Article Information

Author:
Andries Visagie1

Affiliation:
1Department of Afrikaans, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Andries Visagie

Postal address:
Private Bag X20, Hatfield 0028, South Africa

Dates:
Received: 10 Apr. 2012
Accepted: 07 Nov. 2012
Published: 14 Dec. 2012

How to cite this article:
Visagie, A., 2012, ‘Walter van den Broeck se utopiese uitdaging aan die globale kapitalisme in Terug naar Walden’, Literator 33(2), Art. #405, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i2.405

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Walter van den Broeck se utopiese uitdaging aan die globale kapitalisme in Terug naar Walden
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Die narratief
Frederik van Eeden se Walden-projek
Van den Broeck se herbesoek aan die Walden-projek en die konsep van die gemene
Die roepstem van die Heideggeriaanse syn en die fokus op die plaaslike
Slot
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Absrtak

Die sosialistiese simpatieë wat die skryfwerk van die Vlaamse outeur Walter van den Broeck onderlê, skakel hom met die goed ontwikkelde tradisie van sosiaal betrokke literatuur in Vlaandere. Sy roman Terug naar Walden, gepubliseer in 2009, is ’n herbesoek aan die Waldenprojek van die Nederlandse hervormer en skrywer Frederik van Eeden (1860−1932). Van den Broeck gee te kenne dat ’n heroorweging van die sosialistiese ideale wat Van Eeden besiel het om nedersettings in Nederland en die VSA op die been te bring, geregverdig is in die lig van die ekonomiese krisis wat in 2008 deur onbesonne kapitalistiese praktyke veroorsaak is. In Terug naar Walden ontketen Ruler Marsh, die rykste man in die wêreld, ’n globale finansiële krisis in weerwraak teen die kapitalistiese stelsel wat tot die ondergang van sy ouers gelei het. Marsh keer terug na die Kempen in Vlaandere, sy familie se land van herkoms. In ’n Heideggeriaanse bevestiging van die lokale, soos versinnebeeld deur die veldpad, skakel Van den Broeck sy visie van die gemene (die gedeelde oftewel the common), ’n konsep wat teoretici soos Michael Hardt en Antonio Negri in hul Empire-trilogie vanuit die kommunistiese denke gerehabiliteer het, met ’n utopiese siening dat ’n stewiger band met die land en die mense uit die eie kontrei ’n nuttige vertrekpunt mag wees vir die ontwikkeling van lewensvatbare alternatiewe vir die kapitalisme.

Abstract

The utopian challenge to global capitalism by Walter van den Broeck in Terug naar Walden. The socialist sympathies that inform the writing of Flemish author Walter van den Broeck align him with a well-established tradition of socially engaged writing in Flanders. In his novel Terug naar Walden (Back to Walden), published in 2009, he revisits the Walden project of the Dutch reformer and writer Frederik van Eeden (1860−1932). Van den Broeck suggests that a reconsideration of the socialist ideals that inspired Van Eeden to establish settlements in the Netherlands and the United States is warranted in the light of the economic crisis triggered by unchecked capitalist practices in 2008. In Terug naar Walden Ruler Marsh, the richest man in the world, unleashes a global financial crisis as a form of retaliation against the capitalist system that ruined his parents. Marsh returns to the Kempen in Flanders where his family originated. In a Heideggerean affirmation of the local as exemplified by the country road, Van den Broeck articulates his vision of the common, that theorists Michael Hardt and Antonio Negri in their Empire trilogy have attempted to salvage from communist thinking, with a utopian notion that a stronger connection with the land and the people within one’s immediate environment may provide a useful premise for the development of viable alternatives to capitalism.

Inleiding

Walter van den Broeck is een van die Vlaamse outeurs wat skryf binne die lang tradisie van sosiaal-bewuste skrywers, waaronder Cyriel Buysse, Gerard Walschap, Louis Paul Boon, Piet van Aken en meer onlangs ook Tom Lanoye (Borré 1993:102−104). Die titel van Van den Broeck se roman Terug naar Walden (2009) herinner verder aan die titel van die Nederlandse outeur Jan Wolkers se roman Terug naar Oegsgeest (1965), ’n afrekening met ’n streng Calvinistiese jeugwêreld in samehang met ’n kapitalistiese waardestelsel. In ’n onderhoud dui Van den Broeck (2010) aan dat Terug naar Walden tydens die skryfproses ingehaal is deur die globale ekonomiese krisis wat in 2008 begin het. Voor hierdie krisis het hy reeds aan sy verhaal oor ’n wêreldwye ekonomiese ineenstorting begin skryf en aangesien die werklikheid sy fiksie begin naboots het, het sy uitgewers op die agterflap van die roman ’n skadeloosstelling geplaas met ’n knipoog oor die finansiële instellings in België wat in die krisis van 2008 meegesleur is: Elke gelijkenis met Fortis, ING, KBC of Dexia is geheel toevallig, maar wel terecht. [Elke ooreenkoms met Fortis, ING, KBC of Dexia is toevallig, maar tereg.]

Die doel van hierdie artikel is om Walter van den Broeck se vraagstelling aan die eietydse ekonomiese omstandighede waaroor hy skryf, te ondersoek met spesifieke aandag aan die utopiese elemente wat hy in sy roman aan sy lesers voorhou as die beginpunt van denke oor moontlike alternatiewe vir die globale kapitalisme. Die artikel fokus ook op die spanning tussen die globale en die lokale in Terug naar Walden en bied uiteindelik ’n kritiese blik op Van den Broeck se poging om in sy roman die artikulasie van die lokale landelike omgewing met die stadsomgewing as die sentrum van ekonomiese en politieke mag uit te lig. Die vraag is of Van den Broeck oortuig met sy klaarblyklik poging om regionaliteit en die plaaslike (en juis nie die metropool nie) uit te hef, en selfs te rehabiliteer, deur dit die middelpunt van ’n krisisoomblik in die verloop van ’n globale ekonomiese krisis te maak.

Die narratief

Van den Broeck se roman gaan nie soseer oor die ekonomiese woelinge in België nie, as oor ’n globale krisis wat in New York sy oorsprong het. Die hoofkarakter in Terug naar Walden, Ruler Marsh, is die rykste man in die wêreld wat doelbewus die aandelebeurse laat tuimel in ’n wraaksugtige aanslag op die kapitalistiese sisteem wat dekades vantevore sy ouers finansieel vernietig en tot hul selfmoord aanleiding gegee het. Sy enigste doel met die oprigting van sy eie sakeryk was om in ’n magsposisie te beland wat hom in staat sou stel om die kapitalistiese stelsel te saboteer. Terwyl die beurse wêreldwyd deur sy toedoen in duie stort, gee Marsh gehoor aan ’n stem wat hom na Vlaandere ontbied. In Antwerpen maak hy kennis met ’n student, Kaat Vermeulen, wat deeltyds as prostituut werk om haar studie te kan bekostig. Kaat ontferm haar oor die bejaarde Ruler Marsh, wat duidelik nie baie gesond is nie, en neem hom saam met haar na die fiktiewe dorp Wallem in die Antwerpse Kempen waar haar ouers woon. In Wallem neem Marsh sy intrek in die hotel Het Paradijs. Hier kom hy in kontak met die dorpsbewoners asook ’n aantal reisigers, wat net soos hy probeer om hul anonimiteit te bewaar, onder wie die miljoenêr en lugvaartavonturier Steve Fossett wat aan die wêreld te kenne wou gee dat hy in ’n vliegtuigongeluk omgekom het.

Dit blyk dat Wallem geslagte gelede die tuiste van Ruler Marsh se voorouers, die familie Vermeersch, was en die plaaslike amateur historici slaag selfs daarin om die oorblyfsels van die Vermeersch-familie se kleinhoewe, oftewel Vermersch doeningh, te lokaliseer. Wanneer Ruler Marsh ontdek dat Kaat se vader deur sy werkgewer, Sinc Inc., afgedank is weens die ekonomiese krisis wat hy veroorsaak het, word hy diep geraak deur die vrese van klein Lotte, Kaat se suster:

Op school zeggen ze dat straks alles dichtgaat, dat alle papa’s en mama’s en broers en zussen zonder werk zullen komen te zitten. En dat we dan allemaal van honger en dorst zullen sterven zoals in Afrika. Zeker nu dat broeikasteffect er nog bovenop komt. Het zal nog heter worden dan de voorbije dagen, het zeewater gaat stijgen, misschien wel tot hier, aan de duinen, en wie dan nog niet dood is van de honger, zal verdrinken en … Dat zeggen ze allemaal, meneer Vermeersch. Is dat waar? En dat ze Obama gaan doodschieten en zijn hondje ook? Is dat ook waar? [Op skool sê hulle dat alles binnekort gaan sluit, dat alle pappas en mammas en broers en susters werkloos gaan wees. En dat ons almal dan van honger en dors gaan sterf soos in Afrika. Veral noudat daardie broeikaseffek boonop kom. Dit gaan nog warmer word as die afgelope dae, die seewater gaan styg, dalk tot hier teen die duine, en wie dan nog nie van die honger doodgegaan het nie, sal verdrink en… Dis wat hulle alles sê, meneer Vermeersch. Is dit waar? En dat hulle Obama gaan doodskiet en sy hondjie ook? Is dit ook waar?] (Van den Broeck 2009:235, [outeur se vertaling])

Ruler Marsh besef dat sy wraak op die kapitalistiese stelsel onvoorsiene gevolge vir gewone mense inhou en dat hy die verkeerde keuse uitgeoefen het. In sy jeug het Ruler Marsh die keuse gehad het om óf die kapitalistiese stelsel vanuit die Van Eeden Colony in Noord-Carolina te beveg óf om self ’n magtige sakeryk op te bou. Die Van Eeden Colony is geïnspireer deur die Nederlandse schrijver, dichter, dokter, hypnotiseur en wereldverbeteraar (Van den Broeck 2009:95 [skrywer, digter, dokter, hipnotiseur en wêreldverbeteraar]), Frederik van Eeden, wat teen die einde van die negentiende eeu ’n landboukolonie, genaamd Walden, in Nederland op die been gebring het om as teenvoeter vir die kapitalistiese sisteem te dien.

Kaat Vermeulen vertroos Ruler Marsh in sy diep berou oor sy rampspoedige optrede. Hierdie intimiteit lei tot seksuele verkeer tussen Kaat en Ruler wat nog nooit vantevore seks gehad het nie. Die suggestie is dat Kaat bevrug word deur Ruler wat nog een missie het, naamlik om die hoewe van sy voorouers op te soek. Hy strek hom in die sogenaamde Engelenplas op die hoewe van sy voorouers uit en sy liggaam los in die water op sodat daar net ’n bros wit kors van hom oorbly en die Engelenplas vir die eerste keer in menseheugenis opdroog. Die dood van Ruler word gevolg deur ’n apokaliptiese slot wanneer die inwoners van Wallem ontsteld om die opgedroogde Engelenplas saamtrek en daar terselfdertyd ’n botsing tussen Steve Fossett se vliegtuig en ’n helikopter plaasvind. Die burgemeester roep uit: Een ramp! Een wereldramp! De ramp van Wallem! (Van den Broeck 2009:280) [’n Ramp! ’n Wêreldramp! Die ramp van Wallem!] en eggo daarmee Van den Broeck (in Horsten & Van den Broeck 2009) se opvatting dat die mens vanuit sy besondere aard die globale nie anders kan konseptualiseer as vanuit sy eie lokale ervaringswêreld nie:

Waar je ook staat op de wereldbol, je hebt altijd de indruk dat je op het centrale punt staat […] Of dat punt nu in Manhatten ligt of in een dorp in de Kempen, dat maakt niets uit. Neem Woody Allen. Als die een voet buiten New York zet en op reis gaat, dan neemt hij ongeveer half New York mee. Hij huurt een heel hotel af, om toch maar de cocon van de eigen biotoop in stand te kunnen houden. Ik denk dat het des mensen is. [Waar jy ookal op die aardbol staan, is jy altyd onder die indruk dat jy op die sentrale punt staan […] Of die punt nou in Manhatten of in ’n dorp in die Kempen geleë is, maak glad nie saak nie. Neem Woody Allen. As hy een voet buite New York sit en op reis gaan, neem hy ongeveer die helfte van New York saam. Hy huur n hele hotel om die kokon van sy eie biotoop in stand te hou. Ek dink dat dit tipies menslik is.] (Horsten & Van den Broeck 2009), [outeur se vertaling])

Die klem wat Van den Broeck in sy roman op die verbondenheid met die plaaslike biotoop lê, word met vernuf ontwikkel in die spel wat hy met naamgewing aangaan. Die familienaam Van den Broeck verwys na die Nederlandse woord broek wat moerassig land (Van Dale. Groot woordenboek van hedendaags Nederlands 1984:219) beteken. Ruler Marsh se familienaam was oorspronklik Vermeersch voordat dit in Amerika verengels is (bl. 135). Sowel Marsh as Vermeersch verwys net soos Van den Broeck na ’n moeras en wanneer Ruler Marsh uiteindelik fisies oplos in die moerasland van sy herkoms is dit duidelik dat dit verwys na ’n vereenselwiging met die eie regionaliteit, by sowel die skrywer as sy karakter:

Marsh waadt langzaam naar het midden van de plas. Zijn voetzolen worden amper nat. Dan strekt hij zich langzaam in het water uit. Het blijkt de temperatuur van zijn eigen lichaam te hebben. Hij spreidt en beweegt een paar keer de armen en de benen, zoals de Vitruviusmannetje van Da Vinci en voelt hoe het water meteen zijn kleren doorweekt. […]

Vloeipapier, denkt hij. Ik ben van vloeipapier, en hij sluit glimlachend de ogen. [Marsh loop stadig na die middel van die poel. Sy voetsole word skaars nat. Dan strek hy hom stadig in die water uit. Dit blyk die temperatuur van sy eie liggaam te wees. Hy sprei en beweeg sy bene en arms n paar keer, soos die Vitruviusmannetjie van Da Vinci en voel hoe die water meteens sy klere deurweek. […] Kladpapier, dink hy. Ek is gemaak van kladpapier, en hy sluit sy oë glimlaggend] (Van den Broeck 2009:249, [outeur se vertaling])

Die spel met naamgewing blyk selfs verder te gaan: dit wil naamlik voorkom asof die familienaam Vermeersch ’n kopknik is in die rigting van Vrijdag, Hugo Claus se bekende drama uit 1969. In Vrijdag is daar net soos in Terug naar Walden ’n karakter, Georges Vermeersch, wat na jare onverwags terugkeer huis toe en sodoende aanleiding tot ’n kritieke situasie gee.

Die distopiese toestande in Terug naar Walden word in die laaste paar bladsye van die roman gevolg deur ’n utopiese toneel wanneer Ruler Marsh in Walden naby Bussum in Nederland ’n anachronistiese ontmoeting met Frederik van Eeden het. Vanuit sy goed ontwikkelde kennis van die wêreldekonomie gee Marsh vir Van Eeden raad hoe om sy Walden-projek te laat slaag en te ontwikkel as ’n alternatief vir die kapitalisme. Voordat ek verder op Van den Broeck se visie vir ’n herbesoek aan die Walden-projek ingaan, wil ek kortliks ’n samevatting gee van Frederik van Eeden se oorspronklike ideale met die landbounedersetting, Walden, wat hy in 1898 van stapel gestuur het. Van Eeden se sosialistiese eksperiment in Walden het weliswaar misluk. In Terug naar Walden bespiegel Walter van den Broeck egter oor die moontlike nut van die utopiese ideale wat die projek geïnspireer het as moontlike korrektief op die gierigheid en eiebelang wat in die een en twintigste eeu die globale kapitalistiese sisteem kenmerk.

Frederik van Eeden se Walden-projek

Die Walden-projek is deels geïnspireer deur Henry David Thoreau se boek Walden; or, Life in the Woods wat in 1854 verskyn het. Thoreau het hierdie bekende boek oor ’n selfonderhoudende bestaan na aanleiding van sy verblyf van sowat twee jaar in ’n hut by Walden Pond in Massachusetts geskryf. Frederik van Eeden het ook ’n liefde vir die natuurlewe gekoester en het bowendien daarna gestreef om soos Herman Gorter, sy mede-Tagtiger, en Henriëtte Roland Holst van der Schalk sosialistiese waardes uit te leef.

Van Eeden se biograaf, Jan Fontijn (1990:418), beskryf hoe Van Eeden in 1898 een mager, droog stuk heidegrond [’n arm, droë stuk heidegrond] buite Bussum in Nederland aangekoop het nadat hy ’n lening van sy moeder ontvang het. Hy neem sy intrek in ’n houthut op Walden en sowat ’n jaar later verhuis sy vrou en twee kinders ook na De Lelie, ’n nuwe, gerieflike woonhuis waar Van Eeden ook ’n deel van sy tyd sou deurbring. ’n Aantal verdere hutte is op Walden vir die eerste bewoners, waaronder die Suid-Afrikaanse vrou Ada van Heyningen, opgerig. Met haar vrees vir melaatsheid was sy een van Van Eeden se psigiatriese pasiënte. Die inwoners van Walden het uit drie groepe bestaan, naamlik eerstens pasiënte, tweedens kunstenaars en intellektueles en laastens die arbeiders en boere wat nagenoeg al die handearbeid moes verrig (Fontijn 1990:432−434). Naas die boerderybedrywighede is ’n sjokolade- en lekkergoedbedryf en ’n bakkery ook met verloop van tyd op Walden op die been gebring. Jan Fontijn (1990:440) gaan sonder enige romantisering in op die swak organisasie en voortgesette klasseverskille wat Van Eeden se sosialistiese eksperiment gekenmerk het. In sy boek Studies skryf Van Eeden (1904:290) egter die volgende verhewe woorde oor Walden: Wij bewegen ons letterlijk den ganschen dag in verwezenlijkte utopiën [sic] en reëel geworden droombeelden [Ons beweeg letterlik die ganse dag in verwesentlikte utopieë en waargemaakte droombeelde]. In hul verslae oor hul verblyf op Walden is die Waldensers vol waardering vir Van Eeden en sy projek. As jong student het die skrywer Nico van Suchtelen (1983) byvoorbeeld tydens sy verblyf op Walden ’n klavierkonsert in die huis van mevrou Van Eeden bygewoon:

In een der hoeken staat een vleugel en in een halve kring daaromheen zit, verspreid op sofa, stoel of bank, een klein, aandachtig luisterend gezelschap: de gastvrouw, een paar goede buren, een paar Waldensers, waaronder ook de jonge student, de noviet. Van Eeden zelf, in zijn veel-gehoonde pilo-pak – straks zal hij wel gaan rooien of wieden – zit een beetje afgezonderd in zijn stoel bij de haard. Zou hij zich, als een andere Tolstoi, misschien óók gast voelen in het huis van zijn vrouw, omringd door ’n warme weelde die hij als hervormer moest verloochenen, maar toch zo heel en al, zo onafwijsbaar hoorde bij zijn diepste wezen als kunstenaar en man van de wereld? [In die een hoek staan n vleuelklavier en in n halwe kring daaromheen sit, verspreid op sofa, stoel of bank, n paar Waldensers, waaronder ook n jong student, die groentjie. Van Eeden self, in sy dikwels bespotte werkersklere – netnou sal hy wel gaan skoffel of werskaf – sit effens afgesonderd by die kaggel. Voel hy dalk, soos n ander Tolstoi, ook soos n gas in sy vrou se huis, omring deur die warm weelde wat hy as hervormer moes verloën maar tog so geheel en al, so onvermydelik by sy diepste wese as kunstenaar en man van die wêreld hoort?] (Van Suchtelen 1983:213, [outeur se vertaling])

Van Eeden het Karl Marx se aanhangers as ’n sekte beskou wat met hul klassestryd van die oorspronklike sosialistiese idee afgedwaal het (Fontijn 1996:38). Anders as die kommuniste en sosiaal-demokrate wou hy nie onverwyld die sosialisme op aarde vestig nie. Hy was eerder van mening dat ’n sosialistiese gemeenskap langsaam moes ontwikkel deur arbeiders te leer om vir hulself te werk. In plaas daarvan om die politieke mag te wil oorneem, was sy voorstel om selle soos Walden te vorm waar inwoners deur selfwerksaamheid volgens selfgeformuleerde reëls vir mekaar werk en slegs ’n aanspraak op die kollektiewe hulpbronne sou maak waar en wanneer hulle behoeftes sou ontwikkel. Die ideaal sou wees om ’n welvarende gemeenskap te skep, ook deur kapitaalvorming, met die oog op die uitbreiding van die eie gemeenskap sonder enige aggressiewe houding teenoor die staat of die kapitalisme (Van Hettinga Tromp 1983:68−69). Volgens een van die Waldensers, Jan van Hettinga Tromp (1983:72), het Walden misluk omdat die grond nie vir landbou geskik was nie, te min deskundige vakmanne by die projek betrokke was en daar ook nie genoeg kapitaal beskikbaar was om die projek van die grond te bring nie. Jan Fontijn (1990:441) voeg by dat Van Eeden se toewyding aan sy eie skryfwerk en sy lang afwesighede van Walden om hom onder meer vir die saak van die Boere in hul oorlog teen die Britse Ryk te beywer, hom verhinder het om behoorlike leiding aan die gemeenskap in Walden te verskaf.

Soos Walter van den Broeck in Terug naar Walden skryf, het die Walden-projek teen 1907 tot niet gegaan, maar in 1908 reis Van Eeden na die VSA om ’n aantal lesings oor sy sosiale visie te gee. Hy hou in Carnegie Hall voor niet minder dan drieduizend rijkaards een lezing met als titel Practical Communism – ‘Work and Bread’ ((Van den Broeck 2009:98)) [voor nie minder nie as drieduisend rykaards ’n lesing getiteld ‘Practical Communism - Work and Bread’] en behaal groot sukses daarmee (kyk ook Fontijn 1996:189−194). Daar volg selfs ’n ontmoeting met president Roosevelt1 en tydens ’n latere reis met president William Taft plaas (Fontijn 1996:210).

Uiteindelik was dit egter die welvarende boukontrakteur William Hoggson en die ewe vermoënde bankier Hugh MacRae uit Wilmington, Noord-Carolina wat buite Wilmington die Van Eeden Colony opgerig het. In Amerika het Van Eeden na aanleiding van Gerald Stanley Lee se boek Inspired Millionaires tot die insig gekom dat miljoenêrs en sakeleiers hul kommersiële vaardighede tot voordeel van die gemeenskap moes aanwend en hulle deur liefde moes laat lei. Hugh MacRae met sy agrariese hervormingsplanne was vir Van Eeden die prototipe van ’n inspired millionaire [besielde miljoenêr] (Fontijn 1996:200−201). In die VSA het Van Eeden egter belangstelling in sy eie ideale begin verloor en sonder sy inspirasie en weens die winsmotiewe van Hugh MacRae het ook hierdie onderneming ’n paar jaar later misluk (bl. 98−99). In Terug naar Walden betreur Ruler Marsh uiteindelik sy besluit as jongman om nie sy gewig by die Van Eeden Colony in te gooi nie. Hy het met Simon Vogel2, ’n Nederlandse boer wat na die VSA geëmigreer het, kennis gemaak wat op aanmoediging van Van Eeden by die Van Eeden Colony wou aansluit. Ruler Marsh het destyds egter die konsep van ’n kolonie as die bedenksel van een halfzachte halvegare (bl. 99) [versinsel van ’n dwase sot] beskou.

Van den Broeck se herbesoek aan die Walden-projek en die konsep van die gemene

In die slot van Terug naar Walden ontmoet Ruler Marsh vir Frederik van Eeden in 1898 in sy hut op Walden en gee vir hom puntsgewys die volgende raad:

1. Kandidaat-koloniste moet allereers deeglik in solidariteit geskool word sodat eiebelang nie bo gemeenskaplike belang voorkeur kry nie. Slegs opgeleide vakmanne en geen romantiese siele moet ingesluit word nie.
2. Vrugbare grond moet met die geld van die koloniste aangekoop word sodat hulle self verantwoordelikheid vir die projek sal aanvaar.
3. Masjiene moet aangekoop word om te verseker dat daar suksesvol met kapitalistiese produksiemiddele meegeding kan word.
4. Produksie moet eerstens gerig word op dit wat die koloniste nodig het en die oorskot moet verkoop word. Die opbrengste uit die oorskot moet gebruik word vir uitbreiding en die oprig van nuwe kolonies.
5. ’n Sakeleier en organisator moet aangestel word en Van Eeden moet hom liewer met sy skryfwerk en die psigiatrie besighou.
6. Die koloniste moet uit Amerika wegbly. (Van den Broeck 2009:283–284)

Hierdie slothoofstuk stem ooreen met ’n uchroniese fantasie soos omskryf deur Elisabeth Wesseling (1991:13−14). Die fokus word gerig op dit wat sou kon gebeur in die geskiedenis indien Frederik van Eeden sy projek anders aangepak het. In die uchroniese literatuur word daar vanuit ’n posisie in die verlede moontlikhede vir toekomstige transformasie van die samelewing. In ’n speelse omgang met historiese feite word dus ’n utopiese visie uiteengesit. Dit is egter tipies van die uchroniese fiksie dat daar ’n besef is dat die tyd nog nie vir die volledige verwerkliking van utopiese alternatiewe ryp is nie. Die bereiking van die utopiese omwenteling word na die toekoms geprojekteer aangesien die remmende uitwerking van die status quo op die verwesenliking van die utopiese toekoms nie onderskat word nie (Wesseling 1991:164). In Terug naar Walden is daar ’n besliste onbehae met die globale kapitalisme, maar in die lig van die val van die kommunisme in Sentraal- en Oos-Europa is ’n terugkeer na die sosialistiese alternatief van Frederik van Eeden ’n gewaagde onderneming, al het Van Eeden hom met beslistheid van sowel die sosialistiese as die kommunistiese groeperings in Nederland gedistansieer. In sy roman reik Walter van den Broeck uit na ’n alternatief vir die globale kapitalisme al besef hy waarskynlik dat die status quo in die wêreldekonomie vir eers gehandhaaf sal word. ’n Herbesoek aan Van Eeden se Walden-projek moet uiteraard bedag wees op die moontlike gevare van ’n herhaling van byvoorbeeld die Stalinistiese dwingelandy en die besef dat die globale orde ingrypend verskil van die tydsgewrig waarin Frederik van Eeden gewoon en gewerk het.

Moontlik in aansluiting by Van Eeden se gedig ‘De waterlelie’ wat as motto voorin Terug naar Walden aangehaal word, grawe Ruler Marsh tydens sy gesprek met Van Eeden ten slotte ’n waterlelie uit ’n poel en wys op die modderige steel van die blom:

‘Dit’, roept hij, met de bloem schuddend, ‘kan niet zonder dat.’ En hij wijst naar de modderige steel. [‘Dit’ roep hy, terwyl hy die blom skud, ‘kan nie sonder dat nie’. En hy wys na die modderige steel.] (bl. 285, [outeur se vertaling])

Sy les aan Van Eeden is grootliks ’n les in onderlinge verbondenheid en wedersydse afhanklikheid. Van den Broeck se utopiese heroorweging van Frederik van Eeden se Walden-projek as ’n moontlike teenvoeter vir die globale kapitalisme vertoon interessante ooreenkomste met die begrip van die gemene oftewel die gedeelde [the common] wat in die drieledige werk oor globalisering van Michael Hardt en Antonio Negri, bestaande uit Empire (2000), Multitude (2005) en Commonwealth (2009), ’n nuwe betekenisvolheid verkry het. Ruler Marsh se lesse in verbondenheid en solidariteit is uiteraard aan beide Frederik van Eeden en Van den Broeck se sosialistiese oortuigings gekoppel, net soos Hardt en Negri ook gewortel is binne die Marxistiese filosofiese tradisie hoewel ook hulle sterk afwysend staan teenoor die politieke vergrype wat in die verlede in die naam van die Marxisme gepleeg is. Oor die ideologiese fundering van Walter van den Broeck se oeuvre skryf Jos Borré (1985):

vanuit een marxistisch geïnspireerde overtuiging ziet Van den Broeck de arbeider als een gevangene van door het kapitalisme gecreëerde levensomstandigheden. Zijn kracht ligt in de solidariteit binnen de klassenstrijd, niet in individuele ontsnappingspogingen waarin impliciet de sociale hiërarchie als maatschappelijk ontwerp erkend wordt. [vanuit n Marxisties-geïnspireerde oortuiging sien Van den Broeck die arbeider as n gevangene van lewensomstamdighede wat deur die kapitalisme tot stand gekom het. Sy krag lê in die solidariteit binne die klassestryd, nie in individuele ontsnappingspogings waarin die sosiale hiërargie implisiet as maatskaplike ontwerp erken word nie.] (bl. 113, [outeur se vertaling])

Ook in sy bydrae tot Utopisch alfabet. Honderd toekomstvisies stel Van den Broeck (2011) ’n vreedsame samelewing, wat elke individu in staat sal stel om hom volledig te verwesenlik deur aktiewe medewerking aan sake van algemene belang, in die vooruitsig. Ook hier gaan dit vir Van den Broeck daaroor om die gemene in verbondenheid met ander te ervaar:

De boeken waarop godsdiensten zich baseren, zullen worden ondergebracht in de afdeling sprookjesboeken. Het richting- en rustgevend beginsel zal niet langer de hemel, maar het algemeen belang zijn. De vraag Wat moet ik doen om in de hemel te komen? zal vervangen worden door de vraag Wat kan ik doen om het algemeen belang te bevorderen? Het algemeen belang is niets nobels. Het is een beter begrepen vorm van eigenbelang. Immers, als iedereen het goed heeft, dan hebben u en ik het ook goed.

[Die boeke waarop godsdienste gebaseer is, sal by die sprokiesafdeling ingedeel word. Die rigting- en rusgewende beginsel sal nie langer die hemel wees nie, maar wel die algemene belang. Die vraag Wat moet ek doen om in die hemel te kom? behoort vervang te word met die vraag: Wat kan ek doen om die algemene belang te bevorder. Die algemene belang is nie edel nie. Dit is n beter begrip van eiebelang. As dit immers met almal goed gaan, dan gaan dit met jou en my ook goed.] (bl. 191, [outeur se vertaling])

Hardt en Negri (2009:viii) is van mening dat globalisering die skepping van die gemene, ’n gedeelde wêreld, tot stand gebring het. Met die gemene bedoel hulle die algemeen beskikbare bronne van die materiële wêreld – die lug, die water en die opbrengs van die grond wat in die klassieke Europese denke beskou word as die gedeelde erfenis van die hele mensdom. Hierbenewens beskou Hardt en Negri die gemene ook as die resultaat van sosiale produksie wat nodig is vir maatskaplike interaksie en vir verdere produksie, naamlik bepaalde vorme van kennis, tale, kodes, inligting ensomeer. Hierdie begrip van die gemene plaas die mensdom nie buite die natuur as die ontginner of voog van die natuur nie, maar konsentreer eerder op interaksiepraktyke sorg en saambestaan in ’n gedeelde wêreld. Die probleem is egter dat die kapitalistiese stelsel toenemend die gemene geprivatiseer het. Kultuurprodukte waaronder inligting, idees en selfs dier- en plantspesies is omskep in privaat eiendom en dit is Hardt en Negri (2009:viii) se pleidooi dat die gemene en die potensiaal wat daarin geleë is, teruggewen moet word. Hulle sien binne die globale orde dat die gemene, weens die groeiende belang van wêreldwye netwerke soos sigbaar in die vrye uitruil van inligting deur die internet, groter prominensie begin inneem en dat hierdie toenemende klem op die gemene sowel ’n geleentheid is vir die skepping van ’n nuwe solidêre samelewing as ’n geleentheid vir die kapitalisme om op nog groter dele van die gemene beslag te lê (Hardt & Negri 2005:xiii; Casarino 2008:18).

Die belang van die gemene in die globale orde is onder meer sigbaar in die nuwe vorme van arbeid wat toenemend domineer, naamlik immateriële arbeid wat op immateriële produksie ingestel is, insluitend dienslewering en intellektuele arbeid wat die skepping en lewering van dienste, idees, beelde en verhoudings insluit (Hardt & Negri 2005:108). Hierdie soorte arbeid skep, en is terselfdertyd ingebed binne-in, koöperatiewe en kommunikatiewe netwerke. Enigiemand wat met inligting of kennis werk – van landboukundiges wat nuwe saadvariante ontwikkel tot rekenaarprogrammeerders – is afhanklik van gedeelde kennis wat van ander afkomstig is. Hardt en Negri (2005:xvi) noem hierdie nuwe dominante arbeidsbedeling ‘biopolitieke produksie’ om daardeur te beklemtoon dat dit nie net gaan oor die produksie van goedere in ’n streng ekonomiese sin nie, maar oor alle fasette van die maatskaplike, ekonomiese, kulturele en politieke lewe betrek en produseer.

In Terug naar Walden figureer die gemene duidelik sterk in die diskoers wat oor Van Eeden se Walden-projek as ’n gemeenskaplike projek benader word. Die gemene is egter ook deeglik deel van Ruler Marsh se persoonlike ontwikkeling in sy reis van New York na die Antwerpse Kempen. In New York was hy ’n eensame en wraaksugtige individu wat alleen in sy eie toringgebou, Marsh Tower, woon. Hy het ook nooit enige seksuele kontak met vroue gehad nie, of soos hy dit self stel:

Voor een relatie had ik geen tijd, voor seks geen belangstelling. Al mijn energie investeerde ik in mijn missie. [Vir n verhouding het ek geen tyd gehad nie, in seks het ek nie belanggestel nie. Al my energie het ek in my roeping belê.] (Van den Broeck 2009:103, [outeur se vertaling])

Hy sou wel vroue na Marsh Tower ontbied en hulle opdrag gee om vir hom te dans. Daarna sou hy voyeuristies na hulle staar totdat hulle suiwer deur sy priemende blik ’n orgasme sou bereik. Met die geheimsinnige roepstem wat Marsh na Wallem in die Antwerpse Kempen ontbied, begin sy ontdekking van die gemene in sy persoonlike lewe. Hy verruil sy individuele subjektiwiteit as kapitalis vir ’n nuwe subjektiwiteit wat die enkeling binne ’n kommunale verband plaas. Die hotel Het Paradijs is ’n knooppunt binne die gemeenskapslewe in Wallem en dit is ook die ontmoetingsplek van reisigers uit verskillende wêrelddele, soos byvoorbeeld Steve Fossett. By die ouerhuis van Kaat Vermeulen ontstaan vir die eerste keer by Marsh ’n verantwoordelikheidsgevoel teenoor mense uit die werkersklas. Hy kom tot die insig dat hy in sy jeug eerder die Walden-opsie moes uitgeoefen het as om die rykste man in die wêreld te word. Wanneer hy kort hierna die woonplek van sy voorouers nader, word hy vervul met ’n liggaamlike gevoel van herkenning en verbondenheid. Intussen het hy ook seksueel na Kaat uitgereik sodat hy nie langer ’n sogenaamde dorre tak in die evolusie sou wees nie, maar ’n nageslag in die lewe sou bring (Van den Broeck 2009:251)

Die roepstem van die Heideggeriaanse syn en die fokus op die plaaslike

Ruler Marsh se ontdekking van die gemene oftewel die gedeelde word in Terug naar Walden nie eksplisiet in die terminologie van Hardt en Negri uitgedruk nie, maar wel in Heideggeriaanse terme. Dit was naamlik die roepstem van die syn wat Marsh tot orde geroep het en hom na Wallem gelok het (bl. 250) en in die seksuele ontmoeting met Kaat was dit eweneens:

dat slimme, sluwe Zijn, dat daar en toen begonnen was bij elkaar te brengen wat bij elkaar hoorde, in een poging te redden wat er te redden viel. [daardie slim, sluwe Syn, het daar en dan begin om bymekaar te bring wat bymekaar hoort, in n poging om te red wat te redde is.] (bl. 252, [outeur se vertaling])

Ook wanneer Marsh hom in die Engelenplas uitstrek, word hy deel van die Syn en los hy op in ’n sekere verbondenheid met die grond van sy voorouers.

In Terug naar Walden het Walter van den Broeck veral aansluiting by Heidegger se meevoerende literêre toepassing van sy konsepte van Sein en Dasein (zijn en erzijn) in sy essay De landweg gevind (Heidegger 2001). As filosofiestudent probeer Kaat Vermeulen haar verdiep in Heidegger se nogal abstrakte maar meer beroemde werk Sein und Zeit (1998) waarin Heidegger die Sein oftewel die syn verklaar as ’n veelduidige begrip wat nie net aandui dat iets is nie, maar ook dat dit potensieel iets is; dat dit verwys na die essensie en na eksistensie; en dat dit ook verwys na hoe iets is (Inwood 1997:1617). Hierteenoor gebruik Heidegger (1998:26) die begrip Dasein om te verwys na die mens wat uiteraard ook deel van die syn is, maar vrae oor die syn kan stel en dus ’n begrip van die syn besit. Dasein beteken om in die wêreld ‘daar’ te wees en om boonop altyd van ander (mense en dinge) afhanklik te wees. Günter Figal (1992: 67) skryf: Welt ist gemäß der Heideggerschen Daseinsanalyse wesentlich ‘Mitwelt’ [Die wêreld is volgens die Heideggeriaanse analise van die Dasein in wese ’n wêreld in samesyn]).3 Aangesien ons deel van die wêreld is, is die onbepaaldheid van die wêreld daarom ook ons eie onbepaaldheid. In Heidegger se Sein und Zeit is daar egter geen sprake daarvan dat die Sein (in teenstelling tot die meer menslik bepaalde Dasein) oor ’n lokstem beskik of enigsins ’n wil besit om die mens aan te roep nie. Die roepstem van die syn in Terug naar Walden is dus eerder Van den Broeck se eiesoortige toevoeging wat hy vermoedelik na aanleiding van Heidegger se latere en meer mistieke teks De landweg geformuleer het.

In De landweg dink Heidegger terug aan die grondpad buite sy tuisdorp Meßkirch waarnaas hy as seun graag onder ’n akkerboom met sy boeke gesit het. As ’n verbindingsaar word die landweg die mistieke samesnoerder van mense en dinge, van Sein en Dasein. Die landweg doen ’n appèl op die mens om eenvoud te waardeer en om in harmonie met die omringende wêreld en sy herkoms te lewe. Die mens moet ontvanklik wees vir die boodskap van die landweg wat dikwels op ’n skalkse, ondeunde manier oorgedra word (Heidegger 2001:19−21). In Terug naar Walden word die syn moontlik daarom beide slim en slu (Van den Broeck 2009:252) genoem wanneer dit uiteindelik bymekaar bring wat bymekaar hoort.

Sowel klein Lotte as Ruler Marsh word ontvanklik vir die lokstem van die landweg, die Vennenpad, buite Wallem waarnaas die hoewe van Ruler Marsh se voorouers geleë is. Ruler Marsh gee hom oor aan de instructies van het pad (Van den Broeck 2009:246) [die instruksies van die pad] en hy word met ’n gevoel van herkenning vervul al het hy nog nooit vantevore op die Vennenpad geloop nie:

hij gaat helemaal open om de landweg met alles erop en eraan in zich op te kunnen nemen. Raakt hij de bladeren van de struiken aan om zich een weg te banen, of raken de bladeren hem aan om hem met bemoedigende strelingen te verwelkomen? [Hy gaan heeltemal oop om die landweg met alles daarop en daarnaas waar te neem. Raak hy die blare van die struike aan om sy weg te baan, of raak die blare hom aan om hom met bemoedigende strelings te verwelkom?] (Van den Broeck 2009:247, [outeur se vertaling])

Die geroesmoes van New York het hom byna ’n leeftyd lank vervreem van hierdie harmonieuse eenwording met die syn waarvan sy voorgeslagte ook deel vorm. Op die Vennenpad voel klein Lotte op haar beurt vervleg met alles wat groei en bloei; sy voel nie meer soos Lotte Vermeulen nie, maar tegelyk soos Alles en Niets (Van den Broeck 2009:256) [Alles en Niks]. Hierdie ervarings wat Ruler Marsh en Lotte Vermeulen op die Vennenpad beleef, word voorberei deur die motto uit De landweg van Heidegger waarmee Van den Broeck se roman begin en wat ’n skakel lê tussen die syn, die mens, sy herkoms, die lokale en die globale. Heidegger (2001) skryf naamlik:

Maar het toespreken van de landweg spreekt slechts zo lang als er mensen zijn die, in zijn lucht geboren, hem kunnen horen. Zij zijn horigen van hun herkomst, maar geen knechten van machinaties. De poging om planmatig een ordening aan de aardbol op te leggen is tevergeefs als de mens zichzelf niet schikt naar het toespreken van de landweg. [Maar die aanprake van die landweg is net hoorbaar solank daar mense, gebore in sy dampkring, is wat hom kan hoor. Hulle gee gehoor aan hul herkoms, maar is geen knegte van enige gekonkel nie. Die poging om planmatig orde op die aardbol te skep, is tevergeefs as die mens homself nie skik na die aansprake van die landweg nie.] (bl. 20, [outeur se vertaling])

Dit is allermins verbasend dat De landweg in Terug naar Walden opduik aangesien Van den Broeck ’n skrywer is vir wie die eie lokale omgewing meestal die vertrekpunt van ’n wyer betrokkenheid is. In sy bekende Brief aan Boudewijn (1980) neem hy byvoorbeeld vir koning Boudewijn op ’n wandeling deur Olen, sy geboortedorp in die Kempen en meer onlangs in die strokiesverhaal in samewerking met tekenaar Reinart Croon, De tranen van Turnhout (2011), is dit prinses Elisabeth van België se beurt om kennis te maak met Turnhout, die Kempense stad waar Van den Broeck hom later gevestig het (Van den Broeck & Croon 2011).

Van den Broeck se eksplisiete verwysings na Heidegger se Sein und Zeit en De landweg is myns insiens nie in stryd met Hardt en Negri se konsep van die gemene binne die globale orde nie. Die syn in Terug naar Walden verwys na die onderlinge eensgesindheid tussen die karakters en ook na hul verbondenheid met hul omgewing en die geskiedenis. Die syn is as ’t ware die voorvereiste vir ’n ervaring van die gemene, vir die verwerwing van ’n subjektiwiteit wat oor die grense van die self na ’n gedeelde roeping en plek in die wêreld uitreik. Die konsep van die gemene bied egter ’n meer bevredigende perspektief op Van den Broeck se sosialistiese boodskap binne die konteks van globalisering en gee sodoende ’n meer eietydse interpretasie aan Heidegger se konsepte van Sein en Dasein, waaraan Heidegger (2001:20) in De landweg in 1949 deels in reaksie op die opkoms van atoomenergie ’n eiesoortige aktuele toepassing vir sy tyd gegee het.

Van den Broeck (in Horsten & Van den Broeck 2009) se mening dat die mens die globale nie anders kan konseptualiseer as vanuit sy eie lokale ervaringswêreld nie, lei in Terug naar Walden tot ’n verplasing van die globale ekonomiese krisis na Van den Broeck se tuisgebied, die Kempen, ’n streek wat toenemend deur die uitbreiding van die naburige stad Antwerpen in beslag geneem word. Die Kempen is egter allermins ’n hoofspeler binne die globale ekonomie. Met die verskuiwing van die globale krisis na die Kempen streef Van den Broeck kennelik na ’n soort korreksie van die magsbalans tussen stad en platteland wat met globalisering steeds sterker die stedelike omgewing bevoordeel het. Deurdat hy ’n dorp soos Wallem in die kataklismiese middelpunt van die globale paniek rondom Ruler Marsh se verdwyning uit New York plaas, vestig hy die lesers se aandag op die feit dat die dramas wat die globale orde kenmerk, nie werklik tot die stedelike milieu beperk kan word nie. Die woelings in die stedelike raadsale kring danksy die omvattende netwerke van globalisering baie vinnig uit na die meer afgeleë dele van die wêreld. In sy roman stel Van den Broeck dus sy eie heimat sentraal binne die wêreldwye krisis oor Ruler Marsh se optrede en in sy legitimasie van hierdie ongewone stap betrek hy dan vir Heidegger met sy eiesoortige allooi van heimatliefde in Terug naar Walden. Van den Broeck se besluit om die Kempen in sy fantasie te omskep as die sentrum van globale ekonomiese woelinge het soms amusante gevolge, maar uiteindelik verander dit min aan die besef van lesers dat wêreldstede die werklike enjinkamers van globalisering is. Die terugkeer na regionaliteit in Terug naar Walden kan beskou word as ’n teenreaksie op, en selfs as ’n afwysing van, die eise van globalisering om ’n meer kosmopolitiese belewing en posisionering van die self en die eie gemeenskap na te streef.

Slot

In 2003 het die literator Raffaella Baccolini (in Baccolini & Moylan 2003:235−236; 246) die vermoede uitgespreek dat utopiese denke in die hede deur die kapitalisme gekoöpteer is. Utopia word versmelt met die najaag van materialistiese bevrediging en word sodoende gekommodifiseer, gedevalueer, misbruik en besoedel. Baccolini se waarneming was dat die verbruikerskultuur in die eietydse samelewing die heersende modaliteit van geluk verteenwoordig. Hierteenoor glo Eric Cazdyn en Imre Szeman (2011:1) dat globalisering ’n ideologiese projek was wat kapitalisme onsigbaar moes maak deur dit agter ’n stel verskynsels waaraan die mensdom bittermin kan verander, te versteek. Die ekonomiese krisis van 2008 het volgens hulle egter ’n einde aan die verskuilde posisie van die kapitalisme gemaak en die rol van globalisering, as die sluier wat die realiteit van die kapitalistiese stelsel verberg, het verval.

Myns insiens is dit voortydig om op grond van die ekonomiese krisis van 2008 die einde van globalisering aan te kondig. Dit is egter wel goed moontlik dat die globale ekonomiese krisis vir die utopiese literatuur nuwe bestaansmoontlikhede geopen het na die jare van uitsiglose koöptering waarna Baccolini verwys. Walter van den Broeck se Terug naar Walden waarin die aanvanklike kapitalistiese distopie uiteindelik plek inruim vir ’n utopiese alternatief wil lyk na ’n hertoeëiening van utopia deur ’n skrywer met ’n sterk ontwikkelde sosiaal-betrokke literatuurbeskouing. Van den Broeck se waagmoedige verkenning van die moontlikhede van utopia binne die globale orde vestig die aandag op wedersydse verbondenheid tussen mense onderling, solidariteit met mens en omgewing, en die gemene (gedeelde) wat ontsnap aan die kommodifisering van die kapitalisme. In die afwesigheid van ’n oortuigende alternatief vir die kapitalistiese stelsel aan die begin van die een-en-twintigste eeu is dit begryplik dat skrywers wat na ’n sosiaal verantwoordelike bestel verlang in hul utopiese soeke sal terugkeer na die verlede om onontginde moontlikhede in sosialistiese eksperimente soos dié van Frederik van Eeden te gaan soek. Al kan ’n mens vraagtekens agter die eventuele implementering van sodanige utopiese voorstelle plaas, slaag ’n skrywer soos Walter van den Broeck ten minste daarin om sy lesers aan te moedig om aan alternatiewe vir die globale kapitalisme te begin dink.

Erkenning

Ek wil graag my dank teenoor die Universiteit van Pretoria uitspreek vir die finansiële steun om hierdie artikel moontlik te maak.

Mededingende belange
Die menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is (tensy anders aangedui) uitsluitlik die menings van die outeur self.

Literatuurverwysings

Baccolini, R. & Moylan, T. 2003, ‘Conclusion. Critical Dystopia and Possibilities’, in R. Baccolini & T. Moylan (eds.), Dark Horizons: Science fiction and the dystopian imagination, pp. 233−249, Routledge, New York & London.

Borré, J., 1985, Walter van den Broeck, Antwerpen, Manteau.

Borré, J., 1993, ‘Ein Brief an den König oder Soziales Bewusstseins in der flämischen Literatur’, in F. Ligtvoet & M. Van Nieuwenborgh (reds.), Die niederländische und die flämische Literatur der Gegenwart, pp. 102−105, Karl Hanser, München & Wien.

Casarino, C., 2008, ‘Surplus common: A preface’, in C. Casarino & A. Negri (eds.), In praise of the common: A conversation on philosophy and politics, University of Minnesota Press, Minneapolis & London.

Cazdyn, E. & S. Zeman, I., 2011, After globalization, Wiley-Blackwell, Chichester.

Claus, H., 1969, Vrijdag, De Bezige Bij, Amsterdam.

Figal, G., 1992, Martin Heidegger zur Einführung, Junius, Hamburg.

Fontijn, J., 1990, Tweespalt: Het leven van Frederik van Eeden tot 1901, Em. Querido’s Uitgeverij, Amsterdam.

Fontijn, J., 1996, Trots verbrijzeld: Het leven van Frederik van Eeden vanaf 1901, Em. Querido’s Uitgeverij, Amsterdam.

Hardt, M. & Negri, A., 2000, Empire, Harvard University, Cambridge MA & London.

Hardt, M. & Negri, A., 2005, Multitude: War and democracy in the age of empire, Penguin, London & New York.

Hardt, M. & Negri, A., 2009, Commonwealth, The Belknap Press of Harvard University Press, Cambridge, MA.

Heidegger, M., 1998, Zijn en tijd, vert. M. Wildschut, Uitgeverij SUN, Nijmegen.

Heidegger, M., 1968, Sein und Zeit, Tübingen, Niemeyer.

Heidegger, M. & Witt, C., 1988, Auf dem Feldweg Martin Heideggers, Armin Gmeiner Verlag, Messkirch.

Heidegger, M., 2001., 1949, De landweg, vert. Jacob van Sluis, Uitgeverij Damon, Budel.

Horsten, T. & Van den Broeck, W., 2009, ‘Walter van den Broeck. Terug naar Walden’, De Standaard, 25 September, besigtig op 19 Januarie 2010, by http://www.standaard.be/Artikel/PrintArtikel.aspx?artikelId=MB2FFE23

Inwood, M., 1997, Heidegger: A very short introduction, Oxford University Press, New York.

Van Dale Groot woordenboek van hedendaags Nederlands, 1984, Van Dale Lexicografie, Utrecht & Antwerpen.

Van den Broeck, W., 1980, Brief aan Boudewijn, Elsevier Manteau, Antwerpen/Amsterdam.

Van den Broeck, W., 2009, Terug naar Walden, Meulenhoff, Manteau, Antwerpen/Amsterdam.

Van den Broeck, W., 2010, Walter van den Broeck.mov. YouTube, besigtig op 06 Julie 2011, by http://www.youtube.com/watch?v=HFNwAffS3Ec

Van den Broeck, W., 2011, ‘En Thomas spreekt’, in H. Polis (red.), Utopisch alfabet: Honderd toekomstvisies, pp. 190−191, Antwerpen, De bezig bij.

Van den Broeck, W. & Croon, R., 2011, ‘De tranen van Turnhout’, Stripgids 2(24), 33−50.

Van Eeden, F., 1904, Studies: Vierde reeks, W. Versluys, Amsterdam.

Van Hettinga Tromp, T.J., 1983, ‘Van Eeden en “Walden”’, in H.W. Van Tricht (red.), Onzeekerheid is leeven: Beschouwingen over Frederik van Eeden, pp. 66−75, Martinus Nijhoff, Leiden.

Van Suchtelen, N., 1983, ‘Muziek op Walden’, in H.W. Van Tricht (red.), Onzeekerheid is leeven: Beschouwingen over Frederik van Eeden, pp. 212−214, Martinus Nijhoff, Leiden.

Wesseling, E., 1991, Writing history as a prophet: Postmodernist innovations of the historical novel, John Benjamins, Amsterdam & Philadelphia.

Wolkers, J., 1965, Terug naar Oegstgeest, Meulenhoff, Amsterdam.

Voetnotas

1. Jan Fontijn (1996) beskryf hoedat Van Eeden ’n eksemplaar van die Engelse vertaling van sy roman De kleine Johannes aan Roosevelt oorhandig het en hoe die gesprek verloop het:
Van Eeden deed Roosevelt The Quest cadeau met een vleiende opdracht voorin, waarmee deze zeer ingenomen was. De president was een ijdele, niet onsympathieke man, vond Van Eeden, en bepaald niet knap met zijn kleine ogen. Hij gaf zich zoals hij was. Het was iemand met strijdlust, die eerlijk het goede wilde. Hij vroeg Van Eeden naar zijn houding ten opzichte van klassebewustzijn. Die vertelde hem toen dat hij ertegen gestreden had en nog steeds streed. Roosevelt waarschuwde hem ook tegen visionaire personen. Van Eeden kreeg de indruk dat de president daarbij met name hemzelf op het oog had. [Van Eeden oorhandig aan Roosevelt n geskenkeksemplaar van The Quest met n vleiende boodskap voorin waarmee die president baie ingenome was. Die president is n ydel, maar nie onaangename man nie, volgens Van Eeden, en nou nie juis aantreklik met sy klein ogies nie. Hy is sonder bedrog. Iemand met strydlustigheid en n opregte strewe na dit wat goed is. Hy vra Van Eeden uit oor sy houding oor die klassebewussyn. Van Eeden vertel hom toe dat hy hom nog altyd daarteen verset het en hom nog steeds daarteen verset. Roosevelt waarsku hom toe ook teen mense met visioenêre ideale. Van Eeden het daarmee die indruk gekry dat die president sy opmerking veral op hom gemik het.] (bl. 194, [outeur se vertaling])

2. Die karakter Simon Vogel is waarskynlik gebaseer op Herman Vogels, ’n prominente landbouer wat deur Van Eeden vir die Van Eeden Colony buite Wilmington gewerf is (Fontijn 1996:217).

3. Heidegger (1998:91) verklaar die verknooptheid van die Dasein (‘erzijn’) met die buitewêreld soos volg: Het erzijn is in geen geval ingekapseld in zijn innerlijke sfeer, waaruit het pas naar buiten treedt zodra het zich ergens op richt en iets in zijn greep probeert te krijgen; het is juist vanwege zijn primaire zijnswijze altijd al ‘buiten’ bij een zijnde dat vanuit de telkens al ontdekte wereld tegemoet treedt. En het zich-ophouden bij en bepalen van het zijnde om het te leren kennen is in geen geval een verlaten van de innerlijke sfeer, maar ook in dat ‘buiten-zijn’ bij het voorwerp is het erzijn in een welbegrepen zin ‘binnen’, het is het namelijk zelf als in-de-wereld-zijn dat kent. En het vernemen van het gekende is op zijn beurt niet een naar buiten gaan om iets in zijn greep te krijgen en vervolgens met de verkregen buit terug te keren in het ‘omhulsel’ van het bewustzijn, maar ook in het vernemen, bewaren en onthouden blijft het kennend erzijn als erzijn buiten.



Crossref Citations

No related citations found.