Vertel, vertel!
Book title: Vertel, vertel!
Author: Dot Serfontein
ISBN: 978-1-4853-0002-1
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, ZAR165.00*
*, Book price at the time of review
Review Title: Vertel, vertel!
Reviewer:
Marlies Taljard1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, South Africa
Email: marlies.taljard@nwu.ac.za
Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Taljard, M., 2015, ‘Vertel, vertel!’, Literator 36(1), Art. #1145, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v36i1.1145
Copyright Notice:
© 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die afgelope vier jaar het verskeie van Dot Serfontein se verhaalbundels ’n herdruk beleef. Een daarvan is Vertel, vertel! waarvan die eerste druk in 1995 verskyn het en ‘n heruitgawe pas die lig gesien het.
Soos altyd is Dot Serfontein herkenbaar aan die vertelstyl van ‘n gesoute joernalis wat in kleurryke taal aan die woord is. Haar taalgebruik is robuust en pittig, dog met die vermoë om te ontroer en selfs om epifaniese oomblikke uit te beeld, soos wanneer die verteller in die verhaal ‘Jood’ vertel hoe hy op gevorderde ouderdom die eerste keer ware liefde leer ken het: Besef jy, mens, dat daar iets soos ‘n vuur deur my trek, iets van die braambos op die berg, iets van die bloedlaat van offerdiere, iets van die geblêr van ‘n ramshoring. Of, wie weet, die oer-influisteringe van afgode, die swartmag van Astarte onder die groen bome. (bl. 190)
Serfontein se vertellings sluit aan by die orale tradisie; trouens, sommige verhale gee voor om direkte transkripsies van die verhale van ander vertellers te wees. Dit is meestal gebaseer op lokale anekdotes en as sodanig kry die leser ‘n kykie op die kulturele en sosiale identiteit van die middelklas-Afrikaner van die Noord-Vrystaat uit die dekades na die Tweede Wêreldoorlog. Die taalgebruik wat naby die spreektaal beweeg en wat met slêng en anglisismes deurspek is, het ‘n belangrike karakteriserende funksie. Só praat oom Michiel Bender in ‘Treinrit’: ’n Uur later is ons terug op Jermisten se stasie. En lat ek nou vir jou sê, ons is nie al wat teëspoed gehad het op hierdie Iester wiekend nie. Die stasie is net so gepak soos die vorige keer. En die Vrystaat se trein staan daar soos ‘n ou ooi wat die jakkalse beet het. Hulle veg. Honderde mense veg om op hom te kom. (bl. 77)
Die hoofkarakters rondom wie die verhale opgebou is, is meestal gewone mense wat te staan kom voor die uitdagings van die middelklasbestaan soos geld, die reëls en norme van die samelewing en die huwelik. Die temas wissel van godsdiens, armoede, menslike swakhede, oorlog, vriendskap en liefde tot feminisme en bewustheid van astrale fenomene. As sodanig sluit die verhale aan by ‘n tradisie van realistiese kortkuns wat laat in die negentiende eeu in Europa in die mode was. Serfontein se karakters is dikwels aards en word humoristies uitgebeeld sonder om simpel of dwaas te wees. Hulle beskik in baie gevalle oor die vermoë om deernis by die leser te wek, hoewel daar by min van hulle ‘n ware kentering voorkom. Een van die min hoofkarakters wat wel daadwerklike karakterontwikkeling toon, is Willem Olivier in die verhaal ‘Poeding’. Die aanvanklik tranerige, beteuterde, vet seuntjie wat op skool Poeding genoem word, verander voor die oë van sy ouers wat hom op ‘n streng dieet plaas in ‘n boelie wat klein seuntjies se toebroodjies afvat en die prente uit sy pa se ensiklopedie uitknip om aan sy maats te verkoop sodat hy vir homself die dikwielfiets kan koop wat hy belowe is as hy genoeg gewig verloor. Ongelukkig is daar te veel karakters wat blote karikature bly en met wie die leser nie werklik kan identifiseer nie, karakters soos Stephan in die verhaal ‘Dagga’ en die ek-verteller in ‘Goeie dade’.
Die vertellers in die verskillende verhale vertel vanuit verskillende vertelperspektiewe. Eerstepersoonsvertelling is die gewildste wyse van aanbieding. Dikwels kom die eerstepersoonsverteller in sekere biografiese verwysings ooreen met die konkrete outeur. Ander verhale word as raamverhale aangebied waarin die vertelinstansie voorgee om iemand wat as eerstepersoonsverteller optree se verhaal binne haar eie verhaal te inkorporeer. Die meeste verhale word vanuit ‘n redelik naïewe vertellersperspektief aangebied, waarin die moontlikhede van ironie natuurlik soveel groter is deurdat die perspektief van die leser en dié van die verteller van mekaar verskil. Die betreklik ongesofistikeerde vertelwyse wat voorkeur gee aan eerstepersoonsperspektief is egter een van die steurendste aspekte van die boek.
Ook die lang, uitgesponne wyse van vertelling wat eie is aan die orale verteltradisie is minder geslaagd in formele verhale as in mondelinge vertellings. Die meeste verhale sou kon baat vind by strenger redigering sodat die kernverhaal tot sy reg kon kom en oorbodige karakters uitgesny sou kon word. ‘n Verhaal soos ‘Bokkie’ kon byvoorbeeld heeltemal weggelaat word.
Vertel! Vertel! is ‘n bundel kortverhale wat beslis sal aanklank vind by lesers wat agter ‘n goeie storie aanlees, want dit moet gesê word: Dot Serfontein kán stories vertel!
|