Article Information

Authors:
Rita M.C. Swanepoel1
Moya Goosen1

Affiliations:
1School of Communication, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Rita Swanepoel

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 17 Sept. 2011
Accepted: 09 Nov. 2011
Published: 13 Nov. 2012

How to cite this article:
Swanepoel, R.M.C. & Goosen, M., 2012, ‘Vervreemding in Leora Farber se The futility of writing 24-page letters (2009)’, Literator 33(1), Art. #28, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i1.28

Note:
This article was written as part of, and functions within the scope of a larger research project entitled Transgressions and boundaries of the page: A transdisciplinary exploration of a practice-based research project by means of the artist’s book conducted by the subject groups Graphic Design, Creative Writing and Art History at the Potchefstroom Campus of the North-West University, South Africa.

Project web page:
www.bookboek.co.za

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Vervreemding in Leora Farber se The futility of writing 24-page letters (2009)
In This Original Research...
Open Access
Absrak
Abstract
Inleiding
Bertha Guttmann – Die skrywer
Vervreemding vanuit ’n Marxistiese perspektief
Vervreemding binne ’n feministiespostkoloniale perspektief
Feministies-postkoloniale vervreemding in The futility of writing 24-page letters binne die konteks van Re-Location/Dis-Location
Slot
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outeurbydraes
Literatuurverwysings
Voetnotas
Absrak

Hierdie artikel ondersoek die konsep vervreemding in Leora Farber se The futility of writing 24-page letters (as uitbreiding van die werk getiteld Between Cup and Lip, wat deel gevorm het van die Dis-Location/Re-Location, 2007/2008-uitstalling). Dit is gedoen vanuit ’n feministies-postkoloniale raamwerk om ondersoek in te stel na die kompleksiteite wat ontstaan met betrekking tot vervreemding wanneer gemarginaliseerdes onderdruk word. Die postkoloniale teoretiese diskoers met sy klem op die ander en die psigiese vervreemding van die gemarginaliseerde beïnvloed die feministiese diskoers rakende die vervreemding van die vrou. In feministiese diskoerse verwys vervreemding na die marginalisering wat vroue in ’n patriargale samelewing ervaar. Ons argumenteer dat hierdie briewe aanduidend is van onderdrukte psigiese vervreemding en selfvervreemding wat die gevolg is van stereotipering, kulturele oorheersing en seksuele objektivering. Ons voer voorts aan dat Farber se The futility of writing 24-page letters komplekse lae van vervreemding openbaar.

Abstract

Alienation in Leora Farber’s The futility of writing 24-page letters (2009). This article investigates the concept of alienation in Leora Farber’s The futility of writing 24-page letters (as an extension of a work titled Between Cup and Lip as part of the Dis-Location/Re-Location, 2007/2008 exhibition). This is done from a feminist-postcolonial framework in order to investigate the layered complexities surrounding alienation that arise during the oppression of the marginalised. The postcolonial theoretical discourse with its emphasis on the ’other’ and the psychic alienation of the marginalised influences the feminist discourse regarding the estrangement of the woman. In feminist discourses, ‘alienation’ refers to the estrangement women experience in a patriarchal society. We argue that these letters indicate oppressed psychic alienation and self alienation which are the result of stereotyping, cultural domination and sexual objectification. We further argue that Farber’s The futility of writing 24-page letters reveals complex layers of alienation.

Inleiding

Hierdie artikel onderneem ’n ondersoek na Farber (geb. 1964) se kunstenaarsboek The futility of writing 24-page letters as deel van die projek Oor die einders van die bladsy. Dié kunstenaarsboek bestaan uit ’n groot hoop opgefrommelde briewe op die grond (in die hoek van die galery) en ’n geraamde reeks van tien briefafdrukke (in een langwerpige raam, gehang teen die muur bokant die hoop briewe op die grond). The futility of writing 24-page letters is ’n uitbreiding van die kunstenaar se werk Between Cup and Lip (2006/2007) wat tydens haar 2007/2008-uitstalling deel van die reeks Dis-Location/Re-Location gevorm het. Hierdie kunstenaarsboek word binne die konteks van die reeks Dis-Location/Re-Location gelees en geïnterpreteer.

The futility of writing 24-page letters lewer kritiek op geslagtelike stereotipes, kulturele oorheersing en seksuele objektivering, wat elk op sigself ’n oorsaak én produk van vervreemding is. Dit is juis hierdie dialektiese spanning wat tussen die gemarginaliseerde vrou en haar ervaring van vervreemding ontstaan wat ons in hierdie artikel ondersoek.

Ons plaas vanuit ’n feministies-postkoloniale perspektief die fokus in die lees en interpretasie van The futility of writing 24-page letters op die vrou se ervaring van vervreemding as die gemarginaliseerde ander. In hierdie verband is dit veral die invloed van Marx se derde en vierde onderskeid ten opsigte van vervreemding (wat later in hierdie artikel belig word) op feministies-postkoloniale diskoerse wat vir ons van belang is. Die rede hiervoor is dat Farber haar in haar kunsbesef rig op die uitbeelding van die vrou wat as gevolg van sosiale en kulturele beperkings onderdruk is. Ons argumenteer dat die briewe die globale karakter van feminisme openbaar en aanduidend is van onderdrukte psigiese vervreemding as gevolg van stereotipering, kulturele oorheersing en seksuele objektivering. Ons argumenteer voorts dat Farber se The futility of writing 24-page letters komplekse lae van vervreemding openbaar. Ons, die outeurs van die artikel, is deeglik bewus daarvan dat die feminisme nie as ’n enkele stroom beskou moet word nie en erken die kompleksiteit van die term asook die verskeidenheid strome binne die feministiese filosofie.

Die verloop van die artikel is soos volg: alvorens op teoretiese aspekte gefokus word, word Bertha Guttmann (1862−1934), die skrywer van die briewe en dagboekinskrywings op wie se lewe en identiteit Farber die reeks Dis-Location/Re-Location gebaseer het, bondig aan die leser voorgestel. Vervolgens word ’n oorsig oor Marx se gebruik van die konstruk vervreemding en sy invloed op die feministies-postkoloniale kritiek gebied. Dit word opgevolg met ’n teoretiese besinning oor die konstruk vervreemding binne feministies-postkoloniale diskoerse met beklemtoning van die posisie van die ander. Ons teoretiese begronding bied die metodologiese raamwerk waarvolgens The futility of writing 24-page letters gelees en geïnterpreteer word. In ons interpretasie neem ons deurgaans in ag dat die kunstenaarsboek ’n verdere uitbreiding van die reeks Dis-Location/Re-Location is.

Bertha Guttmann – Die skrywer

Die reeks Dis-Location/Re-Location is op die lewe en identiteit van Bertha Guttmann (1862−1934), ’n Brits-Victoriaanse immigrant van Joodse herkoms, gebaseer. Guttmann is die skrywer van die briewe en dagboekinskrywings.

Sy het in 1885 op 26-jarige ouderdom vanweë haar voorgenome huwelik met Sammy Marks (1844−1920), ’n dominerende en suksesvolle Joodse sakeman, oorspronklik van Litaue, na Suid-Afrika (toenmalig onder Britse beheer) geïmmigreer. In die laat-negentiende eeu is goedig na Marks as ‘Paul Kruger se Jood’ verwys. Giliomee en Mbenga (2007:190) wys daarop Paul Kruger, die voormalige Staatspresident van die Zuid-Afrikaanse Republiek, Marks – as vrygewige intrepreneur waarby Kruger se regering gebaat het – besonder goedgesind was. Marks se finansiële sukses het ook aan hom die bynaam ’die ongekroonde koning van die Transvaal’ besorg (Farber 2008; Mendelsohn 2008:27; Farber in Klopper 2008:15).

Wat Guttmann betref, stel Farber (2008) dat sy die tipiese bedrywige sosiale lewe wat in dié tydvak van die vrou van ’n welgestelde man verwag is, gelei het. Die egpaar het ses kinders en meer as veertien personeellede gehad (Mendelsohn 2008:27). As vrou van haar tyd het Guttmann in Suid-Afrika steeds die koloniale tradisies en waardes van haar land van herkoms gevolg. Tipies van die tydsgees het koloniale vroue min veranderings in hul lewens aangebring om by hul nuwe omgewing, naamlik ‘eksotiese Afrika’, aan te pas (vgl. Said 1978:8). In teenstelling met haar eggenoot is daar verder min inligting oor Guttmann beskikbaar (vgl. Mendelsohn 2008:29−30). Vervolgens word die teoretiese aspekte waarop hierdie artikel steun en voortbou, aan die orde gestel.

Vervreemding vanuit ’n Marxistiese perspektief

Volgens Karl Marx (1978) vorm die geskiedenis van die mens deel van ’n proses van sosiale verandering, wat in die samelewing teweeggebring word deur die wyse waarop die samelewing goedere vervaardig. Deur hierdie vervaardigingsproses word sosiale klasse gevorm. Marx (1978:130) klassifiseer die geskiedenis in verskillende epogge, soos die primitiewe gemeenskap, die slawetydperk en die feodale era. Die vierde epog word beskryf as die kapitalistiese era, wat die meerderheid van die Westerse samelewings gedurende die tydperk van die Industriële Revolusie in die negentiende eeu sou domineer (vgl. Rée & Urmson 2005:231). Marx het geredeneer dat kommunisme, as die finale epog, kapitalisme sou vervang (vgl. Stumpf & Abel 2002: 497; Stevenson & Haberman 1998:137).

Gedurende die kapitalistiese era ontstaan volgens Marx (1968:166) twee hoofklasse, die bourgeoisie (kapitaliste wat die mag en produksiemiddele besit en wat derhalwe welvaart ophoop) en die proletariaat (die werkersklas of loonarbeiders wat deur die bourgeoisie uitgebuit word). Marx beywer hom vir ’n klaslose kommunistiese samelewing ten einde sosiale klasse uit te skakel waarbinne die mag tot produksie op gelyke vlak verdeel sal word (vgl. Stevenson & Haberman 1998:130). Hy stel dat die kapitalistiese samelewing vervreemding onder die proletariaat meebring wat op verskeie vlakke die ’self’ binnedring.

Die konstruk vervreemding het sy oorsprong in Hegel (1770−1831) se metafisiese idealisme, wat bou op die dialektiek van die subjek wat met ’n objek anders as die subjek self gekonfronteer word (vgl. Marx 1970:63−70; Stevenson & Haberman 1998:131; Gaut & Lopes 2007:71). Onder invloed van Hegel het vervreemding een van die sleutelaspekte binne die Marxisme geword, wat op sy beurt ’n besonderse invloed op onder andere die feministies-postkoloniale teorie gehad het.

Wat vervreemding betref, onderskei Marx (1978:133; 1975:272−277) die volgende vier kenmerke:

1. vervreemding van die produk van arbeid
2. vervreemding van die produksieproses
3. vervreemding van die mens en sy of haar aard
4. die bogenoemde lei gevolglik tot die vervreemding van mense van mekaar. Met arbeid bedoel Marx enige menslike aktiwiteit wat die natuurlike wêreld transformeer op ’n wyse wat die mens se daaglikse lewe verbeter en vergemaklik.

Hierdie menslike aktiwiteit is volgens Marx (1975:137, 212, 284, 303, 308) ’n noodsaaklikheid omdat die optrede kreatief, sosiaal en bevredigend is.

Marx (1975:296; 300−303) se uitgangspunt is dat dit in die mens se aard is om te werk en om kreatief te skep. Die kapitalistiese sisteem verwyder egter die kreatiewe proses uit arbeid, wat weer tot ontmensliking en vervreemding lei. Arbeiders werk lang ure onder moeilike omstandighede om produkte tot voordeel van kapitalistiese eienaars te vervaardig. Hierdie indirekte vorm van slawerny onderhou die kapitalistiese magstruktuur en dwing ’n vervreemdingsproses op werkers af (vgl. verder Stumpf & Abel 2002:498−499).

Die ontmenslikingsproses verkry verdere momentum deurdat arbeiders werk om te oorleef, en nie vir persoonlike groei, gewin of ontwikkeling nie. Gevolglik word arbeiders ’ontmens’ en raak hulle – net soos diere – slegs op eet, slaap en voortplanting ingestel (Marx in Sayer 1989:22). Marx (1978:133, 134) stel dat mense die enigste is wat hulleself as ‘spesie-wesens’ kan klassifiseer. Hiermee bedoel hy dat mense as sogenaamde spesie-wesens nie alleenlik van hulleself as unieke individue bewus is nie, maar ook van hulleself as behorende tot ’n spesifieke spesie. Mense tref ’n onderskeid tussen hulleself en die aktiwiteite wat hulle verrig (Marx 1975:296; 300−303). In ’n kapitalistiese stelsel is arbeiders egter nie meer in staat om ’n onderskeid te kan tref tussen hulleself en die aktiwiteit of arbeid wat hulle verrig nie. Dit lei daartoe dat die betrokke aktiwiteit ’n blote oorlewingsfunksie vervul (vgl. Marx 1975:36−37). Wanneer dit gebeur, is dit bykans vanselfsprekend dat die mens haar of sy kreatiwiteit verloor en op ’n bloot fisieke vlak leef.

Wanneer arbeiders vervreem word van hulleself as vrye wesens en van die produk wat hulle vervaardig, ervaar hulle vervreemding van mekaar en van hulleself (Marx 1978:293). In aansluiting hierby stel Marx (1975:36−37) voorts dat die kapitalisme ’n vervreemde, verontmenslikte samelewing skep wat slegs deur die opkoms van die kommunisme afgebreek kan word. Soos bo gestel, sal die kommunisme die grense tussen kapitalis en arbeider laat vervaag en ’n klaslose samelewing tot stand bring (vgl. Marx 1978:58, 292). Dit hou in dat die arbeider in so ’n klaslose samelewing vry, sosiaal en menslik kan verkeer ten einde haar of sy lewensdoel as ’n kreatiewe wese te kan vervul.

Vervreemding binne ’n feministies-postkoloniale perspektief

Terwyl Marx die konsep vervreemding binne ’n ekonomies-sosiale konteks plaas, gebruik feministiese en postkoloniale diskoerse die term merendeels ten opsigte van die gevolge en openbaarmaking van onderdrukking deur patriargale en koloniale sisteme (vgl. Young 1995:26). Fanon (1967:12) bied byvoorbeeld in sy Black skins, white masks ’n duidelike beeld van die psigologiese invloed en nadelige gevolge wat die kolonialis op die gekoloniseerde het. Hy fokus voorts op die psigiese trauma wat voortgebring word wanneer die gekoloniseerde besef dat sy of hy, ten spyte van pogings om die Westerse kultuur aan te neem, nooit die aanvaarding wat sy of hy gekondisioneer is om te begeer, verkry nie (Fanon 1995:323, 324).

Psigiese trauma word in die konteks van hierdie artikel as ’n ervaring van pyn en verlies ná ’n onderbreking of ingrepe in die narratief van individue en/of groepe se lewens beskou. Indien die lewe beskou word as ’n narratief wat voortdurend aangaan, en hierdie narratief kunsmatig deur ’n ingrepe verbreek word soos wat gekoloniseerdes ervaar het, stort die narratief ineen en word trauma ervaar (vgl. Van der Merwe & Viljoen 1998:1). Hierdie soort trauma kan met ander woorde beskryf word as die psigiese pyn en verlies wat mense as gevolg van onderdrukking, oorloë en sosiale en politieke verwikkelinge ly.

Bhabha (1994:117) stel in aansluiting by Hegel se oorspronklike omskrywing van vervreemding dat koloniale identiteite deur hulle posisie ten opsigte van die groter Ander gevorm word (vgl. Lacan 1954 se onderskeid tussen die grand autre en die autre). In koloniale identiteit word bepaalde begeertes geartikuleer. Die Ander of ander word binne feministiese en postkoloniale kritiek as ’n verteenwoordigende term omskryf. Dié verteenwoordigende term word ’n metaforiese verwysing (gekonstrueer deur die Ander) na gemarginaliseerdes soos byvoorbeeld immigrante, Swart mense en vroue as die eksotiese, immorele, irrasionele en emosionele ander teenoor die Wit, manlike Westerling as die sogenaamde norm en normale.

Dié norm of die self is die ’gekultiveerde, hoër ras’ wat vanuit ’n patriargale sisteem die Wit vrou as ‘die swakkere vat’ beskou. Vanuit ’n breër feministiese perspektief en binne die konteks van ’n patriargale struktuur word die Wit vrou, vanweë stereotipering en haar Andersheid ten opsigte van die Wit man, die Ander (vgl. Bartky 2005:105). Daarteenoor is gekoloniseerdes as ongelowige ’barbare’ oftewel die ander beskou (vgl. Said 1995:87; 2000:183−184; Gandhi 1998:9; Prakash 1995:1, 210; Cudd & Andreasen 2005:2 en Jackson 1999:12).

Postkoloniale kritiek ondersoek juis hierdie stereotiperende identiteite wat deur eensydige projeksies van identiteit deur die Ander geformuleer word (Pickering 2001:1; Sampson 1999:138). Young (1995:5) waarsku dat die postkoloniale diskoerse se ondersoek van stereotiperende identiteite tot ’n konstruerende Manicheïstiese skeiding tussen byvoorbeeld Wit en Swart mense kan lei. Postkoloniale diskoerse is ook geneig om die fokus op die ander as halwe, binêre opposisies te plaas (vgl. Gandhi 1998:31).

Sowel postkoloniale (vgl. Said 1985:90; Prakash 1995:1) as feministiese teoretici (vgl. Spivak 1997:24; Bartky 2005:106; vgl. ook Robinson 2001:354) stel dat die ander, as stereotipe, ’n assosiatiewe projektering van die self se skaduwee word. Binne die konteks van ’n koloniale paradigma funksioneer representasie op die basis van verskil. Die Westerse identiteit is gevolglik afhanklik van die bestaan van die ander, wat deur ’n projektering van die vrese en begeertes van Westerlinge geskep word. Dit word andersyds deur meesternarratiewe ondersteun (vgl. Francina & Harris 1992:136). Op hierdie wyse word stereotipering moreel onaanvaarbaar en psigologies benouend. Dit gebeur op twee vlakke.

Eerstens kan die vrou, as objek, se behoeftes en begeertes nie binne die raamwerk van ’n stereotipe deur die onderdrukker verstaan word nie. Tweedens word die konsep van ’n stereotipe geïnternaliseer, wat meebring dat die objek dit moeilik vind om die eksistensiële konstruk, naamlik die oorspronklike keuse van die self, te vorm. In teenstelling hiermee word ’n alternatiewe self gevorm wat op ’n afgestompte, minderwaardige weergawe van die self gebaseer word. In lyn met hierdie postkoloniale en feministiese kritiek domineer die voorafvervaardigde self die oorspronklike self. Sodoende word die vrou nie as ’n unieke wese beskou nie, maar word sy ’n parodie van ’n vrou (vgl. Bartky 2005:106; Robinson 2001:354).

Interessant genoeg het heelwat feministiese diskoerse, anders as postkoloniale kritiek, sedert die 1970’s die vorm van liberale aktivisme teen die onderdrukkende aard van die partriargale sisteem aangeneem (vgl. Cudd & Andreasen 2005:2; Jackson 1999:12). Binne ’n sosiale konteks word die konsep ‘onderdrukking’ gewoonlik met kenmerke van ’n politiek-ekonomiese aard geassosieer. Liberale bewegings deur minderheidsgroepe (spesifiek Wit vroue en Swart groepe) in veral die VSA het gedurende die 1980’s en 1990’s egter nuwe betekenis aan dié term gegee, wat die grense daarvan verder as ’n politieke of ekonomiese dimensie laat strek het. Op hierdie wyse word onderdrukking deur selfvervreemding moontlik en vind dit sonder ekonomiese uitbuiting of wetlike diskriminasie plaas (Bartky 2005:106). Dit is egter belangrik om kennis te neem dat ’psigiese vervreemding’ wél vanweë ekonomiese uitbuiting en wetlike diskriminasie kan plaasvind.

Die hedendaagse demografie laat ook ruimte vir ’n meer insluitende benadering wat ’n multikulturele en globale karakter vertoon. In aansluiting hierby word konsepte binne die postkolonialisme (soos onder andere hibriditeit) bewerkstellig, wat weer konstrukte soos ras, nasionaliteit en gender, sonder enige vaste betekenis, openbaar (Allara 2008:52, 53).

Maghebbers as die gekonstrueerde self behou hulle mag deur ’n gevestigde orde van oorheersing te bewerkstellig. Die onderdrukte se ervaring van ’psigiese vervreemding’ word deur Bartky (2005:106), in ooreenstemming met Fanon (1967:12), vanuit ’n vrou se perspektief in drie kategorieë verdeel: stereotipering, kulturele oorheersing1 en seksuele objektivering. Deur middel van genoemde kategorieë word boodskappe van diskriminasie en minderwaardigheid in so ’n mate oorgedra dat die betrokke objek vervreemding van die self ervaar en ’n gefragmenteerde of versplinterde selfidentiteit ervaar word. Hierdie inherente fragmentering van die individuele self as gevolg van stereotipering gee dikwels tot identiteitsproblematiek en interne konflik tussen die ’ware’ en ’valse’ self aanleiding (vgl. Bartky 2005:106).

Saam met fragmentering van die innerlike self onderskei die feminis Bartky (2005:107) mistifikasie wat dui op ’n sistematiese vervaging van die realiteit, wat as gevolg van psigologiese onderdrukking tot selfminagting by individue lei. Hierdie minagting word hoofsaaklik uitgeleef deur skuld wat later as deel van die ’self’ geïnternaliseer word. Bartky stel dat sowel fragmentering as mistifikasie in al drie kategorieë van psigiese vervreemding teenwoordig is. Hierdie uiteensetting van postkoloniale en feministiese kritiek toon aan dat die instandhouding van koloniale onderdrukking, rassisme en seksisme op vele vlakke gelyksoortig is.

Feministies-postkoloniale vervreemding in The futility of writing 24-page letters binne die konteks van Re-Location/Dis-Location

Farber se The futility of writing 24-page letters fokus (as uitbreiding en deel van Between Cup and Lip en bogenoemde reeks) op die ervaring van vervreemding deur middel van geskrewe narratiewe in die vorm van briewe en dagboekinskrywings. Farber konseptualiseer haar kunstenaarsboek na aanleiding van een spesifieke uittreksel uit vermoedelik Guttmann se dagboek:

I went to the trouble of writing him a 24-page letter and do you know what his response was? ’There are certainly some amusing little things in it, but of course being a woman you must be excused!!’ I often wonder if he really reads my letters? Perhaps I need only write short ones in the future. (Farber 2011:28)

Guttmann is binne die konteks van haar nuwe land as Wit Westerling en handhawer van die koloniale tradisies en waardes vanweë haar Joodse herkoms en algemene anti- Semitiese sentimente die Ander. Sy is ook binne die patriargale struktuur teenoor haar dominerende man die Ander. Wat die gekoloniseerdes betref, is sy egter die self, aangesien die bevoorregting van ’Witheid’ as produk van ras en sosiale klas ‘inherent’ aan haar as lid van die sogenaamde Wit elite kleef. Sy besit met ander woorde die ’Witheid’ wat vandag deur postkoloniale kritiek as ’n kenmerk van oorheersing en onderdrukking beskou word. Guttmann het heel moontlik psigiese trauma ervaar, enersyds vanweë die ervaring van fisieke afstand en gepaardgaande vervreemding van haar geboorteland en kultuur en andersyds weens haar Andersheid ten opsigte van die gekoloniseerde inwoners van Afrika, haar nuwe tuiste (vgl. Fanon 1967:12; Bartky 2005:105).

Guttmann en Marks se huwelik was een van sy tyd. Marks het openlik geglo dat Guttmann aan ’n minderwaardige geslag behoort wat haarself met triviale, niksseggende en onbelangrike dinge, soos die opvoeding van kinders, naaldwerk en kletspraatjies, besig gehou het (vgl. Mendelsohn 2008:27). Dit word bevestig in briewe (in Mendelsohn 1991) wat Guttmann en Marks aan mekaar geskryf het wanneer hy weens sake-aangeleenthede van die huis af weg was. Dit blyk uit die volgende aanhaling van ’n brief van Marks aan sy vrou:

I should like you to bear in mind and mark carefully for future that when I tell you anything especially as to people’s characters, you will allow me to be a better judge than you are, and it is only natural I should be ... (Mendelsohn 1991:182)

Guttmann sien vanuit haar Wit bevoorregte perspektief op haar beurt nie die verontregting en inherente vervreemding wat Swart mense en spesifiek Swart vroue in haar diens (en in die algemeen) ervaar, raak nie. Guttmann skryf immers aan haar man:

... all has to be put in order for the next week and we cannot do With less than the following servants: A Cook and Kitchenmaid, a Butler and someone to help him, 2 Housemaids and not counting the necessary Kaffirs to do all the childrens’ quarters ... (Mendelsohn 1991:184)

Sy skryf ook in dieselfde brief: ‘I have been the Housekeeper which is a good billet for a wife’. Bogenoemde uittreksels dui op haar en Marks se aanvaarding van die hiërargiese rangorde van hulle tyd tussen Wit mans en vroue. Dit hou in dat ryk, Wit Joodse mans, soos Marks, bo aan die ranglys van A/andersheid as die sogenaamde Ander voorkom. Guttmann, as Wit bevoorregte vrou, staan teenoor Marks as die ander. Hierna volg hulle kinders, weer eens as die ander, aangesien hulle in die aanskoue van hulle ouers hul identiteit verkry. Terselfdertyd word die egpaar se seuns binne so ’n patriargale sisteem, teenoor hulle susters – in hul ‘voorbereiding’ vir hulle rol as Wit mans en broodwinners – en selfs ten opsigte van hul moeder meerderwaardig geag as die Ander (vgl. Cudd & Andreasen 2005:2; Jackson 1999:12; Mendelsohn 1991:182). Farber (2008) vestig die aandag op nog ’n belangrike saak wat Marks en Guttmann se Joodse herkoms betref. Hulle is as gevolg van anti-Semitisme en ten spyte van die feit dat hulle Wit was steeds binne die Westerse konteks as die Ander beskou.

In teenstelling met die posisie van Wit vroue en kinders, vorm Swart vroue se bestaan, ervaringe en kultuur deel van brutale komplekse sisteme van onderdrukking wat nie op dieselfde vlak deur Wit vroue nie ervaar is (Smith 1989:168). ’n Swart vrou ervaar binne die koloniale en patriargale konteks ’n drievoudige vervreemding in haar andersheid, eerstens vanweë die feit dat sy Swart is, tweedens omdat sy ’n vrou is en derdens – binne ’n Afrika-patriargie – omdat sy ’n Swart vrou is (vgl. Smith 1989:168). Gevolglik voer ons aan dat psigiese vervreemding in vroue deur komplekse lae van onderdrukking tussen die kolonialiseerder en die gekoloniseerde, ook ten opsigte van gender, kultuur en ras, aangevuur word.

Die kompleksiteite met betrekking tot gender of geslag, wat spesifiek tussen die kolonialis (in hierdie geval Guttmann) en die gekoloniseerde (Swart vroue) ontstaan, laat Bhabha (1985:153) argumenteer dat die onderskeid wat in Fanon (1967) se beeld van Swart en Wit maskers (Black skin white masks) na vore kom in werklikheid ’n komplekse vervaging word. Said se benadering vind, in teenstelling met dié van Bhabha, by die Anglo-Amerikaanse feministiese diskoers se sterker politieke inslag2 aansluiting (vgl. Patke 2006:370). Vir Bhabha word hierdie beeld een van koloniale outoriteit wat die dinamika van weerstandigheid openbaar, wat verder as die blote psigiese trauma van die koloniale subjek strek (vgl. verder Loomba 2005:149).

Said (1985:90), en later Spivak (1997:24), onthul dat andersheid, soos reeds beredeneer, ’n assosiatiewe projektering met die selfskaduwee word (Prakash 1995:1; 210). Binne die konteks van ’n koloniale en patriargale paradigma funksioneer representasie op die basis van verskil. Op hierdie wyse word die minderwaardigheid en onderdanigheid van andersheid na die volgende orde in die hiërargie geprojekteer. Dit word in ’n brief aan Marks deur Guttmann se hegemoniese houding teenoor Swart vroue bewys, soos blyk uit die volgende aanhaling:

I prefer employing respectable white girls. In the first place native girls are not trustworthy and their morals, as a rule, are not of high standard. In the second place, their wants are so few that they are very independent and if their demands are not met, they go away and live in the kraals. (Farber 2011:28)

Marks praat ‘af’ na Guttmann as sy vrou (sy ander) wat op haar (Guttmann) beurt weer ’afpraat’ na Swart mense as háár ander (sy verwys na hulle as ’Kaffirs’3, hulle is met ander woorde onbetroubaar en immoreel).

Op dieselfde wyse as wat die self in binêre opposisie tot die ander omskryf word, word gender-identiteite ook van ’n dialektiese onderskeid afhanklik en konstrueer mans en vroue hul persepsies van hulleself deur dit wat hulle nie is nie (mans is nie vroue nie weens die afwesigheid van sogenaamde vroulike eienskappe soos sensualiteit en irrasionaliteit, en vice versa). Die konstante skeiding en hiërargiese plasing van identiteite ooreenkomstig geslag, ras of kultuur veroorsaak selfvervreemding wat volgens Fanon (1967:12) en Bartky (2005:105) op ’n psigiese vlak plaasvind.

Die psigologies-onderdrukte minderheidsgroepe word sodoende hul ’eie’ onderdrukkers wat ’n geïnternaliseerde gevoel van minagting in die vorm van self-andersheid na vore bring (vgl. Said 1985:90; Spivak 1997:24). So heg Sammy Marks nie veel waarde aan sy vrou se briewe of griewe nie, aangesien hy – as man – met baie belangriker sake buite die beskermde huislike milieu besig is. Dit is duidelik sigbaar in die wyse waarop Guttmann in ’n moontlike dagboekinskrywing in The futility of writing 24-page letters op haar man se gebrek aan belangstelling en simpatie reageer: Perhaps I need only write short ones (letters) in the future (Farber 2011:28). Sodoende word Guttmann die protagonis van haar eie vervreemding, aangesien sy dit ook in brief- of dagboekvorm aan haarself openbaar.

Farber gebruik die briewe as ’n intertekstuele verwysing na ’n magspel deurdat briewe, veral gedurende die Victoriaanse era, deur mans as sakedokumentasie gebruik is (met ander woorde ‘belangrike, amptelike dokumente’). Hierteenoor het vroue (vanuit ’n patriargale perspektief) briewe geskryf om hulself besig te hou en hulle huweliksmaats oor die stand van huishoudelike sake in te lig wanneer hulle mans as gevolg van belangrike sake afwesig was.

Teenoor Marks (as man) wat deur sy sakebedrywighede ’n aktiewe rol in Afrika gespeel het (hy trotseer op ’n ander manier ‘eksotiese Afrika’ en werk daaraan mee om die ‘onbeskaafde’ en ‘onontwikkelde’ land buite die veiligheid van sy huis te ‘tem’), vertolk Guttman ’n sogenaamde passiewe en minder belangrike ondersteuningsrol. Marks het boonop seker gemaak sy weet dit: ‘ ... you will allow me to be a better judge than you are’ (Mendelsohn 1991:182), skryf hy – soos reeds vermeld – in een van sy briewe aan haar.

Die Wit vrou word beskou as onbevoeg en onbekwaam, ’n tipiese kenmerk van ’ware’ vroulikheid (vgl. weer die aanhaling hierbo uit Marks se briewe aan Guttmann). In aansluiting hierby ervaar Swart vroue onderdrukking deur rassediskriminasie en besit hulle ook nie die kenmerkende eienskappe van ’ware’ vroulikheid nie (Bartky 2005:107). Vergelyk in hierdie verband Guttmann se beskrywing van Swart vroue as ‘onbetroubaar en immoreel’, kenmerke wat nie met die Westerse ‘ideaal’ van ‘ware’ vroulikheid geassosieer word nie.

The futility of writing 24-page letters word ’n kritiese speelveld van sogenaamde ware vroulikheid, wat sigbaar is in die wyse waarop Farber van beelde van ’tradisionele vroulikheid’, soos roomgekleurde papier, gebruik maak. Farber se aanbieding van Guttmann se briewe sinspeel op gender-spesifiekheid. Die briewe is uit handgemaakte papier gemaak, iets wat tradisioneel met vroue geassosieer is. Terselfdertyd kan die hoop verfrommelde briewe gelees word as ’n metafoor vir ’n hoop gebruikte sneesdoekies nadat die ‘emosionele en irrasionele vrou’ haar trane afgedroog het. Verder roep die kunstenaarsboek, as ’n verlenging van die reeks Dis-Location/Re-Location, ook die aard van ’ware’ vroulikheid op. Dit word gedoen deur van Engelse rose (wat later in die reeks ’n metamorfose ondergaan om hibriede mengsels te word) as Victoriaanse simbole vir die hoër Wit klas en terselfdertyd ook as simbole van reine vroulikheid gebruik te maak (vgl. Allara 2008:54).

Vroue word gekondisioneer om te glo dat hierdie vorm van ‘vroulikheid’ die enigste norm is, sodat hulle rolspelers binne die bepaalde stereotipe word. Die vrou, in hierdie geval Guttmann, neem verskeie rolle gelyktydig aan, as moeder van ses kinders, eggenote van ’n ryk Wit sakeman (en in die oë van haar hovaardige man as ’n minderwaardige prototipe van menswees), ’n (‘gewone onbelangrike’) huisvrou, sosiale kletsprater en moeder van sy kinders. Hierdie rolle gee dikwels aanleiding tot interne konflik, wat fragmentasie, mistifikasie en vervreemding teweegbring (vgl. Van der Merwe & Viljoen 1998:152).

Die feit dat Guttmann skryf hoe ongelukkig sy is, en die futiele aard en lengte van die brief van vier-en-twintig bladsye, bevestig haar vervreemding. Sy bied ’n gedetailleerde beskrywing van haar bedrywighede, frustrasies en eensaamheid. Haar man lees dit egter nie. Farber maak gebruik van ruimtelike metafore om die konsep van vervreemding te versterk. Eensaamheid word uitgebeeld deur die hoop briewe (of sneesdoekies) wat lyk of dit weggegooi is. Verder word Guttmann se eensaamheid direk deur die genoemde aanhaling beklemtoon (geraam en teen die muur bo die hoop briewe geplaas). Die briewe verteenwoordig en openbaar Guttmann se intieme, private oomblikke, weg van haar bedrywige sosiale lewe. Haar woorde word ’n metaforiese sinspeling en ’n allegorie vir ander gemarginaliseerde vroue. In aansluiting by die postkoloniale kritiek gebruik Farber die eensaamheid van die vrou (Guttmann) – as ’n getraumatiseerde vreemdeling ter ondersteuning van haar man in ’n nuwe land – as beeldspraak van vervreemding. Die feit dat The futility of writing 24-page letters ’n verlengstuk van of uitvloeiing of voortvloeisel uit die werk Between Cup and Lip is, roep vervolgens ook ’n spreekwoord op. Op Engels lui dit There is often a slip between the cup and the lip, en op Afrikaans, Tussen die hand en die mond val die pap op die grond. Hierdie woorde speel direk in op Guttmann se eie besef van die futiliteit daarvan om lang briewe te skryf, van haar eie onvervuldheid en van ’n besef dat sy in haar uitlewing van haar volle menswaardigheid misluk.

Farber maak in die reeks ook gebruik van uitvoerende kuns (performance art – the art/act of writing letters) as kunswerktuig wat ondersteunend tot ander media, soos fotografie, video en beeldhou is. The futility of writing 24-page letters sinspeel op die gedagte van ’n uitvoering aangesien dit na die aksie van briefskryf verwys. Butler (1993:95) argumenteer dat die term uitvoering nie buite ’n proses van kontinue voortsetting en herhaling verstaan kan word nie. Voortdurende en herhalende kontinuering openbaar onderdrukking omdat die tydelike aard daarvan teengestaan word. Butler (1993:95) stel dat uitvoering nie as ’n enkele geval beskou kan word nie, maar eerder as die produsering van ’n ritueel geïnterpreteer behoort te word. Binne die konteks van die gekose kunswerk wil dit voorkom of Guttmann se dokumentering van haar daaglikse lewe, hetsy in haar dagboek of deur briewe, ’n ritueel geword het.

Fanon (1967:12) beskryf die Swart persoon met diep patos. In teenstelling hiermee besit die Wit vrou nie die ‘gerieflikheid’ van ’n terugverwysing na ’n ’inheemse, oorspronklike’ kultuur nie. Al word sodanige ‘inheemse’ en oorspronklike kultuur deur almal, insluitend die Swart persoon, as minderwaardig teenoor die dominerende Westerse kultuur beskou, bly dit steeds as ’n verwysingspunt ’n plek waarna die onderdrukte kan of sou wou terugkeer. Hierdie ‘luukse’ besit Wit of Swart vroue nie, aangesien hulle as die produk van ’n patriargale kultuur ’n verwronge beeld van hulleself het (vgl. Butler 2005:149). Hiermee word nie bedoel dat vroue noodwendig uit die oorheersende dominante kultuur uitgesluit word en dat hulle geen waardevolle bydrae daartoe maak nie.

Volgens Fanon (vgl. Amuta 1995:158) vertoon kultuur ’n globale karakter wat aanleiding gee tot stellings soos ‘die grense van my kultuur is die grense van my wêreld’. Die onderworpenheid van die vrou en die Wit man se onderdrukking van ander rasse word ’n diepgaande kultuureienskap, wat as natuurlik en onveranderlik beskou word. Anders as gekoloniseerde individue het Wit vroue geen herinnering aan ’n identiteit uit ’n tydperk vóór die nou nie (met ander woorde, ’n tyd voordat die ’meester’ gekom het en voordat vroue onderwerp en beheer is, soos in die geval van gekoloniseerdes nie) (De Beauvoir 2005:387; Bartky 2005:106). Op hierdie wyse assosieer vroue van alle rasgroeperinge hulleself eerder met groepe wat dieselfde lewenservaringe as hulle deel, selfs al word hulle deur hierdie groepe gedomineer en onderdruk. Dieselfde prinsiep geld in postkoloniale kritiek waar Swart groepe nie teen die Wit, dominerende onderdrukkers wil optree nie (vgl. Young 1995:3, 5). Dit vind aansluiting by die reeds genoemde stelling dat kultuur ’n globale karakter vertoon wat tot onveranderende onderdrukking lei.

Die titel van die kunswerk, The futility of writing 24-page letters, spreek vanself die individuele subjektiWiteit van die vrou aan. Dit lewer kritiek op die partriargale beskouing dat die vrou ’n seksuele objek is. Dié werk as voortsetting van Farber se vorige werk A room of her own maak – soos Virginia Woolf (1882–1941) se boek getitel, A room of one’s own (1989) – van intertekstuele verwysings gebruik. Woolf bevraagteken, soos Farber, die tradisionele status van die vrou deur vrae te vra soos: ’Why did men drink wine en woman water?’ Woolf lewer kommentaar op die stand van die buitestaander [outsider], wat tot vervreemding aanleiding gee. Dit hou in dat die vrou weens haar ‘tekort’ aan manlikheid as die Ander of ander as ’n buitestaander tot die samelewing vervreem word (vgl. Bowldy 1992:28).

Vroue, soos Fanon se Swart man, word blootgestel aan stereotipering, kulturele oorheersing en seksuele objektivering wat tot selfvervreemding lei. In die geval van vroue hou dit in dat sodanige daaglikse ervarings van seksuele objektivering geïnternaliseer word en dat die vrou haarself ook as ’n objek begin beskou (vgl. Bartky 2005:108). Die vrou word dus van haar ware self vervreem.

In aansluiting hierby argumenteer Said (1978:12) dat die ander verwys na komplekse verhoudings van mag, outoriteit, belange en stereotipes wat onderliggend aan ’n vorm van heerskappy is. Die Westerse oog aanskou die ander as eksoties en aanloklik. Die ander, soos die vrou, word sodoende binne ’n onderdrukte dominerende omgewing ’n tipe verbruikersobjek. The futility of writing 24 page letters dekonstrueer die verobjektivering van die vroulike liggaam deur die ’verwydering’ van ’n fisiese vroulike liggaam. In haar plek word briewe en dagboekinskrywings vertoon. Hierdie gedagte sluit aan by die manlike aanskoue van die vrou. Farber (Law-Viljoen 2008:12) beskryf die manlike aanskoue as ’n verwyderde manier van kyk, wat die verobjektivering van die vroulike liggaam kweek deur mag en outoriteit aan die manlike aanskouer toe te ken.

Terselfdertyd lewer Farber kommentaar op die objektivering van die vrou, wat as ’n leë houer, ’n afwesigheid, ’n stilte beskou word: ’n objek (vgl. Gubar 1989:292). Dit word in die gekose kunswerk deur die afwesigheid van Guttmann self beklemtoon. Die kunswerk suggereer slegs die teenwoordigheid van Guttmann. Hierdie aanname word bevestig deurdat daar – in teenstelling tot haar man, Sammy Marks – weinig inligting oor Guttmann beskikbaar is. As vrou was haar lewe, afgesien van haar verbintenis met Marks, nie belangrik genoeg om gedokumenteer te word nie. Sy bly ’n gemarginaliseerde historiese figuur. Guttmann se sigbare afwesigheid in geskiedenisboeke, word in The futility of writing 24-page letters bevestig.

Slot

In hierdie artikel het ons Leora Farber se kunstenaarsboek The futility of writing 24-page letters aan die hand van vervreemding vanuit ’n feministies-postkoloniale perspektief gelees en geïnterpreteer ten einde ’n bydrae tot feministiese en postkoloniale diskoerse te lewer. Uit hierdie interpretasie blyk dit dat Farber se The futility of writing 24-page letters op komplekse lae van psigiese vervreemding aanspraak maak, naamlik geslagtelike stereotiperings, sowel as kulturele oorheersing en seksuele objektivering. Hierdie aspekte word by nadere beskouing uit die fisieke afwesigheid van Guttmann in die kunstenaarsboek duidelik. Sy word verteenwoordig deur briewe wat deur haar man as onbelangrik beskou word, al beantwoord sy ook aan die rolle wat hy as man en die samelewing aan haar oplê. Haar psigiese innerlike vervreemding blyk voorts uit die inhoud van haar briewe waarin sy haar persoonlike leed uitbeeld wanneer sy skryf: ‘I often wonder if he really reads my letters – perhaps I need only write short ones’. Hierdie woorde vorm die sentrale fokus in die kunstenaarsboek en som haar gevoel as die gemarginaliseerde Ander of ander op.

’n Volgende belangrike gevolgtrekking waartoe ons kom, is dat Guttmann, sonder enige formele mag wat aan haar toegeken is, as ’n kolonialis en as ’n Wit vrou vanuit haar bevoorregte posisie ook haar bydrae tot diskriminerende praktyke gelewer het. Dit blyk ten diepste uit haar aanskoue van Swart mense as háár ander. Gevolglik het Guttmann as Wit koloniale vrou verskillende rolle vertolk. Hierdie rolle sluit in die rol van slagoffer (psigologies-vervreemde en ander) vanuit ’n patriargaal-koloniale perspektief, maar ook – as ’n Wit kolonialis – die rol van ’n begunstigde van koloniale onreg en medewerker aan psigologiese vervreemding in Swart mense, en spesifiek ook in Swart vroue as háár ander (vgl. Farber 2011:29).

Ten slotte word die laaste woord aan Farber (2008) gegee wat Guttmann se psigiese vervreemding in een sin opsom wanneer sy (Farber) stel dat hierdie briewe spreek van ‘frustration and hurt at not being acknowlged or heard by her (Guttmann’s) husband’ (ons kursivering). Opsommend sou gestel kon word dat The futility of writing 24-page letters insigte bied in hoe koloniale Wit vroue die negentiende-eeuse gender-ideologie ervaar het, enersyds deur hulle persoonlike lewenservarings en andersyds deur hulle ervarings as objekte van ’n patriargale bestel (Farber 2011:29). Haar rol en bydrae tot die handhawing van koloniale praktyk moet nie onderskat word nie.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig of voordelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeurbydraes
Hierdie artikel is in gelyke bydraes geskryf deur M.C.[R]S. (Noordwes-Universiteit) en M.G. (Noordwes-Universiteit).

Literatuurverwysings

Allara, P., 2008, ‘Leora Farber’s A Room of Her Own: Feminist performance as class play’, De Arte (77), 52−57.

Amuta, C., 1995, ‘Fanon, Cabral and Ngugi on national liberation’, in B. Ashcroft, G. Griffiths,  H. Tiffin (eds.), The post-colonial studies reader, pp. 158−163, Routledge, London.

Barry, P., 2002, Beginning theory: An introduction to literary and cultural theory, Manchester University Press, Manchester.

Bartky, S., 2005, ‘On psychological oppression’, in A.E. Cudd & R.O. Andreasen (eds.), Feminist theory, pp. 105−113, Routledge, Malden.

Bhabha, H., 1985, ‘Signs taken for wonders: Questions of ambivalence and authority under a tree outside Delh, May 1817’, Critical Inquiry 12(1), 144−165.

Bhabha, H., 1994, ‘Remembering Fanon: Self, psyche and the colonial condition’, in P. Williams, & L. Christman (eds.), Colonial discourse and postcolonial theory, pp. 112−123, Columbia University Press, New York.

Bowldy, R., 1992, ‘Walking, women and writing: Virginia Woolf as flâneuse’, in I. Armstrong (ed.), New feminist discourses, pp. 26−74, Routledge, London.

Butler, J., 1993, Bodies that matter: On the discursive limits of “sex”’, Routledge, New York.

Butler, J., 2005, ‘Subjects of sex/gender/desire’, in A.E. Cudd & R.O. Andreasen (eds.), Feminist theory: A philosophical anthology, pp. 145−153, Blackwell, Malden.

Cudd, A.E. & Andreasen, R.O., 2005, Feminist theory: A philosophical anthology, Blackwell, Malden.

De Beauvoir, S., 2005, ‘Conclusion from The second sex’, in A.E. Cudd & R.O. Andreasen (eds.), Feminist theory, A philosophical anthology, pp. 383−391, Blackwell, Malden.

Fanon, F., 1967, Black skin, white masks, Grove Press, New York.

Fanon, F., 1995, ‘The fact of blackness’, in B. Ashcroft, G. Griffiths, H. Tiffin (eds.), The postcolonial studies reader, pp. 323−326, Routledge, London.

Farber, L., 2008, ‘Dislocation/Relocation’, Noordwes Universiteit, Potchefstroom. (Ongepubliseerde PowerPoint-aanbieding).

Farber, L., 2011, ‘The futility of writing 24-page letters (2009)’, in F. Greyling, I. Marley, L. Combrink (eds.), Transgressions and boundaries of the page Catalogue, pp. 26−29, Faculty of Arts and Humanities, North-West University, Potchefstroom.

Francina, F. & Harris, J., 1992, Art in modern culture: An anthology of critical texts, Phaidon, Oxford.

Gandhi, L., 1998, Postcolonial theory: A critical introduction, Columbia University Press, New York.

Gaut, B. & Lopes, D.M., 2007, The Routledge Companion to aesthetics, Routledge, New York.

Giliomee, H. & Mbenga, B., 2007, Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, Tafelberg, Kaapstad.

Giliomee, H., 2003, Die Afrikaners, ’n biografie, Tafelberg Uitgewers, Paarl.

Gubar, S., 1989, For adult users only: The dilemma of violent pornography, Indiana University Press, New York.

Jackson, S., 1999, ‘Marxism and feminism’, in A. Gamble, D. Marsh & T. Tant (eds.), Marxism and social science, pp. 11−34, Macmillan Press, Hampshire.

Klopper, S., 2008, Bertha Marks reborn: Leora Farber in conversation With Sandra Klopper, David Krut Publishing, Johannesburg.

Lacan, J., 1954, ‘The seminar of Jacques Lacan, Bk 2, The ego in Freud’s theory and in the technique of psychoanalysis’, transl. J-A. Miller (ed.), Sylvana Tomaselli, Norton, London.

Law-Viljoen, B., 2008, Dis-Location/Re-Location: Exploring alienation and identity in South-Africa, David Krut Publishing, Johannesburg.

Loomba, A., 2005, Colonialism/postcolonialism, 2nd edn., Routledge, New York.

Marx, K., 1978, ‘Alienation and social classes’, in R.C. Tucker (ed.), The Marx-Engels reader, 2nd edn., pp. 133−135, Norton, New York.

Marx, K., 1968, The poverty of philosophy: Reply to ‘the philosophy M.Proudhon’, Foreign Languages Publishing House, Moscow.

Marx, K., 1970, Early Texts: Critique of Hegel’s ‘Philosophy of the Right’, Cambridge University Press, Cambridge.

Marx, K., 1975, Collected Works, Lawrence & Wishart, London.

Mendelsohn, R., 1991, Sammy Marks: The uncrowned king of the Transvaal, David Phillip and Athens, Cape Town.

Mendelsohn, R., 2008, ‘The Gilged Cage: Bertha Marks at Zwartkoppies’, in B. Law-Viljoen (ed.), Dis-Location/Re-Location: Exploring alienation and identity in South-Africa, pp. 27−40, David Krut Publishing, Johannesburg.

Patke, R.S., 2006, ‘Postcolonial Cultures’, Theory, Culture & Society 23(2/3), 369−372.

Pickering, M., 2001, Stereotyping, Palgrave, New York.

Prakash, G., 1995, ‘Orientalism Now’, History and Theory 34(03), 199−212.

Rée, J. & Urmson, J.O., 2005, The Concise Encyclopedia of Western philosophy, 3rd edn., Routledge, Oxon.

Robinson, H., 2001, Feminism art theory, Blackwell Publishing, Oxford.

Said, E.W., 1978, Orientalism, Pantheon, New York.

Said, E.W., 1985, ‘Orientalism reconsidered’, Cultural Critique (1), 89−107.

Said, E.W., 1995, ‘Orientalism’, in B. Ashcroft, G. Griffiths & H. Tiffin (eds.), The post-colonial studies reader, pp. 78−91, Routledge, London.

Said, E.W., 2000, ‘Invention, memory and place’, Critical Inquiry 26(2), 175–192.

Sampson, E.E., 1999, Dealing With differences: An introduction to the social phychology of prejudice, Harcourt Brace, Fort Worth.

Sayer, D., 1989, Readings from Karl Marx, Routledge, London.

Smith, S., 1989, ‘Toward a black feminist criticism’, in E. Showalter (ed.), The new feminist criticism: Essays on woman, literature, and theory, pp. 168−185, Virago Press, London.

Spivak, G., 1997, ‘Can the subaltern speak?’, in B. Ashcroft, G. Griffiths & H. Tiffin (eds.), The post-colonial studies reader, pp. 24−28, Routledge, London.

Stevenson, L. & Haberman, D.L. 1998. Ten theories of human nature, 3rd edn., Oxford University Press, New York.

Stumpf, E.S. & Abel, D.C., 2002, Elements of Philosophy, McGraw-Hill, New York.

Van der Merwe, C.N. & Viljoen, H., 1998, Alkant olifant: ’n Inleiding tot die literatuurwetenskap, Van Schaik, Pretoria.

Woolf, V., 1989, A room of one’s own, Harcourt Brace & Co., New York.

Young, R.J.C., 1995, Colonial desire: Hybridity in theory, culture and race, Routledge, London.

Voetnotas

1.Kulturele oorheersing verwys na alle aspekte in die sosiale en kulturele lewe van ’n samelewing, soos taal, instellings, kuns en literatuur, wat in ’n mindere of meerdere mate die manlike heerskappy vertoon (Bartky 2005:107).

2.Een van die hoofverskille tussen die Franse en Anglo-Amerikaanse feministiese benaderings is in die rol van kritiese teorie sigbaar. Die Franse feminisme inkorporeer psigoanalitiese en poststrukturalistiese kritiek in hul teorie, teenoor die Anglo-Amerikaanse tradisie wat ’n omsigtige perspektief van meer onlangse kritiese teoretiese ontwikkelings bied. Laasgenoemde stroom verkies ’n meer konvensionele liberale humanistiese benadering (Barry 2002:124; Van der Merwe & Viljoen 1998:153).

3.Die woord is oorspronklik deur die Arabiese Moslems vir ’n Swart ongelowige of heiden gebruik. Word ook kafhir of caffre gespel (Giliomee 2003:17).


Crossref Citations

No related citations found.