‘[H]et jy ooit/ my briewe gelees?’: Nini Bennett se poësiedebuut

Book Title: Kodeks
Author: Nini Bennett
ISBN: 978-0-620-50030-2
Publisher: Cordis Trust Publikasies, Pretoria, 2011, 68 p., ZAR80.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Phil van Schalkwyk1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, South Africa
Postal address: Private Bag X6001, Potchefstroom Campus, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Van Schalkwyk, P., 2013, ‘[H]et jy ooit/ my briewe gelees?’: Nini Bennett se poësiedebuut’, Literator 34(1), Art. #403, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i1.403
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Kodeks is Nini Bennett se eerste digbundel. In 2002 beïndruk sy met Stoornis, ’n bundel kortverhale waarvoor sy met die RAU-Mardene Maraisprys bekroon is. Daardie versameling is die kreatiewe produk van haar magisterstudie in Skeppende Skryfkuns wat sy met lof onder leiding van Etienne van Heerden voltooi het. Sy het ook al ’n internasionale kinderboekprys losgeslaan, naamlik in die afdeling Afrikaans van Room to Read (2008). Kodeks mag wel Bennett se poësiedebuut wees, maar sy is geen groentjie nie.

Die Afrikaanse literêre kritiek neig ongelukkig om ’n patronerende houding teenoor debuutwerk in te neem. Gebreke word maklik as tipiese debuut-mankemente getipeer en oorgesien. Dikwels word die werk ook sonder meer aan ‘beginner’-standaarde gemeet en op grond van redelik algemene skryfbeginsels beoordeel sonder om daarvoor voorsiening te maak dat die skrywer al op ’n hoër niveau werksaam mag wees en daardie beginsels plooi, selfs uitdaag, volgens die aard en behoeftes van sy of haar skryfwerk.

Tekortkominge (of dalk liewer voorlopige onduidelikhede) vertoon Kodeks wel, maar die vraag is of dit (slegs) aan gebrek aan ervaring toegeskryf kan word. Bennett het nog nie opvolgwerke in die (sub)genres waaraan sy al haar hand gewaag het, gelewer nie. Dit lê byna voor die hand dat sy nie ewe veel aanleg in al hierdie literatuursoorte sal toon nie. Met verloop van tyd sal blyk waarin Bennett haar gaan onderskei.

Dit kom my egter onwaarskynlik voor dat Bennett nie op hoogte sou wees van die eise en kompleksiteite van goeie poësie nie. Ingeligtheid impliseer weliswaar nie noodwendig gelyke vaardigheid en beheersing wat beoefening betref nie. Tog: minstens ’n gedeelte van die ‘probleme’ van Kodeks kan myns insiens dalk eerder aan funksionele vormgewing as aan onwetendheid en/of onbeholpenheid gekoppel word.

Die tematiek van hierdie bundel is swaar en dít manifesteer, heel gepas ook, in die teksaanbod. Die gedigte handel oor diepbeleefde en diepsnydende ervaringe, en dit blyk moeilik te wees om van die beskrewe belewenisse sin te maak, om (die juiste) woorde daarvoor te vind. Die spore van verlies, dood en rampspoed lê rou. Die gedigte in Kodeks demonstreer die onvermoë, die tastende soeke, wat dikwels aanleiding gee tot ’n soort verbale oorkompensasie, ’n oorvloedigheid.

Dit is voorts asof die onaandagtige en ongevoelige leser (of dalk liewer: die onaandagtige en ongevoelige kante van die leser), wat nie wil of kan ‘meeleef’ nie, betig en selfs ‘uitgesluit’ word. Die leser moet hierdie waardige bundel dus as’t ware waardig word. En die digterlike soektog loop sigsag [zig-zag], soos die kantpaadjie van die spreker se verwese motorwag-oupa in ‘Motorwag’.

Terselfdertyd, en paradoksaal, vertoon die bundel ’n (skynbaar naïewe) geloof in taal, en dít is wel ’n potensieel steurende aspek. Dit is asof die gedigte onderlê word deur die oortuiging dat, as mens hard genoeg probeer, jy die ervaringe uiteindelik adekwaat verwoord sal kry. Die ywerig-ernstige aanpak, die omhaal van woorde, die woekerende metaforiek en die sporadies-opduikende ‘soos’-vergelykings, dwing die gedigte eerder al verder van geslaagde vervreemding weg. Die fokus is merendeels op ervaringe wat buite die gedigte lê, wat dit voorafgaan. Hierdie gebeure is oorwegend intens persoonlik: die agteruitgang en dood van geliefdes, klein persoonlike rituele waardeur hierdie verliese verwerk of herdenk (probeer) word, die swaarkry en teëspoed van andere wat (via die media) die eie bestaan binnedring. Te selde egter word ’n gedig self ’n gebeurtenis.

Daarom het min gedigte my bygebly, selfs na ’n tweede lees van die bundel. Die toonaard van die gedigte stem grootliks ooreen en die tektoniek bly voorspelbaar amorf. Na my gevoel gaan die meeste poëtiese aandag daarop uit om die gedig reël-na-reël uit te bou en staande te hou. Daar is weinig blyke daarvan dat daar ook teruggetree is sodat die gedig as geheel in oënskou geneem kan word. Daarom maak individuele gedigte ’n onbesliste indruk. Maar is dít dalk deel van die doelbewuste bundelopset, of liewer, die manier wat die gedigte hul kom aanmeld het?

Die bundeltitel dui op ’n moeisame byeenbring van tekste om ’n geheel te vorm. Kodeks suggereer ’n soort lywigheid wat vormlik goed in die gedigte na vore kom. Die bundel bestaan uit vyf afdelings (‘Indeks’, ‘Vuurdoop’, ‘Mespunt’, ‘Vlugtyd’, ‘Nuwe vuur’), elk met ’n eie tematiese klemlegging, maar tegnies is die gedigte opvallend kongruent. Die titel bevat ook iets van ‘kode’, en dit is in hierdie verband betekenisvol dat die eerste gedig van ‘Indeks’, die eerste afdeling, as koderende aanvang van die bundel suggereer dat ‘indeksering’ in hierdie kodeks voorop gaan staan. Indeks is nie net bladwyser met betrekking tot dit wat elders uitgebreid aan bod kom nie, maar volgens die HAT ook ’n syfer of letter ‘wat die mag of wortel van ’n hoeveelheid aandui’ en ’n formule of syfer ‘wat ’n bepaalde verhouding tussen meetbare waardes aandui’. Voorts suggereer ‘indeks’ moontlik ook, binne semiotiese verband, die indeksale (nl. indeksale tekens).

Die slotreël van die aanvangsgedig stel begin voorop: ‘die vuurdoop het pas begin’. Vuurdoop dui op sigself op ’n begin, ’n eerste ervaring wat mens voorberei op wat nog gaan volg (eerste veldslag van ’n soldaat; moeilike eerste toets – HAT). In die aanvangsgedig van Kodeks word gesuggereer dat dit wat volg in die teken van verlies en dood gaan staan, soos bevestig deur die kleur en ontwerp van die bundelomslag. Dis juis die gebukkendheid van verlies en rou wat die kern van die openingsgedig, ‘Weduweeskof’, vorm.

Die implikasie van hierdie bundel as ‘indeks’ is dat die ervaringe wat hier sukkelend verwoord word maar net ’n verwysing (heenwyser) is, dalk na iets ‘groters’, dat die sin van die swaarkry ‘elders’ gevind kan word.

Dit is verfrissend om ’n nuwe bundel te lees wat uit die hart maar met literêre sofistikasie geskryf is. Intertekstualiteit kom wel voor, maar anders as by sommige tydgenote, is dit nie oorwoekerend nie. In die driedelige gedig oor die Engelse digteres Charlotte Mews word op bevredigende wyse met die intertekstuele omgegaan, terwyl ‘Lykdig’ in hierdie verband minder oortuigend is. Die verwysingswêreld van die bundel sluit verhale uit die media asook terminologie uit die psigologie (Gestalt en Rorschach se inkkladtoets) in. Heelwat gedigte word deur die Bybelse onderlê.

Die bundel bevat ongelukkig voorbeelde van onnadenkende formulering, byvoorbeeld die reël ‘ons neem jou op in die hospitaal’ in die gedig ‘Alzheimer’ en reëls wat gewoon prosa is, byvoorbeeld, in dieselfde gedig, die volgende:

en ek onthou in standerd twee het ek
my ou hond by die DBV afgelaai
en weer gaan haal net betyds
om tuis te sterf

Daar kom egter ook voortreflikhede voor, byvoorbeeld motiewe wat nie bloot herhaal nie, maar ook uitgebou word of permutasies ondergaan. Heel gepas, gegewe die bundeltematiek, is die trane-motief. Trane kom in heelwat gedigte voor. Besonder treffend pas die ‘pad’ van trane sig by sowel die tema van agteruitgang en sterflikheid as die sigsag-soeke aan, byvoorbeeld in die gedig ‘(Binker Stein)’:

… en my ma huil
oor die papierpersonas, haar trane
volg nie meer gladde spore nie
nee dit haper oor die dwaalkoerse in haar gesig

Die trane wys ook heen na, en word deel van, iets groters (ook intertekstueel), soos blyk uit die volgende versreëls van ‘(Met apologie aan Breyten)’:

oor wange vertak baie trane
en trane word riviere
en riviere word mondig in die see

Treffende formulerings kan ook uitgewys word, byvoorbeeld die twee slotreëls van ‘Nagwaak’:

ek is die blinde nagwaak
die uil wat die nag se omwentelinge skandeer

Nagwaak’ lewer bewys dat Bennett ook kort en onthoubare gedigte kan komponeer.



Crossref Citations

No related citations found.