Article Information

Author:
Franci Greyling1

Affiliation:
1Faculty of Arts, School of Languages, North-West University, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article: Greyling, F., 2013, ‘’n Skrywer ’n storie’, Literator 34(2), Art. #1036, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.1036

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
’n Skrywer ’n storie
In This Litera...
Open Access
Dis met die grys skemering en eerste voëlgeluide dat die windsels van ’n storie in hom roer.

Voorheen sou hy gewonder het of hy so vroeg reeds moet opstaan, maar nou nie meer nie. Snags lê hy immers lang ure tussen droom en slaap en die ongemak van stywe ledemate en te min beweging. Daarom vou hy die laken af en soek-soek met sy voete na die pantoffels voor die bed. Versigtig om haar nie te pla nie, staan hy op, trek die deur agter hom toe en stap in die gang af na die studeerkamer, na sy werkplek, ’n sleutelbord en ’n donker skerm.

Terwyl hy wag dat die rekenaar met ’n sagte dreuning aanskakel en die beeld op die monitor verskyn, kom karakters uit die newels nader. Uit herinneringe woel hulle hulself los, tree uit foto’s, klim uit die bladsye van boeke; vergader agter die skerms. Hy kan hulle afwagting aanvoel: die hoofkarakters, die newekarakters, en andere wat talm – onseker of hulle wel ’n rol te vertolk het.

Ook hy kan kwalik sy opgewondenheid bedwing. Hy het ’n storie, ’n verhaal. Ná so ’n lang tyd het hy weer iets om te vertel. Ná so ’n lang tyd is daar weer karakters wat wag vir sy vingers, op sy woord, om hulle tot lewe te roep. Dog kyk hy hulle nie direk aan nie. Uit dure ondervinding weet hy om eerder verby te kyk, die skare ágtertoe op te soek. Die rakke boeke om hom. Boeke wat in sy hande gerus het, skrywers wat saamgesels het, woorde wat saamgeklink het – ou bekendes, vriende, reisgenote, geliefdes, heldhaftiges, konings en knegte, vergetenes, verstotenes. Ook karakters wat hy tot sy verlies nooit ontmoet het nie, boeke steeds ongelees. En, ’n armlengte van die lessenaar af – hulle wat hy die beste ken omdat elke karakter tog op ’n manier ’n afspieëling van die skepper is – sy eie oeuvre: kortverhale, romans, drama’s, ’n digbundel.

Nie te lank nie, maan hy homself, nie te lank talm by die meesters en minnaresse nie, dit kan die nuwelinge onseker stem, op vlug laat slaan… bowendien, langs hom op die monitor wink die blou ikoon, ʼn blokkie vir ’n nuwe dokument. Klik. Die wit skerm voor hom gereed.

‘En nou?’ vra sy toe hy die koerant driftig toevou en sy stoel agteruit skuif.

‘Soveel wat gebeur. So min insig! Ek moet gaan skryf.’
‘Drink jy nie eers tee nie?’
‘Jy kan later bring.’
Berig op berig. Dag na dag. Soveel wat in die land en oor die wêreld heen gebeur.

Maar so min, so bitter min, kommentaar, so min insig, so min nadenke en besinning.

Soveel wat hy kán, móét sê. Soveel om te skryf.
Woord en wederwoord. Om rigting te gee, rigting te kry, rigting te wees.

Wat nodig is, is die herlewing van groot denkers, hulle wat oor die mens se aard gepeins en klarigheid gebring het. En dit is wat hy moet skryf. Hy het iets om te sê. ’n Storie wat vandag se mense sal lees en verstaan, maar ’n verhaal met die diepte en insig wat oor eeue heen verwerf is – vergestalt in ’n karakter. Want is dit nie die enkeling wat oor die tye heen mense aangegryp het nie? Die mens wat ambisie, drome, denke, en dwaasheid en wysheid, versinnebeeld? Moses, Dawid, Odussee, Scheherazade, Bart Nel, Henry van Eeden.

Hy het ’n verhaal om te deel.

Die skrywer breek ’n nuwe pak papier oop.

In die blou kelkies van die kroonkandelaar het die storie begin lewe; het hy geweet dat daar iets is om te sê. Daarom het hy die snoeiskêr in die mandjie teruggesit, sy hande om die kroon gevou en met sy vingers tussen die rubberagtige kelkies gespeel. Kroonkandelaar. Agapanthus. Hoe wonderlik is taal en woorde en name nie. Die aard in ʼn woord. Klinkers en medeklinkers. Latyn en beeldende volksname. Voortdurend was sy vingers tussen die blaaie om ’n nuwe woord te vind, en sy tong daar om te vorm, in sy gedagtes oor en oor te laat klink en ver en vreemde plekke op te roep.

Agapanthus. Agape – liefde. Anthos – blom.
Agapanthus africanus.
Hemerocallis. Hemero – ’n dag, kallos – skoonheid. Skoonheid vir ’n dag. Daglelie.
Catharanthus. Kanniedood. Begrafplaasblommetjies.
Wanneer laas het hy gehoor van kanniedood? Van verbleikblom en vergeet-my-nie?

So sal die storie wees, weet hy. Sy storie sal die ou name laat rondrol soos klippertjies; soos ’n klippie onder die tong vir dorstige dae. Lekkersê woorde. Die herkenning van iets wat verlore was en weer gevind is. Sy verhaal sal die woorde lewendig maak; kleure en geure oproep van veld en tuin en taal. Boslelie, kuslelie, vleilelie – grasklokkie. Wanneer laas het hy ʼn grasklokkie gesien? Bloureën. Kelkiewyn. Sewejaartjie. Kandelaaralwyn. Beeskloutjie. Babatoontjies. Klippietjieplante.

‘Wat soek jy?’ vra sy.
‘My tikmasjien. Waar is dit? Dit het vanoggend nog op die lessenaar gestaan.’
‘Maar, dis jare dat jy nie meer…’ Haar stem is dof sodat hy moet fyn luister om te kan hoor wat sy sê. ‘In die buitekamer. Langs die stapel tydskrifte.’
Wat sou sy tikmasjien in die buitekamer maak?
Waarom onder ’n ou laken toegegooi? Waarom so stowwerig? Met ’n hoek van die laken vee hy oor die toetse, die silwer hefboompie, die swart silinder, die regop rugkant. Sou hulle huis skoongemaak het en die masjien hier kom neersit het? Kon sy nie vir hom gesê het nie! Sy weet mos hy moet skryf. En nou nog die sware masjien weer terugdra studeerkamer toe … Ja, wel, dis tog maar goed genoeg om net hier te werk; ’n stoel nadersleep, ’n vel papier … maar dis net ’n hopie tydskrifte wat hy langs hom raakvat. Dis ʼn ouerige uitgawe merk hy op, tog lyk die voorblad bekend. Ook dié van die tydskrif daaronder. Natuurlik! Hoe kon hy vergeet? Soveel tydskrifte, soveel stories, soveel skuilname – om den brode en om den stories en omdat daar soveel was om te vertel en soveel om te skryf, én met kinders die voortdurende uitgawes. Later was dit nie meer nodig nie – dank die vader daarvoor – sodat hy hom kon toespits op letterkundige werk; met die grootmenere saampraat, in debat tree, filosofeer; met donker pak en halwe baard toekennings in ontvangs neem; jong studente, ywerige lesers van sy werk, betower; voordragte by konferensies en skrywersbyeenkomste lewer en terugkeer na die klein ure van die nag en die meesters op die boekrakke en die reuk van ʼn nuwe boek en die lyf van ’n geliefde.

’n Vel papier agter die silinder, die knyptangetjie vas. Draai sodat die papier omrol en die wit vlak voor hom op die silinder lê. Bietjie op, bietjie af – so, net so – reg.

Dis met haar in sy arms, op die kombuisvloer waar hy haar gevind het, haar kop op sy skoot en haar asem stil, dat hy weet dit moet gedig word. Verhaal wat roep om vertel te word, wat wag om gelees te word. Van hare in die wind en oë wat in jou siel kyk en alles wat nuut en vars is en woorde en gedagtes wat uitbreek en eis om vasgepen te word. Maar met haar wat so sag in arms lê, haar voorkop wyd en haar oë toe, wil hy nie steur nie, strek hy sy arm uit na die laai en ’n notaboek vol resepte en boodskappe en vergeelde knipsels, en vir ’n potlood. Die grein van papier onder sy vingers soos haar vel en hare en klein klippies en lelieblare, en die aandlug fluweel. Dis die storie wat hy moet vertel. Van lewe en van mense en van haar van taal die tekstuur van lug die reuk van liefde die lewe wat hy in die woorde en sinne blaas, saggies. Skryf hy



Crossref Citations

No related citations found.