’n Bydrae tot die queer diskoers in Afrikaans
Book Title: Oktober
Author: Réney Warrington
ISBN: 978-1-8691-9543-4
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria 2012, 224 p., ZAR160.00*
*Book price at the time of review
Reviewer: Marius Crous1
Affiliation: 1Department of Languages and Literature, Nelson Mandela Metropolitan University, South Africa
Postal address: PO Box 77000, Port Elizabeth 6031, South Africa
How to cite this book review: Crous, M., 2013, ‘’n Bydrae tot die queer diskoers in Afrikaans’, Literator 34(1), Art. #387, 1 page.
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i1.387
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Oktober is die prosadebuut van Réney Warrington en handel oor Jo, ’n professionele fotograaf en haar verhouding met haar familie, asook haar ontmoeting en uiteindelike verhouding met die popsanger Leigh. Jo is baie na aan Jonathan en Ruby, haar suster se kinders, maar haar swaer wil haar nie meer naby die kinders toelaat nie. Sy trek daarom uit haar ouerhuis en verhuis later na Londen. In Londen, die stad wat dikwels in die Afrikaanse letterkunde met vryheid en ontvlugting geassosieer word, kom sy op die been as fotograaf. Dit is ook hier waar James, die kind van die galery-eienaar vir wie sy gaan werk, die leemte moet vul wat gelaat is deur die verbod om haar susterskinders te besoek.Wat dié teks anders maak, is nie net die formaat nie, maar ook die insluit van foto’s met byskrifte. Die foto’s sluit by die teks aan en word deel van die narratief, soos Sebald ook dikwels doen. Sonder die konteks van Oktober sou etlike van die foto’s maar bra flou oorkom, soos byvoorbeeld die jukstaponering van die plastiekgrassnyer en die twee leë gemmerbierbottels. Dié roman word vanuit die perspektief van ’n lesbiese verteller-fokalisator vertel en lewer onder meer kommentaar op die ongevoeligheid van die heteroseksuele samelewing. So word die swaer George tekenend van die homofobiese man, wat meen dat sy kinders gekorrupteer sou word indien hulle met die verteller in kontak gebring word. Die ’abnormaliteit’ van haar gay-wees reduseer haar in sy oë tot ’n ’aansteeklike’ en beïnvloed ook haar verhouding met haar suster, Simone. Jo is egter ook bang vir verdere seerkry en dit beïnvloed haar verhouding met Leigh. Daar is ook die coming out-gesprek tussen ma en dogter en die konflik met die pa-figuur omdat sy tydens die hofsaak teen hom kant kies vir haar ma. Naas die verhouding met haar ouers, is daar ook die interaksie met Brian, die gestremde broer, om dinge verder te kompliseer. Die invoeging van Brian, saam met al die ander intriges en gebeure, sorg vir die grootste bron van ergernis − die boek is oorvol. Te veel karakters en gebeure in die bestek van een dunne roman. Soms is die verteller ook net te slim vir haar eie filosofiese opvoeding, sy interpreteer te veel in plaas daarvan om te vertel en sy laat min aan die leser oor. As leser het ek heeltyd vir die beëindiging van die verhouding tussen Jo en Leigh gewag, want die roman suggereer dat dit kortstondig gaan wees. Die waarde van die boek is egter geleë in die bydrae wat dit lewer tot die queer diskoers in Afrikaans, want daar het lanklaas ’n boek verskyn wat pertinent die vrou-vrou-verhouding belig. (O ja, Carmen Hansen-Krüger, wat as proefleser voorin aangedui word, daardie bytel op bl. 149 steek mens reg tussen die oë.)
|