Article Information

Author:
William J. Henderson1

Affiliation:
1Department of Greek and Latin Studies, University of Johannesburg, South Africa

Correspondence to:
William Henderson

Postal address:
PO Box 524, Aucklandpark 2006, South Africa

Dates:
Received: 31 Aug. 2012
Accepted: 22 May 2013
Published: 14 Nov. 2013

How to cite this article: Henderson, W.J., 2013, ‘Digters en atlete: Olimpiese wenners en verloorders in die vroeë Griekse liriek’, Literator 34(1), Art. #386, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i1.386

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Digters en atlete: Olimpiese wenners en verloorders in die vroeë Griekse liriek
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Abstrak
Inleiding
   • Lof vir wenners
   • Enkele merkwaardige wenners
   • Oneer vir verloorders
Slot
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstract

Die antieke Griekse gemeenskap was uiters mededingend; veral by die adel was daar die konstante behoefte en ideaal om prestasies op die slagveld of sportveld te behaal en in die familiegeskiedenis op te neem. In die afwesigheid van die rol wat die hedendaagse media vandag in ons samelewing speel, het veral drie digters die prestasies van atlete by die antieke Olimpiese en ander spele op rekord gestel, verkondig en opgehemel: Simonides, Pindaros en Bakchulides. Hulle het ’n spesiale oorwinningslied, die epinikion, gekomponeer – ’n verhewe ode wat deur ’n koor met musiekbegeleiding voorgedra is. In hierdie artikel word uittreksels uit hierdie gedigte ontleed om die digters se siening van wenners en verloorders te illustreer.

Abstrak

Poets and athletes: Olympic winners and losers in early Greek lyric. Ancient Greek society was extremely competitive; amongst the nobility especially there was the constant need for an ideal of achievement on the battlefield or athletics track and to integrate this into the family history. In the absence of the role the present-day media plays in our society, three poets in particular recorded, propagated and praised the achievements of athletes at the Olympic and other games: Simonides, Pindar and Bacchylides. For a winner they composed a special victory hymn, the epinikion, an elevated ode sung by a chorus with musical accompaniment. In this article extracts of such poems are analysed in order to illustrate the poets’ views regarding winners and losers.

Inleiding

Wedywering was een van die drywende kragte in die antieke Griekse mentaliteit. Burckhardt (1952:3.65–86) het die term: agonale mensch [agonistiese mens] gebruik. Dit het uitdrukking gevind in die sosiale en politieke lewe, in die wetenskaplike en filosofiese debat, in die skepping van kuns en letterkunde, en in atletiekkompetisies. Oor die hele Helleense wêreld heen is godsdienstige feeste gehou waartydens atletiekkompetisies op sowel plaaslike as nasionale vlak plaasgevind het. Naas die vele plaaslike feeste en spele was daar die vier groot nasionale of Pan-Helleense spele: die Olimpiese Spele (Olumpia) ter ere van Zeus by Olimpia, die Pitiese Spele (Puthia) ter ere van Apollo by Delfi, die Nemeïese Spele (Nemeia) ter ere van Zeus by Nemea, en die Ismiese Spele (Isthmia) ter ere van Poseidon by Korinte.

Die antieke Grieke se kalender het in ’n siklus van vier jaar (’n Olimpiade) verloop, wat in Augustus begin en geëindig het. Die nasionale spele is dan in hierdie raamwerk ingepas. Die Olimpiese Spele het elke vier jaar in Augustus, aan die begin en einde van elke siklus of Olimpiade, plaasgevind; so ook die Pitiese Spele, wat in die derde jaar van elke Olimpiade geval het. Die Ismiese Spele is in April van die jaar ná die Olimpiese en weer ná die Pitiese Spele gehou, dit wil sê in die tweede en vierde jaar van die Olimpiese siklus. Die Nemeïese Spele het in Julie van die jaar ná die Olimpiese en weer ná die Pitiese Spele geval, dit wil sê: in die eerste en derde jaar van die Olimpiade. Die Isthmia en Nemeia het elke jaar afgewissel, en die Olumpia en Puthia elke twee jaar. ’n Olimpiese siklus (períodos) het dus soos volg verloop: Olumpia (Augustus, jaar een); Nemeia (Julie, jaar twee); Isthmia (April, jaar twee), Puthia (Augustus, jaar drie); Nemeia (Julie, jaar vier), Isthmia (April, jaar vier), Olumpia (Augustus, jaar vier). Die Olimpiese siklus sien skematies daar uit soos in Tabel 1a en Tabel 1b (op bladsy 2).1

Uit Tabel 1a en Tabel 1b (op bladsy 2) kan gesien word dat in elk van die vier jare van ’n Olimpiade daar ten minste een nasionale fees was (die Olimpiese en Pitiese Spele in die eerste en derde jare) en twee (die Nemeïese en Ismiese Spele) in die tweede en vierde jare. ’n Atleet wat by al die spele in die siklus ’n oorwinning behaal het, is ’n periodoníkos genoem.

Om sy oorwinning te herdenk, het die wenner of sy familie aan ’n leidende digter opdrag gegee om ’n oorwinningslied, ’n epinikion, te komponeer (Crusius 1958:183; Robbins 1997). Die fokus van hierdie artikel is dan juis die uitbeelding van ’n paar merkwaardige wenners, maar ook die effek van mislukking op die verloorders, soos dit in die oorwinningsgedigte (epinikia) van die drie vernaamste digters van epinikia aangetref word, naamlik Simonides (c. 556/2–c. 468/4 v.C.), Bakchulides (c. 520–c. 450 v.C.) en Pindaros (518–438 v.C.).2 Relevante uittreksels van hierdie digters sal bespreek word om hul gedagtes oor oorwinning en nederlaag te ondersoek.

Lof vir wenners
Leslie Kurke (1991:1) het die spele in ’n oorkoepelende maatskaplike struktuur geplaas, waar die huis (oikos, dômos) in ’n soort spanning met die gemeenskap daar buite fungeer. Volgens haar het wedywering tussen die adellike gesinne vereis dat die huis gereeld verlaat word om roem (kleos) te verwerf en terug te bring, aangesien dit gou vervaag het (bl. 16–19). Oorwinning word ’n familie se besitting (bl. 21). Die rol van die digter was om die wenners se prestasies op rekord te plaas, maar om ook die wenner in dié proses weer in sy familie en gemeenskap te integreer; daarom die belangrikheid van die tuiskoms (nostos), soos in die geval van Telemachos in Homeros se Odusseia (bl. 8–9). Lof moes egter van buite die gesin, van die gemeenskap kom, en in hierdie proses is die wenner se prestasie in die samelewing geïntegreer (bl. 85–107). Dié opset het egter meestal vir die adel gegeld: hoewel enige Griekse man kon deelneem, was dit net die aristokrate wat die tyd en geld gehad het om te oefen, reis en deel te neem (bl. 3). Die digters het dus die waardes van die adel verwoord.

Die antieke Grieke het wenners opgehemel. Hulle is beskou as uitverkore deur die gode, met ingebore, godgegewe talente; hulle het ’n proses van persoonlike inspanning en intense voorbereiding deurgemaak; en hulle is deur familie en afrigters onderskraag.3 Simonides klee die spesiale status in mitologiese taal in twee fragmente wat van papirusse herwin is. In die eerste, uit ’n oorwinningslied vir ’n wenner in die perdewedren (kelês), word Apollo voorgestel asof hy na die wenner mik:

ver-skietende Apollo
mik na [wenners].
(Fragment 511)

Die tweede, in ’n fragment uit ’n epinikion, dra die digter die wrede werklikheid oor dat daar net een wenner kan wees:

... en om glorie te wen, en in geëerde
Nikê se wa te klim;
maar die godin laat net een man toe om in haar groot koets te spring.
(Fragment 519, fragment 79.10–11)

Hul oorwinnings is saam met militêre oorwinnings geloof as die grootste menslike prestasies en hulle is op dieselfde vlak as militêre helde geplaas (Bowra 1964:183–6; Hornblower 2004:44–51; Currie 2005), en tog het hulle net kranse van wildeolyftakke by Olimpia, blomme by Delfi, wilde pietersielie of seldery by Nemea en pietersielie of blomme by die Isthmia vir hul seges ontvang. Wenners het ook linte ontvang en blomme is na hulle gegooi (phullobolía). Gedurende en aan die einde van die spele en by hul terugkeer tuis het wenners ’n optog, bankette, aansien, vroulike bewondering, gemak en aansienlike finansiële gewin geniet. Baie van hulle het buite hul tuisdorp beroemd geword en eer en aansien vir hul dorpe en families verwerf. Sitplekke in die voorste ry by spele is aan hulle toegeken en hulle, die wenners, het gratis maaltye in die stadsaal (prutaneion) geniet. Digters soos Xenophanes (Fragment 2.1–9 West) en Turtaios (Fragment 12.1–4 West) het teen die buitensporige eerbetoon aan atlete beswaar gemaak. Daar word berig dat Solon ook die oordrewe verering van atlete gekritiseer het (Diogenes Laertios 1.55; 9.2.5; Plutarchos, Solon 23.3; 24.5; Athenaios 137e; Bowra 1964:184–185, 187–188; Henderson 2009:166–169, 54–56).

Die hoogste eer was sekerlik om in ’n oorwinningslied, die massamedium van die dag, geprys te word. Digters het in opdrag gewerk, dikwels is ’n kort ode aangevra wat dan tydens of ná die afsluiting van die spele opgevoer is, en vir ’n langer een wat by hul tuiskoms opgevoer is. Vir hierdie oorwinningsliedere is die digters volgens die lengte van die gedig betaal – ’n praktyk wat deur Simonides begin is (Simonides, Fragment 515; Pindaros, Pitiese Ode 11.41–42; Aristoteles, Rhetorica 3.2.1405b; Campbell 1991:346–351: Testimonium 22–26; Pindaros, Nemeïese Ode 4.73–75; Ismiese Ode 2.6–7). Pindaros en Bakchulides verkondig herhaaldelik die mag van hul poësie om onsterflikheid aan die atlete te besorg. So lees ons:

maar in glorieryke liedere duur
voortreflikheid vir eeue;
(Pindaros, Pitiese Ode 3.114–115)

maar die woord leef langer as dade;
(Pindaros, Nemeïese Ode 4.6)

want wanneer manne vergaan het,
sorg sangers en mitemakers namens hulle vir hul dade
(Pindaros, Nemeïese Ode 6.29–30)

want groot heldedade
bly in diep donkerte as hulle sonder himnes is.

Maar vir edele dade ken ons ’n spieël met een manier:
as, met die hulp van Mnemosunê met haar blink kroon,
beloning vir moeite gevind word in poësie se befaamde odes.
(Pindaros, Nemeïese Ode 7.12–16)

] oorwinningslied
wat …] selfs wanneer jy dood is
] vir eindelose tyd,
en mag vir toekomstige geslagte altyd verkondig
jou] oorwinning by Nemea; waarlik, jou mooi daad,
as dit toevallig in ware gesange kom,
lê omhoog by die gode.
(Bakchulides 9.78–84)

Enkele merkwaardige wenners

Daar was honderde wenners, van alle maatskaplike klasse, van alle dele van die Griekssprekende wêreld, van seuns van ongeveer sestien tot mans in hul veertigerjare. ’n Lys wat oorspronklik in die derde eeu n.C., gedurende die bewind van die Romeinse keiser Caracalla, deur Sextus Julius Africanus, Christenfilosoof en kroniekskrywer opgestel is, en wat bewaar gebly het in Eusebius (c. 260–340) se Chronikon (1.33–34 = Patrologia Graeca 19:223–241), asook in ’n Latynse weergawe deur Hieronymus (c. 348–420), bevat 247 wenners (die meeste in naelloop) by Olimpia van 776 v.C. tot 217 n.C. (Olimpiade 249).4 In die oorgelewerde oorwinningsliedere van Simonides, Pindaros en Bakchulides word 52 mans en 12 seuns vereer, baie van hulle vir meer as een oorwinning, oor ’n tydperk van 74 jaar (520–446). Uit hierdie groep kies ons ’n paar buitengewone gevalle.5

Die eerste is Astulos van Kroton, in Suid-Italië, wat volgens antieke getuienis die stadion (een lengte van die stadion, of sowat 192 m) en diaulos (dubbel-stadion) by drie en moontlik vier opeenvolgende Olimpiese Spele gewen het, te wete in 488, 484, 480 en 476 (?). In 480 het hy ook in die hoplietewedloop (hoplitodromos, ’n naelloop in volle wapentuig) met die louere weggeloop. Daar is egter ’n onaangename nadraai. Omdat Astulos hom as ’n Sirakusaan voorgedoen het om die tiran Hieron te beïndruk, het sy medeburgers die standbeeld wat hulle tot sy eer opgerig het, platgetrek en sy huis in ’n gevangenis omskep (Pausanias 6.13.1; Dionusios van Halikarnassos 8.77.1; Diodoros 11.12; P Oxy 2.0222, kol. i; Campbell 1991:369 n. 1; Hornblower 2004:26, 187, 284; Miller 2004a:90 no. 129; 181 no. 224, 2004b:216–17; Molyneux 1992:217–20; ). Tog loof Simonides Astulos as die wenner wat op sy dag die meeste mirtekranse en rose in plaaslike spele (in Kroton of Sirakuse) ontvang het:

Wie inderdaad van diegene vandag is óf met soveel
mirteblare of kranse van rose bekroon,
na hy in wedywering van bure gewen het? (Fragment 506)

Nog ’n merkwaardige Olimpiese wenner was die legendariese Diagoras van Rhodos,6 wat in 464 die Olimpiese boksgeveg gewen het. Pindaros verskaf die lys van sy prestasies op hierdie gebied:

En nou, begelei deur sowel lier as pype,
het ek geland met Diagoras, en sing ’n lied
vir Rhodos van die see, kind van Aphrodite
en bruid van Helios,
15 sodat ek die reguitvegtende kragtige man
wat langs die Alpheos-rivier bekrans is,
kan loof in beloning vir sy bokskuns,
asook by Kastalia ...

...

Dáár, as soete beloning vir die jammerlike voorval,
is gevestig vir Tlapolemos die Tiruntiërs se koloniestigter,
asof vir ’n god,
80 ’n optog van ryk offerve en die beoordeling
van atletiekkompetisies, met wie se blomme Diagoras
twee maal bekroon is. Vier keer
het hy geslaag by die beroemde Isthmos,
en keer op keer by Nemea en in rotsagtige Athene.

Die brons in Argos het hom leer ken, soos ook die kuns-
werke in Arkadië en Thebe, en die regverdige spele
85 van die Boiotiërs,
en Pellana en Aigina toe hy ses maal
gewen het; en in Megara vertel die klip geen
ander storie nie.
(Olimpiese Ode 7.13–17, 77–87)

In die eerste uittreksel (reëls 13–17) situeer die digter die gedig; hy (of sy gedig as sy persona) het vanaf sy tuisdorp Thebe na Rhodos gereis, saam met die Olimpiese wenner Diagoras en die lier en pype wat die ode by die voordrag gaan begelei. Hy gaan eer bring aan die eiland van Rhodos, wat uit die see opgerys het en vernoem is na die nimf Rhodos, dogter van Aphrodite en Helios se bruid. Hy noem dan Diagoras se oorwinning in die boksgeveg by Olimpia, langs die Alpheios-rivier, en by Delfi, naby die Kastalia-fontein. Die ode vertel dan die mitiese verlede van die eiland in omgekeerde tydsorde. In chronologiese orde gaan die narratief oor: eerstens, Helios se versoek aan die gode dat ’n eiland uit die see oprys as sy spesiale gebied en sy verbintenis met die nimf Rhodos en die geboorte van hul sewe seuns (reëls 54–74); tweedens, Helios se opdrag aan sy seuns om offerandes ter ere van Athena in te stel en hul versuim om vir vuur daarvoor voorsiening te maak (reëls 39–53); en laastens, die kolonisering deur Tlapolemos, seun van Herakles, nadat hy sy grootoom vermoor het en na Rhodos verban is (reëls 27–38).

Op hierdie punt kom die tweede uittreksel (reëls 77–87). Tlapolemos se misdaad het die goeie gevolg gehad dat feeste en atletiese kompetisies ingestel is en steeds voortgesit word (reëls 77–81). Dan volg ’n lys van Diagoras se oorwinnings: twee maal by Rhodos, vier maal by die Isthmia, meer as een keer by die Nemeia en in Athene; dan in Argos, Arkadië, Thebe, Boiotië en Pellênê; ses maal elk in Aigina en Megara. Dit gee, saam met die Olimpiese en Delfiese oorwinnings, ’n totaal van ten minste 27 oorwinnings (vgl. ook Young 1970:91–92). Dit lyk of hy in opeenvolgende jare op nasionale vlak gewen het: by Olimpia in 464, by Nemea in 463, by Isthmos in 462, by Delfi in 462, weer by Nemea in 461, en weer by Isthmos in 460. As dit die geval is, was hy ’n periodoníkês. Verder het hy sy derde en vierde Ismiese titels in die volgende Olimpiese siklus verower (vgl. ook Swaddling 1999:81). Dit sou beteken dat sy loopbaan oor twee Olimpiades gestrek het. Pindaros verskaf die redes vir sy buitengewone prestasie: Diagoras het goed en regverdig geveg en was reusagtig. Die skoliaste by Pindaros se gedig gee sy lengte: vier elle en vyf vingers, dit wil sê: meer as twee meter.7

Sy nakomelinge het sy atletiese gene geërf. Sy drie seuns en twee kleinseuns was ook Olimpiese wenners. Sy oudste seun, Akousilaos, het die boks vir mans gewen, sy tweede oudste, Damagetos, die pankration (ope stoeiwedstryd), en die jongste, Doreios, ook die pankration in drie opeenvolgende spele, sowel as agt Ismiese en sewe Nemeïese seges. Standbeelde van die drie seuns met hul vader is by Olimpia opgerig (Pausanias 6.7.1–2).

Die seuns van sy dogter, Kallipateira, het ook goed gepresteer: Eukles in die boksgeveg vir mans, en Peisirodos in die boksgeveg vir seuns (Pausanias 6.7.1–5; Thukudides 3.8.1; Hornblower 2004:131, 134–135; Miller 2004a:116–17 no. 170; 2004b:123 ). Toe laasgenoemde by Olimpia wen, het Kallipateira, wat haar as haar seun se afrigter vermom het en, dus as vrou, die spele onwettig bygewoon het, so opgewonde geraak dat sy oor die versperring gespring het en haar werklike geslag verraai het. Gelukkig het die beoordelaars haar uit agting vir Diagoras vergewe (Pausanias 5.6.7–8; Miller 2004a:105, 149; Swaddling 1999:41).

Xenophon van Korinte was ook ’n uitsonderlike Olimpiese wenner. Pindaros het sy 13de Olimpiese ode vir sy sege in 464 gekomponeer. Xenophon het by hierdie geleentheid sowel die vyfkamp (naelloop, stoei, diskus, spiesgooi, verspring) as die stadion-wedloop ingepalm, die eerste persoon om dit te doen. Hy het ook twee maal by die Isthmia en Nemeia gewen en drie oorwinnings op een dag in Athene behaal. Sy familie, die Oligaithidai, was een van die families wat die spele gedomineer het:

Hoogsverhewe, wyd-regerende heer Strofe B
van Olimpia, mag u nie teenoor my woorde
25

en, terwyl u hierdie volk vry van kwaad lei,
rig die bries van Xenophon se goeie geluk
en ontvang van hom as vaste reël vir sy kranse
hierdie loflied wat hy van Pisa se vlaktes bring,
deur die vyfkamp sowel as die stadion- 30
wedloop te wen; hy het bereik
wat geen sterflike man ooit voorheen kon nie.
Twee kranse van wilde pietersielie Antistrofe B
het hom gekroon toe hy by die Ismiese spele
verskyn het; en Nemea sê nie anders nie.
Sy vader Thessalos se roem in die naelloop 35
word by die strome van Alpheos herdenk,
en by die Puthia hou hy die eer van die stadion en dubbel-
stadion binne een son se gang, en in
dieselfde maand in rotsagtige Athene
het ’n dag se snelvoetigheid
drie allermooiste kranse om sy hare geplaas,

en die Korintiese spele sewe maal; maar in Epode
Poseidon se feeste tussen die seë
sal langer liedere Ptoiodôros sy vader 41
asook Terpsias en Eritimos agtervolg.
En wat julle gewen het in die Delfiese spele
of op die leeuvlaktes,8 dáár staan ek teen baie
oor die aantal oorwinnings; net soos, waarlik, 45
ek nie die somtotaal kon sê
van die spoelklippe in die see nie.9
As hy die prestasies van Xenophon se familie (sy vader, Thessalos, sy oupa, Ptoidoros, sy grootoom Terpsias en laasgenoemde se seun of kleinseun Eritimos) opnoem, aarsel Pindaros vir eers om die presiese getal oorwinnings van een familie te gee, en vergelyk hulle met die spoelklippe van die see (reëls 44–46), maar later in die ode (reëls 98–113) waag hy tog ’n opname van sestig vir slegs die Isthmia en Nemea, en daarby ’n hele lys van ander oorwinnings: twee by Olimpia, ses by Delfi, ‘al dié’ by Argos, Thebe, Lukaios, Pellênê, Sikuon, Megara, Eleusis, Marathon, Aitna en Sirakuse, Euboia, en in die hele Griekeland ‘meer as wat die oog kan sien’.

Om ’n moderne perspektief op hierdie prestasies te plaas, kan ons hulle met prestasies in die moderne Olimpiese Spele vergelyk. Deelname aan, byvoorbeeld, drie moderne Olimpiese Spele oor ’n tydperk van agt jaar is nie buitengewoon nie. Uit ’n lys van meer as 300 name van Olimpiese wenners van meervoudige goue medaljes wat op Wikipedia verskyn, is die volgende noemenswaardig in items wat min of meer met dié van die antieke spele ooreenkom: Carl Lewis (VSA, atletiek, 1984–1996), Paavo Nurmi (Finland, atletiek, 1920–1928), Pyrros Dimas (Griekeland, stoei, 1992–2004), Ivar Johansson (Swede, stoei, 1992–2000), Kakhi Kakiashvili (Griekeland, stoei, 1992–2000), Halil Mutlu (Turkye, gewigoptel, 1996–2004), Buvaisar Saitiev (Rusland, stoei, 1996–2008) en Carl Westergren (Swede, stoei, 1920–1932).

Oneer vir verloorders
In die fel wedywerende samelewing van antieke Griekeland was daar min agting of simpatie vir verloorders. In sterk teenstelling met die aandag wat in die oorwinningsliedere aan wenners gegee is, is verloorders begryplikerwys feitlik afwesig in die epinikia. Pindaros en Bakchulides rig wel dikwels waarskuwings aan wenners en hul ondersteuners om nie te veel te juig en aan verloorders om nie te veel te beny nie (vgl. Bowra 1964:186–7). Die lot van verloorders was net soos dié van Olimpiese verloorders vandag, naamlik vergetelheid. Maar die antieke Griekse atlete het iets meer ervaar: oneer vir hulleself en vir hul families en selfs voorouers, tensy hulle natuurlik daarna daarin kon slaag om iets te wen. Die deelnemers het hulle dus geweldig ingespan en baie onkoste aangegaan om te wen, want alleen wenners het die obskuriteit en skande wat die lot van al die ander deelnemers was, ontwyk. Oneer of skande kom in enkele oorwinningsliedere na vore.

Onder die fragmente van Simonides se epinikia is een wat iets oor ’n verloorder, Krios van Aigina, sê:

Krios is kaal geskeer, nie onpaslik nie,
toe hy na Zeus se bewoude, pragtige
heiligdom
(Fragment 507)

Van skoliaste op Aristophanes se Nubae 1355–1356 en 1362 leer ons dat Krios, wie se naam: ‘die Ram’ beteken, ’n uitstekende en beroemde stoeier was (Bowra 1961:313; Hornblower 2004:23). Een van die skoliaste verwys ook na die woordspeling tussen die werkwoord ‘is kaal geskeer’ en die stoeier se naam. Krios het by spele ter ere van Zeus, dit wil sê óf by Olimpia óf by Nemea, verloor en Simonides beskryf sy nederlaag in terme van die skeer van ’n skaap. Die metafoor suggereer dat die stoeier kaal daarvan afgekom het en sy waardigheid en aansien verloor het. Die toon is emfaties en bespottend – hy het dit alles verdien. Molyneux (1992:47–54) het oortuigend betoog dat die verwysing na: ‘kaal geskeer’ inderdaad metafories is, dat dit nederlaag impliseer, en ook dat die reëls vyandig teenoor Krios is. Waarom hierdie verloorder juis genoem word, kan nie bepaal word nie; die skamele reëls is al wat uit ’n langer gedig behoue gebly het. Dit kan wees dat Krios alreeds roem verwerf het, en dat dié net een van sy optredes of dalk sy laaste was.

Pindaros vertel van Aristokleidas wat gewen het en dus skande vermy het:

waar die antieke Murmidone
geleef het, wie se legendariese vergaderplek
jy, Aristokleidas, deur jou goeie geluk, nie
met skande bevlek het nie deur in die magtige
gang van die pankration te verswak nie.
Nemeïese Ode 3.13–17

Die oneer wat Aristokleidas vermy het, sou ’n vlek op sy familiegeskiedenis gewees het tot by die epies mitiese Murmidone. Die metafoor van bevlekking kom dikwels in die Griekse letterkunde voor, maar is besonder kragtig in dié sin dat dit op vergange geslagte van toepassing gemaak word.

In Pindaros se Olimpiese Ode 7.92–93 rig die digter namens Diagoras (die bokser wat ons vroeër ontmoet het) die versoek aan Zeus: ‘Hou nie in obskuriteit die geslag / wat hulle deel van die tyd van Kallianax af nie’. In dieselfde trant staan daar in Ismiese Ode 3.13–14: ‘Op die moed van sy voorouers / bring hy (Melissos van Thebe) geen skande nie’.

Die ander lot wat op verloorders gewag het, was om vergeet te word. Ons het gesien hoe Pindaros en Bakchulides in hul oorwinningsliedere ’n diens gelewer het deur die wenner en sy prestasies vir die nageslagte op te teken en te bewaar. Net diegene wat glad nie deelgeneem het nie, was in ’n erger posisie; hulle was tot stille vergetelheid gedoem: ‘want die lot van dié wat ongetoets bly, is stilte’ (Pindaros, Ismiese Ode 4.30).

Regverdige beoordeling was dus uiters belangrik en is streng toegepas (Miller 2004b:19; Swaddling 1999:39–40, 98). Pindaros plaas Themis (Geregtigheid) ferm in beheer; sy sit op ’n troon langs Zeus en net soos hy respekteer sy vreemdelinge:

waar reddende Themis, gesete langs Zeus,
vreemdelingbeskermer, die meeste vereer word
onder mense.

As baie in die skaal gelê word en dit heen en weer swaai,
moet mens stoei om met regte oordeel en nie teen gepastheid nie
te besluit.
(Olimpiese Ode 8.21–25)

Pindaros verklaar hiermee sy vertroue in die gesag en regverdigheid van die beoordeling, maar is tegelykertyd daarvan bewus dat daar dikwels baie op die spel is en die regte beslissing dus moeilik is. Om te beklemtoon hóé moeilik regverdige beslissings is, gebruik die digter die beeld van stoei – in ’n loflied aan ’n stoeier. Pindaros pas dikwels die terminologie van ’n item in sport op sy poësie toe, soos byvoorbeeld wanneer hy in ’n ode ter ere van ’n stoeier (Olimpiese Ode 9.12–14) sê dat hy van plan is om nie ‘woorde wat op die grond val’ (soos ’n verslane stoeier) te gebruik nie. Hy beeld sy poësie dus uit in terme van atletiese inspanning, worsteling en prestasie; die digter word atleet (kyk verder Lefkowitz 1984). Dit is dus moontlik dat die proses van beoordeling hier ook ’n metafoor vir sy eie dilemma as digter is. Die digter moet fyn oordeel om regverdig en paslik met sy woorde te werk te gaan ter viering van wenners en hul prestasies.

In die moeilike proses van beoordeling was betwiste beslissings nie ongewoon nie. In die geval van die naelloop en wawedren, waar die beoordelaars, in hul spesiale afskorting in die middel van die lang kant van die stadion, soms nie ’n goeie uitsig op die eindpunt gehad het nie, was korrekte beslissings moeilik (Swaddling 1999:40). In die kontaksportsoorte soos stoei en boks was dit egter vir almal duidelik wie die wenner is: drie valle in stoei en die laaste man staande in die boksgeveg (Miller 2004b:19; Swaddling 1999:40). In die volgende uittreksel blameer Bakchulides ’n god of die skeidsregters (toe reeds!) vir die nederlaag van een van sy kliënte. In Ode 11.24–36, ter ere van die seunstoeier Alexidamos van Metapontion (in Suid-Italië, naby Tarentum), wenner by Delfi, kla hy dat die seun twee jaar tevore by Olimpia die slagoffer van ’n onregverdige beslissing was:

Maar ek sal ook sê dat in die heilige
vlaktes van vereerde Pelops 25
langs die mooivloeiende Alpheos, as iemand die weg
van reguit geregtigheid nie gedraai het nie,
sou sy hare met grys wilde-olyf,

beskikbaar vir almal, gekroon gewees het
en sou hy [huis toe] na kalftelende [Italië] gegaan het 30
[want waarlik na die grond het hy menige]
seun in die pragtige heiligdom
neergetrek met sy verskeie tegnieke;
maar dis óf ’n god se skuld, óf
die dikwels dwalende oordele van sterflinge 35
het die hoogste prys uit sy hande gepluk.
(Olimpiese Ode 11.24–36)

In hierdie reëls verklaar Bakchulides twee maal openlik dat ’n onregverdige beslissing teen die seun gevel is. Hy stel die beskuldiging eers in metaforiese terme as ’n afwyking van die reguit pad van geregtigheid (reëls 26–27); dan fokus hy spesifiek op die feit dat Alexidamos ander seuns met sy verskeidenheid van vaardighede na die grond toe gedwing het (reëls 32–33). Sy nederlaag word egter aan ’n god of menslike fout toegeskryf (reëls 34–36). Om ’n god te beskuldig, was miskien nie noodlottig of selfs oormoedig nie, maar dit was beslis vergeefs.

Aan die begin van Homeros se Odusseia verduidelik Zeus aan die vergaderde gode:

Helaas, waarvan beskuldig sterflinge die gode tog nie alles nie! Want hulle sê dat slegte dinge van ons kom; maar deur hul eie dwaashede kry hulle meer smart as wat bestem is.

Odusseia 1.32–34

Om ’n god aan jou kant te hê was goed, om nie een te hê wat jou onderskraag nie, was ongelukkig, maar om een téén jou te hê, een wat jou beny het, was onregverdig, selfs tragies (Hamilton 2003:79–80). Bakchulides stel egter as alternatief die feilbaarheid van menslike oordeel (reël 35). Hy impliseer ook dat mense dikwels faal.

Om groter klem op die teleurstellende nederlaag te plaas, lei Bakchulides albei aanklagte in met ’n kontrasterende verwysing na die idilliese landskap by Olimpia (bl24–26, 32). Daar is ook ’n kontras in die groter konteks van die ode. Noudat Alexidamos gewen het, heers vreugde en dankbaarheid, en word hulde gebring: Nikê, dogter van ‘reg beoordelende Stux’, staan langs Zeus waar hy op Berg Olimpus oor gebeure sy oordeel vel (bl. 1–9); die wenner is by Delfi deur Apollo verwelkom (reëls 15–17); die seun se ‘allesoorwinnende stoeikrag’ het hom blommekranse besorg nadat hy die hele dag, sonder ’n val teen hom, geveg het (reëls 17–23); en nou het Artemis, beskermgodin van Metapontion, hom die oorwinning gegee (reëls 37–39; 113–23).

Geluk (Tuchê) het ook ’n rol gespeel. Byvoorbeeld, Alkimidas van Aigina sou twee verdere oorwinnings in die stoei vir seuns by sy totaal van vyf-en-twintig kon gevoeg het as dit nie vir ’n ongelukkige loting was nie (Pindaros, Nemeïese Ode 6.57–63). Dit is iets wat kon gebeur het as daar ’n ongelyke getal deelnemers in die finale rondes was. In die geval van die laaste drie deelnemers sou loting plaasgevind het en een van hulle sou twee keer moes geveg het, die tweede keer kort ná die eerste teen ’n deelnemer wat intussen gewag het en dus vars en uitgerus was (Gerber 1999:85–86; Gildersleeve 1965:198–199; Swaddling 1999:73).

In twee odes gee Pindaros ’n onsimpatieke blik op die droewige lot van ’n verloorder. In Olimpiese Ode 8, ter ere van Alkimedon van Aigina, wenner in die stoei vir seuns by Olimpia in 460, gee hy behoorlike aandag aan die seun se familie (reëls 15–16), sy aantreklikheid en oorwinning, waardeur hy nie sy voorkoms beskaam het nie (reëls 17–21), sy tuisdorp se geskiedenis (bl. 30–53), sy dertig vorige oorwinnings vir sy afrigter Melesias (reëls 54–66), sy vier oorwinnings op pad na die kroon en die effek daarvan op sy familie se roem (reëls 67–73), en die familie se ander vyf oorwinnings by die vier nasionale spele (reëls 74–88).

Daarteenoor wend hy hom kortliks en neerhalend na die vier verloorders:

Alkimedon
...
wat met geluk vanaf ’n god, maar sonder weifelende moed,
op die ledemate van vier seuns ’n uiters haatlike
tuiskoms van hom afgestoot het, asook meer smadelike
tonge en ’n verborge weg.

Die wenner se sukses is te danke aan goddelike invloed en persoonlike inspanning. In die kompetisie stoot hy (net soos in die letterlike stoeigeveg) die gevolge van nederlaag van homself af weg en op sy opponente, asof dit iets haatliks is (Gildersleeve 1965:199). Hierdie gevolge is ’n onvriendelike ontvangs by sy terugkeer na sy dorp, onvleiende praatjies en ’n onbekende en eensame toekoms (Bowra 1964:182; Fränkel 1969:570, 1975:499).

Die bekendste uitbeelding van die verloorder word in Pindaros se 8ste Pitiese Ode gevind. Daarin word sommige van die besonderhede van Olimpiese Ode 8 en ander odes wat bespreek is, herhaal. Die ode is in 446 gekomponeer toe die digter omgeveer 72 jaar oud was, en is die laaste gedig van hom wat behoue gebly het. Dit is geskryf ter ere van ’n seunstoeier, Aristomenes van Aigina, seun van Xenarkes, wat vier seuns by die Puthia geklop het. In reëls 35–37 noem die digter dat Aristomenes sy ingebore dapperheid (aretê) bewys het deur die vroeër prestasies van sy ooms aan moederskant te ewenaar:

want deur jou ooms aan moederskant in stoei
na te volg, onteer jy nie Theognetos by Olimpia
of Kleitomachos se kragtige sege by die Isthmos nie.

Die seun volg soos ’n jagter in die voetspore van sy ooms, en vermy dus die oneer van nederlaag. Verder aan lees ons dat die beslissing regverdig was (reël 71) en dat die seun se oorwinning vroeg in sy lewe en sonder langdurige moeite gekom het (reël 73), maar dat dit alles van goddelike hulp afhanklik is (reël 76), wat een oomblik een man ophef, maar die volgende ’n ander ‘onder die hande werp’, soos in ’n stoeigeveg (reël 77). Hierna kom die beskrywing van Aristomenes se oorwinning:

en Hera se plattelandse kompetisie
met drie oorwinnings, Aristomenes, het jy met jou inset gewen;
en op vier liggame het jy geval
van bo af met kwade bedoelings;
vir hulle is nóg so ’n gelukkige
tuiskoms by die Puthia beslis,
nóg, by hul terugkeer na hul moeders, het soet gelag
vreugde opgewek; maar hulle kruip weg in systraatjies,
en bly weg van hul vyande, deur mislukking gebyt.
(r. 79–87)

Aristomenes het vroeër al in spele by Megara, Marathon en Aigina oorwinnings behaal (reëls 70–80) en nou by die Puthia het hy met doelbewuste inspanning vier opponente geklop. Op die verloorders wag geen gelukkige verwelkoming van hul moeders, geen gelag en vreugde nie, maar eerder ’n lewe van obskuriteit en skande, waar hulle in stegies wegkruip, vyandiggesinde mense vermy en nederlaag ervaar soos die byt van ’n hond of muggie (reëls 81–87) (vgl. Liddell, Scott & Jones [1958] onder daknō). Die kontras tussen die lot van Aristomenes, ’n jong wenner wat: ‘op die vlerke van manlike dade, en met ’n groter doel as net rykdom’, vlieg (reëls 88–92), en dié van die verloorders word nêrens anders in die oorblywende oorwinningsliedere so aangrypend uitgedruk nie.

Verskeie kritici het al daarop gewys hoe onsimpatiek en negatief Pindaros se houding teenoor die verloorder is. Bowra (1964:182–183) beklemtoon Pindaros se minagting vir die verloorders wat hul nederlaag verdien het, terwyl Burton (1962:189) Pindaros se uitbeelding beskou as ’n weerspieëling van die houding van tydgenote en ook as ’n waarskuwing aan Aristomenes. Natuurlik het baie atlete nederlae gely voordat hulle gewen en hul eie eer en dié van hul families herstel het. Pindaros se aandag is egter gevestig op die seges en die waarde daarvan vir die individu, sy tuiste, sy familie en die hele Pan-Helleense gemeenskap. Daardie waardes was dié van die aristokratiese families wat die digter vir sy gedigte betaal het. Dit kan duidelik gesien word in die verwysing na die seun se ingebore aretê (reëls 35–37), ’n woord wat fisieke en geestelike eienskappe soos aantreklikheid, vaardigheid, moed en intelligensie ingesluit het (Adkins 1965:30–38, 70–79, 156–163, 1972:12–14; Henderson 2004:85, 143, 2009:52). Verloorders het nie daardie waardes versinnebeeld nie; hulle moes eers wen.

Slot

Binne die konteks van die spele en ook in die breë gemeenskap van antieke Griekeland het die oorwinningslied – en daarmee ook die aansien van die digters – ’n kardinale rol gespeel. Bostaande bespreking van enkele epinikia van Simonides, Bakchulides en Pindaros toon aan dat in die uitvoering van hul taak die digters die wenners opgehemel en as helde voorgestel het: hulle is deur gode uitverkies, hulle het goeie geluk gesmaak; hulle bring eer aan hul families deur hul voorouers se prestasies te ewenaar en sodoende skande en vergetelheid af te weer. In hierdie diens het hulle die families belowe om hul prestasies te verewig; poësie word die doeltreffendste manier om die families se prestasies te bewaar. Na byna twee en ’n half millennia bestaan die gedigte nog.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Adkins, A.W.H., 1965, Merit and responsibility: A study in Greek values, Clarendon Press, Oxford.

Adkins, A.W.H., 1972, Moral values and political behaviour in Ancient Greece from Homer to the end of the fifth century, Chatto and Windus, London.

Barkhuizen, J.H., Henderson, W.J. & Van Rooy, C.A., 1988, Kalliope II. ’n Bloemlesing van Griekse liriese poësie van Alkman tot Pindaros, University of South Africa, Pretoria.

Bowra, C.M., 1961, Greek lyric poetry, 2nd edn., Clarendon Press, Oxford.

Bowra, C.M., 1964, Pindar, Clarendon Press, Oxford.

Burckhardt, J., 1952, Griechische Kulturgeschichte, 3 Bände, Kroner Verlag, Stuttgart.

Burton, R.W.B., 1962, Pindar’s Pythian Odes: Essays in interpretation, Oxford University Press, Oxford.

Campbell, D.A., 1991, Greek lyric, Vol. III: Stesichorus, Ibycus, Simonides, and others, Loeb Classical Library, Harvard University Press, Cambridge, MA & London.

Drachmann, A.B., 1964, Scholia Vetera in Pindari Carmina, 3 Bände, Teubner Verlag, Leipzig.

Crusius, O., 1958, ‘Epinikion’, in G. Wissowa & W. Kroll (ed.), Paulys Realencyclopädie der classischen Altertumswissenschaft, Band 1, pp. 183–184, Alfred Druckenmüller Verlag, Stuttgart.

Currie, B., 2005, Pindar and the cult of heroes, Oxford University Press, Oxford.

Fränkel, H., 1969, Dichtung und Philosophie des frühen Griechentums, 3 Auflage, C.H. Beck, München.

Fränkel, H., 1975, Early Greek poetry and philosophy, transl. M. Hadas & J. Willis, Blackwell, Oxford.

Gerber, D.E., 1999, ‘Pindar, Nemean six: A commentary’ [Pindar, Nemean ses: ’n Kommentaar], in Harvard Studies in Classical Philology 99, 33–91.

Gildersleeve, B.L., 1965, Pindar: The Olympian and Pythian Odes, Hakkert, Amsterdam.

Golden, M., 2008, Greek sport and social status, University of Texas Press, Austin.

Hall, J.M., 2002, Hellenicity: Between ethnicity and culture, University of Chicago Press, Chicago.

Hamilton, J.T., 2003, Soliciting darkness. Pindar, obscurity, and the classical tradition, Harvard University Press, Cambridge.

Henderson, W.J., 2004, Op Griekse lier: Vroeë Griekse liriese poësie, vertaal en toegelig, Protea Boekhuis, Pretoria.

Henderson, W.J., 2009, Vir Griekse fluite: Vroeë Griekse elegiese poësie, vertaal en toegelig, Protea Boekhuis, Pretoria.

Hornblower, S., 2004, Thucydides and Pindar: Historical narrative and the world of epinikian poetry, Oxford University Press, Oxford.

Kurke, L., 1991, The traffic in praise: Pindar and the poetics of social economy, Cornell University Press, Ithaka.

Lefkowitz, M.R., 1984, ‘The poet as athlete’ [Die digter as atleet], Journal of Sport History 11(2), 18–24.

Liddell, H.G., Scott, R. & Jones, H.S., 1958, s.v. ‘daknō’, in An English-Greek Lexicon, Clarendon Press, Oxford, 2nd edn., n.p.

Miller, S.G., 1978, ‘The date of the first Pythiad’ [Die datum van die eerste Pythiad], California Studies in Classical Antiquity 11, 127–158.

Miller, S.G., 2004a, Arete: Greek sports from ancient sources, 3rd and exp. edn., University of California Press, Berkeley, Los Angeles.

Miller, S.G., 2004b, Ancient Greek athletics, Yale University Press, New Haven.

Molyneux, J.H., 1992, Simonides: A historical study, Bolchazy-Carducci Publishers, Wauconda, IL.

Page, D.L., 1975, Poetae Melici Graeci, Clarendon Press, Oxford.

Robbins, E., 1997, ‘Epinikion’, in H. Cancik & H. Schneider (eds.), Der neue Pauly: Enzyklopädie der Antike, Band 3, pp. 1147–1148, J.B. Metzler, Stuttgart & Weimar.

Sandys, J., 1961, The Odes of Pindar, including the principal fragments, 3rd edn., (reprinted), Loeb Classical Library, Harvard University Press, Cambridge, MA.

Snell, B. & Maehler, H., 1970, Bacchylidis carmina cum fragmentis, 10 Auflage, BSB B.G. Teubner Verlagsgesellschaft, Leipzig.

Snell, B. & Maehler, H., 1975, Pindari carmina cum fragmentis, 4 verbesserte Auflage, BSB B.G. Teubner Verlagsgesellschaft, Leipzig.

Swaddling, J., 1999, The ancient Olympic games, 2nd edn., University of Texas Press, Austin.

Young, D.C., 1970, ‘Pindaric criticism’, in W.M. Calder III & J. Stern (ed.), Pindaros und Bakchylides: Wege der Forschung, vol. 134, pp. 1–95, Georg Olms, Darmstadt.

Voetnotas

1. Gebaseer op Sandys (1961:xxiv), wat op sý beurt steun op ’n papirus, P. Oxy. 2 (1899) nommer: 0222 Grenfell-Hunt.

2. Oor die lewe en werke van hierdie digters, kyk Barkhuizen, Henderson en Van Rooy (1988:143–158 [Simonides], 159–190 [Bakchulides], 191–212 [Pindaros] en Henderson (2004:139–151 [Simonides], 157–174 [Bakchulides], 175–210 [Pindaros]). Simonides se gedigte word genommer soos in Page (1975), Bakchulides en Pindaros s’n soos in Snell en Maehler (1970, 1975) onderskeidelik.

3. Atlete moes ’n eed sweer dat hulle ten minste tien agtereenvolgende maande lank geoefen het (Pausanias 5.24.9–10). Vergelyk Bowra (1964:171–176); Golden (2008:6–16).

4. Vergelyl ook Pausanias 5.8.6; Plutarchos, Numa 1, wat ’n vroeër lys deur Hippias van Elis (einde vyfde eeu) aanhaal, waarvan die betroubaarheid bevraagteken word. Vir ’n bespreking van die lyste van Hippias en Julius Africanus, kyk Hall (2002:241–246).

5. Vir meer wenners, kyk Miller (1978:153–154, n. 26); Miller (2004a:111–19), veral Milon van Kroton, wat ses keer by Olimpia geseëvier het (in 536 as ’n seun, en in 532, 528, 524, 520, 516) voor hy met sy sewende poging verloor het (512); hy het ook sewe maal by Delfi gewen, een maal as seun (Pausanias 6.14.5–8).

6. Vergelyk Miller (2004b:235–237) (met ’n illustrasie van ’n moderne beeldhouwerk van Diagoras en sy seuns, Figuur 289); Hornblower (2004:131–134).

7. Scholias by Pindaros, Olimpiese Ode 7.28a, 205.7 Drachmann (1964). Die lengte van ’n el het gevarieer: ongeveer 45 cm (Romeins), 52 cm (Egipties, Babilonies), 56 cm (Bybels); en ’n vinger was 1/24 van ’n el. Die onderskeie lengtes in die drie mate sou dus ongeveer 1.87 m; 2.19 m en 2.35 m wees. Die Alexandrynse skoliaste sou waarskynlik die Egiptiese koninklike el van 52 cm gebruik het. Vergelyk hiermee die Filistyn Goliat, wat ses elle en ’n span was, dit is omtrent 3.5 m (1 Sam 17.4).

8. Dit is Nemea, waar Herakles die leeu gedood het.

9. Vir die struktuur van die oorwinningslied (epinikion), kyk Barkhuizen, Henderson en Van Rooy (1988:1–3, 165–166, 197–198) en Henderson (2004:24–26, 175–176).



Crossref Citations

No related citations found.