Stekelkind
stekelkind,
doringkind,
rustig in jou naaldevel
ritsel oor Magaliesrand
oor klip en bos en veld gebrand
ritsel rustig voort my kind
strooi pennetjies wat ek sal vind
ritsel saggies voort
honde blaf deur doringdraad
sluip stilletjies, sluip stilweg weg
kleintjies skoffel agterna
pennetjieskroos agter ma
ritsellyntjie oor die rand
op die paadjie harde sand
loop ligvoet in die wind
maanskyn dof op naaldevel
maanskyn blink in pikswart oog
sluip-sluip oor jou bergverhoog
sluip-sluip tot diep in die kloof
kloutjies klou aan blommebol
kloutjies grawe boomwortel
klouter oor die klippe, kind
roffel oor die rand
jou vel is nat met nag se dou
jou kake het genoeg gekou
skoffel lyntjie huis toe terug
kroos skrop plek by ma se rug
daar kom haal die slaap jou nou
rus in pennetjiesgewaad
nou steek die dag jou stekels weg
en aarde streel jou pennelyf
soos nuwe ma die los kopvel
van babatjie, nog lelik, vryf
oggendson skep Mosesbos
maar jy ontwaak met sterreskyn
en waar jy slaap, bly berggeheim
(uit Touching the Wild)1
Ek teken torre uit torpor*
Ek skets jou skelet in swart ink – onpoëties,
teken jou bene – ses, simmetries,
trek twee antennas op magnoliablad,
vul die dop in – rond, donker, blink, glad.
Ek krap ’n paar hare teen kop en ligament,
skroef jou met pen vas, las elke segment.
Uit ’n ligte gekrabbel het ’n misbol verskyn.
Nou kort net die skadu, dwars val die swart lyn.
Ek het jou in ink geskets.
Ek het jou uit pen geskep.
Nou trap jy klein kolletjies in papiersand
en rol jou bol oor die blad se rand.
Nou haas jy agteruit in ’n skewe lyn
tot kewer en bol oor die tafel verdwyn.
Ek vee die leë blad liggies met my hand
en teken ’n buitelyn onder teen die kant.
Daar ontwaak nog ’n tor uit winterdoodsheid
terwyl ek ’n wysie op marimbamaat fluit.
*Die doodsheid waaruit miskruiers na die eerste reëns ontwaak
Voetnota
1. Die gedig ‘Stekelkind’ is die eerste keer gepubliseer in Poetry in McGregor, 2023, ‘Touching the Wild: McGregor Poetry Festival 2022 Anthology’, African Sun Press: Kaapstad.
|