Book Review

Syferfontein, ’n plaastragedie van selfsug en woede aanmekaargesit

Book Title: Syferfontein

Author: Cas Wepener

ISBN: 978-1-4853-0698-4

Publisher: Protea Boekhuis, 2016, R220*

*Book price at time of review

Review Title: Syferfontein, ’n plaastragedie van selfsug en woede aanmekaargesit

Reviewer:
Neil van Heerden1

Affiliations:
1Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa, South Africa

Corresponding author: Neil van Heerden, vheern@unisa.ac.za

How to cite this book review: Van Heerden, N., 2017, ‘Syferfontein, ’n plaastragedie van selfsug en woede aanmekaargesit’, Literator 38(1), a1402. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1402

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die eerste sin in Cas Wepener se Syferfontein (2016) verklap reeds dat daar nie veel in hierdie plaasroman ‘gebeur’ nie (bl. 7). ’n Intens haatlike, ou boer met die naam Peet van Jaarsveld bring ’n enkele langnaweek in 1960 alleen op sy bokplaas in die Karoo deur. Die intrige, en dus die appèl, van hierdie boek lê eerder op psigologiese vlak. Peet worstel naamlik met allerlei demone, verwyte en herinneringe – meestal sleg – rakende sy ongelukkige huwelik met Gertruida, wat sowat drie maande vroeër oorlede is.

Peet begeer om dit ‘wat was tot seën te maak’ (bl. 151). Hy wil dus die slegte herinneringe aan sy huwelik ‘korrigeer’ sodat hulle rooskleuriger onthou sal word as wat hulle was. Almal – insluitend die leser – kan egter insien dat die kwas waarmee Peet nou oor sy lewensverhaal vol onooglike krake probeer verf, vals is.

Peet is puntenerig, patriargaal, en byna drakonies betreffende godsdiens. Hy is ’n geheelonthouer en uiters gesteld op sy reputasie as ouderling in die gemeenskap. Terselfdertyd het hy ’n skrikwekkende woedeprobleem en is hy met tye wellustig en egoïsties. Sy eiewaan word byvoorbeeld tot die uiterste gevoer in die erg gekunstelde toespraak wat hy op die dag van Gertruida se begrafnis gelewer het (bl. 179).

Bowenal is Peet verskriklik suinig: ‘Vrekkerig en inhalig en skraapsugtig en krenterig was die woorde wat sy [Gertruida] teenoor hom gebruik het’ (bl. 143). Voorbeelde van Peet se suinigheid is volop, maar sy gewoonte om vuurhoutjies in twee te kloof (bl. 8) en drupsels kerswas te versamel (bl. 26), is van die skrynendste.

Soos verwag, is die twee motto’s voor in Syferfontein belangrike sleutels. Die eerste, ’n aanhaling uit Karel Schoeman se Verliesfontein, lê ’n ooglopend intertekstuele verband. Trouens, Syferfontein is op bykans alle vlakke – styl, atmosfeer, taalgebruik, tematiek – so ’n suksesvolle emulering van Schoeman se werk dat Wepener myns insiens die gevaar loop om in die skadu van hierdie groot figuur in die Afrikaanse letterkunde getakseer te word.

Ander ooreenkomste is die beeld van Peet as ‘sluiswagter van hulle verlede’ (bl. 124) en die teenwoordigheid van subtiele magiese elemente in wat andersins ’n hiperrealistiese roman is. Vergelyk byvoorbeeld Peet se pogings om skynbaar vir oulaas met Gertruida se spook seks te hê (bl. 59) en haar gees wat op die plaas talm: ‘daar staan sy op die stoep en soos altyd kyk sy na hom met ’n wrewelige blik’ (bl. 200).

Die tweede motto is ’n verwysing na Nietzsche se The birth of tragedy, wat suggereer dat hierdie verhaal as eietydse tragedie gelees kan word. Buiten die strukturering van die roman in vyf dele (Donderdag tot Maandag), is dit veral die bewerkstelliging van Peet se ondergang aan die hand van sy eie karaktergebreke en hubris, wat van Syferfontein ’n tragedie maak.

Wanneer Peet se twee seuns op Syferfontein aankom met die idee om hul pa na die ouetehuis op die dorp te neem, stort hy (letterlik) ineen soos wat sy wêreld (figuurlik) rondom hom in duie stort (bl. 171–172). Peet weier egter om Syferfontein te verlaat, en uiteindelik is die tragiek nie soseer dat hy sy plaas verloor nie, maar dat hy sy kinders finaal van hom vervreem.

Ten slotte leer Peet dat juffrou Debora van Andel (sy eerste liefde, voor Gertruida) intussen as oujongnooi gesterf het (bl. 213), en sy voorneme om vir Debora op te soek en terug te bring Syferfontein toe (bl. 200), is dus ook daarmee heen. Peet se fisieke alleenheid (bl. 109), die barre rivierloop (bl. 109) en die dassiepiekolle teen sy plafon (bl. 162) word daarom alles simboliese merkers van sy selfopgelegde isolasie en morele verdorring.

Cas Wepener is duidelik ’n vaardige romansier. Die derdepersoonsvertelling beweeg glad tussen hede en herinnering, vang die ruimte en die tydsgees presies vas en behou die gepaste register sonder om ooit te swik. En ongeag hoe afstootlik Peet van Jaarsveld is, sy karakterisering word deurgaans deeglik begrond en gemotiveer.

Beeldryke beskrywings van onder meer kreunende dakplate (bl. 9), slangagtige boomwortels (bl. 35) en ’n ou man se geslagsdeel (bl. 81, 132) dra by tot die roman se artistieke waarde, maar stilisties is dit veral die beskrywings van Peet se woedebuie wat imponeer. Sien byvoorbeeld bladsye 14, 21, 53, 148 (‘asof dit diep vanuit ’n warm put binne in hom opkook’), bladsye 176, 184 en 200 (‘kruip soos rooikatte om ’n kraal met lammers al om sy gedagtes’).

Enkele klein redaksionele foute sluit in: ’n tikfout op die mottoblad (‘innneem’) en bladsy 175, ’n weggelate punt (bl. 115), die foutiewe spelling van ‘vrank’ (bl. 119), asook oortollige lidwoorde (bl. 105, 106). Hoewel die talle Bybelverse in Hollands funksioneel is – deurdat Peet van Jaarsveld se argaïese denkwyse daardeur beklemtoon word – kan dit met tye hinderlik raak en is die leser geneig om onwillekeurig die lang verse in skuinsdruk te wil oorslaan.

Syferfontein is egter ’n boeiende psigologiese studie van selfvernietigende woede en selfsug. In Peet van Jaarsveld kry ’n mens een van die haatlikste dog onvergeetlikste hoofkarakters in die onlangse Afrikaanse prosa.



Crossref Citations

No related citations found.