About the Author(s)


B.J. Odendaal Email
ATKV School for Creative Writing, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Citation


Odendaal, B.J., 2016, ‘Twee gedigte’, Literator 37(1), a1232. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1232

Litera

Twee gedigte

B.J. Odendaal

Published: 11 Mar. 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

sehnsucht

verlange nie van hier en nou eens naby nie
beur uit die nes van jou omhelsings aartsverlater sy
    reikhals swaanmooi
heen ’n trekvoël nie van hier nie nou of
digby nie

 

haar hunker-
sug
hang windstilswaar daar waar sy weggefletter het
      uit die geknak-
        te takelwerk van
        spookskip lengte-van-dae

 

jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis
maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid
jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)

 

dan kom daar poskaarte uit vanouds van gunter af
jou kop glip naweke weg kantien toe op vergesog na
    hotel afgeleef op êrens
weke wil jy vort jy wil hoor sy wás daar ja ge-hitchhike
    glo of ysterperd gery
dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories
    weet te verkoop

 

jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het
bedeloos
omwille luisterryke swyes

 

in ’n lughawe se vertreksaal
teen hoë digte vensters langs
iewers aan die einde van ’n somer
volg jou oë om en om die onbegonne trekswaelvlug

 

in tale aan die kwyn haastig of langsamerhand reis jy
    verslangs
onweerstaanbaar toe na digterby en raakgesê
        maar sy is soek in elke gedig

 

verseindes skiet te kort immer sy weet dat eindes
    eintlik oop
soos einders is waar jy ’n sin wil toeknoop by die punt
    daar glip
verlange

 

uit

 

jul skandekind ontdek jy op ’n dag dool
in jou voortuin rond kaal en maer huil-huil
hier nou

Straatmuse

      Wink-
      of wuifbe-
      wegings
anderkant die multilaan-sakestraat
val jou by koerantkoop in
die oog.
Appèl aan jou? Of iemand wat na
jou wil kom?
Jy sien stuk-stuk deur die drukke huistoegaanverkeer die
        wink- of wuiwery,
      geroep en -lonk en -mik
      tot wanhoop toe …
      dat sy (dis tog ’n sý?) gaan
      moed verloor …

 

en jý rek die nek
en soek die deurkomkans, linksom langs, of
    regs, na oorkant waar sy was,
jy merk iets verlangs straat-af
  soos ’n metafoor
    – die oorbrug van ’n gedig –

 

en veg en vleg dié ompad oop,
  trippel trappe op
    en trappe
      af
    om oorkant aan te land.
    In die maling van gelate op
      amptenaredrag

 

duik praggrimeersel op, hier, daar, met
    kokette
wenkbrouvraag, en skuif die lok-kledy
(onvermy-
delik – ou cliché – die skynverhulde dy)
oop … Ligtekooiverleiding bloot.
Aandskemer bly: ou filmrol wat stol,
brandvlek. Maar gelding stu. Iets wil
      soos beursie in jou broeksak bultmaak; en
      jy kyk nog om

 

oorkant toe: na hoe ’n jy daar staan,
dagbladlesend in ’n bushalte-ry,
aldagbenullig, kop wat huis toe staan,
sonder waan oor waar gelonk heen lei.



Crossref Citations

No related citations found.