Boekresensie
Sirkels op ’n oorbekende werf
Book Title: Skadu oor die sonwyser
Author: Kobus Lombard
ISBN: 978-1-4853-0302-2
Publisher: Protea Boekhuis, 2015, R150*
*, Book price at time of review
Review Title: Sirkels op ’n oorbekende werf
Reviewer: Willem Anker1
Affiliations: 1Department of Afrikaans and Dutch, University of Stellenbosch, South Africa
Corresponding author: Willem Anker, anker@sun.ac.za
How to cite this book review: Anker, W., 2016, ‘Sirkels op ’n oorbekende werf’, Literator 37(1), a1213. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1213
Copyright Notice:
© 2016. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Skadu oor die sonwyser is Kobus Lombard se vierde poësiebundel, almal uitgegee deur Protea Boekhuis. Die voriges heet Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010).
Lombard betree hier dieselfde tematiese werf as in sy vorige bundels. In kort vrye verse (net met uitsondering langer as 12 reëls) sirkel hy om die Namibiese landskap, die Christelike geloofslewe, die skryf van poësie, die weeskindverlede, nostalgiese terugblikke, wranger herinneringe aan die weermag, en, soos die titel wil suggereer, die vervlietendheid van tyd en oud word.
Wanneer die leser ná ’n eerste lees terugkeer na die bundel, val die gedig ‘Tregtering’ (bl. 19), op:
word my dae te skraal om ’n huis te bou tel ek die stene in my kamer se muur raak my treë te kort om die planeet te oorspan sirkel ek net nouer op my eie werf
my oë is te moeg vir ongeleesde boeke dit soek bloot die streling van oorbekende woorde
Hierdie bekentenis deur die spreker is ’n eenvoudige, nostalgiese vers oor oud word, en op vormlike en inhoudelike vlak dus tekenend van die bundelgeheel. Die gedig vra egter ook ’n belangrike vraag oor die bundel self: Alhoewel die spreker se moeë oë nie meer kans sien vir ‘ongeleesde boeke’ nie, is dít nie miskien juis waarna ’n poësieleser sug wanneer ’n bundel aangeskaf word nie? Is die funksie van poësie nie miskien juis ’n talige wakker skud uit die ‘streling/van oorbekende woorde’ nie? Vir hierdie leser is dit wel. Gee dit nie juis in afgematte oë ’n hernude glinster wanneer hulle ’n gedig teëkom wat die ‘oorbekende’ wêreld oombliklik nuut maak nie? Hiermee bedoel ek geensins dat goeie poësie kompleks of ‘moeilik’ moet wees nie. Daar is niks kompleks of groots aan ’n beiteltjie nie, maar as dit skerp is, en sekuur tref, weet ons almal wat dit kan vermag.
Die digter is vroeër geprys vir die pretensielose eenvoud van die gedigte, en ook in hierdie nuutste bundel is dít die gedigte se beste eienskap. Die eerste reëls in ‘Wag-’n-bietjiebos’ (bl. 27) – ‘haak-en-steek/word digter/al dieper in’ – getuig van wat hierdie digter kan vermag met die eenvoudigste stellings. Ongelukkig interpreteer hy dan sy eie beeld in die twee strofe.
Buiten bogenoemde voorbeeld, is daar ook ander mooi oomblikke in die bundel, soos waar die ‘motors in die grootpad/van afspraak na migraine jaag’ (bl. 75) of waar die spreker in ‘Digterspel’ (bl. 48) ‘vergeefs’ soek na ’n taal ‘wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te begrawe’.
Talle gedigte, wat soms vondste van onderbeklemtoning kon gewees het, ly egter skipbreuk weens die deurlopende gebruik van clichés. In kort verse wat aanspraak maak op gestroopte, onopgesmukte eenvoud en eerlikheid, struikel die leser oor enige geykte uitdrukking, en in Sonwyser is daar te veel. Frases soos ‘ragfyn drade’ en ‘lense’ wat ‘verdof’, belemmer byvoorbeeld ’n gedig soos ‘Kantgordyn’ (bl. 17) wat ’n mooi vers kon gewees het oor die veranderende perspektief wat oud word bring. Die ‘grys beton’ (bl. 23) of ‘koue grys’ (bl. 79) van stede, ’n vlam wat ‘ligvoets […] dans’ (bl. 25), wind wat ’huil om die hoeke van my huis’ (bl. 28), en die ‘vensters van jou oë’ (bl. 84) is enkele verdere voorbeelde van hebbelikhede wat gedigte op die rotse laat loop. Gedigte word ontneem van impak wanneer hulle (sonder ironie) afgesluit word met reëls waarin die liggaam ‘slegs ’n aardse woning is’ (bl. 15), ‘die angel van die dood besweer’ word (bl. 25), of ‘’n doodse stilte’ neerdaal (bl. 28). Wanneer ’n geykte frase soos ‘klink ’n glasie’ (bl. 77, 80) voorkom in twee gedigte wat handel oor dieselfde tema – om te eet in restaurante wat bedryf word in polities gelade ruimtes – moet die redakteur met ’n skerp skêr inspring.
Buiten om die taal te stroop van geykte uitdrukkings, kan Lombard in die toekoms ook meer let op die vormlike aspekte van poësie. Hier word nie veel gedoen met ritme of klank nie. Met ’n bewustheid van die vormlike aspekte bedoel ek ook nie tipografiese truuks nie, soos waar ’n plaat:
in die rondte
draai
en draai
en draai’ (20).
Vir liefhebbers van eenvoudige verse wat bevestigend en herkenbaar op die oor val, sal die bundel welkome leesstof wees, maar die avontuurlustige leser wil vir Lombard aanraai: ‘Gaan lees daardie “ongeleesde boeke”. Lees ander digters. Lees wyd. Kyk wat die poësie kan doen. Kyk wat reeds gedoen is.’
|