Article Information

Author:
Heilna du Plooy1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, South Africa

Correspondence to:
Heilna du Plooy

Email:
heilna.duplooy@nwu.ac.za

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article:
Du Plooy, H., 2014, ‘Inleiding – Die idiolek van 'n skrywer’, Literator 35(2), Art. #1156, 3 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i2.1156

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Inleiding – Die idiolek van 'n skrywer
In This Preface...
Open Access
Inleiding
Literatuurverwysings
Inleiding

Hierdie uitgawe van Literator word gewy aan die idiolekte van skrywers, 'n verskynsel wat ook beskryf word as skrywersidentiteit en wat te make het met die unieke en eiesoortige, die kenmerkende styl en die stilistiese en tematiese merkers in die oeuvre van 'n bepaalde skrywer. Idiolektiese verskynsels in taalgebruik kan vanuit verskillende hoeke benader word, onder meer vanuit die filosofie, die linguistiek en die literêre teorie, en daar kan aanvaar word dat die verskillende benaderinge tot die verskynsel mekaar wedersyds beïnvloed, en dus onderskei maar nie geskei kan word nie. Daarom vind 'n mens dat in die meeste idiolektiese studies daar verwys word na letterkundige sowel as linguistiese bronne en dat daar van werkwyses uit verskillende dissiplines gebruik gemaak word (vgl. Coulthard 2004).

In 'n artikel ‘Whose language is it anyway? Some notes on idiolects’ in The Philosophical Quarterly, omskryf Alexander George (1990) idiolek soos volg: ‘The idiolect of an individual is an abstract entity to which he or she is in a special relation, namely the relation is the language of.’

George (1990:275–277) kwalifiseer hierdie ‘taal van 'n persoon’ deur te stel dat dit slegs gedeeltelik geïdentifiseer kan word. Volgens George sluit 'n idiolek sintaktiese, semantiese en fonologiese eienskappe in sodat dit wel gaan oor 'n grammatika, maar dit beslis nie die psigogrammatika van 'n bepaalde individu is nie, want 'n idiolek vertoon onvervreembaar steeds 'n grammatika wat kommunaal of kollektief gebruik en verstaan word. Verder maak hy duidelik dat idiolekte aangepas word na gelang van die gehoor en omstandighede sodat hulle nooit onveranderlik of absoluut vas is nie. Op dieselfde manier bepaal die konteks die idiolek, asook die kommunale taal waarmee dit in verband staan. Volgens George is alle idiolekte deelvisies van 'n kommunale taal, en die gedeelde taal is die abstrakte maar ook veranderlike norm, wat slegs relatief konstant is. Linguistiese kompetensie funksioneer dus binne 'n sfeer waarin geleende elemente, historiese oorblyfsels, nuutskeppings rondom 'n kerngrammatika saamklont, maar verskillende mense gaan op verskillende maniere hiermee om.

In die idiolektiese taalgebruik van individue, maar ook van skrywers, gaan dit dus om sowel die idiosinkratiese gebruik van taal as die afhanklikheid van 'n gedeelde taal wat as norm op alle taalgebruik inwerk (Giunte 2002; Louwerse 2004). Volgens Coulthard (2004:1) gebruik elke moedertaalspreker 'n onmiskenbare en individuele weergawe van die taal om te praat en skryf, dus 'n eie idiolek, en Max Louwerse (2004:1) beskryf idiolekte as ‘persoon-afhanklike ooreenkomste in taalgebruik’. Louwerse (2004:4–5) bied dan vier hipoteses aan wat as uitgangspunte in die omskrywing van idiolektiese verskynsels kan dien:

  • Linguistiese verskynsels in tekste, geskryf deur een outeur, sal ooreenstem maar sal verskil van 'n ander outeur se skryfwerk.

  • Die taalgebruik van manlike en vroulike skrywers sal verskil op grond van wat beskryf kan word as sosiolektiese genderverskille.

  • Die historiese ontstaanstyd merk tekste deur middel van die sosiolektiese eienskappe van 'n historiese periode, daarom moet sinchroniese sowel as diachroniese aspekte in die bestudering van idiolekte in ag geneem word.

  • Strominge wat in die filosofie en die literatuurgeskiedenis beskryf en afgebaken kan word, soos byvoorbeeld die modernisme of die postmodernisme, beïnvloed sowel die kollektiewe as die individuele styl van mense se taalgebruik. Veral in die literatuurstudie is dit uiters belangrik.

Tans word daar in die korpuslinguistiek groot hoeveelhede data versamel wat idiolektiese verskynsels beskryf en die analise daarvan moontlik maak. Hierdie navorsing is uiteraard ook van groot belang op die terrein van die forensiese linguistiek. Sosiale veranderlikes (ouderdom, sosiale stand, geslag, etniese veranderlikes en dies meer), die variëteite van 'n taal, die sosiolinguistiese variasie waarin woordkeuses, uitspraak en idiome na gelang van die sosiale situasie gebruik word, is onder meer merkers wat in ag geneem word in hierdie korpusversamelings. Spesifieke linguistiese aspekte, soos die fonetiese, morfologiese en grammatikale, sowel as diskursiewe eienskappe en pragmatiese prosedures word ook sinchronies sowel as diachronies bestudeer in idiolektiese ondersoeke.

Wanneer dit kom by die literêre bestudering van idiolekte is daar 'n geweldige verskeidenheid van moontlikhede. Vanselfsprekend sal die kategorieë wat linguisties beduidend is ook in literêre studies direk of indirek as uitgangspunt dien, maar daarby kom die feit dat literêre taalgebruik doelbewus vervreemdend werk, dat skrywers op verskillende maniere die taal se moontlikhede ontgin en selfs forseer om nuwe betekenis te genereer. Ondersoeke wat gerig is op die beskrywing en interpretasie van idiolektiese verskynsels kan onder meer op die volgende terreine gedoen word:

  • Alle aspekte wat as literêr beduidend beskou word, kan bestudeer word in die oeuvre van 'n bepaalde skrywer om die skrywer se vingerafdruk, die eiesoortige en kenmerkende eienskappe van sy skrywerskap te beskryf, te analiseer, te interpreteer en te vergelyk met dié van ander skrywers. Sulke aspekte kan insluit enigiets van genre en taalgebruik tot tematiek, maar historiese plasing, die deelname aan of invloed van literêre stromings, asook ideologiese en filosofiese paradigmas bepaal dikwels die skrywer se eiesoortige styl en moet altyd betrek word in die proses wat daarop afgestem is om uitsprake oor 'n skrywer se idiolek te maak (Barchas 2007; Burrows & Craig 2012; Lancashire 1997, 1999).

  • Daar kan 'n korpus opgebou word van aspekte van 'n skrywer se werk, hetsy na aanleiding van die woordeskat, die sinsgebruik of hantering van paragrawe en hoofstukke. Die nuwe ontwikkelinge binne die sogenaamde digitale humaniora, waarvolgens rekenaarprogramme ook geskryf kan word om bepaalde literêre verskynsels te vind, aan te dui en te kwantifiseer, bied hier groot moontlikhede. Die gekwantifiseerde gegewens bied nie noodwendig op sigself antwoorde nie, maar verskaf groot hoeveelhede data vir interpretatiewe gevolgtrekkings. Met verdere ontwikkelinge en verfyning van programmatuur is hier eindelose moontlikhede. 'n Gespesialiseerde korpus waarin die frekwensie van verskynsels aangedui word (hetsy linguisties gerig op leksikale patroonmatighede soos 'n voorliefde vir bepaalde woordsoorte en sleutelwoorde, op grammatikale patrone soos sinspatrone en herhalende sintaktiese frases of op semantiese en tematiese strukture), kan dit moontlik maak en selfs maklik maak om konkordansies op te stel vir skrywers. Maar baie digitale studies fokus op die identifisering van outeurskap, deur middel van korpusanalises van tekste, en hierdie werk is van groot forensiese belang (Juola 2008; Love 2002; Oberlander & Nowson 2006; Solani & Tiersma 2004).

Daar bestaan baie publikasies vanaf die sewentigerjare tot nou oor die idiolektiese verskynsels in linguistiese of literêre sin. In die lys verwysings onderaan hierdie inleiding kan 'n klein reeks voorbeelde van hierdie studies gevind word. In dié uitgawe van Literator verskyn daar egter ook ses artikels waarin die idiolekte van skrywers ondersoek, beskryf en beoordeel word.

Hierdie artikels is die produk van 'n projek wat onderneem is deur navorsers in die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Die navorsing het voortgevloei uit voorafgaande projekte oor die representasie van identeit in literêre tekste, die verhouding tussen identiteit en ruimte, grense, grensoorskryding, liminaliteit en hibriditeit. Waar daar in vorige projekte hoofsaaklik tematies en stilisties gekyk is na die representasie van politieke, kulturele en ideologiese identiteit in individuele en kollektiewe sin, sowel as na die grens- en randverskynsels wat daarmee gepaardgaan, gaan dit in hierdie projek om die identiteit van die skrywer as skrywer. Dit het dus te make met, in 'n ietwat ouer idioom, die abstrakte outeur, die beeld van die skrywerspersoonlikheid wat uit sy werke na vore kom of daardeur tot stand gebring word.

Die eerste artikel ‘Achieving Form in Autobiography’ deur Nicholas Meihuizen gaan oor die stilistiese uniekheid van belangrike outobiografieë. Deur gebruik te maak van die insigte van kontemporêre stilistici en formaliste soos Peter McDonald en Angela Leighton, sowel as rigtinggewende insigte van ouer teoretici en skrywers soos P.N. Furbank and Willa Cather, herbeklemtoon Meihuizen die teorie rondom die stelling dat daar altyd noukeurig kennis geneem moet word van vorm as 'n belangrike en selfs bepalende aspek van die generasie van betekenis, d.w.s. in die semiologie, van outobiografieë. Dit gaan nie om vaste kategorieë of 'n maatstaf wat aangelê word nie, juis nié, maar om 'n bewustheid van die belangrikheid van die formele en strukturele eienskappe van outobiografieë.

Waar Meihuizen se artikel essayisties oor die teorie van vormlike en strukturele aspekte handel, werk Hein Viljoen eerder op die mikrovlak van die teks en ondersoek hy die gebruik van negativering in die oeuvre van Elisabeth Eybers. Die artikel ‘Die choreografie van ontwyking: Die krag van negativering by Elisabeth Eybers’ is gebaseer op 'n breed opgesette studie waarin 'n groot korpus van negatiewe taalvorms in Eybers se oeuvre geïdentifiseer en hermeneuties ondersoek is. Dit gaan om woorde, voor- en agtervoegsels en frases wat die negatief of afwesigheid aandui soos in on- en ont-, sonder en -loos. Viljoen kom tot die gevolgtrekking dat Eybers negatiewe vorms, oftewel negativering, gebruik om 'n alternatiewe wêreld te skep. Volgens Viljoen is die verwoording van hierdie ‘negativerende’ posisie, sowel as die siening van die werklikheid in terme van ontwyking, 'n weerspieëling van Eybers se digterlike ingesteldheid en dus van haar poëtika as digter.

Betsie van der Westhuizen se bydrae ‘Bome groei tot lewensvisie in die idiolek van Elsabe Steenberg’ toon aan dat Steenberg se oeuvre gekenmerk word deur 'n bepaalde lewensvisie of lewens- en wêreldbeskouing. Hierdie siening van die lewe en die werklikheid, naamlik dat God die Oorsprong van alles en die uiteindelike herskeppende Krag is, is volgens Van der Westhuizen so sterk in Steenberg se hele oeuvre dat dit as 'n bepalende idiolektiese eienskap beskou kan word. Aan die hand van die sleutelteks Boom bomer boomste (1980), maar ook deur middel van verwysing na baie ander tekste, toon Van der Westhuizen aan dat die lewensbeskoulike inderdaad die samebindende tema in Steenberg se hele skrywersidentiteit is.

In die artikel ‘Everything is autobiographical’: Hans-Ulrich Treichel's idiolect in Lost (1999)’ word die verhouding tussen outobiografiese materiaal en 'n oënskynlik fiksionele teks, soos wat in Treichel se werk meermale die geval is, bespreek deur Philip van der Merwe. Treichel gebruik humor en verkies 'n ligte aanslag in sy romans, maar in werklikheid werk hierdie stilistiese tegnieke baie effektief om op paradoksale wyse die erns van intense trauma indirek aan die orde te stel. Van der Merwe toon aan hoe Treichel deur die inkorporering van outobiografiese en historiese materiaal 'n spel speel met die offisiële en die karnavaleske en so, met verwysing na Milan Kundera, 'n kombinasie bewerkstellig tussen ‘frivolous form’ en 'n ‘serious subject’. Volgens Van der Merwe is dit 'n sterk en kenmerkende idiolektiese aspek van Treichel se werk.

Susan Meyer doen gespesialiseerde navorsing op die terrein van die ekokritiek en in hierdie artikel ontgin sy die verhouding tussen mens en aarde as 'n deurlopende tema in die prosatekste in Petra Müller se oeuvre. Meyer fokus dus op die manier waarop Müller haarself inskryf in die verhale deur 'n tegniek wat as ‘ingeplaaste skryf’ bekend staan, dit wil sê dat die outeur van die verhaal sensories, emosioneel en intellektueel bewus is van die self en die plek wat fisiek deur die outeur in beslag geneem word in die verhaal. Hierdie eienskap van Müller se verhale, dat naamlik die liggaam van die skrywer bewustelik in die beskryfde wêreld inpas, word aan die orde gestel as 'n idiolektiese eienskap van Müller se prosa-oeuvre. Drie kortverhaalbundels, Werf in die rûens (1980), Voëls van die hemel (1982) en In die omtes van die hart (1985), word deur Meyer gebruik om aan te toon hoe fyn Müller ingestel is op die ‘wonder van die gewone’ en hoe daar dus uit haar werk 'n sterk ekosentriese ingesteldheid na vore kom.

In die laaste artikel in hierdie uitgawe ‘Op de wijze van Kavafis: Die voorbeeld van die digter uit Alexandrië’ maak Phil van Schalkwyk die Griekse digter Kavafis, oor wie nog baie min in Afrikaans geskryf is, deel van die gesprek oor die idiolek van skrywers. Van Schalkwyk wys op die uitgebreide invloed van Kavafis op anderstalige digters, spesifiek ook in Afrikaans en veral in Nederlands, maar meer nog, internasionaal bekende en beroemde skilders soos David Hockney gee ook erkenning aan die invloed van Kavafis se poësie op hulle werk. 'n Kwessie wat W.H. Auden onder meer geboei het, was dat Kavafis se werk selfs in vertaling geen trefkrag verloor nie. Van Schalkwyk verwys daarna dat Kavafis se gedigte oënskynlik min metaforiek bevat, maar omdat hy die spreektaal op 'n unieke manier gebruik en verstandelike beheer behou oor (persoonlike) ervaring/onderwerp én digterlike teks, word die gedig as geheel metafories. Daar word in die artikel spesifiek aandag gegee aan Kavafis se invloed op die Nederlandse digter Hagar Peeters. Ten slotte vind Van Schalkwyk die idiolektiese kern van Kavafis se oeuvre in sy vermoë om die verband tussen woord, emosie en wysheid telkens opnuut uit te lig en te demonstreer.

Literatuurverwysings

Barchas, J., 2007, ‘Very Austen: Accounting for the Language of Emma’, Nineteenth-Century Literature 62(3), 303–338. http://dx.doi.org/10.1525/ncl.2007.62.3.303

Burrows, J. & Craig, H., 2012, ‘Authors and characters’, English Studies 93(3), 292–309. http://dx.doi.org/10.1080/0013838X.2012.668786

Coulthard, M., 2004, ‘Author identification, idiolect, and linguistic uniqueness’, Applied Linguistics 25(4), 431–447. http://dx.doi.org/10.1093/applin/25.4.431

George, A., 1990, ‘Whose language is it anyway? Some notes on idiolects’, The Philosophical Quarterly 40(160), 275–298.

Giunte, E., 2002, Writing with an accent: Contemporary Italian American women authors, Palgrave, New York.

Juola, P., 2008, Authorship attribution, NOW Publishers, Boston.

Lancashire, I., 1997, ‘Empirically determining Shakespeare's idiolect’, Shakespeare Studies 25, 171–186.

Lancashire, I., 1999, ‘Probing Shakespeare's idiolect in Troilus and Cressida’, Toronto Quarterly 68(3), 728–768. http://dx.doi.org/10.3138/utq.68.3.728

Louwerse, M., 2004, ‘Semantic variation in idiolect and sociolect: Corpus linguistic evidence from literary texts’, Computers and the Humanities 38, 207–221. http://dx.doi.org/10.1023/B:CHUM.0000031185.88395.b1

Love, H., 2002, Attributing authorship. An introduction, Cambridge University Press, New York/Melbourne. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511483165

Oberlander, J. & Nowson, S., 2006, ‘Whose thumb is it anyway? Classifying author personality from weblog text’, Proceedings of the COLING/ACL 2006 Main Conference Poster Session, July, 2006, pp. 627–634. http://dx.doi.org/10.3115/1273073.1273154

Solani, L. M. & Tiersma, P.M., 2004, ‘Author identification in American courts’, Applied Linguistics 25(4), 448–465. http://dx.doi.org/10.1093/applin/25.4.448



Crossref Citations

No related citations found.