Jy sit op twee boudkolle die grootte van twintigsentstukke, jou skoene se sole aan pedale vas en jou hande klouend, trekkend, stotend, draaiend aan dun rubberhandvatsels terwyl jou vingers heen en weer tussen dertig ratte soek of remme trek. Jy doen dit amper tien ure lank op die langste dag uit agt en hou só aan oor 781 kilometer. Dit gebeur alles terwyl twee wiele voortbeur oor klippe, sand, takke, dorings en terrein soms net-net geskik vir bergklimmers – voortgedryf deur hoofsaaklik jou bobeenspiere en kuite. Êrens bergop gaan jy verby die laaste kameramanne wie se motorfietse en voertuie net nie verder kon nie. Jy gaan verder, hoër, en hou langer aan as wat jy ooit gedink het jy sou kon, as wat jy gedink het menslik moontlik is. Daar bo teen die bergpieke sien jy die arende speel en hier en daar knipoog een vir jou: Jy is een van ons. Vir ryer 198-1 in die 2012-Cape Epic-bergfietsren begin die aanloop daartoe reeds 11:30, Saterdagoggend 28 November 2009. Ná drie en ’n half ure se harde oefening sit hy op ’n koppie in Irene voor ’n keuse van drie roetes ondertoe. Hy besluit op die moeiliker een, die een links om, met los klippe en ’n steil afdraand – omdat dit goeie oefening vir die Epic sal wees. Die volgende vyf en twintig maande wonder hy gereeld waarom hy nie sy gevoel om liewer een van die ander paaie te neem gehoorsaam het nie. Hy kyk na sy spanmaat terwyl die afsetter die sekondes aftel voordat hulle vir die sogenaamde ‘prologue’ wegtrek. Die afkondiger herinner die ondersteuners daaraan dat die ryers tydens die agt dae wat hier begin die ekwivalent van omtrent sewentien keer teen Tafelberg uit gaan klim. Daarvan behels vandag ’n kort, maar taai 900 meter se klim. Net genoeg om sy linkerbeen goed te toets. Die linkerbeen. Die kort, tingerige berader (hy het aanvanklik gewonder wie vir wie gaan help) sit naby aan hom, die flitsbord skaars ‘n meter weg, terwyl hy stadig in groot letters skryf en groot spasies tussen lyne laat. ‘Vertel my wat gebeur het – joernalistieke styl, net die feite. Ons kyk later na hoe jy gevoel het.’ Hy vertel stadig, sodat die berader bybly met sy groot letters: ‘…oefen tans vir my derde Cape Epic, en het al sowat drie en ‘n half ure gery …’ kies die voetpad links af … ‘Dit het goed gereën die vorige aand, die gras nog nat en groen …’
‘Drie mans, netjies aangetrek, het van onder af in dieselfde voetpad opgestap gekom ...’
‘Ek gee gewoonlik pad vir voetgangers en wou dit weer doen …’ ‘In plaas van groet, grynslag die lang een met die vlek op sy wang en storm …’ Hulle trap teen die soveelste berg uit. Sy spanmaat effe vooruit, want hý wil nog ‘n berg goed op sy moses gee. Rondom hulle klim die een ryer na die ander uit die saals en stoot die fietse soos die steilte en afstand eenvoudig te veel word. ‘Keep left, riders right!’ ‘Thanks, dankie!’ Hulle gaan verby ryers wat Duits, Spaans, en verskeie ander tale praat. Alles brand: sy longe, bobene, kuite. En een oog, vanweë die sweet wat daarin loop. Hy skuif effens na regs, kry ‘n baan tussen los klippe deur en beur voort. ‘Rol hom, rol hom.’ Die advies het van ‘n gesoute ryer uit Sabie gekom. ‘As jy ‘n baie steil bult met los klippe moet klim, onthou: Moenie met hom baklei nie; jy gaan verloor. Sit voor op jou saal en rol hom, rol hom, rol hom. Solank jou wiel teen ‘n konstante pas bly rol, sal jy wel bo uitkom.’ ‘Die sny is sowat dertien sentimeter lank,’ het die verpleegster genoem nadat hulle dit skoongemaak en toegebind het. ‘Dit is diep en ek gaan liewer reël dat die spesialis dit heg – hy is ook ‘n sport-ou, Ironman en so – hy sal presies weet wat om te doen.’ Die dokter kon eers laataand opereer, waarna die ryer in ‘n kamer gesit is en meer pyn gehad het as ooit tevore in sy lewe. Stage 1 strek oor 116 kilometer, vereis 2350 meter se klim, en is altyd een van die moeilikstes. Drie kwaai klimme, waartydens die los klippe na bo hel teen ’n vyfentwintigpersentgradiënt. Die eerste klim is onbenoem; die ander heet Hangman’s Tree (drie kilometer se klim) en Tortoise Peak. Voeg daarby ’n temperatuurstyging tot selfs 44 °C – die ware Epic het begin! Die groot gapings tussen die skrifreëls op die berader se flitsbord maak eers sin tydens die tweede besoek. Hierdie keer haal hy ‘n ander kleur pen uit en skryf daarmee tussen sy vorige aantekeninge; hy fokus op hoe ryer 198-1 gevoel het tydens die aanval op hom. ‘Lekker dag, vars lug, baie dankbaar …’ ‘Reg om hulle te groet, soos wat ek gewoonlik maak …’ ‘Die grynslag van die leier, skud sy kop – vandag kom jy nie weg nie …’ ‘Arms wat gryp … verwarring – kan nie wees nie!’ ‘Die besef: Hier kom dit nou …’ ‘Gooi die fiets na hulle toe … hardloop eenkant toe …’ ‘Hulle los die fiets, kom al drie vir my …’ ‘My been gee pad … die skoppe en houe voel ver weg terwyl ek in ’n bondeltjie lê …’ ‘Alles is doodstil om ons … Ek besef dat ek daardie dag net daar kan doodgaan, sonder dat iemand iets hoor …’ Ná die kwaai hitte van die eerste been looi die elemente ryers met alles tot hul beskikking: sterk wind, koue, reën. Die meeste sportmense stem saam dat reën nie ’n te slegte uitwerking het nie – solank jy droog begin, en dit daarná begin reën. Dit laat jou afkoel. Maar om in die reën te begin veroorsaak vir die meerderheid ’n riller. Ryer 198-1 en sy spanmaat het papnat en bewerig gewag op hulle groep se beurt om weg te trek. En hier pluk-pluk kommer reeds aan sy gedagtes. Reën beteken nattigheid, nattigheid beteken glibberigheid, glibberigheid beteken val – presies wat sy linkerbeen nie kan verduur nie. ‘Die bloed, ek moet die bloed stop – te veel! Hoeveel tyd het ek? ‘Ek sukkel verby meer as vyftig, dalk honderd motors by die Irene-mark. Nie een bied hulp aan nie …’ ‘Raak al hoe lighoofdiger, angs span ‘n staalband om my keel …’ ‘Net voor die T-aansluiting is daar ’n staalheining; ek gryp die paal en hou vas …’ Die paramedic: ‘Jy, pêl, het baie ernstig bloed verloor en moet dadelik by ongevalle uitkom. Daai sny lyk sleg.’ ‘Kolle voor my. Is dit hoe jy voel wanneer jy uitpass? … Ek lewe.’ ‘Die jaagtog na UNITAS-hospitaal … die noodingang se skuifdeur wat oopgaan …’ ‘’n Drup, pynstillers. Shit! Ek lewe!’ Stadigaan het hy al hoe versigtiger begin ry – en só een van die belangriker beginsels van bergfietsry vergeet, naamlik dat momentum ’n ryer se vriend is. As jy te stadig ry, kan jy juis harder val, omdat jou voorwiel dan kan vassteek teen klippe waaroor jy met die nodige momentum eintlik maklik sou kon ry. Hy het begin val. Nooit hard nie, maar genoeg om hom nog versigtiger te maak – en meer dikwels te laat val. Enkelpadroetes wat op ’n droë dag pret sou wees, het snotterige modder met versteekte wortels daaronder geword, en omdat verbysteek baie moeilik was, het ander ryers agter hom begin opdam – sommige duidelik gefrustreerd. Dit het verdere druk op hom gesit; hy het meer foute gemaak, en stadiger gery. Die sommemaak begin. Hoe ver nog; hoe lank voor afsnytyd? En wat van die Amabubezi-ideaal? Amabubezi. Daardie klompie fietsers wat drie of meer Epics voltooi het. En hierdie een kan sý derde wees! Maar die pad daarnatoe lei deur modder. Modder wat gevaarlike wortels, slote en gate versteek. Wat jou kan laat val. Op die beseerde knie. En jou die wedren kan kos. Plek-plek spring hy af en hardloop met sy fiets deur die dik modder. Hulle tweemanskap se gemiddelde rytyd raak stadiger; sy maat wys hom daarop. Hy fokus harder, ry versigtiger en val weer en weer. Sodra dit wil lyk asof die grond onder hulle fermer en minder modderig word, kom die reën neer in vlae. Als word net erger. ‘Ons gaan probeer seker maak dat die aanvallers nie by jou wegvat, jou wêreld vir jou kleiner maak nie.’ Dit is sessie ses, die laaste by die berader, en hierdie woorde steek vas – hulle gaan nie by my wegvat, my lewensgehalte bederf nie. ‘Gaan jy weer die Epic ry?’ wou ’n vriend weet. Hy het stilgebly; toe ‘Ja, ja, ek sal flippen graag wil’ gesê. Hy delf diep, dieper, en kry êrens ’n stang beet. ’n Stang om op vas te byt; ’n greep van hoop op te kry. Hy hóú. Nege uur en veertig minute ná die begin van die skof ry hulle oor die eindstreep. In die oorsig oor die volgende dag se roete praat die organiseerders van “false peaks”. Sy spanmaat wou weet wat dit is, en hy het gesê dat hy hom op pad sal wys. Toe sy spanmaat later die dag, ná die een genadelose klim na die ander, aankondig dat hulle nou vir seker bo is, mompel hy: “Hoe weet jy?” Sy spanmaat het hom verseker dat hy rondom hulle gekyk het en nie een hoër piek kon sien nie. Hulle het stadig om ’n rotsformasie gekom … Toe wag nog ’n klim – dalk die steilste van die dag. Hy het sy spanmaat ru gespot oor sy les in ‘false peaks’. En onthou hoe baie daarvan hy in sy herstelproses teëgekom het. ‘Onthou net, jy gáán weer daai Epic ry,’ het die fisioterapeut gesê terwyl sy op die grond sit, vasskop teen die poot van die ortopediese bed waarop hy sit, en stadig begin trek aan die band om sy enkel. Hy het maar te goed geweet wat kom. By die punt gekom waar sy knie op die styfste is en nie verder wil nie, het sy teruggeleun, so hard as wat sy kon getrek en die trekband daar gehou. Hy het op sy tande gekners, begin grom van die pyn. ‘Hoe voel jy?’ het sy gevra toe sy stadig skietgee. Hy het, natgesweet, ’n paar diep asemteue gegee. ‘Oukei. Gee my net ‘n rukkie kans, dan vat jy hom weer. Die Epic wag.’ Twee, soms drie sessies per week. Week na week, maand na maand. Die fisio het sy vordering met die buig van die knie met ‘n gradeboog gemeet – soms net een graad op ’n slag, soms geen. Stadig. Rol hom, rol hom. Ná ’n lang ruk waartydens besoeke aan die gimnasium beperk was tot oefeninge in die swembad, was hy dus opgewonde die dag toe hy dit vir die eerste keer weer op een van die fietse sou waag. Hy is met een hand op die relings teen die trappe uit en het na die gewone statiese oefenfietse gestap – die tipe wat hulle ook in spinningklasse gebruik – en opgeklim. ’n Paar minute later het hy rondgekyk om seker te maak dat niemand hom sien nie, oorgestap na die fietse waar mens heeltyd stilsit en trap, eintlik vir beginners en dié wat erg oorgewig is, en die een die verste weg van almal gekies. Hy het probeer trap, maar moes die sitplek verder en verder agtertoe skuif omdat sy been nie genoeg kon buig nie. Die been was so styf dat hy sy linkerhand van die handvatsel moes lig elke keer wat die been buig en sy hele linkerheup agtertoe skuif. Veertig sekondes later het hy opgestaan, die vuishou van realiteit nog brandend tussen sy oë. Mettertyd kon hy een minuut lank uithou. Die doelpale is aangehou skuif, tot die dag wat hy drie minute lank kon trap – sy agterstewe stukkend geskaaf soos sy linkerheup moes agtertoe hink. Hy het vorentoe geleun en die trane probeer wegsteek. Maande later het hy ’n spinningklas ingestap en aan die instruktrise verduidelik wat met hom gebeur het, dat hy heel agter in haar klas gaan sit, en net stadig gaan trap. Vyftien minute later het hy haar gegroet en uitgestap. Moedeloos, de dinges in, en op pad huis toe begin wonder: Moet hy nie maar liewer net begin stap nie? Een kilometer om te gaan! Die skare se geskree word al hoe luider. Sy hart klop onstuimiger. Die laaste draai … die eindpunt! Haar blonde koppie leun vorentoe, sy skree opgewonde: ‘Dad, hier!’ Sy spanmaat lig sy fiets bokant sy kop nadat hulle hul voltooiermedaljes gekry het. Die angs van weer ry (eers teerpad, en mettertyd weer veld en rowwer terrein) gaan oor meer as bangwees vir val op die linkerbeen. Daar is die skrik as ’n stapper vinnig na hom toe draai, as ’n hand na ‘n sak reik, as twee of drie mans onderlangs rondkyk en in sy rigting beweeg; daar is die vermyding van plekke wat dalk ‘n lokval kan oplewer, die wegbly van gunstelingroetes. Die ergste is die wipplank. Moerland of mý land? Ry of bly? Wanhoop of wél hoop? Afrika is mooi; ja, pragtig. Maar deur die mooi syfer die bloed tot by die wortels. Die Voortrekkermonument bied ’n veilige hawe. Tegnies uitdagende roetes, besaai met bulte, klippe en los grond maar hier en daar ook met ’n blouwildebees wat snork, ‘n springbok wat wegspring en ‘n blesbok wat lui wegstap terwyl nuwe seisoene in die veld pronk. En altyd Danie Theron wat hurkend waak. Die bordjie met ’n swart pyl wys: ‘Amambubezi’ links. Binne-in die tent is dit stil; daar is min mense. Hy kyk teen die alfabet af vir sy van. Hierdie medalje is swaarder, swart. Hy tel die sertifikaat op: ‘In recognition of having completed the ABSA Cape Epic 3 times.’ Hy maak sy oë toe. Die berader glimlag, lig sy duim.
|