Skryfvaardigheid en diepte verras sporadies in Skrywersblok en ander verhale
Book Title: Skrywersblok en ander verhale
Author: Jaco Fouché
ISBN: 978-1-86919-280-8
Publisher: Protea Boekhuis (Pretoria 2009)
Reviewer: I. Jacobs1
Affiliation: 1Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa
Postal address: PO Box 392, University of Stellenbosch 0003, South Africa
How to cite this book review: Jacobs, I., 2012, ‘Skryfvaardigheid en diepte verras sporadies in Skrywersblok en ander verhale’, Literator 33(2), Art. #389, 2 pages.
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v33i2.389
Copyright Notice: © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Jaco Fouché is al beskryf as ’n skrywer van voorstedelike literatuur. In al sy publikasies speel die voorstede, veral Bellville, ’n belangrike rol. Nie alleen is dit die plek waar die verhale hulle afspeel nie, maar die voorstedelike bestaan hou meermale ’n sleutelposisie in die definiëring van karakters, tematiek en verhaallyne. Fouché se tweede bundel kortverhale, Skrywersblok en ander verhale (2009), is dan ook nie ’n uitsondering nie. Dié publikasie volg op Fouché se bekroonde debuutroman, Die ryk van die rawe (1996), sy eerste kortverhaalbundel, Paartie by Jakes (1997), en die daaropvolgende twee publikasies, Die avonture van Peter Francken (2005) en 2 dae in Mei (2007). Sedert die verskyning van Skrywersblok en ander verhale is Ed van Inligtingstelsels (2009) en Die grysland-verblyf (2010) ook op die rakke te sien.In Skrywersblok en ander verhale verryk Fouché die bekende tematiek van voorstedelike bestaan met eksistensialistiese en metafiksionele filosofering binne die ruimte van die alledaagse. Op die flapteks word daar melding gemaak van die ruimtes waarin die verhale afspeel – kroeë, koffiewinkels, hospitale, treine, kerke – en die karakters wat binne hierdie ruimtes ‘eerlike en ongekunstelde weergawes van die werklikheid voorhou’. Die voorstedelike werklikheid word vanuit verskeie perspektiewe beskou. Skrywers van verskillende aard tree as karakters op om kritiek te lewer teenoor die roetine van alledaagse bestaan en dit verklaar een van die dimensies van ‘skrywersblok of writer’s block’ wat in die bundel ontgin word. Sommiges gaan op soek na ‘voorstedelike angst’ (bl. 70), soos die skrywer Benjamin Kapp in ‘Skrywersblok’. Daar is Chris Fourie, wat worstel met die idee dat sukses noodwendig vir ’n skrywer daarin lê om kommersieel te skryf (‘Skrywersblok’), en wat selfs poog om meneer Leuter se lewensverhaal te koop (‘Onderhoud met mnr. Leuter’). Johannes Meurger word ’n randfiguur in alle aspekte van die lewe, omdat hy die grootste literatuursonde (bl. 113), naamlik plagiaat, gepleeg het (‘Die bekentenis’). In die prologiese ‘Die voortvlugtige’ word metafiksie met veelseggende metaforiek verwoord. Dié openingsverhaal word interessant aangebied en daag die leser uit om dieper te delf en verder te dink. Die inhoud van die kortverhaalbundel laat nie altyd reg geskied aan die literêre ambisies wat die openingsverhaal suggereer nie. Trefkrag skiet dikwels tekort, maar tóg is die bundel plek-plek uitdagend én verrassend. Een so ’n hoogtepunt is die titelverhaal ‘Skrywersblok’. Alhoewel die verhaal neig tot uitgerektheid, word dit gered deur die meerduidige titel en Fouché se vindingryke skets van tonele en verwoording van dialoog en gedagtestroming. Hier dink ek aan onder meer die skerp en soms speelse dialoog tussen die hoofkarakter, Chris Fourie, en sy vriendin Elize, sowel as die talle uitsprake oor letterkunde en die kunste. So byvoorbeeld deel Chris se vriend, De Wet, hom mee: ‘Moenie te welvarend voorkom nie. Jy bring mense onder ’n wanindruk oor die kunste’ (bl. 56). Die problematiek van skrywer-wees word ook onbeskaamd in hierdie verhaal aangepak: Fourie erken dat hy nie weet wat om te skryf nie en voer aan: Die verpligting is letterkunde, die soort wat delf, wat ondersoek, wat konfronteer, wat uiteindelik indruk maak onder mense met heelwat meer geleerdheid as wat hy het, maar die versoeking is die populêre soort boek, die een wat verkoop en ’n mens toelaat om [...] ten einde die groot onmoontlikheid uit te leef: Om Voltyds Te Skryf. Om ’n Skrywer te wees. (bl. 59) Die invloed van ’n kommersiële samelewing word hiermee beklemtoon, ’n tema wat deurlopend eenheidvormend in die bundel werk tesame met kommentaar op ’n roetinegebonde voorstedelike bestaan. Chris Fourie beklemtoon dat die mens se grootste vyand ‘sleur en verveling en alledaagsheid en inskiklikheid is’ (bl. 97). Die slot van ‘Skrywersblok’ stel egter teleur. Alhoewel daar voorbrand daarvoor gemaak word met die aanhaling wat die verhaal voorafgaan en dit ook ’n baie letterlike betekenis gee aan die titel, laat dit die leser met meer vrae as literêre stimuli. Fouché werk sterk intratekstueel. Daar is karakters en plekke uit vorige publikasies wat weer hulle verskyning maak: Ratkas Goosen (‘Selene en Steyn’), Pieter Francken (‘Die winterkoning’), Barnaby (‘Speurder in die son’), asook die bekende ruimte van die kroeg, Jake’s (Paartie by Jakes). Binne die bundel is daar ook karakters wat in meer as een verhaal voorkom: Benjamin Kapp, meneer Leuter en Chris Fourie word sodoende as meerdimensionele karakters geskets. Die tema van religie het intratekstuele bande met ander werke in Fouché se oeuvre en speel in Skrywersblok en ander verhale ook ’n beduidende rol. Waar afdeling III getuig van die problematiek rondom die afvalligheid van geloof, val die klem in die laaste afdeling al hoe meer op die karakters se toevlug tot die godsdiens. Fouché se vindingryke en kenmerkend ironiese skryfwyse maak dit egter nie altyd moontlik om in hierdie laaste verhale te onderskei tussen sedeles en sarkasme nie, laasgenoemde met die doel om kommentaar te lewer op religieuse skynheiligheid – diegene wat God sien as ’n vorm van deus ex machina. Ander temas wat herhalend voorkom, is onder meer misdaad, politiek, die dood, die verlede, herinnerings en boetedoening. ‘Die winterkoning’ is ‘n opvallende verhaal oor opvoeding – dit is ʼn onbeskaamde, maar fyn, vertelling van hoe diegene wat hulleself wil opvoed en bevorder dikwels deur dié wat agterbly, verneder en afgetrek word. In die bundel bly die liefdestema op die agtergrond, en vorm dikwels net deel van ’n verhaal waarin dit gepaardgaan met die kwessie van gemengde huwelike of verhoudings, soos in ‘Vinnie’, ‘Selene en Steyn’ en die noemenswaardige ‘Familie uit Vereeniging’. Fouché se behendige aanwending van metaforiek blyk in heerlike beskrywings soos: ‘Sy het koerant gelees soos honde eet [...]: met oorgawe’ (bl. 168), of die verwysing na ‘Trivial Pursuit-intellektualiteit’ (bl. 100) waarmee soveel pseudo-intellektuele te koop loop. Sy ironiese skryfstyl word ook aangewend met komiese effek wanneer die verteller in ‘Die bekentenis’, wat as skrywer skuldig bevind is aan plagiaat, in ’n supermark aangegluur word deur ʼn onbekende man en dan verward dink: ‘Dalk dink hy ek het iemand se inkopielys afgeskryf’ (bl. 120). Alhoewel Skrywersblok en ander verhale reeds in 2009 verskyn, is die verhale steeds relevant én betekenisvol in die huidige Suid-Afrikaanse politieke en sosiale konteks. Fouché hanteer ’n groot verskeidenheid temas. Wat eenheid skep in die bundel, is ‘n gemeenskaplike soeke na die sin van die menslike bestaan, waarin elkeen in sy eie reg en binnesy eie weergawe van die werklikheid die begeerte koester om iets na te laat – soos die verteller in ‘Die bekentenis’ sê: ‘Om my merk te laat’ (bl. 108). Skrywersblok en ander verhale sukkel steeds, soos ander publikasies in die Fouché-oeuvre, om die hoogtes van sy debuut te ewenaar. Aanhangers van Fouché se werk sal wel die gebrek aan trefkrag kan oorsien en kan fokus op die verhale waarin sy vaardigheid as skrywer deurskemer en die diepte daarvan sporadies verras.
|