Afrikaanse poësie geïnspireer deur die Oosters-Ortodokse kerklike tradisie

Book Title: Die Onsienlike Son
Author: Jacobus van der Riet
ISBN: 978-1-8691-9751-3
Publisher: Protea, Pretoria, 2012, 104 p., ZAR160.00*
*Book price at the time of review

Reviewer: Johan Steenkamp1
Affiliation: 1School of Ancient Language and Text Studies, North-West University, South Africa
Postal address: Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Steenkamp, J., 2013, ‘Afrikaanse poësie geïnspireer deur die Oos-Ortodokse kerklike tradisie’, Literator 34(2), Art. #402, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.402
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die Onsienlike Son, die debuut bundel van vader Jacobus van der Riet, ’n priester in die Oosters-Ortodokse kerk bevat 59 gedigte oor heiliges uit sy kerklike tradisie. Min van die heiliges, wie se verhale die gedigte van die bundel geïnspireer het, sal aan Afrikaanse lesers bekend wees, maar die invloed van ’n tradisie wat steeds betreklik onbekend is in Afrikaans, kan net die taal en haar kultuur verdiep.

Die deurlopende tema van die bundel is God, die Onsienlike Son, en sy invloed in die lewens van heiliges. Die onsienlike lig van God skyn op en deur die heiliges wie se geloof soos soveel onblusbare vure brand. Die bundel is nie gemoeid met hedendaagse probleme nie en die wêreld waarin die meeste van die gedigte geplaas is, is vir Suid-Afrikaanse ore vreemd en eksoties. Sensitief vir hierdie struikelblok, word kort beskrywings van al die heiliges agterin die bundel voorsien. Hierdie kort beskrywings ontsluit baie van die gedigte, maar stel ook effe teleur: die beskrywings is selde meer as blote prosavertellings van wat reeds in die gedig vertel is. ’n Breër beskrywing van die bepaalde heilige se lewe en tyd, sou die gekose aspekte waarop die gedigte fokus beter verduidelik en die leser se ondervinding daarvan verdiep het.

Die digwerk is baie formeel en herinner aan die atmosfeer van ’n Oosters-Ortodokse kerkdiens. Die streng vorm van die sonnet, waarop al die gedigte gekomponeer is, is gepas by die formele rituele van ’n heilige diens. Ook die taalgebruik herinner aan die kerklikheid: dit is suiwer, maar bevat argaïsmes en die leser struikel soms oor terme wat nie sommer alledaags voorkom nie. Die soms koddige taalgebruik is egter dikwels effektief veral, waar dit, soos die uitheemse name van mense en plekke, die leser in die bundel se wêreld meesleur.

Verskeie afbeeldings van ikone, soos die ikoon op die voorblad, ontwerp deur Julia Bridget Hayes, kom tussen die gedigte voor. Die ikoon van die Heilige Gregorius die teoloog (sy gedig is op bl. 44) op die voorblad het Griekse byskrifte, maar die ikone wat dwarsdeur die res van die boek verskyn, is van Afrikaanse byskrifte voorsien. Hierdie byvoeging tot die teks, tesame met die eenvoudige en treffende voorbladontwerp, herinner aan Middeleeuse verligte tekste en dra by tot die eksotiese, ritualistiese wêreld wat die gedigte oproep.

Die streng formaliteit van die sonnetvorm en die verhewe taal word afgewissel deur die gebruik van ’n meer moderne benadering tot versmaat. Reëls word selde gebind tot ’n monotone versmaatpatroon soos die pentameter en, alhoewel die rym die sonnetstruktuur rig, verhoed die dikwels lang reëls dat die gedigte soos geprewelde ritualistiese rympies opgesê kan word:

Nie alleen jou hart nie, maar ook jou eenvoudige hut
staan in ligte laaie, in die gloed van die Heilige Gees,
as jy op jou knieë tot die Goddelike Drie-eenheid bid,
sodat omstanders verwonderd vir jou veiligheid vrees. (‘Die Heilige Basilios die Grote, Aartsbiskop van Kappadosië’, bl. 42)

Dié effek is egter partymaal minder geslaagd en van die poësie klink plek-plek soos prosa:

’n Voëlverskrikker in vodde en monnikemus, skop
jy die graaf, dolwe jy kluite om, hark en lei jy water
langs die rye aartappels en kool en trek elke netel
soos ’n hebbelikheid of hardnekkige hartstog op. (‘Die Heilige Sergei van Radonezj’, bl. 62)

Alhoewel die verhale van die Oosters Ortodokse heiliges, wat in die gedigte vertel word, interessant en eksoties is, sal die bundel nie in almal se smaak val nie. Baie van die gedigte talm op die dood van die heiliges, veral dié wat ʼn grusame marteldood ondergaan het. Die dood van die Heilige Martelare Sofia en haar dogters Geloof, Hoop en Liefde, byvoorbeeld:

Met hoeveel hartstog haat Hadrianus die Heer
dat hy Geloof in haar lente soos ’n takkie snoei?
Die soldate kap haar botsels af en smyt dit neer,
dog dis bloeiselwit melk wat oor die vloere vloei. (‘Die Heilige Martelare Sofia en haar dogters Geloof, Hoop en Liefde’, bl. 31)

Ná hierdie kwatryn volg ’n tweede, gewy aan die verbranding van Hoop, ’n derde aan die uitmekaarskeur van Liefde en die koeplet aan almal se uiteindelike dood. Daar is egter ook baie gedigte wat die menslikheid van die heiliges, hul vrese en moed sensitief verwoord. Vir die liefhebber van Afrikaanse poësie en dié wat die rykdom van kerklike tradisies waardeer, is dié bundel ’n welkome toevoeging tot enige versameling.



Crossref Citations

No related citations found.