Book Review

Waar die oog van stil word ‘loop die hart van […] vol’

Book Title: Waar die oog van stil word

Author: Ilse van Staden

ISBN: 978-1-4853-0605-4

Publisher: Protea Boekhuis, 2016, R150*

*Book price at time of review

Review Title: Waar die oog van stil word ‘loop die hart van […] vol’

Reviewer:
Anné Engelbrecht1

Affiliation:
1Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa, South Africa

Corresponding author: Anné Engelbrecht, engela@unisa.ac.za

How to cite this book review: Engelbrecht, A., 2017, ‘Waar die oog van stil word “loop die hart van […] vol”’, Literator 38(1), a1345. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1345

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Ilse van Staden se derde digbundel waar die oog van stil word (2016) het onlangs by Protea Boekhuis verskyn. Van Staden is ’n ervare woordkunstenaar – haar debuutbundel, Watervlerk (2003), is met die Ingrid Jonkerprys en die Eugène Marais-prys bekroon, en Fluisterklip (2006) is meestal goed ontvang. Benewens die digbundels het sy ook reeds ’n bundel kortverhale, Tafel vir twee (2009), en ’n roman, Goeie dood wat saggies byt (2016), gepubliseer.

Kyk ’n mens na die omslag van die bundel, val die woord ‘stil’ jou dadelik op. Dié woord in wit letters staan uit teen die res van die titel in swart. Die verwagting word geskep dat stilte as ’n tema in die bundel gaan figureer. Die stilte word reeds deur die stemming van die bundelomslag gekommunikeer.

Die digter stel die tema van ‘stilte’ met die heel eerste gedig aan die orde. In ‘oopmaakgedig’ (bl. 7) verklap die spreker hoe moeilik dit is om die kern van ’n droom in ’n gedig weer te gee:

snags loop die hart van woorde vol
wat met wakkerword verdwyn,
die sagte potloodlyn van drome
gewis tot vuilerige merke van grafiet,
mompelings wat op die lippe stol […]

Voorbeelde van ander gedigte waarin stilte as tema figureer, sluit in die gedig ‘as’ (bl. 11) wat gaan oor die verlies van ’n geliefde en die leemte wat dit laat: ‘ek werp my teen die berge / die stilte eggo terug’. ‘Patrone van stilte’ (bl. 30) vertel meer oor die ruimtes: ‘waarom mure plekke van stilte is / waarom stiltes patrone maak op matte / die skemer duur en duur deur geel glasruite / geriffelde lig in glas gestol’. Die titelgedig, ‘waar die oog van stil word’ (bl. 31), beskryf deur ‘stilgevriesde stilte’ die waarnemingskrag van die oog:

so word ’n oog stil alomstillend,
uit gedistilleerde stilte gefortifiseer
soos brandewyn die brandende lig
en stil-geleerd

oog-omstillend is die stilte ontstellend,
stilte gestel soos ’n wip,
verstelling veronderstel
[…]
stilgevriesde stilte

In ander gedigte gaan dit nie oor woordverwysings nie, maar oor die beskrywing van situasies wat die leser van ’n atmosfeer van stilte bewus sal maak, soos in ‘oggendlig’ (bl.8), waarin die spreker vertel hoe sy wakker word terwyl dit pas begin lig word: ‘… dis net-net dag, / ’n stadige bewuswording van tyd se asemteue. / die slapelose ure word helder’, en ‘Berg’ (bl. 12) waarin die spreker vertel hoe sy nie die moed gehad het om ’n afgestorwe geliefde se as oor die berg uit te strooi nie.

Die feit dat daar byna geen hoofletters in die bundel gebruik word nie, dra by tot die tema van stilte in die bundel. Die gedigte is ook baie kort, in die meeste gevalle nie langer as ’n halwe bladsy nie. Kyk byvoorbeeld na ‘buidel’ (bl. 17), ‘tyd as die oog van ’n naald’ (bl. 29), ‘bloekoms’ (bl. 47) en ‘abstrakte skildery’ (bl. 56). Dit veroorsaak dat stilte effektief deur ‘wit spasie’ in die bundel voorgestel word.

Maar, vra ’n mens jou af, is dit werklik moontlik om stilte deur woorde weer te gee? Stel woorde dan nie júís klanke voor nie? Van Staden begryp hierdie paradoks alte goed en antwoord daarop in haar slotgedig, ‘slotsom’ (bl. 57):

die see probeer ek met woorde weergee
en die stilte ook
hoe pervers –
daar’s geen woorde in die see nie
en geen stilte in ’n vers!

Hoewel stilte as die hooftema van die bundel beskryf kan word, kom ander temas ook daarin voor. Een daarvan is die verwerking van verlies en afskeid van die bekende waarvan daar in ‘middernag’ (bl. 10), ‘as’ (bl. 11), ‘berg’ (bl. 12) en ‘woestuin’ (bl. 13) gelees word. Die teendeel van stilte, naamlik lawaai, kom ook aan bod. In ‘Dertien kraaie’ (bl. 54), die digter se antwoord op Wallace Stevens se beroemde werk ‘Thirteen ways of looking at a blackbird’, lees ons van kras en krakende / kraai’; ‘cry baby cry’, ‘hoor ek kraaie taktloos in tale kraak’ en ‘kakofonie’. Alles woorde wat op ’n geraas dui.

Die bundel is deeglik afgerond, maar iets wat wel steurend op die lees daarvan inwerk, is die (oormatige) herhaling van sommige woorde. In ‘sikloon’ (bl. 52) word ‘oog’ byvoorbeeld vyf keer herhaal, ‘blik’ twee keer en ‘kyk’ twee keer. In ‘vier-en-twintig swart voëls’ (bl. 53) is dit weer die woorde ‘swart’ wat ses keer en ‘skel’ sewe keer herhaal word. Die bedoeling is waarskynlik om met dié woorde patrone te skep wat die betrokke gedigte dan weer by ander laat aansluit. Vir my voel dit egter effe oordoen.

Afgesien hiervan getuig Waar die oog van stil word van ’n vaardige digtershand. Van Staden stel beslis nie teleur nie. Die gedigte is onopgesmuk en sonder sentimentaliteit. Hulle is kort en hoofsaaklik in die vryeversvorm. Elke gedig dra by tot die bundel as geheel en die wyse waarop daar van een gedig na die volgende, en ook van een tema na die volgende oorgegaan word, versterk die eenheid daarvan. Die eenvoud van die omslagontwerp en die duidelik leesbare tipografiese uitleg dra by tot ’n produk van topgehalte wat vir die fynproewer én lekkerlees-leser beslis die lees werd sal wees.



Crossref Citations

No related citations found.