Emily Hobhouse in ’n ongeposte brief aan Tibbie Steyn: Vir Hans du Plessis Ek dank jou
vir jou warm brief
uit die Verre Vrystaat met biltong,
ingelegde vrugte,
flertsies groen kweper,
’n klein karmenaadjie
my toegesend. Ek proe my
aangenome land
in ’n toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en spin
in ’n verre Phillipolis… O Tibbie,
hier is ek ’n rebel,
’n leuenaar,
’n vyand van my mense… Maar ek weet:
eendag sal my gees
weer sweef
oor die wye velde
van my Troue Land. Hoe graag sou ek nie
by die monument
wou klaag?
My dank vir die voordrag,
die lees van my brief:
vir die wonde wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra. Emily Hobhouse, ’n selfgesprek Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog ruik?
Mag ek u vertel, meedeel
van die ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende kospakkies? Hoe ’n vader sonder
steun sy kind se uitvaart moet aanskou? Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog klink?
Hoe ’n moeder vir dae sonder trane
’n lyk op haar skoot hou,
’n woordelose wiegelied?
Op Springfontein word ’n jong vrou
in ’n grys sak ter aarde beklink. Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog proe?
Die rens melk, die vleis vrot,
skifsels meel langs vlieë en luise,
luise en vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte soos gapende wonde. Heer Kitchener, Heer Milner,
vandag het ’n baba van drie maande gesterf.
En op hierdie dag, die hereweet,
nog twee ander…
Vir die vaders, vegtend tot die bitterend,
’n swart-en-wit-kiekie
die enigste nalatenskap… Heer Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit blom
in die hand
van ’n kind, stóm. Heer Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor my aan.
|