<?xml version="1.0" encoding="UTF-8" standalone="yes"?>
<article Literator_397=""><bibl><publisher><pub_name>AOSIS OpenJournals</pub_name><pub_url>www.openjournals.net</pub_url><pub_mail>info@openjournals.net</pub_mail><journal_website>http://www.literator.org.za</journal_website></publisher><issn><issn_print>0258-2279</issn_print><issn_web>2219-8237</issn_web></issn><title><article_title>Die gedig as ’n vreemdeling se graf </article_title></title><aug><au><author_name>Wyn Roux1</author_name><author_affiliation>1Department of Afrikaans &amp; Theory of literature,
University of South Africa, South Africa</author_affiliation></au></aug><correspondence><corresponding_email>rouxap@unisa.ac.za</corresponding_email>
<corresponding_postal_address>Private Bag X05, Noordbrug 2522, South Africa</corresponding_postal_address></correspondence></bibl><xref><article_id>397</article_id>
<volume>33</volume><issue>1</issue><doi>10.4102/lit.v33i1.397 </doi></xref><history><dates><recieved_date>15 Sept. 2011</recieved_date><accepted_date>06 Jan. 2012</accepted_date><published_date>13 Nov. 2012</published_date></dates><citation><table_url> Roux, W., 2012, ‘Die gedig as ’n vreemdeling se graf’, Literator 33(1), Art. #397, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v33i1.397</table_url></citation><note><text>Hierdie bydrae is uit die kunstenaarsboek Die gedig as ‘n vreemdeling se graf, geskryf deur Wyn Roux (2010), www.bookboek.co.za </text></note></history><copyright><year>© 2012.</year><statement>The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.</statement></copyright><body><sec_heading>Die gedig as ’n vreemdeling se graf <paragraph>I Wonder of dié dag my iets gaan leer van jou skielike afsterwe, jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie. Brand elke nag die maan met jou lyf wanneer jy kaal onder grond vrugbaar weer deel word van die aarde. Proe elke wurm sag deur jou lyf. Ag, om te ontsnap uit die woorde wanneer ek nie eens  weet wie of wat jy is nie, jy vir wie ek skryf, ses voet onder?</paragraph><paragraph>II Geen mens het jou weer gesien nadat ek jou in die gedig begrawe het nie. Aan die kis van woorde hoor ek jou krap, proe aan wurms in jou mond, hulle wat hap na hap  die vrekte vier. Vraatsugtig byt jy nog aan grond asof  jy nooit genoeg daarvan sal kry nie. Eendag op ’n reëndag sal ek met geen vermoede van ontmoeting op jou graf trap en ril.</paragraph><paragraph>III Wanneer al die slaap van “vir ewig” verbygaan, sal ek en jy – daar onder – die sjampanjebottels uit die kaste  van die ewigheid haal en drink op dit wat ons nooit geken het nie. Ons sal mekaar vier en dink: As ons net vroeër  in hierdie vreemde  liggaamloosheid was,  sou ons -aan- geloop het soos verliefdes hand-aan-hand.</paragraph><paragraph>IV In jou geraamte-arm se kuil hou ek my skuil; die benerigheid van vergaan is aanvanklik hard, maar sagter soos die jare kom en gaan. Die warm water filtreer  deur muwwe grond. Wat sal die mense sê as hulle ons saam daar onder in die kis langs mekaar sien lê? “Is ’n kis nie ’n baie private ding nie?” Ag, om ewighede aan jou te ruik!</paragraph><paragraph>V Die eerste keer binne ŉ donker kelder onthou ek goed.  Daarna wou ek nooit weer na die kelder teruggaan nie. Die eerste keer het ek kennis gemaak met die donker. Ek het nooit weer teruggegaan nie. Ek droom meestal dat ek nie wil doodgaan nie. Die kis klap toe en ek haal nog asem. Ek krap met pen teen die kis se klap. Jare later vind julle die gedig: Jul ‘t van my vergeet.</paragraph><paragraph>VI Ag, hoe goed om eindelik te ontmoet. Jy het ook asemgehaal soos duisende ander. Ook gestink en eindelik opgehou met stink. Jy het lank in die grond baljaar. Gespeel in ’n sandput – kastele gebou. Nou klim jy agter my in soos wanneer ons saam sou bad. Onthou jy? Maar jy kan nie onthou nie. Ek het jou nooit ontmoet nie. Ek het jou verbeel; ek het elkeen van julle verbeel en die woorde het reeds ontbind.</paragraph></sec_heading></body></article>
