Hy skuif sy stoel stadig nader. Die gesleep van die pote laat ander rondom ons kyk wat aangaan. Hy is heelwat leliker as wat ek hom van YouTube onthou; die een oog wat onwillekeurig rondspring is selfs meer vreesaanjaend, so in lewende lywe. Die reuke wat hy saamdra, hou ander weg. Van gister se wyn, wat waarskynlik te lank in die son gestaan en te stadig gedrink is; van sigarette wat brandgemaak en toe doodgegaan het, voordat hulle weer aangesteek is vir nuwe stories; van blare, en houtskoolstoof, en baie ink wat sy hande gevlek het.
Sy hande vroetel eers in mekaar, en dan kruip een stadig oor die kant van my hospitaalbed, huiwer, en kom lê op my een hand – die een met net twee vingers oor, en wat op my bors lê. Die los oog korrel vinnig links, regs, onder- en boontoe, vóór dit saam met die ander een mik, reguit na my – en albei dan vol trane skiet.
Ek reik met die ander arm oor en probeer met daardie hand by hom uitkom, maar die dik verbande oral maak dit moeilik. Hy sit sy ander hand op hierdie tweede arm; en so sit ons die volgende halfuur: arms, hande en verbande vervleg. Ek weet dat dit ’n halfuur geduur het, want êrens het ek weggeraak weens die swaar dosisse medisyne; eers weer wakker toe die stem die einde van besoektyd afkondig.
Sy trane het spore deur sy stowwerige baard geloop, kan mens sien. Hy staan swaar op. Sy hande is die laaste wat los toe hy knik en stadig uitskuifel.
***
Dit kon duidelik nie so voortgaan nie. In die een land na die ander het snuiters met selfone regerings uit die kussings geruk, met ander vervang, en ook húlle laat verstaan wie die septer swaai. Via sosiale media op elke platform denkbaar - van Facebook, Twitter, en blogs, tot die minder bekendes. Dit het die nuwe mega- en mikrofone geword wat uitbasuin wat hulle wil, wanneer hulle wil.
Amerika se regering het reg onder ons oë vir Google gedwing om toegang te gee tot hulle gebruikers se persoonlike inligting; luisterregte verkry onder die voorwendsel van “sekerheidsbelang”. Onder luidkeelse internasionale protes het die Yanks eenvoudig voortgegaan om data en inligting te kam – eers met die oog op moontlike terroristegevare, en later om moontlike opiniebrandpunte te identifiseer. Soos dit tipies met sulke dinge gaan, het die min of meer aanvaarbare redes algaande bedenkliker geword. Skielik kon Big Brother tegelykertyd ’n oog op Al-Qaeda én Batseba hou.
***
Cathy het eerste voorgestel dat ons boeke opgaar. “Ons doen dit in elk geval reeds. Ek het sowat vyf jaar se vooruitlees op my boekrakke. Al wat nou gebeur, is dat ons voorraad opneem van wat elkeen het, en dan baie seker maak dat ons die boeke so wegsteek dat …”
Dit het stil geraak om die tafel op haar stoep. Dis waar ons skryfgroep elke ses weke bymekaar gekom het.
“Kom ons drink ’n toast op skrywers, boeke en vryheid,” het ek in ligter luim bygedra. Stil geraak toe ek die ander se steeds somber gesigte sien. Ons het al voorheen gepraat oor die eerste tekens dat regerings kriewelrig raak oor die impak wat die sosiale media en die vrye pers het. Bespiegel oor waarop dít sou uitloop.
***
Op ons volgende byeemkoms was die atmosfeer selfs somberder. Binne ses weke het die hel losgebars. Wyd en syd het regerings op sosiale media begin toeslaan, ondersoekende joernaliste en “rebellieleiers” gearresteer en vervolg … terwyl die Big Brothers met stink asems lag.
“Bybels. Classics. Ons gunstelinge. Luister, ons is midde-in ’n soort eindtyd.” Cathy het, met kringe onder haar oë, na ons gekyk. Hierdie keer het ek niks gesê nie, net geluister.
Die plan was eenvoudig. Daar was sewe van ons. Cathy het ’n lys van elkeen se “top 10” gemaak. Ek het al baie gespot daaroor dat my lys van tien gunstelingboeke eerder ’n taxi as ’n lys is – daar is altyd plek vir nóg een. Hierdie keer was dit egter ’n doodernstige lysmakery, en my gedagtes het wild rondgehardloop.
Ek het die middag voor my boekrakke gaan staan, en was laataand nog daar. My Steinbecks: East of Eden, Grapes of Wrath … Nee, wag, nie te veel boeke van ’n enkele skrywer nie. Met plek vir net een Stephen King, het ek op Green Mile besluit. Van Le Carré: Little Drummer Girl. Die onvergeetlike Book Thief van Zusak. Shantaram van Gregory David Roberts, en Khaled Hosseini se The Kite Runner. Cormac McCarthy se No Country for Old Men. Dalk sy Border Trilogy? Saam met die onvergeetlike Blood Meridian? Tim Winton se The Riders, en Cloud Street – en wat van Breath! Ondaatje se The English Patient … En van my Afrikaanse rak, Fees. Dan het ek nog nie by een van my nie-fiksieboeke uitgekom nie. Genade, wat van die novelles! River runs through it, Legends of the Fall, Shawshank Redemption … Gou was 20, 30 boeke op mekaar gestapel. Kies jy die wat jy reeds gelees en baie geniet het? Die wat jy meer as een keer gelees het? Of die wat jy nog móét lees?
Met veertig plus boeke voor my op die lessenaar, het ek die ander gebel. Dirk het gehelp met ’n voorstel dat elkeen die tien boeke kies wat die grootste impak op hom of haar gehad het; dan gaan ons na of daar titelherhalings op die lyste voorkom.
Daar was lang debatte, want ons het gou besef dat hierdie 70 boeke ons ganse “biblioteek” kan word. Laataand het ons by die identifikasie van die 70 uitverkore boeke uitgekom; ook besluit hoe ons dit onder mekaar sou verdeel sodat elkeen tien het om die sorg voor te neem, en so ook die risiko verminder dat ons alles op een slag kon verloor.
Ook sou elk een Bybel van sy of haar voorkeur wegsteek, sonder dat deelname hieraan verpligting sou wees. Mý gedagtes het gehink van my oupa se 1933-vertaling Bybel, na verskeie vertalings op my rak, en te ruste gekom op die leergebinde Familiebybel wat die 1953- én 1983-vertalings in Afrikaans sowel as die NIV-Bybel in Engels bevat, aldrie saam in een band.
***
Ek het yskoud geword toe een TV-kanaal na die ander arrestasies van “opstandige aktiviste” begin wys; toe een skrywer en ondersoekende joernalis as vermis gerapporteer word. Veel erger nog was dit toe daar later glad nie meer oor sulke dinge verslag gedoen is nie.
Die grond agter in my tuin was verbasend hard, en ek moes buurman se pik leen. Harde grond; toe kom die dolomietlaag. Eers ’n uur later was die gat diep genoeg; ek pootuit. Ek het die Bybel en boeke saam in hulle plastiekomhulsel in die gat gesit en toegegooi. Bo-oor gehark en vee dat die grawery verdoesel kon word. Toe besluit om die risiko van ontdekking te verminder deur nog gate te grawe – al om die huis. Dit was skemeraand toe ek die laaste gat toegooi en die grond vasstamp. Die volgende dag het ek oral sooie gras bo-oor geplant.
***
Niks kon my egter voorberei op wat daarna op ’n koue Woensdag in Julie sou gebeur nie. Nie die stilword-maar-weet van TV en ander media nie; nie die fluistergesprekke en die aanhoor van hoe die staalband van onderdrukking al stywer om die nek van spraak- en denkvryheid stywer getrek word nie. Nie die meer gereelde “inlintingstukke” waarmee ons regering, en ander s’n, deur middel van verskeie media inbreuk gemaak het op menselewens nie. Nie die opbou van militêre magte op al hoe meer plekke nie. Ja, dit alles het gewys dat ons ’n tyd betree soos daar seker laas tydens die wêreldoorloë van die twintigste eeu was – of selfs nog nooit was nie.
My blog het eers kleiner inskrywings bevat. Te oordeel aan my sosialemedia-platforms het daar ook nie juis veel mense in my gebrabbel belanggestel nie. Maar toe begin ek meer ‘uit die hart’ skryf, en raak al hoe dapperder. My woede oor die ongeregtigheid het meer en meer ruimte op my aanlynskrywes in beslag geneem; met die toenemende terugvoer, het ek ook minder versigtig geraak.
“Dit is waartoe onbeheerste mag lei as niemand ingryp nie.”
“Wag jy rustig op dit wat aan die gebeur is?”
“Kwaad gedy waar Jan en alleman staan en toekyk, staan en wag op …”
“Daar is iets fundamenteels verkeerd as die aktivistiese helde skielik verslaggewers word.”
“Word flippen wakker!”
“30 skrywers binne 30 dae soek!”
“Ons vryheid vir 30 sikkels silwer?”
“Kan jy nog asemhaal in hierdie gestink?”
***
Hulle was netjies aangetrek, maar in hulle optrede duidelik van polisie- of militêre agtergrond. “Ons wil net ’n paar vrae aan u stel; ’n paar dinge uitklaar.” Die besoek was gou verby; ek is laat verstaan dat ek dopgehou word. Góéd dopgehou word.
Op pad uit het die leier omgedraai, sy hand op my skouer laat rus. “U lyk na ’n verantwoordelike persoon – gesinsman en so. Moenie alles onnodig in gevaar stel nie.”
***
Met die tweede besoek is ons huis omgedop, my lessenaar- en skootrekenaars en my iPad saamgeneem en niemand het totsiens gesê nie.
Ek het ’n lang ruk stilgebly. Totdat ’n sms my een oggend wakker laat skrik het, met nuus dat Cathy vir ondervraging aangehou word. Sonder om na te dink het ek al vyf die ander in die skryfgroep gebel. Ek was besig om koffie te maak toe hulle instap. Toe weet ek ek het pas elke oorblywende groeplid verklik.
***
Oor die jare is geweld ál geredeliker en onbeskaamder in films benut, veral in die HBO-filmsoort – waarvan daar eintlik uitstekendes gemaak word – sodat die uitgebeelde geweldsvlakke steeks gestyg het. Daar was later nie meer ’n aksiefilm waarin geweld nie geweef was nie. Steeds was dit egter geweld op ’n toekyk-afstand. Ek het soms ongeërgd gekyk hoe boewe mense vasbind en dan slaan of folter totdat elke stukkie verlangde, bloederig inligting uitgelap is, of sommer net tot van ingehoue frustrasie ontslae geraak is.
Dít alles het deur my gedagtes geflits terwyl die netjies geklede manne my uit ’n voertuig pluk en in ’n vuil gebou – ’n fabriek of iets – inboender.
Die man agter die tafel binne – dalk ’n dokter – se gesig was moeg. Hy het vermy om my in die oë te kyk terwyl hulle my maak sit en my vasgebinde hande op die tafel geplaas het. Een van dié wat tydens die laaste besoek aan my huis daar was, het nader gestaan, ’n gekreukelde vel papier oopgehou, en in die dowwe lig begin voorlees wat daarop staan.
Ek haal hortend asem, het ek besef, en wou verduidelik dat dinge nie was soos daar staan op die papier nie; het probeer skree dat daar fout moet wees, maar die taai lint oor my mond het dit onmoontlik gemaak.
“… en daarom besluit om as voorkomende maatreël … ”
Drie van hulle het my vasgegryp. Een het my rug teen die rugleuning vasgetrek, ’n ander my bene teen die stoelpote, en ’n derde het my arms gegryp en my hande plat op die tafel vasgepen.
***
In Cormac McCarthy se Blood Meridian verpersoonlik Judge Holden alles wat boos is. Die dodediens van hom met the Kid bly al die jare nog by. Ek het gesukkel om te verstaan hoe ’n goeie skrywer soos McCarthy só eksplisiet met geweld kan omgaan, totdat ek iewers anders gelees het dat afgryse juis is wat hy wil teweegbring. ’n Mens kan betoog, praat en kla – maar dit is eers as jy iemand se binnegoed só ruk met jou uitbeelding dat hy of sy naar word, dat jy ’n indruk wek wat blywend is.
Om een of ander rede het ek gereken dat hulle dit nie sal kap of sny nie, dat hulle my net wil skrikmaak. Nogtans het ek my gille hoor galm en het ek met woorde, gesig en oë gesmeek: asseblief, asseblief – moenie!
’n Soort tuin- of kombuisskêr het eers gesukkel om sy greep op my middelvinger te kry. Ek het half verbaas gekyk hoe dit daarna na die duim skuif. Ek was nog wakker toe die wysvinger aan die beurt kom …
***
Ek ruik hom weer. Haal liewer vlak asem. Dit moet besoektyd ’n dag of wat later wees. Hy leun vorentoe en soen my op my voorkop. Ek glimlag saam met hom deur die trane – syne biggel baard toe, myne wanglangs.
Sy dwaaloog doen ’n rondte en staar dan eenkant toe; die ander bly op my rus waar hy steeds vooroor leun.
“Ek het Legends of the Fall in tien dae geskryf. By Lake Michigan – yskoud in die winter daar. Juis daardie tyd dat ek so gesukkel het met die ‘swart honde’, jy weet.”
’n Verpleër kom in, gluur hom aan en grom iets in my rigting voordat hy weer uitstap.
“Ten spyte daarvan, onthou ek die skrywery so goed. Tristan het eerste gekom. ’n regte – wat sê die Bybel? – “son of thunder”; dra sy vuurspuwende berg saam met hom. Reg om te ontplof.” Sy hande kom weer nader, raak-raak oor die verbande aan my.
Ek ruik sy wyn van die vorige dag, die ou tabakasem – en, verbeel ek my, die stowwerige rakke vol boeke. En êrens tussen die op, af, wag en draf van sy stem deur, klim ek in die storie wat hy oorvertel. Ons reis saam met Tristan, kuier by dié se pa. Skarrel weg as die onwettige drankhandelaars hom jag, en maak dan weer ‘n draai by die pa wat wag en weet. Weet wat donder kan doen – met jou én met ander. Terwyl hy tog bly hoop.
Ek lê saam bewoë as die pa, pap spoegmond van beroerte, skryf op sy griffel; juig as hy ’n laaste keer die haelgeweer lig en reguit skiet. Êrens lê ek doodstil en wag as Tristan, nou self ’n ou man, stadig te perd die bos in ry. Die beer wag nou al langer as sestig jaar vir hierdie man wat een van sy kloue afgeskiet het en aan ’n halssnoer om sy nek dra.
“Die dans. Ek het my vrek gehuil by die skryf daarvan. Eers het ek gedink dat Tristan vroeg moet doodgaan. Jy weet, daardie soort wat nie lank leef nie, maar dit voluit doen. Maar ek kon nie; toe maak ek hom oud. Sal nooit vergeet nie: ek het stadig geskryf, soos ’n kind wat leer. Letter na letter.”
Laataand los die pyn my en dans ek saam. Tristan en die beer. Die mes as hy die beer om sy nek gryp … die stories wat nooit doodgaan nie.
|