<?xml version="1.0" encoding="UTF-8" standalone="yes"?>
<article LIT_436=""><bibl><publisher><pub_name>AOSIS OpenJournals</pub_name><pub_url>www.openjournals.net</pub_url><pub_mail>info@openjournals.net</pub_mail><journal_website>http://www.literator.org.za</journal_website></publisher><issn><issn_print>0258-2279</issn_print><issn_web>2219-8237</issn_web></issn><title><article_title>Ou geboue                                                         </article_title></title><aug><au></au><author_affiliation>1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa </author_affiliation></aug><correspondence><author_name>Heilna du Plooy1 </author_name><corresponding_email>heilna.duplooy@nwu.ac.za</corresponding_email><corresponding_postal_address>Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa</corresponding_postal_address></correspondence></bibl><xref><article_id>436</article_id><volume>34</volume><issue>2</issue><doi>10.4102/lit.v34i2.436</doi></xref><history><dates></dates><citation><text>Du Plooy, H., 2013, ‘Drie gedigte’, Literator 34(2), Art. #436, 1 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.436 </text></citation></history><copyright><year>© 2013.</year><statement>The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License. </statement></copyright><body><sec_heading>Ou geboue <paragraph>Vandag se weemoed gaan oor ou geboue wat van geweld getuig en kon weerstaan. Oor die luglyn van ‘n stad soos Budapest wat van ’n té lang herkoms bly vertel. Oor skilderye en klein beeldjies in galerye en kasteeltjies  wat wonderbaarlik! - wonderbaarlik ongeskonde deur die eeue kom.</paragraph><paragraph>Ontroer oor klip en stene wat kon uithou onder menslike gewig, hang ek vandag – een dag  ’n duisend jaar, ’n duisend jaar een dag –  in die breukdeel van die oomblik  vóór die steengelaat van tyd óópkraak en breek  in weer ‘n gilgesig.</paragraph></sec_heading><sec_heading>Bestemming <paragraph>As daar ’n plek soos ’n bestemming was, sou onnabootsbaar hierdie plek se stem  haar mense op die naam kon noem   omdat dié aarde hulle voetval ken;  sou die plek haar mense roep  so onbevange soos die hoep-hoep se gemoedelike merke in die gras inpas.</paragraph><paragraph>As ’n mens vir ’n plek bestem was sou ’n mens se stem die plek onvervreembaar in haar woorde merk omdat haar lyf gladweg in die plek inpas; so ’n plek sou in haar woorde boer so onbevange soos die duiwe wat oral op die dakke sit en koer.</paragraph><paragraph>Hoe oordadig, hoe stemhebbend is ons tyd.  Hoe ontstemmend swig die setels van die reg voor die skreeue van die mag, hoe ontluister  is die plek en hoe volmondig oorverdoof. Waar is ’n stilte diep genoeg dat mens en plek mekaar kan hoor, ’n stilte vér genoeg om die volkome luisteraar ín te sluit in ‘n onbestemde geluid. </paragraph></sec_heading><sec_heading>Belydenis na die maal <paragraph>Sy kom toe in die hemel aan: ‘Vanwaar, Gehasi?’ vra die hekwag en hy lyk vernaam. Hy hou sy kop so hoog, deurlugtig. Maar ek, wat hier bloot die verteller is, is glad nie seker of dit Paulus, Petrus, of dalk Thomas is nie.</paragraph><paragraph>Sy weet dat sy behoort te sê  -  dis immers ’n verhewe plek  en die vraag is sekerlik gewigtig - dat sy afkomstig is van Afrika, maar voel sy moet verduidelik, meer spesifiek Suid-Afrika.</paragraph><paragraph>Dan voeg sy by, versigtig, dat sy desnieteenstaande nogtans nie betoog het of gestruggle het nie. Ook dat sy desnieteenstaande nogtans  niemand ooit geslaan het nie, nie ’n witte  of ’n swarte nie. Sy sou wel graag wou byvoeg dat sy dié kontinent nie self kon kies nie. Sy was immers al vir drie eeue en ‘n half nie meer ’n Geus of Hugenoot nie. Sy erken ook ruiterlik dat sy self nooit regtig agter die kap  van die byl kon kom oor hoe ’n mens betrokke raak by die geskiedenis  of die politiek nie. </paragraph><paragraph>Sy was maar ’n gewone mens en ek, verteller, dra ek haar woorde net so oor, ek glo dit is haar wens. </paragraph><paragraph>Sy was nie seker of die kontinent van haar gehou het nie. Sy het vermoed van nie. Sy self was op die son én op die grond versot.  Al was sy self nooit seker waarvoor alles  sy verantwoordelik was of dalk gehou sou word nie. Desnieteenstaande,  nogtans, omdat sy indirek aandadig was soos almal, is sy nou bereid om te bely, as sy net geweet het hoe en waar juis sy die verloop van sake kon verander het.</paragraph><paragraph>Sy was mos ’n gewone mens, en ek wat die verteller is, stem saam:  ek wéét mos elke Suid-Afrikaan twyfel oor die aard en waarde van sy ontwyfelbare bestaan. </paragraph><paragraph>Sy trek haar asem in om nog te praat: daar is soveel om te verskoon, soveel om te verklaar,</paragraph><paragraph>maar daar’s ’n stem, en sy kan sweer die stem is goedig en die prater lag: ‘Ons hekwag is vandag weer alte vrolik - hy hou so van ‘n grap.’</paragraph><paragraph>‘As jy tot hier gekom het, is jy welkom, ongeag.’</paragraph></sec_heading></body><bm><referencing></referencing></bm></article>
