ʼn Leksel sout uit die maande – ʼn leksel sout uit die aarde
Book Title: ʼn Leksel sout uit die maande
Editors: Jan Nel
ISBN: 978-1-86919-305-8
(South Africa)
Publisher: Protea Boekhuis (Pretoria 2011)
Reviewer: S.F. Greyling1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, South Africa
Postal Adress: Private Bag X1290, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Greyling, S.F., 2012, ‘ʼn Leksel sout uit die maande – ʼn leksel sout uit die aarde’, Literator 33(1),
Art. #391, 1 page.
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v33i1.391
Copyright Notice: © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Op die keurige voorblad van Jan Nel se essaybundel, ’n Leksel sout uit die maande, is ’n herfsblaar en ’n boomstomp met duidelike jaarringe
afgebeeld. Hierdie eerste kennismaking met die boek kondig reeds vir die leser die tema aan. In dié versameling essays gaan dit naamlik oor die wisseling van
seisoene, oor die aard van die natuur en die mens, oor dinge wat verbygaan, maar ook oor herontwaking en nuwe groei. Die bundel is ’n heruitgawe van die versameling wat oorspronklik in 1996 by Tafelberg verskyn het. Die aanvanklike twyfel of ’n bundel soos hierdie ’n
herdruk regverdig en of die sterk natuurgebondenheid steeds toepaslik is vir ’n hoofsaaklik verstedelikte gemeenskap, het met die lees van die
essays grotendeels vervaag. Jan Nel is ’n noukeurige waarnemer en ’n vaardige skrywer. Die essays, oor die algemeen goed geselekteer, is volgens die maande van die jaar
ingedeel. Dit is ’n funksionele stuktureringsmiddel aangesien dit ’n bepaalde fokus meebring, die bydraes onderling verbind en ’n
bepaalde narratiewe verloop impliseer. Die skrywer se intieme kennis van die natuur, noukeurige waarneming en sintuiglike beskrywing, is opvallend.
Nel is egter ook ’n goeie waarnemer van mense, en die natuurbesinnings word aangevul en afgewissel met algemeen menslike ervarings soos besoeke
aan ’n dokter, die bywoning van balletvertonings en die ervaring van eensaamheid. Natuurwaarnemings word nie tot een landstreek beperk nie, en seisoene en maande word genuanseerd geteken. In ‘Augustus’ word die maand wat
op die Hoëveld met troostelose winde vereenselwig word, se ander kant ook getoon: Nie orals kom Augustus met onbeheerste drif en wilde windslae nie, nie oral met sand onder die tande en skaapmis in neus en ore nie, nie oral met
suile stof en droë mielieblare nie, maar plek-plek ook sagvoets, sonder fanfare en met ʼn periodieke roering van Augustusbriese. (bl. 83) Verwysings na aktuele gebeure en spesifieke maatskaplike omstandighede bly oor die algemeen vaag sodat die bundel nie opvallend gedateer word nie. Daar is
egter enkele bydraes waar belangrike agtergrondkennis ontbreek, en wat in ’n ander konteks, byvoorbeeld in ’n gereelde koerantrubriek, vir die
leser meer sin sou kon maak. Die afleiding kan byvoorbeeld gemaak word dat Wessel in ‘Hy’s lellek’ (bl. 76) dieselfde vriend is met wie die
skrywer in sy bundel Laataandbiegstories en sulke dinge (2009) om die kampvuur kuier. Waar die verwysing na persoonlike vriende en kennisse die leser soms uitgesluit laat voel, kan lesers hulle wel vereenselwig met die skrywer se nagedagtenis
aan sy ouers en grootouers. Soos met Nel se waarnemings oor die natuur en die gang van die seisoene, prikkel die herinneringsessays die leser se eie
assosiasies en herinneringe. Nel vereenselwig Augustus veral met sy pa se begrafnis en teken nóg ’n Augustuslandskap vir die leser: Vroegmôre op die elfde dag van Augustus in daardie jaar het dit lig begin sneeu, en toe ons bibberend en ontredderd op die twaalfde by die graf
staan, het die Witteberge se toppe skimmel gelê (‘Die twaalfde van die agste’ − bl. 89). ’n Geneigdheid tot bewustelike mooiskrywery en sentimentaliteit word deur die skrywer se humorsin en selfspot getemper. Nel het sy tong stewig in die
kies en neem homself nie te ernstig op nie. So verwys hy byvoorbeeld in ‘Nel, soos in Willem’ na die afkoms van die Nels in Suid-Afrika. Die
stamvader se nageslag is talryk: Agter elke bos en walletjie kan jy een uitkrap en dikwels sommer op die bogrond optel. ’n Soekery is dus selde nodig. Hulle is sommer net daar,
of jy hulle nodig het of nie. (bl. 120) Met sy fyn waarneming, humorsin en soepel skryfstyl het hiérdie Nel ’n deeltjie van die ondermaanse só betrag en verwoord dat dit
vir talle lesers veel plesier sal verskaf en stof tot nadenke kan bied, en ook sodoende die verganklikheid tot ’n mate kan besweer.
|