Article Information

Author:
Bernardus J. Odendaal1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Bernard Odendaal

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 18 Apr. 2012
Accepted: 03 Oct. 2012
Published: 31 May 2013

How to cite this article:
Odendaal, B.J., 2013, ‘Eenheid-in-veelheid as struktuurstramien in die poësie van T.T. Cloete, met klem op bundelbou’, Literator 34(1), Art. #398, 10 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i1.398

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Eenheid-in-veelheid as struktuurstramien in die poësie van T.T. Cloete, met klem op bundelbou
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Ten aanvang: Die ‘samewerkingsbeginsel’ in die poësiebeskouings van T.T. Cloete
Getuienis van die rol van T.T. Cloete in die teoretisering oor bundeleenheid in Afrikaans
Die poëtiese vergestalting vaneenheid-in-veelheid: Basiese retoriese vorme wat Cloete benut
Enkele voorbeelde van retoriesevorme op die mesotekstuele vlak in Cloete se digkuns
Bundelbou in die oeuvre van Cloete
   • Angelliera (1980)
   • Jukstaposisie (1982)
   • Allotroop (1985)
   • Driepas (1989)
   • Onversadig (2011)
Retoriese vorm op die makrotekstuele vlak van Cloete se verskuns
Slotopmerkings
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Abstrak

Vervlegte samehang of ikoniese ‘ko-kommunikatiwiteit’ is ’n uitstaande kenmerk van die twintigste-eeuse poësie, ook die digkuns van die Afrikaanse digter T.T. Cloete. Dié kenmerk, wat ook ’n dominante literêre leeskonvensie geword het, manifesteer nie slegs op mikro- en mesotekstuele vlakke nie, maar ook op die makrotekstuele (digbundel-) vlak. In Afrikaans is daar, gesien teen wat byvoorbeeld in Nederlands gebeur het, relatief lewendig en diepgaande geteoretiseer oor digbundelbou. Raidt se 1962-verhandeling en Strydom se 1976-proefskrif is twee bakens hiervan in die Afrikaanse literêre veld. T.T. Cloete het in hierdie teoretisringsproses klaarblyklik ’n bemiddelende rol gespeel. In hierdie artikel word die neerslag van ‘ko-kommunikatiwiteit’ op die mikro-, meso- en makrotekstuele vlakke van Cloete se eie digoeuvre oorsigtelik ondersoek. Dit word beskou as ’n digterlike verikonisering van die Godopenbarende, dinamiese samehang-in-verskeidenheidsfenomeen wat hy in kosmiese en aardse verskynsels waarneem. Klem val op die bundelboukenmerke in sy digoeuvre. Die gevolgtrekking word gemaak dat sy digoeuvre oorheersend ’n reeksaard aanneem en voorlopig in drie reekse van drie bundels elk manifesteer – maar wat, gesien as ’n geheel-in-drie-dele, ten slotte iets siklies vertoon vanweë die ‘verhaal’ wat daardeur vergestalt word.

Abstract

Unity-in-multiplicity as structural framework in the poetry of T.T. Cloete, with emphasis on volume construction. Close-knitted coherence or iconic ‘co-communicativity’ is an outstanding characteristic of 20th–century poetry, and the oeuvre of Afrikaans poet T.T. Cloete. This characteristic, which has also become a dominant literary reading convention, is not only manifested on the micro- and intermediate textual levels, but also on the macro-textual (on the level of poetry volume construction). In Afrikaans, compared to what has happened in a language like Dutch, relatively vibrant and profound theorising on poetry volume construction has occurred. Raidt’s 1962 dissertation and Strydom’s 1976 thesis serve as two of the landmarks in the Afrikaans literary field in this regard. T.T. Cloete, apparently, has played a mediating role in this theorising process. In this article, an overview was given of the manifestation of ‘co-communicativity’ on the micro-, intermediate and macro-textual levels of Cloete’s own poetry oeuvre. It is viewed as a poetic iconisation of the way in which God makes himself known through the phenomenon of dynamic earthly and cosmic unity-in-diversity (as perceived by Cloete). The focus was on characteristic ways of poetry volume construction by Cloete. It is concluded that his poetry oeuvre primarily takes on a series construction character, and that it is provisionally to be divided into three groups of three volumes each – but which, seen as a three-deckered whole, also showed a certain cyclic nature because of the ‘narrative’ it thereby embodies.

Ten aanvang: Die ‘samewerkingsbeginsel’ in die poësiebeskouings van T.T. Cloete

Sentraal aan die poësiebeskouings én -praktyk van T.T. Cloete staan wat al as die samewerkingsbeginsel (Viljoen 1984:85), of die kenmerk van vervlegte samehang of ‘homomorfisme’ (Viljoen 1984:85) in ’n poëtiese kunswerk beskryf is. Hy streef in sy werk onmiskenbaar daarna om die verskillende individuele vlakke van gelyksoortige tekens (byvoorbeeld klank, ritmiese verskynsels, sinsbou, tipografie, ensovoort) ikonies op mekaar te laat reflekteer (Odendaal 1991, 1997:61–67; Du Plooy 2008).

Alle elemente in ’n geslaagde gedig vertoon in ooreenstemming hiermee ’n samehangstruktuur. Alles is dus ‘konfiguratief en kokommunikatief’ (Wybenga & Cloete 1992:181) – al gaan dit om wesenlik onhaalbare ‘ontdekkings van insinjes as sweempies van Goddelikheid’ en die poësie ‘as uitdrukking daarvan’, soos in die geval van Cloete se digoeuvre (Robinson 2009:533). Cloete (1982a) skryf self iets met hierdie strekking in Hoe om ’n gedig te ontleed:

Die ‘oogmerk’ van die literêre werk is dan nie bloot om hierdie of daardie idee te verkondig of te kommunikeer nie maar om te toon in hoevéél kommunikasievorme dit integraal gekommunikeer word. Die idee, emosie of intensie van ’n literêre werk het alleen waarde as idee, emosie of intensie as dit ‘totaal’ gemanifesteer is. (bl. 51)

Die eis van integrale kommunikasie is nie uniek aan Cloete se poëtikale beskouing nie. Viljoen (1984:93–97) en Heynders (2001:77) onder meer bestempel, letterlik of by implikasie, ook die koherensie-eis as die mees dominante leeskonvensie van die twintigste eeu.

Ook is die neerslag van hierdie ‘eis’ in Cloete se poësie – in sy geval, soos verderaan aangedui sal word, ’n poëtiese vergestalting van die eenheid-in-veelheidsverskynsel wat syns insiens die skeppingsgegewe ten grondslag lê – reeds deur talle navorsers en kritici belig. In hierdie artikel maak ek dankbaar van sulke navorsingsverslae en ander kritiese geskrifte (waaronder van my eie proefskrif ‘Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete’ [Odendaal 1997]) gebruik, behalwe ten aansien van sy mees onlangse bundel (Onversadig 2011) tydens die skrywe van hierdie artikel. Die steun op bestaande bevindings, kan ’n voëlvlug-oorsig van strukturele patroonmatighede in groter verbande as enkelgedigte, of selfs enkelbundels, bied.

Die ondersoek na die patrone van bundelstrukturering blyk ’n baie belangrike fokuspunt in hierdie benadering tot Cloete se digwerk te wees. Ek bespreek derhalwe eers getuienis van Cloete se (betrokkenheid by) teoretiese insette oor bundelboubeginsels en lig daarna enkele relevante teoretiese uitgangspunte oor die skep van bundeleenheid in die algemeen uit.

Getuienis van die rol van T.T. Cloete in die teoretisering oor bundeleenheid in Afrikaans

Heynders (2001:78–80) voer aan dat twintigste-eeuse literatuurteoretici hulle kwalik met die begrip bundelbou besig gehou het en eerder uitsprake gemaak het oor die koherensie of eenheid van die afsonderlike gedig as die komposisie waarin die gedig opgeneem is (reeks, afdeling of bundelgeheel). Hoewel die neiging om gedigtegroepe te skryf, en om digbundels ‘vollwichtigen Buchcharakter[volwaardige boekaard] te gee, ’n kenmerk van moderne poësie geword het (Kayser 1967:169), het aandag vir die digbundel as verskynsel hoofsaaklik uitgegaan van sekere filoloë en teksedisie-redakteurs. Hulle het by nabetragting van ’n digterskap egter meer in die ontstaansgeskiedenis van spesifieke bundels belang gestel, of hulle met die genese van één bepaalde oeuvre besig gehou.

In die Afrikaanse literatuursisteem het daar egter wel belangrike teoretisering oor bundelbouprinsipes voorgekom. Ad Zuiderent, bekroonde Nederlandse digter en afgetrede letterkundehoogleraar aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, getuig hieroor in ’n biografies-beskoulike artikel wat in 2000 in die Afrikaanse literêre tydskrif Stilet verskyn het (Zuiderent 2000). Hy was toe al enkele jare as medewerker binne ’n sogenaamde Onderzoekschool Literatuurwetenschap in Nederland met navorsing oor die komposisie van digbundels besig. Afgesien van enkele gevallestudies uit uiteenlopende taalgebiede, was ’n tweetal Afrikaanse studies van ’n paar dekades voorheen volgens hom (Zuiderent 2000:35–36) rigtinggewend in die Onderzoekschool se teoretiese besinning oor die saak. Die eerste is ’n artikel deur Edith Raidt wat in 1965 onder die titel ‘Die bundel as eenheid’ opgeneem is in Dietse studies, ’n huldigingsbundel aan J. du P. Scholtz opgedra. Raidt se artikel behels ’n bondige weergawe van haar ongepubliseerde M.A.-skripsie aan die Universiteit van Kaapstad in 1962 (wat nie deur Zuiderent in sy artikel vermeld word nie). Die tweede is Leon Strydom se gepubliseerde proefskrif Oor die eenheid van die digbundel. ’n Tipologie van gedigtegroepe (Strydom 1976), wat aan die Universiteit van Pretoria onder studieleierskap van A.P. Grové voltooi is, met D.J. Opperman en T.T. Cloete as eksterne eksaminatore.

Twee Afrikaanse bronne waarin oor gediggroeperingsprinsipes geteoretiseer word, naamlik Edna Deudney se M.A.-verhandeling ‘Die siklus as kompositoriese probleem met besondere verwysing na twee siklusse van D.J. Opperman’ wat in 1971 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg voltooi is en die inskrywing ‘Siklus in die poësie’ deur Lina Spies wat in 1992 in die Afrikaanse literatuurwetenskapnaslaanwerk Literêre terme en teorieë, onder redakteurskap van T.T. Cloete gepubliseer is, word nie deur Zuiderent vermeld nie. Spies (1992:480) meen in haar vermelde bydrae dat die belangrikste besinning oor die siklus in Afrikaans tot op daardie stadium ’n artikel deur T.T. Cloete (1963) was, naamlik oor Van Wyk Louw se ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’ uit Die halwe kring.

Hoewel Cloete hom, sover vasgestel kon word, nie uitgebreid oor spesifiek bundelbou uitgelaat het nie, getuig sy betrokkenheid by enkele van die bogenoemde navorsingsverslae (as eksterne eksaminator van Strydom se proefskrif, as redakteur van die naslaanwerk waarin Spies se stuk oor digsiklusse gepubliseer is) implisiet van sy hoogskatting van gediggroep- of bundeleenheid as estetiese konvensie.

Daar bestaan ook eksplisiete getuienis in hierdie verband. In ’n uitspraak soos die volgende lê Cloete (1994) klem op die deurmekaarheid van die ‘lewe’ wat hy in die of sy poësie gereflekteer wil sien. Terselfdertyd benadruk hy egter ook die eenheid-in-veelheidsbeginsel wat volgens hom daaragter verskuild is en wat volgens hom derhalwe ten grondslag van (sy eie) bundelsamestellings ‘moet’ lê:

Dit moet in die digkuns gaan soos in die gewone lewe: dit moet gaan om die deurmekaar lewe, en hierdie lewe is nie in kompartemente in te deel nie. ’n Bundel moet nie noodwendig ’n bundel van net een ‘tema’ wees nie. ’n Bundel moet wel ’n eenheid wees, maar sodra ons van eenheid praat, veronderstel ons veelheid, en hierdie veelheid is alles en nog wat [...]. Die digter orden, maar hy moet desnietemin ook iets van die deurmekaarheid bly behou. (bl. 7)

In aansluiting hierby noem Cloete (2007b) in ’n internet-onderhoud met Andries Visagie na aanleiding van die verskyning van sy voorlaaste bundle tot op hede (Heilige nuuskierigheid 2007) dat hy ‘graag [wil] hê die mense moet die gedigte in die bundel in hulle gesprek met mekaar lees’. Daarmee bedoel hy dat sowel die samehange as die teenstrydighede wat die gedigte vertolk en vertoon, raakgesien moet word (Cloete 2007b). Uitsprake soos dié oor sy eie bundelboupraktyk wortel in sy bepaalde lewens- en wêreldbeskouing en toon volgens Viljoen (1995:43–59) verwantskappe met Edmund Husserl se fenomenologie, wat breedweg die beginsel van dinamiese eenheid-in-veelheid genoem kan word. Later bestempel Viljoen (2009:588) dié beskoulike beginsel as ’n ‘deologisering’ van die simbolistiese werklikheidsbeskouing: ‘God [word] in alles sowel bewus [waargeneem] as spontaan ontdek’. Dié eenheid-in-veelheidsbeginsel ten grondslag van Cloete se beskouings is gefundeer in sy wesenlik Christelike geloofsoortuigings – hoewel laasgenoemde nie van tradisionele aard is nie, en derhalwe ook ruimte vir die akkommodering van byvoorbeeld evolusieleer laat (kyk onder meer Bosman 1989:285–286; Odendaal 1997:207–208; Marais 2009:561 en Viljoen 2009:588).

In studies soos dié deur Bosman (1989), Odendaal (1997) en Marais (2009) word aangevoer dat Cloete se bepaalde geloofsoortuigings hom noop om in die verweefde verskeidenheid van die skeppingsdinge die vingermerke van God waar te neem. Met ‘verwondering’ (Marais 2009:547) en kennishonger gaan hy daarom as ‘t ware deur die komplekse, dikwels teenstrydige werklikheid – al is dit met die beperkthede van ons menslike vermoëns – op soek na die Godsopenbaringe. Die beheerste dinamiek wat sy verskuns kenmerk, word ’n verstegniese illustrasie van dié soektog. Dis ’n dinamiek wat hy onder meer bewerkstellig deur, op die mikrotekstuele vlak (vlak van byvoorbeeld fonologiese, morfologiese, sintaktiese, prosodiese, verstegniese en tipografiese verskynsels – kyk Odendaal 1997:90), tipies van langer, veelvuldig uitgebreide sinskonstruksies gebruik te maak, waarin die opnoemingstegniek, die stuwende klankherhalings en ook ’n stylmiddel soos die anafoor (Robinson 2009:520–521) prominent is en die sinsmomentum sterk oor die versreëleindes heenstroom (Odendaal 1997:267–286). Die volgehoue maar gevarieerde patrone van die eindrym is weer ’n ‘dissiplinerende’, betomende tegniek (Gräbe 1984a:36–37; Odendaal 1997:255–260).

Uit wat ek hierna sal aantoon, blyk duidelik dat die motief van dinamiese eenheid-in-veelheid nie net op die genoemde mikrotekstuele vlakke van Cloete se digkuns neerslag gevind het nie, maar ook op die vlakke van gedigreeks- en bundelafdelingvorming (mesotekstueel) en bundel- en oeuvrebou (makrotekstueel – kyk Odendaal

1997:5, 90). Cloete (1994) se uitspraak oor bundelbou, wat vroeër aangehaal is, maak dit dus duidelik dat ordening en vormgewing op hierdie vlakke vir Cloete ’n ooreenkoms met die waargenome werklikheid moet vertoon en metafories-ikonies daarvan moet wees. Kritici getuig dat die samehange in sy digoeuvre dié opvatting weerspieël. Vergelyk Venter (1991):

Elke gedig van Cloete is [...] deel van ’n geheel: van ’n aangroeiende oeuvre wat volgehou besig is met ’n indringende kyk na en ‘verbeel aan’ die geskakeerde skepping. In [sy bundels – BJO] ‘rinneweer’, ‘rekonstrueer’ en ‘genereer’ die spreker/digter se ‘gekweste oog’ (verbaal volgens ‘landskap’ in Allotroop [...]) die waargenome werklikheid. (bl. 74)

Réna Pretorius (1994) vat in hierdie verband as volg saam:

Die totaalindruk van [Cloete se] poëtiese produksie is dié van ’n sluitende oeuvre [...] (’n) besondere ‘poetic unity’[.] (bl. 110)

Die poëtiese vergestalting van eenheid-in-veelheid: Basiese retoriese vorme wat Cloete benut

Een van die mees basiese retoriese vorme in die algemeen is volgens Hauser (1986) dié van assosiatiewe bondeling [associational clusters], waar terme en idees mekaar as’t ware saamtrek (samehangend met assosiatiewe argumentasiepatrone):

They modify one another, delimit the view of the world advanced by the speech or the text, articulate values, and establish intellectual, emotional, and value relationships as a basis for identification. [Hulle wysig mekaar, ontgrens die wêreldbeskouing wat deur die rede of die teks voorgehou word, en vestig intellektuele, emosionele en waardeverhoudings as ’n grondslag vir identifikasie.] (bl. 169, [outeur se eie vertaling])

Dit is die tipiese wyse waarop retors hulle gedagtes, gevoelens en die tekstuur van hul appèlle ontwikkel:

By looking at messages in search of these clusters, we can gain insight into how a message orchestrates various elements of thought and expression to shape responses. Associational clusters will tell us what goes with what in the speaker’s or writer’s mind.) [Deur boodskappe te fynkam vir sulke bondelings, kry ons insig in hoe ’n boodskap verskeie gedagte- en uitdrukkingselemente orkestreer om response te vorm. Assosiatiewe bondelings sal verklap wat by wat hoort in die spreker of skrywer se gedagtegang.] (Hauser 1986:170, kursivering oorspronlik, [outeur se eie vertaling])

In digwerk vind dié argumentasiepatroon volgens Strydom (1976:23) liefs neerslag in reeksmatige gediggroeperings, met hul assosiatiewe of dissosiatiewe struktuur [...] Die reeks kan begin deur die premis of konstante aan te kondig waarop vervolgens gevarieer gaan word. Wat volg, is ’n voortgesette metamorfose, is ten slotte ’n samehangende konstruksie van liriese improvisasies waarin die verskillende dele elkaar oproep en bepaal.

Cloete se gebruik van veral die enumerasietegniek of herhalingsvorm in sy digoeuvre, as patroon om lesersverwagtinge te wek (Odendaal 1997:302), kan in samehang met die ‘oproepende’ effek van assosiatiewe bondeling as retoriese vorm gesien word. Die enumeratiewe is ’n argumentasiepatroon waarby ’n bepaalde beginsel gehandhaaf word deur dit op verskillende wyses aan te bied. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer ’n beginsel gestel word en dit dan deur middel van (’n) voorbeeld(e) bevestig word. Deur beginsel en voorbeeld te laat ooreenstem, word die ontvanger gelei om te verwag dat die uitgespelde of gesuggereerde beginsels of waardes in die res van die teks gehandhaaf sal bly (Burke 1953:124–128).

Bosman (1989:232–233) beweer dat ‘juis herhaling [...] skering en inslag’ van Cloete se digterskap vorm. Daardeur eggo sy ’n stelling wat Strydom (1976:20) oor digkuns in die algemeen gemaak het. In woorde soortgelyk aan wat Brink (1980:120) aangaande die mistieke poësie van Sheila Cussons gebruik het, skryf Bosman (1989:233) voorts: ‘Dit gaan immers daarom om soos Gezelle se rinkelende winkelende waterding oor en oor die onsegbare naam van God te skryf [.]’

Enkele voorbeelde van retoriese vorme op die mesotekstuele vlak in Cloete se digkuns

Cloete bou verskeie vorme van herhaling en assosiatiewe bondeling op die mesotekstuele vlak (die vlak van gedigreekse en bundelafdelings) in sy oeuvre in (Odendaal 1997:302–304). Ter illustrasie word hier net enkele voorbeelde genoem.

Gräbe (1984a:39–40) toon aan hoedat Cloete gedigte in Jukstaposisie laat aaneenskakel deur middel van eindryme. So word die rymwoord ‘kraak’ tussen die gedigte ‘Huis oordag’ en ‘Huis snags’ en die rymwoord ‘bloei’ tussen ‘Gesprek met Rhea’ en ‘Toe-eiening’ gekontinueer. Uit Driepas val die volgehoue gebruik van die tersinevorm met sy vooruitgrypende rympatroon, na die voorbeeld van Dante, in die afdeling ‘Trigloop’ op (Cloete 1993a:18); asook die strofiese struktuur na die voorbeeld van Maerlant (Cloete 1993a:18) in die afdeling ‘Nou en dan’, en die navolging van die strenge strofebou- en rympatroon van Adriaan Roland Holst se Een winter aan zee (Cloete 1993a:18) in die afdeling ‘Stokkiesdraai’. Trouens: die wyse waarop Cloete byna dwarsdeur sy oeuvre met eindryme in wisselende patrone volhou, is by uitstek ’n demonstrasie van die eenheid-in-veelheidsbeginsel in die vormgewing van sy poësie, en wat dan ikonies verband hou met die waargenome dinamiese deel-geheel-verhouding tussen die skeppingsdinge (Odendaal 1997:303).

Verbande tussen gedigte word in Cloete se oeuvre soms ook deur sintaktiese ekwivalensies gelê. Beukes (1989:128–131) wys byvoorbeeld op die opvallende ooreenkomste in sintaktiese opbou tussen die gedigte ‘I fisika’ en ‘III voorsienigheid’ in Allotroop (ble. 109; 111). Sintaktiese ooreenkomste binne variasies is voorts opvallend in die reekse ‘rubrikator. I modifikasies’ en ‘miniature. I modifikasies’ – eweneens uit Allotroop (ble. 21;23–26, onderskeidelik). In hierdie verband kan ook gewys word op hoe kleiner en groter groepe gedigte in Cloete se oeuvre soms dieselfde (soort) aanvangswoorde het:

• In die afdeling ‘God is digter’ uit Driepas begin ’n aantal gedigte met ‘Daar is ...’
• In die eerste drie afdelings van Idiolek is daar ’n klompie gedigte waarvan die aanvangswoorde eiename is.
• In die eerste afdeling van Met die aarde praat is die gebruik van superlatiewe in die openingsreël opvallend in ’n paar gedigte.
• Die briefaanhef kenmerk gedigte soos ‘Leipoldt 100’ (Jukstaposisie 19), ‘Hommage à CM vd Heever’ (Jukstaposisie 21) en ‘Allofrasie’ (Allotroop ble. 81–83).
• ’n Groot getal gedigte in Cloete se oeuvre is in die gebedstrant geskryf, dit wil sê met aanspreking van die Opperwese.

Cloete se geneigdheid om gedigreekse te skep, versterk sulke vorme van herhaling en assosiatiewe bondeling. Reeksvorming is ’n voorliefde by hom as digter wat Pretorius (1981:80) reeds in sy debuutbundel raakgesien het, en wat hy in min of meer toenemende mate openbaar, met ’n hoogtepunt wat in Driepas bereik word. Dikwels is die gedigreekse genommer sodat hulle maklik uitkenbaar is. Die gedigte in sulke genommerde reekse volg ook meestal op mekaar, maar hulle kan ook verspreid in bundels voorkom. Ander kere is die reekse nie genommer nie, wat die uitkenning moeiliker maak. Soms volg sulke gedigte ook op mekaar in ’n bundel, soms nie. Meer nog: daar is by Cloete ’n sterk neiging om gedigte oor bepaalde onderwerpe of temas oor bundelgrense heen op te neem: gedigte oor fauna en flora; gedigte oor (sy verhouding met) sy huweliksmaat, Anna – waarvan in 2010 ’n aparte bloemlesing, naamlik Uit die wit lig van my land gesny, saamgestel is; ‘Job-gedigte’ (Buscop 2002:19); gedigte oor Marilyn Monroe (kyk byvoorbeeld Hambidge 2007); gedigte oor (die seggingskrag en status van) Afrikaans; gedigte oor die droër, noordwestelike dele van ons land; ensovoorts.

Aan die ander kant, as heenwysing na die elemente van verskeidenheid en uiteenlopendheid in die waargenome kosmos, staan die neiging om gedigte of gediggroepe kontrasterend met mekaar te jukstaponeer (Odendaal 1997:304).

Bundelbou in die oeuvre van Cloete

Strydom (1976:13) tref nuttige onderskeide en oorvleuelings tussen wat hy twee ‘ideaaltipes’ (‘teoretiese of ideële konstruksies’) van gedigtegroep- en, by uitbreiding, bundelopbouwyses of -prinsipes noem (kursivering van die aangehaalde frases deur hom):

• Die siklus, met die neiging tot die ‘ontwikkeling van ’n tema’ in ‘kontinue tyd en ruimte’ sodat die gedigte in ‘volgorde onverwisselbaar’ is.
• Die reeks of serie – die ‘herhaling van ’n tema’ in ‘diskontinue tyd en ruimte’ sodat die gedigte onderling in ‘volgorde verwisselbaar’ is.

Daar skuil dus iets inherent verhaalmatigs in die siklus as struktuurbeginsel (Strydom 1976:15), terwyl herhaling-met-variasie ten grondslag van die serie-struktuur lê (Strydom 1976:21). In werklikheid vertoon gedigtegroepe en digbundels ’n ‘samegestelde of komplekse struktuur’ iewers tussen hierdie (dialekties teenoorstaande) ideaaltipies (Strydom 1976:25) – hoewel serie-struktuur kennelik na die meer geskikte een ter vergestalting van die sentrale tematiek in Cloete se poësie-oeuvre lyk. Ek haal Strydom (1976) se beskrywing van die funksionaliteit van die serie-struktuur aan ter motivering van hierdie afleiding:

Enersyds [is] die SERIE uitermate geskik vir die uitbeelding van die onderskeid in die ooreenkoms, van die heterogeniteit, diskrepansie en absurditeit van lewenservarings. Andersyds kan die SERIE-struktuur juis weer benut word om die eenheid in die veelheid, die ooreenkoms in die verskil, die versoening van (oënskynlike) teenstrydighede te vergestalt. [...] Daarbenewens het die herhaling dikwels ’n oorredende effek. Dit vergroot die waarskynlikheid van wat beweer word. Dit bevestig die leser se eerste ervaring en verkry sodoende ’n groter geldigheid. (ble. 21–22)

Die blik wat ek in die oorblywende deel van hierdie artikel op die (ontwikkelende) struktureringspatrone op die makrotekstuele vlak (bundel- en oeuvrebou) van Cloete se huidige oeuvre van nege oorspronklike digbundels wil bied – die bloemlesings Die baie ryk ure (2001) en Uit die wit lig van my land gesny (2010) buite rekening gelaat – vereis dat ’n benadering wat bondige samevatting moontlik maak, gevolg word.

Soos elke gedig, het elke (eenheids-) bundel – met ’n ‘unity of esthetic purpose’ [eenheid van die estetiese doel] (Jakobsonaangehaal deur Raidt 1965:111) – sy eie ‘eenheidskonstituerende faktore’ (Raidt 1965:112). Die ‘kristallisasiesentrum’ of ‘immanente idee’ (Strydom 1976:45) – in semiotiese terme: die ‘hiperteken’ (vergelyk Viljoen 1984) – van ’n literêre werk trek al sy konstituerende elemente en strata in hom as struktuurprinsipe saam. Die kategorieë tema en tydruimte het in die tipering van die ooreenkomste en verskille op die kontinuum REEKS – SIKLUS uitgestaan; dit is daarom (soos ook Strydom 1976:45, in hierdie verband konkludeer) dat van ’n parafraserende beskrywingsmetode, gebaseer op bevindinge in meer omvattende besprekings van die bundels deur my en ander kritici, gebruik gemaak kan word om die ‘immanente idee’ van die Cloete-bundels wat eksemplaries onder bespreking kom, vas te stel.

Die bundeltitel is meestal ’n primêre aanduider van sodanige bundel-idee (Strydom 1967:47; Zuiderent 2001:13). Ander belangrike komposisieaanduiders is inhoudsopgawes (as weerspieëling van die volgorde en groepering van gedigte in afdelings en dergelike), asook paratekstuele merkers soos motto’s, flaptekste en moontlike voor- en nawoorde (Zuiderent 2001:13).

In die lig van bogenoemde wil ek dan aantoon hoe Cloete in sy bundels hoofsaaklik die funksies van die reeks-groeperingstruktuur wat hierbo aan die hand van Strydom se verduideliking geïdentifiseer is, benut. Die samehange en opbou van al nege die bundels wat tot en met Onversadig (2011) verskyn het, kan nie binne die bestek van ’n enkele artikel gedek word nie.

Die reeds vermelde, besonderse eenheidsindruk wat Cloete se oeuvre maak, spesifiek ook in die wyse waarop tematiese aspekte vormlike en stilistiese beslag daarin kry, maak egter besprekings van die eksemplariese strukturering van ’n keuse uit die bundels moontlik. Soos verderaan in die artikel sal blyk, lyk dit of die bestaande digoeuvre van Cloete in drie siklusse van drie bundels elk ingedeel kan word. Vandaar dat die kollig eers op die volle eerste siklus van drie bundels sal val, dit wil sê op die bundels waarin die kenmerke van Cloete se digterskap gevestig geraak het; terselfdertyd sal iets van die patroon van siklusvorming deur hom belig word. Daarna sal een bundel elk uit die twee daaropvolgende siklusse aan die beurt kom, naamlik as verteenwoordigend van die tematiek en ander kenmerke van daardie siklusse.

Angelliera (1980)
Smuts (1993:120–124) gee die omvattendste uiteensetting van die betekenismoontlikhede van die titel van Cloete se debuutbundel, Angelliera, en integreer in die proses ander kritici se interpretasies van die bundel by haar eie. Die wyse waarop in dié enkelwoordtitel ’n hele aantal woord(-dele) saamgevat is (angelier + angel + lier [plukinstrument] + lira [strykinstrument]), en waarop sodoende ’n groot betekenisveld kernagtig betrek word (romantiese liefde + erotiek + estetisisme + pyn + satire + kuns + hersirkulering (lier/lira → intertekstualiteitsverskynsel), is reeds ’n opvallende verikonisering van die eenheid-in-verskeidenheidsverskynsel. Soos Bosman (1989:241–242) en Jansen van Rensburg (1990:44) ondermeer egter aandui, is die feit dat die gedigte in die bundel nie in afsonderlike afdelings ingedeel is nie, in ooreenstemming met die oorheersende idee dat ’n mens jou ‘stuk-stuk verbeel / aan die geheel’ (Angelliera, bl. 46) – dat die verskeidenheid en disparaatheid van die waargenome dinge en gebeure tog in ’n grootse samehangende verband met mekaar staan; dat hulle dus openbarend funksioneer van die Skepper en Bestierder daarvan.

Jukstaposisie (1982)
Jukstaposisie is nie ’n neologisties saamgestelde woord soos die debuuttitel nie, maar eweneens semanties meerduidig (naasmekaarstelling + teenoormekaarstelling + ooreenplasing of ooreenskuiwing + ineenskuiwing tot simbiose). Voorts is dit aanduidend van ’n tegniek wat Cloete aanwend ter verikonisering, of stilistiese en verstegniese vergestalting, van die waargenome verskynsels in die skepping. Anders as Angelliera is Jukstaposisie in agt afdelings ingedeel. Cloete self (luidens Van Wyk 1983:18) het die indelings soos volg verduidelik:

Afdeling 1: Oor die kunstenaar as skepper/herskepper.

Afdeling 2: Oor vernietiging in die skepping, maar tog ook behoud.

Afdeling 3: Oor die wondere van God en die mens sáám.

Afdeling 4: Oor die liggaam.

Afdeling 5: Oor die liefde in sy verskillende vorme.

Afdeling 6: Oor die dood, soms met respek behandel en soms nié.

Afdeling 7: Oor natuurwondere waarby die mens betrokke is.

Afdeling 8: Oor die heerlikheid van God se skepping.

Gräbe (1984b:94–95) beskryf hoe die verskeidenheid én die samehang in die skepping in die jukstas in dié bundel beslag kry. Eerstens word hele afdelings teenoor mekaar geplaas (byvoorbeeld afdeling 1 teenoor 8; of afdeling 1 én 8 teenoor 2; of afdeling 5 teenoor afdeling 6). Tweedens word gedigte binne afdelings teenoor mekaar geplaas, byvoorbeeld ‘Huis oordag‘ en ‘Huis snags’, of ’landwandeling‘ en ’Strandwandeling‘ en ’Hemelse wandeling‘). Derdens word aspekte binne indiwiduele gedigte gejukstaponeer.

Die gevolg is eerstens ’n na en naas mekaar plaas van enersyds die mooie en aangename (lewensgenieting, kleurrykheid in die skepping, vreugdevolle voortplanting, kreatiwiteit) en andersyds die lelike en onaangename (siekte en pyn, banaliteite, doodsvrees, onsensitiwiteit). Dit is egter nie net ’n na en naas mekaar plaas van teenpole nie, maar terselfdertyd ook ’n illustrasie van die onvermydelike ineenstrengeling en noodwendige interafhanklikheid tussen oënskynlik wyd uiteenlopende, maar dan tog op mekaar aangewese sake (Gräbe 1984b:95).

Die verdeling in 8 afdelings neem dus nie weg van die essensiële eenheid van die bundel nie. Daarom dat Jansen van Rensburg (1990:45) kon meen dat die verskille tussen die afdelings eerder ‘klemverskuiwings’ verteenwoordig van die ‘oorheersende faktor’, naamlik – soos sy dit verduidelik – ‘die teenstrydige jukstaposisie tussen menslike waan en die groter kosmiese magte, sy dit die natuur, sy dit dood, sy dit God’. Ook ten opsigte van die struktuur van Jukstaposisie dus: dinamiese eenheid-in-veelheid.

Allotroop (1985)
Die titel van Allotroop, die derde bundel in die oeuvre, is eweneens ter karakterisering van sowel Cloete se waarneming van skeppingsverskynsels as sy poëtiese vormgewing (verikoniserend van die waargenome fenomene) gekies. Grondliggend daaraan is weer eenheid-in-verskeidenheid: variasie terwyl die substansie, die essensiële geheel, dieselfde bly (Venter 1991:74) – die saambestaan van ‘eenderse andershede’, soos Brink (1985:17) dit stel.

Cloete bevestig met hierdie bundel die soeke en vergestalting van verbande tussen uiteenlopendhede wat in die vorige bundels aangevoer is. Soos Gräbe (1985:6) egter uitgewys het, gaan Cloete in Allotroop ‘‘n stap verder: uiteenlopende sake is nie slegs interafhanklik of komplementerend nie, maar is inderdaad herleibaar tot dieselfde grondvorm’.

Dié ‘bundel van pyn’, soos die digter dit self bestempel het (Cloete 1993b:7), is in die negentien-tagtigerjare geskryf toe die digter lewensgevaarlik siek was. So ’n ontstaansagtergrond sou maklik ’n verhaalkarakter – van gesondheid, siekte en herstel – kon aanneem; ’n sikliese bou dus. Maar ook hierdie keer kies Cloete vir die reeks as oorwegende struktuurprinsipe. Lyding, aftakeling en verganklikheid is prominente motiewe, maar paradoksaal ook motiewe soos lewenslus en -vreugde, liefde, genade, skoonheid, dankbaarheid en kreatiwiteit. Die ervaring van die ‘negatiewe’ intensiveer die ervaring van die ‘positiewe’, stimuleer dit selfs. Die ‘eendersheid’ van dié ‘andershede’, die ‘grondvorm’ waartoe dié uiteenlopendhede herleibaar is, is die Goddelike fanerosis, dit wil sê die wyse waarop God hom selfs in teenstrydige verskynsels aan die mens openbaar en hom met die mens bemoei.

Die gedigte in Allotroop is in die volgende (ongenommerde) afdelings ingedeel (Tabel 1), met die tematiese inhoude soos deur my geparafraseer (Odendaal 1997:307–308).

TABLE 1: Geparafraseerde tematiese inhoude van die bundelafdelings in Allotroop.

Pretorius (1994:113) beskryf Allotroop as Cloete se bundel ‘met die grootste onderlinge samehang tussen die gedigte’ – maar die samehang oor bundelgrense heen is ewe duidelik.

Driepas (1989)
Driepas is die vyfde bundel in Cloete se digoeuvre, derhalwe die middelste (terselfdertyd die omvangrykste) in wat ek verderaan as die middelste van sy poësiesiklusse identifiseer. Blykens minstens drie uitlatings deur Cloete self (Krüger 1990:11; Van Jaarsveld 1993:17; Cloete 1997) wou hy met Driepas ’n woordkatedraal bou, naamlik om sy ‘skopus’ te gee wat ‘[v]an die onderaardse af tot in die sterre’ strek. Die strukturering van die bundel is dus gemik op ’n verikonisering van die Gotiese katedraal-argitektuur, spesifiek dié van Chartres (Van Jaarsveld 1993:21). Dis ’n poging om ‘’n Goddelike woning’ op te rig (Van Jaarsveld & Gouws 1995:167), ‘’n intensionele geloofsdaad om God ruimtelik te probeer ”betrap”’ (Van Jaarsveld 1993:17 – haar kursivering). Meer nog: ‘Dit is ook beeld van God, ’n natreksel, ’n vergelyking waarin God ‘gesien’ kan word.’ (Van Jaarsveld 1993:19 – weer haar kursivering.)

Die bundeltitel hou verband met die titel van die gedigreeks ‘Trigloop’ (Driepas, ble. 159–175), wat drielob beteken – ’n verwysing na die klawerembleem in blou binne ’n rooi sirkel wat op die bundel se buiteblad verskyn. Die klawer, met sy versnyding van drie sirkels, is tekenend en simbolies van talle aspekte wat in die bundel teruggevind kan word:

• die nie-heilige aardse, die heilige aardse en die geopenbaarde goddelike (luidens die uitgewer se persvrystellingsbrief)
• die onlosmaakbare verbintenis van God, mens en aarde
• hel, vaevuur en hemel
• die goddelike Drie-Eenheid
• vrugbaarheid, hernuwing (lente), ywer en geluk

» ook dit waarvan in die bundelmotto sprake is: ‘a humble love of earthly and divine things’ [’n nederige liefde vir aardse en goddelike dinge] (kyk onder meer Van Zyl 1990:5; Gouws 1990:44).

» dit is voorts ’n geometriese motief wat dikwels voorkom in die Gotiese argitektuur.

‘Driepas’ betrek ook die belangrike musiekmotief in die bundel – wat weer verband hou met argitektuur, aangesien die Middeleeuse begrip van orde gegrond was op Augustinus se opvatting dat daar ’n goddelike verband tussen musiek en argitektuur bestaan, aangesien albei op getalle gegrond is (Van Jaarsveld & Gouws 1995:168).

Van Jaarsveld (1993) wys voorts in besonderhede uit dat die struktuur van Driepas ‘punktuele ooreenkomste’ toon met dié van die Gotiese Chartres-katedraal. Sy het die verbande tussen die bundel en die katedraal nagevors aan die hand van die digter se tematiese rangskikking en enumerasie-tegniek.

Soms kom daar meer definitiewe aanduidings in die gedigte self na vore, soos byvoorbeeld na die ‘rooswolk’ (roosvenster), die ‘dun tonneltjies van vergissing’ (doolhof) en die ‘koepel’ (gewelf of dak). Daarvolgens is die lokaliteit van die ‘pelgrim’ (op sy verkenningstog deur die katedraal – artikelouteur) bepaal (Van Jaarsveld 1993:221).

Selfs net só gesien – sonder om byvoorbeeld ook die ‘ko-kommunikatiewe’ waardes van die stilistiese, verstegniese, tipografiese en vormlike lae van die gedigte in die bundel te verreken – verteenwoordig Driepas ’n besonder ambisieuse digprestasie. Dit is ’n poëtiese konstruksie wat op ’n selfs groter skaal as die vorige bundels die stramien van die dinamiese samehang van disparaathede tot onderbou het, ’n eenheid wat spruit uit die oortuiging dat alles deur God geskape is en daarom sy handewerk verklap.

Onversadig (2011)
Soos genoem, bereik Cloete se voorliefde om in gedigreekse te werk, ’n hoogtepunt in Driepas. Tot in sy mees onlangse bundel, Onversadig, bly dié neiging egter opvallend. Ses van die dertien afdelings in Onversadig word oorheers deur (genommerde óf ongenommerde) reekse.

Selfs op 87-jarige leeftyd bly hy ‘onversadig’ van die kennisname en belewing van die Godopenbarende skepping. Daardeur het die gelowige mens een groot vuur in [zijn] ziel [’n groot vuur in sy siel], al komt er [niemand] zich aan warmen [al is daar niemand om warm te maak] en al gaan die verbygangers ongeërg huns weegs [hul gang] (luidens Vincent van Gogh in die bundelmotto).

Die twee openingsgedigte van die bundel stel laasgenoemde, kontrasterende lewensingesteldhede teenoor mekaar. In ‘helen keller’ (ble. 11–13) word iemand geteken wat, ten spyte van ernstige sintuiglike beperkings, gretig – soos ‘’n eerste mens’ – die werklikheid verken en sodoende ‘erfgenaam’ word ‘van daardie Naam / wat alle wêrelde gemaak het’. Daarteenoor, in ‘helen martins’ (ble. 14–16), staan ’n inkennige belyer wat ‘mure om my huis bou / teen wat my uit myself wil sweep’. Maar ook sý word ten slotte oorrompel deur ’n ‘Dit’ wat nie dié afsluiting wil gedoog nie:

[...] een

wat toe wil maak in glas, beton,

in draad en yster,

word opgespoor

en oopgebreek en met ’n tong

van meer as een kant af

gestroop[.] (‘helen martins’, afdeling 1, ble. 14–16)

Bondig saamgevat, gaan die 13 afdelings in hierdie bundel oor die volgende, soos aangedui in Tabel 2.

TABLE 2: Geparafraseerde tematiese inhoude van die bundelafdelings in Onversadig.

Afdeling 1, afdeling 6 , afdeling 7 en afdeling 9 van die bundel is, met verskillende nuanseringe, in die besonder gewy aan die verkenning- en verwonderingsdrang na dit waarvan ‘no one understands completely how it works’ [niemand begryp heeltemal hoe dit werk nie] (’n gedigreekstitel uit afdeling 6; ble. 99–103). Ons word derhalwe soos volg opgeroep :

vier die kuns om te traag

om te sloer[.] (‘brief’, afdeling 9, ble. 132–133)

Selfs intense leed word ’n volstrekte belewing van die bestaan, word ’n ‘roes’ (‘stilhuil’, ’n gedig uit

afdeling 1; bl. 23).

’n Hiermee samehangende motief wat voorheen nie so sterk beklemtoon is in die Cloete-oeuvre nie, is dat dit ’n ‘seën’ (titel van ’n gedig uit afdeling 11; bl. 168) is dat hierdie lewe ons ‘pynlik honger en gesond’ laat vanweë soveel wat vir ons on(ver)kenbaar moet bly (afdeling 2) – dit wil sê ook ’n ‘seën’ in die betekenis van ’n ‘trekvisnet’ wat toelaat dat sekere dinge ontglip deur ‘die gate van die seën’, soos in die woordverklarings agterin die bundel verduidelik word. Daarom kan selfs ons ‘eenvoud’, ons weerloosheid en onvermoë, iets positiefs inhou (afdeling 3). Selfs al verrinneweer ons die woestyne met ons Dakar-tydrenne, geskied dit tog met iets soos ’n ‘soet wrede koïtus van die brein met die masjien’ (afdeling 8).

’n Seëning is voorts die ontoereikendheid van die mens se digvermoë:

aan die maak van baie gedigte

om die steeds uitdyende onvoltooidheid

van die steeds groeiende onversadigde Gedig

in te haal kom daar geen einde nie[.] (‘fragmente van die onvolledige gedig’, afdeling 11; ble. 159–163)

Soos voorheen in Cloete se Allotroop (1985) is sterflikheid ’n sentrale tematiese gegewe in Onversadig (2011). Die dood is ’n toets wat ons almal moet skryf, die finale beproewing (‘uitkomsgerigte onderrig’, afdeling 12; ble. 173–179) – maar ook die hergeboorte van ‘die begeerlike mens’ (titel van die slotgedig in die bundel; bl. 191). Die ‘deursigtige opvoutent van [die] ouderdom’ word hier, op die grens tussen hiermaals en hiernamaals:

’n fragiele begeerlike plek wat ruik na vrede

en na vars nat nageboorte en moederkoek. (‘die begeerlike mens’, afdeling 13, bl. 191)

Herinnerings- en rougedigte oor gestorwe geliefdes is in afdeling 9 en afdeling 10 van die bundel gegroepeer. Laasgenoemde afdeling het die titel ‘L’amor che move il sole e l’altre stelle’ [Die liefde wat die son en die ander sterre laat beweeg], ’n aanhaling van die slotwoorde uit Dante Alighieri se Die goddelike komedie. Daarin word gefokus op die digter se gemis aan sy oorlede vrou (soos ook in die sewende afdeling van Heilige nuuskierigheid [Cloete 2007a] die geval was).

Dis een van slegs drie afdelings in Onversadig wat titels het. Die ander twee is afdeling 7 (‘kardoes’ – om die saamhou van uiteenlopendhede, as kenmerk van die skepping, te suggereer) en afdeling 5. Laasgenoemde, ‘saamsing’, bevestig die opvallendmaking van intertekstualiteit in Cloete se bundels. Dis nie net ’n verdere vergestalting van die sentrale samehang-in-veelheid-motief in sy werk en in sy lewens- en wêreldbeskouing nie, maar ook ’n bepaalde uiting van die lofprysingsmotief as opgaaf van die gelowige digter. Hierdie lofprysing het juis die góddelike ‘liefde wat die son en die ander sterre laat beweeg’ tot onderwerp.

Deur die drie afdelingtitels word drie sentrale motiewe in Cloete se poësie uitgehef.

Retoriese vorm op die makrotekstuele vlak van Cloete se verskuns

Syne is, soos meer as een maal hierbo beklemtoon, ’n korpus werke wat ’n besonder sterk eenheidsindruk maak, waarvan die uitbreiding van bundel tot bundel ’n afwisselende, betreklike beklemtoning van bepaalde fasette in die uitbouing van die tematiese en beskoulike kern behels. In haar resensie oor Heilige nuuskierigheid beklemtoon ook Bezuidenhout (2008:211) hierdie aspek van sy digterskap. Sy oeuvre het daardie ‘oneness’ waarvan hy in die gedig ‘Vir wie wil weeg, meet en tel’ (Met die aarde praat [1992:5]) skryf, en wat sy digkuns uniek maak.

Soos uit die voorafgaande eksemplariese uiteensetting van die bundelstrukture blyk, ís daar ook nuanseverskille tussen die bundels. Die patrone van assosiatiewe bondeling en herhaling waarvan gewag gemaak is, is egter deurslaggewend. Soos ook voorheen aangetoon, word op hierdie wyse ’n sterk appèl aan die leser van sy poësie gerig om hom met Cloete se sienings en oortuigings te vereenselwig.

Aan die gevare van die reeks as struktuurprinsipe waarop onder meer Strydom (1976:19; 22) wys, ontkom Cloete nie heeltemal nie: dat die voortdurende herhalings (van motiewe, segswyses, wendinge en tegnieke soos intertekstualiteit), asook die toenemende neiging tot eksplisitering van beskouinge en werkswyses (in epigrammatiese, eksegetiese en aforistiese formulerings), die didaktiese inslag van sy poësie té sterk laat uitstaan; dat daar soms ’n indruk van versletenheid intree. Hierop het ’n aantal kritici weldeeglik gewys (kyk Odendaal 1997:348–366 vir ’n bespreking van die resepsie van Cloete se bundels tot en met Met die aarde praat; ook Hugo 1996:9, 2001:13;

Van Vuuren 1999:292–293; Werkman 1999; Pieterse 2001, 2007; Crous 2007). Myns insiens is egter sodanig dáárop klem gelê dat die tematieknuanseringe wat Cloete deurlopend in sy oeuvre lê, nie genoegsaam in die kollig gekom het nie.

Bets Bosman (1989:312–318) het wel probeer aantoon dat Cloete sy eerste vier bundels (sy oeuvre tot op die stadium toe sy haar proefskrif geskryf het) ‘gekomponeer’ het op die grondvorm van die sonate. Angelliera sou dan die ‘eksposisie’ en ‘aankondiging van die hooftema in die hooftoonaard’ wees, Jukstaposisie en Allotroop ‘die ontwikkeling of verwerking in verwante toonaarde’, en Idiolek die derde deel, ‘die herhaling of samevatting’. Intussen het Cloete nog vyf nuwe bundels die lig laat sien, sodat die sonate-metafoor nie kon steekhou nie.

Myns insiens besit elk van die huidige nege oorspronklike digbundels van Cloete se oeuvre ’n eie tematiese kern, hoewel as ’n relatiewe fokus binne die tematiese kompleks wat uit die staanspoor in sy oeuvre volkome teenwoordig is (die eenheid-in-veelheid-gedagte). Soos ten opsigte van bundelafdelings in die bundelbesprekings hierbo gedemonstreer is, kan ook die tematiese kerne van die indiwiduele bundels parafraserend saamgevat word, telkens met die bundeltitel as primêre duider van die bepaalde bundel-idee.

Soos ek hierna sal aantoon, laat blyk dié werkswyse dat ’n bepaalde bundelreeks-opbou in drie dele uit Cloete se bestaande digoeuvre na vore tree. Die drie bundelreekse neem, tesame gesien, weer ’n eenheid met ’n siklusaard aan, aangesien die drie reeksdele ’n bepaalde ‘verhaal’ vertel.

Ter wille van oorsigtelikheid, bied ek parafraserings van die toepaslike tematiese kerne tabelgewys aan (sien Tabel 3, Tabel 4 en Tabel 5).

TABLE 3: Tematiese kerne van die eerste reeks van drie digbundels in T.T. Cloete se oeuvre.

TABLE 4: Tematiese kerne van die tweede reeks van drie digbundels in T.T. Cloete se oeuvre.

TABLE 5: Tematiese kerne van die tweede reeks van drie digbundels in T.T. Cloete se oeuvre.

Om die bundelreeksbou in Cloete se bestaande poësie-oeuvre kernagtig saam te vat, verwys na Tabel 6.

TABLE 6: Samevatting van die tematiese kerne van die drie digbundelreekse in T.T. Cloete se oeuvre.

Slotopmerkings

Tydens vieringe van T.T. Cloete se agt-en-tagtigste geboortedagherdenking op 31 Mei 2012 het hy laat blyk dat hy steeds aan gedigte en ander geskrifte werk. Derhalwe kan bostaande vasstellings oor die bundelreeksbou-patroon (met ’n oorkoepelende sikliese samehang) in sy digoeuvre slegs voorlopige geldigheid hê.

’n Oeuvre-oorsig soos hierdie bied egter ’n geheelblik op ’n digterskap waaruit uitstaande kenmerke van byvoorbeeld die ontwikkelingsgang van of die denk- en werkswyse(s) onderliggend aan die digterskap duidelik kan blyk. Die sterk reekskarakter van Cloete se digwerk, as woordkuns-manifestasie van die eenheid-in-veelheid-aard van die verskynsels soos hy as gelowige dit in die skepping waarneem, tree hierdeur op die voorgrond.

Zuiderent (2001:14), in ’n artikel oor die sogenaamde ‘tweede gisting’ van die poësie in bundelverband, onderskei terloops tussen digter-boumeesters, digter-versamelaars en digter-stapelaars. Hy beklemtoon dat hierdie onderskeide nie absoluut is nie, asook geen noodwendige gehalte-oordele verteenwoordig nie: Die funksionaliteit, al dan nie, van die komposisie van elke bundel en, by uitbreiding, van elke oeuvre, is per indiwiduele geval te bepaal.

Die beskrywers ‘versamelaar’ en ‘stapelaar’ kom my toepaslik voor om die aard van die neerslag van Cloete se belewingshonger en vertolkingsdrif in die primêr seriële opbou van sy bundels en bundelreekse aan te dui (hoewel die ‘argitektoniese’ strukturering van Driepas, soos in die deel oor dié bundel hierbo bespreek, die leser bedag maak op relatiwiteit van so ’n tipering van Cloete se verwikkelde digterskap). Sy oeuvre lyk na ’n argivering van ’n (wetend onhaalbare) strewe om aan die gewaarwordinge van die goddelike in die oorweldigende skeppingsverskeidenheid woordgestalte te gee.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Beukes, M.P., 1989, ‘Vooropstelling, kohesie en koherensie in die poësie van T.T. Cloete’, M.A.-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom. PMid:2810510

Bezuidenhout, Z., 2008, ‘(Resensie van) Heilige nuuskierigheid’, Tydskrif vir Letterkunde 45(1), 211–213.

Bosman, M.E., 1989, ‘Op Hom die groot hosannas: Enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in Afrikaans’, D.Litt.-proefskrif’, Universiteit Rhodes, Grahamstad.

Brink, A.P., 1980, Tweede Voorlopige Rapport, Human & Rousseau, Kaapstad.

Brink, A.P., 1985, ‘Cloete se nuwe bundel sy kragtigste’, Rapport, 07 Julie, bl. 17.

Burke, K., 1953, Counter-statement, Hermes, Los Altos, CA.

Buscop, J., 2002, ‘Die diskoers tussen Job en Cloete struktureel-semanties beskou’, Literator 23(2), 15–32. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v23i2.328

Cloete, T.T., 1963, Op die woord af, Nasionale Boekhandel, Johannesburg.

Cloete, T.T., 1980, Angelliera, Tafelberg, Kaapstad. PMid:7404034

Cloete, T.T., 1982a, ‘Hoe om ’n gedig te ontleed’, Reuse-Bokboek 16, Academica, Pretoria/ Kaapstad.

Cloete, T.T., 1982b, Jukstaposisie, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1985, Allotroop, Tafelberg, Kaapstad. PMid:4081915

Cloete, T.T., 1986, Idiolek, Tafelberg, Kaapstad. PMid:3798265

Cloete, T.T., 1989, Driepas, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1992, Met die aarde praat, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1993a, Die gegewens van my poësie, Manuskrip, Voordrag, Biblioteek- en Inligtingskunde, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria op 17 Junie 1993.

Cloete, T.T., 1993b, ‘Profiel van T.T. Cloete; Die gedig is ek’, CSD/SWO Bulletin 5(6), 6–7.

Cloete, T.T., 1994, ‘Die digter se omgaan met die werklikheid’, Ensovoort 6(1), 6–7.

Cloete, T.T., 1997, ‘Die gedig as beraming’, eerste T.T. Cloete-erelesing, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom, 13 Augustus.

Cloete, T.T., 1998, Uit die hoek van my oog, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 2001, Die baie ryk ure. 100 uitgesoekte gedigte, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 2007a, Heilige nuuskierigheid, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 2007b, ‘T.T. Cloete se “rykdom van die onvoltooide”: Andries Visagie voer ’n onderhoud met T.T. Cloete’, LitNet, besigtig op 28 Junie 2011, by http://www.litnet.co.za/Article/tt-cloete-se-rykdom-van-die-onvoltooide-andries-visagie-voer-n-onderhoud-met-tt-cloete

Cloete, T.T., 2010, Uit die wit lig van my land gesny, Pooka, Plettenbergbaai.

Cloete, T.T., 2011, Onversadig, Tafelberg, Kaapstad.

Crous, M., 2007, Cloete – ‘klein e-posse van die vanselfsprekende’ (resensie oor die bundel Heilige nuuskierigheid), Rapport, 22 Julie, bl. 5.

Deudney, E.S., 1971, ‘Die siklus as kompositoriese probleem met besondere verwysing na twee siklusse van D.J. Opperman’, M.A.-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johanesburg.

Du Plooy, H., 2008, ‘Woorde wat teken en be-teken – ikonisiteit in die poësie’, Literator 29(2), 65–88. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v29i2.116

Ester, H., 2009, ‘T.T. Cloete en het Droste-effect’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 590–595.

Gouws, T., 1990, ‘T.T. Cloete: ’n Ster is in die hemel versit, Insig 44, April.

Gräbe, I., 1984a, ‘Eksploitasie van klankmatige aspekte in T.T. Cloete se Jukstaposisie’, in H. Viljoen, I. Gräbe, E. Jooste & D. Steenberg (reds.), In teen die groot vergeet, ble. 25–35, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.

Gräbe, I., 1984b, ‘(Resensie van) Jukstaposisie (T.T. Cloete)’, Tydskrif vir Letterkunde 22(1), 93–96.

Gräbe, I., 1985, ‘Belangrike variasies op vorige temas’, Die Transvaler, 04 Julie, bl. 6.

Hambidge, J., 2007, ‘Die hipnose van die digkuns, T.T. Cloete-gedenklesing 2005’, besigtig op 17 April 2012, by http://www.argief.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=17824&cause_id=1270

Hauser, G.A., 1986, ‘Introduction to Rhetorical Theory’, Harper & Row Publishers, New York.

Heynders, O., 2001, ‘De eenheid van van dichtbundels als coherentie-conventie’, in A. Zuiderent & E. Van der Starre (reds.), De tweede gisting, Over de compositie van dichtbundels, pp. 75–88, Amsterdam University Press, Amsterdam.

Hugo, D., 1996, ‘Die Afrikaanse poësie 1990–1995’, ’n Bestekopname in bevooroordeelde flitse, Ensovoort 8(1), 8–10.

Hugo, D., 2001, ‘Hier is te veel rymbombas’, Die Burger, 23 Julie, bl. 13.

Jansen van Rensburg, J.H., 1990, ‘Die jukstaponering van hemel en aarde in die poësie van T.T. Cloete’, M.A.-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.

Kayser, W., 1967, Das Sprachliche Kunstwerk (eine Einführung in die Literaturwissenschaft), , Francke Verlag, Bern/München.

Krüger, E., 1990, ‘Die man het ’n katedraal gebou in ’n jaar, Onder vier oë, waarin Elsa Krüger gesels met T.T. Cloete’, Beeld, 10 Februarie, bl. 11.

Marais, J.L., 2009, ‘Charles Darwin, die natuurwetenskappe en die verwondering in T.T. Cloete se poësie, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 547–562.

Odendaal, B.J., 1991, ‘Sien (en hoor!) is glo: ’n voorlopige verkenning van ikonisiteit as retoriese strategie aan die hand van twee kort gedigte’, Literator 12(3), 13–24.

Odendaal, B.J., 1997, ‘Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete’, Ph.D.-proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.

Odendaal, B.J., 1999, ‘Digbundel troon uit in Afrikaans’, Volksblad, 15 Maart, bl. 6.

Odendaal, B.J., 2007, ‘’n Heilige soeke’, Volksblad, 18 Junie, bl. 6.

Odendaal, B.J., 2011, ‘Onversadig’ is kenmerkend Cloete, Volksblad, 07 Mei, bl. 6.

Pieterse, H.J., 2001, ‘T.T. Cloete se baie ryk verse’, Beeld, 20 Augustus, bl. 9.

Pieterse, H.J., 2007, ‘Steeds verwonderd oor groot patroon’, Beeld, 02 Julie, bl. 13.

Pretorius, R., 1981, ‘Angelliera van twee kante bekyk’, Tydskrif vir Letterkunde 19(2), 77–83.

Pretorius, R., 1994, ‘Met die aarde praat (1992), ‘Alles wys en fyn beplan’, Tydskrif vir letterkunde 32(1), 110–113.

Raidt, E., 1962, ‘Die bundel as eenheid, ’n Ondersoek na die funksie van die simbool in Opperman se Blom en baaierd’, M.A.-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, Kaapstad.

Raidt, E., 1965, ‘Die bundel as eenheid’, in E. Lindenberg, E. Raidt & J.A. Verhage (reds.), Dietse studies: bundel aangebied aan prof. dr J. du P. Scholtz by geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaardag 14 Mei 1965, ble. 111–130, Van Gorcum-Academica, Kaapstad/Pretoria.

Robinson, R., 2009, ‘’n Onvoltooide Naam digterlik verbeel – verkennings aangaande ’n enigmatiese Goddelike Wese in T.T. Cloete se oeuvre’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 507–534.

Smith, B., 1968, Poetic Closure, A Study of how Poems End, The University of Chicago Press, Chicago/London.

Smuts, R., 1993, ‘Angel en lier en angelier en Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede’, Tydskrif vir Letterkunde 31(3), 120–127.

Spies, L., 1992, ‘Siklus in die poësie’, in T.T. Cloete (red.), Literêre terme en teorieë, ble. 478–482, HAUM-literêr, Pretoria.

Strydom, L., 1976, Oor die Eenheid van die Digbundel, ’n Tipologie van gedigtegroepe, Academica, Pretoria/Kaapstad.

Van Jaarsveld, A.E., 1993, ‘Driepas (T.T. Cloete) - die digter as dissipel; die taal as katedraal, Mmabatho’, D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Bophuthatswana, Suid-Afrika

Van Jaarsveld, A. & Gouws, T., 1995, ‘Die taal as katedraal: Driepas van T.T. Cloete’, Literator 16(3), 163–182.

Van Vuuren, H., 1999, ‘Perspektief op die moderne Afrikaans poësie (1960–1997)’, in H.P. van Coller (red.), Perspektief en profiel, ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2, ble. 244–304, J.L. van Schaik Uitgewers, Pretoria.

Van Wyk, P., 1983, ‘Cloete se jare-oue gebed verhoor’, Rapport , 17 April, bl. 18.

Van Zyl, I., 1990, ‘T.T. dig slim oor skepping’, Die Republikein, 29 Junie, bl. 5.

Venter, L., 1991, ‘Die praktyk van die kyk’, Tydskrif vir Letterkunde 29(3), 69–75.

Viljoen, H., [1984] 1986, ‘Die klou dui al die dier aan’: Oor semiotiek en literatuur, in J.H. Senekal (red.), Teks-Leser-Konteks, Gedigte ontleed volgens eietydse metodes, ble. 81–98, Perskor-uitgewery, Kaapstad/Johannesburg.

Viljoen, H., 1995, ‘Die fenomenologie van T.T. Cloete’, Literator 16(3), 43–60.

Viljoen, H., 2009, ‘Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van T.T. Cloete’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 568–589.

Viljoen, L., 2007, ‘Intense emosie, volkome beheers’, Die Burger, 04 Junie, bl. 11.

Werkman, H., 1999, ‘Cloetes menselijke gedichten’, Zuid-Afrika, 76(11/12), 16.

Wybenga, G. & Cloete, T.T., 1992, ‘Ikoon en ikonisiteit’, in T.T. Cloete (red.), Literêre terme en teorieë, ble. 178–182, HAUM-literêr, Pretoria.

Zuiderent, A., 2000, ‘Van Dietse dichten tot Oor die Eenheid van die Digbundel, Wat hebben Zuid-Afrika en ik met elkaar te maken?’ Stilet 12(2), 23–38.

Zuiderent, A., 2001, ‘De tweede gisting van poëzie, Ter inleiding’, in A. Zuiderent & E. Van der Starre (reds.), De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels, pp. 9–28, Amsterdam University Press, Amsterdam.



Crossref Citations

No related citations found.