’n Oorlogsboek wat ek in my jong dae gelees het, begin met ’n verjaarsdagviering van die baas van die plaas, die jong Meyndert Bornman. Die perskebome blom pragtig in die boord. Donker rookwolke styg op van die voorstoep af waar die ouer mans sit en gesels. Die jong kêrels speel jukskei, die kinders kry gemmerbier en koekies, die grootmense later koffie en selfs glasies wyn. Die Godsman, oom Jakob, praat oor die straf wat ons volk verdien oor ons sondes: strawwe soos sprinkane, droogte, die runderpes en nou die dreigende oorlog. Dis 28 Augustus 1899.
Maar ek wil vertel van 08 Mei 2015. Dit was nog stikdonker toe ek opstaan en die rekenaar aansit om koerant te lees. Netwerk24 se hoofberig was ook Volksblad s’n: ‘Staan op vir jou taal by UV’. Dit volg op ’n hoofberig van die vorige dag oor ontwikkelinge by die Universiteit van die Vrystaat: ‘UV bekyk Afrikaans in klasse / Hersiening van taalbeleid aangeroer’.
Volgens Charles Smith se berig hieroor het die rektor, prof. Jonathan Jansen, in sy weeklikse brief aan personeellede betoog ‘die meeste studente voel baie sterk daaroor’ dat onderrig in Engels én Afrikaans heeltemal te veel nadele vir mense in die klasse, sowel as vir die dosente, meebring. ‘Wat vir my duidelik is, is dat die bestaande taalbeleid van die UV vir die meeste van ons studente op kampus en, ek vermoed, vir baie van ons personeellede, ’n probleem is.’
Dat dit ’n skynheilige stelwyse is, sou ’n week later duidelik blyk uit ’n artikel van Hennie van Coller in Volksblad. Daarin toon hy aan hoe Jansen Engels in die voorafgaande paar jaar ‘met ’n ysterhand’ bevorder en Afrikaans by sommige geleenthede verbied het. Hennie se stuk het verskyn onder die opskrif: ‘Doodsklok vir Afrikaans lui by die UV’. Die parallelmedium-model van die voorafgaande twintig jaar moet dus wyk voor die Engelsmedium-model. Hennie het reg voorspel: Jansen se aankondiging wás die doodsklok, want op 11 Maart 2016 het die universiteitsraad besluit Engels word die Universiteit van die Vrystaat (UV) se enigste taal.
Daar was die oggend van 08 Mei genoeg tyd om gou te loer wat De Telegraaf op sy tuisblad aanbied. Een van die berigte gaan oor ’n antimonargistiese aktivis wat ’n paar dae tevore op die viering van die koning se verjaarsdag die vors en vorstin toegeroep het: ‘Fuck de Koning!’. Baie Nederlanders neem die f-woord oor, maar hou dit in Engels. Dit verskyn partykeer selfs volledig uitgeskryf in koerante en word sonder skroom op televisie uitgespreek.
Hoe ook al, die berigte van 08 Mei was ’n slegte begin vir die viering van Afrikaans se negentigste jaar as amptelike taal. Die bekende Wet op de Officiële Talen van de Unie is op 08 Mei 1925 op ’n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat aangeneem. Dit het bepaal dat Afrikaans een van die amptelike tale van die land is. Jansen het sy aankondiging oor die afskaffing van Afrikaans sadisties as verjaarsdaggeskenk voorberei.
Daaroor kon ek die oggend van 08 Mei 2015 nie lank tob nie. Op dié dag sou ’n toer begin wat ’n paar vriende gereël het, lank voordat ons van hierdie terugslag bewus was.
Eers moes ek uit Bloemfontein op Kroonstad kom. My suster, Ria Müller, het my na College Square weggebring waar ek met die Citybug my reis kon begin. (Die res van die dag sou sy haar getroude dogter met kerklike werk bystaan.)
Voor en agter my in die bussie het spraaksame passasiers gesit. Iemand het telkens per selfoon opdragte aan werknemers in Bloemfontein gegee – en waarlikwaar in Afrikaans.
Heel agter het ’n jongerige man en ’n middeljarige vrou gou agtergekom dat hulle albei emigrante is wat ter wille van familiesake weer ’n wyle in die geliefde land moes deurbring. (’n Paar dae later sou ek lees van ’n Nieu-Seelander wat verklaar: ‘Waar ék woon, is daar net Suid-Afrikaners. Daar’s baie, so ek praat heeldag Afrikaans.’) Flardes van die gesprek agter my is by tye hoorbaar: ‘Groen kaart’; ‘Brande in die bloekombosse’; ‘Ag, oor die algemeen raak ons tog aangepas’.
Die twee gesels skynbaar opgewek, met vermoedelik die vae hartseer van afskeidnemers op pad na hul nuwe tuisland, waarvan hulle, soos Peter Blum se oorlewendes, soveel hou en waar hulle goed klaarkom met die mense. Dis die laaste grappies voor die ongeneeslike heimwee na ‘daardie land’, ‘daardie versonke land’.
By Winburg keer iemand in uniform ons bussie voor en gelas in gebroke Engels dat ons oor Theunissen en Welkom moet ry. Daar was ’n ongeluk en die pad na Kroonstad is versper. Die omweg veroorsaak ’n driekwartier lange vertraging. Gelukkig kon ek my reisgenote per selfoon daarvan sê, en toe ek in Kroonstad by die Shell Ultra City aanland, kom die drie net ná hul ontbyt uit die eetplek uitgestap: Christo van Rensburg, Hans du Plessis en Bernard Odendaal. Laasgenoemde twee moes op Reitz ’n ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit waarneem, maar ek en Christo kon saamry. (Ek en Hans was kollegas en vriende by wyle die Randse Afrikaanse Universiteit; ek, Christo en Bernard by die destyds volledig Afrikaanse Universiteit van die Oranje-Vrystaat; Hans, Christo en Bernard by die toe nog oorwegend Afrikaanse Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit [NWU]; Christo was ook departementshoof by die Universiteit van Pretoria [UP] toe dit nog ’n Afrikaanse universiteit was.)
Ons pad loop oor Steynsrus, Lindley en Petrus Steyn na Reitz toe. Iemand dink daaraan dat ons seker in die Riemland behoort te wees. ‘Waar ís die Riemland presies?’, wil hy by my weet. ‘Dis moeilik om presies te sê’, verduidelik ek omslagtig, ‘maar dis so oos van Kroonstad in die deel noord van die lyn Kroonstad-Bethlehem’. Christo se Dictionary of Southern African place names deur Peter Raper, Lucie Möller en Theodorus du Plessis (die nuutste uitgawe is net in Engels), deel niks mee oor die name van streke nie (ek sou net so graag wou geweet het waar die Boland regtig is), maar die boek het darem die naam van die spoorweghalte, Riemland.
Riemlandstasie ken ek: dis die hoogste spoorwegstasie in die Vrystaat (1681 m bo seespieël), en die laaste stasie waar die trein stop voor ’n mens van Arlington en Lindley af op Petrus Steyn aankom; ek herinner my ’n bedremmelde eerstejaar se uitbundig vrolike tuiskomste ná naargeestige koshuiskwartale. Raper-hulle se beskrywing kom so min of meer ooreen met my opvatting van die Riemland.
‘De stilte spoelt en ebt door de portalen’. AikÔna, nie op 08 Mei nie: die gesprek spoel van digters soos J.C. Bloem tot Wolmaransstad se wonderlike biltongwinkel (waar Christo vir elkeen ’n papiersakkie vol laat kerf het) tot die Junggrammatiker, B.E. Vidos se Handboek tot de Romaanse taalkunde, woorde en hul uitsprake. ‘Ken jy “tlip” vir “klip”?’ ‘Ja, én “tlep”.’ ‘Ek het ’n ou tannie geken wat sê: “Kom maar en”, wanneer sy jou binnenooi.’ Hulle het anderdag in die Parlement gestry oor wat ‘fokÔl’ beteken, ook in Afrikaans, en die Speaker sê toe: ‘Dit es nie niks nie’. Ja-nee.
As jy met die trein van Petrus Steyn af Arlington toe ry, sien jy Lindley met sy pragtige groot klipkerk elke keer uit ’n ander hoek, want die treinspoor loop so half Óm die dorp. Maar lang ente sien jy net bome of grondwalle en dan weer die dorpie. ‘Voor die oorlog was Lindley ’n Arkadië, toegeplant met bome’, meld die Britse politikus J. Ramsay MacDonald ná sy reis in September en Oktober 1902, en vervolg dan: ‘ … nou het dit sonder skaduwees teen die geel, verskroeide bult gelê’.
Petrus Steyn is die dorp waar ek in die jare vyftig skoolgegaan het. Die skool is nou Engels. Die buurt waarin my ouers van 1972 tot 1989 gebly het, lyk heeltemal skaflik. Die mooi huis wat my pa self gebou het – saam met twee arbeiders wat sement help aanmaak, stene help aangee het, ensovoorts – staan stewig, maar van die pragtige bome, onder meer twee geelhoute, is uitgehaal, en die twee kliphoekpale wat pa van die plaas af saamgebring het, is deur die eerste nuwe eienaar verwyder en deur ’n volgende vervang deur twee boomstompe.
Dan ry ons met die bitter slegte Óú Reitz-pad na die omgewing waar ek grootgeword en tot in Standerd 5 skoolgegaan het. Bernard maneuvreer as gebore en getoë Vrystater die wit Nissan-bussie gemaklik tussen slaggate en dongas deur. Van die skooltjie op Omdraai-Suid staan daar nog ’n murasie. Die gate in die noordemuur kyk uit op ’n kaalgevrete veld. Vroeër was daar ’n kampie waarin die trep-perde kon loop waarmee die meeste kinders skool toe gekom het.
Ons vier reisigers het stilgehou ter wille van die gebruiklike foto’s terwyl ek beduie wat die opset was. Daar was twee kleinerige klaskamers, want dit was aanvanklik ’n tweemanskool, later ’n eenmanskool, al was twee uit die twee onderwysers gewoonlik vroue. Sub A tot Standerd 2 was in een klas, Standerd 3 tot 6 in die ander.
Daar was twee puttoilette – in die weste die meisies s’n, oos die seuns s’n. Dit was streng verbode om naby die kleinhuisie van die teenoorgestelde geslag te kom. Niemand sou in elk geval uit sy eie na ons seuns se kleinhuisie gegaan het nie – die stank was afskuwelik. Die plaaseienaar het hom nooit verwerdig om iets daaraan te doen nie en ek weet ook nie hoe mens so ’n probleem sou kon oplos nie.
Aan my reisgenote verduidelik ek dat die trep-perde bedags maar in die kampie om die skool gewei en water gesuip het uit ’n dammetjie aan die noordoostekant. Daar was ’n handpomp waarmee ons handewas- en drinkwater kon uitpomp en ons het seker genoeg gemors om die dam vol te hou. Ek het vergeet om te vertel van die resiesjaery wanneer die skool uitkom om eerste jou perd te vang en in te span. Wie die laaste uit die skoolkamp gaan, moes die hek toemaak. Ook nagelaat om te sê dat een van die onderwysers moedig probeer het om trep te verbeter tot ‘eenperd-karretjie’, wat net so min inslag gevind het soos ‘tweedisselboom-karretjie’.
Maar ons vier reisigers kon nie te lank vertoef nie en vertrek op die slegte plaaspad van Omdraai-Suid na ons ou plaas, Omdraai-Noord. Tussenin lê Joinershoek, maar ek laat toe dat die vermeende feite ’n moontlik lekker storie bederf: die eienaar was destyds die ryk oom Hendrik Taljaard, wat in die Tweede Vryheidsoorlog geen joiner was nie en selfs aan die Rebellie van 1914 deelgeneem het, soos my pa se vier oudste broers en Bernard se oupa. Die plaas het glo sy naam gekry van twee stukke grond wat aan mekaar geheg, gejoin is. Oor die lojaliteit van sy skoonpa, Gert Sweet Home, is wel geskinder.
Dan uiteindelik Omdraai-Noord. Die hek na die opstal, wat gedeeltelik in ’n vlei lê, en onsigbaar van die pad af is, is gesluit met ’n reuseslot. Dit was dus onmoontlik om my geliefde ou tuiste te besoek. Die ry bloekombome na die huis het in die laaste dekades goed gegroei en maak ’n mooi vertoning. Van ’n kerkhoffie waarin ’n paar van die vorige bewoners begrawe is, het geen spoor of teken bly staan nie.
Eintlik was ek bly die pad na ons ou huis was gesluit, want die huidige bewoners praat Sesotho of isiZulu, ek weet nie watter een van die twee nie. Waarom moet die huis, wat oorle’ oom Jaap so mooi gerenoveer het, leeg staan en agteruitgaan? ’n Paar maande later gaan wys ek vir ander vriende my geboortehuis – ’n kleinerige netjiese kliphuis wat my pa gebou het – op die plaas Mara in die distrik Fouriesburg. Op die toe hek voor die huis staan ’n lang kennisgewing in Sesotho. Dis die taal van die nuwe eienaars en hulle gebruik die plaas as gasteplaas. Jare gelede het die plaas die naam Mara gekry vanweë bitterheid oor ’n erflating.
Maar terug na Omdraai-Noord. Ballinge of mense wat ná ’n lang tyd terugkeer uit die vreemde, kniel glo soms en soen die aarde. Nee wat, my gemoed is gehard, gewoond aan verlies, Afrika-bestand, sou jy kon sê. Dit sou wel ’n avontuur gewees het om by die huis te kon aangaan. (Terloops, ek ken ’n plaas met die naam Aangaan. Ons het oor plaasname van die omgewing gepraat: Anys, Waterval, Witroos, Mars, Welgevonden, Fonteinriet, Kleinfontein, Rusfontein. Op Rusfontein het my oumagrootjie in 1900 ’n plaaswerker wat by haar probeer aanlê het, met ’n stuk hout katswink geslaan.)
Die pad loop nog ’n entjie langs ons ou grensdraad en terwyl ons by een van die lande verbyry, kon ek vertel hoe ons in my Standerd 9-jaar die winter geen oesters kon kry nie. Dit was voor die tyd van mieliestropers en ek en my pa moes die mielieland alleen afoes. Jy loop met ’n streepsak om jou middel gebind, of anders ’n voorskoot van sak, en terwyl jy tussen die twee rye stap, pluk jy kop vir kop af. Die vol sakke word klompies-klompies bymekaar gepak, en Saterdae ry ons hulle met die trekker en sleepwa uit. Weens gebrek aan arbeiders moes Ma maar op die hoop mieliekoppe klim en die sakke koppe uitskud wat ek en pa vir haar gooi. Twee mense is nodig om so ’n styf vol sak koppe sÓ ver te kan gooi. Die dorsmasjien het eers ná die vakansie gekom.
Die Óú pad na Reitz is te sleg om verder te ry, ook al mis ons gevolglik die historiese De Molen – waar daar vroeër jare ’n groot watermeule in die Liebenbergsvlei was. Dus terug na Petrus Steyn met die Tweeling-hoofpad. Opvallend is dit hoe stil en verlate die omgewing lyk – plaashuise wat in my jong jare nog gestaan het, is afgebreek en met die grond gelyk gemaak.
Reitz het mooi gebly. Terwyl Hans en Bernard met die aspirant-skrywers besig is, verken Christo en ek die dorp. Hoewel ek so naby aan Reitz grootgeword het, ken ek dit glad nie. Dit was vir ons te ‘vér’ – seker 30 km, wat meer as 2 h met die kar en perde sou beteken.
Jare al wou ek graag die gebou van die NG Moederkerk van nader bekyk. Dit is ’n eeu gelede dat daardie kerkgebou ’n hele paar weke, van Desember 1914 tot aan die begin van 1915, toegesluit gestaan het vanweë die rebellie. Ds. J.P. van der Spuy is aangehou. Op ’n begrafnis het hy met lof oor die gestorwe rebel se vaderlandsliefde gepraat, en hy sou ’n hoefsmid toestemming gegee het om die draad rondom die kerk te gebruik om rebelle se perde te help beslaan. Hy is vrygespreek van onrusstokery.
Die pragtige klipkerke van Lindley, Fouriesburg, Reitz en ander plekke het my altyd bekoor. Die een op Reitz is ’n massiewe gebou van sandsteen. Die hoeksteen is in 1912 gelê deur pres. M.T. Steyn. Aan die een kant van ’n monument voor die kerk is die name van Reitz-burgers wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het. Aan die ander kant is daar ’n gedenkplaat ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners. So hoort dit ook: taal- en vryheidstryders saam. By die onthulling van monumente vir gesneuwelde burgers en slagoffers van die konsentrasiekampe, is steeds gemaan dat die gestorwenes hul lewens opgeoffer het, ook vir hul geliefde taal. Dit moet die oorlewendes onthou, dit mag ons nooit vergeet nie.
Ons sit die reis voort tot op Bethlehem waar ons die nag gaan slaap en die aand in ’n groot restaurant eet. Christo het die middag op Reitz by ’n slaghuis ingestap en die woord ‘krokodil’ gehoor. Op sy navraag haal die eienaar twee krokodil-filette uit die yskas, en Christo koop hulle.
In die Bethlehemse eetplek was die sjef bereid om die krokodil as voorgereg vir ons te bak, en die ander drie geniet dit. Maar ek is te vol fiemies, of miskien bevestig ek maar net die ou gesegde: ‘Wat de boeren niet kennen, dat eten ze ook niet’.
O, en daarvan gepraat: tot my verbystering verneem ek dat die taalkommissie dit glo oorweeg (nee, ek glo dit nie!) om die woord ‘Boer’ nie meer in die woordelys op te neem nie – dit sou dan ‘kwetsend’ wees. Maar dis nie té onverwags nie: ’n paar jaar gelede het ek verneem dat ‘En bewaar ons ou land vir die Boer’ aanstoot sou gee en ‘Ritrympie’ dus nie in ’n bloemlesing kon staan nie. Ons raak ‘die B-volk van weleer’.
Ek wens so ek kan onthou waaroor ons alles gepraat het op die reis en veral daardie aand. Naderhand oor Afrikaans en sy variëteite. Daaroor het die simposium van taal- en letterkundiges gehandel wat ’n paar maande tevore op inisiatief van Bernard op Potchefstroom gehou is. Christo het gepraat oor Van Wyk Louw se ‘Klipwerk’. As volbloednavorser het hy op Sutherland gaan luister hoe mense praat en hulle uitgevra oor die gebruik van sommige woorde. Ek kan nie anders as om die slot van sy lesing hier te gee nie:
Die verteller van die ‘Klipwerk’-verhaal neem kennis van die verganklike kant van die mens se aardse lewe, soos waarvan die Prediker byvoorbeeld praat, maar sê dat die klem in Klipwerk anders val: Die KLIP bly staan, reent nie dood nie, die KLIP-WERK hou nie op nie, en die menslike spesie? Dié hou aan voortbestaan.
Naas Bernard was Hans ook ’n spreker op die simposium – hoe kan dit anders? Hy is die man wat Griekwa-Afrikaans vir die poësie geannekseer het tot groot plesier van duisende lesers van gedigte. Ek het tydens dié deel van die gesprek maar net geluister – deels vanweë ’n ingewortelde afkeer van skryfwerk wat, soos een ou in die koerant gekla het, net lyk na ’n ‘mengsel van Engelse en verkeerd gespelde Afrikaanse woorde’.
Natuurlik ‘skinder’ ons ook oor kollegas en oudkollegas – oor Daniel Hugo met sy mooi voordragstem en sy fenomenale kennis van die Afrikaanse poësie, oor Ina Gräbe en haar nog nooit genoeg gewaardeerde boek oor poëtiese taalgebruik, oor die briljante PG du Plessis wat by ’n skryfskool ’n boek willekeurig sou oopmaak, met die vinger op die linkerbladsy op ’n woord druk en op die regterbladsy op ’n ander woord, en dan na aanleiding van dié twee woorde ’n hele storie uitdink. Daar was Charles Malan wat vergeet het dat hy ’n leeskring vir vroue êrens in die Vrystaat moes gaan toespreek. Toe hy dit op die laaste oomblik onthou, gaan hy tog en meen dat hy ’n bietjie kan gorrel, want wat weet die plattelandse tannies tog? Maar toe laat blyk die ‘tannies’ hulle weet báie sodat hy boetvaardig skuld beken en onderneem het om weer met hulle te kom praat – hierdie keer goed voorbereid. Daardie formidabele vroue ken die Afrikaanse letterkunde deur en deur.
Afrikaanse rolprentmakers hunker blykbaar na die ou Afrikaanse platteland met mooi natuurskoon, tradisionele waardes en goeie Afrikaans (of hulle hoop dat die kykers daarna verlang) en laat die verhale speel in die Karoo of op Wakkerstroom of in die Boland. Tog staan daar oor vele kwynende dorpe geskrewe: sic transit gloria mundi – so gaan die roem van hierdie wêreld verby.
Bermuda 1901. Die Britse owerheid lê beslag op ’n besending psalmboeke uit Nederland. Die krygsgevangenes sou dan vergeefs moed skep wanneer hulle sing: ‘Hoop op den Heer, gij vromen: / Is Israël in nood / Er zal verlossing komen / Zijn goedheid is zeer groot.’ Was daar tÓé hoop vir ons gewees?
Ballingskap op Bermuda, op St. Helena. Dis 200 jaar ná Waterloo, en ons speel ‘sê-nou is ’n lekker sê’: Wat sou kon gebeur het as dit of dat nie plaasgevind het nie? Hoe sou die geskiedenis verloop het as Napoleon die slag gewen, België deel van Frankryk gebly en Nederland vry geword het van Frankryk, en die Kaap aan Nederland teruggegee is? Sou daar ’n Vlaamse beweging gewees het – ná 1830 of dalk 1848? In Suid-Afrika sou Nederlands ’n sterk amptelike taal kon gebly het, en sou Nederland dalk die Britse en ander fortuinsoekers van die diamant- en goudveld kon weggehou het. Maar sou daar dan nie in elk geval tog ’n Afrikaanse taalbeweging gewees het nie?
Sulke gesprekke rafel uit, want gedane sake is gedaan – daar is geen keer meer aan. Net op die rekenaar en in jou verbeelding kan jy dinge ‘undo’, ongedaan maak. (Of iets wél doen, natuurlik. Moes ek dit maar gesê het? ‘Ek hou soveel van jou. Is daar hoop vir my? Hoop vir ons?’.)
Toe ons in die restaurant opstaan, sê ’n man, wat die hele aand swygsaam saam met sy vrou by ’n tafeltjie langs ons s’n gesit het: ‘Ek het nog nooit gehoor en gesien dat mense so lekker saamkuier nie!’.
Die verjaarsdag was verby, sonder dat ons daaraan gedink het om ’n glasie te klink op die gesondheid van die verjaarder vir wie ons so lief is.
|