Book Review

In ligte laaie se gedigte sing soos ’n feniks deur vlamme bevry van die oortollige

Book Title: In ligte laaie

Author: Jannie Malan

ISBN: 978-1-4853-0078-6

Publisher: Protea Boekhuis, 2014, R150*

*Book price at time of review

Review Title: In ligte laaie se gedigte sing soos ’n feniks deur vlamme bevry van die oortollige

Reviewer:
Karen de Wet1 symbol

Affiliation:
1Department of Afrikaans, University of Johannesburg, South Africa

Corresponding author: Karen de Wet, kdewet@uj.ac.za

How to cite this book review: De Wet, K., 2017, ‘In ligte laaie se gedigte sing soos ’n feniks deur vlamme bevry van die oortollige’, Literator 38(1), a1353. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1353

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

In 2010 verskyn die vierde Nuwe stemme – Tafelberg se reeks bloemlesings wat beskou kan word as ’n soort barometer van die aktiwiteit onder opkomende digters. Nuwe stemme 4 (Marais & De Goede 2010) stel twee-en-twintig jong digterstemme aan die woord. Die tweede een onder hulle wat ’n solodebuut publiseer1, is Jannie Malan. Met sy bundel, In ligte laaie, is Malan een van vier debuutdigters2 wat in 2014 die toneel van die Afrikaanse poësie betree.

Die bandontwerp van In ligte laaie plaas die bundelaanbod onmiddellik binne ’n bepaalde konteks, wat bevestig en uitgebrei word deur die twee opdraggedigte. Die omslag het die oranje kleur van vlamme waarop die digter se lyntekeninge van lessenaarlaaie aangebring is – die ou staatsdienssoort: hoekig en met koperhalfmane waarin mens se vingers vir die ooptrek moet pas, maar hier, in teenstelling met die soliedheid wat mens sou verwag, besig om deur die lug te trek, om weg te waai. Hierdie sterk visuele voorstelling bevestig die tweeledigheid wat te vinde is in die titel In ligte laaie, naamlik aan die brand (besig om te vernietig, om vernietig te raak, maar ook vurig, hartstogtelik) dog terselfdertyd lig en vervlugtigend.

Die twee opdraggedigte, die titelgedig In ligte laaie (bl. 7) en Blurb (bl. 8), funksioneer soos twee kompastekste wat die temas en aanbod van die bundel uitwys, maar wat terselfdertyd die kompasnaald laat draai na die leser, en na hoe gelees kan en behoort te word. (’n Derde rigtinggewende gedig [bl.9] brei verder hierop uit.)

Die titelgedig open die bundel só:

Mense vra altyd
‘As jou huis afbrand
en jy kan net een ding red,
wat sal dit wees?’

Selde vra iemand:
‘Wat is die een ding wat jy daar sal los?’

net te dankbaar
om dit in vlamme op te los.

Wat hier gesuggereer word, is dat die bundeltitel (en dus die aanbod van die bundel) metafories só gelees kan word dat die leser verstaan dat die poësie dít is wat oorbly ná die aan die brand slaan en in ligte laaie staan, ná die wegvee van die as.3

Die tweede opdraggedig, Blurb (bl.7), sluit aan by hierdie opset en noem saaklik en genommer wat die bundel bied: Vyf boeke op die lyf geskryf en ook aan wie dit bemaak word: die Liewe Leser. In die gedig word aan elk van hierdie vyf boeke (die bundelafdelings) ’n reël afgestaan en op hierdie manier doen die gedig, die Blurb, presies wat van ’n flapteks verwag word: dit flap uit. Vooruit word aan die leser verklap wat die aard en aanbod is van die gedigte wat in elke afdeling verwag kan word. Elke afdeling word beskryf in terme van bepaalde liggaamsdele wat uitgesonder word as primêr betrokke by die skryf van die gedigte in daardie afdeling. So is die herinneringe in Fotoalbum: ’n Terugblik teen die agterkant van die ooglede; word die Notaboek: van die alledaagse regs [dit is aan die hart se kant] op die ribbes ingeëts; het die uitgebreide Dagboek drie dele (Vuur, Vlam en As) vir die stilte en geheime, kripties op die tong; staan die Reisjoernaal op die sole van die voete; en lê die Register van die dooies in die spore van die palms – ’n dodeboek in die lewenslyne van die hand.

Uit die beskrywings van die afdelings wat Blurb bied, blyk nog ’n verdere saak wat die gedigte en komposisie in die bundel kenmerkend maak, naamlik die saaklike (en dalk dikwels bedrieglike) nugterheid wat aangewend word – dit teenoor die sensoriese en sensuele weelde wat temas en beskrywing betref. Asof woorde, soos kripties, notas, alledaagse, en lysies ’n benadering aandui wat die teks van die swaar van die belewing, van die gewigtige anker van lyf en leef moet suiwer, dit lig en tot gedig moet maak. Daarom dat die afdelings aangebied word as fotoalbums, notaboeke, dagboeke, ’n reisjoernaal en ’n register: formate wat nie oorbodige omslagtigheid duld nie, wat net dele vasvang.

Maar die bundel het ook ’n derde rigtinggewende gedig – dié keer nie buite die vyf afdelings as bundelopdrag nie, maar wel as opdrag by Fotoalbum. In hierdie ongetitelde gedig, ‘Verstaan …’ word die leser as geliefde aangespreek, as noodsaaklik gesien. Dit sluit aan by Blurb wat begin soos ’n brief, met die Liewe Leser van die aanhef wat in die slotstrofe Geliefde word. In ‘Verstaan …’ word die op mekaar ingespeelde leser en/of geliefde deur ’n reeks vooropgestelde werkwoorde, wat soos opdragte lees, aangespoor om deel te neem aan die gedig – en spesifiek ’n deelname deur die sintuie (sien kursief), ’n deelname om tot ‘die fyn vlam van begrip’ te kom:

Stuur jou oë uit hul kaste
sper jou vingerpunte, hulle sal verstaan
waaroor hulle gaan
beweeg gerus jou mond
as dit die fyn vlam van begrip
sal aanblaas

Die geliefde (leser) word beskou as noodsaaklik om sin en betekenis te gee – nie net aan die gedigte en die bundel nie, maar ook aan die digterlike aktiwiteit. Dit is deur die gedig, ‘deur hierdie woorde’, dat vereenselwiging (en vereenselwigende begrip) in In ligte laaie nagestreef word. Van die leser word verwag om, soos ’n geliefde, dit te besef en te begryp; die leser moet ‘dieper vat’ en deelneem:

Verstaan
ek het jou nodig
om in my sinne sin te lees
en as jy lees en dink, weet dan
van hierdie oomblik af en altyd
deur hierdie woorde was ons
onherroeplik
in mekaar gewees

Die gedigte in Jannie Malan se stewige (127 bladsye, 85 gedigte) en digte debuut getuig van ’n ingeligte, belese en deeglike leser, en van ’n selfkritiese skrywer. Dit is gedigte wat die intensiteit van leef en beleef in die branding daarvan benoem, maar dit terselfdertyd met die wete van alledaagse werklikheid, voorlopigheid en verganklikheid temper met die wete van alledaagse werklikkheid, van voorlopigheid en van verganklikheid. Dit in ligte laaie op laat gaan.

Literatuurverwysings

Botha, F., 2011, Donkerkamer, Queillerie, Kaapstad.

Du Plooy, H. & Marais, L. (samest.), 2013, Nuwe stemme 5, Tafelberg, Kaapstad.

Marais, D. & De Goede, R. (samest.), 2010, Nuwe stemme 4, Tafelberg, Kaapstad.

Müller, P., 2002, ‘Skemergesprek’, Die aandag van jou oë: Gedigte vir die liefde, bl. 24, Tafelberg, Kaapstad.

Footnotes

1. Die eerste (en tot op datum, Februarie 2017, verder enigste ander) solodebuut uit die geledere van die Nuwe stemme 4-digters, was Fourie Botha (2011) se Donkerkamer – wat ook gedigte bevat uit die tydperk van sy MA in Kreatiewe Skryfkuns, Universiteit van Kaapstad.

2. Die ander drie debuutbundels in 2014 is Assignaat (Willem Krog), Gordel (Adrian Coetzee) en Leiboom (Eunice Basson). Van Willem Krog het vroeër ’n roman verskyn, Adrian Coetzee se gedigte is opgeneem in Nuwe stemme 5 (Du Plooy & Marais 2013) en Leiboom was deel van Basson se MA in Kreatiewe Skryfkuns, UP.

3. Vergelyk die kunsteoretiese uitspraak in Petra Müller (2002:24) se gedig ‘Skemergesprek’: ‘jy sal dik stukke poësie kan opruim / uit die see se geklaag vanaand, en die puin’.



Crossref Citations

No related citations found.