Schoeman laat die tydperk van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie uit sy winterslaap ontwaak

Book Title: Here & Boere: Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679–1712
Editor: Karel Schoeman
ISBN: 978-1-86919-273-0
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, 596 pp., ZAR325.00* *Book price at time of review

Reviewer: Jan C. Visagie1
Affiliation: 1Department of History, Stellenbosch University, South Africa
Postal address: Private Bag X1, Matieland 7602, South Africa
How to cite this book review: Visagie, J.C., 2014, ‘Schoeman laat die tydperk van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie uit sy winterslaap ontwaak’, Literator 35(1), Art. #1089, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i1.1089
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Inhoud
Open Access

Here & Boere: Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679–1712 deur Karel Schoeman is die vyfde deel van sy reeks oor die kolonie aan die Kaap. Die hoofstukindeling gee dadelik ’n aanduiding dat die inhoud oor veel meer gaan as wat die titel te kenne wil gee. Die eerste drie hoofstukke handel oor die bewind van goewerneur Simon van der Stel. Die daaropvolgende vier hoofstukke gee ’n uitstekende ontleding van ’Die élite van die eeuwisseling’, ‘Die ontstaan van ’n koloniale kultuur’ wat twee hoofstukke omvat en ‘Die sosiale lewe van die Kaapse élite’. Die tweede deel, naamlik hoofstukke 8 en 9 van die werk, gee dan ’n uiteensetting van die administrasietydperk van Wilhem Adriaen van der Stel. Laasgenoemde spelling van W.A. van der Stel se voorname word tereg deur Schoeman gebruik as die korrekte een soos jare gelede nagevors deur dr. Anna Böeseken. Die boek word afgesluit met ’n uitvoerige lys van endnote, ‘n bronnelys en ’n register.

Soos ’n paar van sy vorige werke oor die tydperk van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) aan die Kaap, bevat hierdie boek geen illustrasies of kaarte nie. Uiteraard sou afbeeldings, hoewel skaars, hier ’n belangrike rol kon speel om die atmosfeer van daardie tyd weer te gee. Die tweede gebrek is myns insiens die gebruik van endnote in plaas van voetnote vir die bronneverwysings. Dit is hopelik ’n werk wat ook deur nievakkundiges en jongmense geraadpleeg gaan word en afbeeldings is nogal ’n trekpleister. Vir die ernstige navorser en historikus is voetnote byderhand van groot belang. Ek moes telkens na agter soek om die bron na te spoor. Schoeman het juis sulke interessante bronne geraadpleeg dat ’n mens graag wil sien waar die betrokke inligting vandaan kom. Endnote was moontlik die keuse van die uitgewer. Met laasgenoemde gesê, is dit ongeveer al kritiek wat teen die werk ingebring kan word.

Hoewel Schoeman nie van ongepubliseerde bronne in die staatsargief-bewaarplekke gebruik gemaak het nie, is dit ongelooflik om waar te neem watter ongewone gepubliseerde bronne hy wel geraadpleeg het en hoe deeglik hy dit aangewend het. Sy ontleding van fyn besonderhede is belangwekkend en ’n voorbeeld vir die jong historikus om te lees wat alles uit so ’n bron gehaal kan word. In hoofstuk 1 skets hy die agtergrond van Simon van der Stel se vader, Adraen, en sy lewe in Batavia en op Mauritius. Die belangrikste ontwikkeling wat tydens Simon van der Stel se administrasietydperk aan die Kaap plaasgevind het, is die uitbreiding van die kolonie na die binneland. Nuttige statistiek oor die bevolking met die aanvang van sy bewind word gegee: benewens die Khoi-bevolking wat periodiek daar was, het die bevolking in 1679 maar bestaan uit 289 burgers, 91 slawe en tussen 300–400 amptenare.

Schoeman het reeds in ander publikasies sy aandag gewy aan die bestuur van die kolonie en brei in hierdie boek meer uit oor die leefstyl van die vroeë Kapenaars. Die vroeë pionierfamilies word onder die loep geneem. Hierdie soort navorsing is baie moeilik en ’n voorbeeld van hoe te werk gegaan kan word wanneer die inligting oor persone en ’n tydperk uiters skraal is. As ouddosent beny ek die hedendaagse geskiedenisdosente wat só ’n werk as leeswerk kan voorskryf. Hoewel Schoeman beskeie verklaar hy nie wil ‘pretendeer om professioneel te wees nie’, het hy daarin geslaag om indringende ontleding van die doen en late van Simon van der Stel en sy tydgenote te maak deur, onder andere, gebruik te maak van lastersake en boedelverkope. Sy gevolgtrekkings oor die vroeë Kapenaars se vryetydsbesteding en sosiale lewe is uiters waardevol.

Die skrywer wys daarop dat albei Van der Stels geneig was om gedurende hul bewindstydperke bewonderenswaardige ywer aan die dag te lê wat betref die landbou wat hulle albei geïnteresseer het, maar dat hulle nalatig was wat sommige van hul ander verpligtinge betref. Die aansien van Simon van der Stel, wat eintlik in die verlede deur historici as ’n goeie goewerneur voorgestel is, word tog in ’n mate in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing reggestel deur daarop te wys dat die latere burgerlike klagtes teen W.A. van der Stel (1707) ook verwyte teen Simon van der Stel bevat en onder meer uitwei oor sy heerssugtigheid. ’n Mens moet toegee dat Schoeman nuwe inligting na vore bring wat voorheen nie bekend was of nie so pertinent onder die aandag gebring is nie. Die skrywer bespreek sekere dokumente op so ’n interessante wyse dat die geskiedenisstudent gedwing sal word om dit self te raadpleeg. En dit is mos een van die ideale van enige opvoeder.

Schoeman is ook daarvoor bekend dat hy die onderwerpe in sy boeke teen die breër agtergrond van wêreldgebeure plaas. Hy wys byvoorbeeld op die Franse se belangstelling en ambisie in die Ooste en aan die weskus van Afrika. Dit verklaar dan waarom Franse skepe en gaste die Kaap aangedoen het en die uiteindelike verhoudinge tussen Nederland en Frankryk, asook kontakte met Siam. Tydens die Negejarige Oorlog in Europa tussen Frankryk enersyds, en andersyds die ‘Groot Koalisie’ van lande wat Willem III bymekaargebring het, is die Kaapse owerheid tydig gewaarsku teen Franse skepe en is die niksvermoedende skepe Normande en Le Coche in Tafelbaai aangeval en buitgemaak. Schoeman merk op:

Ook hierdie oorlogsgeweld moet opgeteken en onthou word; ook dit maak deel uit van daardie verre sewentiende-eeuse werklikheid en die koloniale verlede van die Kaap, saam met die formele onthale in die Kasteel, die musiek by kerslig, die wandelinge in die Kompanjiestuin, die vryburgers wie se veetroppe deur roofdiere aangeval word, die skiet na die papegaai, die seekoeijagte, die rumoerigheid van die taphuise, die sterftes in die hospitaal, die geseling van oortreders en die geregtelike verminking van slawe. (bl. 143)

Hier in een paragraaf saamgevat, het ons feitlik die hele VOC-tydperk aan die Kaap!

Indien ’n mens hoofstukke moet uitsonder, sou ek noem dat die hoofstukke wat handel oor die elite aan die Kaap, die ontstaan van ’n koloniale kultuur en die sosiale lewe van die elite besonder waardevol vir die kultuurhistorikus is. In hierdie hoofstukke vind ’n mens die hele spektrum van die kulturele lewe, soos byvoorbeeld doopplegtighede, huwelike, begrafnisse, wapenborde, rytuie, eet- en drinkgewoontes van die mense, kaartspel, bordspeletjies, boekebesit, intellektuele beperkings van die Kaapse elite, gebrek aan inligting oor musiek, ensovoorts.

Die skrywer het oor die algemeen min bronne oor die persoonlike lewe van W.A. van der Stel gevind. Selfs oor sy amptelike take kan slegs gefragmenteerde dokumente opgespoor word. W.A. van der Stel se goewerneurskap van agt jaar kan hoofsaaklik onthou word vir die uitleg van sy plaas Vergelegen en opspraakwekkende botsings met ’n gedeelte van die vryburgers. Volgens Schoeman was sy mees noemenswaardige amptelike bydrae die uitbreiding van die kolonie na die vallei anderkant Roodezandpas, naamlik die latere Tulbaghvallei, wat hy ‘Die Land van Waveren’ genoem het. Redelik vroeg na W.A. van der Stel se aanvaarding van die pos as goewerneur, het hy hom teruggetrek op sy landgoed en daarna was hy selde in Kaapstad. Schoeman wys daarop dat Van der Stel kortaf was met besoekers van lae range en besonder gasvry teenoor hoë besoekers.

Nieteenstaande die min gepubliseerde bronne van hierdie periode, het Schoeman aan die hand van ‘afsonderlik gevalle’ ’n besonder geslaagde beeld van die lewe in die deftige kringe aan die Kaap gegee. Die aanklagte teen die goewerneur het hy uiteengesit met interessante, ontledende biografieë van die aanklaers en medeaangeklaagdes en ook veral aandag gegee aan die landdros van Stellenbosch, Johannes Starrenburg, ’n vurige ondersteuner van die goewerneur. Schoeman spreek die vermoede uit dat die ontevredenheid met die goewerneur en amptenare se boerdery vir eie gewin, ensovoorts, in die eerste plek ’n voortsetting van die reeds bestaande misnoeë oor die bewind van sy vader was en ook gespruit het uit die spanning wat tydens die voorafgaande 50 jaar tussen amptenare en vryburgers opgebou het.

Met sy vyf dele oor die geskiedenis van die VOC aan die Kaap en sy talle ander werke oor hierdie tydvak, het Karel Schoeman hom onteenseglik bewys as van die grootste kenners van dié periode. Uiteraard is dit onmisbare leeswerk vir historici sowel as studente van geskiedenis, maar gewone lesers sal dit ook boeiend vind.



Crossref Citations

No related citations found.