‘To the island,’ beduie die dogtertjie met die pienk laphoedjie oor die blou waters. ‘Are you sure?’ ‘Yes.’ Sagweg swem die pa met die kleuter op sy skouers. Hy swem soos sy beduie het. Vanaf die strand tussen die dennebome en heuningbruinkranse, verder weg van die baaiers dobberend in die sagte deinings Egeïese see, weg van die jetty waar die boot vanaf Hora ’n paar keer per dag vir die gerief van toeriste vasmeer. Vanaf die strand Tzanerias, uit die baai van Kanapitsa, verby die rotse en die ligbaken, verby die onbewoonde Tsougrias, na Skopelos dynserig in die verte swem hy. ‘Are you sure sure?’ ‘Yes.’ Deur die asuur waters waar seenimfe en meerminne na die seebodem afduik en tussen spelonke en seewier, pêrelglansskulpe, spoelklippies en ontelbare vissies speel. ‘Kyk, my klein Areti, kyk hier onder. Sien jy hoe hulle blink, ene rooi en blou.’ ‘Ek sien hulle, vader.’ Na daar waar die see dieper en donkerder is, swem hulle. Die ma wat vroeër die middag so al agter die dogtertjie in die pienk opblaasring in die water gedryf het – die kind singende aan ’n onbekende wysie – sluimer nou met ’n losgeknoopte bostuk in die skadu van ʼn strandsambreel. Die asemhaling van die see op die growwe sand. Dis ’n skoonmaker wat die meesleurende melodie gesing het, vroegoggend toe sy die pers bougainvillablomme en dennenaalde van die trappe gevee het. Die moeder met haar gedagtes by die vorige aand in die taverne en die kind wat op haar skoot aan die slaap geraak het, die swoel nag, en die oggendure se wakkerlê met die rukwind deur die denne, het dit nie gehoor nie. Dis die kind wat geluister het en brokstukkies van die melodie onthou, maar nie die woorde verstaan nie. ’n Ou-ou lied van stories en mense, en van geeste wat orals is. Die lied van ʼn brug wat elke dag gebou word, maar soggens weer afgebreek langs die oewer lê; wat eers nadat ʼn voël die meesterbouer besoek het, eers nadat sy vrou as offer ingemessel is, tóé eers oor die rivier bly staan het. Arta se brug. ‘Kyk na die groen seemos, kyk na die seegras! Kyk na die klein oestertjies en die spoelklippies. Hoe mooi is hulle, Areti.’ ‘Mooi, vader.’ Nóg die pa en die dogtertjie, nóg die ma, merk die roeibootjie wat elke oggend van die dorp se kant af nader kom. Nicholas Koumenis en sy Areti. Areti, die kind van sy eerste vrou, die kind wat vir sy tweede vrou smart en verdriet gebring het. Van meet af aan het die Koumenis se tweede vrou ’n afkeer van die kind gehad, ’n afkeer wat ná die geboorte van haar eie twee dogtertjies toegeneem het. Dit was Areti se skuld. Het sy geluk gebring, sou die kinders wat ná haar gekom het, seuns gewees het. Daarom dat die vrou die meisie verag, vervloek en mishandel het en haar teenspoed dag en dag beklaag het. Daarom dat die pa sy buurman se bootjie geneem het; ’n byl, ’n visnet en ’n gryphoek in die boeg gesit het – om hout te kap by Kanapitsa, sou die mense dink – en die dogtertjie om die ligter houtjies te help dra. Dit was ’n helder herfsoggend dat Nicholas Koumenis die spane gelig en begin roei het. Die boot het uit die hawe gegly, verby die eilandjie Bourtzi, om die punt met die vaalwit rotse, weg van die toring van Tris Lerarches; al hoe verder sodat die huisies vir Areti soos hoenderhokke lyk, die wasvrouens onder by die begraafplaas soos kwikstertjies en die mense op die plato soos skarrelende muise. Al verder en verder weg van die dorp en al hoe nader aan die kus van Kanapitsa, roei hy. ‘Dit is ’n mooi dag, Aretetjie.’ ‘Ja, vader.’ Uit die dieper blou water na die vlakker asuur waters waar seenimfe en meerminne na die seebodem afduik en tussen spelonke en seewier, skulpe en spoelklippies en ontelbare vissies speel. ‘Kyk, my klein Areti, kyk hier onder. Sien jy hoe hulle blink, ene rooi en blou.’ ‘Ek sien hulle, vader.’ ‘Kyk na die groen seemos, kyk na die seegras! Kyk na die klein oestertjies en die spoelklippies. Hoe mooi is hulle, Areti.’ ‘Mooi, vader.’ ‘Kyk na die klein dingetjie daar onder! Wat sien jy, my klein Areti?’ Daar is dele van die eiland, tussen die skeure en ruwe kranse, waar hordes bose geeste en spoke woon; weeklaend in die gedaantes van vrouens, van weduwees. ‘Buk oor om te sien hoe dit lyk, buk oor.’ Koumenis het na Areti se kant van die boot geleun, sodat die boot oorgehel het en die kind bang aan die dolboord vasgeklou het. Hy het die roeispaan gelos en haar aan die skouer gegryp, en dadelik weer laat gaan; bang vir sy eie gedagtes. ‘O, stoute kind! Jy wil nie oorbuk om te sien hoe mooi dit daar onder is nie.’ Areti het begin huil. Met mag en mening het Koumenis geroei, asof hy nie geweet het wat hy doen nie, asof hy kwaad was vir homself. Die kind het nie langer om haar gekyk nie, en gehuil sonder dat sy die rede ken. Eers toe sy ’n ligte stampie voel en die boeg oor die sand gegly het, het Areti het haar kop gelig en gemerk dat hulle by die smal baai aangekom het. Sy wou nog uitspring, toe haar pa haar ru onder die armholtes gryp, oplig en soos ’n sak klinkers op die sand neergooi. Slegs hy het die slag van haar val gehoor. Diep in sy ingewande het dit gesidder. Onder die strandsambreel skrik die vrou wakker, ʼn oomblik verward oor tyd en plek, maar dadelik angstig oor die kind. Tussen die ander swemmers in die vlak water sit die kleuter met die pienk laphoedjie op haar pa se skouers. Sy beduie in die rigting van die ver eilande. ‘Are you coming?’ roep die vrou terwyl sy haar bostuk vasknoop. ‘We’re swimming to the island.’ ‘Yes, but rather tomorrow. We are leaving now.’ Onbegrypend waad die man uit die lou water – sy aandag verdeel tussen die kind op sy skouers en sy vrou op die strand. Hy sien daarom nie hoe die man in die bootjie ’n roeispaan lig, teen die sand druk en terug see toe roei nie. Geeneen merk die dogtertjie wat agter die bossies wegkruip nie. Later toe hulle met skemerkelkie in die hand oor die see uitkyk – die kleuter lank reeds in droomland – kon die vrou steeds nie die onrustigheid in haar peil nie. En selfs met haar blik op die strandpad, merk sy nie die kind wat elke skemeraand daarlangs die pad huis toe soek nie.
|