About the Author(s)


Carina van der Walt Email symbol
Private Practice, Tilburg, the Netherlands

Citation


Van der Walt, C., 2025, ‘’n Besoekersverslag van twee Afrikaanse digters aan Tilburg, Nederland’, Literator 46(1), a2138. https://doi.org/10.4102/lit.v46i1.2138

Litera

’n Besoekersverslag van twee Afrikaanse digters aan Tilburg, Nederland

Carina van der Walt

Received: 11 Nov. 2024; Accepted: 14 Feb. 2025; Published: 14 Apr. 2025

Copyright: © 2025. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Ter voorbereiding op my eerste ontmoeting met Tom Dreyer en Alwyn Roux op 17 en 18 Maart 2024 in Tilburg, Nederland, het ek tot my verrassing ontdek dat sommige van ons gedigte met mekaar in gesprek tree. Die doel van hulle blitsbesoek was om hulle debuutbundels aan so ’n groot moontlike gehoor in die Lae Lande bekend te stel. Dreyer het in die tweede helfte van 2023 as digter gedebuteer met Nou in infrarooi by Kwêla, terwyl Roux vroeg in 2024 sy debuut, Weerskyn, by Protea Boekhuis gepubliseer het. Ekself het in 2015 my debuut gemaak met Amalgaam by Uitgeverij IJzer in Nederland en in 2021 met Landluisteraar by Naledi in Suid-Afrika.

’n Eerste voorbeeld van gedeelde leeservarings is my en Alwyn Roux se gebruik van ’n spesifieke gedig, Melopee, van die Vlaamse digter Paul van Ostaijen. Ek het Melopee vertaal, terwyl Roux dit verwerk het. Ek beskou vertaling as die topsport van literêre en taalkundige vaardigheid onder skrywers. Van Ostaijen is veral onder Afrikaanse letterkundiges bekend en geliefd. Dit is hoogs waarskynlik nie die enigste keer dat Afrikaanse digters op sy werk reageer nie. Melopee is ’n bekende en sterk gekanoniseerde gedig wat dikwels poësielesers se literêre kollektiewe geheue aktiveer. Die vertaling van Melopee was vir my nie besonder moeilik nie. Ek het byvoorbeeld ‘traag’ in reël 7 bygevoeg om doelbewus aan te sluit by die uitgerekte a-klanke in die gedig, terwyl die toevoeging van ‘twee-twee’ in die slotreël ’n kans was om die unieke taalverskynsel van herhalingsamestellings in Afrikaans te gebruik. Nietemin bly die ruimte en atmosfeer in my vertaling steeds getrou aan die oorspronklike gedig.

Melopee

(vir Gaston Burssens)

Onder die maan skuif die lang rivier

Oor die lang rivier skuif moeilik die maan

Onder die maan op die lang rivier skuif die kano af na die see

Langs die hoë riet

langs die lae land

skuif die kano traag na die see

skuif met die skuiwende maan die kano traag na die see

So vaar hulle saam na die see die kano die maan en die man

Waarom skuif die maan en die man so twee-twee gedweë na die see

(uit Amalgaam, p. 73)1

Roux gebruik Melopee as agtergrond vir ’n nuwe gedig wat hy aan sy seuntjie opdra. Van Ostaijen se ‘kano’ word ’n ‘roeibootjie’ in wiegeliedjie vir Sebastian. Net soos ek ‘traag’ bygevoeg het, vervang Roux ‘skuif’ met ‘vaar’. Hy herhaal ‘vaak’ en ‘slaap’ in sy identiese eerste en laaste strofes. wiegeliedjie vir Sebastian demonstreer dus ’n bondiger formuleringwyse as in Vlaams wat van Afrikaans so ’n besonder poëtiese taal maak. Van Ostaijen se afstandelike verwysing na ‘die man’ word in Roux se verwerking persoonliker saamgetrek in ‘ons’ – hy en sy seun. Die ‘see’ en die ‘maan’ kom steeds voor in die verwerking, terwyl my toevoeging van ‘traag’ semanties eggo in Roux se toevoeging van ‘rustig’.

Hierdie toevallige gelyktydigheid word nie net weerspieël in ons onbewuste keuses van dieselfde internasionale digter se spesifieke werk nie, maar kom inhoudelik ook voor in ons elkeen se hantering van deurstromende assonerende a-klanke. Roux eien hierdie gedig vir homself toe, beweeg buite die gedig se ruimte en ‘vaar’ verder saam met sy seun in die teenwoordigheid van die maan na die ‘sterrestelsel’.

Van Ostaijen se twee strofes gly visueel soos ’n kano van kort na langer reëls vooruit op die bladsy. Vorm is ’n integrale deel van sy styl. Ek, aan die ander kant, vertaal soos ’n langafstand-atleet wat haar liggaamsritme gevind het. Van Ostaijen het ook ’n – nog korter – wiegeliedjie as Roux geskryf, naamlik Berceuse voor volwassenen.

wiegeliedjie vir Sebastian

“Onder de maan op de lange rivier schuift de kano naar zee”

– Paul van Ostaijen, “Melopee”

roeibootjie van die vaak

neem ons na die land van slaap

lê ons nou die spane neer

rustig vloei ons na die see

met die maan as metgesel

vaar ons deur die sterrestelsel

roeibootjie van die vaak

neem ons na die land van slaap

(uit Weerskyn, p. 86)2

’n Tweede voorbeeld van gedeelde leeservarings tussen my en Roux se gedigte kom van die Kubaans-Italiaanse digter, Italo Calvino. In Italië is Calvino se werk volksbesit, maar internasionaal is hy ’n ware ‘poets poet’. Le Città Invisibili (in Engels vertaal as Invisible Cities) is ’n klassieke werk wat handel oor Marco Polo se kennismaking met verskillende (gedroomde) stede op reis na Kublai Khanom om daaroor verslag te gaan doen. In Afrikaans is D.J. Opperman se digbundel, Komas uit ’n bamboesstok – wat gebaseer is op Marco Polo se reis op die syroete en Opperman se eie siektereis na genesing – reeds ’n gevestigde klassieke werk. Invisible Cities is egter onpersoonliker van aard. Calvino se reisverslag is in elf kategorieë verdeel, met elke kategorie wat vyf verskillende stede beskryf in die vorm van prosagedigte. Prosagedigte is kort stukkies teks wat wissel van enkele sinne tot ’n paar paragrawe, maar steeds met poëtiese stylfigure soos herhaling en suggestie geskryf word. Prosagedigte word nie in versvorm geskryf nie.

Roux het gekies om op die vierde stad in die kategorie Steden en Begeerte te reageer deur dit in versvorm te vertaal. Vir Onsigbare stad – Ferora het hy Calvino se paragrawe in vier strofes verdeel. Die eerste strofe is byvoorbeeld saamgestel uit die eerste sin. Vervolgens maak Roux, soos ’n geoefende verspringer, enkele lang vertaalspronge deur Calvino se prosagedig voordat hy in die sandput voor Kublai Khan se voete land. Hy bly getrou aan Fedora as literêre ruimte deur die gedig se inhoud nie vir homself toe te eien nie, maar dit bloot te vertaal. Roux het die Engelse vertaling van Le Città Invisibili uit 1972 gebruik.

Onsigbare stad – Fedora

na ’n beskrywing van Marco Polo aan Kublai Khan

in Italo Calvino se Invisible Cities (1974)

In die sentrum van die klipgrys metropolis

staan die stadsmuseum

– ’n metaalgebou –

en in elke kamer is ’n kristalbal.

Iedereen op besoek sien daarin

die stad van sy of haar begeerte,

verbeel in die weerkaatsing van die Medusa-poel

water in ’n kanaal

(sou dit nie opgedroë het nie)

die uitsig van ’n hoë dak

langsaan ’n laning vir olifante

(nou uit die stad verban),

die jolyt van afgly met ’n spiraalpaal

’n draaiende minaret

(maar nooit ’n voetstuk kon vind om op te gaan na bo nie).

So bedink die mens ’n plan om sy ideale stad te bou,

maar net so is Fedora nie dieselfde as tevore nie.

Op die kaart van u koninkryk,

o grote keiser Khan,

moet plek vir beide wees –

die klipgrys metropolis én dié in die kristalbal

want nie een is werklik nie

albei veronderstel.

(uit Weerskyn, p. 45)2

Ek het gekies om op Calvino se onsigbare stad, Armilla, te reageer deur dit as agtergrond vir ’n nuwe gedig te gebruik. Dit is sy derde stad in die kategorie Subtiele Steden. Daarvoor het ek die Nederlandse vertaling uit 1981 gebruik. Calvino is onder meer interessant vanweë die selfopgelegde beperkings wat hy aan sy kategorieë, gedigte en vorm stel. Hy was ’n lid van die Oulipo-beweging, wat bekend was daarvoor dat sy lede met selfgekose beperkings geskryf het. ’n Bekende Oulipo-skrywer is Georges Perec, wie se roman ’t Manco sonder die letter ‘e’ geskryf is. In ’n sekere opsig het ek self beperkings op Amalgaam sowel as Landluisteraar geplaas, aangesien albei digbundels literêre verlengstukke is – die eerste as uitbreiding van ’n woordeboek en die tweede as ’n literêre uitbreiding van ’n kunsboek.

FOTO 1: ’n Son in stukkies fyn glas uitgeplak op die plafon in die Uilhuis van Helen Martins (Nieu-Bethesda).

FOTO 2: ’n Mallemeule uit 1900 in die Middeleeuse dorpie Mirepoix hoog in die Pireneë.

In 2015 besoek ek en ’n reisgeselskap Suid-Afrika en maak daarvan ook ons private poësietoer, met besoeke aan NALN in Bloemfontein, Potchefstroom en Johannesburg. In Johannesburg word my herinnering aan Calvino se onsigbare stad, Armilla, geaktiveer. Die rede was ’n groot waterpypleiding wat gebars het. Ek kon die laaste druppel in die wasbak en die geklop in die pypleidings van leë krane en stortkoppe duidelik hoor. Dit was asof Calvino se mooi nimfe tussen Armilla se vertikale pype graag hulle persoonlike versorging hiér wou kom voortsit. Van Ostaijen het my geïnspireer vir die advertensiebord in die slot van die gedig. Ek het die literêre ruimte van die Italiaanse Armilla verlaat, dit as agtergrond vir ’n nuwe gedig gebruik en die naam verander na Johannesburg.

Jozi in krisis

(na Italo Calvino se 3de subtiele stad in De Onzichtbare Steden)

teen rykmansmure langs Jozi se strome teer

staan XXX-plante & bougainvilleas in bloei

binnenshuis staan baddens wasbakke toilette

plotseling opgedroog soos brose wit lelies

op lang pypstele grillig leeg

reageer vakuums angstig & klop-klop

soos ’n waterwyser op soek na ’n nattigheidjie

stortkoppe & krane verlep sonder ’n druppel

ondergronds eis die droë pypleidings aandag

bogronds verdwyn bottels water van winkelrakke

Jozi en haar eksieperfeksie sexy sussies

bad of stort nie was nie hande of hare nie

borsel nie hulle tande in krisistyd nie

toe selfs die teer weier om te stroom

duik hulle plakkate skielik teen lamppale op

(uit ‘Reisverslag in twee stemme en agt gedigte’, p. 4)3

*******

Enkele gedigte van my en Tom Dreyer handel oor gedeelde bestemmings. Verrassend toevallig skryf ons albei oor Nieu-Bethesda, al was dit nie gelyktydig nie. Net soos met Van Ostaijen is ons egter nie die enigste Afrikaanse digters wat oor hierdie verbeeldingryke dorpie as toeristebestemming geskryf het nie. Kan plekgedigte as ’n afsonderlike kategorie in Afrikaans beskou word? Hoewel die gehuggie in die Kamdeboo ons elkeen soos ’n magneet trek, verskil ons fokus.

Dreyer se blik is speels. Hy gee ruimte vir sy eie absurde waarneming – soos die onwaarskynlike toneel van mense wat ’n bank deur ’n afgeleë stuk veld dra. Wie sou so iets doen? Hy skryf die gebeure enersyds oop, net om dit andersyds weer te verhul. Sy waarneming bly gefragmenteerd; daar is mistigheid en berkebome wat sy sig belemmer. Aan die einde lei hy op humoristiese wyse af dat die bank swaar moet wees, gebaseer op ’n apatiese fokus op wat die twee mense nog doen, behalwe dat hulle ‘dra’.

Dreyer se werk sluit hier aan by een van Italo Calvino se Zes memo’s voor het volgende millennium, wat in 1991 in Nederlands gepubliseer is. Calvino het sy eerste Charles Eliot Norton-lesing by Harvard Universiteit aan ligtheid in die literatuur gewy. Hiermee verwys hy na die onttrekking van gewig in sy eie werk, byvoorbeeld in hemelliggame en (gedroomde) stede. Calvino verduidelik ‘hoe ik ertoe gekomen ben om lichtheid niet als een tekortkoming, maar juist als een waarde te beschouwen’ (p. 13). Dreyer skryf sy klein waarneming oor naby nieu-bethesda in ’n ewe kort, maar treffende blokkie teks neer.

naby nieu-bethesda

waar ek aftrek sodat my foon se gps

met verbygaande satelliete kan sinkroniseer

dra ’n man en vrou ’n rusbank oor ’n veld

daar is koeie en dit is mistig die twee

slof stadig en is dan en wan versluier

agter berkebome die bank is rooi en wit

en seker swaar want hulle moet kort-kort

’n bietjie gaan sit

(uit Nou in infrarooi, p. 21)4

Dreyer gee die stokkie oor – ons is deel van die Nieu-Bethesda-aflosspan. Waar hy homself in naby nieu-bethesda as ’n waarnemer en interpreteerder par excellence van kleinskaalse alledaagse gebeure bewys, laat ek my in die uilvrou van Nieu-Bethesda verlei deur die dramatiese lewe van Helen Martins. Martins is nie die eerste tragiese vrou oor wie ek ’n biografiese gedig geskryf het nie. My blik is egter ernstig.

Martins was Nieu-Bethesda se outsider-kunstenares. Wat my aandag eerste getrek het, was haar beeldetuin; daarna haar geskiedenis. Sy was ’n mislukte huweliksmaat en weglooponderwyseres, ’n miskende versorgster van haar ouers en uiteindelik ’n eensame kunstenares. Die uile by haar huis weerspieël haar – haar eie domheid én haar eie wysheid. Die grootogiges voorspel ook haar selfmoord nadat sy blind begin word het. Op die vensters en plafonne van haar huis het Martins sonne in fyngemaalde glas uitgeplak. Hoe vrolik dit ook al mag lyk, het hierdie fyn glasstukke ’n bepalende rol in haar selfmoord gespeel. Volgens die mitevorming rondom haar wel en weë het sy fyn glas met arseen gemeng en dit gedrink.

die uilvrou van Nieu-Bethesda

hoe dood was haar lewe nie

toe sy teruggevlug het na hiérdie bron?

hoeveel bottels glas het sy fyngemaal

om die son vir haar huis te gaan haal?

hoeveel liefde gestort in soveel beton?

vir miss Helen was die uile haar mense –

die wyse dut nou nog bokant die voordeur

’n rytjie sit rooiwarm geraam by die stoof

in die tuin waak grootoog bo-op die poort

oe-hoe oe-hoe roep die dood in kleur

hoe kon sy nog glo in haar eie verhaal

toe geen glas meer amber glinster nie?

(uit ‘Reisverslag in twee stemme en agt gedigte’, p. 2)3

As toevalligheid en gelyktydigheid ’n rol speel in hoe ons onderwerpe vir gedigte herken, dan word nog ’n voorbeeld sigbaar in Dreyer se gedig hemel op die platteland en my gedig verveelde skaaphond. Dreyer se gedig is in Augustus geskryf en op Facebook geplaas, terwyl my gedig in Julie geskryf is – byna gelyktydig, enkele maande ná ons stadswandeling langs die muurgedigte in Tilburg.

Op ’n speelse manier het die mallemeule in Wilhelminapark toevallig neerslag gevind in Dreyer se kollie, wat van vreugde soos ’n tol in die rondte gedraai het toe hy sy basie tuis verwelkom. Dreyer beskryf vervolgens ’n lang reeks vinnig opeenvolgende tolbewegings, asof hy self ’n diskusgooier is. Hy tol al vinniger in die ring voor hy sy gedig lanseer – en die diskus land in ’n gebroke verhouding. Dit maak die gedig swaarder as naby nieu-bethesda en raak ook aan Calvino se tweede en vyfde van Zes memo’s voor het volgende millennium, naamlik snelheid en veelvuldigheid.

hemel op die platteland

met my tuiskoms tol die kollie

al in die rondte stert tussen die tande

’n swart en wit skyf woerend tussen rape

in ’n kannalandse groentetuin die sand girts

onder haar pote en haar sirkulêre draf

boor tussen loof en bedding en watervore

sy tol blindelings om en om ’n esdoringsaad

op ’n spirale vaart af na die aarde of soos

ons derwisj-danser destyds in istanboel

met ’n rok waarvan die omwentelinge

ons tot hoog bo die dakke kon dra

onthou jy nog daai stad vol torings?

die kollie is ’n seil op die dardanelle ’n spoel

wat voor my oë terugdraai na ’n ander aand

toe ons in ’n glasveseltuigie kon tol die kaap

vereng tot geelrooi strepe ons was repies pluis

in die sak van ’n derwisj-danser ons is weggedra

soos helikoptersaad al hoër oor die skougrond

al hoër op die nagbries en toe uiteengejaag

jy tot in londen ek tot hier in wie weet waar

waar my kollie oplaas om my voete bedaar

(09-08-2024)

Ons vrolike rit op die mallemeule in Wilhelminapark het by my tydens ’n vakansie in Carcassonne neerslag gevind. Op ’n klein pleintjie het ’n ou mallemeule met ’n skaaphond daarvoor my aandag getrek. Die hond het stadig ’n bal met sy neus rondgeskuif. Die mallemeule het wit perde gehad – dalk minder gevarieerd as die een in Tilburg, waarop ’n vark, ’n olifant, ’n motorfiets en selfs ’n eekhoring was waarop ons kon ry. verveelde skaaphond tol minder as hemel op die platteland, maar in terme van ligtheid sluit ek spontaan aan by Dreyer – en indirek ook by Calvino.

verveelde skaaphond

wat is ’n skaaphond sonder skape?

die bal blêr nie

die dakspuiers roep of vloek nie

die vallei bly leeg

sy baas het sy laaste asem uitgeblaas

toe hy besef nog ’n eeu is veels te

veel vir ’n mens se tyd

hoog in die Pirenese dorp lig die hond

sy oor die nuwe mallemeule uit 1900

begin knarsend draai

sal hy die perd bespring & ry – cheval!

sal hy probeer om die vark te vang – cochon!

sal hy vir die olifant se hakskeen gaan?

die eekhoring met die dikste stert tart hom

kom ons sal jou afgooi as ons verveeld raak

(26-07-2024)

Het Calvino toevallig die literêre tydsgees van die een-en-twintigste eeu in sy lesings vasgevang met ligtheid, snelheid, presiesheid, sigbaarheid en veelvoudigheid? Sy sesde Charles Eliot Norton-lesing oor konsekwentheid het hy egter nooit geskryf nie. Op 19 September 1985 sterf hy aan ’n breinbloeding in Siena, Italië. Sy weduwee, Esther Calvino, skryf in die Nederlandse vertaling:

Op die moment dat hy na die Verenigde State sou vertrek, het hy vyf van die ses lesings geskryf. Die sesde, konsekwentheid, het ontbreek, en ek weet net dat dit onder ander oor Bartleby van Herman Melville sou gaan. … Ek wil nog noem dat die manuskrip op sy lessenaar gelê het, keurig georden, elke lesing apart in ’n transparante lêer, die geheel weer in ’n stewige lêer, gereed om die tas gesit te word. [outeur se vrye vertaling in Afrikaans]

Snelheid en ligtheid is ook sigbaar in Dreyer se gedig tiptol (p. 19) en in my gedig Stellenbosch (Landluisteraar, p. 5) – twee klankgedigte oor voëls. Klankgedigte is spontane uitbarstings van geluide ter wille van geluide en ’n fees om na te luister. Die speelsheid, die wonderlike rol van toevallige gelyktydigheid en die warm bad van gedeelde lees- of skryfervarings van poësie word daardeur beklemtoon.

Erkennings

Erkenning word gegee aan Alwyn Roux wie se gedigte, ‘Onsigbare stad – Fedora’ en ‘wiegeliedjie vir Sebastian’; asook Tom Dreyer wie se twee gedigte, ‘naby nieu-Bethesda’ en ‘hemel op die platteland’ vir hierdie besoekersverslag gebruik is.

Voetnotas

1. Martin, W. & Van der Walt, C., 2015, ‘Amalgaam’, p. 73, Uitgeverij IJzer, Nederland.

2. Roux, A., 2024, ‘Weerskyn’, pp. 45; 86, Protea Boekhuis, Pretoria.

3. Van der Walt, C. & Crebolder, E., 2017, ‘Reisverslag in twee stemme en agt gedigte’, Literator, 38(1), a1370. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1370.

4. Dreyer, T., 2023, ‘Nou in infrarooi’, p. 21, Kwêla uitgewers, Kaapstad.



Crossref Citations

No related citations found.