
Schierholz, S., 2016, ‘Einige kurze Überlegungen zur Metalexikographie in der Lehre’, in S. Schierholz et al. (eds.), Wörterbuchforschung und Lexikographie, pp. 295–308, De Gruyter, Berlin. https://doi.org/10.1515/9783110474251-017; https://doi.org/10.1515/9783110474251
Schierholz, S., Gouws, R.H., Hollós, Z. & Wolski, W. (reds.), 2016, Wörterbuchforschung und Lexikographie, De Gruyter, Berlin.
Sinclair, J. (ed.), 1987, Collins COBUILD English Language Dictionary, Harper Collins, Londen.
Svensén, B., 2009, A handbook of lexicography, Cambridge University Press, Cambridge.
Tarp, S., 2008, Lexicography in the borderland between knowledge and non-knowledge: General lexicographical theory with particular focus on learner’s lexicography, Max Niemeyer, Tübingen. https://doi.org/10.1515/9783484970434
Wiegand, H.E., 1984, ‘On the structure and contents of a general theory of lexicography’, in R.R.K. Hartmann (ed.), LEXeter ’83, pp. 13–30, Max Niemeyer, Tübingen. https://doi.org/10.1515/9783111593166-005
Wiegand, H.E., 1989, ‘Der gegenwärtige Status der Lexikographie und ihr Verhältnis zu anderen Disziplinen’, in F.J. Hausmann et al. (reds.), Wörterbücher, Dictionaries, Dictionnaires: An international encyclopedia of lexicography, pp. 246–280, De Gruyter, Berlin.
Wiegand, H.E., 1998, Wörterbuchforschung, De Gruyter, Berlin. https://doi.org/10.1515/9783110802467
Zgusta, L., 1971, Manual of Lexicography, Mouton, Den Haag. https://doi.org/10.1515/9783111349183
|