Die kamferkis – ’n Kis vol herinneringe

Book Title: Die kamferkis
Author: Sjane Van Aswegen
ISBN: 978-1-86919-375-1
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2011, 164 p., ZAR130.00*
*Bookprice at time of review

Reviewer: S.F. Greyling1
Affiliation: 1School of Languages, Potchefstroom Campus, North-West University, South Africa
Postal address: North-West University, Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Greyling, S.F., 2013, ‘Die kamferkis – ’n Kis vol herinneringe’, Literator 34(1), Art. #385, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i1.385
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Aan die begin van Sjane van Aswegen se roman Die kamferkis merk ’n buurvrou, wat ’n ongestelde Mien de Jager in die bed help, ’n sleutel op wat aan haar onderhemp vasgespeld is. ‘Wat sluit jy met dié ding oop, hè, Mien?’, wil sy weet. Mien snou haar toe: ‘Dit het niks met jou te make nie’ (bl. 7), en weier summier enige verdere hulp van die vrou wat sy as bemoeisiek beskou.

Bogenoemde toneeltjie word as’t ware ’n sleutel om die res van die verhaal mee te lees, want Mien de Jager, die eerstepersoonsverteller, het ’n geheim wat sy ten alle koste wil bewaar. Geheime, herinneringe, verhoudings, oudword en die besef van ‘n naderende einde, is belangrike temas in die roman. Reeds vroeg in die verhaal word die kamferkis waarvan Mien die sleutel so desperaat beskerm, as metafoor van stories en herinneringe gevestig. As kind het Mien en haar ouma ’n spesiale ritueel gehad van kis oopsluit, uitpak en stories vertel. Wanneer Ouma haar voorhuis toe genooi het, het sy geweet: ‘Vandag gaan ek stories uit die kamferkis hoor’ (bl. 23), en ‘Terwyl sy die deksel lig, val die storie van haar kis netjies, stukkie vir stukkie, in mekaar’ (bl. 24). Wanneer sy na haar Ouma se dood die kis erf, rus die verantwoordelikheid om dit op te pas, swaar op Mien. Mettertyd word die kis egter die bêreplek vir haar eie kosbaarhede (bl. 26).

Wanneer Mien teen wil en dank in ’n ouetehuis moet intrek, beleef sy die verlies van selfstandigheid en ervaring van veroudering intens. Sy kom egter ook tot die besef dat ‘[v]oor die skifsel van my storie in my kop uitmekaar rafel, sal ek dit moet neerskryf’ (bl. 17). Deur die optekening van haar lewensverhaal, wat om die tragiese dood van haar jeugliefde sentreer, word die geheime wat die kamferkis bewaar, stelselmatig onthul. Hierdie terughaal van die verlede word gekombineer met die hoofkarakter se aanpassing in die nuwe omstandighede en alledaagse, oorwegend humoristiese, insidente in die ouetehuis. Deur die loop van die gebeure vertel ander karakters hulle stories aan Mien sodat die kis ook die metaforiese bewaarplek van ander se stories word.

Met die sterk karakters, interessante storielyn, gemaklike vertelstyl en die geleidelike onthulling van die hoofkarakter se geheime behoort Die kamferkis by baie lesers aanklank te vind. Almal wil graag weet wat in ’n ander se kamferkis – letterlik en figuurlik gesproke – bewaar word. Vir ’n kritiese leser is dit egter asof die storie-elemente te maklik ‘netjies, stukkie vir stukkie, in mekaar pas’, die karakters na stereotipes neig en die storielyne te maklik geknoop word. ’n Paar voorbeelde ter illustrasie: Mien de Jager word uitgebeeld as ’n bitter, selfgesentreerde en onverdraagsame persoon, wat haarself doelbewus van ander afsonder. Hierdie eienskappe word tot so ’n mate beklemtoon dat dit die geloofwaardigheid van ander aspekte raak. Mien beskryf haar tydgenote en mede-inwoners dikwels in onvleiende terme. So word die buurvrou byvoorbeeld beskryf as ’n ‘ou dun vroutjie’ met ‘vaal haartjies in ’n knoetsie’ wat soos ’n klomp witgatspreeus in ’n rietbos’ klink (bl. 6−7). Mede-inwoners in die ouetehuis klap hande ‘soos ’n klomp afvlerkvoëls’ (bl. 33) en word gesien as ‘nuuskierige agies’ (bl. 38) of ‘skinderbekfossiele’ (bl. 85). Alhoewel beskrywings soos hierdie as humoristies beskou kan word, en tekenend van die verteller se perspektief kan wees, is dit vreemd dat soveel ander karakters sonder veel aanmoediging persoonlike ervarings met hierdie onsimpatieke hoofkarakter deel. Voorts is dit opmerklik hoeveel ooreenkomste daar tussen die vroue se vertellings is en tot watter mate hulle slagoffers van onbetroubare mans was. Aansluitend hierby speel toeval ’n baie groot rol. Die enigste persoon van wie Mien opregte besorgdheid ervaar, is byvoorbeeld toevallig verwant aan versorgers uit haar verlede.

Desnieteenstaande hierdie leemtes bied Die kamferkis ’n interessante storie en heelwat om oor na te dink. Wanneer Mien de Jager háár storie klaar neergeskryf het, word die ware rede waarom sy dit gedoen het, vir haar duidelik:

Ek wil nie meer terugkyk nie, nie van dag tot dag met bitter verwyt en verlang saamleef nie. Nou is my storie nie meer myne nie. Ek het dit weggegee aan die twee swart buiteblaaie waarin dit tot ruste kan kom in my kamferkis. Ek is vry! (bl. 114−115).

Vorige boeke van die skrywer is Onthoupad na die see (Protea 2008) en ’n kinderboek, Mietjie van Muisedam (Tafelberg 1999).



Crossref Citations

No related citations found.