Article Information

Author:
Etienne Terblanche1

Affiliation:
1School of Langauges, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article:
Terblanche, E., 2014, ‘Karel se bestemming’, Literator 35(2), Art. #1079, 4 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v35i2.1079

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Karel se bestemming
In This Litera...
Open Access
Hoe hy nou weer in Boston beland het, onthou Karel nie juis nie. Hy het in die United se vet en blou pens op Logan geland, nadat hy ’n verbindingsvlug in Frankfurt geneem het; die prentjie van die een of ander engelagtige slanke kraanvoël op die eindelose spits skagte van die logge Lufthansabuise het hom geïnteresseer, selfs ’n bietjie gehipnotiseer, terwyl hy langs een van die hoë en breë lughawevensters gesit en wag het, aan ’n koffietjie gesit en drink het, deur ’n boek geblaai het.

Boston het hom ook aangetrek, omdat dit ’n soort jazz-sentrum was. Vir hom was jazz, jazz, jazz iets wat die heeltyd die middelstruktuur van ’n essensie bly raak-raak, die leegheid moduleer, so vorm gee aan niks of uit niks, en daardie soliede middelvorm die heeltyd bly aanskuur, verskúúr... skirting disaster, shadefully skirting deep-dark disaster, beautifully crushing a crushed flower... So het sy gedagtes self jazzerig bly maal rondom ’n definisie van iets wat so deel van hom gevorm het dat hy dit onmoontlik finaal sou kon beskryf. Jazz was soos halfrym waaruit ’n voller rym sonder voldongenheid kon blom of verbloem.

Op Logan was die middaghorison opgeklits en newelrig soos ’n mokkamelkskommel in ’n reuseglas. Dit was Junie, en die somer was in sy vroeë swang. Hy was moeg vir sy tuisland om een of twee redes, meesal van ’n persoonlik aard, en hy het ’n bietjie rondgereis. Boston het destyds een of twee geleenthede gebied vir ’n nuwe begin, maar ten diepste weet hy nie hoe dit gebeur het nie: hoekom dit so moes gekom het nie. Op ’n sekere vlak het die lewe maar net so geslenter en gekronkel soos sy altyd maak, en toe daarnatoe gedraai, en hom daar uitgespoel. Dit is nie dat hy nie omgegee het vir sy tuisland nie, maar eerder dat hy algaande aanvaar het dat die lewe se slenters en kronkels nie geheel en al onder ’n mens se beheer is nie en dat, in sekere tye en onder sekere omstandighede, daardie slenters en kronkels skerper draaie gooi, meer fundamenteel raak, en selfs jou dieper stabiliteite soos jou land van herkoms kan ontwrig.

En toe verander sy stem: die resonansie het verbeter. Die gangetjies tussen sy turbinate het oop gegaan, die sinusholtes het opgeklaar. En hy kon sing, weer soos toe hy kleiner was—en soos nog nooit vantevore nie, want toe was hy groot. Dit was nie lank voor drie jazzorkeste instrumentaal gestoei het om sy dienste permanent te bekom nie. Let Them Call it Jazz—ten spyte van hulle baie mooi literêre naam wat hopeloos te lomp was vir die doel, die beste van die drie (en later sommer net bekend as die Callers)—het na ’n paar maande die “stryd” gewen, en hy het in elk geval nou en dan weer vir die ander gaan sing.

In ’n sekere sin was dit net die ervaring se dop. Die resonansie self was die ervaring se middelpunt. Dit was asof hy homself weer kon hoor. Sy effense soet, effense hees stem het gaan rus in homself, en Karel tot rus gebring. Die ondertone en botone het aan mekaar geraak, en in mekaar in gesirkel. Dit was selfs asof hy die platteland waar hy vandaan gekom het, en waarna hy verlang het, nog meer ten volle kon geniet as voorheen: dit het voller in sy geestesoog kom glimmer, en as hy gesing het, het hy geweet sy geestesoog kom uit sy liggaam, en uit die dinge wat sy liggaam ten diepste onthou. Hy het die grashalms sien buig, hy het gesien hoe die grasse in die wind vooroor leun en golf. Hy het gevoel hoe hulle in die blouerige nag koel word. Sekere note het hy so suiwer bereik dat hy soos ’n instrument geklink het, en dan het hy homself verbeel hy voel sy tuisgras in sy are, soos Eugène Nielen Marais hulle moes gevoel het toe hy die ewig-roerende “Winternag” gekomponeer het: waarin die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat en die wuiwende grashalms vir altyd en altyd broos en bros meteens één word, invou om oop te gaan, sodat eindelose oop melankolie en soliede aardse en abrupte stolling vir eens en vir altyd geheel en al ineen vleg.

Toe Karel toevallig ’n biografiese nota moes skryf vir ’n programmetjie, het dit dus só gelui: “I was born in 1964 in a small town in the bending grasslands of South Africa, amidst clusters of sweet thorn trees who, I’m sure, whisper to one another about all the secrets of the universe deep in the blue and lunar African night, their leaves tight with the strain of listening.”

In elk geval, as hy so sonder sinusitis gesing het, was dit asof die grasvlaktes uiteindelik tot hulle reg kom. Dié grenslose vlaktes in die vaderland op die plato oorkant die Drakenseskarp het mos ’n meedoënlose sinusitis veroorsaak. Sy broer, self die ontvanger van ’n goeie sangstem, het sterk en lank in die vleilande en op persele gestap waar hy omgewingsimpak gemeet het, ongeveer teen soveel rand per honderd woorde. Hy het genies, hy het sinuspille gedrink, en nog meer genies, en slaperig briljante werk gedoen; sy oë het soms permanent getraan, maar die kleinboer in sy geërfde vesels het hom toegelaat om voort te gaan, en sy werk energiek tot hoër en hoër hoogtes te neem. Reeds vier nuwe skoenlapperspesies het hy onder andere in daardie Afrikanatuur ontdek.

In Boston was daar natuurlik nie soveel grassaadstuifmeel nie, en al die nuwe skoenlapperspesies was hoeka reeds ontdek—een van sy broer se nuwe spesies wat aan die kurkdroë voet van die Korannaberg naby die dorpie Excelsior gewoon het, het ’n tuiste gevind in die Harvard Museum of Natural History waar dit deel gevorm het van ’n genealogiese DNA-ondersoek. Baie gereeld het Karel gaan kyk na dié skoenlapper se naam op die genusleertjie teen die muur, nie te ver van die klip waarin ’n veertigmiljoenjaar-oue heeltemal-herkenbare “moderne” skoenlapper vir ewig deur ’n groter aardhand of stille energie ingebed is nie. Sy broer se spesie was vir hom ’n kosbare skakel huis toe, konkreet, amper nader as die foonoproepe waarmee hulle gereeld soos goeie broers in verbinding was, want hy kon sy vinger teen die naam druk, en onthou hoe hulle glorieryk oor die grasvlaktes met brandende longe agter skoenlappers aan gehardloop het toe hulle seuns was, een keer ’n baie skaars witkol-melkbos. Melkbosse (ook die witkolvorm wat in Suid-Afrika skaars is) vlieg hoog en sterk, skynbaar in ’n reguit lyn, totdat jy jou versamelnet uiteindelik na sy kant toe swaai, en hy met ongelooflike gemak by al sy anderssoortige broers en susters aansluit deur ’n vaardige kronkelboog uit te voer, so ’n pragtige duikslag, om die net te ontwyk. Maar daardie dag het sy boet die witkolvorm versamel, en hulle het gedans en gesing op die koppie tussen die wonderlike growwe harde sandsteenklippe waarop skelgroen en warmrooi ligene stil saam gesing het. Daar was selfs trane van blydskap. En so het ’n vloed herinneringe uit die geheue van Karel se eerste selle gevloei wanneer hy die Harvard Museum of Natural History besoek het.

“What on earth’re you doin’ there so regularly?” het een van die Callers eenkeer gevra—uit ’n leerbank waarin sy lyf so rustig gelê het dat ’n mens sou kon dink dat hy uitmekaar sou val as hy nog ’n fraksie verder sou ontspan—asof hy jazz beliggaam het—terwyl ’n biertjie in ’n glasbottel uit sy een hand gehang het asof dit van nature daar wortel geskiet het, en ’n kort Franse sigaret wit en skeef en effens stomp uit sy lippe gesteek het—en hoewel hy hard probeer het om duideliker te wees, kon Karel maar net mompel toe hy antwoord. Maar die Caller, Charl of Charles of soms Charlie, het hom gehoor—“Afrikaanz again?” het hy gevra—“what a poe-heddic language, Carrel!”

Later het Charlie ’n Afrikaanse liedjie gekomponeer, en mense het dit amusant en ’n bietjie vreemd en in sommige gevalle selfs skrikwekkend bekend en anders gevind toe Karel, Charlie, en die Callers dit uitgevoer het in Boston se lekker lewendige jazzomgewing tot doer in die nag se hol, resonante ure in. “This is a streamlined language, man!” het Charlie een keer met ontsag en ’n sagte stem laat hoor, terwyl hy met sy seningrige wit arm uit ’n moulose T-hemp sy elektriese jazzkitaar se plat, vet, ronde romp vlytig versigtig op die vloer geplant het. In elk geval, dit is ironies genoeg mos die stuifmeel wat die neus toestop en die post-nasale drup onderhou om só die vrugbare liriese stem te ondermyn.

* * *

Toe kom daar ’n verlengde droë kol in die aarde se globale koors—sy was besig om haarself te verskuif, en het dit selfs oorweeg om van ’n sekere laag van die mensdom ontslae te raak, sodat sy haarself op ’n hoër vlak kon reflekteer in mensebewustheid. Omdat hy in die middestad gewoon het, het dit daar erger geraak as in die meeste plekke. Die son het gedeflekteer asof dit in ’n tronk beland het: dit het op teer of plaveisel geland, tussen kaal mure of glaspanele heen en weer gewip , en nêrens genoeg boommateriaal gevind om af te koel nie. Die geleenthede waartydens ordentlike reënwolke in die Hancockgebou gereflekteer het, het maar min geword.

Hoewel dit net ’n graadverskil gemaak het aan die hittekwaliteit, en die meeste mense rustig of onrustig kon voortstoei met hulle daaglikse arbeid, veral danksy die lugversorgers, het dit ’n stewiger impak op hom gehad. “Lugversorgers”—’n woord wat hom nog altyd gekwel het, in sekere opsigte ’n onmoontlike woord, aangesien lug in die eerste plek die versorger is—het net sy stem se nuwe probleme vererger. Dit het gou moeg geword, soos ’n blootgestelde padda wat sy klamheid verloor het: en so het Karel ’n moeë padda in sy keel gekry.

Die pynlike ou verlange na sy oertuiste—skoon dof al van pure aanhoudendheid—het hom met nuwe ywer beet gepak toe dit agter kom dat dié ou padda gou te yl en seer gevoel het om geheel-en-al-natuurlike werk voort te bring. En dit was dus in die grasvlaktes waar hy dit weer gaan vind het, en lieflike jazzliedere het deur hom na buite gespoel in plaaslike ore in. Sy gemoed het so lank gewag vir hierdie oomblikke dat dit aan sy klanke ’n nuwe aardse ywer verleen het, sonder dat die ywerigheid enigsins opvallend of steurend was.

Maar dit alles het net twee maande lank gehou, voordat die stuifmeel wat intussen op die skulpe gaan sit het, sake weer begin toestop het. Sy ore het eerste begin toegaan, en toe het sy sinusse nog verder verstop, en toe het sy stem weens die post-nasale druppery in ’n permanente ongelukkige toestand beland, nes dit vantevore was. Summertime! en New England! het sy binneste begin roep-sing. “Dank die Vader ons weet van ’n ander plek,” het dit selfs een keer in sy geestesoor gefluister: “kom nou, gebruik jou verstand, dié se skulpe weet hoe om die stuifmeel te vermy!”

Hy was vasbeslote om nie weer aan sy tuiste te ontsnap nie, want sy wortels was vir hom nou dubbeld voelbaar. Hy het op ’n Karoodorpie ingetrek, waar daar nie gras was nie, buiten vir so ’n vliesige kolletjie witgeel boesmansgras hier en daar, so tussen die kakie-en-bruin korrelrige ou koppietjies. Daar was ook nie juis ’n lewendige en bultende jazzlewe daar nie. Die “naglewe” daar het bestaan uit die melkweg wat rustig en jou werklikwaar sigbaar agter die horison sak, asof dit ook ’n soort son was.

So een maal elke twee of drie weke het hy versigtig op ’n Vrydagaand in die dorpie se restaurantjie ’n paar liedere gaan vertolk. Hy het homself begelei op sy kitaar, en die sang was dus ver beter as die begeleiding, onder andere omdat sy enorme kleinboerhande net nooit behoorlik kon leer speel nie; hulle het goeie bedoelings gehad, maar die wysvinger het oor die middelvinger gestruikel sodra die aansienlike duim sy verskyning gemaak het. Die wonderwerker Segovia het hom derhalwe nog meer verstom: sy powwerige handjies en vingers het die snare onmerkbaar bewerk, sodat dit letterlik gevoel het asof hy toor, want uit dié onmoontlike konkrete situasie het die musiek soomloos perfek gevloei, en die kombinasie tussen tegniek en gevoel was absoluut heilig.

Karel het versigtig gaan speel, want aan die een kant wou hy nie ophou nie, maar aan die ander kant wou hy nie bekend word nie. Dit sou sleg wees vir die dorpie. Dié was van souterige en soeterige goedheid deurdrenk, mense se dade en waardes was lekker drogerig, maar ook lekker soet, omdat dit deur die eindelose omgewing en die goeie melkweg gekompakteer is. Dit het hom (in sy jazzerige geestesoog) herinner aan hanepootkorrels in ’n droë jaar—brosser en ’n bietjie dieper soet en geurig. Miskien sou ’n meer klassieke persoon aan biltong gedink het, het hy een keer wrang in sy swart dagboekie neergeskryf. Die boekie was A6-grootte, en op die rooi rugbandjie was daar genoeg plek om sy naam en die datum neer te skryf. Hy kon ’n nuwe een koop wanneer hy dit nodig gehad het, by die kontantwinkel, ’n mooi-van-lelike plek met so ’n skuins-opstaan-kuif-dak en ’n klassieke halfdonker binnekant en stowwerige plankvoere en ’n nylonhemp-en-krimpelienreuk nes destyds se ou negosiewinkels.

Die restaurantjie se sagte eienaar het sy hare rooi gekleur, en om die een of ander rede besluit om die plek, daar in die middel van die haai Karoo, die Purple Onion te doop. ’n Ouer oom met ’n wit baard het elke Vrydagaand getrou en woordloos kom luister. Sy oë was groot en vol onder ruie wingerdrige wenkbroue, en na enkele minute se musiek het hy met sy hand op ’n dubbelwhisky sy oë gesluit, sodat sy ooglede bultende mane in die onderbeligte plekkie gevorm het. ’n Jong man in ’n jean was ook elke keer daar, en het hom telkens na die tyd aangepor om ’n kontrak te teken en roem te vind: hy sou self die kontrak bring, sy tannie het iemand geken by Tusk. Dié kêrel het baie opgewonde geraak, en sy lang bruin hare gedurig gestryk en agtertoe gepluk terwyl hy die aanporwerk doen. Karel moes die heeltyd glimlag terwyl hy nee-dankie sê, sodat sy kiewe skoon styf was teen die tyd dat hy opgepak en huis toe gegaan het.

* * *

Op een of twee vlugte kon hy verskillende gesprekke hoor tussen passasiers oor Suid-Afrika, Amerika, en ’n mens se tuiste op die aardbol. Een keer het ’n jong man bely dat hy bly is dat hy na Amerika toe verhuis het. Die verstommende ding, het hy gesê, is dat dit hom twee en ’n half jaar geneem het om weer te ontspan oor sy veiligheid. Dit sit diep in jou agterkop, en dit kleef daar, en woel, en doen allerhande onbekende en duiwelse dinge daar. ’n Ander keer was ’n gesinsman op reis nadat hy ’n referaat gelewer het op ’n Amerikaanse kongres.

“I’ve just given a paper at a conference in Louisville,” het hy gesê. Die man in die sitplek langs hom het ’n bloedrooi korporatiewe das gedra; sy hare was dik en kort soos ’n grys mat. Hy was van Chicago—die vliegtuig was op pad soontoe.

“What was your focus?”
“Bessie Head—I’m deeply interested in her work.”
’n Bietjie later in die gesprek het hulle begin praat oor veiligheid in Suid-Afrika.

“Well, it’s true that I could get shot each time I go to the airport. There’re these hijackers in the country. They would shoot you for your car, depending on what model or colour the prospective buyer needs. Sometimes they even shoot loved ones, or children,” het die Suid-Afrikaner gesê. (Sy moedertaal was heel waarskynlik Afrikaans, Karel het gesien hoe hy ’n Afrikaanse boek lees.) Hy het ongemaklik gelyk; asof hy dit vir die eerste keer self hoor. Die Chicagoman het openlik onthuts gelyk.

“But then you’ve got to move!” het hy gesê. “You can’t stay there and put your family at risk ! You’re the father! Come to Chicago!
Die Suid-Afrikaner se skouers het effens vorentoe gesak, en daar was ’n trek van ongeloof en benoudheid op sy gesig.
“I know,” het hy gesê, “but I have to stay there. I know. It’s a disease.”

* * *

Later kon hy nie meer presies onthou hoe hy nou juis na sy geboorteland teruggekeer het nie. Die droë kol in die aardkoors was lankal verby, en Boston was seker weer nat, selfs in die binnestad, het hy gedink, veral omdat dit teen en selfs binne-in die Atlantiese Oseaan gelê het. Maar die ontvlugtingsdrang in hom was heeltemal genees, of minstens vergete. Miskien is vergeet ’n vorm van genesing: dit hang seker af, het hy gedink, of jy uit stuifmeel wegvlug, en of jy na jou mees innerlike stem probeer terugkeer. Die punt is seker dat ’n mens nie weet presies hoe of hoekom die lewe so werk nie. Jy het gedink Boston is ’n glas-en-beton-kas wat op eilande tussen besoedelde waters staan, en waarin die stadsbesoedeling so dik hang, nes ’n olierige mengeldrankie, dat jou longe hulleself daar sou verdrink totdat jy nie meer sou kon of wou sing nie. Maar toe neem die lewe jou op so ’n draaikurwe om vir jou te wys dat dit nie so is nie.

`Intussen het die aarde se weerpatrone weer so ’n bietjie verskuif. Eers het dit ontaard in twee afgemete uiterstes waarin die seisoene skaars merkbaar was. Daar was amper net ekstreme toestande oor: baie warm, baie koud, baie nat, baie droog, vir twee dae die een, dan vir twee dae die ander; dit was asof dit wat een, drie, en vier was, vir ’n hele ruk ontaard het in ’n tweeledige eensydigheid... en die aarde het dit vir ’n ruk so gehou om (in haar terme) gou-gou ontslae te raak van kwellende faktore wat besig was om haar gesondheid in die gedrang te bring—in elk geval, so was dit in die Karoo. En toe het dit al hoe meer gereeld daar begin reën.

In Karel se leeftyd het hierdie dinge nog maar pas begin. Tog het hy dikwels in die Karooveld gaan stap en allerlei voorgevoelens en verbeeldingsvlugte geniet wat die meeste wetenskaplikes uit pure minagting net kortaf sou laat snork het—hoewel hy op die lange duur heeltemal korrek sou wees.

En die Karoo was die plek waar hy daadwerklik naby kon kom aan ’n Zen-gevoel. Dit was net die kaal planeet en die eindelose oop lug. Dit was volheid en leegheid in hulle volledigheid.

Een oggend baie vroeg het ’n vliegtuig se rook teen die koperige skemer geglim: dit het net die eindelose volledigheid beklemtoon; dit was minder as ’n spikkel in die aarde se atmosfeer. Dit was ook asemrowend mooi.

Maar die Karoo was besig om te verander. Duisende jare later sou die verandering onherkenbaar wees. Reeds in Karel se tyd was dit een van die baie min droë gebiede wat ook ’n biodiversiteits-“hot spot” was. Vir hom het dit soms gevoel asof daar ’n klein woud langs sy enkels groei, toe hy dikwels ver gaan stap het in die veld. Daar was soveel bossies en plante: brakslaai, wolfdoring, driedoring, krudoring, agdae-genisbossie... beesganna, ghaap, ghaba, kraalbos, kankerbossie, katjiedrieblaar, kanniedood... steenbokbossie, jakkalsbos, slanghout, dawidjie-wortel, suurvytjie, kruidjie-roer-my-nie... kokkoromoniet, nieshout, louhout, grashout, wynruit, klipkruid, ystertop, fonteinknoffel, daspis, bergpatat, balderjan, rooivergeet, langbeenwillekeur. (En boesmansgras en kniekiesgras.) Die diversiteit was reeds daar, en toe die groot reënpatrone hulleself herrangskik, het baie van die bossies wat maar sentimeters hoog was, reusebome geword; nes dit in sy tyd bekend was dat bossies in Siberië eens groot bome was. Maar dit alles sou lank, lank na sy dood eers ’n werklikheid word. Tog het hy dit vermoed, asof hy ekstra musikale antennas besit het wat die dieper aardtrillings kon aanvoel.

Eendag het hy naby Williston op die ontsettende droë Limietkop naby die Kikvorsberge gaan stap. Die hittegolwe het vroeg reeds opgestaan, en die omgewing vloeibaar laat lyk. Maar daar was ook ’n intense roserige kleur in die lug, sodat die berg so sag soos pienk roomys gelyk het. In sy egte oog, maar ook in sy geestesoog en, bowenal, in sy geestesoor, het hy dit gesien en gehoor. Dit was asof hy die vorms kon hoor vloei al met hulle kurwes langs. In ’n sekere opsig was sy gees die bergvorms se onderstebo spieëlbeeld: hulle het na onder, na diepte se kant toe, aktief in hom kom rus.

En later die dag het plaasboere in die omgewing afgekom op sy liggaam tussen die bossies. Dit het op die sy gelê, en die wang was rustig teenaan die klippiesrige wit kalkerige grond. Sy lekker vol onderlip het los en effens skeef teen ’n klip gerus.

“My goeie Vaderlandsliefde, ek wou sê ek het iemand hoor sing: ek dag dis die radio, so mooi was dit, en so vér-langes; ek het gedag dis ’n engel!” het die boer na sy seun geroep.
“Kyk hoe mooi lê hy nou hier, gans en al tevrede soos dit vir my lyk. En kyk hierso, ek weet niks van musiek af nie, maar, seun, kon hierdie man nie mooier sing as enige mens op aarde nie?”

Die seun het fronsend teen die skerp middaglig na sy pa gekyk—hy het sy kop geknik, want hy het self een of twee keer na Karel gaan luister.

“Laat hulle dit maar jazz noem, dit maak nie saak nie,” het sy pa met so ’n kreun gesê toe hulle die betreklike swaar liggaam optel om dit na die trok te dra; om daarmee al met die poeierwit pad langs na Karel se tuisdorp te kronkel.



Crossref Citations

No related citations found.