‘Wanneer sin ontbreek’

Book Title: In die afwesigheid van sin
Author: Susan Smith
ISBN: 978-1-86919-807-7
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2012, 94 p., ZAR R150.00*
*Book price at the time of review

Reviewer: Nelba Vercuil1
Affiliation: 1Private
Postal Adress: PO Box 18 Estcourt 3310, South Africa
How to cite this book review: Vercuil, N., 2013, ‘Wanneer sin ontbreek’, Literator 34(1), Art. #889, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/literator.v34i1.889
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In die afwesigheid van sin is Susan Smith se debuutdigbundel en handel oor woorde as skeppers van identiteit.

Die eerste gedig is ‘graffiti’ wat losstaan van die res van die werk en as sulks dus kan dien as ’n aanduiding van die tema van die bundel. Stories word mondelings oorgedra, maar moet uiteindelik opgeteken word om die mens te beveilig teen die geheueverlies van demensie en die verganklikheid van die liggaam. Stories word egter veral opgeteken om belangrikheid te verleen aan onbelangrike mense. In ’n primitiewe kultuur sou die opteken van die blote daarwees van ’n mens dalk die vorm van rotstekeninge aanneem. Deesdae word merke om te bevestig dat ons ook hier was, gelaat in die vorm van graffiti op mure, sowel as op Facebook se mure en op ander sosiale media – wat eintlik maar net meer gesofistikeerde vorms van graffiti is.

Die digbundel is besonder sinvol saamgestel in vier dele, wat elk gedigte bevat met ’n gemeenskaplike subtema. Die eerste deel handel oor die gee van sin deur middel van woorde. Woorde word ’n spieël waarin die digter, maar ook die leser haar- of homself en die wêreld herken en erken. Die tweede deel handel oor die verwantskappe tussen vroue. Aansluitend hierby is die kollektiewe geskiedenis wat aangeteken word deur die oordrag van stories van ouma na ma na dogter. Die derde deel van die bundel handel oor hoe woorde ons plaas binne ’n sekere konteks en die vierde oor die ontoereikendheid van woorde tot die ‘eendag’ wanneer daar hopelik finaliteit in woorde sal wees.

Die woord ‘sin’ dui op formele sinskonstruksie, die waarde van iets, dui besit aan en ‘sinne’ verteenwoordig sintuiglike waarneming. Hoewel die woorde ‘sin’ en ‘sinne’ regdeur die bundel gebruik word, word die spel daarmee veral goed vergestalt deur die gedig ‘sinkry’– wat die tweedelaaste gedig in die bundel is. Dood, verlies, inbraak en vrees maak geen sin nie en beide die digter en leser kan maar hoop op ’n toekoms waar sin weer sal seëvier.

Die leser sou kon identifiseer met die erfenis van breipatrone (soos in die gedig ‘patroon’) en resepte ( ‘in skilferdeeg toegevou’) wat van ma na dogter en weer na kleinkind aangegee word. Die erfenis is natuurlik nie net die tasbare tertjies en truie nie, maar die verhale wat saam met die skep daarvan vertel word en wat die erfgenaam vorm tot die vrou wat sy uiteindelik word. Die erfenis is bowenal genetika en die vorm van gewoontes. Ek haal aan uit die gedig ’erfenis’:

Uit gewoonte
herhaal ons mekaar

Ons leer mekaar ’n leeftyd lank ...

Dit maak die laat gaan van die persoon met wie daar ’n verwantskap bestaan, net nog moeiliker. Verlies neem verskeie vorme aan soos ’n dogter wat oorsee gaan woon en elke dag meer vervreemd raak van haar ma en ’n moeder wat alles vergeet behalwe enkele woorde en later sterf. ‘My liewe kind’ word die enigste woorde wat die moeder met demensie nog kan sê en ‘Ek het jou lief’ die woorde wat die ma van nuuts af in ’n ander taal aan haar terugkerende dogter leer sê. Die erfenis van woorde bly – al is dit dan ook net name in ’n telefoonboekie. Met die verloor van ’n kind, oorbrug stories die gaping tussen hier en die groot onbekende en die verskrikking van verlies ( ‘siembamba-narratiewe’ asook, ‘kinderspeletjies’ en ‘by die dood van ’n kind’).

Verwantskappe tussen mense is een van die temas wat met groot welslae in die bundel gehanteer word. Die verhouding tussen geliefdes, niggies en susters word aangeraak, maar in die skep van identiteit is geeneen van hierdie verhoudings so belangrik in die digbundel as dié tussen ouma, ma en dogter nie. Die digter maak dié verhoudings analoog aan haar eie verhouding met God in die gedigte ‘ingeboet’ en ‘Imago Dei’. Waar gedigte soos ‘llamada’, asook ‘verwagting’ en ‘dit is jou hand’ dalk as sentimenteel gesien sou kon word, gee die konteks waarbinne hulle geplaas word aan hulle waarde.

Die gebruik van ritme, musikaliteit en metaforiek gee aan die bundel ’n sterk vroulike karakter. Die taalgebruik is liries, byvoorbeeld in die gedig ‘ou huis’ en groot klem word op klank geplaas – wat natuurlik ook inskakel by die tema van die bundel. Uiteindelik is dit hierdie vroulike kwaliteit van die bundel wat dit, na my mening, so suksesvol maak.

In die afwesigheid van sin is ’n bundel wat met ewe veel genot gelees kan word deur ’n leek en ’n poësiefynproewer. Dit is met sorg saamgestel uit gedigte wat elkeen sterk in eie reg kan staan en voldoen aan die kriteria vir goeie poësie.

Die mens is sy woorde. ’n Idee wat ryke stof tot nadenke kan verskaf. Nêrens word hierdie idee meer waar as wanneer daar ’n klaarblyklike afwesigheid van sin is nie.



Crossref Citations

No related citations found.