Plein en simpel: ’n Resensie
Book Title: Plein en simpel: ’n Duiwestorie
Author: Marius Ackermann
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, 99 pp., ZAR120.00*
*Book price at time of review
ISBN: 978-1-86919-951-7
Review Title: Plein en simpel: ’n Resensie
Reviewer: Nelba Vercuil1
Affiliation: 1Private
Email: dirk.nelba@gmail.com
Postal address: PO Box 18, Estcourt 3310, South Africa
How to cite this book review: Vercuil, N., 2015, ‘Plein en simpel: ’n Resensie’, Literator 36(1), Art. #1119, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v36i1.1119
Copyright Notice: © 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Wanneer die lede van KOER (Ken Ons Eie Roeping) bewus word van die prokureurs Plein & Simpel se planne om Kerkplein, Pretoria se historiese Wesfasade, in ’n parkeerterrein te omskep, asook van bewaringsbewustes se besware dat ‘duiwe-excreta’ historiese geboue beskadig en die Duiwerepubliek boonop bedreig word deur indringermynas, besluit die organisasie om in te gryp. Die ingryping neem verskeie vorms aan en die vorm van ingryping word bepaal deur wie betrek word daarby.
Is dit die pogings van Justinius – voorsitter van KOER, regsgeleerde en gesteld op formaliteite – tot wettige optrede wat die knope gaan deurhaak? Hulp het hy wel, selfs uit onverwagse oorde, soos die twee beminde lede van Pigeons for Peace – twee statige dames afkomstig uit Waterkloof wat noodvoeding aan die behoeftige (en soms minder behoeftige) Pleinduiwe voorsien. Dit is egter uit eie duiwegeledere wat KOER die meeste ondersteuning put. Xpress, die posduif met sy vriendekring van ongeslypte diamante, verkies veel meer direkte aanvals- en verweermetodes. Oom Bossie is KOER se historikus en behouer van sedes. Hy open elke vergadering met gebed en onderrig die jongelinge in die geskiedenis van die Columba guinea. Die here Pluim en Mr Quills is onderskeidelik die politikus en mediaman van die groep, terwyl die skone Cappuchino onderling die manne se gemoedere deurmekaarkrap.
Hierdie heerlike duiwestorie is ’n geslaagde satire uit die pen van Marius Ackerman. Ackerman steek onder meer die draak met politieke korrektheid, statusbewustheid en die stand van hedendaagse metropolitaanse regering. Die duiwebevolking weerspieël duidelike menslike drifte en dwalings met herkenbare individuele tekortkominge en dwaashede. Iewers word Afrikaners, en miskien selfs Pretorianers in die besonder, ook so ligweg bygekom in die dinamika tussen stand, opvoeding en woonbuurt. Die ooreenkoms tussen die duiwebevolking van Kerkplein en genoemde groepe, is beslis nie toevallig nie.
Humoristies is Plein en simpel gewis en die humor is dikwels gesetel in dubbelsinnighede, vergelykings, analogie, oordrywing, jukstaposisie en ’n mate van ironie. Justinus gebruik die regsterm ‘Fiat Justitia’ – wat beteken ‘laat reg geskied’ en Xpress laat hoor saggies: ‘Kan ook maar ’n Ford wees’.
Wanneer die metroraad ’n valkenier huur om die duiwebevolking van Kerkplein met sy valk aan te val en dit duidelik word dat selfs die metrobeamptes versigtig is vir die valk, korswel oom Bossie: ‘Ook maar lekker skrikkerig … as dit nie vir die Valke is nie, is dit vir die valk’.
’n Groep duiwe van Burgerspark – waar die standbeeld van president T.F. Burgers – staan, bied aan dat die Kerkpleinduiwe soontoe kan uitwyk wanneer dinge te warm vir hulle op Kerkplein raak. President Burgers was die vierde president van die ZAR en onpopulêr weens sy briljante maar onpraktiese planne – onder meer om ’n spoorlyn te bou wat die destydse Transvaal met die kus sou verbind. Oom Bossie verwys na Burgers se skorsing as predikant uit die Sinode en spot oor die Burgersparkduiwe se beheer oor handelsroetes. Uiteindelik steek Burgerspark sleg af teen Kerkplein as ’n vergelyking getref word tussen die twee presidente wat onderskeidelik daar vereer word. KOER besluit om hul man te staan teen enigiets wat hulle bedreig, eerder as om in ballingskap in Burgerspark te eindig. ’n Mens kan nie help om te dink aan die uittog van Suid-Afrikaners na ander lande nie. Weereens ’n stukkie skerp maatskaplike kommentaar van Ackermann.
Plein en simpel is ’n boek wat deur almal geniet kan word. Soos met elke ander satire is dit nie aan te beveel vir enigeen met die geneigdheid tot oormatige kleinserigheid waar dit volk en vaderland of kultuurswakhede … of dan liewer, kultuur-uniekhede aanbetref nie. Die genot wat uit die boek geput kan word, neem toe dienooreenkomstig die kennis van politiek, geskiedenis en die menslike aard wat die leser besit en sy vermoë om geeneen van hierdie dinge te ernstig op te neem nie.
Die punt wat gemaak word, is dat bedreiging nie ’n nuwe toedrag van sake is nie. KOER vergader immers op die keil en skouers van president Paul Kruger se standbeeld. Gierigheid is net so deel van die gewese ZAR se geskiedenis as van die Suid-Afrika van vandag – met verwysings na Burolaan se historiese naam Aasvogellaan waar die here Plein en Simpel op pad hof toe wandel. Daar word dikwels belangrikheid verleen aan dinge bo lewende wesens.
Dit is tot dieselfde mate waar van die korrupsie in ’n regering, terwyl die burgers van ’n land krepeer, as wat dit is van die klem wat geplaas word op die behoud van historiese geboue terwyl spesies of ekosisteme buite rekening gelaat word. Die respek wat gegee word aan geskiedenis en tradisies is egter tog belangrik. Mens kan hier maar net weer Paul Kruger se woorde onthou: ‘Neem uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop’. Ten slotte: ’n Klein (duiwe)republiek kan weerbaar bly – mits daar saamgestaan word.
|